Vyfde Sondag van Paastyd – Arbeidsondag

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag in Paastyd word Cantate genoem, na aanleiding van Psalm 98:1.  Vandag is ook Arbeidsondag.

Ander tekste

Handelinge 8:26-40
Filippus en die Etiopiër
26’n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.” Dit is ’n stil pad.

27Filippus het toe klaargemaak en gegaan.
’n Ontmande Etiopiër wat ’n hoë pos beklee het aan die hof van die kandake, soos die koningin van Etiopië genoem is, en wat haar geldsake beheer het, het na Jerusalem toe gekom om te aanbid. 28Hy was nou op pad terug en het op sy wa gesit en lees uit die profeet Jesaja. 29Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa.”

30Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?”

31Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?”
Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit. 32Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit:
“Soos ’n skaap is Hy gelei
om geslag te word;
en soos ’n lam wat stil is
as hy geskeer word,
het Hy nie sy mond oopgemaak nie.
33In sy vernedering het daar nie reg
aan Hom geskied nie.
Wie sal van sy nageslag kan vertel?
Sy lewe op aarde word beëindig.”
34Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders?”

35Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig.

36Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?” w

38Toe het hy die wa laat stilhou. Filippus en die hofdienaar het albei in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop. 39Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit.

40Filippus is later in Asdod aangetref. Hy het daarvandaan deur al die dorpe gegaan totdat hy in Sesarea gekom het, en oral het hy die evangelie verkondig.

Psalm 22:25-31
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

Johannes 15:1-8
Die ware wingerdstok
15 “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Fokusteks

1 Johannes 4:7-21
Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik. Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. Wie bely dat Jesus die Seun van God is — God bly in hom en hy in God. En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin. God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.

As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Ekstra stof

Wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hulle – vers 7-21
Dat Jesus Christus die geheim van die geestelike lewe is – beide in terme van die onderskeiding tussen ware en valse leringe as in terme van die gemeenskap met God die Vader en die Heilige Gees – word nou nog dieper uitgespel as iets wat in die liefde gestalte kry.

Hoe Johannes hier te werk gaan, is baie diepsinnig.  ‘n Mens kan die fokus op Jesus (vers 1-6) eintlik vertaal en verstaan as ‘n fokus op die liefde (vers 7-21), want die liefde is uit God, soos Jesus ook uit God is.  Die diepste motivering vir ons liefde vir mekaar, kom dus ook van hierdie punt af.  Dit is omdat Jesus die liefde “uit God” is, dat ons ander kan liefhê.  Soos ons al hoe meer in God bly en diep van God se liefde in Jesus bewus word, bly ons nie net in die liefde nie, maar raak dit ook al hoe meer ‘n werklikheid dat dié liefde in ons bly.  Soos ons dus die fokus is van God se liefde, soos Jesus God se gawe aan ons is, só word medegelowiges die fokus van ons liefde en word ons God se gawe aan hulle.

Ons ken God dus eintlik ook net in dié mate wat ons die liefde ken.  Dit gaan nie net in ons teologie – ons Godskennis – oor die inhoud daarvan nie, hoe belangrik dit ook al is, maar ook oor die verhouding wat met Hom en mekaar tot stand kom.  Ons groei in kennis is dus nie net inhoudelik van aard nie, maar ook relasioneel.  Ons groei in Godskennis as ons groei in die liefde en omgekeerd.  Soos ons groei in die liefde, só groei ons in ons kennis van God.

Hierdie liefde van God is op sy beste geopenbaar in die gawe van God se “eniggebore Seun” sodat ons deur Hom kan lewe.  Dit is daarom ook nie óns liefde vir God wat die deurslag gee in ons verhouding met Hom nie, maar Sý liefde vir ons.  Dié liefde het ‘n plan gemaak met ons sonde, deurdat Jesus die soenoffer daarvoor was en ons in ‘n verhouding met God gebring het.

As God dus dít vir ons gedoen het, het ons ‘n onvervreembare roeping om op dieselfde wyse ons medegelowiges lief te hê.  So raak God se liefde nie net volmaak in ons nie, maar raak God sigbaar vir mense rondom ons, want wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hulle.  So eenvoudig maar ook so diep as dit is die geestelike lewe.

Hierdie groei in die liefde gee ons ‘n dieper besef van die Gees se werking in ons.  Hierdie groei in die liefde gee ons die vrymoedigheid vir die oordeelsdag.  Dit laat ons sonder vrees en huiwering lewe.  Dit laat ons liefhê sonder enige terughouding.

Johannes sluit af met die herhaling van sy waarskuwing: as jy nie jou medegelowiges liefhet nie, dan bewys jy daarmee dat jy God ook nie liefhet nie.  Jy kan nie die onsigbare God liefhê, as jy nie jou sigbare medegelowige lief het nie.  “Wie God liefhet, moet ook sy broer en suster liefhê.”

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 526 of VONKK 235

Votum: Ps 22:25-31

Seëngroet

Lofsang: Lied 491 of VONKK 110 of Flam 265

Wil van God: Johannes 15:1-8 of VONKK 57

Toewyding: Lied 332 of VONKK 41 of Flam 166

HOOR

Gebed

Skriflesing: 1 Johannes 4:7-21

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed: van St Francis van Assisi

Dankoffer

Slotsang: Lied 334 of VONKK 205 of Flam 144

Seën

Respons: VONKK 196 of Flam 176 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 526 “Waar daar liefde is” of
VONKK 235 “Vreugde onbeperk”

Votum: Ps 22:25-31

Seëngroet

Lofsang
Lied 491 “‘k Het Jesus lief, Hy is my lig en krag” of
VONKK 110 “Saam Wil Ons Die Here” of
Flam 265 “Die Here God Is Wonderbaar” (Sing Vir Hom)

Wil van God:
Johannes 15:1-8 of
VONKK 57 “Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod”

Toewyding
Lied 332 ‘God se liefde, so oneindig’ of
VONKK 41 “God Is Liefde! Laat Ons Lofsing” of
Flam 166 “Die Krag Van U Liefde”

Liedere

F176. “Ek Is Bereid (Stuur My)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Getuienis) Teks en musiek: Wian Vos © Brettian Productions

1. Ek is bereid – ek is gewillig
om uit te gaan en op te staan
vir Jesus!

2. Ek is gereed – ek is gewapen
om voor te veg – dit is reg
vir Jesus!

Refrein: (x2)
Stuur my, lei my
om te doen wat U vra.
Wys my, leer my
om ander se laste te dra.

Dankie Jesus vir u liefde.
My laste het U reeds gedra.

F166. “Die Krag Van U Liefde’ 
(RUBRIEK: Flam – Toewyding) Oorspronklike titel: The Power of your love Teks en musiek: Geoff Bullock
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © Word Music

1. Heer ek kom na U
neem my hart, verander my.
As ek U ontmoet vind ek rus by U.

Want Heer ek het ontdek
dat as ek aan u voete bly
sal al my twyfel wyk
voor die krag van u liefde.

Refrein:
Hou my vas, laat u liefde my omvou.
Hou my vas, naby aan u hart.
Ek voel U krag en vlieg hoog soos ’n arend,
dan sweef ek op die wind,
op die vlerke van u Gees
en die krag van u liefde.

2. Heer, vertoon u mag
u heerlikheid en u gesag
sodat ons u liefde kan voel in ons.

Heer, leer ons u wil ken
elke dag u stem te hoor
sodat ons mag lewe
deur die krag van u liefde.

F144. “God Is Liefde” 
(RUBRIEK: Flam – Kersfees / Epifanie, lof) Musiek: Retief Burger Teks: Attie van der Colf © NG Kerk Uitgewers
© 2005 Urial Publishing (1 Joh 4:7-21, Rom 5:1-11, Joh 3:16)

God is liefde,
juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef,
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef.

VONKK 41 “God Is Liefde! Laat Ons Lofsing”
Teks: God is love – Timothy Rees 1874-1939; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008 RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing
© Musiek: ABBOT’S LEIGH – Cyril Vincent Taylor 1942 © Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: ABBOT’S LEIGH by CV Taylor (1907-1991) © Oxford University Press.  Reproduced by permission. All rights reserved.

1. God is liefde! Laat ons lofsing
– hemel, aarde, mensdom saam.
God se grootheid in die skepping,
laat ons jubel oor sy Naam!
Hy wat alles goed gemaak het,
hou die heelal in sy hand.
Hy oorlaai ons met sy goedheid –
liefde ver bo ons verstand.

2. God is liefde! Hy omvou ons
daagliks met ‘n liefdesband.
Hy bewaar uit alle volke
al sy kinders deur sy hand.
As die lewe ons laat seerkry,
as ons ly deur pyn en smart,
weet ons God deel in ons swaarkry –
daar is deernis in sy hart.

3. God is liefde, maar die sonde
maak ons vir sy liefde blind.
God vergeef, genees die wonde
van die sonde wat ons bind.
Sonde, dood en hel sal nooit nie
oor ons heerskappy kan kry.
God se liefde, so onfeilbaar.
sal vir ewig by ons bly.

VONKK 110 “Saam Wil Ons Die Here” (kanon)
Teks: AP van der Colf 1984 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Melodie: TSJEGGIË – Tsjeggiese volksmelodie
Ostinati: Colin Campbell 2010 (Pro Deo) © Teks en ostinati: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK: Tradisioneel – Lofprysing

(1) Saam wil ons die Here prys vir al sy liefde.
Almal loof sy grote Naam!

(2) Hy is goed vir elk van ons;
dank Hom uit een mond tesaam.

(3) Een in Jesus, onse Heer;
wie Hom liefhet, gee Hom eer.

(4) In die Gees is ons tesaam.
God is liefde, roem sy Naam.

VONKK 235 “Vreugde onbeperk”
Teks: What a fellowship, what a joy divine  – Elisha A Hoffman 1839-1929; Afrikaanse teks : Breda Ludik 2014
Musiek: SHOWALTER – Anthony J Showalter, 1858-1924 © Teks: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Geloof en Vertroue

Vreugde onbeperk, deur die kruis bewerk –
ewig bly ek in die Vaderhuis.
Deel van God se kerk, met sy Gees gemerk –
ewig bly ek in die Vaderhuis.

Refrein:
Ewig, ewig, in God se liefde is ek tuis.
Ewig, ewig, ewig bly ek in die Vaderhuis.

O, my hart begeer u nabyheid, eer;
ewig bly ek in die Vaderhuis.

Vul my weer en weer met u vrede, Heer –
ewig bly ek in die Vaderhuis.
Ewig, ewig, in God se liefde is ek tuis.
Ewig, ewig, ewig bly ek in die Vaderhuis.

Deur die donker nag, in die helder dag
– ewig bly ek in die Vaderhuis –
skuil ek in u mag, reken op u krag –
ewig bly ek in die Vaderhuis.
Ewig, ewig, in God se liefde is ek tuis.
Ewig, ewig, ewig bly ek in die Vaderhuis.

VONKK 57 “Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod”
Johannes 13:34-35 RUBRIEK: Kontemporêr – Die Wil van God / Liefde, Dankbaarheid en Diens
Teks: A new commandment I give unto you  – Roy Crabtree; Afrikaanse teks:  Daleen Kruger 2008 (Pro Deo)
Melodie: NEW COMMANDMENT – Roy Crabtree  Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Andy Silver Kantoryverwerking: Albert Troskie 2011 (Pro Deo)
© Melodie en klavierbegeleiding: Roy Crabtree
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking:  2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê,
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.

VONKK 205 “Ek Wil Sing Van Al  U Liefde”
Teks: Hannes van der Merwe 2011 © Musiek: LUDWIG – Anton Esterhuyse 2011
© 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Kontemporêr – Lofprysing / Geloof en Vertroue / Liefde, Dankbaarheid en Diens / Uitsending

Ek wil sing van al u liefde,
al die gawes wat U gee.
Vir versorging uit u hande
klink my danklied tot U eer.
U gee my in Jesus Christus
meer as waarvoor ek kon pleit.
Gee tog, Here, dat my lewe
meer vertoon van dankbaarheid.

Ek wil antwoord op u liefde
deur die gawes wat U gee,
deur die aanraak van my naaste,
deur te lewe tot u eer.
Hoe kan al u liefdegawes
my dan ongeraak laat bly?
Gee tog, Here, dat my lewe
meer vertoon van dankbaarheid.

Hoor my antwoord op u liefde,
neem die gawes wat ek gee.
Maak my diensbaar in die wêreld –
’n getuie tot u eer.
Sterk my swakheid deur u almag;
deur u krag, my nietigheid.
Gee tog, Here, dat my lewe
meer vertoon van dankbaarheid.

VONKK 196 “Ons Het God Gesien’
Teks: Tradisioneel Tanzanië (Swahili);  Afrikaanse teks: Breda Ludik 2012
Melodie: NIMENWONA BWANA – volksmelodie uit Tanzanië Verwerking: Tradisioneel
© Teks: 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie en verwerking: Openbare besit
RUBRIEK:  Multikultureel – Uitsending / Geloof en Vertroue

Voorsanger: Ons het God gesien.
Gemeente: Ons het Jesus gesien.

Voorsanger: God is magtig.
Gemeente: Ons het Jesus gesien.

Voorsanger: God is baie kragtig.
Gemeente: Ons het Jesus gesien.
Jesus, God met ons.

Voorsanger: Ons het God gesien.
Gemeente: Ons het Jesus gesien.

Voorsanger: God is need’rig
Gemeente: Ons het Jesus gesien.

Voorsanger: en Hy is genadig.
Gemeente: Ons het Jesus gesien.
Jesus, God met ons.

Voorsanger: Ons het God gesien.
Gemeente: Ons het Jesus gesien.

Voorsanger: God is liefde
Gemeente: Ons het Jesus gesien.

Voorsanger: en Hy is geduldig.
Gemeente: Ons het Jesus gesien.
Jesus, God met ons.

F265. “Die Here God Is Wonderbaar (Sing Vir Hom)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof) Teks en musiek: Johan Steenkamp  © 2008 Urial Publishing

1. Die Here God is wonderbaar,
Hy reik uit na elke sondaar
en ook na jou en my.
Hy is God van liefde,
Hy is God van vrede,
en ook van jou en my.

Brug:
Sing vir Hom, sing vir Hom
laat jou stem verrys.
Sing vir Hom, sing vir Hom
laat ons saam Hom prys.

Refrein:
Halleluja!
Halleluja!

2. Die Here God sal my nooit verlaat
skyn sy lig altyd op my pad.
Hy’s my enigste hoop,

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: 1 Johannes 4:7-21

Familie-oomblik

Bring ‘n vrug met pitte (soos ‘n tamatie! Of ‘n appel of perske).  Liefde is soos ‘n vrug met pitte.  Wanneer jy die saad plant, groei nog appels.  Liefde is dieselfde: waneer ons dit deel, wanneer ons mense liefhet, raak die liefde meer!  Gesels dan oor maniere waarop hulle liefde kan deel en hoe die liefde dan meer raak.

Baie kinders het waarskynlik onlangs die jongste fliek van “Cinderella” gesien.  Cinderella se ma leer haar “to have courage and be kind”.  “Where there is kindness, there is goodness. And where there is goodness, there is magic,” sê Cinderella se ma.  Liefde (omgee) is volgens haar ma die sterkste “magic” wat daar is.

Deur die fliek sien ons hoe Cinderella probeer om vriemdelik (“kind”) te wees met haar stief-familie.  Deur om te gee vir ‘n bok wat deur die prins gejag word, trek sy die prins se aandag.  Sy is hartseer omdat sy nie na die bal toe kan gaan nie, maar gee steeds om vir ‘n ou vrou deur vir haar ‘n melk te gee – en ontmoet haar goeie fee.  Een resensent sê dat Cinderella se enigste mag haar vermoë is om lief te hê, om om te gee.

Hieruit kan ‘n mens lekker gesels oor hoe liefde lyk en hoe ‘n mens omgee vir mense wat nie so maklik is om voor lief te wees nie.  Om te kan liefhê is ‘n “superpower” wat ons by God kry.  Deur lief te hê, ontwikkel en groei dié superpower.

Jy kan die voorskou wys (wat ook van die ma se woorde speel).

Preekriglyn

‘n Groepie vriende in ‘n Port Elizabethse restaurant was verras om te hoor hulle ete is betaal deur die mense wat tot ‘n paar minute gelede aan die tafel langsaan gesit het. Dit was onbekende weldoeners. Die vreemde, verrassende daad het die groepie so geraak, dat hulle weer vir die mense langs hulle se ete betaal het.

Dit laat mens dink aan die eienaar van ‘n deurry-koffiewinkel in Portland, Oregon, VSA, wat verras was toe ‘n kliënt nie net vir haar eie koffie betaal het nie, maar ook sommer vir die persoon in die motor agter haar se koffie. Die eienaar kon net glimlag toe sy die volgende kliënt meedeel haar koffie is reeds betaal.

Hierdie volgende kliënt was so verras, dat sy weer koffie vir die volgende motor betaal het. Hierdie string van basiese bedagsaamheid het vir twee uur lank voortgeduur. Sewe-en-twintig kliënte het op ‘n ry vir die volgende persoon se koffie betaal.

So is dit met die liefde van God. Mense beleef God se verrassende liefde. Hulle gee dit dan aan aan volgende mense. Wat dit weer aangee. So beleef mense God se liefde opeenvolgend op lewensveranderende maniere.

God is liefde

Ons teks bring die wese van God met liefde in verband. God is liefde (vers 8 en 16). Nie net God die Vader is liefde nie, maar ook die Seun van God, Jesus Christus, en die Heilige Gees handel in terme van die liefde. Dit word soos ‘n konstante refrein deur ons teks uitgejubel:

  • Liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God (7)
  • God is liefde (8)
  • God openbaar en bewys sy liefde (9-10)
  • Ons bly in God se liefde deur die Gees wat Hy gegee het (13)
  • God is liefde, en ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het (16-19).

God is, sê ons teks die Bron van ware liefde, want dit behoort tot sy wese. Omdat God liefde is, kom mense wat uit God gebore is en God persoonlik ken in die kragveld van God se liefde. Om uit God gebore te wees beteken om van Hom afkomstig te wees en dus sy kind te wees. Om vir God te ken, beteken om in ‘n intieme verhouding tot Hom te staan.

God is nie net liefde nie. God is liefde wat geken, ervaar en beleef kan word deur die kinders van God.

Ons ken God se liefde in Christus

God se liefde is nie bloot ‘n teorie of spekulasie nie. Dit is veel meer as net ‘n teologiese leerstuk. God se liefde het konkreet in ons wêreld aangekom. Dit word beliggaam deur die lewende Here Jesus Christus:

  • “Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.” (9)
  • “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.” (10)
  • “En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het.” (14)

Ons het eintlik vooraf niks van liefde geweet nie – totdat God se liefde in Christus aan ons bekend geword het nie. Beide die feit dat God sy Seun stuur, en in die versoening wat die Seun vir ons sonde bewerk het, openbaar God se liefde.

Mens dink aan Thomas Merton se gevleuelde woorde:
To say I am made in the image of God is to say that love is the reason for my existence, for God is love. Love is my true identity.

Ons moet natuurlik versigtig wees om net een gestalte van liefde as liefde te eien. Liefde is veel meer as romantiese liefde. Daar is ook die liefde van vriende, familie, die omgee van kollegas en die samehorigheid van groepe mense. Bybelse liefde is veral dienende, opofferende liefde wat op soek is na die herstel van gemeenskap en diens. Hierdie liefde is in God aanwesig.

Verstommende liefde

Dit is die geweldige aanspraak van die Christelike geloof. In die tyd van die Nuwe Testament het die mense van die Romeinse Ryk die gode gesien as wispelturig, selfsugtig, kort van humeur, vol van wrokke en ingestel op vergelding. Daarom het die Romeinse Ryk godsdienstig so baie van offers gemaak. Die gode moes gepaai word, want as jy aanstoot gee, sou die gode dit vergeld. Baie van die politieke probleme van die Ryk is gewyt aan onvoldoende offerandes.

Die Christelike geloof ken en verkondig ‘n God van liefde. Die gedagte dat (‘n) G(g)od mense liefhet, was absoluut rewolusionêr. Verder was dit ongekend om te sê God se liefde het op die wêreld aangekom in die persoon van Jesus Christus, waarlik God en waarlik mens. God se liefde en selfprysgawe kan aangeraak word. Dit kan geken en beleef word. Dit is hier in Jesus Christus. Ongekend en rewolusionêr!

Net so verstommend is die dienende karakter van God se liefde. Dit is liefde wat vryelik gee. Wat versoening skenk. Wat self die finale offer aanbied vir ons sonde. So bring die liefde vir ons herstel. Die genesing van mense se diepste nood begin by die belewing van God se liefde in die persoon van Jesus Christus van Nasaret.

Draers van God se liefde

Mense wat God se liefde in Jesus Christus, deur die werk van die Heilige Gees ontvang, word nuut gemaak. Jy bly nie onaangeraak nie.

Daarom is dit vanselfsprekend dat mense wat God se liefde gesien en beleef het, ook die medegelowige en medemens sal liefhê:

  • Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê” (11)
  • Ons het lief, omdat God ons eerste liefgehad het (19b)
  • “As iemand sê: ‘Ek het God lief, en hy haat sy broer, is hy ‘n leuenaar …'” (20)
  • “En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.” (20)

Die diepste motivering vir ons liefde vir mekaar, word uit God se liefde vir ons gebore. Dit is omdat Jesus die liefde “uit God” is, dat ons ander kan liefhê. Soos ons al hoe meer in God bly raak ons diep bewus van God se liefde in Jesus. Daarom bly ons nie net in die liefde nie, maar raak dit ook al hoe meer ‘n werklikheid dat dié liefde in ons bly.

Soos ons die fokus is van God se liefde, soos Jesus God se gawe aan ons is, só word medegelowiges die fokus van ons liefde en word ons God se gawe aan hulle.

Ons ken God dus eintlik ook net in dié mate wat ons die liefde ken.  Dit gaan nie oor ons kennis van God se liefde nie, hoe belangrik dit ook al is, maar ook oor die verhouding wat met Hom en mekaar tot stand kom.  Ons groei in Godskennis is veral ons groei die liefdesverhouding tot diegene rondom ons. Ons ken God beter as ons groei in die liefde.  Omgekeerd: soos ons groei in die liefde, só groei ons in ons kennis van God.

Liefde in die konteks van verskeurdheid

Hierdie mooi woorde is veel meer as mooi woorde. Johannes praat met die gelowiges teen die agtergrond van ‘n pynlike skeuring in die gemeente. ‘n Groep, wat daarop aanspraak maak dat hulle die ware kennis van God het, het uit die gemeente aan wie Johannes skryf, weggebreek. Vir hulle was Jesus nie die Christus nie, en het Jesus ook nie in die vlees gekom nie.

Johannes bevraagteken die wegbreekgroep se opvatting van die liefde. Hulle het waarskynlik eensydig klem gelê op die liefde tot God. Volgens hulle is die doel van die mens om met God verenig te word. Dit geskied onder andere by hulle deur die liefde tot God.

Liefde tot die medemens is egter vir die skeurmakers nie belangrik nie. Liefde tot God voer jou weg uit hierdie wêreld uit. Jy styg bo die stoflike uit om met die geestelike verenig te word. Redding is om van die aarde en die vleeslike weg te vlug. Die medemens of naaste behoort tot die vleeslike, stoflike aarde wat sondig is. Daarom word die liefde tot die medemens as nie so noodsaaklik geag nie en afgeskeep.

Johannes wys hierdie houding af. God se liefde voer ons nie weg van die wêreld af nie. Inteendeel, God het sy liefde wêreld toe gebring. Jesus beliggaam God se liefde op die strate, pleine en in die huise van ons wêreld. Dit is vir die wêreld. En God stort sy liefde in ons uit, sodat ons op hierdie aarde ander kan liefhê.

Wie dink liefde tot die broer en suster is nie belangrik nie, sê Johannes, se liefde tot God moet ook betwyfel word. Die wegbrekers mag voorgegee dat hulle liefde uit God gebore is, maar vanweë die gebrek aan liefde vir die naaste, moet hulle verhouding met God betwyfel word.

Trouens, sê Johannes, was die wegbrekers eintlik ook voor en met hulle wegbreek-aksie in werklikheid nooit deel van die gemeenskap nie. Hulle “naasteliefde” was nie gewortel in God nie en het los daarvan gestaan het.

Werklike liefde

Die belangrike punt is dat ons opgeroep word tot liefde binne die pynlike werklikheid van verskeurdheid en liefdeloosheid. Johannes is nie besig om ‘n utopie te bespreek nie. Hy droom nie groot en sê nie hoe wonderlik dinge sou kon wees nie. Nee, hy beklemtoon dat die werklikheid van God se liefde ten alle koste moet uitmond in die liefdesbetoon van God se kinders – ook vir die wegbrekers en die vyande.

Dit is duidelik dat Johannes die gemeente wat na die skeuring oorgebly het, wil troos om te sê hulle is die ware kinders van God. Daaroor hoef hulle nie te vrees nie. Daar wag nie oordeel op hulle, omdat hulle God nie sien en ken soos die wegbrekers beweer Hy gesien en geken moet word nie. Hulle ken die liefde van God, in Christus, en hulle word opgeroep om hierdie liefde uit te leef. Die liefde verdryf vrees vir oordeel en maak die lewe nuut.

Die taak van hierdie gelowiges is om God se liefde só uit te leef dat die geloofsgemeenskap versterk word. God het hulle gered om van hulle ‘n konkrete liefdesgemeenskap te maak. So bly hulle in God. So bly God se liefde volkome in hulle, en het hulle niks te vrees vir die oordeelsdag nie.

Opvallend dat Johannes nêrens aandui dat diegene wat weggeskeur het, nou gehaat mag word nie. God se liefde sluit altyd haat uit – ook haat gerig aan teenstanders en mense wat die wêreld vir gelowiges moeilik maak.

Liefde in aksie

Johannes se oproep aan die gemeente om ‘n liefdesgemeenskap te wees, klink vandag nog helder op. Ons ken ook God se liefde, en ons sien dit in Christus op grond van die getuienis in die Skrifte. Ook ons het die Gees van God ontvang. Daarom moet ons ook die liefde van God beliggaam.

Ons eerste taak is om dit in ons gemeente te doen. Mens voel dikwels moedeloos met jou eie onvermoë om lief te hê. Johannes nooi ons om versterk te word deur die liefde van God, wat in Jesus openbaar is, die Seun van God, gestuur tot versoening van ons sondes, die Redder van die wêreld.

Ons liefde word uitgedaag deur mense wat beweer hulle weet wie en hoe God is – en nie is nie – maar die openbaring van God se liefde in Christus minag of ontken. Dit het dikwels die effek dat mens self begin twyfel in jou geloof, en wonder of jy jou geloof nie dalk op sand bou nie.

Johannes versterk ons deur ons geloof in te bind in God se liefdesdade in Christus. Teen hierdie agtergrond moet ons in die liefde bly en die liefde uitleef.

Daarom is dit so ondenkbaar dat daar lidmate is wat leef asof hulle gered is om te byt en te verskeur. Predikante en kerkraadslede moet dit dikwels ontgeld. Of swartskape word van lidmate gemaak. Dit is nie in pas met die karakter van God wat in God se kerk weerspieël moet word nie.

Liefdeloosheid gedy waar ons onsself die reg toeëien om ander mense na verdienste – soos ons dit sien – te beoordeel. Ons vergeet dat Christus vir ons sonde gesterf het as ‘n openbaring van God se liefde vir ons. Ons moet in die lig van God se liefde vir ons na mekaar kyk. Ons moet vanuit die belewing van ons eie onverdiende verlossing en vergifnis met sagte oë na mekaar kyk.

Liefde in ‘n gespanne wêreld

Ons dink oor hierdie teks na in ‘n gespanne tyd in die Suid-Afrikaanse samelewing. Die #RhodesMustFall-veldtog het gelei tot die verwydering van die koloniale standbeeld, en ‘n aanslag op verskeie ander standbeelde. Kommentators wys daarop dat die radikalisering van die SA-samelewing op hande is. Daar is mense wat belang daarby het dat die middelgrond van gematigde mense wat goeie verhoudinge oor grense handhaaf na alle kante onder druk kom.

Die kerk van God moet in ‘n tyd soos hierdie haar identiteit onthou. Ons is kinders van God, ons leef in die liefde van God, ons het ons broers en susters in Christus lief. Ons bewys ook liefde aan hulle wat buite die geloof staan.

Alain Badiou, ‘n Franse filosoof, het gesê:
Love is the ability and privilege to see the world from two perspectives.

Badiou is as filosoof geïnteresseerd in die publieke lewe. Hy verstaan dat liefde ons help om die wêreld deur ander se oë te sien. Wanneer mens ander se verhale en identiteit, vrese en strewes, probeer verstaan, groei daar insig in die ander. Selfs in wat jy as die vyand beleef. Liefde is die passie dat die liefde wat in Jesus – die Redder van die wêreld – geopenbaar is, sal seëvier.

Liefde staan in alle gevalle teenoor haat.

Konkrete naasteliefde

Behalwe rondom die skeuring, gee die eerste Johannesbrief nie spesifieke en konkrete opdragte vir die naasteliefde nie. Dit laat die deure oop vir allerlei God-geïnspireerde liefdesdade, afhangende van mense se behoeftes. Dit kan materieel, of sielkundig of geestelik wees. Almal het in elke geval liefde nodig.

Daar is soveel gebrokenheid in die wêreld, soveel genesing is nodig. Met liefde en geduld kan ons helingsprosesse bevorder.

Armoede bly ‘n ontstellende bekommernis wat dade van barmhartigheid en liefde vra. Daar is mense wat diskriminasie ervaar oor hulle kleur of geslag, wat vra dat ons in liefde solidêr sal wees met hulle stryd.  Ons het behoefte daaraan dat mense weer basiese waardes sal leer en omhels.

Liefde is seker een van, indien nie dié belangrikste, waarde nie. Dit gee aan mense integriteit en waardigheid. Naasteliefde beteken om naas of langs iemand te gaan staan, sy/haar las te help dra, sy/haar pyn jou eie te probeer maak, en ware solidariteit te betoon. Baie mense vind dit moeilik dat God liefde is as hulle na die liefdeloosheid van die wêreld en van die kinders van God kyk.

Geen daad is te klein nie. Selfs nie om die persoon agter jou in die ry se koffie te betaal nie. Om vir mense ‘n ete in ‘n restourant te skenk nie. Om in ander belang te stel, hulle leed te leer verstaan, en hulle met liefde te dien – dit is God se patroon.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here, maak my ’n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde saai;
Waar daar onreg is, vergifnis;
Waar daar twyfel is, geloof;
Waar daar wanhoop is, hoop;
Waar daar duisternis is, lig;
Waar daar droefheid is, vreugde.

O, Goddelike Meester, gee dat ek nie soseer sal soek om getroos te word nie as om te troos;
Om verstaan te word nie as om te verstaan;
Om bemin te word nie as om lief te hê.
Want dit is deur te gee dat ons ontvang;
Dit is deur te vergewe dat ons vergewe word;
en dit is deur te sterwe dat ons tot die ewige lewe gebore word (“Gebed” van St Francis van Assisi)

Dankoffer

Slotsang
Lied 334 “God is liefde” of
VONKK 205 “Ek Wil Sing Van Al  U Liefde” of
Flam 144 “God Is Liefde”

Seën

Respons
VONKK 196 “Ons Het God Gesien” of
Flam 176 Ek Is Bereid (Stuur My) refrein

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.