Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Jeremia 8:18-9:1
Ek is in die rou
18My smart oorweldig my,
ek is hewig ontsteld.
19Hoor hoe benoud roep my volk
uit ’n ver land:
“Is die Here nie meer in Sion nie?
Is Sion se koning nie meer
in hom nie?”
Waarom tart hulle My
met hulle afgodsbeelde,
met hulle vreemde nikswerd gode?
20“Die oes is af, die somer is verby,
en ons is nog nie gered nie.”
21My volk se wonde is ook my wonde, ek is in die rou, deur angs oorweldig. 22Is daar nie balsem in Gilead nie? Is daar nie ’n dokter nie? Waarom het my volk nie gesond geword nie?

9 Ag, was my kop maar vol water en my oë ’n fontein met trane, dan sou ek dag en nag huil oor my volksgenote wat gesneuwel het. 2Ag, was daar maar in die woestyn ’n herberg dat ek my volk hier kon agterlaat en van hulle af kon weggaan daarnatoe. Hulle is almal egbrekers, ’n klomp ontrou mense.

Psalm 79:1-9
Help ons, o God, ons Redder
79 ’n Psalm van Asaf.
Heidene het u land binnegedring,
o God,
hulle het u heilige tempel ontwy
en Jerusalem in puin gelê.
2Hulle het die lyke van u dienaars
aan die voëls gegee om te vreet,
die vleis van u troue dienaars
aan die wilde diere.
3Hulle het die bloed van u dienaars
rondom Jerusalem laat vloei soos water.
Niemand het hulle begrawe nie.
4Ons het ’n bespotting
vir ons buurvolke geword,
ons word gespot en uitgejou
deur almal rondom ons.
5Hoe lank sal dit nog aanhou, Here?
Sal u toorn dan vir altyd duur,
u woede soos ’n vuur bly brand?
6Laat u gramskap die heidene tref:
hulle dien U nie;
laat dit die koninkryke tref
wat u Naam nie aanroep nie.
7Dit is hulle wat vir Jakob
tot niet gemaak
en sy woonplek verwoes het.
8Moet tog nie die ongeregtighede
van vorige geslagte
op ons laat neerkom nie,
ontferm U tog gou oor ons,
want ons kragte is gedaan.
9Help ons, o God, ons Redder,
ter wille van die eer van u Naam,
red ons, vergewe ons ons sondes
tot die eer van u Naam.

1 Timoteus 2:1-7
Onderrig oor die gebed
2 Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, 2vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. 3So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, 4wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. 5Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus 6wat Homself as ’n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. 7Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as ’n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie.

Fokusteks

Lukas 16:1-13
Die gelykenis van die oneerlike bestuurder
16 Jesus het vir sy dissipels ook gesê: “‘n Ryk man het ‘n bestuurder in diens gehad, en dié is by hom aangekla omdat hy sy geld verkwis het. 2Hy ontbied hom toe en sê vir hom: ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer bestuurder wees nie.’3Die bestuurder dink toe by homself: wat moet ek nou doen, want my werkgewer neem die bestuurderskap van my af weg. Vir handearbeid sien ek nie kans nie; en om te bedel, skaam ek my. 4Maar wag, nou weet ek wat ek sal doen sodat daar mense sal wees wat my in hulle huise sal ontvang as ek uit die bestuurderskap ontslaan is. 5Toe roep hy die skuldenaars van sy werkgewer een vir een en vra vir die eerste: ‘Hoeveel skuld jy my werkgewer?’6Hy antwoord: ‘Honderd vate olyfolie.’ Toe sê hy vir hom: ‘Vat jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig.’7Daarna vra hy vir ‘n ander een: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord: ‘Honderd sak koring.’ En hy sê vir hom: ‘Vat jou skuldbewys en skryf tagtig.’

8“Die werkgewer het die oneerlike bestuurder geprys vir die slim ding wat hy gedoen het. Die mense van hierdie wêreld tree onder mekaar slimmer op as die mense van die lig.

9“En Ek sê vir julle: Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.

10“Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik. 11As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou? 12As julle met ‘n ander man se goed nie betroubaar is nie, wie sal dan iets aan julle gee om as julle eie te besit?

13“Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie.”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Aanvangswoord: Psalm 105

Seëngroet : Lukas 18

Sang 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Verootmoediging
Temas van sonde, straf, ballingskap, belydenis, vergifnis, hoop en verlossing.

Sonde: (uit Jer 4:22)§

Belydenis: (uit Ps 79:9)

Vergifnis: (Ps 91:14-16)

Nuwe lewe: (uit Jer 29:10-1)

Toewyding: (Luk 16:13)

Geloofsbelydenis: (Kort)

Loflied 212 “Loof die Heer Hy is goed 1,2,3”

Epiklese: (Ahv Jes. 55)

Skriflesing: Lukas 16:1-13

Familie-oomblik
Prediking

Gebed: (Luk 17:15-16).

Offergawes

Wegsending: Lied 442 “Gees van God wat in my woon vs 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 209 “Heer met my hele hart 1” 

Aanvangswoord: Psalm 105
31Mag daar aan die roem van die Here
geen einde wees nie!
Mag die werk van die Here
Hom vreugde verskaf

Seëngroet: Lukas 18
Die Here groet u met liefde en met verlossing.
Genade en vrede vir elkeen van julle.
Hy wil sy geroepenes help, en gou ook

Sang: Lied 411 “Kom almal laat jul stem verrys vs 1,2,3”

Verootmoediging
Temas van sonde, straf, ballingskap, belydenis, vergifnis, hoop en verlossing.

Sonde
My volk tree dwaas op, hulle erken My nie, hulle is moedswillige kinders, sonder enige begrip van wat Ek doen. Hulle is net slim as dit kom by verkeerd doen, van goed doen wil hulle niks weet nie (uit Jer 4:22).

Belydenis
Help ons, o God, ons Redder,
ter wille van die eer van u Naam,
red ons, vergewe ons ons sondes
tot die eer van u Naam (uit Ps 79:9).

Vergifnis 
“Omdat hy My lief het, sal Ek hom red,” sê die Here, “omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm. Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel. ’n Baie lang lewe sal Ek hom gee en oor my hulp sal hy hom verbly” (Ps 91:14-16).

Nuwe lewe 
So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring. Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra. Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit (uit Jer 29:10-1).

Toewyding 
“Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal òf die een minder ag en die ander een hoër, òf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God en Mammon dien nie” (Luk 16:13).

Geloofsbelydenis: (Kort)
Die Here is ons God.
Hy is die Here van die heersers.
Hy is die Vader van sy volk wat op pad is.
Hy is die Skepper van die hemel en die aarde.
Hy sorg vir ons.

Sy koninkryk het naby gekom in Jesus van Nasaret, die Messias, ons Here.
Hy het uit die dood opgestaan en roep ons om hom te volg.

Die Gees bewerk die nuwe lewe in ons.
Hy lei ons in die waarheid.
Hy wys vir ons dat ons ons stukkende wêreld mooi moet maak.
Hy gaan saam met ons die toekoms in.

Loflied 212 “Loof die Heer Hy is goed 1,2,3”

Liedere

F4. “O Heilige Gees, Kom Maak My Nuut  “
(RUBRIEK:  Flammikidz)
Teks en musiek: Hanneke Engelbrecht
© 2009 FLAM Uitgewers

O, Heilige Gees, kom maak my nuut.
Kom vul my hele lewe.
O, Heilige Gees, kom maak my nuut.
Kom vul my hele lewe.

F204. “Koning van die Heelal”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Teks en Musiek: P de Wet
© 2007 MAR Gospel Music Publishers

1. Ek hoor die mense sê
miskien het Hy bly lê
En die dinge wat ek glo beteken niks
Maar ek wil hulde bring
Vir ewig gaan ek sing
Want my Koning is nie dood nie
Hy het opgestaan

Refrein:
Hy lewe, Hy lewe!
Hy sal vir altyd lewe
Hy is die Koning van die groot heelal
Die bome, die berge en al die silwer sterre
skyn voor die Koning van die groot heelal

2. Die wêreld is te grys
Die reëls word te veel gebuig
Want hul glo nie in die glorie van my Heer
Maar ons gaan eendag juig want al die
knieë gaan buig
Voor die Koning van die heelal en my hart

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Ahv Jes. 55)
Here- ons is dors-
daarom kom ons na die water toe.
Dankie dat ons selfs sonder geld
kan kom koop en eet;
ja, sonder om te betaal,
kan ons wyn en melk geniet.
Ons wil eet wat goed is
en versadig kan word
met die beste wat daar is.
Dankie dat ons tot u mag nader-
dat ons kan luister en lewe.
Dankie dat U met ons ’n ewige verbond sluit,
dat U U troue liefde aan ons betoon
soos aan Dawid.
Amen

Skriflesing: Lukas 16:1-13

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

’n Moeilike gedeelte vir kinders…
Gebruik die teks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999. Lees dit dramaties voor…

’n Verhaal van ’n Skelm Besigheidsman
16     1–2 Jesus het vir sy dissipels* ’n storie vertel: “Eendag was daar ’n ryk man wat iemand aangestel het om sy winkels te bestuur. Na ’n ruk het die ryk man agtergekom dat hierdie bestuurder nie sy werk goed doen nie. Hy het baie geld gemors. Die ryk man laat weet hom toe: ‘Ek wil weet wat jy met my geld doen. Begin ook maar solank kyk vir ’n ander werk!’

3 “Die bestuurder het geweet hy is in die moeilikheid. Hy dink toe: ‘Wat maak ek nou? Ek gaan my werk verloor. En ek is nie nou lus om in iemand se tuin te gaan werk, of om geld te bedel nie.’

4–6 “Die man maak toe ’n plan. Hy laat kom almal wat aan sy baas geld skuld. Toe die eerste man daar kom, sê hy vir hom: ‘Hoeveel geld skuld jy aan my baas?’
‘Ek skuld hom tien duisend rand,’ sê hy.
Toe sê die bestuurder: ‘Ek maak jou skuld minder. Jy skuld net vyf duisend rand.’
7 Die man roep toe die volgende persoon en vra vir hom: ‘Hoeveel geld skuld jy?’
‘Ek skuld vyf duisend rand.’
‘Jy skuld nou net vier duisend rand,’ sê die bestuurder.
8 “Die ryk man het gehoor wat sy skelm bestuurder doen. Toe hulle later die dag ontmoet, het hy hom nie weggejaag nie. Nee, hy het hom geluk gewens met sy slim plan.”

9 Toe sê Jesus: “Baie mense wat nie luister na wat die Here sê nie, doen sulke skelm dinge. As julle soos hierdie bestuurder is, wag daar groot probleme op julle. Dan sal net die doderyk* vir julle plek hê.

10–12 “Julle moet eerlik wees, ook in die kleinste dingetjies wat julle doen. As julle eerlik is met kleingeld, sal julle ook eerlik wees as julle ’n sak vol geld moet oppas. Moenie agter geld aan hardloop nie. Dit gaan julle oneerlik maak. En dan beteken julle niks vir My nie.

13 “Besluit vir wie julle wil werk: vir God, of vir die geldgod. Julle kan nie albei dien nie.”

Preekriglyn

Jesus is op pad na Jerusalem. Sy werk op aarde sal daar afgehandel word. Hy is besig om die laaste dinge vir sy dissipels te leer. Hulle moet aangaan met die werk, al sal dit lyk asof alles rondom hulle tot ‘n einde gekom het.

Lukas 16:1-8 is waarskynlik een van die mees uitdagende van Jesus se gelykenisse. Dit handel duidelik oor die gebruik van geld en besittings, asook die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan. Hierdie gelykenis is ingesluit tussen twee ander gelykenisse, naamlik die oor “die verlore seun” en oor “die ryk man en Lasarus”.

In al drie hierdie gelykenisse kom die tema van geld aan die orde:

  • Die verlore seun vermors sy geld en kom in die moeilikheid. Die ouer broer is kwaad omdat die vader veel meer spandeer op sy broer, wat alles verkwis, as op hom wat sy pa getrou dien.
  • In die gelykenis van Lukas 16:1-8 beland die bestuurder in die moeilikheid omdat hy sy baas se geld vermors het, en word hy afgedank.
  • Die ryk man beland in die ewige verdoemenis omdat hy in al sy rykdom nie omgesien het na die arme Lasarus op sy stoep nie!
Daar was ‘n ryk man

Jesus begin beide die gelykenis in ons afgebakende Skrifdeel en die gelykenis van die ryk man en Lasarus met die woorde: “Daar was ‘n ryk man.” Hierdie gelykenis is ‘n kort, fiktiewe vertelling wat bedoel is om ‘n geestelike waarheid uit te lig, met ‘n heel onverwagte draai. Ons moenie simboliese betekenis aan elke persoon of gebeurtenis koppel ie. Dis ook nie ‘n voorbeeldvertelling wat wil sê nie: “Gaan en doen net so.”

Indien dit die geval was, sou ons sê Christene moet doen wat die oneerlike bestuurder gedoen het! Dit kan tog nie. Hier word veeleer oor bekering gepraat in terme van die gebruik van geld, besittings en lewensmiddele in die lewe van gelowiges.

Spandabelrig en oneerlik

Ons is geneig om aan die bestuurder as ‘n oneerlike man te dink. Die eerste vers beskryf hom net as spandabelrig. Sy oënskynlike oneerlikheid vind eers in vers 4-7 plaas. Vers 8 beskryf hom as oneerlik. Iemand het hom beskuldig van spandabelrigheid. Hy mors sy meester se geld.

Die gerugte lei tot die bestuurder se ontslag. Die baas vra ‘n oudit. Dit sal sy laaste taak vir die baas wees. Hy staar werkloosheid in die gesig. Hy wil nie handearbeid verrig en ook nie bedel nie. Hy besluit op ‘n plan van aksie wat hom in die goeie boeke sal bring van sy baas se vennote.

Die bestuurder wil in die tyd wat hy nog in sy werk is, die kliënte van sy baas so beïnvloed dat hulle hom steeds in hulle huise sal ontvang nadat sy omstandighede radikaal verander het.

In hulle kultuur was wederkerige vergoeding as ‘t ware verpligtend. Indien die bestuurder aan die kliënte van sy baas ‘n guns gedoen het ,is hulle verplig om hom op soortgelyke wyse te vergoed. Al sou hulle hom nie in diens neem nie, sou hulle hom waarskynlik in hulle huise verwelkom en hom gehelp het om weer werk te kry.

Skuld

Dit is nie duidelik wat die skuld was wat aan die ryk man betaal moes word nie. Daar is verskeie moontlikhede:

  • Dit kon geld wees wat die ryk man aan hulle geleen het.
  • Hulle was dalk huurders wat op die ryk man se grond gebly het.
  • Hulle was miskien oesdelers wat op die ryk man se grond geboer en dan met ‘n deel van die oes vir hom betaal het. Hulle was heel waarskynlik laasgenoemde: oesdelers.

Die omvang van die skuld uit die oeste (6-7) dui daarop dat hulle nie tipiese klein of arm oesdelers was nie, maar waarskynlik groter sakevennote.

Die bestuurder roep hulle een vir een, sodat die skuldenaars nie notas met mekaar kan vergelyk nie. Elkeen sou homself sien as die enkele bevoordeelde in die transaksie met die bestuurder. In vers 6-7 word slegs twee bevoordeeldes genoem. Die bestuurder kon heel moontlik na nog baie ander skuldenaars gegaan het met dieselfde plan.

Groot geld

Die skuld van 3 400 liter olyfolie verteenwoordig die oes van ‘n baie groot olyfboord. Die olie sou maklik 1 000 denarii werd wees. Dis net meer as 3 jaar se salaris van ‘n gewone werker.

Eweneens verteenwoordig 35 000 tot 50 000 liters koring waarskynlik ‘n oes wat minstens twee keer so groot was. Die afslag sou waarskynlik min of meer 2 500 tot 3 000 denarii werd wees. Dit is dan agt of nege jaar se salaris vir ‘n gewone man destyds.

Dit is duidelik dat die eienaar in ‘n groot besigheidsvennootskap met die mense staan. Dis nie gewone mense met gewone huishoudelike begrotings nie. En die afslag wat die bestuurder gee is geweldig:  50% en 20% van groot hoeveelhede.

Drie moontlike interpretasies word aan die hand gedoen vir die bestuurder se optrede.

  • Die bestuurder verneuk sy baas en skryf doodgewoon skuld af.
  • Die bestuurder trek bloot die rente op die bedrag wat geskuld word van die bedrag af (dit word in Deut 23:19-20 verbied). Dit was aanvaarbare gebruik dat ‘n agent sy baas se eiendom uitverhuur teen ‘n bepaalde rente, wat dan by die oorspronklike bedrag gevoeg is en as een bedrag in die kontrak geskryf is; Die lening is byvoorbeeld R1 000 en die rente R250. Dan is die ooreenkoms geskryf vir R1 250. So is die verbod van Deuteronomium 23 dan omseil.
  • Die bestuurder trek gewoon sy eie kommissie van die bedrag af. Dit beteken hy ly die skade en sy baas verloor niks.

Daar is egter nie eenstemmigheid oor hierdie punt nie.

Kommissie afgetrek?

Die mees aanvaarbare interpretasie is dat die bestuurder net sy kommissie van die bedrag afgetrek het. Dit sou onwaarskynlik gewees het dat ‘n baas sy bestuurder sou prys indien die bestuurder hom so pas met soveel geld besteel het. Dit is dus moontlik om die eertydse oneerlike bestuurder te sien as iemand wat geleer het uit sy foute en wat dan kom met ‘n plan wat wel tot sy eie onmiddellike skade is, maar later veel vrug kan afwerp.

Dit lyk dan of die ryk man die bestuurder prys vir ‘n baie goeie en wyse oplossing. Die bestuurder offer dit wat hy nou kon vat, op. Hy gee dit aan ander, vir die voordeel wat hy later daaruit kan kry. Die waarde van hierdie manier van handel met hulpbronne, is presies wat Jesus later beklemtoon in vers 9.

Skuld afgeskryf?

Daar is egter ook die moontlikheid dat die bestuurder die ryk man verkul het deur doodgewoon die skuld met die geweldige persentasies te verminder. Dit is dan so dat gerugte oor die besondere vrygewigheid van die ryk man vinnig sou versprei en so sy aansien in die gemeenskap baie sou verhoog.

Die ryk man sou dan twee keuses hê:

  • Aanvaar die verlies en geniet die nuwe aansien in die gemeenskap, of
  • herroep die afslag en verloor aansien in die gemeenskap, met die risiko om sy verhouding met die huurders tot niet te maak.

In dié geval sou die bestuurder dan baie slim optree. Die huurders weet dat hy die afslag bewerk het en hulle is dus groot dank aan hom verskuldig. Volgens hulle tradisie beteken dit dan dat van hulle verwag sal word om hom weer op hulle beurt te vergoed. Indien die bestuurder gewoon die geld in sy rekening sou oorbetaal, kon hy vir diefstal tronk toe gaan. As hy egter die huurders die voordeel gee, kan hy nie van diefstal aangekla word nie en het hy nuwe vriende gemaak wat hom baie verskuldig is en hom dus in die toekoms sal kan help.

Imand sê:
The challenge is for us to have the shrewdness to recognize and seize the opportunity that exists in the midst of threat.

Bestuurder geprys

In vers 8 is dit nie heeltemal duidelik of dit die ryk man is wat praat en of dit Jesus is wat aan die woord is nie. Dit word algemeen aanvaar dat dit die ryk man is wat sy bestuurder prys.

Hy prys hom nie omdat hy skelm was nie, maar oor die feit dat hy so slim was. Toe hy die krisis sien kom, het hy onmiddellik planne gemaak vir die toekoms. Gemotiveer deur die nood, het hy homself as vindingryk en beslissend bewys. Sulke versiendheid is prysenswaardig!

Sommige mense het beswaar teen die gedagte dat Jesus ‘n oneerlike bestuurder sou gebruik as ‘n positiewe rolmodel. Tog is daar ook ander gevalle waar Jesus lesse leer na aanleiding van handelinge of optrede van minder eerbare karakters:

  • In die geval van die wyse en dwase maagde (Matt 25:1-13) is die wyse maagde nogal heel selfsugtig, asook
  • in die geval van die man wat ‘n skat in ‘n land ontdek en dan stilbly en die grond gaan koop (Matt 13:44).
  • Ook dat God nie vergelyk kan word met ‘n onregverdige regter nie (Luk 18:1-8).
Leef met wysheid

Jesus sê dat die mense van die wêreld weet hoe die wêreld werk en hulle gebruik dit tot hulle voordeel. Hoekom verstaan kinders van die lig dan nie hoe die koninkryk van God werk nie?

Met Jesus het die koninkryk van God ingebreek in hierdie wêreld in. God se koninkryk is hier en die kinders van God’s koninkryk moet leef soos kinders van die Lig! Hy roep dissipels op om wys te word in die weë van die koninkryk; soos ander mense wys is in die weë van die wêreld. Gelowiges moet die dinge van die wêreld op ‘n nuwe manier gebruik.

Koninkrykskinders leef binne hierdie wêreld waar geld en besittings baie belangrik is vir mense. Koningskinders moet nuut dink en nuut leef. Dit lyk egter of mense in die wêreld meer omgee vir hul fisieke geluk en wel wese as wat die gelowiges omgee vir hulle geestelike lewe en wel wese.

Jesus beklemtoon die punt met ‘n spesifieke voorbeeld in vers 9. Welvaart in hierdie wêreld moet  gebruik word om vriende te maak sodat, wanneer die welvaart verby of weg is, die gelowiges gelukkig sal wees omdat hulle reeds die belang van hierdie dinge prysgegee het. Dit sal dus nie meer vir hulle die grootste verlies in die lewe wees nie. Geld sal nie saamgaan hemel toe nie.

Gebruik geld reg

Dan gee Jesus hulle raad. Die algemeen-geldende reël is om goed te doen in die koninkryk van God. Jesus vertel dat dit moontlik is om “vuil geld” (die geld van die wêreld) te gebruik om hulleself te bevoordeel in die koninkryk van God. Dit is moontlik om “vuil geld” te gebruik op maniere wat God sal behaag en wat gepas is in die koninkryk van God. Kinders van God se koninkryk moet hulleself en hulle rykdom en besittings offer tot diens van God en sy eer. Hulle moet hulle aksies mooi bedink. God moet gedien word!

In die Nuwe Testament word dikwels ‘n teenstelling gemaak tussen liefde vir God en liefde vir besittings of geld. In hierdie evangelie praat Jesus dikwels oor geld en die gevare wat dit meebring. ‘n Verkeerde houding of ingesteldheid teenoor geld en besittings, kan ‘n geestelike ramp beteken.

Finansiële rykdom, wat die mag het om waardes te verwring, moet gebruik word om te dien. Soveel so dat die hemele bly sal wees om die een te ontvang wat gedien het. God eer dié wat vrygewig is. As die einde kom en daar geen geld meer is nie, sal dié wat vooruit gekyk het en daarvolgens met hulle eiendom en rykdom gehandel het, deur te doen wat God van hulle verwag het met die middele wat Hy aan hulle toevertrou het, werklike hemelse vreugde beleef. Hulle skat/rykdom sal in die hemel wees!

Die groter waarheid is dat God die uiteindelike bron van seën is. God sal weet of ons ons middele gebruik het om die armes, die siekes en die kwesbares te help of nie! Ons kan seker wees God sal weet of ons ons “vuil geld” gebruik het om ander se nood te help verlig!

Elkeen kan help

Maak nie saak wat ons omstandighede is nie, elkeen kan help waar daar nood is. Selfs arm mense kan ander help. Diegene wat self hulp nodig het, sien dikwels meer plekke om te help as die welgestelde persoon.

Welgesteldes sien dikwels armoede op ‘n afstand en blameer die mense dan vir hul eie omstandighede, asof hulle altyd self daarvoor verantwoordelik is. Welstand en rykdom gee aan mense die geleentheid om te help. Ons is dikwels in die versoeking om te wag met ons hulp tot ons ‘n groot oorvloed het, dan sal ons dit oorweeg!

Jesus roep ons tot getrouheid in die klein dinge; min geld, min besittings, min verantwoordelikheid. Die lewe bestaan uit klein dingetjies. Min van ons kan die hele wêreld verander, maar ons kan tog veel doen: eerlik besigheid doen; ‘n kind die regte dinge leer; siek mense besoek; gevangenes in die tronk besoek; iemand in nood help.

Hulle aan wie min toevertrou is, kan ook met baie vertrou word. Net so sal dié wat met min oneerlik is, ook met baie oneerlik wees. Wie kan mense vertrou met belangrike dinge van ewige waarde, as hulle nie wêreldse welvaart kan hanteer nie? Ons finansiële vermoëns en hantering van besittings is die toetsgrond vir gehoorsaamheid. Diegene wat in hierdie wêreld volgens die reëls van die koninkryk leef, sal toegang hê tot ware rykdom.

Mammon

Mammon word nie oneerlik genoem omdat dit inherent boos is nie, maar as gevolg van die oneerlike gesindheid wat dit so maklik na vore bring. Indien geld inherent boos was, was almal van ons boos. Die gedagte hier is waarskynlik dieselfde as wat Paulus in 1 Timoteus 6:10 gee, waar hy sê dat die liefde vir geld die wortel van alle kwaad is.

Hier kom ‘n spanning tussen werke en genade na vore. Ons moenie dink ons word deur werke gered nie. Maar ons moet die duidelike waarskuwing hoor oor die belangrikheid van goeie en verantwoordelike bestuur.

Geld kan nie saamgaan hemel toe nie! Dit het beperkte waarde as dit kom by die ewige dinge! Sien dan die beperkinge daarvan en gebruik dit vir ander, nie net selfsugtig nie. Om vriende te maak met behulp van Mammon is om geld so te gebruik dat ander jou sal waardeer vir die manier waarop jy jou verantwoordelikheid, jou liefde en jou mededeelsaamheid, uitleef.

Dis asof Jesus sê: “Jy kan nie in die rigting van oos en wes gelyktydig loop nie! Jy kan nie twee base gelyktydig dien nie.” Geld het ‘n groot aantrekkingskrag, soos ‘n groot magneet, om ons weg te trek van God af. Geld is een van Satan se magtigste wapens om ons van God af weg te skeur.

Jesus roep sy dissipels as ‘t ware op: Kom tot bekering. Werk op ‘n ander manier! As jy in ‘n doodloopstraat is, maak ‘n plan! Gebruik jou geld anders. Die bestuurder, as sy lewe doodloop, gebruik ander se skuld, sy eie kommissie, die aansien van die baas en die gebruike van sy tyd, om ‘n nuwe lewe te begin.

Julle lewe loop tot ‘n einde; dit is nou! Die koninkryk van God is hier. Maak ‘n plan! Kyk na die wêreld en moenie dom wees nie! Gebruik die geld en goed wat jy het, en maak vriende!

Waardevolle hulpmiddel

Geld is ‘n werktuig. Dit is ‘n waardevolle hulpmiddel as dit reg aangewend word. Om baie geld te besit bring die groot verantwoordelikheid om heilige rentmeesters te wees. Rykdom is nie bedoel om privaat gehou te word en selfsugtig gebruik te word nie. Dit is ‘n middel tot vrygewigheid. Dit bied geleentheid om te wys hoe om vir jou medemens om te gee. Soos die barmhartige Samaritaan gedoen het (Luk 10:25-37) en ook soos Saggeus onderneem het om te doen (Luk 19:1-10).

Sodanige verstaan van besittings, is strydig met die waardes van ons kultuur. Ons hoor dat dit wat jy verdien en bymekaargemaak het, jou eie is. Jy kan dit gebruik soos jy wil. Jesus maak dit duidelik dat dit wat ons het, aan ons toevertrou is. God let op die manier waarop ons daarmee werk.

Hebsug en selfsug het so ‘n diep lêplek in die menslike hart dat die boodskap van hierdie teks nie net die bepaalde konteks oorbrug nie; dit bars as’t ware soos ‘n bom binne die lewens van die mense van vandag! Jy kan nie twee here dien nie. Dit geld ons persoonlike lewens, maar ook ons sakebedrywighede en vir kerke en gemeentes vandag.

God stuur ons om te leef

Gebed
En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ’n Samaritaan.

Ons dank U, Here, dat U ons versterk het in ons herinneringe aan u Seun (verlede), in ons belewenis van u Seun (hede) en in ons afwagting (toekoms) op die koms van u Seun. Ons bring aan U al ons lof, ons eer en ons aanbidding. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen (Luk 17:15-16).

Offergawes

Wegsending: Lied 442 “Gees van God wat in my woon vs 1,2”

Seën
Vrede vir julle. Mag dit jou met vreugde vul om deur Jesus Christus geroep, geneem en gestuur te word. Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.