Vyftien Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die Here wis die Egiptiese leër uit deur hulle in die see te laat verdrink, dieselfde see waardeur Hy sy volk gered het. Sy kragtige optrede lei daartoe dat die volk met ontsag vir Hom vervul is en dat hulle in Hom en Moses (se vermoë) geglo het.

Ander tekste

Psalm 114
Die aarde moet bewe as die
Here verskyn

114 Toe Israel uit Egipte getrek
het,
toe die nageslag van Jakob getrek het,
weg van die volk
met die onverstaanbare taal af,
2het Juda sy gewyde besit geword
en Israel sy magsgebied.
3Die see het dit gesien
en op die vlug geslaan,
die Jordaan het teruggedraai,
4die berge het rondgespring
soos ramme,
die rante soos lammers.
5Wat is dit met jou, see,
dat jy op die vlug slaan,
wat is dit, Jordaan, dat jy terugdraai,
6berge, dat julle soos ramme
rondspring,
en julle, rante, soos lammers?
7Bewe, aarde, as die Here verskyn,
as die God van Jakob verskyn,
8Hy wat rots in waterkuile verander,
harde klip in fonteine.

Eksodus 15:1b-11, 20-21
Die Here is oorwinnaar in die stryd
15Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing:
“Ek wil tot eer van die Here sing
omdat Hy hoog verhewe is.
Perd en strydwa
het Hy in die see geslinger.
2Die Here is my krag
en my beskerming.
Hy het tot my redding gekom.
Hy is my God, Hom roem ek,
die God van my voorvaders,
Hom prys ek.
3Die Here is oorwinnaar in die stryd,
sy Naam is ‘die Here’!
4Die strydwaens van die farao
en ook sy leër
het Hy in die see geslinger.
Die keur van Egipte se offisiere
is in die Rietsee gedompel.
5Watermassas het hulle oordek,
soos ’n klip het hulle
in die dieptes afgesak.
6U regterhand, Here,
gedug in sy krag,
u regterhand, Here,
verpletter die vyand.
7U is hoog verhewe,
U vernietig wie teen U opstaan,
U laat u toorn woed,
dit verteer hulle soos kaf.
8U wind het gewaai:
die water dam op,
strome staan regop soos ’n muur,
watermassas stol
in die hart van die see.
9Die vyand sê:
‘Ek sal hulle agtervolg en inhaal,
ek sal die buit verdeel,
ek sal my sin kry,
ek sal my swaard trek,
my hand sal hulle verslaan.’
10“U laat u wind waai:
die see oordek hulle,
hulle sink soos lood
in die magtige waters.
11Wie van die gode is soos U, Here?
Wie is soos U, so hoog geëeren heilig?
In lofsange word U vereer,
Bewerker van wonderdade!
12U het u regterhand uitgesteek;
die aarde het die vyand ingesluk.
13Deur u trou het U die volk gelei
wat deur U verlos is,
hulle deur u krag gebring
na u gewyde land toe.
14Die volke het dit gehoor
en hulle het gesidder,
angs het die bewoners van Filistea
beetgepak,
15die stamhoofde van Edom
was verskrik,
die magtiges van Moab
vreesbevange,
al die bewoners van Kanaän
was lam geskrik.
16Vrees en angs het hulle oorval,
u magtige dade het hulle
laat versteen
toe u volk deurtrek, Here,
toe die volk wat U u eie gemaak het,
deurtrek.
17U het hulle ingebring,
U het hulle geplant
op die berg wat aan U behoort.
Here, U het ’n plek vir u troon
voorberei,
u hande, Here, het ’n gewyde plek
gereed gemaak.
18Die Here regeer tot in ewigheid!”
19Waarlik, toe die perde van die farao met strydwaens en bemanning die see ingegaan het, het die Here die water van die see oor hulle laat terugvloei, maar die Israeliete het op droë grond daardeur gegaan.

Die lied van Mirjam
20Mirjam die profetes, suster van Aäron, het ’n tamboeryn gevat en al die vroue het met tamboeryne agternageloop en gedans. 21Mirjam het vir hulle voorgesing:
“Sing tot eer van die Here
omdat Hy hoog verhewe is.
Perd en ruiter
het Hy in die see geslinger.”

Romeine 14:1-12
Moenie jou broer veroordeel nie
(Vgl 1 Kor 8:11–13; 10:23–33)
14 Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. 2Een glo ’n mens mag alles eet; ’n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. 3Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.

4Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.

5Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ’n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. 6Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.

7Niemand van ons leef tog
vir homself nie,
en niemand sterf vir homself nie.
8As ons lewe, leef ons tot eer
van die Here;
en as ons sterwe, sterf ons tot eer
van die Here.
Of ons dan lewe en of ons sterwe,
ons behoort aan die Here.

9Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes.

10Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, 11want daar staan geskrywe:
“So seker as Ek lewe, sê die Here,
voor My sal elke knie buig,
en elke tong sal bely dat Ek God is.”
12Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.

Matteus 18:21-35
Die plig om te vergewe
21Daarna het Petrus na Jesus toe gekom en gevra: “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?”

22Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer. 23Daarom kan die koninkryk van die hemel vergelyk word met ’n koning wat besluit het om saam met sy amptenare hulle boeke na te gaan. 24Toe hy daarmee begin, is een amptenaar na hom toe gebring wat miljoene rand geskuld het. 25Hy kon dit nie betaal nie, en daarom het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, verkoop en die skuld betaal moet word. 26Die man het voor hom neergeval en gesoebat: ‘Gee my tog uitstel; ek sal u alles terugbetaal.’27Die koning het hom jammer gekry, hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.

28“Toe daardie man buite kom, het hy een van sy medeamptenare raakgeloop wat hom net ’n paar rand geskuld het. Hy het hom gegryp en gewurg, en gesê: ‘Betaal wat jy skuld!’29Sy medeamptenaar het voor hom neergeval en hom gesmeek: ‘Gee my tog uitstel, ek sal jou betaal.’30Maar hy wou nie en hy is daar weg om hom in die tronk te laat gooi totdat hy die skuld betaal het.

31“Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle diep teleurgesteld, en hulle het alles wat gebeur het, vir hulle koning gaan vertel. 32Die koning het hom laat haal en vir hom gesê: ‘Jou skurk! Al daardie skuld het ek vir jou afgeskryf omdat jy my gesoebat het. 33Moes jy nie ook jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer gekry het nie?’34Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.

35“So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Fokusteks

Eksodus 14:19-31
Die farao agtervolg die Israeliete
14 Die Here het vir Moses gesê: 2“Beveel die Israeliete om weg te draai en kamp op te slaan naby Pi-Hagirot tussen Migdol en die see. Regoor Baäl-Sefon by die see moet julle kamp opslaan. 3Dan sal die farao dink die Israeliete het verdwaal en is deur die woestyn vasgekeer. 4Ek sal die farao weer koppig maak, sodat hy julle agtervolg, en Ek sal my mag laat geld teen hom en sy leër. Dan sal Egipte besef dat Ek die Here is.”

Die Israeliete het die bevele uitgevoer.

5Toe die koning van Egipte die berig kry dat die volk vir goed weg is, het sy houding en dié van sy amptenare teenoor die Israeliete verander. Die Egiptenaars het gesê: “Wat het ons aangevang dat ons die Israeliete laat trek het? Nou is ons hulle diens kwyt!”

6Die farao het sy strydwa laat inspan en sy leër saam met hom gevat. 7Hy het sy ses honderd beste strydwaens gevat, asook al die ander Egiptiese strydwaens, elkeen met ‘n bemanning van drie. 8Die Here het die farao, die koning van Egipte, koppig gemaak sodat hy die Israeliete agtervolg het, maar die Israeliete het onder die beskerming van God verder getrek. 9Die Egiptenaars het hulle agtervolg, en al die strydwaens van die farao met bemanning en leërmag het hulle ingehaal terwyl hulle besig was om by die see kamp op te slaan, naby Pi-Hagirot regoor Baäl-Sefon.

10Toe die farao nader kom, sien die Israeliete skielik die Egiptenaars sit hulle agterna. Hulle het baie bang geword en benoud na die Here geroep.

11Hulle het vir Moses gesê: “Is daar nie begraafplek in Egipte nie dat jy ons saamsleep om in die woestyn te sterwe? Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het? 12Ons het jou mos in Egipte gesê om ons te laat staan dat ons vir die Egiptenaars werk. Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom.”

13Maar Moses het die volk geantwoord: “Moenie bang wees nie. Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red, want soos julle die Egiptenaars nou daar sien, sal julle hulle nooit weer sien nie. 14Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”

Die Here red die Israeliete
15Toe het die Here vir Moses gesê: “Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. 16En jy, lig jou kierie op en steek jou hand oor die see uit en kloof dit oop sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan. 17Ek sal die Egiptenaars so koppig maak dat hulle die Israeliete sal agtervolg. So sal Ek my mag laat geld teenoor die farao en sy hele leër: strydwaens en bemanning. 18Wanneer Ek my mag laat geld teenoor die farao, sy strydwaens en hulle bemanning, sal Egipte besef dat Ek die Here is.”

19Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem. Ook die wolkkolom wat voor hulle was, het agter hulle ingeskuif, 20tussen die Egiptenaars en die Israeliete. Aan die Egiptiese kant was die wolk donker en aan die Israelitiese kant het dit die nag verlig. Die hele nag deur het die twee groepe nie nader aan mekaar gekom nie.

21Moses het sy hand oor die see uitgesteek, en die Here het daardie hele nag die water met ‘n sterk oostewind weggedryf, sodat die water oopgekloof en die see daar drooggelê is. 22Die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan, en die water het weerskante van hulle soos ‘n muur gestaan. 23Die Egiptenaars het hulle agternagesit: die farao se perde, strydwaens en bemanning is almal agter hulle aan die see in. 24In die vroeë môre het die Here uit die vuur- en wolkkolom afgekyk op die Egiptiese leër en verwarring onder hulle gesaai. 25Hy het die wiele van hulle strydwaens laat uitval, sodat hulle skaars kon beweeg.

Toe sê die Egiptenaars: “Ons moet wegkom van die Israeliete af, want die Here veg vir hulle teen Egipte.” 26Maar die Here het vir Moses gesê: “Steek jou hand uit oor die see sodat die water oor die Egiptenaars, oor hulle strydwaens en bemanning kan stroom.”

27Moses steek toe sy hand oor die see uit. Teen dagbreek het die see teruggestroom oor sy bodem en die Egiptenaars het hulle teen die water vasgevlug: die Here het hulle deur die see laat meesleur. 28Toe die water terugstroom, was die strydwaens en bemanning, die hele leërmag van die farao wat agter die Israeliete aan die see in is, tóé onder die water. Daar het nie een van hulle oorgebly nie.

29Maar die Israeliete het op droë grond deur die see gegaan en die water het weerskante van hulle soos ‘n muur gestaan. 30Die Here het Israel daardie dag gered van Egipte, en die Israeliete het die Egiptenaars dood op die strand sien lê. 31Toe Israel sien hoe kragtig die Here teen Egipte opgetree het, is hulle met ontsag vir Hom vervul. Hulle het in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.

Ekstra stof

Eksodus 13:17-14:31 – Die teenwoordigheid van die Here raak die Godsvolk se kompas deur die woestyn
In drie episodes word die trek van die Israeliete uit Egipte tot deur die Rietsee vertel.  Die redes vir die ompad wat die Israeliete neem en die direkte begeleiding wat die Here van die begin af vir hulle gegee het, word in die eerste episode vertel – Eks. 13:17-22.  Farao se koppige agtervolging van die Israeliete om hulle weer terug te dwing in slawerny word in die tweede episode vertel met die klem op die Israeliete wat opgeroep word om vas te staan en op die Here se ingrype te wag en vertrou: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg” – Eks. 14:1-14.  Die Here se wonderbare voorsiening van ‘n pad deur die Rietsee waardeur die Israeliete finaal van Egipte en die smeltkroes van hulle vernedering kan afskeid neem, word in die laaste episode vertel – Eks. 14:15-31.

Die Here begelei die Israeliete met ‘n ompad na die Rietsee – 13:17-22
Dit is interessant dat die Israeliete goed georganiseerd uit Egipte getrek het wat beteken hulle was reg vir enige moontlike konflik wat hulle sou teëkom.

Maar die Here besluit in sy wysheid om hulle nie met die kortste pad na Kanaän te begelei nie. Die Here het voorsien dat as die volk in ‘n geveg betrokke sou raak, en dit met hulle sleg sou gaan in die oorlog, hulle dalk spyt kon kry en na Egipte toe teruggaan. Daarom het Hy hulle nie met die pad geneem wat hulle direk met die Filistyne sou konfronteer op pad na Kanaän nie, maar eerder die ompad deur die woestyn in die rigting van die Rietsee. Die Filistyne sou weldra van die wonderwerke in die woestyn kennis neem, soos ‘n mens later in Samuel se tyd lees en ook met ontsag vir die Here vervul word (1 Sam. 4:8).

Die Griekse vertaling van die OT het die Hebreeuse Rietsee vertaal as Rooisee.  Dit is waarom daar in die NT in die toespraak van Stefanus (Hand. 7:36) en die beskrywing van die Uittog deur die Hebreërskrywer (Hebr. 11:29) van die Rooisee gepraat word.

Die presiese plek waar hulle die Rietsee sou kruis, is onduidelik, hoewel dit êrens in die gebied noordwes van die Rooisee tussen die Golf van Suez en die Groot Bitter Meer, geleë moes wees, min of meer die gebied waar die Suezkanaal vandag gebou is.  In daardie tyd was daar verskillende mere en moerasagtige dele in daardie gebied waarvan die watervlak hoër was as wat dit vandag is.

Moses het ook die versoek van Josef geëer deur sy beendere saam te neem sodat dit in Sigem begrawe kon word.  Hulle is deur die wolkkolom van die Here begelei en het by Etam (onbekend) kamp opgeslaan. Die wolkkolom van God se teenwoordigheid by hulle het in die nag in ‘n vuurkolom verander sodat hulle dag en nag kon trek.  Daarmee het die teenwoordigheid van die Here self die Godsvolk se kompas geword deur die woestyn.

Farao agtervolg die Israeliete, maar die Here laat hulle vasstaan in vertroue – 14:1-14
Die Here laat die Israeliete wegdraai van Etam en nader aan die Rietsee kamp opslaan  Hoewel ons nie presies die drie plekke – Pi-Hagirot, Migdol en Baäl-Sefon – kan identifiseer nie (dit was waarskynlik Egiptiese vestings op hulle noord-oostelike grens) is dit duidelik dat die verwysings ‘n historiese basis het weens die presiese geografiese beskrywing aan die hand van die vier merkers (die see is die vierde merker).

Dit is ook duidelik dat dit ‘n uiters slim skuif is van die Here, want die verandering van rigting sou die farao kon laat dink dat die Israeliete verdwaal het en dat hulle deur die woestyn vasgekeer is.  Gegewe sy koppigheid sou dit hom verlei om te probeer om hulle te agtervolg en in te haal.  Dit is egter duidelik ‘n goddelike hinderlaag, want die Here het reeds besluit dat Hy ook dáár sy mag sal laat geld teen farao en sy leër: “Dan sal Egipte besef dat Ek die Here is.

Die farao val vir die hinderlaag en vat sy leër saam met hom op meer as ses honderd van sy strydwaens, waarskynlik ongeveer 1 800 soldate, drie per strydwa.  Hulle het die Israeliete dus baie maklik ingehaal tot die Israeliete se groot konsternasie.

Let op hoe hulle vrees en benoudheid op Moses geprojekteer word en hy beskuldig word dat hy hulle teen hulle sin saamgesleep het om in die woestyn te sterwe.  Kan jy nou meer!  “Dit is vir ons beter om vir hulle te werk as om hier in die woestyn om te kom,” sê hulle mismoedig en ongelowig.

Moses praat hulle egter moed in: “Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag gaan red … Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.”  ‘n Belofte wat op baie maniere in baie verskillende situasies en op baie verskillende maniere vir gelowiges deur die eeue waar geword het.

Die Here red die Israeliete deur ‘n pad deur die Rietsee – 14:15-31
Die Here se opdrag aan Moses om met sy kierie in die hand die see oop te kloof sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan, gee vir ‘n mens ‘n fassinerende kykie in die sinergie wat daar tussen God se werk en dié van sy dienaars is.  God bly die handelende subjek, maar Moses speel ook sy rol deur ‘n aksie van gehoorsaamheid uit te voer.

Sonder God se opdrag en optrede sou daar niks gebeur het nie.  Sonder Moses se gehoorsaamheid sou daar moontlik ook niks gebeur het nie, of te wel dan nou nie deur Moses nie, omdat God soms sy dienaars se onwilligheid om op te tree, ter syde stel (vgl. Bileam in Num. 22).

Die gordyn word ‘n bietjie verder oopgeskuif oor watter voorreg Israel werklik in die manifestasie van God se teenwoordigheid in die wolk- en vuurkolom gehad het.  Midde daarin was die Engel van God wat hier – soos die Engel van Jahwe (Engel van God en Engel van Jahwe word uitruilbaar gebruik, vgl. Rigt. 6:20-22) wat vroeër by die doringbos aan Moses verskyn het – nie net saam met hulle beweeg het nie, maar nou as beskermer tussen hulle en die Egiptenare inbeweeg het.  Die Engel van God (Jahwe) was dus beide Begeleier en Beskermer, presies die tipe kwaliteite wat God self gehad het.

Ook die wolkkolom het agter hulle ingeskuif om ‘n skeiding tussen die Israeliete en die Egiptenare te verskaf sodat die Here tyd kon hê om die water met ‘n sterk oostewind oop te kloof sodat die Israeliete droogvoets daardeur kon trek.  Aan die Egiptenare se kant was dit donker.  Aan die Israeliete se kant was dit lig.

Vir die Israeliete was die pad deur die see hulle redding.  Vir die Egiptenare was dit hulle ondergang.  Hulle pogings om om te draai en te vlug was tevergeefs.  Hulle het teen die terugkerende water vasgevlug en die Here het hulle deur die see laat meesleur.  Daar het nie een van die soldate oorgebly nie, hoewel dit tog lyk asof farao met sy lewe daarvan afgekom het.  Daar word nie vermeld wat met hom gebeur het nie.

Hierdie ervaring van redding uit die water wat weerskante van Israel soos ‘n muur gestaan het, het ‘n onuitwisbare indruk op hulle gemaak.  Hulle is met ontsag vir die Here vervul. Daarom het hulle in die Here geglo en, sê die skrywer, ook in Moses, sy dienaar.

Daarmee het die Israeliete van die tog deur die see ook geloofstatus verkry in die oë van die Hebreërskrywer wat opmerk: “Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.” (Hebr. 11:29).

Paulus se interpretasie hiervan in 1 Korintiërs 10:1-22
Paulus verwys direk na hierdie verhaal van die voorvaders wat almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het.  Hy sê: “Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop. Almal het dieselfde geestelike voedsel geëet, en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus.

Paulus gebruik hierdie verhaal dus as ‘n waarskuwing en motivering vir ons, omdat die ongemaklike waarheid oor die Israeliete in die woestyn was, dat ten spyte van hierdie wonderlike ervaring by die Rietsee: “God met die meeste van hulle nie tevrede (was) nie, want hulle het in die woestyn omgekom.

Paulus gaan verder om te sê dat hulle daarom: “voorbeelde vir ons (is) dat ons ons nie soos hulle deur sondige begeertes moet laat dryf nie.”  En hy brei uit oor die gevaar van afgodediens en onsedelikheid wat altyd die twee groot versoekings vir die geloofsgemeenskap is.  Hy sê letterlik dat die Israeliete met hulle latere optrede CHRISTUS uitgetart het, omdat die Goddelike teenwoordigheid in die wolk- en vuurkolom, sowel as die Engel van God, met die Here Jesus in sy preëksistensiële gedaante verbind kan word.  En hulle het omgekom deur die engel van die dood, d.w.s. ‘n “plaag” (NAV: “ramp“) soos dit in Numeri 25:8 beskryf word.

Paulus verkondig teenoor dié wrede werklikheid die verlossende teenwoordigheid van die Here Jesus wat vir ons in versoeking sorg en intree.  Jesus gee immers in versoeking die uitkoms, sodat ons dit kan weerstaan, soos Paulus ons troos en bemoedig.

Lees verder in my bydrae oor 1 Korintiërs 10 waarin ek ook na verskeie gedeeltes uit die woestynverhaal verwys met die beskrywende titel: 1 Korintiërs 10 – Gemeenskap met God moet ten alle koste beskerm word.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 154 of Vonkk 145 of F22

Votum: Eksodus 15:1-3

Seëngroet

Lofsang: Lied 183 of Lied 192 of VONKK 76 of  F21

Wet: Romeine 14:1-12

Skuldbelydenis

Geloofsbelydenis: Heidelbergse Kategismus Vraag & Antwoord 1

Genadeverkondiging en toe-eiening: Lied 290 of F182

HOOR

Gebed: Lied 292 of F13

Skriflesing: Eksodus 14:19-31

Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 458

Seën: Num. 6:24-27

Respons: Lied 189

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader” of
Vonkk 145 Laat Almal Wat Dors Het, Kom of
F22. Ek Soek U, O God [bekend]

Votum
Eksodus 15:1-3
“Ek wil tot eer van die Here sing
omdat Hy hoog verhewe is.
Perd en strydwa
het Hy in die see geslinger.
2Die Here is my krag
en my beskerming.
Hy het tot my redding gekom.
Hy is my God, Hom roem ek,
die God van my voorvaders,
Hom prys ek.
3Die Here is oorwinnaar in die stryd,
sy Naam is ‘die Here’!

Seëngroet

Lofsang
Lied 183 “Verbly jul in die Here” of
Lied 192 “Grote God, u skepperhand” of
VONKK 76 Onsterflik, Onsienlik, Almagtig En Wys  of
F21. In Die Hemel Is Die Heer [bekend]

Wet
Romeine 14:1-12
14 Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. 2Een glo ’n mens mag alles eet; ’n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. 3Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.

4Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg.

5Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ’n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. 6Die een wat ’n bepaalde dag op ’n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God.

7Niemand van ons leef tog
vir homself nie,
en niemand sterf vir homself nie.
8As ons lewe, leef ons tot eer
van die Here;
en as ons sterwe, sterf ons tot eer
van die Here.
Of ons dan lewe en of ons sterwe,
ons behoort aan die Here.
9Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes.
10Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, 11want daar staan geskrywe:
“So seker as Ek lewe, sê die Here,
voor My sal elke knie buig,
en elke tong sal bely dat Ek God is.”
12Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee.

Skuldbelydenis: Stil oordenking

Geloofsbelydenis
Liturg (Heidelbergse Kategismus Vraag 1):  Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?
Gemeente (Antwoord):  Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.

Genadeverkondiging en toe-eiening
Lied 290 “Dit is my troos dat ek gedoop is” of
F182. Herder Heer (Herder Jesus) [Melodie: Rock of Ages]

Liedere

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en musiek: Rhe Janse
© 1994 Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën – Willie Joubert
25 Gunsteling Lof- en Aanbiddingsliedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)
(Ps 63)

1. Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ’n land sonder water,
wil ek tot U nader
om by U te wees,
om by U te wees.

2. As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe.

F21. “In Die Hemel Is Die Heer”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Verwondering)
Teks en musiek: Tom Hiemstra
Teks: (strofes 3,4 onbekend)
© 2001 MAR Gospel Music Publishers
(vers 1 en 2 opgeneem op Louis Brittz se CD Ons Koning kom weer)

1. In die hemel is die Heer
en sy glans is soos kristal.
Hy’s die Heilige van God
en Hy heers oor die heelal.

Refrein:
Daar is mag in sy Woord!
Soos die waters druis sy stem.
Soos die son op die see se blou,
so die rykdom van sy trou.
Want aan U is die mag
en die heerlikheid en krag.
En aan U is die eer
en die lof, want U regeer.

2. Miljoene in gereedheid,
is die eng’le om sy troon.
Verbysterend sy sieraad
en die weelde van sy kroon.

Refrein:
3. Drie maal heilig is die Heer,
Hy wat was en is en kom.
Hy’s die Alfa en Omega,
almagtig en verhewe.

Refrein:
4. Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
die heerlikheid en lof
van nou af en vir ewig.

Refrein:

F13. “Tel My Op”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: Til mij op
Teks en musiek: Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht
© 1999 Celmar Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)
(Deut 1:31 en Jes 63:9)

1. Ek wil naby aan U wees,
soos ’n seun op sy vader se skoot.
Ek wil naby aan U wees.
Dit is die plek waar ek hoor.

Refrein:
En U tel my op, neem my in u arms.
En U tel my op, druk my styf teenaan u vas.
En U tel my op, dra my in u arms.
En U tel my op en laat my nooit weer gaan.

2. Ek wil naby aan U bly,
soos ’n kind op die vader se skoot.
Ek mag naby aan U bly.
Dit is die plek waar ek hoor.

Refrein:

Brug:
Dra my deur die diepe water,
waar ek self nie meer kan staan.
In u arms is ek veilig,
wanneer U my dra as ek nie verder kan gaan.

Koda:
Ek mag naby aan U bly,
soos ’n kind op die vader se skoot.
Ek mag naby aan U bly,
dit is die plek waar ek hoor.

Eindig met:
En U tel my op en laat my nooit weer gaan.

F182. “Herder Heer (Herder Jesus)” 
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue)
Oorspronklik: Rock of Ages
Teks: Augustus M Toplady
Musiek: Thomas Hastings
Afrikaanse vertaling: Koos van der Merwe
© Jack Publishing

1. Herder, Heer, na wie ek soek
ek wil luister as U roep.
Want ek swig ek val en gly
as u stem verdof in my.
Voor U, Heer, kom word ek stil
buig my hart en buig my wil.

Refrein:
Daar is waters in woestyne
by die Herder se fonteine.
As die storms woed in my
sal ek daar my rus kom kry.

2. Wys U my hoe ek moet leef,
leer U my om U te ken.
Ek alleen verbrou en dwaal,
U alleen kan my kom haal.
Op die weg kan U my hou
al is dit styl, al is dit nou.

Refrein:

3. Gee my lig, ontskemer my
as ek wil swig, kom anker my.
Want ek is broos, onvas, onwys,
sal U vir my die pad kom wys.
Waar U spore my heen lei
wil ek wandel wil ek bly.

Refrein: (x2)

Vonkk 145 “Laat Almal Wat Dors Het, Kom”
Nav Jesaja 55:1
Teks: Let all who are thirsty come – Taizé 2010; Afrikaanse weergawe: Jacques Louw 2010 ©
Musiek: Taizé
Ateliers et Pressez de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik.
© 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping / Nagmaal

Laat almal wat dors het, kom,
laat almal kom ontvang die water van lewe vrylik.
Amen, kom, Heer Jesus.
Amen, kom, Heer Jesus.

Let all who are thirsty come.
Let all who wish receive the water of life freely.
Amen, come, Lord Jesus.
Amen, come, Lord Jesus.

VONKK 76 “Onsterflik, Onsienlik, Almagtig En Wys”
Teks: Immortal, invisible – Walter Chalmers Smith (1824-1908); Jacques Louw 2008 ©
Melodie: ST DENIO – tradisionele Walliese melodie (Canradau y Cyssegr)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Skepping en Onderhouding

1.  Onsterflik, onsienlik, almagtig en wys,
o God, so verhewe, u Naam wil ons prys.
Ons eer en aanbid U, o God van die tyd.
U heers as oorwinnaar vir nou en altyd.

2.  Die skepping, o Vader, getuig van u krag.
Ons kan U nie sien nie, tog heers U met mag.
U goedheid en liefde is tekens van seën.
Ons weet U’s teenwoordig hier rondom ons heen.

3.  O God, U gee lewe aan klein en aan groot.
U sorg vir u skepsels, tot selfs in die dood.
Van alles op aarde bly U steeds die bron.
Al sterf ons, U bly daar – die ewige Son!

4.  O Vader, die heerlikheid straal van u troon,
met hemelse luister tot hier waar ons woon.
U glansryke glorie maak duisternis lig –
selfs engele steier, verberg hul gesig.

5.  Onsterflik, onsienlik, almagtig en wys,
o God so verhewe, u naam wil ons prys.
Ons eer en aanbid U, o God van die tyd.
U heers as oorwinnaar vir nou en altyd.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 292 “My enigste troos” of
F13. Tel My Op

Skriflesing: Eksodus 14:19-31

Preek

Familie-oomblik

Dit is altyd goed – veral met verhalende tekste – om gewoon die Bybelverhaal te vertel, sonder enige toepassings.  Ons wil juis hê kinders moet die Bybel leer ken.  Veral ‘n verhaal soos vandag s’n is lekker grafies en visueel.

As jy lekker dramaties kan vertel, is hier ‘n goeie idee vir hoe om die verhaal te vertel.  Kyk vanaf 1:58 vir vandag se verhaal. Hier is ‘n lekker “low-tech” (3D papier) hulpmiddel om die storie mee te vertel – met instruksies.  Of nog ‘n papier-hulpmiddel (wat jy self sal moet inkleur).

Daar is ook baie videos wat hierdie gedeelte uitbeeld:  vir dramatiese nostalgie is daar die toneel uit die ou fliek “The Ten Commandments”.  Of uit die meer onlangse geanimeerde “The Prince of Egypt”Hier is ‘n moderne geanimeerde weergawe, woord-vir-woord uit die Bybel (jy sou die video kon wys sonder klank en die Afrikaans dramaties lees).  Hier is ‘n volledige stel (outyds-erige) prente wat jy op die powerpoint kan gebruik terwyl jy die storie vertel.

Die heel lekkerste opsie is sekerlik die YouVersion Bible App for kids.  Laai die storie af (“God makes a way”) en kyk dit interaktief op jou tablet.  Of neem “screenshots” en wys dit in die powerpoint.  Die interaktiewe weergawe het vragies en animasie

As kinders die hele diens gaan bly, kan jy vir elkeen een van hierdie inkleurprente gee om in te kleur terwyl hulle luister na die preek.

Preekriglyn

Kareedouw is een van die pragtige dorpe in die skilderagtige Langkloof. Die kerkgebou van die NG Gemeente is net so mooi: van buite én binne. Die natuurlike steen in die bouwerk en die houtwerk binne bring aardsheid en egtheid mee in die ontmoeting met God.

Tydens ‘n leierskonferensie, so ‘n paar jaar gelede, sit ons in die kerksaal. Ons kyk uit oor die Krommerivier, wat deur die dorp vloei, en die pragtige berglandskap. Terwyl die gesprek oor die wil van die Here vir die omgewing gaan, merk iemand op dat ons oor die bewaring van water, berg, boom en omgewing moet praat. Die Bybel gaan ons hierin voor, sê hy.

Een van die ouderlinge vind hierdie opmerking besonder vreemd. Hy sê die kerk is nie die landbouvereniging nie. Daar praat mense oor berge en bome, oor grond en water, oor groente, bees en skaap. Die kerk het ‘n ander fokus.

Sedertdien het ons land deur die meule van ‘n wydverspreide droogte gegaan. As dit nie was vir baie gemeentes en lidmate wat water aangery en voer gestuur het nie, sou mens en dier vergaan.

By die skryf hiervan is die Langkloof en omgewing, die Nelson Mandela Metropool ingesluit, in die greep van ‘n vernietigende droogte. Hoewel die wolke soms pragtig saampak, reën dit nie genoeg om die droogte breek nie.

Net ‘n entjie van Kareedouw was plekke soos Knysna en Plettenbergbaai die slagoffer van ongekende brande wat verstommende skade aangerig het. Weer het baie, waaronder toegewyde gelowiges, ruimhartig bygedra sodat die leed versag kon word.

Vandag lag ons ouderling-vriend lag verleë oor sy vroeëre opmerking. Hy weet eintlik al die jare van beter, sê hy. Die Bybel vertel hoe God mense deur vuur en water heen dra, deur vloed en droogte beskerm. Hy weet ook dat die aarde en al die elemente daarvan kosbaar is, en beskerm moet word. Mens moet sekerlik by die landbouvereniging oor hierdie sake praat. Maar jy moet veral in die kerk daarvan praat. God gaan ons hierin voor.

‘n Troue God

Natuurlik moet ons oor die omgewing praat. Vandag gaan ons teks oor die groot werke van God toe God sy volk uit Egipte bevry het. Ons ontmoet ‘n God wie se werktuie en gesante die waters, en die kolomme van vuur en wolke is. Verlossing raak alles en betrek alles.

Verlossing en skepping is in ons teks volledig by mekaar betrokke. Die hele wêreld of kosmos is die terrein van God se redding.

Die gebeure by die Rietsee is simbolies Israel se doop in die genade van die troue Verbondsgod. God se verlossing word tasbaar deur die waters wat oopgaan om die volk te laat deurgaan, maar ook weer sluit om die vervolgers te stuit.

Drie episodes

Ons teks is deel van ‘n groter eenheid in Eksodus waarin die trek van Israel uit Egipte oorvertel word:

  • Die redes vir die ompad wat die Israeliete neem en die direkte begeleiding wat die Here van die begin af vir hulle gegee het, word in die eerste episode vertel – Eks. 13:17-22.
  • Farao se koppige agtervolging van die Israeliete om hulle weer terug te dwing in slawerny word in die tweede episode vertel. Die Israeliete word opgeroep om vas te staan en op die Here se ingrype te wag en vertrou: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg” – Eks. 14:1-14.  D
  • Die Here se wonderbare voorsiening van ‘n pad deur die Rietsee waardeur die Israeliete finaal van Egipte en die smeltkroes van hulle vernedering kan afskeid neem, word in die laaste episode vertel – Eks. 14:15-31.
‘n Pad deur die Rietsee

Die Here gee Moses opdrag om met sy kierie in die hand die see oop te kloof sodat die Israeliete op droë grond kan deurgaan.  God bly die Een wat handel, maar Moses speel ook sy rol deur ‘n aksie van gehoorsaamheid uit te voer.

Sonder God se opdrag en optrede sou daar niks gebeur het nie. Sonder Moses se gehoorsaamheid sou daar moontlik ook niks gebeur het nie.

Die gordyn word ‘n bietjie verder oopgeskuif oor watter voorreg Israel werklik in die verskyninge van God se teenwoordigheid in die wolk- en vuurkolom gehad het. Midde daarin was die Engel van God wat hier nie net saam met hulle beweeg het nie, maar nou as beskermer tussen hulle en die Egiptenare inbeweeg het. Die Engel van God was dus beide Begeleier en Beskermer, presies die tipe kwaliteite wat God self gehad het.

Ook die wolkkolom het agter hulle ingeskuif om ‘n skeiding tussen die Israeliete en die Egiptenare te verskaf sodat die Here tyd kon hê om die water met ‘n sterk oostewind oop te kloof sodat die Israeliete droogvoets daardeur kon trek.  Aan die Egiptenare se kant was dit donker. Aan die Israeliete se kant was dit lig.

Vir die Israeliete was die pad deur die see hulle redding. Vir die Egiptenare was dit hulle ondergang. Hulle pogings om om te draai en te vlug was tevergeefs. Hulle het teen die terugkerende water vasgevlug en die Here het hulle deur die see laat meesleur. Daar het nie een van die soldate oorgebly nie, hoewel dit tog lyk asof farao met sy lewe daarvan afgekom het.  Daar word nie vermeld wat met hom gebeur het nie.

Hierdie ervaring van redding uit die water wat weerskante van Israel soos ‘n muur gestaan het, het ‘n onuitwisbare indruk op hulle gemaak. Hulle is met ontsag vir die Here vervul. Daarom het hulle in die Here geglo en ook in Moses, sy dienaar.

Daarmee het die Israeliete van die tog deur die see ook geloofstatus verkry in die oë van die Hebreërskrywer wat opmerk: “Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het.” (Hebr. 11:29).

Drie aspekte

Wat beteken hierdie geskiedenis vir ons? Wanneer ons dink oor die wyse waarop skepping en verlossing in hierdie drama bymekaar uitkom, kom drie aspekte na vore. Die volgende elemente lê in die verhaal opgesluit:

  • Waarskuwing
  • Troos
  • Herinnering
Waarskuwing

Eerstens kan Eksodus 14:19-31 as “waarskuwing” gelees word. Dons is geneig om met die onderdrukte Israeliete, die slawe van Egipte te assosieer. Daar is verskeie redes hiervoor. Nie alleen omdat die verhaal van Israel uiteindelik uitmond in die evangelie aangaande Jesus nie, maar moontlik ook omdat God in hierdie verhaal die Israeliete goedgesind is. God is in hierdie verhaal aan die “kant” van die Israeliete. Daarmee is Hy die God wat in besonder aan die kant van armes, veronregtes, onderdruktes staan. Die Here is “nie” ‘n fasiliteerdergod, wat die posisie van ‘n middelman tussen die twee partye – Egipte en Israel – inneem nie.

Die God van Eksodus is die Een wat kant kies, wat bevooroordeeld is, wat subjektief optree en waaroor daar hoegenaamd geen misverstand kan wees nie: God kies Israel. Meer nog, Hy veg vir Israel. Die Israeliete is nie bloot vlugtelinge in hierdie verhaal nie.

‘n Aantal vrae kom na die oppervlak oor die karakters waarmee hedendaagse lesers in die verhaal assosieer. Is Israel werklik die party waarmee moderne lesers hulleself behoort te vereenselwig? Is ons nie eerder die Egiptenaars wat halsoorkop, sonder agting vir die gevolge van hulle aksies, die see binnestorm nie?

Ons moet hieroor ook ekologies dink. Dit is die vraag wat destyds op Kareedouw geopper is. Wat doen ons met die skepping? Is die Egiptenaars vandag diegene wat doelbewus fossielbrandstowwe teen ‘n onvolhoubare tempo bly gebruik, al sou die gevolg daarvan wees dat stygende oseaanvlakke ons oorweldig? Is ons nie diegene oor wie die see gaan terugstroom, juis weens die onverantwoordelike wyses waarop ons die wêreld – natuurlike hulpbronne, diere, plante, selfs die goedkoop arbeid van arm mense – uitbuit nie?

Dalk word ons soos die Egiptenaars diegene wat uiteindelik, te laat, besef ons is in die moeilikheid – met die enigste opsie om in daardie oomblikke van angs God te bely, soos die Egiptenaars in Eksodus 14:25 God bely?

Troos

Tweedens kan Eksodus 14:19–31 as “troos” gelees word. In hierdie verhaal is die verlossingsinisiatief nie by mense – die Israeliete óf die Egiptenaars – nie, maar by God alleen. Die dubbele wonder (van water wat verdeel en water wat herenig, of selfs van die Egiptenaars wat verdrink en die Israeliete wat oorleef) is nie die punt van die verhaal nie. Die bedoeling lê eerder opgesluit in die woorde van vers 4: “die Egiptenaars sal weet dat ek die Here is”.

Dit kom tot vervulling in die belydenis by vers 25, waar die Egiptenaars besef die Here “stry” (OAB) of “veg” (NAB) vir die Israeliete teen Egipte. In hierdie Egiptiese belydenis kom die belofte van Moses in vers 14 tot vervulling, naamlik dat die Here vir Israel sal veg. Die Egiptenaars bely wat die Israeliete self betwyfel het (11 en 12).

Dit is “die verlossing van die Here” (Eks 14:13) wat hierdie verhaal ontsluit, want dit is God wat vir die Israeliete baklei (Eks 14:14). God is aan die kant van die Israeliete. In werklikheid staan die farao en sy Egiptenaars geen kans teen God nie. Die stryd word van die begin van die boek Eksodus af reeds deur die Here beplan, bepaal en gerig). God word beide uitgebeeld as ‘n rolspeler “in” die verhaal en die regisseur “van” die verhaal.

Die Israeliete, daarenteen, het geen aktiewe rol te vervul in die gebeure nie. Hulle is eerder toeskouers, vlugtelinge, passiewe toekykers van God se ingryping. Hulle word selfs deur Moses aangemaan dat hulle “moet stil wees” (Eks 14:14)! Die Verbondsgod van Israel neem die inisiatief, beplan, en bewerk die verlossing van die Israeliete. Die Israeliete kan gewoon stil wees, want God verlos.

Hieroor kan egter ook vrae gevra word. Hang dit van ons af om die aarde te red, van klimaatsverandering of stygende oseaanvlakke of die uitsterf van spesies? Of kan ons gewoon stil wees en weet dat God verlos? Is die goeie nuus van die evangelie nie juis dat ons nie aan onsself behoort nie, selfs dat die aarde nie aan ons behoort nie, maar aan God? Dat God wat in Jesus geopenbaar sou word, wie die see sou kalmeer (Matt 8:23-27; Mark 4:25–41; Luk 8:22-25) en op die water sou loop (Matt 14:22-33; Mark 6:45-52; Joh 6:16-21), ook die stygende oseaanvlakke en La Nina vloedwaters van ons tyd tot bedaring sou kon bring nie?

Uiteraard ontsê so ‘n interpretasie van verlossing nie die betrokkenheid van mense of selfs natuurelemente (soos wind; sien Eks 14:21) in die werk van God nie. Die vraag wat gereformeerde kerke eerder hulleself afvra, veral in 2017 met die 500-jarige Reformasievieringe: Wat is die verhouding tussen regverdiging en heiligmaking? Wat doen God en wat doen ons, in reaksie op God se inisiatief, binne die huishouding van die Drie-enige God?

Herinnering

Derdens kan Eksodus 14:19-31 as “herinnering” gelees word. Die deurtog deur die see word in die Bybel en by die vroeë kerkvaders (soos by Origenes) nie beskou as ‘n ramp nie, maar as “suiwering” of selfs “geboorte”.

‘n Teoloog wys daarop dat die sleutelteks “geboortetaal” inspan, waarin hy die analogie van ‘n pad deur water ingedagte het. Soos wat ‘n baba uit die vrugwater van die baarmoeder gebore word, word die Israeliete opnuut gebore uit die seewater van die Rietsee.

Van die vroeë kerkvaders het die sleutelteks op soortgelyke wyse geïnterpreteer, met die volgende vergelyking: Soos die Israeliete gered is deur die water van die Rooisee word Christene gered deur die water van die doop. Die uitverkorenes word gered deur water (Gregorius van Nyssa); dieselfde water red sommiges en verwoes ander (Ambrosius); doopwater, wat ingestel is deur die bloed van Christus, was die sonde weg (Augustinus), en; die Rooisee herinner aan die water van die doop – wat self rooi is weens die vermenging met die bloed uit die gekruisigde Jesus se sywond (Cassiodorus).

Paulus gebruik die verhaal oor Israel se deurtog deur die see as verwysing na die Christelike doop (1 Kor 10:1-2). In hierdie interpretasie wys na die Israeliete se deurtog deur die see heen na die sakrament van die doop. Dit herinner ons daaraan dat ons nie aan onsself behoort nie, maar aan Jesus Christus ons Verlosser (Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 1). In die herinnering aan die doop word ons, soos Martin Luther, tot bedaring gebring. Ons kan ook, soos Luther, in onstuimige omstandighede bely: Baptizatus sum! (“Ek is gedoop!”)

Franciskus van Assissi se bekende liedere en gebede help ons hiermee. Dink aan die volgende:
Laudato si, mi signore, per sor aqua,
Alle lof aan U, my Heer, deur Suster Water,

laquale e multo utile et humile et pretiosa et casta.
so nuttig, nederig, kosbaar en suiwer.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 458 “Aan U ons lof, o God”

Seën: Num. 6:24-27

Respons
Lied 189 “Halleluja”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.