Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die liturgie moet die wonderlike mooiheid van God en sy reinheid weerspieël. Daarvoor kan prente, gedigte en liedere gebruik word wat skoonheid uitbeeld.

Ander tekste

Hooglied 2:8-13
8“Luister, daar kom die man
wat ek liefhet!
Hy spring oor die berge,
hy wip oor die rante.
9Die man wat ek liefhet,
maak soos ’n ribbok,
soos ’n takboklam.
Kyk, daar staan hy
agter ons huis se muur,
hy kyk by die venster in,
hy loer deur die latwerk!
10Die man wat ek liefhet, praat,
hy sê vir my:
‘Staan op, my liefling, my mooiste,
kom na my toe!
11Kyk, die reëntyd is verby,
die reën is oor, dis weg.
12Daar is bloeisels in die veld,
dit het tyd geword om te sing;
die tortelduif se stem klink
oor ons land.
13Die voorvye kom al uit,
die wingerde bot en versprei hulle geur.
Staan op, my liefling, my mooiste,
kom na my toe!

Psalm 45:1-2, 6-9
Gedig vir ’n koning
45 Vir die koorleier: op die wysie van
“Lelies”. Van die Koragiete.
’n Gedig. ’n Lied van die liefde.
2Mooi woorde roer in my hart;
ek dra my gedig voor aan die koning;
my tong is soos die pen
van ’n vaardige skrywer.

3U is mooier as alle mense;
oor u lippe vloei net vriendelike woorde,
want u hele lewe lank seën God u.
4Kom, held, maak u reg
vir die stryd,
kom in u koninklike luister.
5Mag u oorwin!
Knoop die stryd aan vir die waarheid
en vir die reg van die hulpelose!
U is geroepe tot magtige dade.

6U skerp pyle laat volke
voor u voete val;
hulle deurboor die hart
van die koning se vyande.
7U troon, verhewe wese,
staan vir altyd vas,
met u koninklike septer
laat u geregtigheid geskied.
8U het die reg lief en u haat
die onreg,
want, verhewe wese,
onder groot vreugde het u God
u bo u tydgenote tot koning
gesalf.
9Die geur van mirre, aalwyn en kaneel
deurtrek al u klere;
musiek uit u ivoorversierde paleis
maak u bly.

Jakobus 1:17-27
17Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie. 18Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het.

Hoor en doen
19My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 20’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. 21Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.

22Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. 23Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ’n spieël kyk: 24hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. 25Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

26As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. 27Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.

Fokusteks

Markus 7:1-8, 14-15,  21-23
Die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte
(Matt 15:1–9)
7  Die Fariseërs en sommige skrifgeleerdes wat van Jerusalem af gekom het, kom toe by Jesus. 2Hulle het gesien party van sy dissipels eet hulle kos met onrein hande, dit is met hande wat nie gewas is nie.

3Die Fariseërs, en tewens die Jode oor die algemeen, eet immers nie as hulle nie eers hulle hande behoorlik gewas het nie. So hou hulle hulle aan die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte. 4En wanneer hulle van die dorp af kom, eet hulle nie as hulle nie eers gewas het nie. Daar is ook nog baie ander oorgelewerde gebruike waaraan hulle hulle hou soos hoe om koppies, bekers, bakke en stoele te was.

5Die Fariseërs en die skrifgeleerdes vra Hom toe: “Waarom handel u dissipels nie volgens die oorgelewerde gebruik van die voorgeslagte nie en eet hulle met onrein hande?”

6Hy antwoord hulle: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom. Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan:
Hierdie volk eer My
met hulle mond,
maar hulle hart is ver van My af.
7Dit help niks dat hulle My
probeer dien
deur leerstellings van mense
as gebooie van God voor te hou nie.

8Julle laat die gebod van God los en hou aan die oorgelewerde gebruik van mense vas.”

9Hy het verder vir hulle gesê: “Julle verstaan die kuns goed om die gebod van God opsy te skuiwe en julle oorgelewerde gebruike in stand te hou. 10Moses het gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’  en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ 11Maar julle sê: ‘Iemand kan vir sy pa of sy ma sê: Enige gawe wat u van my sou kon kry, is korban,’ dit wil sê: ‘n offergawe vir God. 12En so laat julle hom toe om hoegenaamd niks vir sy pa of sy ma te doen nie. 13So ontneem julle die woord van God sy gesag deur julle oorgelewerde gebruike wat julle op julle beurt weer oorgelewer het. Daar is ook nog baie ander sulke dinge wat julle doen.”

Wat ‘n mens onrein maak
(Matt 15:10–20)
14Daarna het Jesus weer die menigte nader geroep en vir hulle gesê: “Luister julle almal hier na My en verstaan dit goed: 15Niks wat van buite af in ‘n mens ingaan, kan hom onrein maak nie; maar die dinge wat uit ‘n mens uitkom, dit maak hom onrein.”

17Toe Hy van die menigte af weer huis toe gegaan het, het sy dissipels Hom oor hierdie beeldspraak uitgevra. 18Hy sê toe vir hulle: “So, dan verstaan julle dit ook nie? Begryp julle nie dat niks wat van buite af in ‘n mens ingaan, hom onrein kan maak nie, 19omdat dit nie in sy hart ingaan nie maar in sy maag, en daarna uit sy liggaam uitgaan?” Daarmee het Hy alle kos rein verklaar.

20“Maar,” het Hy verder gesê, “wat van binne af uit ‘n mens kom, dit maak ‘n mens onrein.

21Van binne af, uit die hart van die mens, kom die slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, 22owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid. 23Al hierdie slegte dinge kom van binne af en dit maak ‘n mens onrein.”

Ekstra stof

Markus 6:53-7:23 – Onreinheid het met die hart te make
Jesus-hulle gaan aan wal by Gennesaret, naby Kapernaum.  Die toeloop na Hom neem steeds toe.  Baie mense bring ongesteldes na Hom toe.  Interessant is dat hulle vra om aan die soom van sy klere te raak, soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het. En elkeen wat dit gedoen het, het gesond geword.  Die boonste kleed van mans van daardie tyd het vier tossels, met wit en blou toutjies gevleg, aan die soom gehad (Num 15:38-39), wat hulle moes herinner aan die wet van die Here.  Die moontlikheid is sterk dat mense gedink het dat Jesus se krag daaruit gevloei het.  Die fokus is egter steeds op die geloof van die mense en nie soseer op die magiese interpretasie wat hulle moontlik sou gehad het nie, soos inderdaad die geval was met die vrou.

Die Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem, heel moontlik gestuur om getuienis teen Jesus in te win, maak beswaar teen party van die dissipels wat hulle kos met ongewaste hande eet, wat in hulle oë onrein is.  Die probleem met dié optrede is nie dat die was van hande ‘n goeie (of slegte) gebruik is nie, maar dat hulle dit as ‘n gebod van God voorgehou het.  Jesus wys dit egter af as skynheiligheid, met ‘n aanhaling uit Jesaja 29:13, omdat die geestelike leiers in die praktyk eerder vashou aan sulke oorgelewerde gebruike, en mense so leer en daarvolgens beoordeel, maar uiteindelik glad nie die Here dien nie.  Hy illustreer dit met die gebruik van korban (dit beteken offergawe), waar jy goed waarmee jy vir jou ouers kon gesorg het, vir die Here offer, en só jou verantwoordelikheid, soos die wet van God dit spesifiek uitspel, teenoor hulle kan vermy (vgl 1 Tim 5:4 waar Paulus die riglyn handhaaf om vir jou ouers te sorg).  Gebruike is dus belangriker as God en sy wet.

Jesus praat weer met die menigte, hak aan by die idee dat ongewaste hande jou kan onrein maak en verduidelik met beeldspraak hoe onhoudbaar dié gedagte is.  Markus vertel nie vir ons wat die skare daarvan gedink het nie, maar die dissipels het weereens verdere onderrig nodig om dié beeldspraak te verstaan.  Markus maak egter die gevolgtrekking, wat in ander NT geskrifte nagevolg sou word, dat Jesus met dié beeldspraak en onderrig alle kos rein verklaar het.  Die wetsriglyn word dus van ‘n blote uiterlike reëling verdiep na ‘n innerlike riglyn: dit is nie kos wat jou onrein maak nie, maar die gedagtes van jou hart.

Vergelyk die soortgelyke lering wat God vir Petrus gee met die oog op sy getuienis aan Kornelius in Handelinge 10:15.  Jesus is besig om hier sekere beginsels vir die koninkryk neer te lê wat ‘n groot impak sou hê op sy eie bediening (vergelyk die gesprek met die Griekse vrou van Siro-Fenisië net hierna) en die bediening van die kerk aan heidene. Die evangelie is bedoel vir almal, en die hou van oorgelewerde Joodse gebruike sou die ontvangs van die evangelie belemmer het.

Interessant genoeg is die 1ste 6 van die lys van 12 slegte gedagtes in die meervoud en die laaste 6 in die enkelvoud wat ‘n mens nie in die vertaling kan optel nie (onkuishede, diefstalle, moorde, owerspelle, hebsugte, kwaadwillighede).  Let op dat die lysie volledig met die tweede tafel van die wet verbind kan word:

  • diefstal – Jy mag nie steel nie (8ste gebod);
  • moord en kwaadwilligheid  – Jy mag nie moord pleeg nie (6de gebod);
  • onkuisheid, owerspel, losbandigheid – Jy mag nie egbreuk pleeg nie (7de gebod);
  • bedrog, kwaadpratery – Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie (9de gebod);
  • hebsug, afguns (“evil eye” – Jode het die gesegde nie met ‘n vloek geïdentifiseer nie, maar met afguns) – Jy mag nie begeer nie (10de gebod);
  • Die 5de gebod – eer jou vader en jou moeder – is reeds met die korban-afwysing op die tafel gesit.
  • Hoogmoed, wat volgens sommige die ergste sonde is, en ligsinnigheid (“lack of moral sense”, dws morele dwaasheid) oortree eintlik alles in die wet, dit is om jouself en jou gebruike en gedagtes hoër te ag as God se geopenbaarde wil.

Die NT het verskeie sulke lysies: Rom 1:29–31; 1 Kor 5:10–11; 2 Kor 2:20–21; Gal 5:19–21; Kol 3:5–8; 1 Tim 1:9–12; 2 Tim 3:2–5.

Matteus
Lukas het nie hierdie drie perikope nie.  Matteus het weereens ‘n ekonomie van woorde met die eerste perikoop oor Jesus se genesings in Gennesaret, laat in die tweede perikoop die uitgebreide kommentaar van Markus oor die oorgelewerde gebruike weg, moontlik omdat sy Joodse lesers dit in elk geval sou geken het, en konsentreer op die beskrywing en afwysing van die korban-gebruik.

Die derde perikoop oor die onderrig van die dissipels hieroor verskil heelwat van Markus se weergawe, hoewel die breë hooftrekke dieselfde bly.  Matteus vertel dat die dissipels opgemerk het dat die Fariseërs hulle vererg het oor Jesus se lering, en vra Hom uit daaroor.  Jesus spreek dan ‘n verdoemende oordeel oor hulle as blinde leiers uit, wat geïgnoreer moet word.  Matteus noem ook die lysie van slegte gedagtes, maar verkort dit en plaas dit in ‘n ander orde.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord
Seëngroet  

Lied 597 “Dié met helder witte klere 1,2,3,4,5”

Wet: Jakobus 1

Skuldbelydenis 

Vryspraak: Romeine 5:1

 Geloofsbelydenis

Loflied
Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2” en/of
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Markus 7:1-8, 14-15

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”

Seën: Psalm 125

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Aanvangswoord 
Wie het die reg
om in u woonplek te kom, Here?
Wie mag op u heilige berg vertoef?
2Hy wat onberispelik wandel
en doen wat reg is… (Uit Psalm 15)

Seëngroet
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!
(1 Timoteus 1:2)

Lied 597 “Dié met helder witte klere 1,2,3,4,5”

Wet: Jakobus 1
Hoor en doen
19My liewe broers, dít moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie. 20’n Mens wat kwaad word, doen nie wat voor God reg is nie. 21Daarom moet julle al die sedelike vuilheid en ongeregtigheid opruim wat so welig tier, en ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want dié woord kan julle red.

22Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. 23Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ’n spieël kyk: 24hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. 25Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ’n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen.

26As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos. 27Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.

Skuldbelydenis
5Ja Here, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen sondig ek
en doen ek verkeerd is in u oë.
U uitspraak is altyd reg
en u oordeel regverdig.

Ek weet: U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.

9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
Laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.
(Uit Psalm 51)

Vryspraak: Romeine 5:1
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus.

Geloofsbelydenis

Geloofsbelydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes. Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.

Loflied                
Lied 197 “Wonderbare Koning 1,2” en/of
Lied 199 “Loof die Here uit die hemel vs 1,2,3”

Liedere

F225. “Heer Ek wil U Aanbid”
(RUBRIEK: Flammikidz – Gebed)
Oorspronklike titel: Heer, ik wil U aanbidden
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2007 Johan Engelbrecht
© 2001 Celmar Music

Refrein:
Heer, ek wil U aanbid in
alles wat ek doen
nie alleen met woorde
of deur te sing, maar U te dien.
Heer, ek wil U verheerlik
eerlik en opreg
diep vanuit my hart
want my hart is wat U sien.

Mense sien die buitekant
maar U kyk regdeur my
U sien waarom ek dinge doen
en of ek anders bedoel daarby

Refrein:

Leer my om deur alles heen,
deur blydskap, pyn en vrees,
te lewe soos wat U dit wil
om (so) ’n kind na u hart te wees

F2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1978  Bob Kilpatrick Ministries

Met ons lewens wil ons U eer,  Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

God praat met ons en ons luister

Epiklese              
Mag geeneen van u wonderbare werke
ophou om U te loof nie,
God van skoonheid en wonders –
nie in die nag nie, en nie in die môre nie.
Laat die skitterende sterre,
die majestueuse berge,
die onpeilbare dieptes van die see,
die bruisende golwe,
die singende waterstrome –
almal losbreek in sang en lof aan U,
die Skepper van dit alles:
Vader, Seun en Heilige Gees!
By die engele voor u troon
voeg ek ook my stem:
Amen! Amen! Amen!
Mag en majesteit,
heerlikheid en eer kom U toe,
skenker van eindelose genade.
Amen! Amen! Amen!
(’n Doksologie uit Egipte 3e eeu
uit Die Groot Gebedeboek, bl 220)

Skriflesing: Markus 7:1-8, 14-15

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Lees die eerste deel van die fokusteks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Moenie die Bybel Verdraai nie
7     1–4 Belangrike godsdienstige leiers* uit Jerusalem kom op ’n dag na Jesus toe. Hulle het gesien party van sy dissipels* was nie hulle hande voor hulle eet nie. Volgens die Joodse wette* mag mens nie iets eet as jy nie jou hande gewas het nie. Hulle het hierdie reëls vir baie jare gehou. Hulle koppies, bekers, panne en stoele moes ook gewas word voordat hulle dit gebruik.

5 Die mense uit Jerusalem vra toe vir Jesus: “Hoekom luister jou dissipels* nie na ons wette* nie? Hulle eet met hande wat nie skoon is nie. Dit maak God kwaad.”

6–7 Jesus antwoord: “Jesaja was reg toe hy gesê het dat God niks van skynheiliges soos julle hou nie. God sê in die Bybel:

‘Hierdie mense sê al die regte dinge voor My,

maar hulle dien My nie met hulle hart nie.

Hulle hou ’n klomp reëls wat hulle self uitgedink het.’

Kom ons dink oor wat Jesus gesê het en nie gesê het nie…

Jesus het nie gesê ons hoef nie hande te was nie. Dit is goed en reg om gereeld jou hande te was. Was jou hande telkens voordat jy eet, elke keer as jy in die badkamer was. Was jou hande as jy buite gespeel het en dan binnekom.

Om gereeld jou hande te was het niks met godsdiens te doen nie. Eerder met higiene of om skoon te leef. Want kieme sit graag vas aan ‘n mens se hande.

Wat Jesus wel gesê het is dat ons harte vir hom belangriker is as ons hande. Dis belangrik om die Here van harte lief te hê en Hom te dien deur te doen wat Hy oor die algemeen van ons verwag. Om Hom en ons medemens van harte lief te hê.

Gebruik die inkleurprent oor hande.

Preekriglyn

In die Mediterreense wêreld waarbinne die Nuwe-Testamentiese gebeure afspeel, was eer en skaamte belangrike waardes. Mense se eer was afhanklik van hulle goeie naam in die openbaar. Eer kon onder andere verwerf word deur openbare debatte. Hier het mense mekaar uitgedaag tot debatvoering en twisgesprekke.

Die uitdaging het gewoonlik begin met ‘n vraag gevolg deur ‘n opmerking in die vorm van ‘n belediging of beskuldiging. Indien die een wat uitgedaag is nie met ‘n goeie teenvraag of antwoord kon kom nie, het hy/sy die strydgesprek verloor. Aan die einde van so ‘n debat is die wenner gewoonlik bepaal deur die aanwesiges se applous of hulle mondelinge opmerkings oor wie die wenner volgens hulle oordeel was. Ons Skrifdeel beskryf sodanige situasie.

Oorgelewerde gebruike

Een van die uitdagings van Markus 7 is dat, indien jy nie ‘n Jood van destyds was/is nie, jy baie moeilik die boodskap van die teks sou verstaan. Dit is ook hoekom Markus hier ‘n volledige verduideliking gebruik (reiniging) wat vir die gemiddelde Jood alledaags was. Hy onderbreek sy verhale van wonderwerke en genesings om te fokus op ‘n sensitiewe saak, naamlik oor hoe Jesus en sy volgelinge die Judaïsme (Joodse geloof in God) interpreteer en in die praktyk uitleef.

Deel van die oorgelewerde reinigingsgebruike destyds was dat hande, voete, koppies, bekers, bakke en stoele op ‘n sekere manier gewas moes word. Op die oog af, klink dit heel billik.

Tog verdien ten minste drie sake ons aandag:

  • Wanneer Jesus gevra word hoekom  sommige van sy dissipels nie die “normale” reinigingsgebruike nakom nie, praat Jesus oor mense wat eerder menslike tradisies en gebruike nakom en nie doen wat in God se Woord staan nie (v 8 volg na sy aanhaling uit Jes 29:13 wat juis handel oor die verskil tussen opregte en oppervlakkige godsdiens).
  • Die debat tussen Jesus en die Fariseërs het ook gehandel oor twee uiteenlopende standpunte van wat dit sou beteken om ‘n goeie Jood in die eerste eeu te wees. Hier het dit (juis in die konteks van die eerste eeu) nie net oor leerstellinge gegaan nie, maar ook oor politieke agendas.
  • ‘n Ander saak wat hier na vore kom, is: Watter leefstyl en voorbeeld eer God? ‘n Leefstyl gevorm deur die Woord (wat Jesus impliseer), of ‘n leefstyl (wat vir bykans 2 eeue deur die Fariseërs geleer is) wat gevorm is deur ‘n mengsel van politieke en godsdienstige agendas.
Joodse leiers uitgedaag

Dit het nie vir Jesus gegaan oor kliniese “Skrifprediking” wat koud staan teenoor die tradisie nie. Nee, sy hele aankondiging dat die “koninkryk van God” naby gekom het, maak dat Hy die Fariseërs uitdaag in hulle verstaan van hoe ‘n gelowige se totale lewe (en nie net enkele sigbare handelinge nie) in God se koninkryk, lyk.

Sy wonderwerke en genesing van mense, partytjies met randfigure en verhale oor God se koninkryk het die Fariseërs se tradisies en gebruike van die begin af uitgedaag. In God se nuwe ryk is daar nie plek vir die uitgediende reinigingshandelinge van die Fariseërs nie. Die koninkryk is ook wawyd oop vir nie-Jode. Net na ons teksgedeelte (7:24-37) genees Hy die kind van ‘n Siro-Fenisiese vrou en ook ‘n doofstom man. Dit laat die mense sprakeloos!

Verduideliking

Daarom slaan Jesus tydens hierdie gesprek in die openbaar oor na ‘n beeld (soos wat Hy so dikwels gedoen het) om verder te verduidelik dat navolging van Jesus nie in uiterlike aksies en handelinge (alleen) bestaan nie. Jesus rig Hom in vers 14-15 tot die menigte deur die gebruik van ‘n eenvoudige beeld. Hy praat nie oor kos wat in mens ingaan nie! Nee! Jy kan eet wat jy wil (revolusionêre uitspraak). Dit maak nie saak nie. Om net op uiterlike (sigbare) gebruike te fokus, is om die punt heeltemal te mis!

Wanneer die dissipels Hom later (17) weer uitvra oor hierdie revolusionêre beeld, verduidelik Jesus eenvoudig. Uiterlike gebruike gaan jou as mens nie verander nie. In hulle geval, kos is kos, en dis dit.  Daarmee het Jesus ook alle kos rein (19) verklaar. Dit is dit wat uit jou hart uitkom wat jou optrede na buite (wat belangrik is) bepaal. Onreinhede uit die hart maak jou onbevoeg om reg voor God en jou naaste te leef. Jesus verskuif dus die klem van die uiterlike, formele en seremoniële, na die sentrum van die lewe, die hart.

Wat Jesus leer

Ons Skrifdeel kan baie verwarrend wees. Jesus leer nie dat uiterlike dade verkeerd is en innerlike/geestelike sake goed is nie. Dit sou ‘n huidige populêre siening wat wyd as evangelie gekommunikeer word, kon versterk.

Dit verkondiging naamlik dat ons net in kontak moet kom met ons diepste gevoelens en luister na wat ons “hart” vir ons sê. Dan sal ons diepe geluk en sin ervaar. Om gereeld stil te raak en introspeksie te doen is goed, selfs wonderlik! Dit is egter nie die punt nie. Jesus leer dat goeie en slegte uiterlike dade en aksies die gevolg is van wat voortdurend intern met ons aan die gang is.

Rookskerm

Toe streng uiterlike godsdienstige aksies in Jesus se tyd as alles voorgehou is, was dit ‘n rookskerm vir ‘n verarmde innerlike geestelike lewe. ‘n Lewe van aanbidding waar daar net klem op uiterlike aksies ten koste van ‘n ryk innerlike geestelike lewe (en andersom) geplaas word, is nie waarlik aanbidding van die lewende en teenwoordige God nie!

Ons innerlike lewe kan ook nie geïsoleer word van uiterlike dade en aksies nie. Nee, ook ons innerlike lewe het die vorming van die Gees van God nodig. Vers 21 en 22 spel duidelik die sigbare dade na buite as vrug van ‘n siek innerlike lewe uit: “. . . slegte gedagtes: onkuisheid, diefstal, moord, (22) owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid . . .”

Dit is skrikwekkend dat gereelde kerkbywoning, stewige dankoffers en ‘n aktiewe lidmaatskap soms ‘n manier kan wees (hoe onmoontlik dit dalk ook vandag in ‘n postmoderne tyd kan klink) om ‘n innerlike bankrot geestelike lewe te verdoesel!

NT Wright wys daarop dat Jesus in die teksgedeelte nie met ‘n direkte oplossing vir die probleem na vore kom nie. Dit is eers in Markus 10:5 dat Jesus kom met ‘n oplossing vir verharde harte wat herstel kan word, sodat die dade daaruit meer en meer koninkrykgerig kan wees.

Dit alles is egter voor die hand liggend. Is dit al wat ons hieruit leer? Wag, daar is meer. Heelwat meer!

Gebruike en identiteit

Die Jode het sekere gedragskodes en gebruike gehad waardeur hulle aan heidene rondom hulle gewys het dat hulle anders is. Dat hulle anders leef en eet. Dat hulle anders aanbid!

Maar wat nou gemaak as die koninkryk van God vir alle mense is? As God in Jesus die deur opnuut oopgooi vir alle mense – maar dan wel “alle mense”! Bekeer julle en glo. Wat maak ‘n mens dan met eeue oue rituele en simbole van aanbidding? Dit is juis Markus se punt. Simbole oor water en kos, rein of onrein, raak irrelevant. Daarom ook die uitspraak in vers 19 dat alle kosse rein is!

‘n Eeue oue gebruik word terwille van die koninkryk van God oorbodig verklaar! Ou gebruike (wat Jode en nie-Jode van mekaar geskei het) word irrelevant binne die raamwerk van die koninkryk van die een God van beide Jode en nie-Jode. Dit sou egter nie sommer net so aanvaar word nie. Ons sien ook in van die briewe in die Nuwe Testament hoe Paulus moeilike kwessies (soos die besnydenis) waaroor daar baie warm debatte was, moes aanspreek.

Jesus voltooi

Het hierdie gebruike as voorskrifte vir aanbidding in die Bybel (Torah) voorgekom? Ja! Het Jesus dus die voorskrifte verander (ten spyte van die feit dat dit in die Bybel voorgekom het)? Ja! Jesus kom lig uit dat uiterlike gebruike nie die mens gaan verander nie, maar wel die koninkryk van God. In Jesus is die voorskrifte en gebruike van die ou verbond voltooi, sodat navolgers van Jesus op ‘n nuwe manier in God se koninkryk kan leef. Dit verander hoe ons die Bybel lees en ons leefstyl vandag as Christene in God se nuwe wêreld.

Die avontuur vir gelowiges en die kerk is om voortdurend biddend met die Bybel om te gaan. Aan die eenkant om te weet watter beloftes in Jesus waar geword het, en om aan die anderkant getrou te leef as navolger van Jesus aan die boodskap van God in die hier en nou (2018 en verder). Tekste soos Johannes 16:12-13 help ons as gelowiges en kerk om die avontuur van die reis in God se koninkryk te verstaan. Voortdurend ontdek. Voortdurend leer. Voortdurend groei in ons verstaan van ons rol in die koninkryk van God.

Uiteindelik sal uiterlike dade, houdings en gebruike in hierdie voortdurende reis getoets word. Niks kan stagnant bly (ook in die aanbidding van God) net omdat daar ‘n lang tradisie daaragter is nie.

Om trou te bly aan God, moet ons voortdurend ons gebruike en sieninge toets aan die Woord van God, en seker maak ons gee reg uitdrukking aan die bedoeling van God se evangelie.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankie
, Here, dat ons vandag in die erediens in u Woord kon deel.
Stuur ons om ’n lewe van liefde en diens daarbuite in die wêreld te leef.
Laat ons u Woord vir die wêreld word Here,
maak ons u “boodskap” na die wêreld en nie net draers daarvan nie.
Amen.

Offergawes

Wegsending: Lied 521 “Erkentlik deur die dae vs 1,2”

Seën:Uit Psalm 125
Hulle wat op die Here vertrou,
Is soos die Sionsberg wat nie wankel nie.
Soos Jerusalem omring word met berge,
omring die Here sy volk van nou af tot in ewigheid.
Vrede oor Israel
of
Here, ons sal u boodskap aan die wêreld wees,
en as u Woord weerklink.
Ons sal u tafel in die wêreld wees
met brood vir die wat honger is
en water vir die wat dors.
Christus –
deur u offerbrood deel ons aan u liggaam
en die offerdrank is ons deel aan u bloed.
Dankie Here, dat U deur Christus
by ons deernis vir ander wek.
Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: ©Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.