Vyftiende Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Wanneer mens hierdie tekste as geheel lees, val ‘n deurlopende tema op: God is soewerein en eintlik niks aan ons verskuldig nie en tog is Hy vir ons lief en sorg vir ons. Ons identiteit is dat ons dienaars van God is wat vir Hom leef. Filippense 1:29 se aangrypende woorde: “God het julle die voorreg gegee om Christus te dien . . .” verwoord dit baie mooi.

In die liturgie moet iets van hierdie ootmoed erkentlikheid teenoor die Here na vore kom.

Ander tekste

Eksodus 16:2-15
Kos uit die hemel
16 Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het. 

2In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset 3en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”

4Toe het die Here vir Moses gesê: “Let nou mooi op. Ek sal elke keer vir julle kos uit die hemel laat reën. Dan moet die volk elke dag gaan en dié dag se voorraad optel. So sal Ek toets of hulle my opdrag wil nakom of nie. 5As hulle op die sesde dag voorberei wat hulle ingebring het, moet dit dubbel soveel wees as wat hulle elke dag optel.”

6Toe sê Moses en Aäron vir al die Israeliete: “Vanaand sal julle besef dat dit die Here is wat julle uit Egipte bevry het, 7en môreoggend sal julle sien hoe magtig die Here is. Hy het gehoor dat julle julle teen Hóm verset. Dat julle julle teen óns verset, is niks nie.”

8Verder het Moses gesê: “As die Here vanaand vir julle vleis gee en môreoggend oorgenoeg kos om te eet, sal julle besef Hy het julle verset teen Hom opgemerk. Dit was nie teen ons nie, maar teen die Here dat julle julle verset het.”

9Moses het toe vir Aäron gesê: “Beveel die hele gemeente van Israel om voor die Here te kom staan, want Hy het hulle verset opgemerk.”

10Nadat Aäron dit vir hulle gesê het, kyk die Israeliete na die woestyn se kant toe om, en toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk.

11Die Here sê toe vir Moses: 12“Ek het die verset van die Israeliete opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.”

13Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit.

Die volgende oggend was daar ’n wolk rondom die kamp, 14en toe die wolk wegtrek, was die woestyn oortrek met fyn vlokkies soos ryp. 15Toe die Israeliete dit sien, sê hulle vir mekaar: “Wat is dit dié?” want hulle het nie geweet wat dit is nie. Toe sê Moses vir hulle: “Dit is die brood wat die Here vir julle gee om te eet.

16Die Here het beveel: Gaan maak dit bymekaar volgens elke gesin se behoefte, twee liter per kop. Elkeen moet vat volgens die getal mense in sy tent.”

17Die Israeliete het dit toe gaan optel, die een baie en die ander ’n bietjie, 18en toe hulle dit met ’n maatemmer afmeet, het dié met baie nie te veel nie, en dié met ’n bietjie nie te min gehad nie. Hulle het volgens elkeen se behoefte bymekaargemaak.

19Moses het toe vir hulle gesê: “Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot môreoggend nie.”

20Maar hulle het nie vir Moses geluister nie. Party het daarvan tot die volgende oggend laat oorstaan, maar daar het miet in gekom en dit het gestink. Moses was woedend oor wat hulle gedoen het. 21Hulle het dit vroeg elke oggend bymekaargemaak, volgens elkeen se behoefte, maar net as die son begin bak, het dit weggesmelt.

Psalm 105:1-6, 37-45
Die Here hou sy verbond altyd in stand
105 Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.

7Hy, die Here, is ons God; 
sy reddingsdade strek oor die hele aarde. 
8Hy hou sy verbond altyd in stand, 
die belofte wat Hy 
aan duisende geslagte toegesê het, 
9die verbond wat Hy 
met Abraham gesluit het, 
sy eed aan Isak. 
10Hy het dit vir Jakob bevestig 
as ’n vaste toesegging, 
vir Israel as verbond 
wat altyd sal bestaan. 
11Hy het gesê: 
“Ek gee Kanaän vir jou 
as grondgebied en eiendom.” 
12Toe hulle nog maar min was, 
net ’n paar mense, 
en vreemdelinge in die land, 
13toe hulle van volk na volk 
geswerf het, 
van die gebied van die een volk 
na dié van ’n ander, 
14het Hy niemand toegelaat 
om hulle te verdruk nie, 
en het Hy selfs konings 
ter wille van hulle gewaarsku:
15“Moenie aan my gesalfdes raak nie, 
moenie my profete kwaad aandoen nie!”
16Toe Hy hongersnood 
oor die land gebring het 
en al hulle kos laat opraak het, 
17het Hy iemand voor hulle uit gestuur: 
Josef is as slaaf verkoop. 
18Hulle het sy voete geboei 
en hom in die gevangenis gehou 
19totdat sy woorde bewaarheid is, 
nadat hy die toets deurstaan het 
met wat die Here aan hom 
bekend gemaak het. 
20Toe het die koning hom 
uit die gevangenis laat uitkom; 
die heerser oor baie volke 
het hom vrygelaat 
21en hom aangestel as hoof 
van die koninklike huishouding, 
met gesag oor al sy besittings. 
22Josef kon 
die amptenare van die koning 
na goeddunke beveel 
en selfs aan hoë amptenare leiding gee.
23Israel het na Egipte toe gekom, 
Jakob kon in die land van Gam 
gaan woon. 
24Die Here het sy volk 
baie vrugbaar gemaak, 
talryker as hulle onderdrukkers. 
25Hy het die gesindheid 
van die Egiptenaars verander, 
sodat hulle sy volk gehaat 
en vyandig opgetree het 
teenoor sy dienaars. 
26Die Here het Moses, sy dienaar, 
gestuur, 
en vir Aäron, die man 
wat Hy verkies het. 
27Onder die Egiptenaars het hulle 
die tekens van die Here gedoen, 
sy wonders het hulle gedoen 
in die land van Gam. 
28Hy het duisternis gestuur,
maar hulle het hulle
teen sy opdrag bly verset.
29Hy het hulle waters in bloed verander en
hulle visse laat vrek.
30Hulle land het gekrioel 
van die paddas, 
selfs tot in hulle koning 
se slaapkamer. 
31Die Here het beveel 
en daar het insekte gekom, 
muggies oor hulle hele gebied. 
32Hy het hulle reëns in hael verander 
en swaarweer 
oor hulle land gestuur. 
33Hy het hulle wingerdstokke 
en vyebome vernietig 
en die bome in hulle gebied 
stukkend geslaan. 
34Hy het beveel 
en daar het sprinkane gekom, 
ontelbaar baie sprinkane. 
35Hulle het al wat groen was 
in die Egiptenaars se land verslind 
en al die gesaaides van hulle lande 
afgevreet. 
36Al hulle oudste seuns in die land 
het Hy laat sterwe, 
al hulle eersgeborenes.

37Toe het Hy sy volk uitgelei,
belaai met silwer en goud.
In geeneen van die stamme
het iemand uitgesak nie.
38Die Egiptenaars was bly
dat hulle vertrek het,
want hulle was skrikbevange
oor die Israeliete.
39Die Here het ’n wolk uitgesprei
as beskutting oor hulle
en ’n vuur gegee
om lig te maak in die nag.
40Toe hulle kos vra,
het Hy kwartels laat kom
en sy volk met brood uit die hemel
versadig.
41Hy het ’n rots oopgebreek
en daar het water uitgestroom
wat soos ’n rivier
deur die dorre gebied gevloei het.
42Ja, Hy het sy heilige belofte
aan sy dienaar Abraham
gestand gedoen
43en sy volk juigend,
sy uitverkorenes jubelend
laat voorttrek.
44Vir hulle het Hy
die heidene se lande gegee;
wat deur ander volke
met moeite verkry is,
het hulle in besit geneem.
45Daarom moet hulle
sy voorskrifte gehoorsaam
en sy wil doen.
Prys die Here!

Filippense 1:21-30
Bevordering van die evangelie ondanks gevangenskap
12Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. 13Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ’n gevangene is. 14Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.

15Daar is wel party wat Christus verkondig omdat hulle jaloers op my is en iets teen my het, maar ander doen dit met opregte bedoelings. 16Laasgenoemdes verkondig Christus omdat hulle my liefhet en weet dat dit my taak is om die evangelie te verdedig; 17maar eersgenoemdes maak Christus bekend uit selfsugtige en onsuiwere bedoelings. Hulle oogmerk is om die gevangenskap vir my nog swaarder te maak. 18Maar wat maak dit saak? In elk geval, of dit met bybedoelings is of in opregtheid, op allerhande maniere word Christus bekend gemaak, en daaroor is ek bly. En ek sal my ook verder verbly, 19want ek weet dat alles op my redding sal uitloop omdat julle vir my bid en die Gees van Jesus Christus my bystaan. 20Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waaroor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe,

21want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. 22As ek in die lewe bly, kan ek voortgaan met vrugbare arbeid. Wat ek moet kies, weet ek nie. 23Ek is in ’n tweestryd: ek verlang daarna om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste; 24maar in julle belang is dit noodsaakliker dat ek bly lewe. 25Omdat ek hiervan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, ja, vir julle almal behoue sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê. 26As ek weer by julle kom, sal julle oorvloedige rede hê om Christus Jesus oor my te prys.

Vermaning tot standvastigheid, eensgesindheid en nederigheid
27Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie 28en julle in geen opsig deur die teenstanders laat afskrik nie. Dit is vir hulle ’n teken van húlle ondergang en van júlle redding, en dit kom van God. 29God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. 30Julle en ek het dieselfde stryd wat julle my vroeër al sien stry het en waarvan julle hoor dat ek nou nog stry.

Fokusteks

Matteus 20:1-16
Gelykenis van die arbeiders in die wingerd

20 “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van ‘n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur.

2“Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. 3Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, 4en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’5Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. 6Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’7Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle.

8“Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’

9“Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. 10Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. 11Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla 12en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’

13“Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? 14Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. 15Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’

16“So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.”

Ekstra stof

Matteus begin met hoofstuk 19 ‘n nuwe hoofdeel in sy evangelie wat handel oor die impak op die Joodse volk van die koninkryk wat in Jesus aangebreek het, in Judea (hfst. 19-20) sowel as uiteindelik in Jerusalem (hfst. 21-25). Die fokusteks val dus in die gedeelte wat handel oor die impak van die evangelie op die mense van Judea, beide die leiers as die geloofsgemeenskap.

Matteus 20 – Jesus spel koninkrykswaardes vir leiers en die geloofsgemeenskap uit
In hierdie hoofstuk vind ons die volgende vier perikope:

  • Jesus vertel die eerste van vier gelykenisse – die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is – wat die deelnemers aan die koninkryk uitspel. Hier spel Hy die deelnemers uit in terme van wie eerste is en wie laaste – 20:1-16.
  • Jesus kondig die derde en laaste keer sy lyding, kruisdood en opstanding aan vir die dissipels, waardeur Hy sy identiteit as die lydende Seun van die Mens bevestig. Hy is nie die triomfantelike Messias wat die Jode verwag het nie – 20:17-19.
  • Jesus brei verder uit oor die waardes wat in die koninkryk geld, deur klem te lê op die dienende karakter van leierskap in antwoord op die vraag van die twee seuns van Sebedeus, die twee dissipels, Jakobus en Johannes – 20:20-28.
  • Jesus genees twee blindes langs die pad van Jerigo af wat Hom as die Here, die Seun van Dawid (h)erken – 20:29-34. Die genesingsverhaal word simbolies net voor die Intog in Jerusalem geplaas as ironiese kommentaar op Jerusalem wat blind is vir die Koning wat die stad binnegaan, selfs al kan die Jode die verband lê tussen Jesus as die “Seun van Dawid” en Jesus as: “die profeet van Nasaret in Galilea“, soos ons in hfst. 21 gaan lees. Die insig keer hulle egter nie om Hom ‘n kruisdood te laat sterwe nie.

Laastes sal eerste wees, en eerstes sal laaste wees – 20:1-16
Jesus vertel die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye gehuur is om aan die een kant almal wat Jesus volg, te troos dat God se beloftes inderdaad vir hulle bedoel is, al kry hulle teëstand van die volk se Joodse leiers en sien dié op hulle neer. Die Joodse leiers dink miskien dat hulle eerste in die ry staan vir God se guns weens hulle getrouheid aan die wet. Maar, omdat hulle God se Seun misken, is hulle eintlik laaste in die ry. Dié wat die roepstem van Jesus gehoor en deel van die koninkryk geword het, dié sal eerste in die ry voor God staan.

Aan die ander kant wil Jesus met die gelykenis ook die geloofsgemeenskap help om op hulle beurt geen onderskeid onderling te tref, nie op grond van die lengte van hulle dissipelskap of die relatiewe waarde daarvan vir die koninkryk nie. ‘n Mens verdien nie meer in die koninkryk van God op grond van jou die lengte of gehalte van jou dienswerk nie. Alle deelnemers aan die koninkryk van God staan, by wyse van spreke, eerste in die koninkryk van God. Selfs die Joodse Christene het geen voorrang bo die Christene uit die heidennasies nie.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 179 ˆ

Aanvangswoord 

Seëngroet 

Loflied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet: (as oproep tot skuldbesef) (Markus 12)

Skuldbelydenis: Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil 1,2”

Vryspraak: (Uit Psalm 103)

Verbintenis

Dankbaarheidslied 244 Alles, alles is genade 1

Epiklese
Herinner die gemeente weer aan die sentrale plek wat die Woord van God inneem binne die Christelike geloofsgemeenskap en doen dit ahv Geloofsverklaring 2000:

Lied 254 “Spreek Heer, spreek Heer 1”

Skriflesing: Matteus 20:1-16

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis: ahv Johannes Evangelie

Offergawes

Wegsending: 453 “Aan die Vader dank en ere vs 1,2,3”

Seën

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 179 “Vader in die hemel, U beheer ons lewe, ons aanbid U vs 1,2,3”

Aanvangswoord 
Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees. (Psalm 105)

Seëngroet 
Aan almal wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! (Filippense 1)

Loflied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet (as oproep tot skuldbesef)
28Een van die skrifgeleerdes het hulle hoor redeneer en het nader gestaan. Toe hy sien dat Jesus hulle ’n goeie antwoord gegee het, vra hy vir Hom: “Wat is die heel grootste gebod?”

29Jesus antwoord hom: “Die eerste is: ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. 30Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ u 31Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ vGeen ander gebod is groter as dié twee nie.” (Markus 12)

Skuldbelydenis: Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil 1,2”

Vryspraak
Ek wil die Here loof,
met alles wat in my is,
wil ek sy heilige Naam loof.
2Ek wil die Here loof
en nie een van sy weldade
vergeet nie.
3Dit is Hy wat al my sonde vergewe,
wat al my siekte genees,
4wat my red van die graf
en my met liefde en ontferming kroon,
5wat my die goeie in oorvloed
laat geniet,
my die jeugdige krag van die arend
skenk.
8Barmhartig en genadig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
9Hy sal ons ons sonde nie bly toereken
en nie vir ewig toornig bly nie.
10Hy handel met ons
nie volgens ons sondes nie,
vergeld ons nie vir ons
ongeregtighede nie,
11want so groot as die afstand
tussen hemel en aarde is,
so groot is sy liefde
vir dié wat Hom dien.
12So ver as die ooste van die weste af is,
so ver verwyder Hy ons oortredinge
van ons af.
13Soos ’n vader hom ontferm
oor sy kinders,
so ontferm die Here Hom
oor dié wat Hom dien.
(Uit Psalm 103)

Verbintenis
Voorganger (V): So sê die Here, die Heilige van Israel:
Was julle, reinig julle.
Moenie voor My verskyn
as julle verkeerd doen nie.
Gemeente (G): Ons sal ophou met kwaad doen.

V: Leer om weer goed te doen,
G: Ons sal sorg dat reg geskied,

V: Gaan die verdrukker teë.
G: Ons sal laat reg geskied aan die weeskinders,en die regsaak van die weduwees behartig.
(Jes 1:16-17)
(Uit: Vir die erediens- ‘n Handleiding: 2007 deur Bybel Media)

Dankbaarheidslied: Lied 244 “Alles, alles is genade 1”

Liedere

F15. “Kom Ons Loof En Dank Nou Die Heer”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: Onbekend
Teks en musiek: Onbekend
Afrikaanse vertaling: 2005 Greta Delport-Benade
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Kom ons loof en dank nou die Heer
vir al sy liefde ons bewys, ons lewens deur.
Hy bewaar ons, Hy maak ons vry.
Hy sal vir ewig, altyd by ons bly.
Loof die Heer!
Kom ons loof die Heer,
daagliks meer en meer,
vir goedheid, vir die voorreg om vandag sy kind te wees.
Kom ons sing nou saam.
Kom ons prys sy Naam.
Gee jou hart aan Hom en Hy sal ware vrede gee.
Gee jou hart aan Hom en Hy sal ware vrede gee.

F34. “Daarom”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof / Toewyding)
Teks en Musiek: Elizabeth Fourie
© 2002 EF Musiek
(Opgeneem op haar CD Voetspore en FLAM, vol 1))

Here, U is my lewe,
ek ken U veilige bewaring elke dag.
Here, U is my vrede,
as die storms om my woed met brute krag.
En as ek val, is U by my.
U het betaal en ek is vry!

Refrein:
Daarom sing ek, 
daarom gee ek U my stem.
Daarom juig ek saam met snaar en instrumente!
Daarom bring ek U my dank,
sing ek heeldag lank,
daarom sing ek,
hoor my lied vir U, o Heer!

Here, uit U hande
kom net wat mooi is en wat heilig is vir my.
Here, U genade
het my deur alles heen tot hierdie dag gelei.
En as ek val, is U by my.
U het betaal en ek is vry!

Refrein:

Refrein weer na modulasie:
Daarom sing ek, 
daarom gee ek U my stem.
Daarom juig ek saam met snaar en instrumente!
Daarom bring ek U my dank,
sing ek heeldag lank,
daarom sing ek,
hoor my lied vir U, o Heer!
daarom sing ek,
hoor my lied vir U, o Heer!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Herinner die gemeente weer aan die sentrale plek wat die Woord van God inneem binne die Christelike geloofsgemeenskap en doen dit ahv Geloofsverklaring 2000:

Tweede Verklaring: oor die Bybel
Ons glo
· dat ons deur die Bybel leer wie God is
· dat God vandag nog deur die Bybel met ons praat.
· dat die Bybel onder leiding van die Heilige Gees deur mense geskryf is en dat die Heilige

Gees die gelowiges as gemeenskap kan lei om die Bybel in hulle tyd nuut te verstaan
· dat die Bybel die blye boodskap is van God se liefde vir mense
· dat die Bybel ook vertel van God se veroordeling van die kwaad

· dat die onderskeie dele van die Bybel verskillend aangebied word – as vertellings oor die voorgeskiedenis, profesieë, gedigte, reisbeskrywings, verhale, briewe – en dat elke Skrifdeel aan die hand van sy besondere aard en in die lig van die geheel verstaan en verklaar moet word

Lied 254 “Spreek Heer, spreek Heer 1”

Skriflesing: Matteus 20:1-16

Prediking

Familie-oomblik

Die fokusteks verkondig die waarheid dat God sy guns en genade vryelik aan elkeen uitdeel soos Hy wil en goedvind- God se somme werk anders as ons somme.

Illustreer wat ons sou betaal het as ‘n werker vir ‘n volle dag R100 betaal moet word (R100 gewoon ter wille van ‘n makliker berekening, hierdie werksdag beslaan vir praktiese doeleindes 10 ure):

ONS BEREKENING:
Die eerste werkers begin 8:00 en werk tot 18:00 vir R100.
Die tweede groep begin 9:00 en werk tot 18:00 vir R90.
Die derde groep begin 12:00 en werk tot 18:00 vir R60.
Die vierde groep begin 15:00 en werk tot 18:00 vir R30.
Die vyfde groep begin 17:00 en werk tot 18:00 vir R10.

Met ons ons somme sou ons R210 gespaar het as ons die werkers betaal het presies volgens die ure wat hulle gewerk het. Maar God se genade werk nie so nie- Sy somme is anders. Hy betaal vir elkeen die volle bedrag van ‘n dag se werk, R100 elk, maak nie saak of jy 11:00 of 15:00 begin werk het nie. God se guns en genade is baie groter as hoe ons dit uitwerk.

Gebed: Baie dankie Here dat u met ons werk, nie volgens wat ons verdien nie, maar volgens U groot guns en goedheid. Amen

Addisioneel:
Mens kan ook die volgende interessante rekenkunde invoeg (veral om die volwassenes deurmekaar te maak):
‘n Woestynbewoner bepaal dat met sy afsterwe sy seuns soos volg moet erf:
Die oudste kry die helfte,
Die 2e oudste kry ‘n derde, en
die jongste kry ‘n negende.
Toe die pa sterf ontdek die seuns die erfporsie behels 17 kamele…

Hoe verdeel mens 17 kamele in half, of in ‘n derde? Na baie kopkrap ontvang hulle die volgende raad van ‘n wyse man daar in die woestyn:
Ek besit nie veel nie, net 1 kameel- maar ek sal dit vir julle leen om die moeilike berekening makliker te maak.

Toe vlot die verdeling maklik:
Die oudste kry 9 kamele (die helfte van 18)
die 2e oudste seun kry toe 6 kamele (een derde van 18)
en die jongste ontvang 2 kamele (‘n negende van 18)
Die totaal is dan 17 kamele, en hulle kan die geleende kameel vir die wyse man teruggee!!!!

Preekriglyn

Last Minute Ministry het begin toe ‘n vriend van Chuck Kent, ‘n predikant, hom gevra het om sy sterwende oupagrootjie van 92 jaar in die hospitaal te gaan besoek. Die oubaas, Elwyn, was ‘n agnostikus. Hy het sy lewe lank gemeen mens kan nie weet of daar ‘n God is nie.

Chuck het Elwyn gaan besoek, en gevra of hy een van Jesus se verhale kan oorvertel. Hy vertel toe van die eienaar van die wingerd wat nog aan die einde van die werkdag – letterlik in die elfde uur – mense gehuur het om in sy wingerd te gaan werk.

Elwyn is diep geraak deur die verhaal, en besluit om Christus se koningskap oor sy lewe te aanvaar. ‘n Week later het Chuck Kent vir Elwyn begrawe. Hy kon dankbaar vertel dat God se genade nog tot op die laaste vir mense beskikbaar is, en watter impak dit in Elwyn se lewe gemaak het.

Toe Chuck se dogters vir hom sê daar is nog baie mense in die hospitaal, almal in die elfde uur van hul lewensdag, het hy geroepe gevoel om hulle te gaan besoek. Die hospitaal het toestemming verleen. In die eerste maand het Chuck 15 siekes besoek, en elke keer die verhaal van die elfde uur vertel. Agt van hierdie persone het Jesus as Here aanvaar, en besluit om Hom ter elfder ure te dien en te volg.

Volgens Chuck is dit verstommend hoe realisties en oop mense in die laaste fase van hulle lewe is. Dit is asof genade meer sin maak wanneer die son begin te sak. Dit is asof mense wat weet dit is te laat om nog God se guns te probeer verdien, die helderheid van sy goedheid beter kan raaksien.

Die koninkryk van God

Jesus vertel die gelykenis van die arbeiders in die wingerd om te verduidelik hoe loon in die koninkryk van die hemel werk. Hoe deel God, die Koning, beloning uit?

Die agtergrond vir dié gelykenis vind ons in die vorige hoofstuk. In hoofstuk 19 verse 16 tot 22 is Jesus in gesprek met die ryk jongman. Die jongman wil weet wat moet mens doen om die ewige lewe te verkry. In die gesprek beklemtoon Jesus die noodsaak van opoffering en prysgawe om die ewige lewe te verkry (19:16). As die ryk jongman al sy besitting verkoop en vir die armes gee, sê Jesus, sal hy die koninkryk van die hemel verkry. Die ryk jongman gaan bedruk weg, waarop Jesus vir sy dissipels sê: “Dit verseker Ek julle: ‘n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom” (19:23). Hieruit is dit duidelik dat die ewige lewe saam met God in sy koninkryk ‘n wisselvorm is vir “die ewige lewe”.

Die ryk jongman sien nie kans vir die offer wat Jesus vra nie. Sy verknogtheid aan sy rykdom maak dit vir hom onmoontlik. Jesus se opmerking oor hoe moeilik dit vir ryk mense is om in die koninkryk te kom, gee aanleiding tot Petrus se vraag in vers 27: “Sal die offers wat ons gebring het genoeg werd wees om vir ons toegang te verseker?” Hiermee is die loonvraagstuk op die tafel.

In vers 28-29 stel Jesus sy dissipels gerus en verseker hulle van ereplekke. Almal wat op dieselfde wyse as die dissipels offers gebring het, sal ryklik beloon word met oorvloed en die ewige lewe. Jesus toon egter in 19:30 aan dat loon in die koninkryk van God anders bereken en toegereken word as wat mense dit gewoonlik doen. Die resultaat is dat eerstes laaste kom en laastes eerste.

Die gelykenis van die arbeiders in die wingerd (20:1-16) is Jesus se verduideliking van hoe loon in God se koninkryk bereken en toegedeel word en wat die verkeerde reaksie daarop sou wees.

Kontrak gesluit

Die eienaar van die wingerd (wat God verteenwoordig) kom vroeg die oggend (1) met die eerste werkers ooreen om hulle met die geldende dagloon (een denarie) te vergoed teen die einde van die dag (2). Die denarie was ‘n Romeinse geldstuk wat die dagloon was vir arbeiders in Jesus se tyd. Hierdie spesifieke ooreenkoms maak die verrassende ontknoping van die verhaal aan die einde van die dag moontlik.

Nog werkers

Die omvang van die werk in die wingerd noodsaak egter nog werkers (3-7). Op gereelde ritme gaan die eienaar dwarsdeur die dag uit om nog werkers te kry – 09:00, 12:00, 15:00 en 17:00. Dit is opvallend dat die eienaar net met die eerste werkers oor ‘n dagloon ooreenkom. Vir die volgende vier groepe beloof hy ‘n “billike” (NAV), “wat reg is” (OAV) loon. Dat die eienaar selfs nog om 17:00 werkers in diens neem beklemtoon die feit dat hulle in teenstelling met die eerste groep werkers, wat heeldag gewerk het, net een uur arbeid verrig.

Betaaltyd

Uitvaltyd is 18:00 (8). Dan word die loon uitbetaal. Hoekom begin die eienaar by hulle wat laaste ingeval het en net een uur gewerk het? Waarskynlik sodat die werkers wat ‘n twaalfuur skof agter die rug het kon sien hoe die laastes behandel en vergoed word.

Dié wat laaste begin werk het, kry een denarie as vergoeding – asof hulle die hele dag gewerk het. Hulle kort arbeid word gulhartig vergoed. Dié wat heeldag gewerk het, sien dit en maak die afleiding: As hulle ‘n volle dagloon vir ‘n uur se werk gekry het, sal ons sekerlik pro rata meer kry vir die baie ure wat ons ingesit het. Dit is ‘n verstaanbare verwagting.

Groot is hulle teleurstelling! Hulle beloning is ook een denarie elk. Hulle is nie dankbaar en tevrede nie, maar kla morrend by die eienaar oor die onbillike behandeling wat hulle gekry het. Hulle wys die onreg uit wat teenoor hulle gedoen is: hulle twaalf ure se geswoeg dwarsdeur die hitte van die dag kry dieselfde beloning as die laastes se een uur laatmiddag ligte werk. Hulle voel ingedoen (9-12).

Die eienaar se vrygewigheid

Die eienaar gebruik die aanspreekvorm “vriend” (hetaire) as hy hulle antwoord, ‘n term wat gebruik is as iemand vriendelik tereggewys word. Hier vind geen onreg plaas nie. Die werkers wat eerste gehuur is kry presies waarop ooreengekom is.

Die feit dat hulle hul beloning as onregverdig beleef, het niks met onreg te doen nie, maar wel met hulle beoordeling van die optrede van die eienaar. Die eienaar roep hulle tot selfondersoek met ‘n vraag in vers 15, wat die punchline van die gelykenis is: “Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?” (OAV); “Of is jy afgunstig, omdat ek goed is?” (NAV); “Or do you begrudge my generosity?” (RSV); “Or is your eye envious because I am generous?” (NASB).

Die vraag herinner aan Matteus 6:22-23. Die uitdrukking “bose oog” is ‘n bekende Bybelse uitdrukking wat dui op die teenwoordigheid van afguns en jaloesie en die afwesigheid van ‘n gevoel van goedhartigheid. ‘n Mens kan nie anders as om die verband raak te sien met die oudste broer in die gelykenis van die verlore seun nie. Ook hy is nie daartoe in staat om vreugde in sy pa se goedhartigheid te hê nie. Weer is die oorsaak ‘n gevoel van verontregting wat sy oorsprong het in jaloesie en afguns en nie uit ware verontregting nie.

“The great reversal”

Vers 16 herhaal hfs. 19:30. Dit beskryf wat Eugene Petersen vertaal as “The Great Reversal” (The Message). Die omruiling van plekke is nie die werk van die eienaar van die wingerd nie. Dit is die resultaat van die werkers se reaksie op die goedheid van die eienaar. Diegene wat nie in verwondering staan by die aanskoue van die goedhartigheid van die eienaar nie, maar hulleself verontreg ag, sal in God se koninkryk laaste wees – al was hulle bevoorreg om eerste daaraan deel te kry en al was hulle ook hoe lank werksaam in sy wingerd.

Oorvloedige goedheid

Jesus vertel hierdie gelykenis op ‘n tydstip in sy bediening toe die spanning tussen Hom en die Joodse leiers al sterk opgelaai het. Daarmee troos Jesus almal wat Hom volg dat God se beloftes inderdaad vir hulle bedoel is, al kry hulle teëstand van die volk se Joodse leiers en sien dié op hulle neer. Die Joodse leiers dink miskien dat hulle eerste in die ry staan vir God se guns weens hulle getrouheid aan die wet. Maar, omdat hulle God se Seun misken, is hulle eintlik laaste in die ry. Dié wat die roepstem van Jesus gehoor en deel van die koninkryk geword het, dié sal eerste in die ry voor God staan. Hoe vroeg of laat hulle die roepstem aanvaar het, is van geen belang nie.

Aan die ander kant wil Jesus met die gelykenis ook die geloofsgemeenskap help om op hulle beurt geen onderskeid onderling te tref, nie op grond van die lengte van hulle dissipelskap of die relatiewe waarde daarvan vir die koninkryk nie. ‘n Mens verdien nie meer in die koninkryk van God op grond van jou die lengte of gehalte van jou dienswerk nie. Alle deelnemers aan die koninkryk van God staan, by wyse van spreke, eerste in die koninkryk van God. Selfs die Joodse Christene het geen voorrang bo die Christene uit die heidennasies nie.

Grondhouding van die koninkryk

Die grondhouding wat in die koninkryk van God pas, is die wete dat alles genade is. Lied 244 (Gesang 227 in die NSG) vat dit gepas saam:
Alles, alles is genade,
onverdiende guns alleen.
Ons sal oor u liefde juig,
dankbaar van u guns getuig.

Met die gelykenis roep Jesus sy dissipels van alle tye op om vanuit hierdie grondhouding te leef. God stort sy genade uit, en of sy van vroeg tot laat gewerk het, of teen die einde van die dag God se goedheid beleef het, is van geen belang nie.

Van kleins af opgevoed om genade te waardeer

Met hierdie ingesteldheid moet ons almal in die kerk grootgemaak word. Alles wat klein kindertjies met opgewondenheid en verwondering ontdek moet hulle weet, is genadige geskenke – van mamma se bors, hulle eie tone tot die verste sterrestelsels. Van die feit dat ek gebore is (in die lewe geroep is) tot die bestaan van elke ander vorm van lewe op hierdie aarde, is nie vanselfsprekend nie. Dit is vir my gegee. Niks daarvan het deur my tot stand gekom nie. Daarom kan ek ook niks my eie noem nie. Ek bly in alles die ontvanger en rentmeester.

Van kleins af moet ek leer dat God dit alles gemaak het en dat alles Hom behoort. Ek is bevoorreg om deel daarvan te wees. Dat ek deel daarvan is en dit kan geniet, is louter genade. Ek verdien daar niks van nie. Ek is nie die vrug van ‘n spermsel wat met brute krag al die ander derduisende spermselle vir die wenpaal kon klop nie. Ek is die vrug van die kreatiwiteit van God wat liefdevol my in die lewe roep en laat deel in die res van sy skeppingswerk (Ps 139).

Die genade loop nog dieper as dit. Dat ek bestaan is reeds louter genade. Dat ek bly lewe, is nog groter genade. My natuurlike neiging om God te wil onttroon en te maak asof ek die sentrum van alles is en alles ter wille van my bestaan, verdien die dood. Tog kry ek dit nie. In Jesus Christus ontvang ek vergifnis en vrymaking van die sonde én die ewige lewe. Nou “dit” is genade: om nie te kry wat jy verdien nie en om te kry wat jy nie verdien nie!

Ons kinders moet met dié leuse grootword: “Alles, alles is genade, onverdiende guns alleen.” Dit moet deel word van hulle hartklop. En dit is alles só omdat God goed is. Verbind dit aan die feit dat dit juis hierdie waarheid is wat die eerste werkers in die gelykenis nie gesnap het nie. Hulle het nie besef dat hulle indiensneming en werk in die wingerd net genade was nie. Hulle het gedink hulle verdien dit en ook later spesiale behandeling omdat hulle so verskriklik hard gewerk het. Wie uit die genade lewe, maak geen aanspraak op verdienste nie.

Dankbaarheid

Die eienaar van die wingerd (God) roep die werkers op om uit dankbaarheid hulle in sy goedheid te verlustig. Dankbaarheid is die logiese en natuurlike uitvloeisel van die wete dat alles net genade is, afkomstig uit God se goedgunstigheid. Dankbaarheid word dan die dryfveer van my lewe. Alles wat ek doen, word daardeur gemotiveer. Ek doen niks omdat ek iets terug verwag nie. Alles word deel van een groot dankie-sê aan God.

Uitgenooi om self ruimhartig te wees

Op talle plekke in die evangelies daag Jesus sy dissipels uit om hierdie lewensingesteldheid radikaal te leef, soos byvoorbeeld sy aanmoediging dat hulle nie mense moet trakteer wat hulle terug kan trakteer nie, maar wel diegene wat dit nie sal kan doen nie. God se kinders werk nie met minimumlone wat deur koue markkragte bepaal word nie. Hulle gaan met mekaar en die natuur menslik om. Hulle verhoudinge word deur warm liefde en omgee bepaal omdat hulle die Goeie God ken en soos Hy, warm harte het wat in beroering kom by die sien van die nood van die naaste.

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis ahv Johannes Evangelie
Voorganger (V): Ek glo in Jesus Christus, die Woord wat mens geword het.
Gemeente (G): Ons het sy heerlikheid gesien, vol genade en waarheid.

V: Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
G: Hy is die Seun van God.

V: Hy is die brood wat lewe gee.
G: Wie na Hom toe kom, sal nooit weer honger ly nie; en wie in Hom glo, sal nooit weer dors kry nie.

V: Hy is die lig vir die wêreld.
G: Wie Hom volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

V: Hy is die goeie Herder.
G: Hy lê sy lewe af vir sy volgelinge (skape). Hy ken sy volgelinge (skape) en hulle ken Hom.

V: Hy is die opstanding en die lewe.
G: Wie in Hom glo, sal lewe, al sterwe Hy ook.

V: Hy is die weg, die waarheid en die lewe.
G: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie.

V: Hy is die ware wingerdstok.
G: As ons in Hom bly en Hy in ons, sal ons baie vrugte dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
(Uit die Evangelie van Johannes, uit Bybelmedia se Vir die erediens- ‘n Handleiding, 2007)

Offergawes

Wegsending: Lied 453 “Aan die Vader dank en ere vs 1,2,3”

Seën
Ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus,
die Vader aan wie die heerlikheid behoort,
deur sy Gees aan julle wysheid gee
en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder
dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou,
en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,
19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Amen
(Uit Efesiërs 1)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.