Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Die voortgaande werk van die Drie-enige God en die sentrale plek wat Jesus in die geloof, in die kerk, inneem word in Koninkrykstyd beklemtoon. Hy is Koning en Verlosser, Begin en Voleinder van ons geloof.

Fokusteks

Lukas 15:1-10

Ander tekste

Jeremia 4:11-12, 22-28 (Die natuur vergaan onder die Here se toorn, maar Hy het Hom voorgeneem om dit nie totaal te vernietig nie.);
Psalm 14 (Weens die dwaasheid van soveel mense smag die regverdiges na die verlossing wat uit Sion kom.);
1 Timoteus 1:12-17 (Paulus loof die Here vir sy genade oor hom, die grootste sondaar.)

Lukas 15:1-10
Die gelykenis van die verlore skaap

(Matt 18:12–14)
15 Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

3Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis: 4“Sê nou een van julle het honderd skape en een van hulle raak weg. Wat doen hy dan? Hy laat die nege en negentig in die veld staan en gaan agter die een aan wat weg is, totdat hy hom kry. 5En as hy hom kry, is hy bly en tel hom op sy skouers. 6As hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: ‘Wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was, weer gekry.’7Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Die gelykenis van die verlore muntstuk
8“Of watter vrou wat tien silwermuntstukke het en een raak weg, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? 9En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: ‘Wees saam met my bly, want ek het my geld wat weggeraak het, weer gekry.’10Ek sê vir julle: Net so is daar blydskap onder die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.”

Eksegeties en Hermeneuties

Inleiding
Jesus is op pad na Jerusalem waar Hy uiteindelik gaan sterf en bevestig dat Hy die Here is! Op pad is Hy besig om sy dissipels te onderrig in die eise van ware dissipelskap, maar terselfdertyd beklemtoon Hy ook dat Hy nie met alles en almal saamstem nie. Daarom is hierdie perikoop deel van die sogenaamde reisverhaal wat reeds in Lukas 9:51 begin het.

Om die waarheid dat Hy die Here is by die mense tuis te bring, doen Jesus wonderwerke, onderrig Hy mense en vertel Hy gelykenisse waarvan die drie in Lukas 15:1-32 ons aandag vra, aangesien dit lyk asof dit op een plek plaasgevind het.

Die struktuur hiervan sien soos volg daaruit:
Lukas 15:1-3 Inleiding
Lukas 15:4-7 Gelykenis van die skaap wat weggeraak het
Lukas 15:8-10 Gelykenis van die muntstuk wat weggeraak het
Lukas 15:11-32 Gelykenis van die pa wie se seuns weggeraak het

Al drie hierdie gelykenisse handel oor die tema: wegraak-weerkry-vreugde. Tog is daar volgens Bailey ’n duidelike progressie te bespeur: “At this point we are in the midst of a double progression. In the first story the lost is one in a hundred. In the second story it is one in ten. In the third story it is one in two. The second progression is in regard to the availability of the place where the lost article can be found. The lost sheep is in the wilderness; the coin is confined to the house. But the sons are lost in the circle of a father’s love.”  

Teen hierdie agtergrond kan die prediker oorweeg om dié gedeelte as ’n eenheid te preek, of dit in twee of drie afsonderlike preke te preek. In ieder geval moet die prediking sy hoogtepunt vind in ’n vreugdefees, want Jesus praat van vreugde in die hemel (15:7), vreugde onder die engele van God (15:10), die voorbereiding vir die vreugdefees en die fees self (15:22-25).

Vir die doel van hierdie preekstudie, fokus ons net op die eerste twee gelykenisse.

Teks en Konteks
Die rede vir die twee gelykenisse word gevind in die woord “beswaar” (15:2). Die 1933/1953 Afrikaanse Vertaling vertaal dit met “murmureer”. Dit is dieselfde woord wat die Septuaginta gebruik om die Israeliete se murmurering in die woestyn mee te verwoord. Die Fariseërs en skrifgeleerdes maak beswaar (murmureer) teen Jesus se tafelgenote. Hulle was enersyds die tollenaars (ook bekend as gehate belastinggaarders of meelopers van die vyand). Andersyds was hulle die sondaars (wetverkragters/veragters of onreines). In beide gevalle was Jesus se tafelgenote in die oë van die Fariseërs en skrifgeleerdes, mense met ’n lae sedelike lewenspeil.

Jesus wil God se liefde vir alle mense sigbaar maak. Dit doen Hy binne die konteks van die daaglikse lewe wat gekenmerk is deur sosiale en godsdienstige etikettering. Teenoor hierdie samelewingsverskynsel leef Jesus God se barmhartige liefde, veral vir diegene wat verlore is. God se liefde eis van Hom om dié wat verlore is, te soek. Hy wag nie eers totdat hulle hulleself verbeter het of selfs besef het dat hulle verlore is nie. Hy nooi hulle om terug te keer sonder dat hulle hulle eers “in sak en as moet bekeer” (Gollwitzer). Pörksen beskryf dit raak as hy sê dat ’n skaap volgens wet, self moet teruggaan. Maar volgens die evangelie word die skaap huis toe gedra met ’n lied in die hart.

So word God se Vaderhart geopenbaar as ’n hart vol barmhartigheid wat geen grense ken nie. Dit is nie beperk tot sekere mense of groepe, rasse, geslagte of ouderdomme nie. Sy heil word toegesê aan almal wat verlore is. Verlorenes is ook nie net diegene wat erge sonde pleeg, of die hulpeloses en die wat verag en vergete is nie. Verlorenes is ook hulle wat ’n goeie lewe lei, maar hulle buite die gemeenskap met God bevind. So vind ons dat Jesus selfs die Fariseërs en skrifgeleerdes, dié wat teenoor Hom staan, nooi om terug te keer en te kom deel in die vreugdefees.

Wie sonder God se liefde probeer leef, is verlore. Vir so iemand` wat verlore is, gaan God oorboord met sy liefde (Eseg 34:11–16). In Christus soek Hy die verlorene totdat hy/sy terugkeer en dan verwelkom God hom/haar met ope arms en word ’n vreugdefees met oorgawe gevier. Luther verklaar op grond hiervan dat sondaars mooi mense is omdat hulle voorwerpe van Gods liefde is; hulle word nie liefde gegee net omdat hulle mooi is nie. Juis in God, wat die een soek wat verlore is, vind die een sekerheid, lewe. Dit is nie mense wat God soek nie. Dit is God wat in Jesus Christus mense soek. Dit vorm die hoeksteen van sy liefde.

Hierdie aksie van God veroorsaak vreugde. Vreugde oor die eie verlossing, maar ook vreugde oor ander se verlossing. Daarom is vreugde nie net ’n persoonlike saak nie, maar ook ’n saak vir die hele gemeenskap. In Palestina was eiendom die hele gesin/familie s’n. As die een skaap of besitting wat weg was, teruggevind word, dan word almal – selfs die vriende en die bure – bymekaargemaak om te kom deel in die vreugde (15:6; 15:9).

Hierdie gelykenisse openbaar ook ’n dieper betekenis. Dit gaan nie net oor ’n alledaagse, vriendelike strydgesprek met die Fariseërs en skrifgeleerdes nie. Ingebed in die verhale is daar ’n oproep tot bekering. Diegene wat verhinder dat mense wat verlore is, gevind word, trek ’n streep deur God se genade vir die verlorenes, maar ook vir hulleself. Daarom sê Grundmann tereg dat net soos wat die Israeliete in die woestyn deur hulle murmurering toegang tot die beloofde land verbeur het, die Fariseërs en skrifgeleerdes die gevaar geloop het om deur hulle eie murmurering ook toegang tot God se koninkryk mis te loop.

Daarom die vraag aan die Fariseërs en skrifgeleerdes: Wat was vir hulle die belangrikste – die nood van ander of die bewaring van dié wat reeds gevind is? In wese is dit ook ’n oproep om bekering vir hulle wat reeds “regverdig” is. Bekering nie op ’n ander manier as die sondaars en tollenaars nie. Maar van ander dinge; van die eie ek, kritiek op ander, beterweterigheid, onsensitiwiteit, neersien op ander. Dit is moeilike bekering (vgl die optrede van die oudste seun in die gelykenis van die verlore seun).

Indien ons na die twee gelykenisse afsonderlik kyk, merk ons die volgende op:

Skaap wat weggeraak het
Die gelykenis begin met ’n vraag wat verskillend geïnterpreteer kan word. Enersyds is dit doodnatuurlik dat ’n herder die een verlore skaap sal gaan soek (Via). Andersyds kan die vraag gevra word: Watter herder, wat sy sout werd is, sal die hele kudde se veiligheid in gevaar stel net om een skaap wat verlore geraak het, te gaan soek? Die antwoord lê daarin dat God as Goeie Herder, se logika totaal anders is as selfs dié van die “beste” kerkmense van daardie tyd (en ook vandag). Hy tel met sy hart.

Die eenhonderd skape dui op die volledigheid van die kudde. Sonder die een, is die kudde onvolledig. Dit is hoe God tel – Hy is nie tevrede met ’n deel van sy kudde/skepping nie. Sy genade sê dat Hy nie prysgee nie; Hy hou vas en hierin lê die hoop vir alle mense (Gollwitzer).

Die skaap is so verlore dat hy tot niet sal gaan indien hy nie gesoek en gered word nie. Hy is so verlore in sy verlorenheid dat hy nie kan terugloop nie. Hy kan net teruggedra word.

Die reddingsaksie laat die hemele losbars in ’n vreugdelied, want die herder het die verlore skaap teruggebring. Hierdie vreugde moet ook weerklank vind in die lewe van die skape wat reeds gevind is!

Die troos is dat God as hemelse Herder, so oor elke mens voel. Hy sal nie toelaat dat ons “wegraak” nie. Hy sal gaan soek en soek en soek. Maar pasop: Ons moet dan ook bly wees as God iemand wat “weg” was, teruggebring het!

Muntstuk wat weggeraak het
Die vrou het as trougeskenk ’n muntversierde hooftooisel as deel van haar bruidskat ontvang. Sy het dit selfs gedra wanneer sy slaap. Dit beteken vir haar soveel as wat ’n trouring vandag beteken.

’n Deel hiervan raak weg en daarmee raak iets van haarself weg. Iets wat haar na aan die hart lê. Iets wat haar sekerheid gee. Daarsonder is haar bruidskap en ook sy self, onvolledig. Dit is onvervangbaar en daarsonder kan sy nie lewe nie.

Onmiddellik begin sy soek in haar donker Palestynse huis. Met ’n lig in die een hand en ’n  besem in die ander soek sy in al die hoeke en gaatjies. En toe sy dit vind, was daar vreugde. Nie alleen ter wille van die geldwaarde nie, maar ook omdat haar hooftooisel én sy as mens, weer heel geword het. Hierdie vreugde deel sy met haar familie!

Ons kan alles saamvat deur te sê dat Jesus met sy “inklusiewe” verlossingsboodskap (Johann du Plessis) juis beklemtoon dat God ’n hart vir alle mense het. Ook vir verlorenes, buitestanders en minderes. God se betrokkenheid by mense deur Jesus gee aan hulle waarde. Hierdie boodskap skud die fondament van die Fariseërs en skrifgeleerdes se Godsbeskouing. Hulle glo in ’n “eksklusiewe” verlossingsboodskap. Een waar die mens eers iets moet beteken om in aanmerking vir God se liefde te kom.

Verlore mense het verlossing nodig en God spreek hierdie nood aan. Verlossing is oop vir elkeen. Daarom word mensgemaakte verskille eenkant gestoot, ou grense afgebreek en die uitnodiging om aan te sluit aan almal gerig. Juis dit veroorsaak konflik met die Joodse leiersgroep.

Hierdie boodskap van God se liefde word aan tafel oorgedra, want ’n maaltyd was die beste plek daarvoor gewees. Dit is hier waar mense in- en uitgesluit word!

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema:  Die liefdeshart van die Vader bly soek

Rus

Aanvangswoord
Voorganger:
Die Here het alle mense lief.
Gemeente: Hy soek die afgedwaalde skape.

Voorganger: Die Here het alle mense lief.
Gemeente: Hy ontvang sondaars en eet saam met hulle.

Voorganger: Die Here het alle mense lief.
Gemeente: Hy laat wegloopmense weer tuis kom.

Almal: Loof  sy heilige Naam (uit Luk 15).

Gebed om die opening van die Woord
Gebruik Psalm 119:41-48 as gebed.

Skriflesing 
Die liturg gaan staan (onder) tussen die mense terwyl die evangelielesing (vandag se fokusteks uit Luk 15) plaasvind.

Lied

Lofsang: Lied 23 “My Heer, my herder, laat my niks ontbreek nie”
Wet: Lied 238   “God, enkel lig, voor u gesig”

F165. “In die hart van God die Vader”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Diens en Getuienis)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1996 Spirit and Truth Music
(1 Pet 2:9)

In die hart van God die Vader
is daar ‘n sagte plek
vir die wêreld en sy mense,
uit elke huis en kerk.
En nadat Hy sy Seun gegee het om te sterwe aan die kruis
soek Hy mense wat sy liefde aan die wêreld sal gaan wys.

Daarom het Hy jou uitgesoek en jou hiernatoe gelei
sodat sy genade kan uitvloei deur die lewe wat jy lei
En die harte van die mense wat oral om jou bly
kan oorloop
van sy guns en heerlikheid

Dankie dat U my uitgesoek het;
dat U my ook wil gebruik
sodat U genade kan uitvloei
deur die Woord wat ek bely.
Laat die lewens van die mense
wat oral om ons bly
dan oorloop
van u guns en heerlikheid.

Familie-oomblik

Kinders sal albei hierdie verhale goed ken.  Sluit aan by hulle eie vrees om weg te raak – bv. in ’n winkelsentrum.  Vertel dan die storie van die verlore skaap (en die muntstuk) en verseker hulle dat God hulle nie sal verlaat nie.  Om die waarheid te sê, selfs as ’n mens so ’n dom ding doen soos ’n skaap, om self weg te dwaal, sal God jou gaan haal.  Soms dink ons natuurlik dat dit eintlik iemand anders is wat dom was, wat ons vergeet het êrens.  Dit was nie eers ons skuld nie.

Jy kan ook ’n drama hiervan maak en die gelykenis van die verlore skaap met die kinders speel.  Laat hulle vorentoe kom in die kerk en raak aan elkeen se voorkop en tel hulle, een, twee, drie … ens.  Kry soveel kinders as moontlik dat dit ’n bietjie chaoties raak.  Gesels dan met hulle oor hoe dit sal wees as julle saam na ’n groot winkelsentrum gaan … en dit is net jy wat na hulle moet kyk.  Laat hulle dan sit by jou, of stuur hulle terug na hulle families toe, en begin dan om die gelykenis te vertel.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

My ouma het so ‘n “goue” borsspeld gehad. Op die metaalraamwerk was ’n klomp rooi glaskristalletjies en turkoois kraletjies.  Mettertyd het my ma dit by my ouma oorgeneem en later het ek dit gekry.  Dis nie vreeslik waardevol nie, maar vir my as kind was dit verskriklik mooi. Tot vandag toe is dit van groot waarde, want dit het aan ouma behoort.  Weens ouderdom het die metaalknypertjies die glasstukkies nie oral meer ewe stewig vasgehou nie.  Gevolglik val stukkies glas en kralletjies soms uit.  Dan is die skoonheid van die eenvoudige borsspeld aangetas en is dit eintlik nutteloos.  Daarom moes ek al ’n keer of wat intense soektogte agter glasstukkies aan loods.  Ek het selfs al probeer om die stukkies vas te plak, maar ongelukkig het van die stukkies oor die jare weggeraak.

God se soektog verduidelik

In ons teksgedeelte vertel Jesus twee gelykenisse om God se soektog na dit wat verlore is te verduidelik.  Hy doen dit omdat die Fariseërs en Skrifgeleerdes beswaard is.  Volgens die oorspronklike teks “murmureer” hulle letterlik.  Die rede?  Hulle protesteer teen Jesus se tafelgenote, die tollenaars (ook bekend as gehate belastinggaarders of meelopers van die vyand), en die sondaars (ongehoorsaam aan die wet, onrein).  Jesus sit aan tafel met mense van ’n lae sedelike lewenspeil.

Met die gelykenisse nooi Jesus die Fariseërs en Skrifgeleerdes om ’n prentjie van ’n ander soort wêreld te sien, die wêreld vanuit God se oë.  Dit is ’n wêreld waarin die mees verwerplike mense wegdraai van hulle sonde, na God toe.  ’n Wêreld waarin verlore mense reageer op God se soektog, en God omhels.  ’n Wêreld waarin die kerklikes nie God se soektog teenstaan nie, maar daaraan deelneem.

’n Skaap wat weggeraak het

’n Menslike herder sal seker nie die 99 skape se lewe in gevaar stel om hulle aan hulself oor te laat en een verlore skaap te gaan soek nie.  God as goeie Herder se logika is anders.  Hy tel met Sy hart en gaan soek die verlore skaap.

Die skaap is so verlore dat hy tot niet sal gaan indien hy nie gesoek en gered word nie. Hy is so verlore in sy verlorenheid dat hy nie kan terugloop nie. Hy kan net teruggedra word.  Die reddingsaksie laat die hemele losbars in ’n vreugdelied, want die herder het die verlore skaap teruggebring.  Die troos is dat God as hemelse Herder, so oor elke mens voel. Hy sal nie toelaat dat ons “wegraak” nie. Hy sal gaan soek en soek en soek.

Die eenhonderd skape dui op die volledigheid van die kudde.  Sonder die een, is die kudde onvolledig.  Dit is hoe God tel – Hy is nie tevrede met ’n deel van sy kudde, sy skepping nie.  Sy genade sê dat Hy nie prysgee nie; Hy hou vas en hierin lê die hoop vir alle mense.  Dis soos met ouma se borsspeld: sonder een van die glasstukkies is die stukkie juweliersware onvolledig.

’n Muntstuk wat weggeraak het

Die vrou het as trougeskenk ’n muntversierde hooftooisel as deel van haar bruidskat ontvang.  Sy het dit selfs gedra wanneer sy slaap.  Dit beteken vir haar soveel as wat ’n trouring vandag beteken.

’n Deel hiervan raak weg en daarmee raak iets van haarself weg.  Iets wat haar na aan die hart lê. Iets wat haar sekerheid gee.  Daarsonder is haar bruidskap en ook sy self, onvolledig.  Dit is onvervangbaar en daarsonder kan sy nie lewe nie.

Onmiddellik begin sy soek in haar donker Palestynse huis.  Met ’n lig in die een hand en ’n besem in die ander soek sy in al die hoeke en gaatjies.  En toe sy dit vind, was daar vreugde. Nie alleen ter wille van die geldwaarde nie, maar ook omdat haar hooftooisel én sy as mens, weer heel geword het.  Hierdie vreugde deel sy met haar familie.  Almal is bly, want die vrou se muntstuk is gevind.

Wat Jesus oor God se soektog leer

Wanneer die Fariseërs en Skrifgeleerdes die sondaars saam met Jesus aan tafel sien, word hulle genooi om God se hart en God se soektog raak te sien.  Waar is God?  Hoe weet mens jy het insig in God se werk?  Wanneer jy die soektog raaksien, en die hemelse vreugde oor elke verlore skaap wat gevind word, deel.

Een: die logika van die Vaderhart
Uit die gelykenis oor die verlore skaap leer ons hoe God bereid is om die 99 te laat en die enkele verlore skaap te gaan soek.  Teen alle menslike logika en norme in los hy die 99 skape in die kraal en gaan soek na die een wat weg is. Hy doen dit omdat sy Naam God is. So openbaar Jesus die vaderhart van God! God tree nie op soos wat mense dink Hy behoort op te tree nie. Sy optrede word gemotiveer deur sy omgee-hart vir mense wat verlore is. Hy het ’n brandende begeerte om, die wat verlore is, te red. Sy doel is om die een verlore mens te soek en terug te bring.

Dit is God se liefde vir alle mense (Joh. 3:16). Hy toon dit deur Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Here, wat sy lewe afgelê het sodat elke skaap wat afgedwaal het nie verlore sal gaan nie, maar die lewe sal hê en dit in oorvloed (Joh 1:12).

Twee: verlore sondaars het hoë waarde
Uit die gelykenis oor die verlore muntstuk leer ons die soeke van God staan in skrille kontras met ’n mens se soeke na dit wat verlore is.  Solank iets waarde het, soek jy daarna. Soos die vrou in die tweede gelykenis. Die muntstuk wat verlore geraak het, was vir haar uiters waardevol gewees. Dit was deel van haar troudagherinneringe. Amper soos ’n troupand vandag. Daarom los die vrou alles net so en begin soek; onder elke bed en kas, in elke hoekie en gaatjie. Sy hou nie op totdat sy dit gevind het nie. So maak God ook. God los as ’t ware alles ook net so en begin soek. Hy soek sonder ophou. Hy soek egter ook met ’n verskil. Hy soek nie omdat dit ’n stoetskaap is wat weg is nie of omdat die mens so voortreflik lyk of goed doen nie. Inteendeel, God se soeke het niks te make met ’n witbroodjie-menswees nie. In God se oë het elke mens dieselfde waarde, want Hy is die Skepper van elkeen; volgens sy beeld en sy gelykenis (Ps 24).

God soek die één wat weg is. Ongeag hoe lank dit neem. Ongeag die prys wat dit vra. Hy soek totdat Hy vind, want dit gaan vir Hom nie oor hoeveel sonde of nood of probleme die mens het nie. Dit gaan oor wie God is. Dit gaan oor God se vaderhart wat ’n oortreffende liefde het vir alle mense, maar veral vir dié wat weg is.

God se vaderhart klop vandag nes dit in die tyd van die Fariseërs en skrifgeleerdes geklop het. Op grond van sy liefde soek Hy steeds sonder ophou na elkeen wat verlore is. Ongeag die etiket wat om die mens se nek hang. Sy liefde is dieselfde vir alle mense, gister, vandag en môre.

Drie: godsdienstiges kan verlore wees
Die Fariseërs en skrifgeleerdes se beswaardheid oor Jesus se soektog na sondaars toon hul eie verlorenheid.  Hulle is nie ingeprop op die liefdevolle vaderhart nie.  Inteendeel.  Hulle het ’n skeefgetrekte waardesisteem.  Hul fokus is op Skrifkennis, wetsgehoorsaamheid, betrokkenheid by die sinagoge of tempel.  Opsigself kan niemand teen hierdie dinge wees nie, behalwe waar dit ander uitsluit wat nie soos die Fariseërs of Skrifgeleerde is nie.

Die verlorenheid van die godsdienstiges is hul eksklusiewe siening van verlossing.  Verlossing begin vir hulle by iets wat die mens doen.  Ons moet ordentlik word, onsself verbeter deur ’n program van morele vorming, inpas by vooropgesette idees.  Dan sal ons vir God aanvaarbaar wees en waardige tafelgenote vir Jesus.  Jy moet kwalifiseer om in aanmerking te kom vir God se liefde.

Met sy inklusiewe verlossingsboodskap beklemtoon Jesus dat God ’n hart vir alle mense het. Ook vir verlorenes, buitestanders en minderes. God se betrokkenheid by mense deur Jesus gee aan hulle waarde. Hierdie boodskap skud die fondament van die Fariseërs en skrifgeleerdes se Godsbeskouing.

Vier: Verlore kerkmense kan God se soektog blokkeer
Die tragedie van kerkmense wat nie deelneem aan God se soektog nie, maar dit blokkeer weens afkeur aan verlorenes, is meer as hul eie verlorenheid.  Die gróót tragedie is dat hulle help om die koninkryk toe te sluit vir verlore mense.  Ons kan die verharde ouer seun in die gelykenis wees wat vies is omdat daar redding kom vir mense wat ons as niksnutte beskou.

Die logika van God se liefdeshart is nie oop vir ’n kerklike debat of ’n stemmery oor die meriete daarvan nie.  Gemeentes is geroep om hieraan deel te neem.  Van harte.  Anders het ons bekering nodig, ons het nodig om self deur God gevind en omhels te word.  Ons het nodig om onder die deklaag van ons eie ordentlikheid ons diepe verlorenheid in onsself raak te sien.  En in God se hande te val.  Dan sal ons sy uitreik na ander verlorenes verstaan en ons vreugde daarin vind.

Vyf: Uitgenooi na vreugde
God se liefde is dieselfde vir alle mense, gister, vandag en môre.  Dit vra van my ’n keuse. Het ek ’n hart vol vreugde omdat God mense wat verlore was, teruggebring het? Na my huis, kerk, kombuis? Of is ek soos ’n moderne Fariseër en skrifgeleerde – kwaad vir God? Kwaad omdat hierdie mense my rustige, sorgvuldig-aanmekaar-gesitte wêreld op sy kop kom keer het? Van my iets vra wat ek nie lus het om te deel nie – my gawes, grond, geld, geleenthede?

Dis ’n eenvoudige vraag. Dit vra: Waar is my hart? By mense wat verlore is omdat ek onthou dat ek ook eenmaal verlore was, maar deur God teruggebring is (There goes I but for the grace of God). En dat daar oor my vreugde in die hemel was, dat God ’n feesmaaltyd vir my voorberei het.

Om so met vreugde te leef, vra dat God as ’t ware sy vaderhart in my sal oorplant dat ek dan deur die Gees aangeraak sal word om saam met God en sy engele bly te wees oor elkeen wat gered is!

Soek saam na heelheid

Ek moes ’n slag of wat al onder die tafel rondsoek na glasstukkies uit ouma se borsspeld.  Groot is die vreugde as die borsspeld weer heel is.  Ouma se borsspeld is heel.  Herinneringe aan haar maak die borsspeld kosbaar.

Ons word uitgenooi om met God se passie te help soek na mense wat nog weg is, buite is, vervreemd is van die Here en sy mense.  Dis ’n passie vir heelheid in die koninkryk van God.  Dis ’n passie vir hemelse vreugde.

Mag God ons harte verander sodat ons in sy vreugde kan deel!

God stuur ons om te leef

Slotsang:  Lied 284  “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”

Seën
Mag die liefde van Jesus Christus
en die genade van die Vader
en die gemeenskap van die Heilige Gees
met julle wees
en met julle bly.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.