Vreesloos – Week 5

Sections

LEES

Matteus 27:27-31; Johannes 19:2-3; Kolossense 3:8-17

DORINGKROON

Ons simbool vir hierdie week is die doringkroon. Dit herinner ons dat ons mense is wat pyn ervaar, en daarom dikwels ook pyn uitdeel. Maar ook dat ons kan verander en ons pyn anders kan hanteer.

Ons lees in Matteus 27:29: “Hulle vleg ’n doringkroon en sit dit op sy kop en gee Hom ’n stok in sy regterhand. Toe bespot hulle Hom deur voor Hom te buig en te sê: ‘Ons groet u, Koning van die Jode!’” En in Johannes 19:2: “Die soldate het ’n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ’n pers mantel aangetrek.”

Mense wat gereeld met beseerde diere werk, weet wat kan gebeur. Wanneer jy ’n hond wat seergekry het, probeer help, sal die hond jou dikwels byt. Dit is die hond se primitiewe instink om seer te maak in ’n poging om te keer dat hy verder seerkry.

Mense het skynbaar dieselfde instinktiewe neiging. Vanuit ’n “primitiewe deel” van ons brein kom die instinktiewe reaksie te voorskyn om seer te maak wanneer ons self seerkry (liggaamlik of emosioneel).

Dit is deel van die krisis van die mensdom: Die pyn wat ons ervaar, maak ons mense wat maklik pyn uitdeel. Ons is ook intelligente wesens en tree proaktief op. Ons beskerm onsself teen die moontlikheid van pyn. Ons vrees dit wat kan gebeur. Ons beskerm onsself gevolglik deur onsself te verskans en selfs in isolasie te leef. Dit dompel ons in ’n verdere krisis: ’n liefdelose en verdeelde gemeenskap. Agter dit alles lê ons vrese: ons vrees om kwesbaar te wees, om seer te kry, om liggaamlike pyn én emosionele pyn te beleef, om gekritiseer te word, om te misluk, om verwerp te word, om in konflik te beland.

Prof Brené Brown, ’n Amerikaanse navorser, sê in Psychotherapy Networker (Nov/Des 2017): Sedert 9/11 het Amerikaners se gevoel van isolasie toegeneem. Direk ná hierdie gebeurtenis was mense verenig; almal kon praat oor hulle gemeenskaplike hartseer en vrees; oor hulle gevoel van kwesbaarheid én oor die vrees om kwesbaar te wees. As dit maar net so kon bly, sê Brown, sou dit op die ou end ’n genesingsproses kon word. Politieke leiers het egter ’n ideologiese vyand gevind en almal probeer saamsnoer in ’n gemeenskaplike haat vir die vyand. En só, sê Brown, is die ware vyand misgekyk. Hulle (en ons) grootste vyand is om nie raak te sien, te erken en te praat oor hoe vrees ons oorweldig en hoe vrees ons al meer in kampe jaag en al meer isoleer nie.

In Suid-Afrika beleef ons ’n soortgelyke situasie. Ons beland in ’n situasie waar ons alleen (of in onderskeie groepe) is en ons wonde lek én ons byt na wie ook al te naby aan ons kom. In pas met ons primitiewe instink is ons gereed om pyn uit te deel, selfs al vrees ons nog net die liggaamlike of emosionele pyn. Hoor wat sê Brown (as slotsom) vir die Amerikaners van vandag: “If we can find a way to feel hurt rather than spread hurt, we can change.”

Ons het hiervan die heel beste voorbeeld. Lees gerus Matteus 27:27-31 en Johannes 19:2-3.

Jesus het elke vorm van pyn ervaar: liggaamlik en emosioneel. Net voor hierdie gebeure is Hy gegesel. In Pilatus se ampswoning is Hy gespot: ’n pers mantel, ’n kroon en ’n staf – die simbole van ’n koning. Maar Jesus se kroon was ’n doringkroon en sy staf ’n stok. Hulle sê vir Hom: “Ons groet u, Koning van die Jode,” maar hulle stemtoon is vermakerig, die woorde net om Hom te spot.

Hoekom doen hulle dit? Ons weet wat vir Jesus voorlê: Hy gaan aan ’n kruis vasgespyker word om daar te sterf. Dit sou Hy doen om ons weer by God uit te bring, om die kloof tussen God en mens te oorbrug. Dit weet ons. Dit verstaan ons. Ons geloof is daarop gebou: Christus het ons deur sy dood met God versoen.

Maar waarom ’n doringkroon? Watter betekenis en simboliek kan ons daarin vind? Waarom hierdie uitgerekte lyding: die geseling, die pers mantel, die doringkroon, die stok, die gespot, gespoeg, geklap en geslaan?

Ons moet onthou dat Jesus ons nie net vrygespreek wil laat sterf nie; Hy wil ook hê dat ons sinvol en betekenisvol sal leef. Is dit dalk die sin van hierdie uitgerekte lyding? Dat ons daarin kan sien hoe anders Jesus se optrede is? En dat Hy ons daarmee, in die laaste ure van sy aardse lewe, nóg iets wou leer oor hoe om hierdie lewe te leef?

Jesus is die Koning! Maar anders as enige koning waarvan hierdie afdeling Romeinse soldate nog ooit gehoor het. Jesus het die mag, maar kies om dit nie te gebruik nie. Hy is nie soos die konings wat hulle geken het nie, konings wat beheer, gedikteer, gedwing en gevat het. Jesus is Koning deur sy lyding; deur Homself te gee; deur Homself te offer – in liefde. Hy regeer nie vanuit ’n paleis nie; Hy dien op klein en onbelangrike plekkies. Hy skouerskuur met gewone mense, met sondaarmense. Hy verduur die pyn en die gespot. Toe Hy uiteindelik aan die kruis uitroep: “Dit is volbring!”, is dít sy oorwinning.

Jesus het toe al goed verstaan wat ons nog probeer verstaan: “If we can find a way to feel hurt rather than spread hurt, we can change.” Jesus het dit op Homself geneem. Hy het besluit om die pyn op Hom te neem; om dit nie te versprei nie, maar om dit te verduur – sodat ons as nuwe mense in ’n nuwe verhouding met ons hemelse Vader te kan staan én kan verander om in ’n nuwe verhouding met mekaar te staan.

Kan dit dalk wees waaraan Jesus se doringkroon ons in die toekoms sal herinner? Aan hoe Hy die lyding op Hom geneem en dit verduur het ter wille van ’n groter doel: ons verlossing? Kan dit ons ook herinner dat ons nou anders op ons pyn kan en moet reageer – anders as wat ons primitiewe instink vir ons wil voorskryf? Kan die doringkroon ’n simbool word van “finding a way to feel hurt rather than spread hurt”?

Paulus se brief aan die Kolossense kan ons help om verder hieroor na te dink.

Kolossense 1:21-22: Jesus is deur die Romeinse soldate gespot asof Hy ’n kamma-koning was, maar Hy was die Seun van God – en Hy is steeds die Seun van God. Hy is die Koning van die konings! Die mantel, die kroon en die staf was bedoel om Jesus te spot, maar eintlik was dit gepas. Deur sy lyding het oorwinning gekom. Sy oorwinning maak dat ons “heilig, sonder smet en onberispelik” voor God kan staan. Ons kan in ’n nuwe verhouding met God leef.

Kolossense 3:8-17 help ons ook hiermee.

Vers 8-9: Ons behoort nie meer vanuit ons primitiewe instinkte te reageer nie; ook nie vanuit ons selfsugtige en selfgerigte neigings nie.

Vers 10-11: Paulus sê dit is onsinnig om verder oor afkoms te redeneer. Of oor godsdienstige gebruike, taal of stand. Net dít maak saak: dat ons in Christus glo; dat Hy in ons woon. Daarom moet ons dit wat ons verdeel en van mekaar af weghou, opsy skuif.

Vers 12: Paulus herinner ons nie aan God se almag, alomteenwoordigheid of mag nie, maar aan sy karakter. Jesus het hierdie eienskappe van God uitgeleef toe Hy meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam was. Paulus sê: Dít is wat in ons moet groei. Omdat God ons uitverkies het en liefhet, moet ons ons beklee met meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid. Dit is hoe God is, dit is hoe Christus opgetree het, en dit is hoe ons moet wees.

Vers 13: Ons moet nader aan mekaar leef, ongeag wat met en rondom ons gebeur. As die onreg gebeur of as ons enige vorm van pyn beleef, moet gelowiges mekaar bly opsoek en nader aan mekaar beweeg. Ons moet ’n liefdeseenheid ervaar, waarbinne ons so veilig voel dat ons nie meer ons doringkrone vir mekaar hoef weg te steek nie. Ons behoort dit binne families, binne vriendekringe, binne gemeentes en binne die liggaam van Christus te ervaar. Vind ’n plek waar jy sonder vrees jou doringkroon kan dra.

Vers 15-17: Vers 17 is allesinsluitend. Dit sluit ons hele lewe in, in elke hoedanigheid, in alle opsigte. Ons moet die nuwe lewe in Christus in elke faset van ons lewe uitleef. Veral in ons verhoudings met mekaar.

Terug by doringkroon. Waaraan gaan dit jou in die toekoms herinner? Natuurlik aan Jesus se lyding. Aan sy uitgerekte lyding. Aan wat Hy verduur het. Aan wat Hy intens beleef het. Aan alles wat Hy op Hom geneem het. Maar ook dat dit uitgeloop het op die kruis waar die oorwinning behaal is. Sodat ons met God versoen kan wees.

Jesus se doringkroon kan ons ook herinner aan die ander, beter styl om hierdie aardse lewe te leef. ’n Styl waarin ons bewus is van en weerstand bied teen ons instinktiewe reaksies. Waar ons kies om nie na mekaar te hap en te byt nie, maar om ons pyn te verduur en met ons pyn nader aan ander te beweeg; om nie alleen met ons pyn te worstel nie; om met ons doringkroon by mekaar op te daag. Want as daar iets is wat ons werklik aan mekaar kan verbind, is dit juis ons pyn. Ons vrese. Ons vrees vir pyn.

As ons dit maar net kan regkry om sonder vrees ons doringkrone voor mekaar te dra, sal die lewe nie net vir ons makliker wees nie; dit sal ook hierdie wêreld ’n beter plek maak. “If we can find a way to feel hurt rather than spread hurt, we can change.” Dan kan ons doringkroon ook ’n kroon van oorwinning wees.

Gaan ons vreesloos wees? Ek weet nie. Meer vaardig met ons vrees – ja, dit kan!