Vreesloos – Week 4

Sections

LEES

Josua 3 en 4

KLIPPE

Ons simbool vir hierdie week is klippe. Dit herinner ons aan die ou Bybelse gebruik om klippe op te stapel as ’n herinneringsteken aan wat God gedoen het.

Ons lees in Josua 3 – 4 hoe Josua, ná Moses se dood, die leiding oorneem en die opdrag ontvang om die Israeliete uiteindelik by die Beloofde Land in te lei. Maar eers moet hulle oor ’n sterk Jordaanrivier kom. Dit was in die oestyd, in die lente, ongeveer Maart of April, dat die Israeliete die Jordaan moes oorsteek. In hierdie tyd het die Jordaan gewoonlik sy walle oorstroom.

Maar, toe die priesters wat die verbondsark dra se voete aan die water raak, dam die Here die Jordaan se water op sodat hulle droogvoets deur die rivier kan trek. Ons lees:

Nadat die hele volk deur die Jordaan is, het die Here vir Josua gesê:

“Neem nou die twaalf man uit die volk, een uit elke stam, en sê vir hulle: Vat hier uit die Jordaan, op die plek waar die priesters gestaan het, twaalf klippe en neem hulle saam met julle deur en sit hulle neer op die plek waar julle vannag oorbly.” Josua roep toe die twaalf man wat hy uit die Israeliete aangewys het, een uit elke stam, en hy sê vir hulle: “Gaan by die ark van die Here julle God verby tot in die middel van die Jordaan en tel elkeen ’n klip op die skouer, in ooreenstemming met die getal stamme van die Israeliete. Dit moet onder julle as ’n teken dien. Wanneer julle kinders julle eendag vra: ‘Wat beteken hierdie klippe vir u?’ moet julle vir hulle sê die Jordaan se water is voor die verbondsark van die Here afgesny; toe die ark deur die Jordaan moes gaan, is die rivier se water afgesny; daarom is hierdie klippe vir die Israeliete ’n blywende herinnering daaraan.” Die Israeliete het gemaak soos Josua gesê het. Hulle het die twaalf klippe in ooreenstemming met die getal stamme van Israel gevat soos die Here vir Josua gesê het, dit met hulle saam deurgeneem na die plek toe waar hulle sou oornag en dit daar neergesit. Josua het ook twaalf klippe binne-in die Jordaan opgerig, op die plek waar die priesters gestaan het wat die verbondsark gedra het. Die klippe is vandag nog daar (Jos 4:1-9).

En:

Josua het die twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan saamgebring het, in Gilgal opgestel en vir die Israeliete gesê: “As julle kinders eendag hulle pa’s vra: ‘Wat beteken daardie klippe?’ moet julle die kinders inlig en sê: Israel het op droë grond deur hierdie Jordaanrivier gegaan. Die Here julle God het die Jordaan se water voor julle laat opdroog sodat julle kon deurgaan, net soos Hy met die Rietsee gemaak het toe Hy dit voor ons laat opdroog het sodat ons kon deurgaan. Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien” (Jos 4:20-24).

Bekommernisse pak my gereeld. Gaan my kinders ’n goeie skoolopleiding kry? Sal hulle kan gaan studeer? Sal hulle eendag ’n goeie werk kry? Die bekommernisse hou nooit op nie. Ons bly onsself bekommer. Dit hou net aan en aan.

En dis nie net oor ons kinders en kleinkinders wat ons ongerus voel nie. Ons is onseker oor die toekoms van ons land, oor die ekonomie, oor ons aftreegeld. Ons is bekommerd oor ons gesondheid en oor ons werk en oor ons vriende. Waar gaan die korrupsie in die regering eindig? Wanneer maak hulle die gate in ons paaie reg? Wat gaan van ons word met al die misdaad in die land? Laat ons maar eerlik wees met mekaar, dit is nié lekker om ’n bekommerde mens te wees nie. Niemand wil die hele tyd bekommerd wees nie. Maar om die een of ander rede kry ons dit nie reg om ’n onbekommerde en vry lewe te geniet nie.

Mense wat nie glo nie, wat nie die Here Jesus volg nie, kan dalk maar net die skouers optrek en sê: “Tough luck. Ons kyk maar wat gebeur.” Of net hulle kop skud en kla.

Vir kinders van die Here is die dinge waaroor ons ons bekommer egter moeiliker. Hoekom? Ons wil graag doen wat Jesus van ons vra, en een van die dinge wat Hy van ons vra, is: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?” (Matt 6:25).

Ongelowiges voel nie skuldig wanneer hulle bekommerd is nie, maar ons as gelowiges voel skuldig omdat ons weet dit behoort nie so te wees in die lewe van ’n kind van die Here nie. Maar ons bly sukkel hiermee. En dit maak dat ons geloofslewe, ons vertroue in die Here, ’n knou kry. Ons glo dat die Here vir ons sondes aan die kruis gesterf het en ons glo ons sal ná ons dood by Hom in die hemel wees. Maar ons sukkel om Hom te vertrou met ons kinders en ons kleinkinders en ons land en ons toekoms en so baie ander dinge. En dit is nie goed nie. Ons moenie toelaat dat ons verhouding met Jesus agteruitgaan omdat ons dit nie kan regkry om Hom te vertrou met elke dag se dinge nie. Want hoe minder ons die Here met ons lewe vertrou, hoe minder sal ons sy vrede beleef en hoe meer sal ons toelaat dat die duiwel ons lewe vol vrees maak. En dit is nie die lewe wat Jesus vir sy dissipels begeer nie.

Toe ek Josua 3 en 4 gelees het, het dit my gehelp met die probleem van bekommernis. Dalk sal dit jou ook help.

Die verhaal van die klippe wat die volk opgetel en gepak het, het my opgeval. Ek het gewonder hoekom hulle dié moeite sou doen. Hulle moes a) 12 klippe in die middel van die Jordaanrivier pak. Wanneer die rivier laag vloei, sou die klippe sigbaar wees. Dan moes die Israeliete dink aan die almag van God, Hy wat Israel droogvoets deur die vol Jordaanrivier laat trek het. En toe moes hulle b) 12 klippe by die kampplek in Gilgal opstapel.

En dan die woorde: “As julle kinders eendag hulle pa’s vra: ‘Wat beteken daardie klippe?’ moet julle die kinders inlig en sê: Israel het op droë grond deur hierdie Jordaanrivier gegaan” (Jos 4:23-24).

En toe verstaan ek: Die Israeliete het 40 jaar lank in sirkels deur die woestyn getrek en nie by die Beloofde Land uitgekom nie. Nou moes hulle ’n onbekende land binnegaan en hulle het nie geweet wat die toekoms inhou nie. Ek kan my voorstel dat daar maar baie onsekerheid en bekommernis in hulle harte was oor die pad wat voorgelê het. Keer op keer was die volk opstandig in die woestyn en hulle wou net terug na Egipte waar hulle geweet het wat is wat. God het egter geweet hulle sou dit nie maak as hulle Hom nie vertrou nie, want daar sou nog baie sulke sukkeltye kom.

Toe laat Hy sy volk die klippe pak. Hoekom? Om te onthou. Om te onthou wat die Here in die verlede vir hulle gedoen het. Hoe Hy hulle droogvoets deur die Jordaan laat stap het. Want sien, as hulle sou onthou hoe God hulle in krisistye gelei en op wonderlike maniere gered het, sou hulle moed hê vir die toekoms. Maar meer nog! Luister net: “Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien” (Jos 4:24).

Die Here wou hê sy volk moes onthou wat Hy vir hulle gedoen het sodat hulle vertroue in Hom kon groei en hulle Hom in alle omstandighede sou volg, ook al lyk dinge rondom hulle donker. Die Here weet immers waarheen Hy met hulle op pad is. En deur met vertroue in Hom te leef, getuig hulle ook teenoor die volke rondom hulle dat God die lewende God is.

Wat wil die Here met hierdie Bybelgedeelte vir my en jou sê? Ek glo God roep ons op om Hom in alle omstandighede en met alles te vertrou, ook in die donker tye, ook met ons hele lewe en selfs met ons dood. Wanneer ons Hom ten volle vertrou, kan die Here ons by ons Beloofde Land uitbring – die doel wat Hy vir ons hier op aarde het. Dan sal ons Hom voluit kan volg met vrede en geloofsvertroue in ons harte.

Hoe kry ons dit reg om ons nie te bekommer nie en die Here ten volle te vertrou? Ek dink nie ons moet moedeloos raak as ons dit nie elke dag regkry nie. Dit moet ons egter ook nie keer om in ons vertroue in die Here te groei nie. Een van die maniere waarop die Here ons help om in ons geloof te groei, is om ons te vra om “klippe op te stapel”, om onsself gedurig te herinner aan tye uit die verlede toe Hy ons op kritieke tye as’t ware “deur die Jordaan” gelei het.

Ons almal het al deur baie moeilike, soms uitsiglose tye in ons lewe gegaan. En tog, wanneer ons terugkyk, kan ons onthou hoe die Here ons daardeur gedra en gelei het. Die Here wil hê ons moet onsself gedurig hieraan herinner sodat dit ons geloof kan versterk vir die hede en die toekoms.

En die grootste herinneringsteken is vir seker die klip wat voor die graf weggerol is …

Dalk moet ons ook nie net die mooi foto’s van die goeie tye saam teen ons mure of op ons rekenaarskerms sit nie. Miskien moet ons ook foto’s van ons moeilike tye wys. Dit herinner ons en gee ons kans om te vertel hoe die Here ons daardeur gehelp het. As jy in ’n ongeluk was en ongedeerd daaruit gekom het, hou ’n aandenking daarvan op jou lessenaar, soos ’n stukkie van die motor of die klere wat jy aangehad het. Laat dit jou herinner aan God se goedheid. Of skryf iets neer op ’n klip sodat jy kan onthou wat met jou gebeur het. Sit dit in jou kombuis of badkamer neer.

Wanneer ons onthou wat gebeur het, onthou ons ook God se trou en grootsheid en ons vertrou Hom makliker vir elke dag se dinge. En dit is dan dat die mense wat saam met jou werk en leef God in jou lewe kan raaksien en na Hom aangetrek sal word.

Mag die Here ons Vader ons almal help om moed te skep vir die toekoms uit dié tye in die verlede toe Hy ons in sy hand vasgehou het. Gebruik jou klippe as ’n teken. Sit dit neer waar jy dit elke dag sal raaksien. Laat dit jou herinner aan wat God gedoen het. Laat dit jou vertroue in Hom bou.