Vreesloos – Week 3

Sections

LEES

2 Korintiërs 4:7-18

KRAKE

Ons simbool vir hierdie week is krake. Krake sê iets oor ons tydelikheid en ons broosheid. Maar kom ons luister ook na wat die evangelie oor krake sê.

PAULUS HET GEWEET VAN KRAKE

In die tyd toe Paulus geleef het, was die stad Korinte ’n baie belangrike Romeinse handelstad. Daar was twee hawens – een aan die westekant en een aan die oostekant. Korinte was ’n kosmopolitiese stad, bekend vir sy onsedelikheid.

Handelinge 18 vertel vir ons meer van Paulus se bediening in Korinte. Hy reis vanaf Atene na Korinte. Daar bly hy by sy vriende, die Joodse egpaar Akwila en Priscilla. Hy werk saam met hulle. Soos Paulus, was hulle ook tentmakers. Op die sabbat het Paulus in die sinagoge met die Jode gaan redeneer en hulle probeer oortuig dat Jesus die Christus is. Hy het baie teenstand ervaar. Maar toe kom Krispus, die hoof van die sinagoge, en sy hele huisgesin tot geloof in Christus. Baie ander wat die evangelieboodskap gehoor het, het ook tot bekering gekom.
Paulus het 18 maande in Korinte gebly en die boodskap van Jesus Christus daar verkondig. Toe het hy weer na Efese vertrek.

Ná sy vertrek sluit rondreisende Joodse dwaalleraars by die gemeente in Korinte aan. Hulle doen hulle voor as apostels van Jesus Christus.

Die Grieks-Romeinse kultuur het groot waarde aan uiterlike vertoon geheg. Mense se karakter is beoordeel op grond van hulle uiterlike voorkoms. Dieselfde het in die Joodse kultuur gebeur. Die Joodse wysgeer Jesus Sirag het geglo die manier waarop iemand loop, wys wie hy of sy is. Die gesag van leiers is deur hulle uiterlike charisma en welsprekendheid bepaal.

Die dwaalleraars in Korinte stel hulle voor as eerbare mense met ’n rein Joodse afkoms. Vir hulle was die houer wat die boodskap bring, baie belangrik. ’n Welvarende, sorgvrye lewe was vir hulle ’n teken dat hulle apostelskap eg was. Lyding en swaarkry was ’n teken van swakheid.

Klink dit bekend? Kerke wat hulle identiteit rondom die charisma van ’n geestelike leier bou en ’n teologie opdis wat jou laat glo dat as jy God dien, jy nie slegte oproepe sal ontvang nie, nooit geldelike probleme sal hê nie en supergesond sal bly …

Paulus en sy mede-apostels staan in skerp kontras met hierdie “super”-geestelike leiers.

In 1 Korintiërs 4:10-13 lees ons: “Ons toewyding aan Christus laat ons dwaas lyk, maar julle is mos die Christene wat weet! Ons is broos, maar julle is die sterkes. Julle is die mense van aansien, maar ons is die veragtes. Tot nou toe ly ons honger en dors, ons is skamel aangetrek; ons word geslaan en het geen tuiste nie.”

In 2 Korintiërs 11:24-28 praat Paulus verder oor die ontberings wat hy moes verduur: “Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry; drie maal is ek met stokke geslaan, en een keer is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een van daardie kere het ek ’n dag en ’n nag op die oop see oorleef. Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges. Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees. Behalwe al dié dinge, was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes.”

Dit is allesbehalwe ’n voorspoedteologie. Handeling 14:19 vertel ons ook: “Hulle het Paulus met klippe gegooi en hom uit die stad gesleep onder die indruk dat hy dood is.”
Die prentjie wat Paulus van homself skets, is nie baie aansienlik nie. Hy is vol littekens, letsels en hy loop mank. Dit is ’n prentjie wat die dwaalleraars se vals teologie baie skietgoed sou gee.
Paulus eggo hulle woorde in 2 Korintiërs 10:10: “Hulle sê mos: ‘Paulus se briewe is gewigtig en kragtig, maar as hy persoonlik teenwoordig is, is hy maar onindrukwekkend en het sy boodskap maar min om die lyf.’”

Vir die Jode was daar ’n baie sterk verband tussen die uiterlike voorkoms en die innerlike. Mense se innerlike is van binne na buite gelees. En dit is juis hierdie siening wat die dwaalleraars gebruik het om Paulus en sy mede-apostels in diskrediet te bring. Die dwaalleraars het Paulus se apostelskap bevraagteken op grond van sy uiterlike voorkoms.
Met hierdie agtergrond in gedagte, kom ons lees 2 Korintiërs 4:7-18 (Die Boodskap).

In vers 7 sê Paulus ons is soos kleipotte, nie goue blompotte soos die dwaalleraars die gemeente in Korinte wou wysmaak nie. En hierdie kleipotte is broos. Hulle breek maklik en is nie altyd uiterlik so sterk en aansienlik nie. Hulle is maar net die houers wat die Goeie Nuus van Jesus Christus uitdra. Die krag lê nie in die houer nie, maar in Jesus Christus, die Goeie Nuus self.
Vers 7 sê: “It is not about me; it is all about Jesus Christ!”

In hierdie lewe is die houer, die draer van die Goeie Nuus, nie gevrywaar van seer, pyn en lyding nie. Paulus sê in ons lewe duskant die graf deel ons in Jesus se lyding. Ons is blootgestel aan die sterflikheid van ons liggame, aan siektes en ongelukke en aan vervolging ter wille van die evangelie. Maar dit is juis deur ons krake dat die lig sigbaar word. Die eie ek het die vermoë om die lig te verdof. Wanneer die eie ek voorop staan, doen ons alles uit eie krag – met rampspoedige gevolge. Daarom sê Johannes 3:30: “Hy moet meer word en ek minder.”

In Romeine 12:1 herinner Paulus ons weer: Gee julleself as lewende en heilige offers (laat die eie ek van die troon van jou lewe afklim) sodat God julle deur die Gees kan verander. Wanneer dit gebeur, ontkiem die vrug van die Gees in ons: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Watter boodskap hou hierdie gedeelte dan in vir ons wat sukkel met ons vrese vir seerkry en pyn, vir siekte en swaarkry, vir ongelukke en dood? Vir al die krake in ons lewe?
In hierdie lewe ervaar ons pyn en seerkry, maar ons is nooit sonder hoop nie.

Ons is …
… verdruk MAAR nie terneergedruk nie.
… oor raad verleë MAAR nie radeloos nie.
… vervolg MAAR nie deur God verlaat nie.
… op grond neergegooi MAAR nie vernietig nie.

Vers 16-18 help ons om verder en dieper te kyk, om die groter prent raak te sien. Dit herinner ons dat ons pelgrims hier is, en nie setlaars is nie. Ons lewe hier is tydelik en gaan verby. Ons moet daarom nie ons tentpenne te diep inslaan nie. Of ons genees word of nie, ons word elke dag ouer, maar die dood vir ons as gelowiges is die volmaakte genesing.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.