Vyftiende Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Lees mens hierdie twee wonderwerke van Jesus twee of drie maal rustig deur, trek God se liefde vir die mens, by nadenke, jou rustig in die natuur en alledaagse (die skepping) in. Hondjies onder die tafel wat die kinders se krummels eet. Ons sien Jesus met sy vingers in ’n doofstom man se ore terwyl hy spoeg aan die man se tong smeer. Die teks uit Jesaja hou ons steeds op die aarde. Wanneer God kom om te verlos, sal die natuur veral voordeel trek. Psalm 146 besing steeds die verlossing en toon weer hoe God se skepping voordeel daaruit trek. In bykans dieselfde trant sê Jakobus dat liefde tot God en naaste beteken jou dade (kos en klere gee) moet dit bevestig. Hou vandag se erediens geheel of gedeeltelik in die buitelug om dié gevoel aan die gemeente bevestig.

Ander tekste

Jesaja 35:4-7a
God kom julle red
35Die woestyn, die dor land, sal jubel,
die droë wêreld sal juig,
oortrek met affodille;
2hy sal in volle bloei staan,
hy sal juig en sing,
hy sal die prag van die Libanon hê,
die skoonheid van Karmel en Saron.

Israel sal die mag van die Here sien,
die koninklike mag van ons God.
3Bemoedig dié wie se hande slap hang,
help dié wie se knieë knik,
4sê vir dié wat moed verloor het:
“Wees sterk, moenie bang wees nie,
julle God is hier,
Hy kom om wraak te neem,
om julle vyande te straf;
God kom julle red!”
5Blindes sal kan sien,
dowes sal kan hoor,
6lammes sal kan rondspring
soos takbokke,
stommes sal kan sing.
Strome water sal
uit die woestyn uit bars;
daar sal riviere loop
in die droë wêreld.
7Die verskroeide aarde
sal ’n moeras word,
dorsland waterryke wêreld.

Waar daar nou net vir jakkalse
lêplekke is,
sal gras en riet en biesies groei.
Psalm 146
Prys die Here!
Prys die Here!
Ek wil die Here prys.
2Ek wil die Here prys so lank ek lewe,
ek wil die lof van my God besing
so lank ek daar is.
3Moenie op magtiges vertrou nie,
nie op ’n mens nie;
hy kan jou nie red nie.
4Sy asem verlaat hom,
hy word weer grond
en sy planne is daarmee heen.
5Dit gaan goed met die mens
wat sy hulp van die God van Jakob
ontvang,
die mens wie se hoop gevestig is
op die Here, sy God.
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Jakobus 2:1-10, 14-17
Moenie volgens die uiterlike oordeel nie
2 My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2Sê nou daar kom in julle samekoms ’n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ’n brandarm man in met ou klere aan, 3en sê nou julle maak ’n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,”4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?

5Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? 6Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? 8As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. 9Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.

11God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog ’n oortreder van die hele wet. 12Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak. 13Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

Glo en doen
14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Fokusteks

Markus 7:24-37
Die Siro-Fenisiese vrou

(Matt 15:21–28)
24Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in ’n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie. 25’n Vrou wie se dogtertjie van ’n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval. 26Hierdie vrou was ’n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe. 27Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

28Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”
29Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”
30Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit.

Jesus genees ’n doofstom man
(Vgl Matt 15:29–31)
31Jesus is weer uit die gebied van Tirus weg en deur Sidon na die See van Galilea toe in die gebied van Dekapolis. 32Die mense bring toe ’n dowe man wat ook ’n spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê. 33Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. 34Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!” Dit beteken: Gaan oop!

35Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat. 36Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig. 37Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”

Ekstra stof

Jesus is intiem en intens betrokke by mense
Jesus is nog steeds besig om stilte te probeer opsoek, soos net te vore in Betsaida. Hier soek Hy dit in die noordoostelike gebied van Tirus, wat so 25 km van Kapernaum af begin het, die enigste keer dat hy die Joodse gebied heeltemal verlaat het. Interessant genoeg word die dissipels nie hier en in die volgende verhaal in Dekapolis eksplisiet genoem nie, hoewel Matteus dit wel doen.

Jesus gaan bly in ‘n “heidense” huis waarmee hy verder demonstreer dat Hy ernstig is oor die lering wat Hy oor rein/onrein gegee het. Nie net alle kos is rein nie, maar ook alle nasies! Vergelyk bv. Petrus se toespraak aan Kornelius waar hy verduidelik dat Jode nie in heidene se huise mag kom nie, ‘n idee wat hy eers laat vaar het op grond van die visioen wat God hom gegee het (Hand 10:28).

‘n Griekse vrou van Siro-Fenicië het egter gou van Hom te hore gekry en vra dat Hy ‘n bose (letterlik onrein!) gees uit haar dogtertjie dryf. Jesus wys eers haar versoek af met beeldspraak (heidene is honde genoem, maar Jesus versag dit na hondjies), maar dan troef sy Hom met haar eie beeldspraak. Let op hoe die tema van brood, wat al by Jaïrus se dogtertjie wat iets te ete moes kry na haar opwekking uit die dood, steeds die gedeeltes aan mekaar bind. Let ook op dat sy Jesus as Here aanspreek, wat ‘n ongelooflike belydenis in haar mond is.

Jesus genees dan haar dogtertjie op grond van wat sy gesê het (letterlik: op grond van hierdie logos), een van die min afstand-genesings, waarmee Jesus haar geloof en vertroue in Hom bedoel. Sy staan dus in sterk kontras met die onbegrip nie net van die skares nie, maar ook van die dissipels. En haar verhaal gee ‘n rasionaal aan die latere beweging van die kerk oor sosiale en godsdiens grense – soos Jesus, so ook die kerk.

Jesus keer hiervandaan af terug na Dekapolis, die gebied waar Legio verlos is. Volgens sommige geleerdes lyk dit asof Hy Galilea vermy deurdat Hy via Sidon reis (‘n mens wonder oor die rede?) terwyl ander geleerdes dink dat dit nie sin maak nie, en moontlik aan se Markus se gebrekkige kennis van die gebied noord van Israel toe te skryf is.

Hoe dit ook al sy, Jesus genees daar onder andere ‘n dowe man (waarskynlik nie doof gebore nie, anders sou hy heel moontlik glad nie kon praat nie), wat deur mense (vriende?) na Hom gebring is (vergelyk die verlamde man se storie – een kommentaar noem dit “intercessory faith”), deur Hom hande op te lê, sy vingers in sy ore te steek, Sy spoeg (sommige het gedink daar is genesende krag in spoeg) aan die man se tong te smeer en ‘n hemelwaartse sug te gee, in Hebreeus (sommige sê Aramees, hoewel die woord nêrens anders só in Aramees voorkom nie) Effata (gaan oop) uit te roep, en sy gebrek te genees (Jesaja 35:5-6 gaan hier in vervulling). Dit is ‘n baie intieme betrokkenheid van Jesus by die man, wat wys hoe intens Jesus by mense betrokke geraak het.

Die reaksie is ongelooflik: “Alles wat Hy doen, is goed,” heel moontlik voorberei deur die getuienis van Legio. Interessant genoeg word die man nie aangeraai om oral te getuig soos Legio nie, heel moontlik omdat Hy reeds oorbekend was en dit vir Hom moeilik gemaak het om in die openbaar op te tree, iets wat nie nodig was met sy eerste besoek aan die Dekapolis nie.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 158 “Bring my na U woning, Heer” of
VONKK 34 “O Christus, Here Jesus” of
Flam 192. “Die Koning Is Hier”

Votum: Ps 146:6-10
6Die Here het die hemel en die aarde
gemaak,
die see en alles daarin.
Hy bly vir altyd getrou,
7Hy laat reg geskied aan verdruktes
en gee brood aan dié wat honger ly.
Die Here bevry die gevangenes,
8die Here laat blindes sien,
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die Here het die regverdiges lief.
9Hy beskerm vreemdelinge
en help weeskinders en weduwees,
maar Hy versper die pad
vir die goddeloses.
10Die Here regeer vir altyd
Sion, jou God regeer
van geslag tot geslag.
Prys die Here!

Seëngroet

Lofsang
Psalm 146 of
Vonkk 64 “Prys Die Heer Met Blye Galme (Psalm 146)” of
Flam 23. “Prys Die Here”

Wet: Jakobus 2:1-12
My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2Sê nou daar kom in julle samekoms ’n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ’n brandarm man in met ou klere aan, 3en sê nou julle maak ’n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,”4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?

5Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? 6Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? 8As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. 9Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie. 11God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog ’n oortreder van die hele wet. 12Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak. 13Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

Skuldbelydenis
Lied 232 vers 1 “Diep, o God, diep neergeboë” of
VONKK 11 “Here, Wees Ons Genadig” of
Flam 225. “Heer Ek wil U Aanbid”

Vermaning: Jakobus 2:14-17
14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ’n geloof ’n mens red? 15Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Genadeverkondiging & Toewyding
Lied 232 vers 2 of
VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes” of
Flam 36. “Ek Kom Na U Toe”

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 34 “O Christus, Here Jesus”
Teks: O Christe Domine Jesu – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe VONKK-werkgroep 2008
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Gebed

O Christus, Here Jesus,
o Christus, Here Jesus!
O Christe Domine Jesu,
o Christe Domine Jesu!

VONKK 64 “Prys Die Heer Met Blye Galme (Psalm 146)”
Teks: Psalm 146 — JD du Toit 1937
Melodie: Liederwysie – opgeteken deur Chris Lamprecht by mnr JCH Lagrange, Rustenburg in 1953
© Teks en melodie: openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Lof

1. Prys die Heer met blye galme,
o my siel, daar’s ryke stof!
‘k Sal solank ek leef my psalme
vrolik toewy aan sy lof
en Hom, wat sy guns my bied,
altyd groot maak in my lied.
Halleluja! Halleluja! —
want so behaag dit die Heer.
Halleluja! Halleluja! Halleluja! —
want so behaag’t die Heer.
Halleluja!

2. Dis die God der leërmagte,
troue Bondsgod van weleer,
God van wordende geslagte,
tot in ewigheid die Heer.
Sion, sing dié God ter eer,
prys sy grootheid, loof die Heer!
Halleluja! Halleluja! —
want so behaag dit die Heer.
Halleluja! Halleluja! Halleluja! —
want so behaag’t die Heer.
Halleluja!

VONKK 11 “Here, Wees Ons Genadig” 
Teks: Jannie Hougaard 2003 © nav Kyrie eleison
Melodie: MINKIE-ANNE — Jannie Hougaard © en Francé Ludik © 2003
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief — Skuldbelydenis

Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig.
Here, wees ons genadig,
wees ons genadig.

Kyrie eleison.
Kyrie eleison.
Kyrie eleison, eleison.

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes” 
1 Petrus 2:24
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: JOANIE — Francé Ludik 2003 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis / Nagmaal / Lydenstyd

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.

VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde”
Teks: AP van der Colf 1988 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Melodie: In Dir ist Freude – Giovanni Giacomo Gastoldi 1591
Orrelbegeleiding: H Pieter van der Westhuizen 2001 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en orrelbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing / Kersfees en Epifanie

1. Jesus bring vreugde, redding en vreugde –
Hy het mens vir ons geword.
Engele juig dit, herders getuig dit:
“Jesus, Redder, Seun van God!”
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.
Wyd oor die aarde kring sy behae;
Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe.
Hy maak ons, mense, kinders van God.

2. Jesus bring vrede, hemelse vrede:
Al ons skuld het Hy versoen.
Nie meer verlore – wedergebore
deur sy Gees wat wonders doen.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.
Vry kan ons nader tot God die Vader:
Niks kan ons skei nie, niks wat ons ly nie.
Hy is ons vrede – vrede wat bly.

3. Heer, U bring vryheid, Heer, U bring blyheid,
U wat mens word in ons nag.
Heerlike gawes gee U weldadig,
God van Liefde, God van mag.
Ewige Koning, ons is u woning;
Hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.
Ewige Koning, ons is u woning;
hemel en aarde kry nuwe waarde.
U is die Here, U maak ons vry.

Flam 192. “Die Koning Is Hier”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toetrede / Advent en Epifanie)
Teks en Musiek: Stass
© 2008 MAR Gospel Music Publishers

1. Ons sing hosanna, hosanna in die hoogste
Ons sing hosanna want die Koning het gekom
En Hy is hier vir ons
Ons sing hosanna want God het ingetree
Ons sing hosanna Hy’t sy lewe kom gee
Hy is hier vir ons

Refrein:
Die Koning is hier
Die Koning is hier
Here Jesus U is die Koning van my lewe
Die Koning is hier
Die Koning is hier
Here Jesus U is die Koning van my hart

2. Ons sing halleluja want God is op die troon
Ons sing halleluja want die dood het verloor
By die kruis van Jesus
Ons sing halleluja want die lig het gekom
Ons sing halleluja daar’s lewe deur Hom
Hy’t gekom vir jou en my

Refrein:

Flam 36. “Ek Kom Na U Toe”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verootmoediging / Toewyding / Votum)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek kom na U toe, Heer.
Wees by my,
neem weg my onrus;
laat u stilte bly.
Ek’s aan U voete, Heer.
Ontvang my weer,
sien my hart en weet
dat ek begeer:

Refrein:
Om weer naby U te wees!
Wys weer u liefde deur u Gees.
Maak my meer van U bewus.
Vul my met verwondering, Heer.
Wys my wie U is.

2. Ek kom na U toe, Heer.
Maak my stil,
kom en doen in my
net wat U wil.
Ek wil myself vergeet,
op U bly wag.
Maak my leeg en vul
my met u krag.

Refrein:

Flam 167. “Wees Bly” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Diens en Getuienis / Wegsending)
Oorspronklike titel: Rejoice!
Teks en Musiek: Graham Kendrick
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© 1983 Kingsway’s Thankyou Music

Refrein:
Wees bly, want Hy, Koning Jesus,
die Hoop, die Vrede, woon in ons!
Hy leef! Hy leef! Sy Gees is in ons!
Staan op! Staan op! Gemeente, juig: Hy regeer !

1. Die tyd het aangebreek, bou aan Sy Koninkryk.
Die oes is groot, maar die arbeiders is min.
Hy kom in majesteit, bring die oorwinning in die stryd
Almal moet sien dat Hy regeer!

2. Jesus werk in ons, Hy volvoer deur ons sy plan.
Hy bou sy ryk, nie van woorde maar van krag!
Selfs die onmoontlike, dit doen Hy met sy wondermag
Almal moet sien Hy is die Heer

3. Al is ons swak, deur sy genade is ons sterk
Ons is soos klei, en Hy vorm ons na sy beeld
Juis as ons swak is, weet ons sy Naam word deur ons geëer
Dan sien die wêreld Hy is Heer!

Flam 225. “Heer Ek wil U Aanbid”
(RUBRIEK: Flammikidz – Gebed)
Oorspronklike titel: Heer, ik wil U aanbidden
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht
© 2001 Celmar Music

Refrein:
Heer, ek wil U aanbid in
alles wat ek doen
nie alleen met woorde
of deur te sing, maar U te dien.
Heer, ek wil U verheerlik
eerlik en opreg
diep vanuit my hart
want my hart is wat U sien.
Mense sien die buitekant
maar U kyk regdeur my
U sien waarom ek dinge doen
en of ek anders bedoel daarby

Refrein:
Leer my om deur alles heen,
deur blydskap, pyn en vrees,
te lewe soos wat U dit wil
om (so) ‘n kind na u hart te wees.

Refrein:

Flam 23. “Prys Die Here”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994 Brettian Productions
(Opgeneem op Lentereën – Willie Joubert)
(Psalm 148)

1. Prys die Here vanuit die hemele;
prys die Here alle engele;
prys Hom son en maan,
prys Hom alle sterre!
Prys die Here en sy grote Naam!

2. Prys die Here van die aarde af,
uit die see en van die berge af.
Prys Hom bome, diere, plante en riviere.
Prys die Here en sy grote Naam!

3. Prys die Here alle volke saam;
mans en vroue, prys die Heer se Naam.
Prys Hom konings, vorste, oud en jonk tesame.
Prys die Here en sy grote Naam!

4. U’s my Here en ek prys U Naam;
U’s verhewe, hoor my loflied aan.
Heer, U majesteit strek oor aard’ en hemel;
U’s my Here, en ek prys U Naam!
U’s my Here, en ek prys U Naam!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Markus 7:24-37

Familie-oomblik

Die verhaal van die Siro-Fenisiese vrou is moeilik vir kinders om te begryp. Die genesing van die doofstom man is baie meer toeganklik. Vertel gewoon die verhaal dramaties oor. Dalk kan die kinders dit opvoer terwyl jy dit vertel.

Dit is miskien ’n goeie geleentheid om kinders bloot te stel aan gehoorgestremdes of vir hulle gebaretaal aan te leer. Kry inligting hier. Wys vir die kinders ‘n kopie van “Die Bybel vir Almal” – voorheen “Die Bybel vir Dowes”. Hierdie Afrikaanse Bybel is die eerste Bybel in Suid-Afrika wat spesiaal vir Dowes vertaal is, en slegs die tweede Bybel in die wêreld spesiaal vir hierdie groep. As jy iemand kan kry wat gebaretaal ken, kan julle die gebare van een van die kinders se gunsteling liedjies aanleer en dit in die toekoms met gebare sing.

Of vertel die verhaal van Helen Keller.

‘n Pret opsie, wat aansluit by die inleiding van die preek, is om te gesels oor die fliek “Finding Nemo”. (Gebruik ‘n gratis FLV-converter program om die fliek se voorskou af te laai.) Vertel die storie en sluit jou vertelling aan by die volgende punte:

  • Marlin was baie lief vir Nemo – net soos wat God baie lief is vir ons.
  • Maar Nemo is ongehoorsaam en sy ongehoorsaamheid neem hom weg van sy pa. Net so maak ons sonde dat ons ver is van God af.
  • Nemo kon homself nie red nie. Dit was die spesiale liefde van sy pa wat hom gaan haal het, wat hom red.
  • Nemo neem ‘n stap van geloof. Wanneer hy hoor sy pa soek hom, sorg hy dat hy in die see kom. God het ons lief en het vir Jesus gestuur om ons te kom haal. Ons aanvaar dit in geloof.

Preekriglyn

“Ek het oor inkarnasie en teenwoordigheid geleer toe ek ‘n soutwater akwarium gehad het,” skryf Philip Yancey in The Jesus I never knew. “Ek het ontdek dis nie maklik om so ‘n akwarium te versorg nie. Ek moes ‘n draagbare chemiese laboratorium aanhou om die vlakke van nitrate en ammoniak in die water te moniteer. Ek het gedurig vitamiene, ander chemiese middel en ensieme in die water gegooi – genoeg om ‘n rots te laat groei. Die water moes deur glasvesel en koolstof gefiltreer word, en aan ultravioletlig blootgestel word.”

“In die lig van al my moeite sou mens dink my visse sal ten minste dankbaar wees. O, nee! Elke keer wanneer ek nader aan die tenk kom, duik hulle vir die naaste klip, skulp of ander skuiling. Hulle het net een reaksie op my teenwoordigheid gehad: vrees.

“Hoewel ek die tenk se deksel gereeld opgelig en kos ingegooi het – ten minste drie keer ‘n dag – het die visse elke keer reageer asof ek gekom het om hulle seer te maak. Ek kon hulle nooit oortuig van my versorging en omgee nie. Vir my visse was ek goddelik. Ek was te groot vir hulle, my optrede te onverstaanbaar. My dade van genade het hulle as potensiële wreedheid gesien, my pogings om hulle te genees, of gesond te hou, as vernietiging.

“Ek het stadig begin besef: om hulle vrees vir, en persepsies van, my te verander sou ‘n vorm van inkarnasie vereis. Ek sou ‘n vis moes word en met hulle praat in ‘n taal wat hulle kon verstaan.”

Om naby te kom

Ons leer die Goddelike Familie van Vader, Seun en Heilige Gees primêr ken deur God wat tot by ons gekom het. God het een van ons geword. In die God-mens Jesus, ware God, maar ook ware mens, het God – in Yancy se taal – figuurlik “vis” geword. Dis wat die woord inkarnasie beteken. God word mens. God steek die grens na ons oor. God word een van ons. God kom onder ons woon.

Geen betroubare kennis van God is moontlik sonder om die vleesgeworde Woord as die hoogtepunt, of dieptepunt, van ons Godskennis te neem nie. Jesus is die openbaring van God. Jesus se woorde én dade is die bekendstelling van God. Daarom is Jesus die Woord van God. Ons lees die Bybel omdat dit ons bekendstel aan Jesus. En deur die bril van Jesus, die hoogtepunt van God se openbaring, lees en interpreteer ons die res van die Skrif.

Ons ken God, omdat God naby ons gekom het, een van ons geword het. Inkarnasie.

Rooiletter Christene?

Dit klink dalk vanselfsprekend, maar dit is nie. In ons tradisie is ons geneig om baie waarde aan die woorde van Jesus te heg. Ons neem Jesus se lering ernstig op. Die gelykenisse boei ons, die bergrede inspireer ons en word ons gids tot dissipelskap.

Natuurlik is Jesus se woorde onvervangbaar belangrik. Daarom is daar uitgawes van die Bybel wat Jesus se direkte woorde in rooi letters druk. Dit lig sy woorde uit.

Daar ontstaan ‘n krisis as ons bloot fokus op Jesus se woorde. Jesus se dade, sy optrede, sy lewenstyl is net so ‘n wesenlike deel van God se openbaring aan ons. Ons durf dit nie ignoreer nie. Ook in Jesus se dade sien ons die gesig en diepste bedoelinge van God.

In ons teksgedeelte is dit krities belangrik om God te leer ken in wat Jesus doen.

Tussen onrein mense – Toneel 1
In Markus 7 ontmoet ons Jesus – figuurlik – buite die gemeente se grense. Hy is in die heidense gebied van Sidon. Dit is nie-Joodse gebied. Dit is – vir Jode – onrein omgewing.

Ons het verlede Sondag aan die onmiddellik voorafgaande gedeelte aandag gegee waar Jesus in ‘n indringende gesprek oor onreinheid deelneem. Jesus bevraagteken die Joodse opvatting dat mens onrein word oor die dinge waaraan jy vat, en weens ‘n gesprek aan reinheidsrituele. Jesus verduidelik dat onreinheid van binne kom, dat alle mense reiniging nodig het, en berei sy dissipels voor om aan alle mense te dink as voorwerpe van God se reinigende liefde.

In ons teks doen Jesus presies dit. Hy steek die grens na onrein mense oor. Hy gaan na Sidon toe om te rus. Tog bly hy nie ongemerk nie. ‘n Griekse vrou wat in Siro-Fenisië gebore is, sien hom raak. Sy moes iets van Jesus se genesingswonders gehoor het, want sy praat met Hom oor haar dogter in wie ‘n onrein (!) gees woon. Sy wil hê Hy moet die gees uitdryf.

In sy antwoord verduidelik Jesus Hy is op hierdie stadium van sy bediening op die Jode gefokus. Hy gebruik die beeld van kinders aan tafel wat kos ontvang. Dit is die Jode wat op hierdie stadium bedien word. Eers later sou die opdrag kom wat die evangelie as woord en daad wyer sou stuur. Op hierdie stadium is dit nie mooi om die kinders (Jode) se kos te vat en vir die hondjies (heidene, nie-Jode) te gooi nie.

Die vrou is nie gereed om nee vir ‘n antwoord te vat nie. Sy vra vir krummels. “Die hondjies eet darem die kindertjies se oorskiet.” Daarmee oortuig sy Jesus, en verander Hy van mening. Die vrou kan maar huis toe gaan. Haar dogter is genees.

Tussen onrein mense – Toneel 2
In die tweede bedryf van ons teksgedeelte is Jesus in die heidense gebied van die Tien Stede (Dekapolis). Dit is hier waar Hy vroeër die baie bose geeste uit Legio, die besete van Gerasa (Mark. 5) gedryf het. Hier het hy aan Legio opdrag gee om oral te gaan vertel alles wat die Here vir hom gedoen het: “Gaan na jou huis, na jou mense toe, en gaan vertel vir hulle wat die Here alles vir jou gedoen het en dat Hy jou jammer gekry het.” (Mark. 5:19).

Legio het presies dit gedoen. Hy het almal gaan vertel. In Markus 6 maak Jesus weer ‘n draai in die landstreek Gennesaret, die mense herken hom, en genees weer ‘n klomp mense.

Onmiddellik hierna plaas Markus die gesprek (hfs. 7) oor rein en onrein (waaroor ons verlede week in die erediens nagedink het).

In Toneel 2 van ons teksgedeelte is Jesus weer terug in die gebied van die Dekapolis. Dekapolis (letterlik: Tien Stede) was destyds ‘n provinsie van Palestina, maar was ‘n heidense gebied, hoofsaaklik aan die oorkant van die Jordaan. Die landstreek Gennesaret was binne hierdie provinsie geleë.

Die mense bring tydens hierdie besoek ‘n dowe man met ‘n spraakgebrek na Jesus. In ‘n aangrypende toneel word beskryf hoe Jesus die man eenkant toe neem. Die eenvolume kommentaar, die Bybellenium, gee goeie agtergrond oor wat nou gebeur (1999:1211): Jesus steek sy vingers in die man ore (dis waar die probleem gelê het), smeer spoeg aan sy tong (van speeksel is geglo dat dit genesende krag het), kyk op na die hemel (om sy afhanklikheid van God aan te toon), sug (dit is ‘n vorm van gebed, ‘n versugting – Rom. 8:22-27), en sê dan ‘n enkele gesagvolle woord in Aramees (Jesus se moedertaal: “Effata!” (gaan oop). Die man se ore gaan oop, die belemmering van sy spraak verdwyn, en hy het reg gepraat.

Anders as in “rein” Israel word Jesus en sy dade hier goed ontvang. Die “onrein” mense sê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”

In die volgende paragraaf in Markus word dan vertel hoedat Jesus die tweede keer brood vermeerder, hierdie keer in heidense gebied.

Oor die detail: wie is genees?

In hierdie twee tonele word mense genees wat hulle nie in die hoogste gestoeltes van die samelewing bevind het nie. Dit gaan oor ‘n siek kind en ‘n doofstom man. Dit is mense wat nie die koerantberigte van die dag (as daar so iets was) sou haal nie.

In albei gevalle tree mense vir hierdie gebrokenes in. ‘n Moedige vrou en moeder tree in gesprek met Jesus, ‘n vreemde man. Sy doen moedige oortuigingswerk. Heidene bring ‘n gestremde man na Jesus.

In Bybel-Media se preekriglyne (2011) oor hierdie teks word gesê:

Doofstom mense het dikwels in Israel nie gewone menseregte gehad nie, aangesien rabbi’s nie kon bepaal hoeveel hulle kon verstaan van wat aangaan nie. Hulle is dus saam met verstandelik gestremdes gekategoriseer en is daarby dikwels gesien as mense wat deur God gestraf of vervloek is. In heidense omgewings sou soortgelyke perspektiewe (en erger) heel waarskynlik bestaan het (John McArthur). Jesus bring weereens genesing en bevryding vir hierdie man aan die buiterand van die samelewing.

In beide gevalle word die onbeduidende mense dan genees. Hierdie genesings toon aan dat Jesus waarlik die beloofde Messias is. Soos in Jesaja 35:5-6 beskryf, is die genesing van siekes juis een van die dinge wat die ware Messias van God sou doen.

Die mense se reaksie toon dat hulle begin verstaan dat die koninkryk van God inderdaad in Jesus naby gekom het.

God se hart

Met hierdie bedieningspraktyk openbaar Jesus God se hart. God kom tot by mense. God bring genesing en geregtigheid. God se genesende geregtigheid bring vir mense lewensruimte en lewensmoontlikhede.

Om die God van Christus te herken

Dit is opvallend hoe beide die Siro-Fenisiese vrou en die mense van Dekapolis Jesus herken, op hulle manier. Die vrou het van Jesus gehoor, en het ‘n verwagting van Hom. Sy herken Hom met die kennis tot haar beskikking. Die mense van die Dekapolis het, onder andere deur Legio, van Jesus gehoor en bring siekes na Hom. Op hierdie manier neem al hierdie mense deel aan God se sending om genesing, herstel en lewensmoontlikhede na mense te bring.

In die volgende hoofstuk, Markus 8, loop hierdie herkenning uit op ‘n hoogtepunt wanneer Petrus bely: “U is die Christus!” (8:29).

In kontras hiermee, herken die Joodse godsdienstige leiers Jesus glad nie. Hulle is verblind. Jesus voldoen nie aan hulle beeld van die verwagte Messias nie. Hulle godsdienstige verstaan is deur hulle mensgemaakte reëls gevorm. Jesus verbreek hulle reëls om aan te toon waaroor die koninkryk van God eintlik gaan en om God se hart vir mense te openbaar.

Die Jode wil nie visse word en in Philip Yancy se vistenk induik nie. Hulle het nie Genesis 12:1-3 goed gelees waar gesê word die Here seën Israel om tot ‘n seën vir die nasies te wees nie. Hulle herken nie seën wanneer hulle dit sien nie, en hulle hou die nasies waarheen hulle gestuur word op ‘n afstand met hulle reinheidsreëls.

Verblinding

Die effek van sonde is nie bloot maar dat dit ons moreel-verkeerde goed laat doen nie. Sonde verblind ons, dit neem ons kapasiteit weg om God te herken.

Daarom moet ons versigtig wees om die Skrifgeleerdes en die Fariseërs te vinnig te veroordeel. Die meer skrikwekkende vraag is of ons nie self ook – soos hulle – verblind kan wees nie. Die vraag is of ons God se openbaring in die handelinge van die opgestane Here Jesus herken wanneer ons dit sien?

Is ons oë en ons ore oop om God vandag raak te sien wanneer God deur die opgestane Here Jesus en deur die Gees van Christus handel?

Wie God steeds is

Die Bybel is soos ‘n bril wat ons opsit. Ons kyk deur hierdie bril na die wêreld om dinge raak te sien wat ons andersins nie sou kon sien nie.

Die Bybel nooi ons uit om raak te sien dat die lewende God vandag steeds op ‘n missie in die wêreld is. God is nie ver nie. God is nie weg nie. Ons wêreld word nie maar beheer deur blote wetmatighede wat God in werking gestel het nie. Ons wêreld is nie bloot ‘n klok wat opgewen is en nou volgens reëls tik nie.

Die God van die Bybel, die God van Christus, die God wat in Christus die Gees oor die skepping uitgegiet het, is die lewende, verhoudingsmatige liefdesgemeenskap van Vader, Seun en Heilige Gees, wat steeds aktief betrokke is. Ons wêreld bestaan, omdat God dit van oomblik tot oomblik wil en ondersteun. God is die Bron van ons lewe. Die wêreld word steeds volgens God se plan onderhou en genees van die stukkend wat dit getref het. God is steeds die Wysheid wat ons lewens rig. God is die Krag wat lewe gee.

Ons planne en God se plan

Die vraag is of ons God se werke herken en daarby aansluit? Ons lewens daarvoor gee?

Die kritiese vraag is of baie gemeentes se “game plan” nie te doen het met die voortbestaan van die gemeente nie. Die gemeente kom in die sentrum, nie God nie. Ons sien naderhand net gemeente en beleef ‘n Godsverduistering.

Elke gemeente en elke gelowige moet weer nadink oor jou Godsverstaan. Wat dink jy vra die Here van jou? Waar is God in aksie? Waar nooi Hy jou om by sy werk aan te sluit? Vir watter siek kind, of dowe man met ‘n spraakgebrek gaan jy by die Here intree? Pleit? Met God redeneer (soos die Siro-Fenisiese vrou)? Wie gaan jy vandag na die Here bring?

God stuur ons om te leef

Gebed
Vandag is Leprosesondag. Jy kan hiermee aansluit by die preek.

Dankoffer

Slotsang
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde” of
VONKK 124 “Jesus Bring Vreugde” of
Flam 167. “Wees Bly”

Seën

Respons

Lied 189 “Halleluja”
Vonkk 88 “Amen”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.