Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die samehang en verhaallyn (of tema) van die tekste sluit goed bymekaar aan.
Uiterlike dinge tel nie:
Voor die Here is ryk en arm gelyk.
Mededeelsaamheid sien veral die armes raak.
Jesus beoordeel mense nie volgens afkoms of uiterlike nie, maar help en genees almal wat oor sy pad kom.
Opregtes van hart en regverdiges behaag die Here.
Al die tekste kan in die vloei van die liturgie gebruik word.

Ander tekste

Spreuke 22:1-2, 8-9, 22-23
’n Goeie naam is meer werd
as groot rykdom,
die goeie gesindheid van ander
meer as silwer en goud.
2Voor die Here is ryk en arm gelyk;
Hy het hulle almal gemaak.
8’n Koning wat onreg saai,
sal teenspoed oes;
daar sal ’n end kom
aan sy hardvogtige heerskappy.
9Wie mededeelsaam is, word geseën,
want hy gee van sy kos vir arm mense.
22Moenie ’n arm mens te kort doen
omdat hy arm is nie;
moenie die hulpelose vertrap
in die regspraak nie.
23Die Here sal hulle saak behartig
en dié wat vir hulle beroof,
van die lewe beroof.

Psalm 125
’n Pelgrimslied.
Dié wat op die Here vertrou,
is soos Sionsberg
wat nie wankel nie
en altyd vas bly staan.
2Soos die berge Jerusalem
aan alle kante beskerm,
so beskerm die Here sy volk,
nou en vir altyd.
3Oor die grondgebied
van die regverdiges
sal ’n goddelose nie die mag kry nie,
sodat die regverdiges
nie in misdaad verval nie.
4Here, doen goed aan dié wat goed is,
die opregtes van hart!
5Maar dié wat die verkeerde pad loop,
mag die Here hulle vernietig
saam met dié wat onreg doen.
Mag daar vir Israel vrede wees!

Markus 7:24-37
Jesus het Hom gereed gemaak en daarvandaan weggegaan na die gebied van Tirus toe. Daar het Hy in ’n sekere huis tuis gegaan, en Hy wou nie hê dat iemand dit te wete moes kom nie. Tog kon Hy nie onopgemerk bly nie. 25’n Vrou wie se dogtertjie van ’n onrein gees besete was, het gou van Hom te hore gekom. Sy het gekom en voor sy voete neergeval. 26Hierdie vrou was ’n Griek wat in Siro-Fenisië gebore is. Sy het Hom gevra om die bose gees uit haar dogter uit te drywe. 27Maar Hy het vir haar gesê: “Wag dat die kinders eers klaar eet, want dit is nie mooi om die kinders se kos te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

28Sy het Hom geantwoord: “Here, die hondjies eet darem onder die tafel die kindertjies se oorskiet.”

29Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan; die bose gees het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”

30Toe sy by die huis kom, kry sy haar kindjie op die bed lê en die bose gees was al klaar uit haar uit.

Jesus genees ’n doofstom man
(Vgl Matt 15:29–31)
31Jesus is weer uit die gebied van Tirus weg en deur Sidon na die See van Galilea toe in die gebied van Dekapolis. 32Die mense bring toe ’n dowe man wat ook ’n spraakgebrek het na Hom toe en vra Hom om tog sy hand op hom te lê. 33Hy het hom eers eenkant toe gevat, weg van die mense af. Toe het Hy sy vingers in die man se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer. 34Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê: “Effata!” Dit beteken: Gaan oop!

35Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak het verdwyn, en hy het reg gepraat. 36Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig. 37Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”

Fokusteks

Jakobus 2:1-10, (11-13), 14-17
Moenie volgens die uiterlike oordeel nie
2 My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. 2Sê nou daar kom in julle samekoms ‘n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ‘n brandarm man in met ou klere aan, 3en sê nou julle maak ‘n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,”4het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie?

5Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? 6Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? 8As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. 9Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.

11God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog ‘n oortreder van die hele wet. 12Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak. 13Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

Glo en doen
14Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red? 15Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.

Ekstra stof

2:1-12 – Moenie volgens die uiterlike beoordeel nie
LEEF ONPARTYDIG EN IN DEERNIS: Dit is só belangrik, omdat in die proses om die woord van God te doen en daaraan gehoorsaam te word, kan juis dié deernis met mense in gedrang kom as ‘n mens verlei word om met slegte oorwegings, d.w.s. vooroordele of partydigheid, na ander te kyk. Dan kom jou naasteliefde in gedrang. Wanneer ‘n mens onderskeid tref tussen rykes en armes net op grond van hulle uiterlike, stel jy jouself boonop as ‘n regter oor mense aan. Dit is iets wat net God toekom.

Jakobus begrond dit in die feit dat die Here Jesus Christus die Here van die heerlikheid is. Hy is die kurios, die Here, die soewereine God, die een wat baie hoër in status as die aardse kurios is, die keiser. Jesus se heerlikheid bestaan egter, anders as die keiser, in diens aan en deernis met sy naaste. Dieselfde diensbaarheid en deernis moet dus die geloofslewe van die geloofsgemeenskap kenmerk. Ryk mense mag nie bevoordeel word bó armes nie.

Trouens, Jakobus gee ‘n verdere rede waarom dit belangrik is. Hy verwys na die uitspraak in Jesus se Bergrede waar Hy hulle geleer het: “Geseënd is dié wat geestelik arm is, want hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt. 5:3). Of soos Lukas dit weergee: “Geseënd is julle wat arm is, want die koninkryk van God behoort aan julle.” (Luk. 6:20). Jakobus lê dit uit as aanduiding van God se keuse vir armes in die wêreld om ryk in die geloof te wees. Hy bevoordeel dus armes om hulle afhanklikheid van Hom beter te besef. Rykes daarenteen is baie keer juis dié mense wat armes uitbuit en voor die gereg sleep. Daardeur word die goeie Naam van die Here belaster wat oor hulle uitgeroep is.

Jakobus gee nog ‘n verdere rede. Partydigheid of voortrekkery dwarsboom ook God se wet van naasteliefde. En dit is nie iets wat ongestraf sal bly nie. Jakobus is duidelik daaroor dat God se oordeel: “genadeloos is oor wie nie deernis betoon nie.” Die voordeel van deernis is daarby dat dit op sigself jou gerus kan stel met die oog op die Wederkoms, soos in die gelykenis van die skape en die bokke reeds aan die orde gestel is deur Jesus, nog ‘n verwysing wat moontlik agter hierdie gedagte lê (Matt. 25:31-46): “Deernis triomfeer oor die oordeel.

2:13-26 – Doen wat jy glo
GEE VIR DIÉ WAT NODIG HET: Jakobus gaan verder met sy tema van deernis en koppel dit aan geloof. Dade bewys nie net deernis nie. Dade bewys geloof. Trouens: geloof sonder dade is sonder meer dood, sonder enige lewe. Geloof moet bevestig word met dade. Dit help nie om vir ‘n broer of suster sonder klere en daaglikse kos – onthou die Ons Vader se bede: “Gee óns vandag ons daaglikse brood,” (Matt. 6:11) – weg te stuur met mooi woorde en nie in hulle behoefte te voorsien nie.

Jakobus illustreer hierdie dooie geloof met die bekende voorbeeld van die duiwels se geloof wat per se nutteloos is. Daarby voeg hy twee voorbeelde uit die Skrif – ‘n man en ‘n vrou: Abraham wat bereid was om sy seun Isak te offer en Ragab wat die boodskappers gasvry ontvang en beskerm het – om te wys hoe geloof meegewerk het met hulle dade en “dat vanuit die dade die geloof volkome geword het.

Abraham het die voorreg ontvang om ‘n vriend van God genoem te word, en Ragab, die prostituut, het een van die voorouers van Jesus geword: “Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 164

Votum: Ps 125:1-2

Seëngroet

Lofsang: Psalm 125 of Lied 271 of Flam 156

Die Wil van God: Jakobus 2:5-13

Skuldbelydenis

Toewyding: Lied 308 of Flam 186 of VONKK 55

Geloofsbelydenis: VONKK 125 of Lied 264

HOOR

Gebed

Skriflesing: Jakobus 2:1-10, 14-17

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 256 of Lied 585 of Lied 284

Seën

Respons: Lied 534 of Flam 176.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 164 “Ons is almal hier tesaam”

Votum: Ps 125:1-2
Dié wat op die Here vertrou,
is soos Sionsberg
wat nie wankel nie
en altyd vas bly staan.
2Soos die berge Jerusalem
aan alle kante beskerm,
so beskerm die Here sy volk,
nou en vir altyd.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 125
Lied 271 “Heil’ge Jesus wat my lewe”
F156. “Bring Dank”

Die Wil van God: Jakobus 2:5-13
5Luister, my liewe broers! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie? 6Maar julle behandel die arm man met minagting. Is dit nie die rykes deur wie julle uitgebuit word nie, en is dit nie hulle deur wie julle voor die hof gesleep word nie? 7Is dit nie hulle wat die goeie Naam skend van Hom aan wie julle behoort nie? 8As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg. 9Maar as julle die mense na die uiterlike beoordeel, doen julle sonde en veroordeel die wet van God julle as oortreders. 10As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie.

11God wat gesê het: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy nou nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord, is jy tog ‘n oortreder van die hele wet. 12Praat en tree dan op soos mense wat geoordeel sal word volgens die wet wat vry maak. 13Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.

Skuldbelydenis
V: Here, daar is so baie mense rondom ons, maar ons sien die meeste van hulle nie eens raak nie.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, by U is die laastes eerste, maar by ons bly hulle laaste.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou meer van belangrike mense as van onbelangrike mense.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is volslae uitverkoop aan ’n samelewing waarin groter altyd beter is.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons is te besig om stil te staan en te luister na die sagter stemme rondom ons.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, ons hou van dinge en van mense en selfs van kerke wat blink.
G: Here, wees ons genadig!

V: Here, help ons om méér mense raak te sien, veral die byna onsigbares.
G: Here, wees ons genadig!
(uit: Wepener, Cas. 2011. Soos ’n blom na die son draai. Wellington, BybelMedia.)

Toewyding
Lied 308 “Neem my lewe, laat dit, Heer”
F186. “Arendsoë”
VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”

Geloofsbelydenis
VONKK 125 “Ek Glo In God Die Vader”
Lied 264 “Hoe heerlik is die Jesus-naam!”

Liedere

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
Teks : Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers © Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Klassiek – Toewyding en Aanroeping / Nagmaal / Lydenstyd

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

VONKK 125 “Ek Glo In God Die Vader”
Teks: Nav Apostoliese Geloofsbelydenis E3 – Chris Lamprecht 1982 Musiek: UNIVERSITEITSOORD – Chris Lamprecht 1982
Kantoryverwerking: Chris Lamprecht 2011 © 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Geloofsbelydenis

Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
Skepper van hemel en aarde,
en in Jesus Christus, sy eengebore Seun, onse Here,
wat ontvang is van die Heil’ge Gees,
gebore uit die maagd Maria,
wat gely het onder Pontius Pilatus,
gekruisig, gesterwe en begrawe is,
en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode,
opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader,
vanwaar Hy sal kom om te oordeel,
die lewende en die dode.

Ek glo in die Heil’ge Gees.
Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
Die vergewing van sondes,
die wederopstanding van die vlees
en ‘n ewige lewe. Amen. Amen. Amen.

F186. “Arendsoë”
(RUBRIEK: Flam – Hoop en Voleinding) Teks en musiek: Rick Moser © 2006 MAR Gospel Music Publishers

Na U sal ek kom met die laste van my lewe.
Na U sal ek kom met die sorge van my hart.
In U alleen vind ek die ware lewe.
U Lewenswoord versterk en rig my hart.

U is die Lig wat my vooruit wys.
Ek wil wandel in u weë.
’n Dader van die werk wat u my gee.
U is die wind wat my laat opsweef
om te sien met arendsoë.

Die aarde met u heerlikheid deurweek
omdat U in elke hart opnuut regeer.
Na U sal ek kom met die werke van my hande.
Na U sal ek kom met die drome van my hart.

In u gesag sal ek in hierdie lewe
u Lewenswoord in elke plek indra.
Die hele skepping wag met verwagting en verlange
om die seuns van God geopenbaar te sien.
Vader gee vir my u krag u insig en genade
om ’n draer van u lewe
’n venster van u vaderhart te wees.

Maak my u lig vir my gemeenskap
ek wil wandel in u weë.
’n Dader van die werk wat u my gee
maak my die een wat ander ophef.
Om te sien met arendsoë
die aarde met u heerlikheid deurweek
omdat U in elke hart opnuut regeer.

F156. “Bring Dank”
(RUBRIEK: Flam – Dankbaarheid) Oorspronklike titel: Give thanks Teks en musiek: Henry Smith
Afrikaanse vertaling: 2006 Faani Engelbrecht en Jacques Louw © 1978 Integrity’s Hosanna! Music (2 Kor 9:15, 12:10)

Bring dank aan die Ewige,
bring dank aan die Heilige,
bring dank aan die Vader, omdat Hy Jesus stuur:
Want nou sê die swakke: “Ek is sterk!”
Sê die arme: “Ek is ryk!
Deur wat ons alles van die Heer ontvang.”
Bring dank!

F256. “Ons Is U Liggaam”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis) Teks en musiek: JA de Beer en Zander van der Westhuizen © 2007 Urial Publishing

Ons leef u liefde in ’n wêreld wat uitroep.
Ons neem u water na mense wat dors.
Laat ons u liefde deur ons dade uitdra.
Ons neem u brood na ’n sterwende land.

So kom U naby aan elkeen wat nood het.
Laat u wil geskied deur ons gehoorsaamheid.
Want ons is u liggaam,
ons sal U vir altyd volg,
ons is die gesalfdes
wat opstaan vir u Naam.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Jakobus 2:1-10, 14-17

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Daar is ’n Peanuts – strokie wat presies by vanoggend se teks aansluit:
Jy kan dit goed gebruik in aansluiting by vanoggend se teks. Gebruik ook die geleentheid om te vertel van sommige van die barmhartigheidsbedieninge waarby jul gemeente betrokke is. Foto’s help altyd met eienaarskap. Oorweeg ook ’n projek – miskien kan die kinders volgende week nie-bederfbare kos bring, of speelgoed, of deelneem aan ’n projek om dié goed iewers af te lewer.

Vertel die stukkie van The Hungry Coat: A Tale from Turkey in jou eie woorde: Nasrettin Hoca is ’n wyse om man. Hy stop langs die pad om mense met ’n bok te help en het gevolglik nie tyd om huis toe te gaan en mooi aan te trek voor ’n fees nie. Toe hy met sy gelaste, vuil jas by die fees aankom, ignoreer almal hom. Hy kry nie eers kos nie! Hy gaan huis toe, was en trek ’n manjifieke jas aan. Terug by die fees word hy vreeslik formeel verwelkom en word die beste kos aangebied. Hy vat stukkies van die kos, sit dit in sy jas en sê: “Eet jas, eet.” Die mense wou weet hoekom hy dit doen, waarop hy vertel hoe hy niks ontvang het toe sy jas vuil was nie, maar met hierdie jas bied almal vir hom kos aan. Al wat hy kan dink, is dat die gasheer gedink het die jas is seker honger! Almal by die fees het gelag en Nasrettin Hoca geprys vir sy wysheid.

Preekriglyn

Sir Edmund Hillary en Tenzing Norgay was in 1953 die eerste mense wat die piek van Berg Everest bereik het. Sedert hierdie prestasie het duisende mense gevolg, danksy Nepal wat die streng vereistes om die berg te klim, verslap het. Teen 2006 het reeds meer as 2 700 mense die piek van die wêreld se hoogste berg bereik. Dis ‘n baie duur onderneming, wat klimmers honderde duisende Rand kan kos.

Hierdie kommersialisering ondergrawe die morele kode van bergklim, wat op onderlinge hulp berus. Gedrewe om die bergpiek te bereik, sal amateurs wat ‘n klein fortuin betaal het, enigiets doen om die doel te bereik. Hulle sal selfs ander bergklimmers in lewensgevaar agterlaat.

So het David Sharp sy lewe in Maart 2006 verloor. Hierdie 34-jarige ingenieur van Cleveland in die VSA het Everest se piek op sy eie bereik. Sy suurstof het egter op pad ondertoe opgeraak. Terwyl hy sterwend onder ‘n rots gelê het, het veertig bergklimmers hom verbygesteek, gretig om hul doel te bereik eerder as om hul suurstof met hom te deel. David het verkluim.

Ed Viestrus, wat reeds 14 van die wêreld sy hoogste pieke bereik het, sê dis nie ongewoon om verby sterwende mense te klim nie. “Ongelukkig kry jy mense wat sê, ‘Dis nie my probleem nie. Ek het baie betaal en ek gaan die bergpiek bereik, kom wat wil.'”

David Sharp se dood het ‘n storm in die media ontketen. Mense is vir hul gevoelloosheid verwyt. Die verdediging was dat David Sharp se voorkoms reeds die van ‘n sterwende was. Selfs al het hy geleef, sou dit nie enige effek hê om hom by te staan nie. Hy sou in elk geval sterf, hy was te ver heen.

Hierdie houding het afgryse by baie klimmers ontlok, insluitend Sir Edmund Hillary. “Op my ekspedisies was daar geen manier dat jy ‘n man onder ‘n rots sou laat lê om te sterf nie,” het hy gesê.

Wat mens sien as jy kyk?

Wat mens sien, wanneer jy kyk, kan lewensgevaarlik wees. As jy na ‘n sterwende op Everest kyk en ‘n hindernis vir jou doelwitte sien, veroorsaak dit die dood. Selfs as jy agterna beweer die uiterlike tekens was daar dat die man nie meer gehelp kan word nie.

Dit beteken jy het gekyk sonder empatie, sonder meelewing, sonder die besef dat jy ‘n lewende wese sien.

Ons teks is só aktueel. Ons moet versigtig wees om mense op die uiterlike te beoordeel. Die gevaar van uiterlike beoordeling is enersyds dat ons verkeerd kan oordeel. Die verdere gevaar is dat ons beoordeel sonder empatie en meelewing. Eerder as om met vrygewigheid te help, bly ons harte toegesluit.

Jakobus se vermaning is daarom so belangrik:
As julle werklik die wet van die koninkryk van God onderhou soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” dan doen julle reg.

Om ons te help groei in egte liefde, wys Jakobus ons op twee slaggate waarin liefde vir die naaste kan vasval:

  • Vooroordeel wat onderskeid maak en beoordeel op grond van verkeerde oorwegings (1-10);
  • ‘n Gebrek aan empatie met die medemens in nood wat verhoed dat ons geloof oorgaan tot dade (14-17).
Jakobus se doel

Jakobus gebruik sterk taal wanneer hy vooroordeel en geloof sonde empatie en dade afwys. Waarom? Sy motief is groter as bloot goeie morele oorwegings.

Volgens Skrifkenners skryf Jakobus teen die agtergrond van gemeentes wat verskeur is deur allerlei verskille, vooroordeel, versoekings, twyfel, die verbreking van gemeenskap deur klas- en standverskille en ‘n gebrek aan wysheid.

In sy brief gebruik Jakobus herhaaldelik twee woorde: “volmaak” (teleion) en “volkome” (holokleeros, wat ook met sonder gebrek, heel, onverdeeld, ongebroke vertaal kan word). Die belangrikheid van hierdie twee terme word ook onderstreep deur die herhaalde voorkoms van hulle teendeel, naamlik: dipsychos (tweeslagtig, met twee siele, dubbelhartig, verdeeld) en akatastatos (rusteloos, onbestendig, wankelmoedig).

Die oorkoepelende opdrag van Jakobus aan die enkelinge en die gemeente is: “Wees as Christene en as gemeente volkome en onverdeeld.” Die dreigende vorme van tweespalt, van konflik, sowel in die gelowiges as in die gemeente, moet bestry word deur integrasie, moet plek maak vir heelheid, heil, vrede, volkomenheid” (Prof. Dirkie Smit).

Ons weet dat die vroeg-Christelike gemeentes in die Griekse wêreld met ingrypende probleme van solidariteit en integrasie te doen gehad het. Die gemeentes het doelbewus gekies om mense uit alle vlakke van die samelewing, stande en klasse tot hulle geledere toe te laat. Almal was welkom in Jesus se Naam. Dit het noodwendig aanleiding gegee tot die ontstaan van konflik en die moontlikheid van skeuring. “Dit is hierdie soort probleme wat Jakobus wil aanspreek in sy oproepe om ‘n volkome en heel, ‘n volmaakte en geïntegreerde gemeente” (Prof. Dirkie Smit).

Jakobus is dus nie besig om ons maar net goeie maniere te leer nie. Hy is besig om die vesel, die gom, die bindkrag van die evangelie te beskryf. Die evangelie bind mense saam tot ‘n liefdesgemeenskap waar daar nie ruimte vir sosiale vooroordeel en klasseverskil is, en waar mense nie gevoelloos nie, maar mekaar met empatie dien.

Vooroordeel en onderskeid

Die eerste slaggat vir die heelheid wat die evangelie tussen mense skep, is vooroordeel en onderskeid op grond van mense se voorkoms.

Jakobus het die vorige hoofstuk afgesluit met die woorde:
Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld (1:27).

Geen gelowige of gemeente kan egter weeskinders en weduwees (versamelname vir die armes) in hulle moeilike omstandighede bystaan solank hulle op grond van uiterlike voorkoms onderskeid maak tussen mense, en op grond daarvan die rykes ophemel en die armes minag nie.

Die kerk kan nie die kerk vir die armes wees solank die kerk uiterlik beoordeel en ekonomiese rykdom idealiseer nie. As ons ‘n ophef maak van mense met deftige klere, en hulle voor laat sit, maar vir die armes laat staan ons doer agter (2-4), is ons nie die kerk nie.

Hoe die kerk kyk en beoordeel, bepaal die kerk se bediening. God se kyk bepaal ook sy bediening. Sy kyk bevestig sy deernis met die weduwee, weeskinders en vreemdelinge. Dit moet ons kyk bepaal, anders as wat die wêreld doen. Daarom sê Jakobus ons moet ons vry hou van die besmetting van die wêreld. Die partydigheid van die wêreld is ‘n partydigheid vir die ryke.

Trappe van vergelyking vir vooroordeel

Gordon Allport, ‘n sielkundige, het ‘n groot bydrae oor ons verstaan van vooroordeel gemaak. Hy het sy Skaal van Vooroordeel en Diskriminasie in 1954 gepubliseer. Allport se skaal maak voorsiening vir mindere tot meerdere vooroordeel en diskriminasie. Dit bestaan uit die volgende vyf vlakke of trappe:

1. Negatiewe taal: Die een groep maak bv. grappies oor die ander, wat negatiewe stereotipes en beelde verwoord. Dit kan haatspraak wees, maar word deur diegene wat die taal gebruik gewoonlik as skadeloos gesien. Dit mag dalk nie fisieke skade aanrig nie, maar dit dek die tafel vir erger vorme van vooroordeel.
2. Vermyding: die een groep vermy die ander doelgerig, en rig skade aan deur die isolasie van die ander.
3. Diskriminasie: Daar word teen groepe gediskrimineer deur hulle geleenthede en dienste te ontsê, en gee so hande en voete aan vooroordeel. Hierdie gedrag rig doelbewus skade aan die ander groep aan deur hulle die bereik van bepaalde doelwitte te ontsê, opleiding te ontvang, of werk te bekom.
4. Fisiese aanvalle: Vandaliseer ander se eiendom, gewelddadige aanvalle op die ander.
5. Uitwissing: etniese suiwering is ‘n voorbeeld van waar vooroordeel en diskriminasie eindig.

Groeiende angs oor die ander, en depersonalisasie van die ander is belangrike faktore. Mense sien nie meer die ander as ‘n mens nie. Wanner mens die lang messe trek, dink hulle nie hulle val ander mense aan nie.

God keer die orde om

Vooroordeel is ‘n ernstige saak, want dit groei so maklik en gaan van kwaad na erger. Jakobus verwys na die arme wat deur die gemeente met minagting behandel word – net omdat hy/sy uiterlik nie ryk vertoon nie. Dit terwyl die rykes “julle” (die gemeente) uitbuit en voor die hof sleep. Mens herken minstens die eerste drie vlakke van Allport se skaal in Jakobus se beskrywing.

God keer egter die orde om. God kies juis diegene uit wat arm is in die oë van die wêreld om ryk in geloof te wees en die koninkryk te beërwe. Hy verwys na die uitspraak in Jesus se Bergrede waar Hy hulle geleer het: “Geseënd is dié wat geestelik arm is, want hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Matt. 5:3). Of soos Lukas dit weergee: “Geseënd is julle wat arm is, want die koninkryk van God behoort aan julle.” (Luk. 6:20).

Jakobus lê dit uit as aanduiding van God se keuse vir armes in die wêreld om ryk in die geloof te wees. Hy bevoordeel dus armes om hulle afhanklikheid van Hom beter te besef. Rykes daarenteen is baie keer juis dié mense wat armes uitbuit en voor die gereg sleep. Daardeur word die goeie Naam van die Here belaster wat oor hulle uitgeroep is. Rykes moet dus leer om armes met die oë van God te sien, en om deur armes ook die genade van God raak te sien.

Dit beteken dat mense wat aktief onderskeid maak op grond van uiterlike voorkoms, en die ryke voortrek bo die arme, met God self te doen kry. Jakobus skroom nie om dit sonde en oortreding van God se wet te noem nie.

In God se gemeente is die strewe eenheid, heelheid, liefde, versorging en diens. Daar kyk ons op ‘n ander manier na mekaar. Vooroordeel moet met wortel en tak uitgeroei word. Dit gebeur deurdat ons met God se oë leer ken en in God se Naam kontak en gemeenskap opsoek – sonder onderskeid.

Die Here van heerlikheid

Jakobus begrond sy oproep in die feit dat die Here Jesus Christus die Here van die heerlikheid is. Hy is die Kurios, die Here, die soewereine God, die een wat baie hoër in status as die aardse kurios is, die keiser.

Jesus se heerlikheid bestaan egter, anders as die keiser, in diens aan en deernis met sy naaste. Dieselfde diensbaarheid en deernis moet dus die geloofslewe van die geloofsgemeenskap kenmerk. Ryk mense mag nie bevoordeel word bó armes nie. God kyk nie na die uiterlike nie, sy gemeente ook nie.

Afhanklikheid van beide ryk en arm

Dit is duidelik dat God anders oor mense oordeel. God sien mense in hulle nood en afhanklikheid van Sy sorg. Dit is wat beide ryk en arm moet leer: hoe afhanklik ons van God is. En dis veral rykes wat by armes afhanklikheid van God kan leer. By God ontmoet arm en ryk mekaar op dieselfde plek: hulle gemeenskaplike afhanklikheid.

God ontmoet mense in hulle gemeenskaplike en wesenlike posisie van nood, naamlik armoede en afhanklikheid voor Hom. In hierdie ontmoeting bevestig God die armes as mense met aansien. Terselfdertyd ontmoet Hy die rykes in hulle rykdom en bevestig hulle armoede: hulle is net so afhanklik van God se sorg as ander mense.

Die gemeenskap van die gelowiges is die plek waar dit sigbaar gestalte moet kry. Daarom is God se gemeente die plek waar almal God se versorging en liefde moet uitleef.

Empatie vir die medemens in nood

Vooroordeel is ‘n slaggat waarin God se gemeente kan vasval. Net so kan ‘n gebrek aan empatie ‘n enorme slaggat word waarin ons geloof kan sterf. Vir Jakobus illustreer dit geloof wat dood is sonder dade. Geloof moet met dade bevestig word. Geloof wat nie uitmond in aksie nie, is eintlik dood:

Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (15-17).

Vooroordeel en foutiewe beoordeling van ander (die eerste slaggat) wis alle empatie met die medemens uit (die tweede slaggat). Mens sou vir ‘n honger en naakte medemens kon sê om te gaan warm en versadig word, sonder om iets konkreet aan sy nood te doen.

Die beginsel is duidelik: geloof moet uitmond in aksie. Die voorbeeld en toepassing is enorm belangrik: empatie is die vermoë om ander sonder sosiale diskriminasie raak te sien en in beweging te kom vir ander mense. Om prakties te help.

Só onderhou jy werklik die wet van die koninkryk van God soos dit in die Skrif staan: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (8).

‘n Agenda vir ons gemeente

Suid-Afrika beleef stormagtige tye. Sosiale onderskeid op grond van ras, klas en stand kenmerk ons samelewing al vir baie lank. Niemand in ons land is onskuldig as dit by vooroordeel en neersien op ander kom nie.

Ons leef ook in ‘n see van armoede waarin mense vasgevang is, sonder dat daar veel mense is wat omgee.

Intussen voel baie ons angstig en bekommerd oor ons eie veiligheid en toekoms. Ons kan ter wille van selfbehoud soos die bergklimmers op Everest raak wat op daardie fatale dag in Maart 2006 by David Sharp verbygeloop het, sonder om te help.

Wat beteken dit vir ons om sonder onderskeid en veroordeling na mense in ons eie samekomste te kyk? Wat beteken dit vir verhoudinge in ons land? Hoe kan ons meewerk om die groeiende vooroordeel in ons land teen te werk? Dink aan Allport se vyf vlakke, en hoe katastrofies maklik die een groei, eskaleer tot die ander. Hoe kan ons ‘n teëwig hiervoor wees?

Nie een van ons, nie eers ons gemeente gesamentlik, kan die enorme probleme van armoede in ons land oplos nie. Maar ons het almal kontak met armes, met mense wat minder as ons het. Hoe sou ons hulle kon hanteer – met minder vooroordeel en meer empatie – om hulle lewenslot te verbeter.

Met wie moet ons vriende maak, om ons eie vrees en vooroordeel weg te kalwe? Met wie moet ons hande vat om iets aan die enorme probleme van armoede te doen? Wat moet ons doen om armes in te sluit in ons gemeenskap en daagliks met hulle saam te leef?

Hulle illustreer immers vir ons hoe afhanklik ons almal van God is. En hoe konkreet en prakties die wet van die koninkryk is.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
F256. “Ons Is U Liggaam”
Lied 585 “O Jesus, laat ons nooit vergeet”
Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”

Seën

Respons
Lied 534 “Stuur ons uit, Heer”
F176. “Ek Is Bereid (Stuur My” –Refrein
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis) Teks en musiek: Wian Vos© Brettian Productions

Refrein: (x2)
Stuur my, lei my
om te doen wat U vra.
Wys my, leer my
om ander se laste te dra.
Dankie Jesus vir u liefde.
My laste het U reeds gedra.