Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd, Barmhartigheidsondag

Sections

Oorsig

Die oproep tot die Christelike waarde van gasvryheid vorm die kern van die tekste vir Barmhartigheidsondag. Gasvryheid impliseer dat ons die liefde en deernis wat gewoonlik vir vriende en dierbares gereserveer is, ook bewys aan die vreemdeling. Die manier waarop God oor skeiding heen uitreik na die mens, word sigbaar op die manier as die geloofsgemeenskap ook grense oorsteek en die vreemdeling en randfiguur verwelkom.

Ander tekste

Jeremia 2:4-13
4Hoor die woord van die Here,
mense van Jakob,
al julle stamme van Israel!
5So sê die Here:
Waarin het Ek gefaal
dat julle voorvaders van My af
weggedraai het,
dat hulle nikswerd afgode gedien het
en so self niks geword het?
6Hulle het nie gevra:
“Waar is die Here
wat ons uit Egipteland
laat optrek het?” nie.
Hy het ons deur die woestyn gelei,
deur ’n droë wêreld vol slote,
deur ’n dor land vol doodsgevaar,
deur ’n land waardeur niemand trek
en waarin geen mens woon nie.
7Ek het julle in ’n vrugbare land
gebring
om die vrugte daarvan
en die goeie dinge daarin
te geniet,
maar toe julle in my land gekom het,
het julle dit verontreinig;
die land wat my eiendom is,
is deur julle besoedel.
8Die priesters het nie gevra:
“Waar is die Here?” nie,
dié wat my wil moes bekend maak,
het My nie erken nie.
Die regeerders het hulle
teen My verset,
die profete het in die naam van Baäl
opgetree
en gode gedien wat nie kan help nie.
9Daarom kla Ek jou weer aan,
sê die Here,
en ook jou nakomelinge kla Ek aan.
10Gaan na die Kittiëreilande toe en kyk ’n bietjie, stuur boodskappers na Kedar toe en dink goed na:
Het daar al ooit so iets gebeur,
11dat ’n nasie sy gode verruil het,
selfs al was hulle geen gode nie?
Maar my volk het My,
hulle magtige God, verruil
vir gode wat nie kan help nie.
12Selfs die hemel moet daaroor skrik
en beef en sidder! sê die Here.
13My volk het twee sondes begaan:
Hulle het My,
die bron van lewende water,
verlaat,
en hulle het vir hulle waterbakke
uit klip gekap,
waterbakke wat gebars is
en nie water hou nie.

Spreuke 25:6-7
6Moet jou nie vernaam aanstel
by die koning
en op die plek vir hoë mense
gaan staan nie.
7Dit is beter dat hy vir jou sê:
“Kom op hiernatoe!”
as dat hy jou laat plek maak
vir die vername mense.

Psalm 81:1, 10-16
As my volk maar na My wou luister
81 Vir die koorleier: met musiek.
Van Asaf.
2Jubel tot eer van God ons sterkte, 
juig tot eer van die God van Jakob!
3Sing, 
en slaan die tamboeryn, 
laat hoor die lieflike klanke
van die lier en die harp.
4Blaas die ramshoring op nuwemaan, 
met volmaan, op ons feesdag,
5want dit is ’n instelling vir Israel, 
’n verordening van die God van Jakob.
6Hy het dit vir die nageslag van Josef
as ’n dure plig opgelê
toe hulle uit Egipte weggetrek het. 
Wat hulle toe nog nie geweet het nie, 
het hulle gehoor:
7“Ek het die swaar drag
van julle skouers afgehaal, 
julle kon die mandjies neersit.
8In julle nood het julle geroep
en Ek het julle gered;
Ek het julle uit ’n donderwolk
geantwoord, 
julle by die waters van Meriba
op die proef gestel. Sela

9Luister, my volk,
Ek gee julle ’n opdrag.
Israel, luister na My:
10‘Daar mag vir julle
geen ander god wees nie,
julle mag voor geen vreemde god
neerbuig nie.
11Ek is die Here julle God
wat julle uit Egipte laat wegtrek het.
Wat julle nodig het,
sal Ek in oorvloed gee.’
12“Maar my volk het nie
na My geluister nie,
Israel wou niks met My
te doen hê nie.
13Daarom het Ek hulle laat begaan
in hulle koppigheid
en hulle het hulle eie sin
en wil gevolg.
14Ag, as my volk maar
na My wou luister,
as Israel maar my wil wou doen,
15hoe gou sou Ek hulle vyande nie
op die knieë bring
en hulle teëstanders
met my eie hand verslaan nie.”
16Dié wat voorgee
dat hulle die Here dien,
maar Hom haat,
hulle straf sal vir altyd duur.
17Maar vir julle sal Hy voed
met die beste koring,
julle versadig met heuning
uit ’n rots.

Psalm 112
Die regverdige sal nooit wankel nie
112 Prys die Here!
Dit gaan goed met elkeen
wat die Here dien,
wat al sy vreugde vind
in die gebooie van die Here.
2Sy nageslag is ’n sterk krag in die land,
die geslag van die opregte word geseën:
3daar is oorvloed en rykdom in sy huis.
Wat hy doen, is reg en blywend:
4hy laat sy lig in die donker uitstraal
vir die opregtes,
hy is genadig, barmhartig en regverdig.
5Dit is ’n goeie mens wat hom ontferm
en wat uitleen
en in al sy sake reg optree.
6Die regverdige sal nooit wankel nie,
hy sal altyd onthou word.
7Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie,
hy is gerus, hy vertrou op die Here.
8Hy voel hom veilig,
hy is nie bevrees nie:
hy sal die neerlaag van sy vyande
aanskou.
9Hy gee mildelik vir die armes.
Wat hy doen, is reg en blywend.
Hy geniet hoë aansien.
10Die goddelose sien dit
en raak ontsteld,
hy kners op sy tande van magteloosheid.
Van die begeertes van die goddelose
kom daar niks.

Hebreërs 13:1-8, 15-16
Die Christelike lewenswandel
13 As broers moet julle mekaar altyd liefhê. 2Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves. 3Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.

4Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.

5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê:
“Die Here is my helper,
ek ken geen vrees nie:
wat kan ’n mens aan my doen?”

Loof God deur Jesus Christus
7Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.

8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.

9Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie.

10Ons het ’n altaar waarvan dié wat nog die offerdiens volgens die ou orde verrig, nie die reg het om te eet nie. 11Die bloed van die offerdiere word deur die hoëpriester in die heiligdom ingebring vir die sonde, maar hulle liggame word buitekant die laer verbrand. 12Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om die volk deur sy eie bloed van hulle sonde te reinig. 13Laat ons dan nou uitgaan na Hom toe buitekant die laer en die smaad dra wat Hy gedra het, 14want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.

15Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely. 16Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.

17Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie.

18Hou aan om vir ons te bid, want ons is daarvan oortuig dat ons gewete skoon is, omdat ons in elke opsig probeer doen wat reg is. 19Veral dring ek by julle daarop aan om te bid dat God my gou na julle toe sal laat terugkom.

Fokusteks

Lukas 14:1, 7-14
Jesus genees ‘n man wat aan water gely het
14 Op ‘n sabbatdag toe Jesus na die huis van ‘n vooraanstaande Fariseër toe gegaan het om daar te eet, het hulle Hom fyn dopgehou.
2Reg voor Hom was daar ‘n man wat aan water gely het. 3Jesus praat toe met die wetgeleerdes en Fariseërs en vra: “Mag ‘n mens iemand op die sabbatdag gesond maak of nie?”
4Maar hulle het stilgebly. Toe trek Jesus die sieke nader, maak hom gesond en laat hom gaan. 5Daarna sê Hy vir hulle: “Sê nou ‘n seun of ‘n bees van een van julle val in ‘n put, sal hy hom nie dadelik uithaal nie, al is dit op ‘n sabbatdag?”
6Hulle kon daar niks op antwoord nie.

Gelykenis oor beskeidenheid en gasvryheid
7Toe Jesus merk hoe hulle die voorste plekke aan tafel uitsoek, vertel Hy aan die genooides die volgende gelykenis: 8“As iemand jou na ‘n bruilof toe uitnooi, moet jy nie sommer op die voorste plek gaan sit nie. Dit kan net wees dat die gasheer iemand uitgenooi het wat belangriker is as jy. 9Dan sal hy wat julle albei uitgenooi het, na jou toe kom en sê: ‘Gee bietjie die plek af vir hierdie man.’ Jy sal dan tot jou skande die agterste plek moet gaan inneem. 10Maar as jy uitgenooi is, gaan sit liewer op die agterste plek. Wanneer die gasheer kom, sal hy vir jou kan sê: ‘Vriend, kom sit hier voor’. Dan sal jy in die agting van al die gaste styg. 11Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.”

12Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand ‘n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. 13Nee, as jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. 14Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord  

Seëngroet: Hebreërs 13:25

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet: (Uit Hebreërs 13)

Skuldbelydenis: Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil 1”

Vryspraak: Uit Psalm 81 en 112

Aanvaarding van vryspraak: Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil 2”

Geloofsbelydenis: (Deur Maretha Maartens)

Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Lukas 14:1-14

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 505 “Jesus U gaan voor 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord  
Hy wat berge vorm en die wind skep,
Hy wat sy gedagtes
aan die mens bekend maak,
Hy wat die dagbreek donker maak,
Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan,
sy Naam is Here, almagtige God!
(Amos 4)

Seëngroet Hebreërs 13:25
25Die genade van God sal by julle almal wees!

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet: (Uit Hebreërs 13)
As broers moet julle mekaar altyd liefhê.
2Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.
3Dink aan die gevangenes asof julle self ook gevangenes is, en aan dié wat mishandel word, asof julle self ook mishandel word.
4Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom.
5Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
7Dink aan julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Let op hulle lewenswandel tot die einde toe, en volg die voorbeeld van geloof wat hulle gestel het.

8Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
9Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word, nie deur eetgebruike nie. Dié wat hulle aan hierdie gebruike gehou het, het niks daarby gebaat nie.

15Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ’n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.

16Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.

Skuldbelydenis: Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil 1”

Vryspraak: Uit Psalm 81 en 112
11Ek is die Here julle God
wat julle uit Egipte laat wegtrek het.
Wat julle nodig het,
sal Ek in oorvloed gee.’
Dit gaan goed met elkeen
wat die Here dien,
wat al sy vreugde vind
in die gebooie van die Here.

Aanvaarding van vryspraak: Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil 2”

Geloofsbelydenis: (Deur Maretha Maartens)
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
en in U , Jesus Christus, sy eniggebore Seun, my Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees en gebore is uit die jong meisie, Maria. Ek glo dat u, Jesus, gely het onder Pontius Pilatus;
dat U onskuldig gekruisig is en gesterf het
omdat U dit wóú doen, vir sondaars, vir my ook.
God het U op die derde dag tussen die dooies uit laat opstaan.
U het aan meer as 500 mense verskyn en nog baie met hulle gepraat. Daarna het God U, wat sy Seun is, van die Olyfberg af
opgeneem in die hemel en die apostels het dit gesien.
Ek glo U is nou by God, wat alles gemaak het en alles kan doen.
Ek glo U praat elke dag met God oor my. U pleit vir my en vir al my maats.
Ek glo U kom terug as Koning. Die Bybel sê U gaan die Regter wees
voor wie almal wat ooit geleef het, gaan verskyn.
Maar dat ons wat in U glo, niks het om voor bang te wees nie.
U het klaar ons straf gedra.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo ek kan net geestelik groei in ‘n gemeente waar mens hoor
wat in die Bybel staan; waar U, Jesus altyd in die middel is.
Ek glo dat U my gered het toe die Heilige Gees my oortuig het
dat ek moet begin sê U is my enigste Redder.
Ek weet ek sal op die aarde doodgaan, maar nooit dood wees nie.
Ek sal vir altyd en altyd by U wees.
Ek wil vir U iets sê, Jesus van Nasaret, één met die Vader.
Ek wil vir U sê… U is my lewe.

Loflied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5”

Liedere

F221. “Ek Wil Meer Lyk Soos Jesus”
(RUBRIEK: Flammiekidz – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: Meer en meer
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Faani Engelbrecht
© 1998 Celmar Music
vgl 2 Kor 3:18 NLV

Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Jesus
Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Hy
Ek wil meer en meer
en meer lyk soos Jesus

Ek wil meer en meer lyk soos Hy.
In alles wat ek is
en in alles wat ek doen
wil ek word soos wat Jesus dit wil.
Elke oomblik, elke dag
en nie net af en toe
want dit maak ‘n reuseverskil.

Ek wil graag dat die mense Jesus in my sien
omdat ek ‘n getuie wil wees.
Al is ek nog so jonk,
dis niks en buitendien
ek’s ‘n brief wat die wêreld kan lees.

Ek weet dit net soos jy
dat ek dit self nie kan nie
daarom gee Hy sy Heilige Gees
Hy help my meer en meer
om te leef soos Hy beplan
sonder Hom was ek nêrens gewees.

F232. “Jesus Alleen”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: In Christ Alone
Teks en musiek: Keith Getty & Stuart Townend
Afrikaans vertaling: Faani Engelbrecht
© 2001 Thankyou Music

1. Jesus alleen kan ons vertrou
Hy is ons hoop, ons lied, ons krag
Deur storms heen, deur winterkou’
dwarsdeur die duister van die nag
En deur sy liefde, deur sy hand
vind ons weer rus, bind Hy die band
Ons Vaste Grond, ons Fondament
Hier in sy liefde leef ons nou

2. Jesus alleen word mens soos ons
volheid van God vol kwesbaarheid
Oneindig meer doen Hy vir ons
ly vir ons ongeregtigheid
En deur sy offer word ons vry
Hy dra ons skuld, Hy sterf, Hy ly
Ontneem die dood sy heerskappy
Hier deur sy sterwe leef ons nou

3. Daar in die graf deur dood omring
Wie kon dit weet, wie het verstaan?
Daar breek die dag, die nuwe dag
Jesus, ons hoop, het opgestaan
Hy’t opgestaan in heerlikheid
Hy’t ons van vloek en skuld bevry
Ek leef in Hom en Hy in my
Jesus se bloed maak waarlik vry

4. Geen lewensangs, geen sterwensnood
dit is die krag waarop ons staan
Van die eerste tree tot by die dood
wys Hy die weg wat ons moet gaan
Geen duiwelsplan of aardsbestaan
kan ons ooit ruk vanuit sy hand
Hy sal weer kom, sy bruid kom haal
Tot Hy weer kom, sal ons bly staan

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, gee ons die lamp van die liefde wat nooit opraak nie, sodat dit in ons mag bly brand en sy lig laat skyn vir hulle om ons. Deur die helderheid daarvan, gee ons ’n visie van die Heilige stad waar die ware en ewige Lig, Jesus Christus, lewe en saam met U en die Heilige Gees regeer, nou en vir altyd. Amen.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Skriflesing: Lukas 14:1-14

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Vertel ‘n storie van ‘n partytjie. Wie kan sit langs die verjaarsdagmaatjie? Hoe werk dit?

Verduidelik dan hoe Jesus met die eerste gelykenis eintlik met gaste praat. ‘n Mens moenie sommer op die beste plek gaan sit nie, want net nou sê die een wie se partytjie dit is, wil hê iemand anders moet daar sit, en dan moet jy skuif. ‘n Mens wil nie graag in só ‘n verleentheid kom nie, sê Jesus. Dit is net goeie maniere. En ons moet nie so voor op die wa wees nie.

Met die tweede gelykenis praat Jesus met die gashere. Ons gebruik baie keer ons partytjies om net te nooi wie ons wil. Ons nooi ook maklik kinders wat ons weet ook weer vir ons sal terugnooi. Jesus help ons verstaan dat ‘n partytjie eintlik die beste geleentheid is om ons vriendekring uit te brei, om ander kinders te nooi, kinders wat nie eintlik vriende het nie. Dit kan ons natuurlik ‘n prys kos, as ons net ‘n sekere aantal mense kan nooi, selfs meer as vir die grootmense. En dan moet ons keuses maak.

‘n Praktiese wenk: nooi volgende keer net 2 kinders wat jy weet nie maklik uitgenooi word nie. Dink net wat dit vir daardie kinders gaan beteken. En dink net watter verskil dit aan jou partytjie kan maak, as die ander agterkom dat die partytjie nie net vir die “in-crowd” is nie, maar ook bedoel is om goed te wees vir ander kinders.
(Uit die bydrae van 29 Augustus 2010 by seisoenvanluister.co.za)

Preekriglyn

‘n Sekere metropolisiebeampte het ‘n toekenning vir uitstaande diens oor ‘n periode van 15 jaar ontvang. Tydens die oorhandiging van sy toekenning sê die burgemeester: “Hierdie man het altyd waardig opgetree, nooit selfs ‘n dronk man neerhalend of gewelddadig behandel nie, of onnodige geweld teenoor enigiemand gebruik nie.”

In ‘n mediaonderhoud na die toekenning vra ‘n joernalis die polisieman hoe hy dit reggekry het.

“Twee waardes was nog altyd vir my belangrik”, sê die beampte. “Eerstens: gestel ek word gevra om ‘n geveg in ‘n kroeg te gaan opbreek, sê ek altyd vir myself ek het met mense te doen. Hier is iemand se eggenoot, iemand se seun, iemand se buurman, wat dronk geword het. Ek probeer aan die dronk persoon as ‘n mens te dink, nie as ‘n nommer of ‘n probleem nie.”

“Tweedens, probeer ek altyd onthou die Bybel sê ‘n sagte antwoord keer grimmigheid af. So, elke keer wanneer ek na die venster van ‘n motor stap, probeer ek om bietjie sagter te praat as die persoon met wie ek praat.”

Sulke respekvolle optrede is merkwaardig. Veral as mens in gedagte hou polisiemanne werk dikwels met mense wat nie hul beste voetjie voorsit nie. Hulle sien die slegte kante van die lewe op ‘n daaglikse basis.

In ons teks gaan dit ook oor mense, en hulle waarde. Wat aan die orde kom, is hoe ons ander mense nie, siekes, mense wat ons as minder werd beskou as ons, en mense met wie ons liewer nie wil assosieer nie.

Dit is Jesus wat ons met hierdie vrae konfronteer. Hy is die sigbare beeld van die onsigbare God, sê Paulus in Kolossense 1. Jesus help ons in ons teks verstaan wie God is, en hoe God mense hanteer.

By ‘n vooraanstaande Fariseër

Lukas 14 vorm deel van die lang reisverhaal van Jesus op pad na Jerusalem om gekruisig te word. Die reisverhaal begin reeds by Lukas 9:51 “Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin . . .”

In Lukas 14 word Jesus se lang reis na Jerusalem onderbreek met ‘n ete wat Jesus op ‘n Sabbatdag in die huis van ‘n prominente Fariseër met wetgeleerdes en Fariseërs deel. Die verskillende temas wat in vers 1 vermeld word, is belangrike elemente waardeur ons in die Lukasevangelie vir Jesus leer ken:

  • ‘n Ete vind plaas by ‘n hooggeplaaste
  • Dit gebeur op die Sabbatdag
  • Fariseërs hou Jesus fyn dop.

Terwyl die Fariseërs Jesus fyn dophou, blyk dit gou dat Jesus hulle ook fyn dophou. Hy sien hoe die mense die beste plekke aan tafel vir hulself uitsoek. Hy sien ook hoe die vooraanstaande Fariseër net mense nooi wat sy eie sosiale posisie sal bevestig en versterk. Teen hierdie agtergrond vertel Jesus twee gelykenisse:

  • Oor beskeidenheid, en
  • Oor gasvryheid

Om te kan verstaan wat in ons teks gebeur, en wat Jesus se optrede beteken, moet ons dieper delf in die sosiale gebruike en opvattings van die mense van Jesus se tyd. Ons gaan kyk na:

  • Gangbare gebruike by maaltye;
  • Jesus se sosiaal-onaanvaarbare optrede rondom maaltye;
  • Hoe jou sosiale status bepaal is;
  • Die sosiale proses van wederkerigheid;
  • Wat dit alles vir ons vandag beteken.
Gangbare gebruike aan tafel

In Jesus se tyd was etes ongetwyfeld die belangrikste alledaagse sosiale gebruik. Dit is daarom nie vreemd dat daar telkens in die evangelies na Jesus se eetgewoontes verwys word nie (vgl Luk 5:30). Etes is op uitnodiging deur mans van dieselfde sosiale status gevier. Vrouens se plek was letterlik in die kombuis. Daar kan dus aanvaar word dat Jesus in ons teks saam met die geestelike elite van die Jode by die leier van die Fariseërs aan tafel was. By hulle aankoms by ‘n ete is gaste se voete gewas en welriekende salf oor hulle hare en voete gegooi.

Posisies aan tafel is ten opsigte van die gasheer se plek aan die tafel bepaal. Persone van ongelyke status het soms selfs in ander vertrekke geëet. Hulle kos en wyn was ook minderwaardig teenoor die kos van die belangriker gaste.

Aan tafel met Jesus

In die Lukasevangelie word Jesus telkens uitgebeeld as een wat die heersende sosiale gebruike uitdaag, soos onder andere die gebruike rondom etes. Daar is talle voorbeelde in Lukas van Jesus se vreemde tafelmaniere:

  • Hy eet saam met die verkeerde mense en Hy vas nie (5:30-33);
  • Jesus oes (werk) en eet op die Sabbat (6:1-5);
  • Hy laat ‘n vroulike prostituut toe waar Hy eet én Hy wys sy gasheer tereg nadat sy aan Hom gevat het (7:33-50);
  • Jesus eet waar ‘n vrou in die geselskap is (mans het gewoonlik apart geëet as daar ‘n formele ete was) (10:38-42);
  • Hy eet in die openbaar saam met vrouens en kinders en Hy deel gelyke porsies uit (9:10-17);
  • Jesus ignoreer die reinheidswette deur nie sy hande te was nie, en Hy spreek sy gasheer aan (11:37-42);
  • Jesus genees ‘n onrein man voor ‘n ete (14:1-6);
  • Jesus hervorm die Paasmaal (14:7-23).
Hoe sosiale status bepaal is

Agter Jesus se optrede sit ‘n ander verstaan oor die waarde en waardigheid van mense, waaronder diegene wat deur ander geminag en uitgeskuif is. Hoe is mense se waarde in Jesus se tyd gesien? Die twee sleutelwaardes waarvolgens persone se sosiale rangorde en posisie bepaal is, was dié van eer en skaamte/skande:

  • “Eer” verwys na die waarde, reputasie en prestige waarop ‘n individu aanspraak kan maak en wat deur ander in sy gemeenskap erken word. Dit dui op ‘n (manlike) persoon se regmatige plek in sy samelewing ten opsigte van mag, seksuele status en godsdiens.
  • “Skande”, die teenpool van eer, kan positief omskryf word as die sensitiwiteit vir hoe ander jou eer beskou. Negatief gesien, kan dit ook dui op die verlies van eer in die oë van die samelewing, of ‘n onverskilligheid by persone vir hoe ander hulle eer beskou.

Eer, individueel en kollektief (van natuurlike en vrywillige groeperings), kon toegeskryf word op grond van wie ‘n persoon was op grond van sy geboorte en politieke verbintenisse (die eer wat aan ‘n persoon toegereken is), of deur eie meriete verwerf word (die eer wat deur optrede of gedrag verdien is).

Etes onderstreep grense

Etes het in die antieke wêreld die sosiale funksie vervul om die grense van groepe (bv. die van die Jode) teenoor ander te handhaaf. Uit Jesus se optrede tydens etes, soos hierbo saamgevat, blyk duidelik dat Hy ‘n ander siening oor die eer en waardigheid van mense gehad het. Daaroor benader Hy etes anders, en sit Hy met mense aan wat dikwels vir ander nie aanvaarbaar was nie.

Lukas beklemtoon dat Jesus geen onderskeid gemaak het nie. Almal was welkom aan sy tafel. Só sluit Jesus se vreemde gastelys in Lukas die volgende mense in: Levi die tollenaar en ander sondaars (5:27-32; 7:34); Simon die Fariseër (7:36-50); ‘n groot skare (9:10-17); Marta en Maria (10:38-42); verskeie Fariseërs (11:37-54; 14:1-14); Saggeüs die hooftollenaar van Jerigo (19:1-10); die dissipels (22:14-38).

Jesus se kommentaar: beste plekke

Jesus merk tydens die ete by die vooraanstaande Fariseër op hoedat die ander gaste vir hulleself die beste plekke uitkies. Waar hulle Hom genooi het sodat hulle op sy gedrag kon let (1), verhang Hy nou die bordjies deur op hulle gedrag te let.

In reaksie op die gaste se eersoekende gedrag, vertel Jesus ‘n gelykenis, die eerste van twee gelykenisse.

Die eerste gelykenis (7-11) het die gaste aangespreek deur hulle te waarsku dat hulle nie by ‘n troue die beste plekke vir hulleself moes uitsoek nie. Dié plekke is immers gereserveer vir gaste met groter eer as hulle. Hulle sou gevolglik oneer ondergaan deurdat hulle gasheer hulle sou moes vra om ander, minder prominente plekke in te neem. Die aanbeveling is dat hulle eerder die nederigste plekke moes opsoek, met die moontlikheid dat hulle later gevra word om meer eervolle plekke in te neem (dws plekke nader aan die gasheer self).

Dié wat in opregte nederigheid handel, staan daarom ‘n goeie kans om vereer te word as die ereplekke aan hulle toegeken sou word. Dit geld ook die koninkryk van God (9:46; 22:24). Jesus sluit die gelykenis af met ‘n spreuk dat dié wat hulleself verhoog verneder sal word, maar diegene wat hulleself verneder, verhoog sal word (11). Anders gestel: eer moet gegee word en nie opgeëis word nie.

Jesus se kommentaar: wie genooi word

Die tweede gelykenis in Lukas 14:7-14, is gerig op Jesus se gasheer (12-14). Jesus kritiseer in die gelykenis sy gasheer omdat hy net dié met die vermoë om hom terug te nooi, vir ete genooi het. Hy het bloot volgens die sosiale reëls van sy tyd die ete gebruik om sy invloed onder die elite van sy tyd te verhoog. As sodanig het hy volgens die heersende sosiale norm van wederkerigheid gehandel.

Jesus wys dan uit wie die gasheer eerder moet nooi, en verbind dit met God se beloftes. Ons kom hierop terug.

Wederkerigheid

Die mense van Jesus se tyd het alle sosiale verhoudings op die beginsel van wederkerigheid gebaseer. Wederkerigheid beteken dat mens altyd op so ‘n manier opgetree het dat jou gedrag ander onder die verpligting geplaas het om in reaksie iets goed aan jou terug te doen. Die goed wat jy aan ander gedoen het, het hulle forseer om jou ook weer goed te behandel. Jy het ander geëer sodat hulle weer eer aan jou moes betoon. So is skande en beskaming vermy, en jou eer deur gunste en eerbewyse verhoog. Totdat ‘n gepaste teenprestasie gelewer is, was die ontvanger in die skuld by die weldoener.

Dit kom neer op ‘n implisiete sosiale kontrak wat tussen persone van gelyke sosiale stand, asook dié van ongelyke sosiale stand, gefunksioneer het. Die gee van ‘n geskenk, of die nooi vir ete, het geïmpliseer dat daar verwag is dat mense op soortgelyke basis op enige sosiale gebaar moes reageer. Om die rede is daar gewoonlik net gaste genooi wat aan die sosio-politieke spel van gee en neem kon deelneem. Volgens Jesus moes juis diegene wat nie in staat is om hulle gasheer te vergoed nie, eerder genooi word. Jesus se uitspraak het in wese die beginsel van wederkerigheid as grondreël vir sosiale interaksie in die antieke wêreld bevraagteken.

Hoe God oor mense reken

Jesus openbaar God se manier van somme oor mense maak. Die twee gelykenisse protesteer teen die gangbare praktyk om eer bo ander te probeer verwerf, en om ander te gebruik om jou eie sosiale posisie te verbeter.

Eerstens sê Jesus ons moet anders dink oor wie in en wie uit is. Moenie net fokus om jou familie of ryk bure nie. In die koninkryk van God werk dit anders. Almal – en spesifiek die sosiale uitgeworpenes – is welkom en behoort genooi te word. Jesus se gastelys in Lukas was naamlik sowel ‘n inklusiewe as ‘n subversiewe dokument. Nie alleen sou Jesus saam met almal eet nie, maar sou Maria se lied (1:51-53), wat verklaar het dat die magtiges (soos die leier van die Fariseërs) neergegooi en die nederiges opgehef sou word, in die kritiek van Jesus in vers 7-11 tot uitvoering kom.

God self hou ‘n ogie oor ons sosiale praktyke. Jesus verklaar in vers 14 God self diegene sal beloon by die opstanding van diegene wat reg doen. Menslike eer en wederkerige eerbewys het nie die laaste woord te sê nie. Wanneer mense jou nie kan vergoed nie, kan jy verwag om deur God beloon te word. Daar is ‘n Goddelike belofte vir gedrag wat teen die heersende sosiale orde was.

Barmhartigheidsondag

Dit is vandag Sondag vir Barmhartigheid.

Ons teks vra aan ons watter motiewe ons verhoudinge met ander bepaal. Streef ons na meer eer? Probeer ons die sosiale leer klim deur die mense teenoor wie ons goed doen? Ons leef ons vanuit barmhartigheid as die diepste motief in ons lewe.

Jesus se optrede word nie deur eer beheers nie. Jesus werk vanuit barmhartigheid, deernis en menswaardigheid. Dit moet daarom ook waar wees van sy dissipels. Dade van barmhartigheid, sorg, deernis en liefde pas by ons. Onselfsugtige diens, ook en veral aan diegene wat ons nooit sal kan vergoed nie, moet ons dryfveer wees.

Jesus het nie verniet ingepas by die heersende siening van hoe etes en tafelmaniere werk nie. Jesus wou die selfsugtige en eersugtige waardes van sy tyd ontmasker. Ons optrede moet dieselfde doen. Deur die mense met wie ons assosieer en die manier waarop ons dien moet ons toon dat ons Jesus se motiewe om met randfigure te eet en buitestanders in te nooi, van harte verstaan en toepas.

Vandag steeds maak sosiale skeiding en diskriminasie steeds te veel saak in Christengemeenskappe. Wat in die antieke wêreld heel uitgesproke was, mag dalk in ons tyd meer bedek en genuanseerd uitgedruk word, maar dit is steeds daar. In Lukas 14:1, 7-14 is die sosiale leer van Jesus se tyd onder die soeklig. Ons eie tyd verskil nie veel hiervan nie. Jesus laat die soeklig val, en leer ons – ook vandag – hoe om wys en volgens die wil van God op te tree.

Die belang van die etenstafel

‘n Groot deel van Jesus se bediening het bestaan uit gemeenskap met ander mense rondom die etenstafel. Dit moet ons ook nuut oor etes laat dink:

  • Baie families herontdek die belang van die etenstafel. Hier word die selfone en die TV afgesit, en ervarings met mekaar gedeel. By hierdie familiemaal – ontdek ons vinnig – is God self die gasheer.

Emerson Powery skryf oor sy familie se gebruik rondom aandetes: “My family sits down together at dinnertime most evenings. It’s a time to catch up with the activities of the day, as well as just a respite from the busyness of life. No texting is allowed at the table. It’s important for us to touch base with one another in this way to ensure that all is well with, in our case, our four sons. When our oldest son is home from college, the noise level is loud and the six of us are usually talking at the same time. There’s a lot of laughter and if one of us has a good story or joke to share, then all of us tune in. On the more serious side, it’s a time to make decisions as a family and, on occasion, to put family pressure on one of our sons who may be about to make a serious ethical decision. Character building and value shaping are central, even if not plotted, to the time we share together around the evening meal.”

  • Ons het ook oper etes nodig waar ander teenwoordig is. Kom ons laat Jesus ons leer om ook mense buite ons gebruiklike sosiale kring te nooi. Dit moet ook mense van ander kulture insluit. Ons sal vinnig verras word hoe God ons daardeur seën. Bybel-Media het onlangs ‘n boekie gepubliseer, Loop Saam, wat gelowiges begelei om ook etes te gebruik om grense oor te steek.
  • ‘n Oop tafel bring dadelik ook die nagmaaltafel ter sprake. Ons moet ook anders na die nagmaaltafel kyk. Die vraag is wie God saam met ons om die tafel wil versamel? Die vraag is ook hoe ons die seëning wat ons aan die tafel beleef uitdra na ander mense. Die bevestigingsformulier vir diakens sê juis dat die gemeente se barmhartigheid by die nagmaaltafel begin, waar ons God se barmhartigheid teenoor ons beleef.
  • Naas ons gesinslewe is ons werksplekke die ruimtes waar ons barmhartigheid kan uitdruk. Dink maar net hoe goed ons metropolisiebeampte dit reggekry het – op ‘n eenvoudige en praktiese manier. Hoe kan ek en jy dit in ons werksplekke doen?
Ons motiewe

Ten slotte moet ons weer onderstreep dat Jesus in hierdie gedeelte oor ons diepste motiewe praat. Wat dryf ons in ons verhoudinge met ander? Ons het nodig om self uit die fokus van ons bestaan te skuif. Ons moet God, en God se hart, toenemend raaksien. Jesus het alle eer by die Vader prysgegee om mens te word, ter wille van ons. Hy het sy lewensdoel met God se bedoeling en met die nood van die medemens gesinkroniseer.

Ons word opgeroep om dit self ook te doen. So bring ons vreugde in die Vaderhart.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 505 “Jesus U gaan voor 1,2,3,4”

Seën
Mag God jou seën met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en kunsmatige verhoudings sodat jy diep in jou hart meer eerlik en vry sal leef.
Mag God jou seën met kwaadheid oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy sal begin werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.
Mag God jou seën met trane vir hulle wat ly as gevolg van pyn, verwerping, hongersnood en oorlog, sodat jy jou hand sal uitsteek om hulle te troos en hulle pyn om te sit in vreugde.
Mag God jou seën met genoeg dwaasheid
om te glo dat jy ’n verskil aan die wêreld kan maak, sodat jy kan doen wat ander dink totaal onmoontlik is.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.