Vierde Sondag in Advent

Inhoud

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: 2 Samuel 7:1-11, 16
Ander tekste: Psalm 89:1-4, 19-26; Romeine 16:25-27; Lukas 1:26-38

Inleiding

Op die vierde Sondag in Advent verskuif die fokus van vreugde na liefde. Die vierde kers in die Adventskrans, wat liefde simboliseer, word aangesteek. Op hierdie Sondag word gelowiges opnuut herinner aan God se liefde vir hierdie wêreld, vir ons, en ons word aangemoedig om in ons liefde vir God en vir mekaar te groei. Die tema van liefde, en veral liefde vir God, word in die sleutelteks van die week vervat wanneer Dawid sy liefde vir God bewys deur sy behoefte om vir God ’n huis of ’n tempel te bou. Die tema word verder deur die res van die tekste verweef waar daar lof aan God gebring word in Psalm 89, waar daar oor die geheimenis van God nagedink word in Romeine, en bereik dan ’n hoogtepunt in Lukas 1 waar die geboorte van Jesus aangekondig word – die grootste bewys van God se liefde vir ons is dat Hy sy Seun aan ons gegee het.

Diensorde

God bring ons byeen

Aanvangslied
Psalm 89

Aanvangswoord
V: Vir ewig staan u trou,
dis sonder wankeling.
G: U liefdesdade, Heer, sal ek altyd besing;
u trou verkondig ek aan komende geslagte.
V: U hou u eed, o Heer,
met Dawid in gedagte;
U het dit self gesê:
Vir ewig sal dit vasstaan, ook vir die nageslag
sal dit bly geld en voortgaan.
G: U liefdesdade, Heer, sal ek altyd besing;
u trou verkondig ek vir komende geslagte.
Amen.
– uit Psalm 89

Seëngroet
Genade en vrede vir jou van God ons Vader wat ons in liefde geskape het,
van die Seun wat aan ons ware liefde deur sy lewe, dood en opstanding bewys het,
en van die Heilige Gees wat aanhou om liefde in ons te wek.

Lofprysing
Lied 286 “Here God van liefde”

Diens van die Woord

Kindertyd
Op hierdie Sondag bied kindertyd die geleentheid om aan die kinders ’n teksvers oor die liefde van God op ’n kreatiewe manier te laat memoriseer – dit sal ook vir die groter gemeente van waarde wees. Kies ’n teksvers, dink bewegings vir elke woord van die teksvers uit en leer dit vir die kinder voor in die kerk. Jy kan ook papierharte uitdeel sodat die kinders wat al kan skryf, die verse daarop kan neerskryf en dit dan kan sit in die skoendose wat hulle in die Adventstyd vol geskenke maak.

Diens van die Tafel

Nagmaal
As deel van die liturgie by die tafel kan die volgende woorde van Johannes Calvyn oor God se liefde vir ons, sowel as gelowiges se oproep om in liefde met mekaar te leef, tydens die lees van die formulier gebruik word:

Dit was ook die Here se wil dat die nagmaal vir ons as aansporing moet dien, en geen ander aansporing kon ons heftiger opwek en aanvuur tot sowel reinheid en ’n heilige lewe as liefde, vrede en eensgesindheid nie. Want die Here deel sy liggaam in hierdie sakrament op so ’n wyse met ons dat Hy volkome met ons een word en ons met Hom. Aangesien Hy voorts net een liggaam het waarin Hy ons almal deelgenote maak, moet ons noodwendig almal saam deur so ’n deelagtigheid (in sy liggaam) een liggaam word. Die brood beeld hierdie eenheid uit; dit word in die nagmaal bedien en is saamgestel uit baie korrels en so met mekaar vermeng dat die een nie van die ander onderskei kan word nie. Dit betaam ons om net so in so ’n groot geestesgesindheid aan mekaar verbind en verbonde te wees dat daar geen tweedrag of skeiding onder ons mag voorkom nie (uit Institusie 1559 IV.xvii.38).

God stuur ons uit

Slotlied
Lied 324 “So lief het God die wêreld gehad”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees
tussen ons wees en altyd bly.

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 153/NSG 322(A) “O Jesus, kom tog nader”
Lofprysing: Lied 332/NSG 291 “God se liefde, so oneindig”; Lied 334/NSG 67 “God is liefde! juig ons harte”
Skuldbelydenis: Lied 243/NSG 232 “Heer, wees genadig”
Geloofsbelydenis: Lied 262 “Ons was daar in Betlehem”

Preekstudie – 2 Samuel 7:1-11, 16

Teks

2 Samuel 7:1-16 vertel die verhaal van God wat Dawid belowe daar sal altyd ’n koning uit die huis van Dawid op die troon sit, ’n belofte wat met Jesus se geboorte in vervulling gaan.

Hierdie perikoop is die sleutelgedeelte vir die verbond met Dawid. Vers 1, saam met vers 15, dui die einde van koning Saul se koningskap aan en die begin van die bestendige voorspoed van Dawid se koningskap. Dawid dra nou die kroon. Hy het ’n hoofstad. Daarom begin die perikoop met die woorde: “Terwyl die koning in sy huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande.” Hy vlug nie meer vir Saul nie. Die skrywer noem Dawid nie by die naam nie, maar meld telkens “die koning” om te bevestig Dawid is nou die gesalfde.

In vers 2 maak Dawid sy ongemak aan die profeet Natan bekend omdat hy in ’n paleis van sederhout woon, terwyl die verbondsark staan in ’n tent wat tydelik is. Hy begeer om vir die Here ’n permanente huis (tempel) te bou. Die profeet Natan is aanvanklik ten gunste van Dawid se voorneme om ’n tempel te bou en hy moedig hom aan om met die bouwerk te begin (v 3). Ná ’n openbaring van die Here, kom die profeet egter tot ander insigte. God gee Natan opdrag om met Dawid te gaan praat: “Gaan sê aan my kneg Dawid: ‘So spreek die Here: Sou jy vir my ’n huis bou om in te woon?’” (v 4-5). Natan vertel vir Dawid van sy openbaring. Die Here wil nie hê Dawid moet vir Hom ’n huis bou nie. Een van Dawid se seuns sal dié voorreg hê.

Die woorde: “Ekself het jou geneem uit die weiveld agter die skape weg” (v 7), bewys dat God menige beloftes aan Dawid gemaak en vervul het. Die woorde roep by Dawid troosryke herinnerings van God se beskerming op. Hy was in gevaar, moes voor vyande vlug, het teen Goliat geveg, maar telkens het die Here sy hulpgeroep gehoor. Telkens het die Here belowe om hom te beskerm en al sy beloftes gestand gedoen.

Hierop volg nou nuwe beloftes vir die toekoms (v 8-11). Drie beloftes is vir koning Dawid en twee vir die volk Israel.

Dawid hoor eers van teleurstelling. Hy sal nie die eer kry om vir die Here ’n huis te bou nie. Hy hoor egter ook woorde wat groot vreugde by hom wek. Soos die Here met Abraham ’n verbond gesluit het, so sal die Here met hom ’n verbond sluit. Die verbondsbeloftes is onverdiend, dit is louter genade en sluit die volgende in: (i) God sal steeds met Dawid wees oral waar hy gaan, net soos die Here dit vroeër gedoen het (v 8-9); (ii) God sal hom oorwinning oor sy vyande gee (v 9,11); (iii) God sal vir Dawid ’n groot naam maak soos die naam van die grotes wat op die aarde is (v 9; sien ook Gen 12:2); (iv) Die Here sal vir Dawid iets beters as ’n huis bou. Die Here gaan vir hom ’n koningshuis stig, ’n dinastie (v 11, 13).

Vir Israel is die beloftes: (i) “Ek sal vir my volk Israel ’n plek bestel en hom plant” (v 10); (ii) Israel sal nie langer verontrus word of verdrukking ervaar nie (v 10).

Die belofte van ’n dinastie word in vers 16 herhaal: “En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor my; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.” Hierdie belofte word regdeur die Ou Testament bevestig. In Psalm 89 skryf Etan die Esragiet oor die goedertierenheid (ese) van die Here wat ewig hou en oor God wat sy beloftes waar maak. In vers 4-5 hoor ons dié woorde: “Ek het ’n verbond gesluit met my uitverkorene, met ’n eed aan Dawid my kneg belowe: Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag.” In vers 21-25 en vers 36-37 van hierdie Psalm word die beloftes aan Dawid herhaal. Die Hebreeuse ese beskryf “steadfast love bearing covenantal associations” (DF Payne).

Reeds in 2 Samuel 7 word die Messiaanse verwagting geskep. Dit is die basis van hoop. Die ewige voortbestaan van die huis en troon van Dawid loop soos ’n goue draad deur die Ou Testament (vgl Ps 72; 1 Kron 22:7-10; Jes 9:6; 11:1-10; 16:5).

Konteks

Marion Soards beskryf die konteks soos volg: “The reversal of course is not about a building but about the promise of a dynasty. Although the promise is presently couched in certain conditions, these conditions are not able to alter what is clearly an unconditional promise – namely, that David’s house will rule forever. This promise is both socio-political and theological … Israel’s royal theology is rooted in grace or election. The content of grace is that the king, as God’s Messiah, will have a special relationship with God … The political and social effect of this theology is that when the King is fulling this special relationship with God as God’s Messiah, divine blessings and well-being are mediated to the social order.” Volgens Soards moet hierdie dubbele effek in die volgende sigbaar word: (i) Die kwaliteite van die koning se seun en die Messias-Koning wat later kom; (ii) Die toekomstige koning se religieuse identiteit: “Ek sal vir hom ’n Vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees; ’n lewe voor die aangesig van God; (iii) Die plig tot morele gedrag: “… as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf” (v 14).

Bethel Müller sê dat die Adventpreek nie maar net op Jesus se koms of die koms van die koninkryk moet fokus nie, maar veel eerder op die aard van die Messias en sy koninkryk en hoe dit die optrede van sy dissipels en sy kerk op aarde bepaal. Hierdie optrede moet op die persoonlike vlak van die gelowige met God in ’n coram Deo-geloofshouding gesien word, asook op die terrein van die samelewing. Die konteks van die prediking is altyd die konkrete sosiale werklikheid in ’n bepaalde historiese situasie. 2 Samuel 7 asook ander Ou Testamentiese gedeeltes wat na die Dawidiese verbond en die rol van die koning en onderdane verwys, fokus op ’n spiritualiteit wat reeds in die lewe van Dawid en sy seuns gesien moet word. Dit is ’n kontekstuele spiritualiteit waarin “die geestelike en die stoflike, die heilige en die sekulêre, die nugtere besinning en die dinamiese aksie met mekaar geïntegreer word” (Bethel Müller). Dit is ’n spiritualiteit wat later ook in die lering, prediking en lewensoptrede van die Messias sentraal sou staan.

Dieter T Hessel beklemtoon dat “the social themes of the Christian year” veral in die tyd van Advent sigbaar moet word in ’n herderkoning wat die volk lei en ’n politieke herder wat hom met reg en geregtigheid oor die swakke, die vermoeide en die hulpbehoewende ontferm. Dit moet die koning doen, want die opdrag van Jahwe is dat hy die stadhouer van sy shalom en reddingsplan moet wees. In hierdie plan is die beskerming van menswaardigheid, vrede, die herstel van gebroke sosiale en ekonomiese wanverhoudings, versoening, hoop en volkome afhanklikheid van Jahwe noodsaaklik. In die Boek Social Ministry daag Hessell predikers en gemeentes uit om tydens die Advent “the human need with good Samaritan love” te ontmoet, “while acting for justice with prophetic boldness”. Die Koning moet hom teen onreg verset en só die weg vir die Messiaanse heil voorberei (2 Sam 7:14).

In sy poging om duidelikheid te verskaf op vrae soos “What is advent?” en “What is the Christian Faith?” gee Gabriel Fackre antwoorde in die vorm van narratiewe wat die drama en die dinamiek van wat God in die wêreld aan’t doen is illustreer.

In hierdie narratiewe antwoorde fokus Fackre op die kerk se visie op leierskap, versoening, bewaring van die omgewing (ekologie), verlossing, geregtigheid, die God-mensverhouding en voorbereiding vir Christus Jesus se koms as Koning. Fackre stel dit treffend: “Fixed upon the ultimate vision and its penultimate possibilities, with warrants in incarnational reality, the advent seer is stirred to set up signposts of the City of God and make straight the historical highway that leads to it … Advent therefore means preparation. It calls us to attention before what and who is to come. For the Just One there shall be justice. For the realm of Shalom hereafter there shall be peacemakers here. We make ready for the Liberator by acts of liberation now, and we prepare for the Reconciler as agents of reconciliation.”

In aansluiting by 2 Samuel 7:14 is Advent ook die tyd vir selfondersoek oor ons eie gehoorsaamheid aan en navolging van die Koning van Betlehem. In die Oosterse kerktradisie waar Kersfees eers met die Epifaniefees gevier word, staan Advent bekend as ’n vastyd van 40 dae. In Advent is die coram Deo onlosmaaklik aan die tema van “wag” verbonde: wag vir die Advent; hoe ons wag in Advent; wag op die wederkoms van Christus.

Advent is ook onlosmaaklik verbonde aan hunkering na die adventus dei (verskyning van God). Mense in omstandighede van onreg, pyn, angs en werkloosheid roep om die genadige verskyning van die Koning, smeek om sy reddingsdade, ja, smeek dat die Koning se koninkryk sal kom. Advent as coram Deo-spiritualiteit is nie maar net praat oor God nie, maar praat met God.

Die konteks van 1 Samuel 7:14 roep ook die idee van liefde op – die liefde van ’n Vader vir sy seun en die liefde van die seun vir sy Vader. Ook vers 15 noem “my goedertierenheid” (“steadfast love”, NIV). Verbond impliseer liefde en liefde impliseer verbond. Gedurende Advent moet die krag van inklusiewe liefde ontketen word.

Mense wat die Koning liefhet, is biddende mense. Advent vier nie net die Koning se koms nie. Ons wag en bid: “Laat u koninkryk kom.” En nie net die koninkryk alleen nie, maar die koninkryk en sy geregtigheid (sien Matt 4:17; 5:6-10). Karl Barth skryf die prediker moet die gemeente onder lofsange tot hierdie gebed laat ontwaak. Onder die tema, “The struggle for human righteousness,” skryf Barth in Evangelical Theology: “Now since evangelical theology deals with God’s justice (God has revealed the justice of the covenant in Jesus Christ), it confronts all human attempts to create justice, order peace, and so on with this superior justice … If we look at the fact that He came – we then understand our sanctification. He came; and since he came, we are sanctified for the service of this King. But He will come again – here we have eschatology. Christians look forward in hope to the new coming of the same King.”

In sy Church Dogmatics onder die hofie fiat iustitia (Latyns vir “laat geregtigheid geskied”) skryf Barth dat die Advent-feestyd die kerk oproep om standpunt in te neem teen “a disorder which both inwardly and outwardly controls and penetrates and poisons and disrupts all human relations and interconnections”. Die gebed “Thy kingdom come, is the core and star of the very modest contribution that can be made on the human side in the battle against disorder … The prayer which this King himself has laid on the lips of Christians … is the most authentic, powerful, and effective thing that can be done.”

Preekvoorstel

2 Samuel is geskik vir prediking op ’n Sondag van Advent. Die beloftes aan Dawid, seun van Isai, word in die geslagsregister (biblos geneseos) van Jesus in die Evangelie van Matteus gehoor. Dié Evangelie begin met die woorde: “Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham” (1:1). Vers 1 saam met vers 6 en 17 bevestig dat die beloftes van 2 Samuel 7 vervul is. Die titel “Christus” is immers die Griekse weergawe van die Hebreeuse “Messias”, al twee as titel en eienaam. Die prediker kan die gemeente prikkel met die vraag: Met watter motief word die geslagsregister van Jesus Christus hier in die Evangelie opgeneem? Die antwoord is: Om te beklemtoon dat die handelende God in sy goedertierenheid en trou sy beloftes aan die verbondsvolk gestand gedoen het.

Hierdie vraag en antwoord maak die Christologiese koppeling tussen die Ou Testamentiese perikoop en die Nuwe Testament moontlik. Die Christologiese verbinding kan met die verhaal van die Engel se verskyning aan Maria versterk word, veral die woorde: “En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk 1:26-38). Reeds 2 Samuel 7 is blye nuus, aangename nuus, goeie nuus, evangelie! So ’n aksent op “goeie nuus” is treffend in Adventslied 327 van die Liedboek van die kerk verwoord:

Dag van verlossing! Kyk Hy kom –

Gesalfde van die Heer.

Op Hom het God se Gees gekom

om goeie nuus te bring.

’n Preek oor hierdie perikoop kan vanuit verskillende invalshoeke benader word. Die geografiese, sosiale en maatskaplike aard van die gemeente waar die preek gebring word, sal die invalshoek bepaal. Niks verhoed die prediker om, afhangend van die aard van die gemeente, meer as een tema in dieselfde preek aan te raak nie.

Invalshoek vir ’n gemeente wat met bestaansvrae worstel

In ’n gemeente wat deur ’n krisis gegaan het en die lidmate nie met verstaansvrae nie maar eerder met bestaansvrae (eksistensiële vrae) worstel, sou die inleiding van die preek kon wees: God bied nog steeds goeie nuus en hoop, want sy beloftes staan vas, ook vir u in u omstandighede! So ’n invalshoek verbind onmiddellik die prediker se pastorale hart en oor aan die gemeente se eksistensiële ervarings. Dink aan ervarings van wanhoop, bekommernis, ervarings dat ek (ons) in ’n doodloopstraat is, ervarings van werkloosheid of ’n sakeonderneming wat op sakeredding afstuur, die ervaring van langdurige droogte met gepaardgaande veesterftes, die ervaring van die druip van ’n eksamen of die ervaring van siekte.

Die prediker kan met gebruikmaking van die inhoud van “Konteks” hier bo dit stel dat Advent die goeie nuus van hoop is, goeie nuus oor die herstel van geloof wat verkrummel, hoop vir herstel van die geknakte riet en van knieë wat lam geword het; ook herstel van gebroke verhoudings, goeie nuus dat sugtinge van tranebrood in lofsange van vreugde omskep kan word. God waarborg hierdie hoop en vreugde en redding.

Die verhaal van die beloftes aan Dawid bring ook ons ongemak en ons hunkering na antwoorde of die verskyning van God (epifanie) na vore. Lidmate met bestaansvrae hunker na die verskyning van God midde in hulle nood. Hulle smag na sy teenwoordigheid. Die liturgie van Advent moet hierdie hunkering na God se reddende ingryping so uitbeeld dat die bekommerdes die preek hoor en beleef as God se openbaring aan hulle hier en nou, goeie nuus dat God weer soos vroeër sy beloftes ook in hulle lewe sal waar maak.

Die prediker kan verwys na Jürgen Moltmann. Hy vertel aangrypend in sy boek Experiences of God hoe hy in die Tweede Wêreldoorlog tydens ’n bomaanval waarin van sy jeugmaats langs hom gesterf het, in trane uitgebars het. “Is daar hoop vir my?” was sy worsteling. Hy vertel van sy hunkering na God se verskyning in sy lewe. In sy stryd vind hy troos in hierdie woorde: “En nou, wat verwag ek, o Here? My hoop is op U … Hoor Here, my gebed, en luister na my hulpgeroep; swyg nie by my trane nie … Wend u oog van my af dat ek kan vrolik word” (Ps 39:8, 13-14).

Invalshoek vir ’n gemeente wat met verstaansvrae worstel

Binne die gereformeerde tradisie sluit Advent temas in soos verantwoordelikheid, oordeel oor die sonde, trou, hoop en met heiligheid leef. Hierdie temas word vanuit die koninkryksteologie belig vir gemeentes wat missionaal op weg is, gemeentes wat nie maar net self ’n beter wil word nie, maar wat ook van hulle omgewing ’n beter plek vir almal wil maak. Indien die aard van die gemeente sodanig is dat hulle primêr met verstaansvrae worstel, vrae oor wat vandag verantwoordelike etiek is, kan die invalshoek wees: Advent herinner ons opnuut aan die coram Deo-spiritualiteit van reg en geregtigheid, van heelmaak en regmaak, van luister en omgee.

Dit is dalk nodig om hier in die preekvoorstel melding te maak van aktuele etiese vraagstukke soos ekonomiese ongelykheid, geslagsgeweld, armoede, die “fees must fall”-beweging, herstellende geregtigheid (“restorative justice”), grondhervorming, korrupsie in die staatsdiens en die sakewêreld, skending van menswaardigheid en die integriteit van kerkvergaderings se uitsprake.

Hier bo is genoem dat die Here teleurgesteld sou wees as die koning of sy nageslag “verkeerd handel”. Israel moes nie “verdrukking” deur sy eie leier(s) of deur ander leier(s) verduur nie. Daar moes politieke rustigheid, sosiale stabiliteit en regverdigheid wees. Die hermeneutiese insigte van Fackre, Müller en Barth kan hier ingespan word. Verantwoordelike etiese beslissings sal eers volg nadat ons geluister het. Die koning kon slegs help indien hy na die hulpgeroep geluister het en dit empaties gehoor het.

Dawid en sy nageslag na hom moes die shalom in volheid in die kultiese, sosiale, ekonomiese lewe en die regstelsel uitleef. In alle opsigte moes hulle die eienskappe van die Heilige vergestalt. Hulle moes dit vir die volk voortleef en die voorbeeld stel. Die Ou Testament vermeld dat die koning met reg en geregtigheid gesalf is sodat hy die behoeftiges wat om hulp roep sal hoor, hom oor die armes sal ontferm, die siele van die behoeftiges sal red, dat hulle kosbaar sal wees in sy oë, dat hy volop koring vir alle onderdane sal verseker, dat sy regeringtaak vir die volk soos reënbuie op die grasveld sal wees en dat die land volop vrede en voorspoed vir almal sal hê. Verwys in die preek na die taak van die Wonderbare, Raadsman, Sterke God, Vredevors om die vermeerdering van “vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, te bevestig en te versterk deur reg en deur geregtigheid” (Jes 9:5-6). Die Adventsliedere 326 en 330 in die Liedboek van die Kerk sluit pragtig hierby aan. So ook Adventsgesang 64 in die VGKSA se Nuwe Sionsgesange.

In die 20ste eeu is Jesus nog steeds Koning van sy koninkryk en ons sy onderdane – koninkryksonderdane wat wagtend en biddend sy koms moet herdenk en daadwerklik die ganse kosmos vir sy wederkoms moet voorberei. Onderdane, oftewel dissipels wat reg en geregtigheid só konkreet moet handhaaf dat voorspoed, vreugde, vrede, menswaardigheid en liefde vir almal beskore sal wees. As die “verlengde” arm van God moet individuele lidmate en gemeentes onder die leiding van die Heilige Gees heilbrengers word, heilbrengers wat ingryp in die lewe van diegene wat slagoffers van onreg, wanorde, magsmisbruik of diskriminasie geword het.

Adventsprediking moet vanaf die kansel voluit as genadejaarprediking en jubeljaarprediking gehoor word. Advent moet as God se lente wat genesend aanbreek gepreek word, as ’n nuwe toekoms wat verrassend vir die mens en die ekologie oopgaan. Aan hierdie aanbreek en oopgaan moet lidmate missionaal aandadig wees om, soos die takkie wat uit die stomp van Isai ontspruit het, dié salwing uit te leef: “Die Gees van die Here is op My, omdat Hy my gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig” (Luk 4:18-19).

Bibliografie

Die Bybel 1996. Sewende uitgawe (naslaan); Barth, K 1980. Evangelical Theology: An Introduction; Barth, K 1964. Church Dogmatics; Burger, CW, Müller, B & Smit, DJ (eds). Woord teen die Lig 1/7. Verdere riglyne vir Adventsprediking; Guthrie, D & Motyer, JA (eds). The New Bible Commentary Revised; Hessel, Dieter (ed) 1983. Social Themes of the Christian Year: A Commentary on the Lectionary; Fackre, Gabriel 1996. The Christian Story: A Narrative Interpretation of Basic Christian Doctrine, 3rd Revised edition; Moltmann, J 1967. Experiences of God; Moltmann, J 2019. Hope in These Troubled Times; Soards, M & Dozeman, T (eds). 1992. Preaching Revised. Common Lectionary: Advent/Christmas/Epiphany.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.