Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Preekstudie – Spreuke 22:1-2, 8-9, 22-23

Teks

Die basiese indeling van die boek is soos volg: Spreuke 1-9 is die voorrede, bestaande uit kort gedigte wat veral beloning en straf in die omskrywing van ’n lewe van wysheid voorhou. Saam met Spreuke 30-31 is dit waarskynlik ná die Babiloniese ballingskap saamgestel.

Spreuke 10:1 tot 22:16 vorm as die eerste versameling van die Spreuke van Salomo ’n geheel. Hoofstuk 22 is ’n brug tussen twee hoofdele van die boek. Hoofstuk 22:17 tot 24:34 vorm ’n verdere geheel. Die “woorde van wyse mense” (22:17) vertoon parallelle met die Egiptiese Instruksies van Amenémope. Dit dateer vermoedelik uit die tyd van koning Josia (2 Kon 22:1-23:30).

Spreuke 25-29 is die tweede versameling van Spreuke van Salomo. Spreuke 30-31 is die nawoord.

Aangesien Spreuke as afsonderlike wyshede geskryf is en die verse nie noodwendig op mekaar bou of by ’n vorige vers aansluit nie, kan hulle individueel gelees en hanteer word. Dit beteken egter nie dat daar nie groeperings moontlik is of gemeenskaplike temas nie. Die teksgedeeltes vir hierdie Sondag dui duidelik op ’n gemeenskaplikheid wanneer dit by wysheid oor rykes en armes kom.

Vers 1 vergelyk aansien en reputasie met rykdom. Die skrywer gee voorkeur aan verhoudings met ander mense bó rykdom. Hierdie prioriteit bepaal hoe armes hanteer word. Die wysheid is dat daar meer waarde in “’n goeie naam” lê – ’n eerbare karakter – as in rykdom. Karakter word deur ander se goedgunstigheid teenoor jou getoon, eerder as in die versameling van silwer en goud. Hierdie “goeie naam” kan nie gekoop word nie, maar is ’n getuienis van eerlikheid, integriteit en verantwoordelikheid. Dit is meer werd as aardse rykdom.

Vers 2 maak aanspraak op die verhouding met God. Dit bevestig die gelykwaardigheid van alle mense en gevolglik die gemeenskaplikheid van rykdom. Die Hebreeuse werkwoord pagash kan as ’n ontmoeting tussen ryk en arm en as gelykes met mekaar vertaal word, maar ook as ’n ontmoeting voor God. Om voor God te ontmoet, is om as sy skepsels op gelyke voet met mekaar gestel te wees. Elkeen is na God se beeld geskep. Dit relativeer die onderskeid tussen die sogenaamde rykes en armes. Wanneer ryk en arm saamkom, vir aanbidding of maar net om gemeensaam saam te leef, is elkeen gelyk voor God. Indien vers 2 met vers 1 vergelyk word, word die verskil duidelik tussen hoe God sonder voorwaardes mense as gelykwaardig beskou, teenoor mense wat mekaar ooreenkomstig hulle rykdom en besittings beoordeel. Vir rykes is dit ’n oproep tot nederigheid, vir armes ’n boodskap van hoop.

Vers 8-9. Vers 7 sou ook by hierdie gedeelte ingesluit kon word (“die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen”). Die waardes van die ryke in vers 7 is deel van die “onreg” waarna in vers 8 verwys word.

Die beginsel dat jy maai wat jy saai, is hier duidelik. Dit is algemeen in Spreuke dat die tema van vergelding beklemtoon word. Hierdie vergelding is die natuurlike gevolg van ’n persoon se dade, aangesien daar ’n vasgestelde orde in die wêreld heers.

Die seëning wat ontvang word, het egter niks met ’n tipe voorspoedsteologie te doen nie. Die onderliggende teologie is een waar seën en rykdom in die daad van mededeelsaamheid lê. Die persoon wat geregtigheid van mense weerhou deur armes uit te buit, sal teenspoed ervaar. Die een wat mededeelsaam is, gaan selfs verder as om net gelyke reg te laat geskied. Vir so iemand is daar herstellende geregtigheid wat daarna streef om die onreg van armoede te herstel. Op sy beurt is dit weer ’n troos vir hulle wat onder ongeregtigheid gebuk gaan sowel as ’n vermaning vir elkeen wat ongeregtigheid onderhou of skep.

In vers 9 word die mededeelsame persoon geprys en seën vir belowe. Dit is in teenstelling met die koning in vers 8. Dit is opvallend dat hier van mededeelsaamheid gepraat word (as ’n daad van deel), eerder as ’n skenking of blote gawe. Dit is dus ’n verering van die een wat dit reg kry om met ander te deel, eerder as om rykdom weg te gee of te skenk. Dit het implikasies vir die beskouing van eienaarskap en vir die verhoudings waarvan hierdie tipe gemeenskaplikheid afhanklik is.

Vers 22-23. Vers 22 vermaan daarteen om armes te beroof of om van hulle iets af weg te neem en om voordeel uit die armes te trek, juis omdat hulle magteloos en arm is. Die 1983-vertaling om “die hulpelose” te “vertrap in die regspraak”, maak dit duidelik dat sisteme van die reg nie noodwendig vir elkeen geregtigheid bring nie en vir eie gewin ten koste van ander misbruik kan word. In vers 23 is God die regter wat teen diegene optree wat armes onregverdig behandel. God sal optree teen dié wat weerloses uitbuit.

Verse 22 en 23 is ’n voorbeeld van parallelisme, ’n algemene verskynsel wat in verskillende vorms in Spreuke voorkom. In hierdie geval verklaar die tweede gedeelte die rede vir die eerste stelling. Die teks is gerig op die verantwoordelikheid van dié wat “ryk” is. Veral vers 22 gee opdrag aan die rykes oor hoe om dié wat arm is te hanteer. Die regspraak waarvan hier sprake is, verwys na sistemiese geregtigheid.

Konteks

Spreuke vorm deel van die wysheidsliteratuur in die Bybel, saam met Job en Prediker (sowel as die apokriewe boeke, die Wysheid van Ben Sirag en die Wysheid van Salomo). Die boek bevat poësie wat soos ander poëtiese boeke (Job en Hooglied) gelees kan word.

Spreuke is ’n versameling geskrifte wat in alle waarskynlikheid meer as een outeur gehad het en uit verskillende tydperke dateer. Aangesien daar min verwysings na historiese persone of gebeure is, is die datering daarvan nie eenvoudig nie. Die skrywers het probeer om universele waardes vas te vang en geskryf sonder verwysing na tyd en plek. Spreuke is geskryf om ander te onderrig. Daarvoor was die kernagtige formulering van lewenswysheid gepas.

Die wysheid van Spreuke gaan oor hoe om ’n goeie lewe te lei. Dit is wysheid wat van geslag tot geslag oorgelewer is. Hierdie wysheid, wat deur Israel se leermeesters versamel is, is gebaseer op ervaring en waarneming, eerder as op direkte openbaring. Dit wys ’n mens hoe om voor God reg te lewe. Die kern hiervan is die vers wat in Spreuke 1:9, 9:10 en 15:33 herhaal word. Die verskillende vertalings van vers 9 stel dit so: “Die vrees van die Here is die beginsel van kennis” (1953-vertaling); “Kennis begin met eerbied vir die Here” (Nuwe Lewende Vertaling); “Kennis begin met die dien van die Here” (1983); “Ontsag vir die Here is die begin van kennis” (2020-vertaling).

Vir die skrywers, Israel se leermeesters, was kennis ’n middel tot ’n doel en nie ’n doel opsigself nie. Daardie doel was om te leef volgens die orde wat God vir die mensdom en die skepping daargestel het. Spreuke is dus vol van analogieë en vergelykings wat uitdrukking aan hierdie wysheid en diens aan die Here gee. Hierdie ontsag vir die Here is ’n duidelik morele denkwyse wat lewenswysheid vorm.

Die wysheid dat elkeen – ryk en arm – voor God gelyk is, was waarskynlik toe net so in konflik met die bestaande kultuur van die tyd as vandag. Vir die lesers was dit nodig om aan die wysheid herinner te word dat rykdom nie ’n teken van die Here se seën of spesiale sorg is nie. Elkeen se status is voor God gelyk. In ’n wêreld waar daar ’n magsbalans ten gunste van die rykes was, moes hierdie gelykstelling voor God radikaal gewees het.

Die uitdeel van rykdom en om ’n seën vir ander te wees, het ’n lang tradisie waarvan die lesers bewus sou wees, byvoorbeeld in Genesis vir Abram en in Deuteronomium. Die wysheid oor hoe om geregtigheid aan die armes te laat geskied, sluit aan by soortgelyke voorskrifte in die profetiese tradisie (Amos 2:6-8; 5:10-12, 15; Jes 10:1-2; Jer 5:28; 22:3; Eseg 22:29).

Preekvoorstel

Aangesien die boek Spreuke uit ’n reeks kernagtige, kort waarhede bestaan, is daar heelwat ruimte vir die prediker om binne eie konteks hierdie waarhede te interpreteer. Die verse waarop vandeesweek se leesroosterteks fokus, laat die klem val op die tema van armoede en rykdom en sosiale en ekonomiese geregtigheid. Daar is dus heelwat moontlikhede om die verband tussen rykdom en armoede en wysheid as eerbied vir God te ondersoek.

’n Belangrike sleutel tot die prediking van Spreuke is om die teologiese kerngedagte of dryfveer van die boek voor oë te hou: wysheid. Die begrip wysheid, die kern van die boek Spreuke, kan as aanvoeling vir en begrip van sosio-ekonomiese omstandighede en maatskaplike verhoudings verstaan word. Dit wil sê dat hierdie wysheid juis waak teen die soort eerbied vir God wat los van verhoudings met die naaste en die omgewing staan. Daaglikse sosiale praktyke en sisteme van geregtigheid is deel van die verhouding met God. Sodanige verstaan kan die prediker lei om rykdom en armoede kontekstueel te interpreteer.

Die konsep van wysheid kan verder as oproep tot regverdige gedrag verstaan word. Dit word die beste met die Engelse term “righteousness” beskryf. “Righteousness” impliseer gedrag wat in teenstelling is met dwaasheid en die benadeling van ander ter wille van eie gewin. Dit gee uitdrukking aan wysheid as gehoorsaamheid aan die opdragte van God, ter wille van ander. Dit is die tipe wysheid waarmee Jesus opgetree het en waarmee Hy die Wet geïnterpreteer het. Wysheid beteken selfopoffering en die prysgawe van dit waaruit jy voordeel bo ander kan trek.

Aangesien Spreuke as wysheidsliteratuur gelees word, kan die aard van die prediking ook klem lê op die diakonaat en kontekstuele voorbeelde van mededeelsaamheid (v 9). So ’n boodskap sal moet rekening hou met die geskiedenis van ekonomiese apartheid en kolonialisme in die (Suid-Afrikaanse) konteks. Vir die prediker kan veral vers 22 en 23 ’n uitnodiging wees om na te dink oor sisteme wat armoede veroorsaak en in stand hou. Praktiese voorbeelde en praktyke van mededeelsaamheid kan ons verbeelding aangryp wanneer dit as restitusie gelees word. Restitusie, as ’n vorm van herstellende geregtigheid, is om verantwoording te doen vir die feit waarom sekere mense “hulpeloos” (v 22) is, en hoe wysheid teenoor verontregtes, armes en noodlydendes vandag behoort te lyk.

Sodanige boodskap sal enigeen wat as “ryk” beskou kan word, moet uitnooi om te dink oor hulle mededeelsaamheid. Dit sal met ’n eerlike selfondersoek moet begin van wie as ryk beskou kan word. Verder sou nagedink kon word oor wie almal deelname het aan die rykdom waartoe rykes toegang het. Daar sou ook nagedink kon word oor hoe mededeelsaamheid in ons samelewing lyk – ekonomies gesproke een van die mees ongelyke samelewings ter wêreld.

Wysheid as eerbied vir God is ook onlosmaaklik aan kennis gebonde. Daardie kennis het veral te make met die konteks waarbinne die onderskeid tussen ryk en arm en die verskynsel daarvan ontstaan. ’n Prediker se taak sal onder andere wees om enige verontskuldiging teen te werk deur enkele feite oor die ekonomiese werklikheid van die tydsgewrig voor te hou. Die teks bied ook geleentheid vir troos en hoop, veral vir die armes, verontregtes en noodlydendes — troos dat “die Here hulle saak behartig” (v 23).

Bibliografie

Goldingay, JE 1994. Proverbs in: DA. Carson, RT France, JA Motyer & GJ Wenham (eds), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed). Leicester, England: Inter-Varsity Press; Pleins, JD 1987. Poverty in the Social World of the Wise. Journal for the Study of the Old Testament, 37:72; Waltke, BK 2008. Fundamentals for Preaching the Book of Proverbs, in Bibliotheca Sacra, 165 (October-December): 387-396.

© Missio 2024 | All rights reserved.