Vyfde Sondag van Paastyd (Arbeidsondag)

Sections

Oorsig

Inleiding

Die Vyfde Sondag van Paastyd word Cantate genoem: “Sing” uit Psalm 98:1.

Fokusteks

Johannes 13:31-35

Ander RCL tekste

Handelinge 11:1-18 (Petrus getuig tot die nie-Jode oor sy bekering);
Psalm 148 (Die Here moet geprys word, want Hy is die Skepper);
Openbaring 21:1-6
(Die Woonplek van God is nou by die mense).

Johannes 13:31-35
Jesus se heengaan is naby
31Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. 33My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. 34Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

Eksegeties

Die afgebakende teks vorm deel van ’n hoofstuk wat veral bekend is vir die verhaal oor Jesus wat sy dissipels se voete gewas het. Ek het persoonlik ’n stukkie teleurstelling ervaar toe ek die opskrif van die perikoop in die Nuwe Afrikaanse Vertaling lees: “Jesus se heengaan is naby.” Dink ’n oomblik na oor die verwagtinge waarmee jy die teks benader het.

In die NAV staan vers 31-35 in ’n hoofstuk wat in vier perikope verdeel is. Die opskrifte van die verskillende perikope is: “Jesus was die voete van sy dissipels” (1-18); “Jesus wys sy verraaier aan” (19-30); “Jesus se heengaan is naby” (31-35); en “Petrus sal Jesus verloën” (36-38). D T Nel wys daarop dat die eerste en derde perikope egte dissipelskap uitbeeld. Die tema van dissipelskap is veral belangrik vir die toepassing van die teks op Arbeidsondag en die navolging van Christus in die ekonomie. Teenoor Jesus se voorbeeld staan die beskrywing in perikope twee en vier; Judas en Petrus misluk om Jesus getrou na te volg in sy sending na die wêreld. 

In die New King James Version is die perikoop nie so mooi afgebaken nie. Dit is deel van een lang hoofstuk onder die opskrif: “Disciples Must be Servants.” In die NAV val ’n paar woorde, name en gedagtes onmiddellik op. Dit wek die indruk van beweging en vloeibaarheid. Vers 31 begin met die woordjie “toe” (Gr hote), ’n aanduiding van tyd en opeenvolging van gebeure. Dit verwys na Judas wat die geselskap verlaat, nadat hy ’n stukkie brood van Jesus ontvang het. Dit gebeur in die nag (30). Dit is asof sy vertrek die teken is dat Jesus nou kan praat. “Judas’ departure sets in motion the glorification of Jesus” (Rossing). Wanneer Judas die vertrek verlaat, aktiveer hy ’n toespraak van Jesus waarin die woorde “verheerlik” (Gr doksaó) en “liefde” (Gr agape) sentraal is. (Sien Elliott se gedagtes oor die uniekheid van die Johannesevangelie se beskrywing van Jesus se laaste maaltyd saam met sy dissipels.) Die genre van Jesus se toespraak is dié van ’n testament, ter voorbereiding van sy naderende dood (Rossing).

In die eerste deel van die toespraak gebruik Jesus in vers 31 en 32 die woord “verheerlik” vyf maal. Volgens Nel is dit in chiastiese (oorkruis) rangskikking, waar die eerste, vierde en vyfde voorkoms op Jesus betrek word, en die tweede en derde op die Vader. Jesus sê: (i) nou word die Seun van die mens “verheerlik”; (ii) God word in Hom “verheerlik”; (iii) as God in Hom “verheerlik” word, (iv) sal God die Seun in Homself “verheerlik”, en (v) Hy sal die Seun onmiddellik “verheerlik”. In hierdie deel van die verhaal word daar eers ’n interaksie (wisselwerking) tussen Jesus en Judas geskets en dan weer tussen Jesus en God.

Die opbou van die argument rondom Jesus se verheerliking is belangrik. Dit begin met die stelling dat Jesus nou verheerlik word en eindig met die stelling dat dit onmiddellik gebeur. Tussenin is drie stellings wat die verbintenis tussen Jesus en God beklemtoon. Hulle is een. Jesus se verheerliking is die werk van God, maar God word terselfdertyd ook verheerlik in die Seun. Met verwysing na die vorm van die werkwoord (aor), sê Zerwick en Grosvenor: “from the outset the Passion and Resurrection are regarded as completed.” Rossing skryf “Jesus . . . (13:31) begins by speaking about his death as a glorification.”

In die volgende deel van Jesus se toespraak word ’n derde interaksie tussen die handelende agente in die verhaal beskryf, naamlik tussen Jesus en sy dissipels in die bovertrek. Jesus spreek die oorblywende elf dissipels volgens die NAV in vers 33 aan as “My kinders” (Gr teknia, verkleiningsvorm – “klein” kindjie). Daarmee word ’n baie intieme verhouding tussen Jesus en sy dissipels aangedui. In wat Hy vir hulle sê, word die indruk van beweging voortgesit en selfs ’n raaiselagtigheid geskep. Jesus is nog hier, maar Hy gaan hulle ook verlaat en dan sal hulle Hom soek. Die soektog sal egter niks oplewer nie, aangesien Jesus op pad is na ’n plek waar die dissipels nie nou kan kom nie. Jesus se weggaan  dui op beide sy sterwe en hemelvaart (Nel).

Dan is dit asof Jesus die fokus van Homself af wegstuur en sy dissipels op mekaar aanwys. Die skrywer se
“Ek // julle” kontras beklemtoon die werklikheid van Jesus se weggaan (Nel). Daarmee word die dissipels ook voorberei om in ’n ander verhouding met Jesus te leef. Hy belowe hulle ’n nuwe gebod (Gr entolén kainén) en pas dit onmiddellik op hul onderlinge verhoudinge toe. Hulle is vir mekaar en die beeld van God in die wêreld verantwoordelik. Die voorbeeld vir hulle onderlinge liefdesbetoon, is Jesus self: “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê” (34). Die onderlinge liefde word deur Jesus aangedui as dié manier waarop hulle teenoor die wêreld getuienis lewer, terwyl dit ook juis hulle intieme verhouding met Hom en hulle identiteit in Hom, bevestig: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (35). “Voortaan sal die nuwe gebod hulle gemeenskap met Jesus en met mekaar voortsit. Dit sal die sigbare kenmerk wees dat hulle die band met Jesus behou” (Nel, soos by Schnackenburg). “Die nuwe gebod is nuut na binne omdat dit in die voorbeeld en sterwe van Jesus Christologies gefundeer is en nuut na buite omdat dit vir die dissipels en die gemeente van die laaste dae ’n uitkenningsteken sal wees” (Nel, soos by Du Rand).

Soos die woordjie “verheerlik” in vers 31-32 oorheers het, so oorheers die woord “liefde” in vers 34-35. Die argument word in terme van dieselfde logiese konstruksie as in vers 31-32 uitgewerk. Jesus het sy dissipels (en die wêreld – Joh 3:16) lief. Die dissipels moet Jesus se voorbeeld volg en mekaar lief hê. Deur die onderlinge liefde van Jesus se volgelinge, sal almal weet wie se leerlinge die dissipels is. Die eenheid tussen Jesus en God (31-32) word nou uitgebrei na die eenheid tussen Jesus en sy dissipels. Daarmee word hulle kindskap (Gr teknia) van God ook aangedui.

Hermeneuties

Hierdie kort Skrifgedeelte is op ten minste drie wyses kompleks van aard: “First, in its literary context, the glorification of the Son of Man is apparently linked with Juda’s betrayal. Second, the liturgical context of the Easter season draws the meaning of being glorified ‘at once’ into the resurrection. Third, the commandment to love may be heard simply as obligation, not promise” (Tiede).

Die afgebakende teksgedeelte moet in sy literêre konteks binne die Johannesevangelie verstaan word. Hierbo is reeds verwys na die onmiddellike hoofstuk waarin die afgebakende teks staan. Johannes 13 is bekend vir die toneel waar Jesus sy dissipels se voete was. Die tema van ’n dienskneg en diensbaarheid word daardeur opgeroep. Die New King James Version se opskrif by die hoofstuk (Disciples Must be Servants) lê juis die klem daar (maar laat Jesus as voorbeeld uit die formulering).

In die tweede plek staan hoofstuk 13 binne die groter literêre eenheid wat bekend staan as Jesus se afskeidsgesprekke (Joh 13-17; Sommige eksegete sluit hfst 17 uit). Dit vorm deel van die tweede hoofdeel waar Jesus op die dissipelkring fokus. Hy praat indringend met sy dissipels oor die voortgang van sy heilswerk (Nel). Die tema van afskeid bied ’n verklaring vir die beweeglikheid van die vertelling, asook die gesprek rondom Jesus se aankondiging dat Hy op pad is elders heen én Petrus se onbegrip oor wat dit kan beteken (Joh 13:36-38). Jesus is besig om afskeid te neem en sy laaste boodskappe aan sy binnekring oor te dra.

’n Derde aspek van die literêre konteks is die nog groter eenheid van hoofstuk 13:1 tot 20:31. Hierdie eenheid word naas die eerste twaalf hoofstukke (Book of signs), beskryf as “The Book of Glory” (Brown). Daarmee word die tema van “verheerliking” in ons Skrifdeel in perspektief gebring. Ons Skrifdeel vertoon ’n uitkringende fokus – van diens na afskeid na verheerliking; verskillende uitdrukkingsvorme van God se liefde in Christus. Johannes ontplooi die patroon van ’n teken (voetewas; gee van stukkie brood aan Judas; Jesus se dood en opstanding) wat deur woorde (toespraak, dialoog, verklaring) gevolg word. “Foot washing is the principle sign or ‘example’ that today’s text interprets. Jesus’ question to the disciples after washing Peter’s feet . . . (13:12), sets the context for his teaching about love and about his death in today’s text” (Rossing).

Die afgebakende teksgedeelte word ook binne die konteks van die seisoen van Pase gelees. Die Latynse naam vir die vyfde Sondag van Pase is in die tradisie cantare – “Sing ’n nuwe lied . . . ”, na aanleiding van Psalm 98:1 se oproep om ’n nuwe lied tot eer van die Here te sing, omdat Hy magtige dade gedoen het. Hy het deur sy krag en Goddelike mag oorwin. Paastyd loop in die kerklike jaar vanaf Goeie Vrydag en Paassondag deur tot by Hemelvaartdag. Op Paassondag breek die lig deur. Jesus het opgestaan! Pase is die kerklike seisoen wat in die hart van ons geloofslewe staan. Lambert Jacobs haal Dirkie Smit in dié verband aan: “Die evangelie van Jesus Christus is opstandingsevangelie. Die opstanding vorm die hart van die Christelike verkondiging, geloof, lewe en teologie.” Jacobs sê: “In die weke ná die Paasnaweek kan ons die tyd gebruik om ons opnuut weer bereid te verklaar om die opgestane Here te volg. Dit is ’n tyd van groot vreugde, want ons vier die nuwe lewe in Christus.” Hy haal ook die Duitse skrywer M Josuttis aan wat geskryf het: “Die kerk hou op om kerk te wees indien sy in die Paasverkondiging sou begin swyg.”

In die 2007 Mission Yearbook for Prayer & Study van The Presbyterian Church (USA), skryf Alan B Krome ’n liturgie vir “One Hour of Sharing offering” in Paastyd. Die tema vir die liturgie “Who is my neighbor?” is na aanleiding van Lukas 10 waar Jesus die vraag oor die grootste gebod beantwoord. Krome beklemtoon dat indien ons die eerste gebod om God met hart en siel en gedagtes lief te hê ernstig neem, kan ons die opdrag nie anders hoor as dat dit elke moontlike persoon insluit as ons naaste nie. Wie my naaste is, word in die uitnodigingswoorde na die tafel van die Here nog duideliker: “Friends, this is the joyful feast of the people of God. They will come from east and west, and from north and south to sit at table in the kingdom of God” (Luk 13:29). Rossing wys op die stukkie brood wat Jesus in Johannes 13:26 aan Judas gee ter bevestiging van dié werklikheid: “The morsel demonstrates Jesus’ eucharistic hospitality even toward his betrayer, a final expression of love.”

In die lig van dié perspektief op wie my naaste is, argumenteer Krome dat wanneer ons soos die dissipels, erken dat alles wat ons is en besit uit die oorvloed aan die tafel van ’n liefdevolle God tot ons kom, en dat elke vreemdeling met wie ons daardie gawes deel Jesus Christus verteenwoordig, dit ’n vreugde word om almal uit te nooi om ons aan die tafel te vergesel. “All are our neighbors, all are God’s beloved, and all deserve to be treated with the same love we reserve for ourselves and our families.” Op dié wyse kry ons geleentheid om te sien hoe die genesende krag van God werk, juis deur die gawe van die opstandingslewe.

’n Derde konteks vir die verstaan van ons teksgedeelte, is dié van die wêreld (met fokus op arbeid en ekonomie op Arbeidsondag), waarin die geloofsgemeenskap die opstandingslewe moet demonstreer. Nel dink Johannes 13:34-35 is ’n uitnemende “sendingteks”. Die perikoop waarin die teks voorkom, bevat verskeie sendingdimensies; aspekte van die missio ecclesiae – sending as roeping van die kerk; die kerk as gestuurde; die missionêre aard van die Christelike gemeente; sending as spontane geloofsuiting. (Sien Nel vir eksegete wat die sendingmotief as sentrale gedagte van die Johannesevangelie beskou.) Die missio Dei kan as sentrale motief van die evangelie beklemtoon en Johannes 13:31-35 teologies verklaar word, in antwoord op die vraag hoe mense na Jesus se weggaan steeds met die “bo” in aanraking kom. “Jesus se antwoord is konkreet en prakties: Die mate waarin die wêreld die liefde onder Jesus se volgelinge ervaar, is ook die mate waarin hulle steeds met die “bo” in aanraking sal kom om uiteindelik met God in ’n verlossende verhouding te tree” (Nel).

Nel wys ook dat die Johannesevangelie beskryf hoe Jesus se verhouding met sy dissipels tot stand gekom het. Hier word hulle deur die “magnetisme” van Jesus se persoon en lewe “aangetrek”. Hulle kennis van Hom verdiep geleidelik. Hulle besef dat liefde en diens kenmerke van ’n ware geloof in Hom is. Hulle hoor later hoe Jesus hulle op dieselfde wyse uitstuur as wat die Vader Hom gestuur het. Nel lei dan af dat die dissipels se sendingmetode op die grondslag van Jesus se magnetiese styl gebou moet word. “Hulle persoon en lewenstyl wat hulle verhouding met Jesus reflekteer, sal die primêre aanknopingspunt wees waarmee die wêreld bereik gaan word” (Nel).

In sy bespreking van voorbeelde van geraadpleegde preekstudies oor Johannes 13:34-35 verwys Nel onder andere na Fürst wat in sy praktiese toepassing van die teks aandag gee aan die sosiaal-etiese dimensie: “Die liefde van Jesus sluit ook ’n bepaalde vorm van sosiale betrokkenheid in soos omgee vir die trekarbeider of mishandelde kinders. Dit is ook ’n vergewende liefde of liefde vir die vyand. Onder laasgenoemde betrek hy die pers en politici wat haat en onversoenbaarheid in die gemeenskap aanblaas.” Daar is ’n direkte verband tussen die liturgie van die geloofsgemeenskap en haar lewe. Krome skryf dat ons in die meelewing met diegene wat ly na aanleiding van rampe en kroniese armoede, bevoorregte getuies is van die genesende liefde van God wat deur ons gawes werk “and to know the transformation that love can make in our own lives”.

Een van A A van Ruler se argumente in antwoord op die vraag: Waarom sou ek nog kerk toe wou gaan? is: Om die wêreld aan God op te dra. Hy sê die kerk is die plek waar ons bid, ook vir die wêreld bid. As ons bid, erken ons eintlik, en is ons diep daarvan bewus dat ons nie die finale verantwoordelikheid vir die wêreld dra, asof ons Atlas is nie. Ons is wel ingeskakel in God se werk, ons is medearbeiders; ons het wel ’n taak waarvoor ons ten volle verantwoordelik is. Ons is in ’n voortdurende gesprek met God betrokke oor wat in die wêreld aangaan. Ons doen dit eerstens in die spel van die liturgie (erediens), waar ons praat en preek en sing en bid voor God en met God, maar dan ook in die spel van die lewe self. Agter die spelende mens (homo ludens) skuil daar die biddende mens (homo orans). Dit is slegs die biddende mens, wat die volle lewe aan God “voordra” en “opdra”, wat werklik “wêreldjie” met God se wêreld kan speel (Lombard).

In sy riglyne vir prediking oor Johannes 13:31-35 suggereer Nel as vertrekpunt die vraag: Wie kan almal sendingwerk doen? Hy wys op mense se argumente om hulle ongewilligheid te regverdig, asook ’n aantal benaderings van bekende evangeliste en evangelisasie metodieke. Sy verwysing na die antwoord van die bekende Switserse teoloog, Karl Barth, op die vraag na wat hy as belangrikste aanknopingspunt vir ’n sendeling in gesprek met ’n ongelowige beskou, sluit uitstekend aan by die kenmerk van die geloofsgemeenskap wat Johannes in ons teks beskryf. Dit open die weg vir die toepassing van ons teks op die wêreld van arbeid en ekonomie, met die oog op Arbeidsondag. Barth se antwoord was: “Die belangrikste aanknopingspunt is die persoon van die sendeling. Dit is nie wat jy sê wat die meeste punte tel nie, maar wat jy is.”

Dit is die uitdaging wat Dietrich Bonhoeffer in sy bekende werk The Cost of Discipleship aanraak met betrekking tot die Duitse Kerk van sy dag: “It is becoming clearer every day that the most urgent problem besetting our church is this: How can we live the Christian life in the modern world?” (in De Gruchy). Dit is ook die uitdaging van volgelinge van Jesus in die arbeidswêreld en die nuwe globale ekonomie, na 2008. Mense het nie werk nie en armoede is ’n groot uitdaging vir die hele wêreld. Time (27 April 2009) fokus op die invloed van die wêreldekonomie op die werksituasie regoor die wêreld. Op die voorblad van dié tydskrif is ’n foto van twee visbakke. Die een is vol goudvissies en die ander bak het net twee vissies in. Daar is ’n waterboog van die vol bak na die leë bak, met twee goudvissies in hulle sprong van die vol na die leë bak. Die byskrif by die foto is betekenisvol: “Going Home. Millions of workers who have lost their jobs are on the move, changing the nature of the global economy.” Neem die kerk hierdie situasie ernstig op? Bid ons vir ons wêreld?

Elliott maak enkele opmerkings oor liefde en geregtigheid na aanleiding van Reinhold Niebuhr se uitspraak: “In the Christian faith the final law in which all other law is fulfilled is the law of love.” Die diep-gesetelde selfbelang wat ons lewe en gemeenskappe oorwoeker, beteken egter dat die selflose liefde in Christus wat ons maklik verkondig, nooit ’n “eenvoudige moontlikheid” in die geskiedenis is nie. Om die historiese situasie enigsins te beïnvloed, argumenteer Niebuhr, “The ordinary affairs of the community, the structure of politics and economics, must be governed by the spirit of justice.” Volgens Niebuhr het die Amerikaanse Christene irrelevant geword, omdat hulle ’n sentimentele idee van liefde aanbied as oplossing vir elke gemeenskaplike probleem. Hy het hom beywer vir ’n “‘profounder’ Christian understanding of love which would encourage people to create systems of justice which will save society, and themselves, from their own ‘selfishness’.”

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema: Waar die Here is, daar is liefde.

“Sing” is inderdaad vandag die tema wat deur al die tekste loop. Lofprysing oor die evangelie wat vir almal bedoel is, oor alle kulturele grense heen (Hand). Johannes lê die basis vir God se koninkryk – die “liefde”. God woon onder ons – weereens onder almal (kultuurgewys) – hulle sal sy volke wees. Vandag se tekste laat ons vir ’n oomblik sien watter moontlikhede die “liefde” nou en hierna inhou. Psalm 148 kan in ’n sekere sin vandag die hele liturgie dra.

Die tema van die liturgie kan uitgebeeld word deur voorbeelde van Christelike kuns van uiteenlopende kulture. Die musiek van uiteenlopende kulture kan gekies word.

Sien onder vir voorstel oor “asems” – Koos van der Merwe van Prophet-faam.

Rus

Die eerste beweging van die Seisoen van Luister se luistersiklus is om tot rus te kom.  Hier is ‘n paar voorstelle vir hierdie Sondag waaruit jy kan kies:

Aanvangswoord
Voorganger: Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die heilige stad, die nuwe Jerusalem het van God af  uit die hemel gekom.
Gemeente: Kyk, die woonplek van God is nou by die mense.

Voorganger: Hy sal by hulle bly. Hulle sal sy volk wees en God self sal by hulle wees as hulle God.
Gemeente: Kyk, die woonplek van God is nou by die mense.

Voorganger: Hy sal die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie (uit Op 21:1-6).
Gemeente: Lied 602:1, 4, 5

Die woorde waarmee Koos van der Merwe van Prophet-faam na aanleiding van Psalm 148 die Here loof vir sy liefde en ontferming, kan goed in hierdie erediens gebruik word. Kry byvoorbeeld iemand uit die gemeente wat dit kan voordra.

asems
al die asems
al die wasem
loof Hom…
likkewane
bobbejane
olifante
al die leeus
al die spreeus
en fisante
kom nou kraaie
papegaaie
en volstruise
al die vlooie
in die kooie
al die luise
pelikane
en sprinkane
en marmotte
al die tiere
en die miere
kokkerotte
die miljoene
skerpioene
en die swane
al die ape
al die skape
en die hane
o die vele
vaal kamele
en die reiers
al die uile
al die muile
en miskruiers
elke bees
en elke kees
en al die vinkies
al die bokkies
en toktokkies
en tinktinkies
dan die wille
krokkedille
en die muise
en die katte
op die matte
in die huise
al die kewers
al die bewers
swartwitpense
en heel laaste
maar die meeste
al die mense

Lied

Flam 120 “Hy is Heer”
Flam 237 ‘Hy leef”
Flam 65 “Jesus U naam is ons vryheidslied”

Geloofsbelydenis: Flam 72 Ons glo

Familie-oomblik

Daar is ‘n mooi verhaal van ‘n baie ryk man wat grotendeels deur die toedoen van sy gewetenlose broer feitlik al sy besittings verloor het. Na die verlies van sy rykdom het hy amper soos Job sy vrou verloor en sy kinders moes in ‘n soort bedelaarsbestaan van die aalmoese van ander leef.

Soos Job het die man besluit dat hy aan die wêreld sal wys dat hy nie alleen vir God lief is as gevolg van al sy welvaart nie, maar dat hy ook aan hom getrou sal bly al het hy byna niks. Maar mense het nie gehou van iemand wat ten spyte van soveel teenspoed steeds gelowig en vroom bly nie. Elke sug of smart van die man was vir hulle ‘n teken dat hy soos Job teen God in opstand kom, of dat hy besluit het om hierdie God te versaak.

Dit het byna ‘n obsessie by die man geword om aan die dorpenaars te wys dat hy anders as hulle is. Hy het toe met God gepraat en vir Hom gevra dat Hy vir hom moet wys wat hy kan doen sodat die mense glad nie meer oor sy kindskap kan twyfel nie. Maar die Here het hom nie op sy vraag geantwoord nie.

Toe het hy in ‘n daad van onpeilbare barmhartigheid al sy spaargeld wat hy oor die arm jare bymekaar gemaak het, aan die armes gegee. Die armes was dankbaar, maar die mense was nie oortuig nie. Hy probeer vir homself ‘n kliëntebasis opbou, het hulle gesê.

Hy het weer met die Here gaan praat en gepleit dat Hy hom tog moet help. Maar die Here het hom steeds nie geantwoord nie. Hy het toe in ‘n projek betrokke geraak waarin hulle vir die dorp ‘n nuwe kerk gebou het, ‘n waarlik imposante gebou wat as ‘n soort teken van God se heerlikheid bo al die ander geboue in die dorp uitgetroon het. Die mense het gesê dat hy homself probeer verewig.

Die man was moedeloos en het weer na die Here toe gegaan. Tot sy verbasing het die Here hom geantwoord. Hy het gesê: In die grootste huis in die dorp woon ‘n man, ‘n ware skurk. Iemand vir wie niemand enige respek het nie. Niemand kom ooit by hom nie omdat hulle sy geslepenheid so goed ken. Hy het versorging nodig. Jy ken hom. Dis jou broer. Gaan, en versorg hom en wees lief vir hom. Dán sal almal weet dat jy my kind is.

U ken die liedjie: Ubi caritas. Waar daar deernis is en liefde, daar is die Heer. Eintlik moet dit ‘n bietjie anders lui. Waar die Heer is, daar is deernis en liefde.

Waar die Heer teenwoordig is, by sy kinders, in sy gemeente, dáár is die liefde. Daar leef die liefde. Of moet ons liewer sê, daar leef dit voort. Voort as die liefde van die opgestane Jesus Christus in sy kinders.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Shane Claiborne het ‘n paar maande met moeder Teresa in die rioolslote van Kalkutta deurgebring.  Hy vertel hoe dikwels mense hom uitvra oor moeder Teresa:  Hoe was sy?  Het sy in die donker gegloei, of het sy ’n halo gehad?  Shane vertel: Sy was kort, vol plooie, soos ’n pragtige, kosbare en wyse ouma.  Die een ding wat hy nooit sal vergeet nie is haar vervormde voete.  “Elke oggend, tydens die nagmaal, het ek na haar voete gestaar.  Ek het gewonder of moeder Teresa dalk melaatsheid gehad het.  Natuurlik sou ek nooit daarna vra nie”.  Een oggend het een van die nonne Shane gevra of hy moeder Teresa se voete gesien het.  Nuuskierig het hy “ja” gesê.  Waarop die suster sê: “Ons kry skaars genoeg skoene om in almal se behoeftes te voldoen.  Moeder Teresa wil nie hê dat iemand met die slegste paar opgesaal sit nie, daarom soek sy self die swakstes uit.  Die jare van slegte skoene dra, het haar voete vervorm”.

Dit is, skryf Shane, die soort liefde wat ander bo jouself stel.  Liefde wat in die hart van Jesus gebore word.

Jesus gee vir ons ’n nuwe gebod:  Ons moet mekaar liefhê.  “Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.  As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Joh 13:34-35).

Die opdrag tot liefde is nie nuut nie – ons ken dit reeds uit die Ou Testament.  “Mens, die Here het aan jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal leef voor jou God” (Miga 6:8).

Wat nuut aan Jesus se opdrag is, is dat ons moet liefhê “soos Ek julle liefhet”.  Ons liefde moet dieselfde kwaliteit as die liefde van Jesus hê.  Deur ons liefde sal almal weet dat ons kinders van God is.

Een:  Die kwaliteit van ons liefde
In Johannes 13 betoon Jesus liefde aan sy dissipels.  Hy, die Here en Meester, klee Homself soos ’n slaaf en was hulle voete.  Dan maak Hy die nederige daad van voetewassing in die gesprek van toepassing op sy dood aan die kruis, ter wille van ons, en sê dat dit ’n voorbeeld vir ons is (Joh 13:8vv).  Jesus se nederige diens en sy gewilligheid om sy lewe af te lê, stel die standaard waaraan die liefde van die “nuwe gebod” moet voldoen.

Liefde beweeg ons tot die soort diens aan God en mekaar wat nie met grense behep is nie.

Die sosioloog Rodney Stark vertel van twee ernstige hoogs aansteeklike plae wat die Romeinse Ryk onderskeidelik in 165 n.C. en 251 n.C. getref het.  Elke keer het ongeveer een-derde van die Ryk se inwoners omgekom.  Die praktyk van Romeine was om hul siekes op straat uit te sit, om die risiko van aansteeklikheid te verminder.  Diegene wat dit enigsins kon bekostig, het die berge in gevlug om aan die plae te ontkom.  ’n Goeie voorbeeld hiervan is die beroemde medikus Galen wat iewers in Klein-Asië in afsondering gaan leef het tot die bedreiging van die plaag verby was.  Dionusius, biskop van Aleksandrië skryf dat die Romeine hul dooies soos vullis behandel het om die siekte te vermy.

Stark wys daarop dat die Christene se reaksie anders was.  Dit is goed gedokumenteer dat Christene hul siekes bly versorg het, in die aangesig van die dood.  Hulle het selfs agtergelate, verwerpte Romeine op straat opgetel, ingeneem, en hulle versorg.  Dit het tot baie Christene se dood gelei, maar – om weer biskop Dionusius van Aleksandrië aan te haal – hulle het met vreugde die leed van ander gedra, hulle versorg en gemaklik gemaak, al het dit hul eie dood gekos.

Die historiese gegewens dui duidelik daarop, sê Stark, dat toe die Nuwe Testament nog nuut was, Christene werklik Jesus se woorde uitgeleef het:

Want Ek was honger en julle het My iets gegee om te eet; ek was dors, en julle het my iets gegee om te drink; ek was ’n vreemdeling, en julle het My gehuisves;  ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk en julle het My besoek.  …  Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen…  (Mat 25:35-40).

Die Christelike geloof het ’n totale nuwe konsep in die Romeinse wêreld ingedra, skryf Stark.  Vir die eerste keer het dit duidelik geword dat mense nie bloot uit eie belang of uit eie voordeel kan of hoef op te tree nie.  Omdat God mense liefhet, kan Jesus se volgelinge God nie behaag anders as deur ander mense lief te hê nie.  God demonstreer sy liefde deur op te offer, deurdat Jesus sy lewe gee vir ander mense.  Jesus se volgelinge moet daarom hul liefde demonstreer deur op te offer in belang van ander.  Hierdie liefde moes oor die grense van die eie groep of die eie familie strek (1 Kor 1:2), rewolusionêre gedagtes vir die Romeinse wêreld.

Liefde wat oor alle grense opoffer het inderdaad die vroeë kerk gekenmerk.  Die kerkvader Siprianus het, volgens sy biograaf Pontianus, sy volgelinge in Kartago aangemoedig om genade en barmhartigheid te betoon.  Volgens Siprianus is daar niks spesiaals daaraan om jou eie mense lief te hê nie.  Wie die kwaad met die goeie wil oorwin, moet leer om – soos God – dié soort liefde te beoefen wat jou vyande insluit.  Dit het die eerste Christene inderdaad gedoen, onder andere tydens die plae wat die Romeinse Ryk getref het.

Dit is moontlik om lief te hê soos Jesus liefgehad het.  Binne dieselfde naggesprek waarin Jesus hierdie opdrag gee, vertel Hy van die Heilige Gees wat kom om gelowiges te bekragtig.  Deur die werk van die Gees sal Vader en Seun by gelowiges kom woon en ons leer om sy woorde en opdragte uit te voer.  Die Heilige Gees sal ons voortdurend herinner aan wat Jesus gesê het en ons tot gehoorsaamheid bemagtig (Joh 14:15-25).

Twee:  Liefde is ’n publieke daad van getuienis
Waarom is dit so belangrik om lief te hê soos Jesus deur sy voetewassing en kruisdood gedemonstreer het?  Jesus sê:  “Al julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

“Almal sal weet.”  Ons liefde is bedoel om deur die buitestanders gesien te word.  Ons liefde is ons getuienis as gemeente van die Here.  Ons word juis aan ons liefde geken.

Kom ons keer vir ’n oomblik terug na die verhaal wat Rodney Stark oor die groei van die vroeë Christelike kerk in die Romeinse Ryk vertel.  Juis deur die kragtige getuienis van liefdevolle versorging teenoor ander tydens die verskriklike plae het die Christelike geloof veld gewen.  Hoewel baie gesterf het, het die “gewone” versorging, soos voeding, die gee van water, die afspons van siekes om hul koors te breek, baie lewens gered.  Om hierdie rede het meer Christene oorleef.  Dink net hoe het ’n nie-gelowige Romein, wie se lewe deur Christene gered is, op hierdie liefde gereageer?  Die verhoudinge wat deur die selfopofferende liefde geskep is, het tot gevolg gehad dat baie Romeine besluit het om Jesus te volg.

’n Eeu later, in 362 n.C., kla keiser Julianus teenoor die heidense hoëpriester in Galasië.  Hy spoor die heidense priester aan om oor te gaan tot versorgingsdade wat die liefdesbetoon van die Christene sal oortref.  Hy praat minagtend van Christene, maar sê dat hulle versorging van vreemdelinge en buitestaanders veroorsaak dat hulle getalle groei.  Die Christene beskaam die Romeine want hulle gee om vir die armes – nie net hulle eie armes nie, maar ook “ons s’n”, sê die keiser.  Dan waarsku hy dat daar nog ’n dag sal kom dat die Christene die Romeine sal oortref.  Julianus was reg, kort daarna was die Christene die meerderheid in die Romeinse Ryk.

Verseker: liefde getuig.

Die bekende Switserse teoloog Karl Barth is gevra wat die belangrikste aanknopingspunt in die gesprek tussen ’n sendeling en ’n ongelowige is.  Barth het geantwoord: “Die belangrikste aanknopingspunt is die persoon van die sendeling. Dit is nie wat jy sê wat die meeste punte tel nie, maar wat jy is.” Ons persoon en lewenstyl wat ons verhouding met Jesus reflekteer, is die primêre aanknopingspunt waarmee die wêreld bereik word.

Liefde getuig verseker.

Drie: Die opdrag tot liefde as belofte
Wanneer mens die opdrag tot liefde hoor, kan jy dit maklik as harde gebod hoor, asof jy die energie moet opwek om die gebod uit te voer.  Skrifverklaarders wys daarop dat hierdie opdrag ook as ’n belofte moet hoor.  Jesus, wat Homself uit liefde vir ons oorgee, werk deur sy Gees in ons om in dade van liefde te leef.  Hy skenk die liefde as gawe, en ons leef vanuit sy belofte van liefde.  Ons ontvang die liefde wat Hy ons van oomblik tot oomblik aanpor om uit te leef.

Rom 5:5: “…God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”  Dit is ook die taal van Joh 13.

Jesus se belofte aan die geloofsgemeenskap en wêreld, is gegrond in sy selfopofferende liefde. Die belofte gee hoop en open die toekoms.

Vier: Werkplek, ekonomie en arbeid
Dit is vandag Arbeidsondag.

Wat is die implikasie van Jesus se liefdesgebod en sy gawe van liefde vir ons werkplekke en ons ekonomiese verantwoordelikheid?

Ons het reeds vertel hoedat die eerste Christene die liefde teenoor mekaar verstaan het as liefde wat die gemeenskap, ook die vyand, insluit.  Dink weer aan die kerkvader Siprianus wat sy volgelinge geleer het om almal lief te hê.  Dink aan keiser Julianus wat die heidense priester waarsku teen die oorvloedige liefdesbetoon van Christene teenoor hul medemens.  Hierdie liefdesbetoon word nie net deur kerklike programme en aksies uitgeleef nie, maar geskied letterlik in elke faset van ons lewens, waaronder die werkplek.

Wanneer word ons arbeid liefdesdiens aan die Here en aan mekaar?

Wanneer:

  • ons dit van harte vir die Here doen en ons werk as deel van ons lewensroeping sien;
  • ons ’n aangename werksomgewing skep waar dit vir ander mense veilig en opbouend is om saam met ons te werk;
  • ons verantwoordelik en eerlik werk;
  • ons ’n eerlike dag se werk vir ’n eerlike loon verrig;
  • ons die finansiële opbrengs van ons arbeid verantwoordelik aanwend – om ons eie afhanklikes en ons medemens te versorg;
  • ons binne ons vermoë leef en nie oormatige skuld aangaan nie;
  • ons in dankbare erkentlikheid teenoor God en ons kollegas werk, wie ons in staat stel om lewensmiddele te verdien;
  • ons die vaardighede wat ons deur ons arbeid bekom óók in diens van ander te gebruik sonder om materiële vergoeding daarvoor te verwag;
  • ons sonder vergoeding in die konteks van die gemeente en vrywillige diensorganisasies arbeid verrig.

Arbeid is nie ’n eenvoudige terrein nie.  Ons leef in ’n globaliserende wêreld.  Dit beteken dat wat aan die anderkant van die w6ereld gebeur ’n direkte invloed op ons het.  Ons leef in Afrika se mees welgestelde land.  Daarom kan mense in baie lande van Afrika hul lewensgehalte dramaties kan verbeter deur – selfs onwettig – na ons land te emigreer.  Zimbabwiërs werk byvoorbeeld feitlik in elke uithoek van Suid-Afrika.  Neem hulle werkgeleenthede van Suid-Afrikaners weg?  Word hulle uitgebuit omdat hulle bereid is om vir laer lone te werk?  Wat sê Jesus se opdrag tot liefde vir hierdie situasie?

Onlangs het xenofobie tot onbeskryflike geweld in ons land aanleiding gegee.  Hierdie spanning sluimer sedertdien net onder die oppervlak in baie kontekste.  Wat is die kerk, by uitstek dié liefdesgemeenskap, se verantwoordelikheid in hierdie omstandighede?  Bring ons dit in verband met ons taak as gemeente?  Ons behoort.

Liefde is meer as barmhartigheid.  Liefde is ook geregtigheid.  Geregtigheid eis dat ons ander lewensruimte gun en lewe vir ander moontlik maak, ook deur ons arbeid.  Hoe gefrustreerd mens mag voel deur jou beperkte kapasiteit om ander te dien en te ondersteun, kan elkeen ’n klein maar betekenisvolle bydrae maak deur jou arbeid – en die opbrengs van jou arbeid – aan te wend tot opbou en ondersteuning van alle mense rondom jou.

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n voorstel om dit liturgies aan te voer:

Vra drie lidmate om die volgende gebed beurtelings hardop namens die gemeente te bid:

Voorbidder 1:  Saam met mense wat vasgevang is in moeilike omstandighede, bid ons om bevryding.  Ons dink in die besonder aan:

  • Vreemdelinge in ons midde, vlugtelinge uit situasies van onderdrukking en hongersnood;
  • Armes sonder enige vooruitsig om uit die spiraal van armoede te ontsnap;
  • Mense vasgevang in gesinsgeweld of verslawing.

Voorbidder 2: Saam met mense wie se basiese behoeftes na kos, klere en onderdak nie voorsien word nie, bid ons om verligting.  Ons dink in die besonder aan:

  • Mense wat hulle werk verloor het tydens die resessie;
  • Gestremdes wat nie toegang het tot werk, of die vooruitsig het om in diens geneem te kan word nie;
  • Mense wat deur regstellende aksie of onregverdige arbeidspraktyke van die werkplek uitgesluit word of daaruit verdryf is.

Voorbidder 3:  Saam met siekes bid ons om genesing en onderlinge vrede.  Ons dink in die besonder aan:

  • mense wat aan depressie of oormatige strestoestande ly;
  • hulle wat terminaal siek is en vir wie menslik gesproke niks meer gedoen kan word nie;
  • mense wat nie mediese behandeling kan bekostig nie.

Voorbidder 1:  Saam met bedroefdes en treurendes bid ons vir ’n nuwe lied in die hart.  Ons dink in die besonder aan:

  • mense wat onlangs ’n geliefde aan die dood afgestaan het;
  • ouers wat besorg en beangs is oor die koers wat kinders ingeslaan het;
  • kinders wat seksueel gemolesteer word.

Voorbidder 2:  Saam met hulle wat na U soek en U nie vind nie, ook vir hulle wat nie weet dat hulle U nodig het nie, bid ons dat U iemand sal stuur met die goeie nuus van die evangelie.  Ons dink in die besonder aan:

  • hooghartige, selfgenoegsame mense wat ander blameer en uitbuit, sonder om self verantwoordelikheid vir hul eie optrede te neem;
  • diktators en tiranne wat met geweld aan mag klou en ander verkneg om self vooruit te gaan;
  • hulle wat honger en dors na geregtigheid en die fontein van ware lewe, maar vir wie U lig nog nie deurgebreek het nie.

Voorbidder 3:  Ons bid:
Here, hoor.
Here, vergewe.
Here, luister.
Here, gryp in.
Amen

Slotlied:  Liedboek 527: Die werk behoort aan U, ons Heer

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.