-
Druk afdeling
LEES
Lukas 5:33-39; Matteus 6:16-18
VAS
Ons simbool vir hierdie week is vas. Vas is ’n geloofsdissipline wat ons nader aan God bring omdat dit ons op Hom laat fokus.
Ons lees op heelwat plekke in die Ou en die Nuwe Testament dat die kinders van die Here hulle vir Hom afgesonder het om te bid. Deel van hierdie afsondering was om ’n tyd lank ook nie te eet nie. Dit is wat die Hebreeuse en Griekse woorde vir vas beteken. In hierdie tyd dat hulle nie geëet het nie, het hulle gebid. Vas het dan beteken dat hulle ’n ete of etes oorgeslaan het om in daardie tyd te bid en hulle voor die Here te verootmoedig.
Daniël het byvoorbeeld gevas deur ’n tyd lank nie vleis te eet nie. Dit maak nie saak wat jou vas behels nie, dit is ’n geloofsgewoonte wat God vir ons gegee het om tot Hom te nader. Om deur gebed in nouer kontak met God te kom. En enige mens sal verander deur hierdie voortdurende kontak met God!
Hier is ’n paar situasies in die Ou Testament waar mense gevas het:
1. In Rigters 20:26 vas die volk in ’n tyd van krisis.
“Al die Israeliete en die hele leër is toe na Bet-El toe en daar het hulle in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en huil, en daardie dag het hulle tot die aand toe niks geëet nie. Hulle het brandoffers en maaltydoffers aan die Here geoffer.”
2. In 1 Samuel 7:4-6 vas die volk as deel van hulle skuldbelydenis en verootmoediging.
“Die Israeliete het toe die Baäls en die Astartes verwyder en net die Here gedien. Toe sê Samuel: ‘Die hele Israel moet by Mispa bymekaarkom, dan sal ek vir julle tot die Here bid.’ Hulle het by Mispa bymekaargekom, water geskep en dit voor die Here uitgegiet. Op daardie dag het hulle gevas en daar het hulle bely: ‘Ons het teen die Here gesondig.’ Samuel het die Israeliete in Mispa onderrig oor wat reg en verkeerd is.”
3. In 2 Samuel 12:16 vas Dawid in ’n tyd van persoonlike trauma en hartseer met die dood van sy kind.
“Dawid het tot God gebid vir die kind. Hy het hom verootmoedig deur aanhoudend te vas, hom terug te trek en op die grond te lê.”
Daar is ook baie verwysings in die Nuwe Testament waar Jesus sy dissipels leer om te vas. Die eerste gemeente in Handelinge is om baie redes vir ons ’n voorbeeld van ’n gemeente wat in die kragveld van die Gees geleef het. Hulle was charismaties! Deel van hulle kragtige getuies is die feit dat hulle erns gemaak het met vas en gebed.
4. In Handelinge 14:23 vas en bid die gemeente oor die leiers wat hulle moet aanstel.
“In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.”
5. In Handelinge 13:2-3 vas die gemeente oor ’n belangrike besluit wat hulle moet neem.
“Toe hulle op ’n keer bymekaar was om die Here te dien en om te vas, het die Heilige Gees gesê: ‘Sonder Barnabas en Saulus vir My af om die werk te doen waarvoor Ek hulle geroep het.’ Nadat die gemeente gevas en gebid en hulle die hande opgelê het, het die gemeente hulle laat gaan.”
Wat ’n wonderlike getuienis dat ’n gemeente vas en erns maak met God wanneer hulle belangrike besluite moet neem. Calvyn, die groot Hervormer, het ’n hele hoofstuk oor vas en gebed en die waarde van vas in die voorbereiding vir gebed in sy Institusie geskryf.
Om op God te fokus en om God te hoor met al die geraas van die wêreld rondom ons, is nie altyd so maklik nie. En dikwels is hierdie geraas nie net rondom ons nie, maar ook binne-in ons gedagtes. Wanneer ons met al hierdie geraas na God toe gaan, gebeur dit dikwels dat ons God nie hoor nie, of dalk so met ons eie gedagtes besig raak dat ons nie by God se gedagtes uitkom nie. Dit is dán dat ons dikwels sê God hoor nie of Hy antwoord nie. Francois Fénelon skryf hieroor: “Gebed is om op te hou om na jou eie gedagtes te luister en God se gedagtes te begin hoor.”
En vas is ’n geloofsdissipline wat ons voorberei vir ons gebede tot God. Vas kan nie sonder gebed verstaan word nie. Vas op sigself beteken nie veel nie. Vas is om jou in te stel daarop om die Here se aangesig te soek en sy gedagtes te hoor.
Vas is nie iets waarmee ons die Here se arm draai nie. Dit is ook nie ’n dieet nie. Jy doen dit nie om deur ander raakgesien en geprys te word nie. Trouens, dit is Jesus se hele protes teen die Fariseërs in Matteus. Hulle het gevas as ’n wet of ’n verpligting en om deur mense raakgesien te word. Maar wanneer jy ’n tyd lank nie eet nie en jou daardeur in gebed vir God afsonder, leer jy nie net meer oor wie God werklik is nie; jy wys ook jou volkome afhanklikheid van God. Jy honger na God. Jy is meer afhanklik van God as van die kos wat jy eet.
Ons elkeen beland op plekke en in situasies waar ons die Here se aangesig op ’n besonderse manier moet soek. Dit is tye wanneer ons dringend nodig het om sy gedagtes te hoor. Tye waarin ons nie weet watter kant toe nie. Wanneer ons besluite moet neem; wanneer ons deur hartseer of bekommernis oorweldig word. Wanneer die lewe ons eenvoudig radeloos, moeg en moedeloos laat. Tye waarin dit vir ons voel of ons nie beheer het nie. Wat maak ons in sulke tye? Die wêreld begin raas en rumoer en mense neem dikwels hulle toevlug tot kos en drank, maar die Here gee vir ons die geloofsdissipline van vas en gebed juis vir hierdie tye en situasies. Want ons het God nodig!
Wanneer ons sê ons leef in volkome afhanklikheid van die Here, beteken dit ons het geen ander toevlug as God nie. Ons gebedsdissipline of ons gebedslewe is die grootste teken van ons afhanklikheid van die Here. Ons sê immers baie vinnig ons het oor iets gebid, maar het ons regtig? Het ons regtig tussen al die geraas in ons en rondom ons ons in erns by die Here afgesonder, soos die Here Jesus self dikwels gedoen het, om God se aangesig te soek en sy gedagtes te hoor?
Ons leef nie in ’n tyd van dissipline nie. Alles moet vinnig en maklik gebeur. So ook die leiding en die antwoorde wat ons van God verwag. Maar soms lê die groei nie net in die antwoord of in die uitkoms nie, maar in die soeke en luister na God. En wanneer jy God se aangesig soek en ophou na jou eie gedagtes luister, sal jy God se gedagtes begin hoor. Jy sal met die krag van God vervul word en meer kry as wat jy ooit kon bid of dink.