Vyftiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die tekste vir hierdie week laat die klem duidelik val op die tema van geregtigheid, regverdigheid en sosiale en ekonomiese geregtigheid. Daar is ‘n geleentheid om in die liturgie die troos van God se genade vir die arm, verontregte en noodlydende persoon na vore te bring, asook die weeklaag en skuldbelydenis van die kerk.

Ander tekste

Psalm 125
’n Pelgrimslied.
Dié wat op die Here vertrou,
is soos Sionsberg
wat nie wankel nie
en altyd vas bly staan.
2Soos die berge Jerusalem
aan alle kante beskerm,
so beskerm die Here sy volk,
nou en vir altyd.
3Oor die grondgebied
van die regverdiges
sal ’n goddelose nie die mag kry nie,
sodat die regverdiges
nie in misdaad verval nie.
4Here, doen goed aan dié wat goed is,
die opregtes van hart!
5Maar dié wat die verkeerde pad loop,
mag die Here hulle vernietig
saam met dié wat onreg doen.
Mag daar vir Israel vrede wees!

Jakobus 2:1-10, (11-13) 14-17
My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2Sê nou daar kom in julle samekoms ’n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ’n brandarm man in met ou klere aan, 3en sê nou julle maak ’n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,” 4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?

5Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? 6Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? 8As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. 9Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. 11God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog ’n oortreder van die hele wet. 12Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak. 13Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

Glo en doen
14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Markus 7:24-37
24Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in ’n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie. 25’n Vrou wie se dogtertjie van ’n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval. 26Hierdie vrou was ’n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe. 27Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

28Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”
29Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”
30Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit.

Jesus genees ’n doofstom man
(Vgl Matt 15:29–31)
31Jesus is weer uit die gebied van Tirus weg en deur Sidon na die See van Galilea toe in die gebied van Dekapolis. 32Die mense bring toe ’n dowe man wat ook ’n spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê. 33Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. 34Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!” Dit beteken: Gaan oop!

35Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat. 36Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig. 37Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”

Sleutelteks

Spreuke 22:1-2, 8-9, 22-23
1‘n Goeie naam is verkieslik
bo groot rykdom,
egte innemendheid
bo silwer en goud.
2Rykes en armes het dít gemeen:
Die Here het hulle almal gemaak.
3‘n Slim mens sien gevaar en skuil,
maar onverstandiges gaan voort
en betaal die prys.
4Die beloning vir nederigheid
en ontsag vir die Here
is rykdom, eer en lewe.
5Dorings en wippe is op die pad
van ‘n vals persoon;
wie sy lewe wil beskerm,
bly ver daarvan weg.
6Rig die jongmens af
ooreenkomstig die pad
wat hy moet loop;
selfs wanneer hy oud geword het,
sal hy nie daarvan afwyk nie.
7‘n Ryke heers oor armes,
en wie leen, is ‘n slaaf van die man
wat uitleen.
8Wie onreg saai, sal boosheid oes,
en die lat van sy woedebui
sal tot niet gaan.
9Wie ruimhartig is,
sal geseën word,
want hy gee van sy brood
aan die hulpelose.
10Dryf ‘n spotter weg,
dan is stryd by die deur uit,
en eise en skandalige optrede hou op.
11Wie ‘n rein hart liefhet,
wie innemend praat,
sal ‘n koning as sy vriend hê.
12Die oë van die Here
bewaak kennis,
en die sake van ‘n bedrieër
werp Hy omver.
13Die luiaard sê:
“Daar is ‘n leeu buite!
Binne-in die dorpspleine
sal ek doodgemaak word!”
14Die mond van vreemde vroue
is ‘n diep vangkuil;
wie deur die Here verdoem is,
sal daarin val.
15Sotheid wat vas is aan die hart
van ‘n jong seun –
‘n lat wat straf,
neem dit ver van hom weg.
16Wie ‘n arm mens uitbuit
om vir homself meer te kry,
en aan ‘n ryk mens geskenke gee –
dit lei net tot gebrek.

DERTIG SPREUKE VAN WYSES
17Spits jou oor en luister
na die woorde van wyses!
En jou hart, stel dit in op my kennis!
18Want dit is aangenaam
as jy dit in jou binneste bewaar,
as dit alles gereed lê op jou lippe.
19Met die oog daarop
dat jou vertroue
op die Here sal wees,
maak ek dit vandag
aan jou bekend, ja, aan jou.
20Het ek nie vir jou dertig spreuke
opgeskryf met raad en kennis
21om aan jou die waarheid,
betroubare woorde,
bekend te maak,
sodat jy betroubare antwoorde
kan gee aan dié
wat jou gestuur het nie?
22Moenie ‘n arme beroof
omdat hy arm is nie,
en moenie die magtelose vertrap
in die poort nie,
23want die Here
sal hulle regstryd voer
en van hulle plunderaars
die lewe plunder.
24Moenie vriende maak
met ‘n humeurige mens nie,
en met ‘n opvlieënde man
moet jy nie saamgaan nie;
25anders raak jy vertroud
met sy paaie
en stel jy só ‘n valstrik vir jouself.
26Moenie onder dié wees
wat hand gee,
wat vir skulde borg staan nie.
27As jy dalk niks het om te betaal nie,
waarom moet iemand jou bed
onder jou uit neem?
28Moenie ou grense verskuif
wat jou voorouers gelê het nie.
29Sien jy ‘n man wat knap is
in sy werk?
Voor konings sal hy in diens staan;
hy sal nie in diens
van onaansienlikes staan nie. (2020-vertaling)

Ekstra stof

Die eerste deel van hoofstuk 22 is deel van die eerste bundel van Salomo se eie spreuke (Spr. 10:1-22:16). Die spreuke is veral sinteses. Sinteses is verbindings of samevoegings van afsonderlike elemente tot ‘n nuwe geheel. Byvoorbeeld in Spreuke 15:30 kry jy die stelling: “Stralende oë bring blydskap”. En dan volg die tweede deel, die ooreenstemmende bevestigende stelling: “Goeie tyding verkwik ‘n mens.”

Vanaf Spreuke 22:17 is ‘n volgende deel van Spreuke. Dit staan bekend as die 2 bundels van die gesegdes van die wyses (Spr. 22:17-24:22; 24:23-34).
Die eerste bundel het ‘n inleiding (Spr. 22:17-19) en dan 30 spreuke van wisselende lengte, afhangende van hoe jy die spreuke indeel.
Die tweede bundel is ‘n kort addendum tot die eerste een met ‘n inleiding (Spr. 24:23) en bevat 5 spreuke.
Ter wille van volledigheid bespreek ek die hele hoofstuk. Jy kan egter fokus net op die fokusteks.

Spreuke 22:1
‘n Goeie naam of reputasie is meer werd as groot rykdom. Ander se goedgesindheid is meer werd as silwer en goud.

Spreuke 22:2-4
Vers 2 stel die fundamentele beginsel van die gelykheid voor God van alle mense, ryk en arm. Almal het dié status in gemeen. Dat God hulle gemaak het. Interessant is dat Spreuke in die eerste frase sê: “rykes en armes ontmoet mekaar” wat beide beteken “rykes en armes het dít in gemeen” (dat die Here hulle gemaak het), en dat hulle gelykheid voor God die basis is waarop hulle in gemeenskap met mekaar kan tree. ‘n Mens kan nie die betekenis van hierdie beginsel oorskat nie!

Vers 3. Een van die redes vir die ongelykheid in die samelewing is dat verstandiges onheil kan vermy, omdat hulle dit beter raaksien as onervarenes.
Vers 4. Die belangrikste rede is egter dat rykdom ‘n geskenk is van God aan die nederiges wat in ontsag vir Hom lewe. Hy deel rykdom, eer en lewe uit. Ons sal goed doen om in alles vir Hom te eer en ons naaste soos onsself.

Spreuke 22:5-6
Vers 5. ‘n Vals persoon – pervers, moreel krom en skeef, oneerlik, onopreg, skynheilig – se pad is besaai met uitdagings. Dit is vol dorings en wippe (vangnette). As jy jou lewe wil beskerm, moet jy wegbly van valsheid. Vers 6. Rig ‘n jongmens af in die weë van die Here – “die pad wat hy moet loop” beteken die pad van die regverdige – en dit sal gewoontes skep wat tot in sy oudag sal hou.

Spreuke 22:7
Die harde ekonomiese werklikheid is dat rykdom mag gee oor armes. Dieselfde geld ‘n lening. Die lener is die slaaf van die een van wie hy leen. Dit is aan die een kant ‘n waarskuwing. Moenie lui wees nie. Moenie leen nie. Dit is aan die ander kant ‘n aanmoediging. Verlig armoede. Red mense wat vasgevang is in ‘n situasie van uitbuiting. Ons almal is immers gelyk voor die Here (Spr. 22:2).

Spreuke 22:8-9
Vers 8. Die woord koning kom nie in die Hebreeuse teks voor nie. Ek sal dus eerder nie die 1983-vertaling hier gebruik nie. Hier is ‘n meer letterlike vertaling na aanleiding van die 1933/53-vertaling: “Wie onreg saai, sal onheil maai; en die stok van sy woede sal misluk.” Die “stok van sy woede” dui op die straf wat hy uitdeel. Dit sal tot niks kom nie. Vers 9. Wie arm mense met ‘n “goeie oog” bejeën – d.w.s. mededeelsaam is deur hulle kos te gee – word geseën.

Spreuke 22:10-12
Vers 10. Harmonie word herstel wanneer respekloses – ligsinnige spotters – in die pad gesteek word. Dit bring die getwis en beledigings tot ‘n end. Vers 11. Hy wat reinheid van hart liefhet en sorg dat sy woorde vriendelik is – die koning is sy vriend. Die punt is, selfs konings hou van opregte aangename mense. Skynheiligheid is vir hulle ‘n bedreiging. Vers 12. Die Here hou sy oë oor die behoud van kennis, en dwarsboom die woorde van verraaiers. Dit wil sê, God sorg self vir die behoud van die wysheid, wanneer onbetroubare mense dit bedreig. Dit is ‘n groot belofte om aan vas te klou!

Spreuke 22:13
Lui mense waag nie en gebruik absurde verskonings om hulleself te verskoon – daar is ‘n leeu daarbuite; hy sal my in die middel van die straat doodmaak (vgl. Spr. 26:13-16).

Spreuke 22:14
Owerspel is ‘n straf van die Here vir diegene wat Hom nie dien nie. Dit klink nogal vreemd, en veral die gebruik van die woord vervloek, val vreemd op. Maar, dit is presies wat Paulus in Romeine 1:18-32 skryf dat God mense, wat Hom nie eer nie, oorgee aan seksuele immoraliteit, skandelike seksuele begeertes en korrupte gedagtes en gedrag. Soos Tom Wright sê, wanneer jy die Here nie die sentrum van jou lewe maak nie, is dit die tipe dinge wat met jou sal gebeur.

Spreuke 22:15
Dwase giere kom diep uit die hart van ‘n kind. Dit is waarom die dissipline van die roede – ‘n stok wat gebruik is as wandelstaf (bevestiging), herderstaf (begeleiding) sowel as om mee te straf (tugtiging) – so noodsaaklik is vir jongmense. “Knocking the nonsense out!” (Kidner). Anders neem dwaasheid só ‘n kind se lewe oor en kan jy dit later op geen manier bedwing nie (Spr. 26:1-12).

Spreuke 22:16
Selfverryking ten koste van armes, en selfverarming ten bate van rykes, is ewe dwaas.
Daarmee kom ons aan die einde van die eerste bundel van Salomo se eerste 375 gesegdes. Hierna  vervolg die 30 spreuke van die eerste bundel van die gesegdes van die wyses.

Spreuke 22:17-19
Let op die persoonlike gesprekstyl waarin die spreuke aangebied word – “wat ek jou wil leer”. Op dieselfde wyse as wat die seun deur sy pa in Spreuke 1-9 onderrig is om:

  1. na sy pa, en sy ma te luister om die regte pad te kies, en
  2. veral Vrou Wysheid aan hom voorgehou is in die as die stem van die Here self (Spr. 9),
  3. só word die woorde van die wyses aan die seun voorgehou as ‘n stem om na te luister.

Die luister na wysheid is nie net voordelig nie, maar doodgewoon lekker.

Spreuke 22:20-21
Spreuk 1 – Spits jou ore vir die woorde van wyses.
Dit is noodsaaklik om jou ore vir wysheid te spits, want dit is help jou om self wyse woorde kwyt te raak in geselskap. Dit is ook die primêre manier waarop ‘n mens leer om op die Here te vertrou. Dit is sekerlik die belangrikste funksie van die wysheid. Die bevestiging van die wysheid lê in die vrug wat dit oplewer.

Spreuke 22:22-23
Spreuk 2 – Tree met deernis op teenoor arm en hulpelose mense.
Deernis met arm en hulpelose mense is ‘n teken van wysheid, nie net omdat dit vir hulle iets beteken nie, maar omdat jy daarmee aan die kant van die Here gaan staan. God is op ‘n besondere manier die God van die armes en hulpeloses.

Spreuke 22:24-25
Spreuk 3 – Wees baie versigtig vir opvlieënde mense.
Die probleem van opvlieënde mense is dat jy baie maklik soos hulle kan word. Daarom moet jy baie versigtig wees om vriende met só iemand te wees. Dit kan jou in lewensgevaar laat beland. Soos Spreuke 22:19 gesê het, dit is selfs ‘n probleem om só iemand met sy woede te help, omdat dit baie gou ‘n konstante verantwoordelikheid word.

Spreuke 22:26-27
Spreuk 4 – Moenie borg staan vir ‘n ander se skuld nie.
Dié spreuk kom in verskillende vorms regdeur die boek Spreuke voor (vgl. Spr. 6:1-5; 11:15; 17:18; 20:16). Dit het veral met die borgstaan vir vreemdes te make. Die punt is dat ‘n mens versigtig moet wees aan wie jy jou verbind, veral uit die hoek van die mag wat ander dan oor jou kan hê. Dit geld uiteraard nie wanneer ‘n mens iemand anders iets kwytskeld of as ‘n geskenk gee nie. Dit het die pa reeds in sy vierde lewensles vir sy seun geleer, dat hy nie ‘n weldaad moet weerhou van iemand wat dit toekom nie (vgl. Spr. 3:27-28).

Spreuke 22:28
Spreuk 5 – Moenie antieke grense verlê nie.
Die boek Genesis werk met die kernwaarheid dat God ons gemaak het om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar. God se bedoeling met die aarde was en is dat almal ‘n plek daarop vind, ‘n habitat, ‘n tuiste. Dit geld mense, diere en plante.

Dit sien ons reeds in die feit dat die Bybel diere en plante nie klassifiseer volgens hulle anatomie en morfologie nie, maar volgens hulle ekologie, hulle habitat, die plek waar hulle bly (Geen 1-2), die voëls in die lug, die visse in die see. Dit wys hoe fundamenteel alles wat leef, verbind is aan waar hulle leef.

God se bedoeling met die mens was, en is nou hieraan verwant. God het mense gemaak om Hom in die aardse ekologie te verteenwoordig (Geen 1:26), om die “tuin” met alles daarin te bewoon, te bewerk en te bewaar (Geen 2:15). Dit is waarom God die mens in die tuin van Eden plaas en seën. Dit beteken ook dat bewoon, bewerk en bewaar fundamenteel is tot die mense se bestaansdoel en werk in hulle tuiste op aarde.

Dit is waarom ‘n mens nie antieke grense moet verlê nie, want jy ontneem mense hulle verbintenis aan die grond, aan die plek waar hulle ‘n ruimte het om tot hulle reg te kom, om God se opdrag na te kom, om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar (vgl. Lev. 25:23).

Die volk is byvoorbeeld met die Intog in Kanaän gewaarsku dat hulle nie in die beloofde land hulle bure moes mislei deur grenspale te verskuif om vir hulleself meer grond te gee nie (vgl. Deut. 19:14; 27:17; Jas 5:8; vgl. ook Spr. 23:10-11).

Netso mag ‘n mens nie sommer so van jou geboortegrond afstand gedoen het nie. ‘n Mens hoor daarom in hierdie spreuk ook die wysheid wat agter die baie belangrike verhaal van Nabot se wingerd sit, waar koning Agab hom van sy grond wou vervreem, en so grense wou verlê wat al lankal daar is (vgl. 1 Konings 21).

Hierdie spreuk in Spreuke 22:28 is ‘n belangrike teks om oor na te dink in ons land.

Spreuke 22:29
Spreuk 6 – Verhoog jou vaardigheid, en verhoog só jou invloed.
Hoe mooi sê die wyse nie: “Jy sien self …”. Dit is tog ‘n algemene waarheid dat vaardige mense se invloedsfeer groei. Hulle kom in die diens van konings en mense van aansien. Daarom is die onuitgesproke aanbeveling van dié vers: verhoog jou vaardigheid, en verhoog só jou invloed (vgl. Spr. 27:18).

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 387 of Lied 556

Votum: (n.a.v. Jesaja 58:9-10)

Seëngroet

Lofsang: VONKK 299 of Psalm 19 of Lied 202

Wet / Skuldbelydenis / Genadverkondiging: (Verkorte en aangepaste weergawe van die “Beklag van God” uit die Vroeë Siriese Kerk)

Toewyding: Flam 406 of Lied 250

Geloofsbelydenis: (Uittreksel uit die Belydenis van Belhar)

HOOR

Gebed

Skriflesing: (verskillende lesers) Spreuke 22:1-2, 8-9, 22-23

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed

Dankoffer: (terugvoer van Barmhartigheidsbedieninge)

Slotsang: Flam 451 of VONKK 229 of Lied 471

Seën: (Uit Bybel-Media se “Woord en Fees”)

Respons: Lied 471 refrein of Lied 533

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Flam 387 Hier Is U Kerk (Laat Ons Dien Met Ons Lewe)
Lied 556 “Vervul my hart met dankbaarheid”

Votum
Voorganger: Jy sal roep,
Gemeente: en die Here sal antwoord.

V: Jy sal om hulp roep,
G: en Hy sal sê: Hier is Ek!

V: As jy sorg dat die mense nie meer by jou verdruk word nie,
G: nie meer gedreig en vals beskuldig word nie,

V: as jy jou wy aan dié wat honger het,
G: as jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is,

V: sal die lig vir jou skyn wanneer dit donker is,
G: sal wat vir jou nag is, word soos helder middag.
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n Blom na die Son Draai”, n.a.v. Jesaja 58:9-10)

Seëngroet: Trinitariese seëngroet

Lofsang
VONKK 299 “Sing van sy vrede/ Canterei a paz” of
Psalm 19 of
Lied 202 “Prys Hom, die Hemelvors”

Wet / Skuldbelydenis / Genadverkondiging
Gebruik ‘n verkorte en aangepaste weergawe van die “Beklag van God” uit die Vroeë Siriese Kerk.

Die “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle” beskryf dit as volg:
Die sogenaamde “Beklag van God” het sy oorsprong in die boek Miga (vgl Miga 6:3-4). Die beklag was deel van die vroeë Siriese kerk se Goeie Vrydag-liturgie. In die agste eeu het Islam die Siriese monnike bedreig en moes hulle vlug. So het die Westerse kerk met die “beklag” in aanraking gekom. Die verwyte in die “beklag” lê alle nadruk op die lydende God. Wanneer ons dit vertaal vir vandag, beteken dit dat God aan ons vra: Waar is julle en watter rol speel julle in die lyding en onreg in die wêreld? Die “beklag” geskied in ’n tweespraak: God vra aan die mens: “My volk, wat het Ek aan julle gedoen? En waarmee het Ek julle vermoei? Antwoord My!” Waarop die gemeente antwoord: “Heilige God, Heilig en Magtig, Heilig en Onsterflik, ontferm U oor ons.”

Liturg:
Ek het Myself bekendgemaak as julle bevryder,
die bondgenoot van alle onderdruktes,
maar tallose mense word getreiter en geteister,
terreur en tirannie.
Waarom laat julle dit toe?

Gemeente:
Heilige God,
Heilig en Magtig,
Heilig en Onsterflik,
ontferm U oor ons.

Liturg:
Ek het julle met oorvloed geseën,
met daaglikse brood en baie meer,
maar op my akker sterf mense onversadig,
en kinders bly honger.
Waarom laat julle dit toe?
Gemeente: Heilige God …

Liturg:
My volk, ek het julle geëer as kroon van die skepping,
Ek het julle uitgesoek as my kosbare sierade,
Ek het julle bewaar in my hand, in my hart,
Ek het julle my trots, my Seun, geoffer.

Gemeente:
Aan die Vader hoog verhewe,
aan die Seun wat vir ons ly,
aan die Trooster van ons lewe,
is die eer en krag gegee,
nou en tot in alle ewigheid.

Toewyding
Flam 406 Ek Wil Kom Stil Word (ou F39) [bekend] of
Lied 250 “Gods wet vra al ons liefde”

Geloofsbelydenis
1. Ons glo in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat deur sy Woord en Gees sy Kerk versamel, beskerm en versorg van die begin van die wêreld af tot die einde toe.

4. Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ‘n wêreld vol onreg en vyandskap op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy die wat bedruk is ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weesklnders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat vir Hom reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek.

Jesus is die Heer.  Aan dié enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, kom toe eer en heerlikheid in ewigheid.
(Uittreksel uit die Belydenis van Belhar)

Liedere

VONKK 0299 “Sing van sy vrede/ Canterei a paz”

Sing van sy vrede, almal saam.
Sing nou met blydskap, prys sy Naam!
Sing van sy liefde, sing nou saam.
Hy gee vir swakkes nuwe hoop.
Sing van jou vryheid, almal saam.
Hy bring vir armes goeie nuus.

Cantarei a paz, cantarei.
Cantarei a paz, cantarei.
Cantarei o amor, cantarei.
Cantarei aos probes, cantarei.
Sua libera cão, cantarei.
Aleluia, aleluia!
Cristo ressuscitou.

F387. “Hier Is U Kerk (Laat Ons Dien Met Ons Lewe)”
(RUBRIEK: Flam – Kerk en Koninkryk; Getuienis ) Teks: Neil Büchner en Jandré Viljoen
Musiek: Neil Büchner © Flam Musiek-Uitgewers

Hier is u kerk, U stel ons aan.
Ons is gekies, U gee ons u guns.
Laat u Gees oor ons elkeen kom.
Maak, Heer, u wil deur ons bekend
net soos dit is, dat mense dit ken.
Laat u Gees oor ons elkeen kom.

Refrein:
Laat ons dien met ons lewe
waar ons is u liefde bring.
Elke mens sien as u tempel
deur genade, u goedheid bewys
waar U kerk van u liefde getuig.

Hier is u kerk,
(ons is gekies)
hier is u kerk.
(ons is gekies)
hier is u kerk.

F406. “Ek Wil Kom Stil Word (ou F39)”
(RUBRIEK: Flam – Diens en Getuienis) Oorspronklike titel: I will sing of my Redeemer
Teks en musiek: James McGranahan (1840-1907) Afrikaanse Teks en musiekverwerking: Piet Smit en Ben du Toit
© MAR Gospel Music Publishers

1. Ek wil kom stil word, hier aan u voete;
ek wil kom hoor wat U vir my sê.
Ek wil kom oopmaak vir u Gees, Heer,
as ek my vrae voor U kom lê.

Refrein 1:
Want soveel mense sterf sonder Jesus
en word mislei na die ewige dood.
Daar’s soveel oorvloed, selfsug en rykdom,
en ander ly in hongersnood.

2. Ek wil kom vra, Heer, wat van die kinders
wat honger en lyding glad nie verstaan?
Wat van die mense wat stukkend en seer is?
Wat van die een wat eensaam vergaan?

Refrein 2:
As ek dan vra, Heer, “waar is u liefde?”
moet ek erken, dit lê nog by my.
Hier in my selfsug stap ek gevoelloos
by al die nood en seer verby.

3. Maak my ’n beeld van Jesus se liefde
om in my wêreld U hande te wees.
Ek gee myself aan U as ’n offer
onder beheer van die Heilige Gees.

Refrein 3:
Hier staan ek voor U, net soos Jesaja.
Raak my nou aan met u heilige vuur,
sodat ek oral u liefde kan uitdra.
Hier is ek, Heer, U kan my stuur!

F451. “Here, Hier’s My Lewe (Stuur My)”
(RUBRIEK: FLAM – Verwondering / Geloof en vertroue)  Teks en musiek: Nico Bezuidenhout Kopiereg: © 2011 Urial

1. Here, hier’s my lewe
maak dit bruikbaar voor u troon.
Here, neem my bede
as my hart vra na u vrede
sodat ek u lig kan sien
sodat ek u ryk kan dien.
Dis u wil vir my bestaan,
dis u wil vir my bestaan.

2. Here, laat die liefde
van die Vader my wil omvou.
Here, laat die liefde
van die Vader my diensbaar hou.
Sodat ek u lig kan bring,
sodat ek u lof besing.
Dis u wil vir my bestaan
diensbaar sal ek voor U staan.

3. Stuur my na die wat dors het,
na die water van die lewe.
Stuur my na waar daar nood is,
na die vrae van donker harte.
Sodat ek u lig kan bring,
sodat ek u lof besing.
Dis u wil vir my bestaan
waar U stuur, daar sal ek gaan.
Dis U wil vir my bestaan,
waar U stuur, daar sal ek gaan.

VONKK 229 “Wysheid Begin Met Die Dien Van Die Heer”
Uit die Spreuke van Salomo Teks: Jacques Louw 2012 © Musiek: VIR FRANCOIS – Jacques Louw 2012 ©
Kantoryverwerking: Jacques Louw 2012 © Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2012 © 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Onderwysing / Bevestiging van Ampsdraers /Aflegging van Geloofsbelydenis / Kindwees

1. (Spreuke 4:4)
Wysheid begin met die dien van die Heer;
dis meer as kennis, verstand.
My seun, jy moet luister wat God van jou vra
Laat Hy jou lewe beheer.

2. (Spreuke 2:1-5)
Maak oop jou hart vir die raad van die Heer.
Luister en doen wat Hy vra.
So sal jy leer hoe om God reg te dien.
Só sal jy God kan leer ken.

3. (Spreuke3:3-4)
Moet nooit dat liefde en trou jou ontbreek;
leef elke dag daarmee saam.
So sal jy guns by die Here verkry;
dit sal jou lewe versier.

4. (Spreuke 3:5,7)
Moet nooit vertrou op jou insig alleen;
ken God in als wat jy doen.
My seun, dien die Heer en vermy alle kwaad.
Dan sal sy seën met jou wees.

5.  (Spreuke 3:8)
Dien en vereer God met als wat jy het,
gee van jou beste vir Hom.
My seun, so sal jy God se goedheid ervaar;
sal jy sy guns ondervind.

6. (Spreuke 4:23)
Waak oor jou hart en wat als daarin leef.
Dit gaan jou lewe bepaal.
My seun, dink tog mooi oor wat jy begeer.
Dit gaan jou lewe beheer.

7. (Spreuke 15:1)
Woorde wat sag is laat woede bedaar,
krenkende woorde maak kwaad.
Kies dan versigtig jou woorde, my kind;
dink tog eers mooi voor jy praat.

8. (Spreuke 16:3)
Raadpleeg die Here in als wat jy doen;
hou by sy raadsplan vir jou.
Hy sal jou voornemens so laat geluk
en jou sy vrede laat smaak.

9. (Spreuke 23:4)
Moet jou nie afsloof om ryk te wil wees;
rykdom kan so gou verdwyn.
Moet nooit jou sin vir wat reg is, verloor;
moet nooit dat geld jou beheer.

10. (Spreuke 20:1; 23:29-35)
Wyn maak ’n mens tog so dapper en slim,
drank laat jou slinger en val.
My seun, wees versigtig wat drank aan jou doen;
dit kan jou lewe verwoes.

11. (Spreuke 22:1 en 3)
Let op jou naam, dit is so baie werd,
veel meer as rykdom en roem.
Aan hul wat God dien en wat nederig leef,
gee God sy goedheid en guns.

12. (Spreuke 28:13)
Hy wat sy sonde vir God wil verberg,
hy sal niks goeds kan verwag.
Maar dié wat hul sonde bely en laat staan,
sal Sy genade ontvang.

13. (Spreuke 29:23 en 22:2)
Hoogmoed en trots kan jou bring tot ’n val;
need’righeid bring vir jou eer.
Voor God, die Heer, is ons almal gelyk,
Hy het ons almal gemaak.

14. (Spreuke 9:10, 4:9)
Wysheid begin met die dien van die Heer.
Dit het meer waarde as goud.
Hou vas aan dít wat die Here jou leer.
Dit sal jou lewe versier.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing
Carolyn Brown sê dat hierdie versameling kort gesegdes vandag tweets of kort klankopnames sou wees. Sy stel voor dat elke gesegde deur iemand anders gelees word. Kies ‘n variasie van ouer en jonger mense, volwassenes en kinders.
Spreuke 22:1-2, 8-9, 22-23

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Alexander, Who used to be Rich Last Sunday deur Judith Viorst is ‘n heerlike storie. Dit gaan nie oor die omsien na armes nie, maar help mense om na te dink oor hoe ons met geld werk. ‘n Mens kan die storie maklik verkort en ook aanpas vir ons konteks. Hier is die storie lekker hoorbaar, terwyl die prente op hierdie video oulik lyk.

Carolyn Brown stel voor dat ‘n mens net op een of twee van die gesegdes fokus. Sy stel vers 2 voor. Sy stel voor dat jy foto’s van ‘n ryk en arm kind wys en gesels oor die verskille tussen hulle. Sluit dan af met die gedagte dat hulle albei God se kinders is, dat God hul albei liefhet.

Preekriglyn

Spreuke vorm deel van die wysheidsliteratuur in die Bybel, saam met Job en Prediker. Die boek bevat poësie wat soos ander poëtiese boeke (Job en Hooglied) gelees kan word.

Spreuke is ‘n versameling geskrifte wat in alle waarskynlikheid meer as een outeur gehad het en uit verskillende tydperke dateer. Dit is nie so eenvoudig om te sê wanneer die Spreuke ontstaan het nie. Die vang universele waardes vas en is geskryf sonder verwysing na tyd en plek. Spreuke is geskryf om ander te onderrig. Daarvoor was die kernagtige formulering van lewenswysheid gepas.

‘n Goeie lewe

Die wysheid van Spreuke gaan oor hoe om ‘n goeie lewe te lei. Dit is wysheid wat van geslag tot geslag oorgelewer is. Hierdie wysheid, wat deur Israel se leermeesters versamel is, is gebaseer op ervaring en waarneming, eerder as op direkte openbaring. Dit wys ‘n mens hoe om voor God reg te lewe.

Die kern hiervan is die vers wat in Spreuke 1:9, 9:10 en 15:33 herhaal word. Die verskillende vertalings van vers 9 stel dit so:

  • “Die vrees van die Here is die beginsel van kennis” (1953-vertaling);
  • “Kennis begin met eerbied vir die Here” (Nuwe Lewende Vertaling);
  • “Kennis begin met die dien van die Here” (1983);
  • “Ontsag vir die Here is die begin van kennis” (2020-vertaling).
Om reg te lewe

Vir die skrywers, Israel se leermeesters, was kennis ‘n middel tot ‘n doel en nie ‘n doel opsigself nie. Daardie doel was om te leef volgens die orde wat God vir die mensdom en die skepping daargestel het. Spreuke is dus vol van voorbeelde en vergelykings wat uitdrukking aan hierdie wysheid en diens aan die Here gee. Hierdie ontsag vir die Here is ‘n duidelik morele denkwyse wat lewenswysheid vorm.

Die wysheid dat elkeen – ryk en arm – voor God gelyk is, was waarskynlik toe net so in konflik met die bestaande kultuur van die tyd as vandag. Vir die lesers was dit nodig om aan die wysheid herinner te word dat rykdom nie ‘n teken van die Here se seën of spesiale sorg is nie. Elkeen se status is voor God gelyk. In ‘n wêreld waar daar ‘n magsbalans ten gunste van die rykes was, moes hierdie gelykstelling voor God radikaal gewees het.

Die uitdeel van rykdom en om ‘n seën vir ander te wees, het ‘n lang tradisie waarvan die lesers bewus sou wees, byvoorbeeld in Genesis vir Abram en in Deuteronomium. Die wysheid oor hoe om geregtigheid aan die armes te laat geskied, sluit aan by soortgelyke voorskrifte in die profete (Amos 2:6-8; 5:10-12, 15; Jes. 10:1-2; Jer. 5:28; 22:3; Eseg. 22:29).

Armoede, rykdom en geregtigheid

Die verse waarop vandeesweek se teks fokus, laat die klem val op die tema van armoede en rykdom en sosiale en ekonomiese geregtigheid. Daar is vir God ‘n verband tussen rykdom en armoede en wysheid as eerbied vir God te ondersoek.

Die kerngedagte of dryfveer van die boek is: wysheid. Die begrip wysheid, die kern van die boek Spreuke, kan as aanvoeling vir en begrip van sosio-ekonomiese omstandighede en maatskaplike verhoudings verstaan word. Dit wil sê dat hierdie wysheid juis waak teen die soort eerbied vir God wat los van verhoudings met die naaste en die omgewing staan. Daaglikse sosiale praktyke en sisteme van geregtigheid is deel van die verhouding met God.

Teen hierdie agtergrond kan ons nou aan die verskillende verse uit ons tekskeuse aandag gee:

Spreuke 22:1-2

‘n Goeie naam of reputasie is meer werd as groot rykdom. Ander se goedgesindheid is meer werd as silwer en goud.
Vers 2 stel die fundamentele beginsel van die gelykheid voor God van alle mense, ryk en arm. Almal deel in dié status dat God hulle gemaak het. Interessant is dat Spreuke in die eerste frase sê: “rykes en armes ontmoet mekaar” wat beide beteken “rykes en armes het dít in gemeen” (dat die Here hulle gemaak het), en dat hulle gelykheid voor God die basis is waarop hulle in gemeenskap met mekaar kan tree. ‘n Mens kan nie die betekenis van hierdie beginsel oorskat nie!

Hierdie beginsel van gelykheid voor God word regdeur die Bybel gehandhaaf. Job verklaar sy status voor God as gelyk met sy slaaf – God het hulle albei gemaak – wat beteken dat Job sy slaaf – en trouens, armes, weduwees, wese, en alle behoeftiges, soos hy dit uitspel – met dieselfde respek hanteer as wat hyself op geregtig is (Job 31:13-22). Job verklaar dit ook in terme van politieke en sosiale status dat God nie vorste of vernames voortrek bó armes nie, want Hy het almal gemaak (Job 34:19).

Spreuke verklaar ook dat hy wat hom oor die behoeftige ontferm, God eer (Spr. 14:31). Jesus kan daarom verklaar dat God vir almal sorg, die goeies en die slegtes (Matt 5:45). Dit is waarom Spreuke ook kan sê dat ons niemand mag beledig nie (Spr. 17:5), en Jakobus dit in die Nuwe Testament kan eggo dat ons almal gelyk moet hanteer (Jak. 2:2-4). Maar, dié gelykheid voor God beteken nie dat Spreuke nie ook bewus is van die harde werklikheid van die relatiewe ongelykheid in die samelewing nie (Spr. 22:7).

Spreuke 22:8-9

Vers 8. Die 2020-vertaling vertaal hierdie teks treffend: Wie onreg saai, sal boosheid oes, en die lat van sy woedebui sal tot niet gaan. Die “lat van sy woedebui” dui op die straf wat hy uitdeel. Dit sal tot niks kom nie. Vers 9. Wie arm mense met ‘n “goeie oog” bejeën – d.w.s. mededeelsaam is deur hulle kos te gee – word geseën.

Spreuke 22:22-23

Ons word opgeroep om met deernis op te tree teenoor arm en hulpelose mense.

Deernis met arm en hulpelose mense is ‘n teken van wysheid, nie net omdat dit vir hulle iets beteken nie, maar omdat jy daarmee aan die kant van die Here gaan staan. God is op ‘n besondere manier die God van die armes en hulpeloses.

Suid-Afrika na Julie 2021

Die tonele toe winkels, besighede en fabrieke in Julie 2021 in KwaZulu Natal en Gauteng gestroop is, is nog vars in ons geheue. Dit was absolute dwase optrede en het groot verwoesting gesaai. By die skryf hiervan is die vermoede dat dit deels deur misdadigheid en politieke motiewe aangevuur is. Daar is mense wat met voertuie buite weggery het. Fyn berekende aanslae is op produksiefasiliteite geloods.

Dit het saamgeval met die Koning van staatskaping wat gearresteer is om tronkstraf uit te dien, ‘n man wat meer as die meeste ander by die armes gesteel het deur staatsbronne vir eie gewin in te palm. Suid-Afrika is prakties gesproke op ‘n skinkbord aan ‘n Indiese familie oorhandig.

Deel van die stroping was ook armes wat na lewensmiddele gegryp het. In die ekstreme ekonomiese ongelykheid wat ons samelewing kenmerk is daar mense wat hooploos in die spiraal van armoede vasgevang is. Vir hulle is gryp en stroop ‘n strooihalm na ‘n beter lewe. Dis glad nie wys nie, want as ons vandag gestroop het, kom ons more van honger om.

Hoe lyk wysheid?

Die vraag is hoe Christene hierop moet reageer, veral in die lig van ons teks. Dit is duidelik dat die wysheid wat ons teks van ons vra alles met ons land en die uitdagings van ons land te doen het.

Elke gelowige en elke gemeente moet diep hieroor nadink en met mekaar gesels oor die uitdaging wat hierdie teks en ons konteks vir ons inhou. Ons veral probeer om die kompleksiteit van ons situasie raak te sien. Waak teen eenvoudige, slagspreukagtige antwoorde. Kom ons noem ‘n paar aspekte van die boodskap van hierdie teks vir ons lewe.

God het nie witbroodjies nie

Ons is almal gelyk, want ons is na die beeld van God gemaak. Ons het almal – ryk of arm – waarde vir God. Ek kan my nie oor ander aanmatig nie, of van ander praat asof hulle minder mens as ek is nie. Ander is nie diere nie, maar mense vir wie Jesus Christus sy lewe gegee het.

Daarom doen gelowiges alles in hulle vermoë om die waardigheid en vooruitgang van ander mense te bevorder. Die ander kant van die munt is dat ek ander nie uitbuit om self vooruit te gaan nie.

Regverdige gedrag, wat ons teks vra, staan in teenstelling met dwaasheid en die benadeling van ander ter wille van eie gewin. Dit gee uitdrukking aan wysheid as gehoorsaamheid aan die opdragte van God, ter wille van ander. Dit is die tipe wysheid waarmee Jesus opgetree het en waarmee Hy die Wet geïnterpreteer het. Wysheid beteken selfopoffering en die prysgawe waarvan jy voordeel bo ander kan trek.

‘n Publieke teologie

Baie gelowiges het geloof geprivatiseer. Dit beteken ek dink geloof het net met my binnekamer en my geestelike lewe te doen. Ek dink trouens dis verkeerd om my geloof met die openbare lewe te verbind. Baie gelowiges dink geloof en politiek het niks met mekaar te doen nie.

Daarenteen loop die Bybel oor van God se wetgewing en wil vir die openbare lewe. God se wil reël die publieke lewe en het alles te sê oor hoe mense onder mekaar lewe.

Die kerk kan nie die publieke lewe prys gee nie. Gelowiges is geroep om publieke sout, suurdeeg en lig te wees. Ons moet hierdie teologie ontwikkel.

Strukturele regverdigheid

Die ekonomiese ongelykheid in Suid-Afrika het ‘n lang aanloop. Toe goud en diamante in die 19e eeu ontdek is, is daar staatgemaak op goedkoop arbeid om maksimum wins te verseker. Die ryk van die goud- en diamantvelde is gebou op goedkoop trekarbeid wat gesinsstrukture en sosiale strukture in bv. die ou Transkei onder geweldige druk geplaas het.

Die vooruitgang van sommige het die agteruitgang van ander meegebring.

In die demokratiese Suid-Afrika het elemente van die nuwe politieke elite doodgewoon voortgegaan om eie voorspoed bo die voorspoed en ontwikkeling van die hele nasie te stel. Die bronne van die staat, wat armes en agtergeblewenes moes help, is gekaap.

Hierdie soort onreg moet gebreek word. Christene moet hiervan bewus wees en die burgerregte wat ons het wel gebruik.

Ons stem eersdaags in plaaslike verkiesings. Dit is elke gelowige se verantwoordelikheid om voor die Here uit te maak wie verantwoordelike kandidate is en om te gaan stem. Ons moet ons apatie oorkom. Daar is baie gelowiges wat hul stemreg minag, omdat hulle dink niks gaan tog verander nie. Deur nie te gaan stem nie, skep jy geleentheid vir die korrupte en die gierige om die mag te bly inpalm.

Natuurlik het die kerk nie ‘n party-politieke voorkeur nie. Die kerk skryf nie voor vir watter party lidmate moet stem nie. Maar die kerk kan lidmate aanmoedig om met verantwoordelikheid te gaan stem.

Vennootskappe

Ons kan ook aktivistiese organisasies soos Defend our Democracy ondersteun. Dit is ‘n organisasie wat sê die burgerlike samelewing is die laaste bastion van ons demokrasie en ‘n beter lewe vir almal. Hoe reg dit is, het ons geïllustreer gesien toe die stropers winkelsentrums en geboue bestorm het, en gewone burgers dit beskerm het. Mense het hul eie gemeenskappe beveilig. Ons het meer van op-en-wakker burgers nodig wat ‘n streep in die sand trek teen die korruptes.

Ons teks sê hierdie soort aksies het alles met ons geloof te doen.

Vennootskappe is hiervoor noodsaaklik. Niks sal slaag as ‘n paar mensies dit op hulle eie wil doen nie. Ons moet oor alle soorte grense met mekaar saamstaan en saamwerk. Dit kom dikwels vir NG lidmate swaar, want ons wil baie keer eerder kritiseer en verduidelik waarom ander nie vir ons aanvaarbaar is nie. So skiet ons onsself in die voet.

Diakonaat

Gereformeerde kerke het deur die eeue groot waard aan diakonaat – georganiseerde gemeentelike en kerklike ondersteuning – geheg. Daarom is versorgingsaksies in gemeentes so belangrik.

Daarom is daar soveel gemeentes wat in die rampspoedige tyd waarin ons leef voedingsprojekte het en armes bystaan. Daar is gelowiges wat moeite doen om hul arbeiders ‘n behoorlike loon te betaal en seker te maak ander kan lewe. Families staan mekaar by en dra ander deur die lewe.

Maatskaplike werk en maatskaplike diensorganisasies is ook vir die kerk belangrik. Daarom ondersteun gemeentes jeugsentrums (kinderhuise), Christelike Maatskaplike Rade en Kerklike Maatskaplike Dienste. Ons gee om vir ons tuistes vir bejaardes.

Daar is soveel praktiese dinge wat ons kan doen.

So leef mense wat ons teks verstaan.

Ons verontskuldig nie, ons dien

Mens is so bewus van hoe hard jy moes werk om in die lewe te kom waar jy is. Dan is mens geneig om te dink andere wat minder as jy het, en swaarkry, wou nie werk nie en het nie hulle kant gebring nie. In jou eie gemoed kan jy by ander se nood verbykyk.

Ons het die gesindheid van die barmhartige Samaritaan nodig wat aangegryp was toe hy bestaansnood raakgesien het. Ons moet diep nadink oor wat ons effektief aan ander se nood kan doen.

Onthou: Ons word opgeroep om met deernis op te tree teenoor arm en hulpelose mense.

Deernis met arm en hulpelose mense is ‘n teken van wysheid, nie net omdat dit vir hulle iets beteken nie, maar omdat jy daarmee aan die kant van die Here gaan staan. God is op ‘n besondere manier die God van die armes en hulpeloses.

God stuur ons om te leef

Gebed
Liewe Here
Ons bring ons gebede vir al die nood in die wêreld om ons.
Ons, wat gesond is, bid vir die siekes.
Ons, wat geen pyn het nie, bid vir die wat ly
Ons, wat kan loop en staan waar ons wil, bid vir die wat aan ’n bed of in ’n huis vasgekluister is
Ons, wat kan praat, sien en hoor, bid vir hulle wat stom, blind of doof is.
Ons, wat helder kan dink, bid vir hulle wat verstandelik gestremd is.
Ons, wat die gebruik van al ons ledemate het, bid vir hulle wat liggaamlik gestremd is.
Ons, wat oorvloed het, bid vir armes.
Ons, wat genoeg het om te eet, bid vir die wat honger is.
Ons wat woon in huise, bid vir hulle wat leef op straat of in vlugtelingkampe.
Ons wat vry is, bid vir die gevangenes
Ons, wat in vrede lewe, bid vir hulle wat in oorlogsgebiede woon.
Namens hulle almal en vir die wat treur en eensaam is, vra ons: Here, wees genadig!
Ons wil U nie vandag vra om U te ontferm as ons self nie bereid is om ons te ontferm nie.
Daarom bid ons vir die bereidheid, die liefde en die middele om hierdie nood te kan verlig.
So lewe ons volgens u wil.
Amen.
(Aangepas van ‘n gebed deur J. Evers-Kruit, Uit “Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle”)

Dankoffer
Laat iemand oorsigtelik terugvoer gee van die Barmhartigheidsbedieninge waarby die gemeente betrokke is, asook dié wat die gemeente via Sinodale Dankoffers ondersteun.

Slotsang
Flam 451 Here, Hier’s My Lewe (Stuur My) of
VONKK 229 Wysheid Begin Met Die Dien Van Die Heer of
Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God”

Seën
V: Geseënd is dié wat nuwe maniere soek om hulle rykdom te deel.
G: So beleef ons God se geregtigheid.

V: Geseënd is dié wat nie vashou aan hulle eie mag, sekuriteit of aansien nie.
G: So deel ons God se geregtigheid.

V: Geseënd is dié wat weet dat wat hulle besit nie is wie hulle is nie.
G: So sien ons God se geregtigheid.

V: Geseënd is dié wie se linkerhande besig is met dinge wat die regterhand nie van weet nie.
G: So ontdek ons God se geregtigheid.

V: Geseënd is dié wat glo dat daar iets meer is as wat hulle in hierdie lewe toegedeel is, want hulle is reg.
G: So ontdek ons hoe onregverdig God se genade is.

V: Mag hierdie genade van God Drie-enig by julle wees, vandag en elke dag.
(Uit Bybel-Media se “Woord en Fees”)

Respons
Lied 471 refrein of
Lied 533 “Stuur ons, Heer”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.