Vyfde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Die vyfde Sondag van Paastyd staan bekend as cantate, “sing”, en word ontleen aan Psalm 98:1. Paastyd is ’n tyd van sing en lofprysing aan die Een wat nuwe lewe moontlik gemaak het. Op hierdie Sondag sing ons tot God ons Koning, Hy het ons verlos en al die nasies sal Hom dien (Ps 22). God se oorwinning is nie ’n eendag oorwinning nie, ons het nou reeds deel daarin, want ons lewe vanuit Jesus, die ware wingerdstok (Joh 15). Ons bly in Jesus en is gewortel in God se liefde (1 Joh 4) waaruit ons leef en vrug dra. God se liefde is vir almal, daarom dra ons ook die boodskap van liefde na alle mense (Hand 8).

Ander tekste

Handelinge 8:26-40 – Ons sing want, die goeie nuus is vir almal

Filippus en die Etiopiër
26’n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.” Dit is ’n stil pad.

27Filippus het toe klaargemaak en gegaan.
’n Ontmande Etiopiër wat ’n hoë pos beklee het aan die hof van die kandake, soos die koningin van Etiopië genoem is, en wat haar geldsake beheer het, het na Jerusalem toe gekom om te aanbid. 28Hy was nou op pad terug en het op sy wa gesit en lees uit die profeet Jesaja. 29Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa.”

30Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?”

31Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?”
Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit. 32Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit:
“Soos ’n skaap is Hy gelei
om geslag te word;
en soos ’n lam wat stil is
as hy geskeer word,
het Hy nie sy mond oopgemaak nie.
33In sy vernedering het daar nie reg
aan Hom geskied nie.
Wie sal van sy nageslag kan vertel?
Sy lewe op aarde word beëindig.”

34Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders?”

35Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig.

36Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?”

38Toe het hy die wa laat stilhou. Filippus en die hofdienaar het albei in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop. 39Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit.

40Filippus is later in Asdod aangetref. Hy het daarvandaan deur al die dorpe gegaan totdat hy in Sesarea gekom het, en oral het hy die evangelie verkondig.

Psalm 22:25-31 – Ons sing want, God het ons gebed verhoor
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.

32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

1 Johannes 4:7-21 – Ons sing want, God is liefde.
God is liefde
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Fokusteks

Johannes 15:1-8
Die ware wingerdstok
15 “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Ekstra stof

Die opbou van Johannes
Die evangelie het ’n proloog wat op Jesus as die gestuurde Woord van God fokus (1:1-18) en ‘n epiloog wat op die dissipels se uitsending fokus (21:1-25 – vgl 20:21) met die verhaal van Jesus wat in twee dele vertel word:
1. Die publieke Joodse bediening van Jesus met ’n fokus op wondertekens wat sy ware identiteit as die Seun van God openbaar binne die konteks van die Joodse feeste – 1:19-12:50.
2. Die persoonlike bediening van Jesus aan sy dissipels wat uitmond in sy verheerliking deur sy lyding, kruisdood en opstanding as publieke getuienis aan die wêreld binne die konteks van Jesus se laaste Paasfees– 13:1-20:31.

Johannes 13-17
Die fokus van die eerste deel van die Johannes evangelie, Johannes 1-12, was op die publieke bediening van Jesus waarin Hy sewe wondertekens gedoen het wat onomwonde sy ware identiteit as die Seun van God openbaar het, en dit binne die konteks van die Joodse feeste.

Ons teks val binne die tweede deel van die Johannes lees waar die fokus gaan val op die persoonlike bediening van Jesus aan sy dissipels wat uitmond in sy verheerliking deur sy lyding, kruisdood en opstanding as publieke getuienis aan die wêreld binne die konteks van Jesus se bywoning van sy laaste Paasfees.

Jesus se persoonlike bediening aan die dissipels word aan die hand van die volgende aspekte aan die orde gestel:

  • Johannes 13:1–30 – Jesus was die voete van sy dissipels en wys hoe ware gemeenskap werk, terwyl Hy tegelykertyd vir Judas as Sy verraaier uitwys;
  • Johannes 13:31–14:31 – Jesus onderrig sy dissipels baie persoonlik dat Hy die weg, die waarheid en die lewe is;
  • Johannes 15:1–26 – Jesus nooi hulle in na ’n diep gemeenskap met Hom as die ware wynstok – ons teksgedeelte vir dié Sondag en die volgende een;
  • Johannes 16:1-33 – Jesus verkondig die werk van die Heilige Gees as voortsetting van sy eie bediening;
  • Johannes 17:1–26 – Jesus bid vir sy dissipels om in ’n diep eenheid met God en met mekaar te leef.

Let op dat die eerste episode met Judas en Petrus (Joh 13) eintlik die agtergrond verskaf vir ‘n groot deel van wat Jesus in hierdie toespraak op pad na Getsemane sê. Die realiteit is, ’n mens kan God se keuse vir jou afwerp en ignoreer soos ’n Judas, of in jou gebrokenheid aanvaar en omhels soos ’n Petrus.

Johannes 15
Die tema van Johannes 15 kan as volg verwoord word: Om Jesus te aanvaar en sy pad vir jou te omhels, is die lewe

Die hoofstuk val in drie dele uiteen:

  • Jesus is die ware wynstok – die Een in Wie hulle moet bly om vrug te dra – 15:1-8;
  • Jesus het hulle uitgekies om vrug te dra – hulle sal dit doen deur mekaar lief te hê – 15:9-17;
  • Soos die wêreld Jesus gehaat het, sal die wêreld hulle ook haat – Jesus stuur vir hulle die Heilige Gees wat hulle in hul getuienis sal bystaan – 15:18-27.

15:1-8: Jesus word hier gekontrasteer met die volk Israel. In die OT is Israel baie keer met ’n wingerdstok of wingerd vergelyk (Ps 80:9–16; Jes 5:1–7; Jer 2:21; Eseg 19:10–14; Hos 10:1). Waar Israel egter ’n wilde wingerdstok geword het (Jer 2:21), is Jesus die ware wingerdstok, dié Een uit wie die wingerd van God sal groei en gedy.

Die klem lê op wat God deur Jesus regkry in die lewe van gelowiges. Hy is die boer, Jesus die wingerdstok waaruit die gelowiges as lote vrug dra.

Soos Israel uitgetrek en verwoes is (verwys na die ballingskappe – Eseg 19:10-14) sal die lote wat nie vrug dra nie afgesny word – interessant genoeg, nie die hele wingerd, soos in Israel se geval nie, maar net die loot wat nie vrug dra nie. Dit verwys waarskynlik na Judas, die onberoulike wat sy rug op Jesus gedraai en Hom verraai het. En dit bly ’n waarskuwing aan gelowiges wat afvallig word.

Dié wat vrug dra, word egter reg gesnoei sodat hulle nog meer vrug kan dra. Dit verwys waarskynlik na Petrus (en die ander dissipels) wat ten spyte van sy verloëning (en hulle verlating van Jesus in sy uur van nood) deur Jesus nader getrek en heraangestel word as herder van die kudde (Joh 21:15-19).

Petrus het al vrug gedra met: sy belydenis (Joh 6:67), sy onderwerping aan Jesus se voete-was (Joh 13:9) sy gebrekkig verbintenis (Joh 13:37) ensomeer – Judas egter geen: net sy klagte oor die salwing met die reukolie (Joh 12:4), en sy volharding om Jesus te verraai (Joh 13:30; 18:3) word ons vertel.

Die reg snoei werk word deur Jesus se woorde gedoen en word as effektief bewys deur die vrug wat hulle dra. Die geheim van vrug dra is dus om in Jesus te bly, dws om sy woorde aan te hang en te doen. Dit moet ’n huis word waarin jy woon. Dit moet jou hele lewe bepaal.

Let op weereens dat die vrug uitgespel word as gebedsverhoring en dissipelskap (vgl Joh 14:13). Dit is om in Jesus te bly, en van Hom te vra dat God verheerlik word in die lewens van mense – en Hy belowe om daardie gebede te beantwoord.

15:9-17: Die liefde vir mekaar word in God se liefde vir Sy Seun begrond en as model vir ons liefde gebruik – nie net soos ons liefhet nie, maar soos God liefhet, só moet ons liefhê. En die liefde word prakties uitgespel as die uitvoer van God se opdragte (woorde) selfs al sluit dit die dood in (vgl ook 1 Joh 3:16). Dit is ook die enigste ware en blywende bron van blydskap, en maak van ons vriende van God, wat in sy vertroue geneem word, soos ’n Abraham van ouds (Gen 18)!

En die gehoorsaamheid hieraan ook nou weer nie afhanklik gemaak van ons keuse vir God nie, maar van Sy keuse vir ons. Anders as die dissipels van daardie tyd wat ’n rabbi vir hulleself gekies het, het Jesus self sy dissipels uitgekies! Dit is hoe God werk!

Dit is eintlik ongelooflik. Dit is Hý wat ons aangestel het om vrug te gaan dra, en wat sorg dat iemand soos Petrus die reus kan word wat ons aan die einde van sy lewe in hom kon raaksien. Dit is ’n ongelooflike troos as ‘n mens aan jou eie broosheid en gebrokenheid dink. Hy kan dit ook vir jou doen.

Weereens herhaal Jesus die feit dat Sy Vader ons gebede sal verhoor – daar is niks belangriker as gebed nie!

15:18-27: Soos so vele kere in die evangelie van Johannes word onmiddellik na die hoopvolle verkondiging van God se werk in ons, ook die konteks van die teenstand wat ons van die wêreld sal ervaar, geteken. Die wêreld sal ons haat.

Wat in moeilike omstandighede ons kan troos en bewaar, is die wete dat dit nie anders was met Jesus nie, en dat teenstand die Skrifwoord bevestig: “Hulle het My sonder rede gehaat”. Dawid se woorde word op Jesus van toepassing gemaak uit Ps 35:19; 69:5 . Agitofel is waarskynlik weereens die agtergrond vir wat Dawid daaroor te sê het en laat ’n mens dink dat Jesus vir Judas met Agitofel vergelyk.

Daarby stuur Jesus vir hulle die Heilige Gees wat self sal getuig oor Hom en hulle in hul getuienis sal versterk. Daaroor sal die volgende hoofstuk meer te sê hê.

En uiteraard kan ons nie self val vir die verleiding van die wêreld nie, en die wêreld en die wêreldse dinge leer lief kry nie, want dan versaak ons die Een wat in ons werk om vir Sy wil te vra en dit te doen (1 Joh 2:15).

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die vyfde Sondag van Paastyd staan bekend as cantate, “sing”, en word ontleen aan Psalm 98:1. Paastyd is ’n tyd van sing en lofprysing aan die Een wat nuwe lewe moontlik gemaak het. Op hierdie Sondag sing ons tot God ons Koning, Hy het ons verlos en al die nasies sal Hom dien.

(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Wys vooraf ‘n video van hoe ‘n wingerd of bonsai boompie groei.

Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke. (Uit Ps 22)

Seëngroet
Voorganger: Halleluja!
Gemeente: Halleluja!

Voorganger: Liewe Gemeente! Christus het opgestaan!
Gemeente: Christus het waarlik opgestaan!”

Verootmoediging
Die vreugde moment van die Paasgebeure kom slegs tot sy reg in die skaduwee van Jesus se lydenspad, kruis en graf. In die Handelinge teks word hierna verwys:

Filippus en die Etiopiër
26’n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.” Dit is ’n stil pad.

27Filippus het toe klaargemaak en gegaan.
’n Ontmande Etiopiër het op sy wa gesit en lees uit die profeet Jesaja. 29Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa.”

30Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?”

31Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?”

Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit. 32Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit:
“Soos ’n skaap is Hy gelei
om geslag te word;
en soos ’n lam wat stil is
as hy geskeer word,
het Hy nie sy mond oopgemaak nie.
33In sy vernedering het daar nie reg
aan Hom geskied nie.
Wie sal van sy nageslag kan vertel?
Sy lewe op aarde word beëindig.”

35Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig.
(Uit Handelinge 8:26-40)

Lied 395 “My verlosser aan die kruis 1,2,3”

Maar daar eindig dit nie- Petrus vertel…

Handelinge 2:22-24 ()
22“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou.

Lied 414 “Juig verlostes, juig en sing vs 1,2”

Liefde as riglyn vir ‘n dankbaarheidslewe
1 Johannes 4:7-21 – Ons sing want, God is liefde.

God is liefde
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Loflied
Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5” en/of
Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Liedere

F1. “Die Hemel Juig”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: All heaven declares
Teks en Musiek: Noel & Tricia Richards
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht & Jacques Louw
© 1987,1997 Thankyou Music

1. Die hemel juig, getuig van al u grootheid, Heer.
Die skepping buig in aanbidding voor U neer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

2. Ons wil verklaar:
U is die opgestane Heer;
U is die Lam
wat vir ewig sal regeer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

F246. “Lig Van Die Wêreld”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklik: Here I Am To Worship (AKA Light of the World)
Teks en Musiek: Tim Hughes
Afr. teks: 2008 Johan Engelbrecht
© 2000 Thankyou! Music

1. Lig van die wêreld, U skyn in my duisternis;
nou kan ek sien wie U is.
Liefde wat maak dat ek U wil ken, Heer,
by U elke oomblik wil wees.

Refrein:
Voor U wil ek my neerbuig,
U wil ek aanbid en
U wil ek verheerlik as my Heer.
Want U alleen is waardig,
heilig en regverdig,
U is so genadig, so goed vir my.

2. Hemelse Heer, wat hoog en verhewe is,
Koning vol glorie en mag,
U’t na die wêreld as Kind gekom en
u heerlikheid afgelê.

Refrein:

Brug:
En nooit besef hoe U gely het,
daar aan die kruis was als vir my.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Almagtige God, ons Hemelse Vader, U kom altyd u beloftes na.
Ons dank U dat U u enigste Seun gestuur het toe die tyd daarvoor reg was.
Saam met u hele kerk vier ons Sy koms,
buig ons oor Sy lydenspad
juig ons oor Sy opstanding
Ons verheerlik u, ons genadige Vader,
en u Seun, ons koning van Sion,
en die Heilige Gees.

Here, U is ons Koning – in die Naam van die Vader bid ons dat U ons in staat sal stel om hierdie Paastyd reg te vier: in ons harte, met ons woorde, en deur ons lewens aan U toe te wy.

Stort asseblief u oorvloedige seën oor ons uit.
Stel ons in staat om met entoesiasme na u Woord te luister,
om dit te vertrou en in geloof te aanvaar,
sodat ons die vreugde van u Gees kan ervaar en aan u ons bewondering kan bring.
Laat ons U dien, die God wat mens geword het, ons Verlosser,
nou hier op aarde, in u kerk,
maar ook vir altyd in u Koninkryk.
Amen.
Outeur: Unitas fratrum (Morawiese Broeders) 16de eeu

Advent gebed, verwerk as gebed om in Paasfees te gebruik
(Uit: Gebedeboek met liturgiese voorstelle. Saamgestel deur die Sinodale Eredienskommissie van die Oos-Kaap Sinode van die NG Kerk. Datum onbekend)

Skriflesing: Johannes 15:1-8

Prediking

Familie-oomblik

(Foto van paddas in bonsai deur robglinka by flickr.com, creative commons lisensie)

Opsie 1 (uit Leesrooster riglyne)
Bou vooraf ’n kruis bestaande uit lote, waar beskikbaar, andersins takkies. Nooi kinders om elk ’n loot/takkie te kom haal en saam met hulle huis toe te neem as herinnering daaraan dat ons in Christus, die ware wingerdstok, is en dat ons baie vrugte dra wanneer ons in Christus bly.

Opsie 2 (Carolyn Brown, Forbid Them Not, Year B, 89):
Stadskinders het nie baie ervaring van die proses en doel van snoeiwerk, behalwe dié wie se ouers baie tuinmaak nie. Op die platteland en in boerderygemeenskappe sal ‘n mens waarskynlik makliker daarby kan aansluit. Kry iemand wat die proses kan verduidelik. Indien dit gedemonstreer kan word, is dit nog beter.

Hier is ‘n stop-motion video wat wys hoe ‘n bonsai-boompie gevorm word.

Hier is ‘n kort video van ‘n wingerd wat gesnoei word.

Met ouer kinders kan jy dan verduidelik, met voorbeelde, wat dit beteken om as mens gesnoei te word. Slegte gewoontes – hoe ons ons tyd spandeer: te veel TV, te veel stilsit, te veel niksdoen – moet verander word deur beter gewoontes aan te leer. Dit is hoe God ons lewens verander om al hoe meer soos Hy te word. Ons kan mekaar daarmee help waar ons ingeskakel is, bv by kategese of in die skool.

Opsie 3 n.a.v. sermons4kids.comBring twee take – een waarvan die blare begin verwelk en een sonder blare. Verduidelik hoekom die takke doodgaan. Jesus sê: Julle moet in My bly en Ek in julle. Verduidelik wat dit beteken om in Jesus te bly.

Opsie 4:
Verduidelik “in Jesus bly” met die beeld van rankplante: Rankplante het ondersteuning nodig om te kan groei – iets waaraan hulle kan vashou om regop te bly. Wanneer die plan begin groei, begin dit “soek”, totdat dit iets vind. Dan hou dit styf vas, sodat dit sterk kan groei. Hier is ‘n video wat wys hoe plante soek en draai rondom die stokke:

Aktiwiteit: Hier is ‘n Druiwetros-doolhof.

Preekriglyn

Bonsai is ‘n Japannese kunsvorm wat miniatuur boompies in potte laat groei. Die gebruik is meer as 1,000 jaar oud. Die doel van bonsai is om ‘n kunstige boom te skep wat aangenaam is om na te kyk, en die produk is van die vaardigheid en skeppingsvermoë van die kweker.

Die primêre vaardigheid is die vorming van die boompie in ‘n pragtige kunswerk deur dit oordeelkundig te knip of te snoei.

Die vorming van plante tot pragstukke deur snoeiwerk is nie net tot bonsai beperk nie. In openbare parke en in baie tuine snoei die tuinier plante tot pragstukke.

God snoei ook en vorm sy mense tot ‘n sieraad. In ons teks is dit juis die beeld van ‘n wingerdstok wat gebruik word om God se werk in ons lewens te illustreer.

Wingerdstok Israel

Israel was baie bekend met die beeld van ‘n wingerdstok of wingerd. Die volk word dikwels in die Ou Testament met ‘n wingerd of wingerdstok vergelyk. Israel het egter ‘n wilde wingerdstok geword, wat – volgens Esegiël 19:10-14 – uitgetrek en verwoes is. Dit verwys na die ballingskap waarin die volk uit hulle land ontwortel is en in ‘n vreemde omgewing moes oorleef.

Aanvanklik was Israel ‘n goeie wingerdstok. Psalm 80:9vv vertel hoe die Here Israel as ‘n wingerdstok uit Egipte gaan uithaal het en in die beloofde land oorgeplant het. Die wingerdstok het goed wortelgeskiet en die loof het geil gegroei:
Sy skaduwee het die berge oordek,
sy ranke die magtige seders.
Hy het sy ranke uitgestoot tot by die see
sy lote tot by die Eufraat
(Psalm 80:11-12)

Jou ma was soos ‘n wingerdstok wat langs water geplant is
Van die baie water het hy druiwe en ranke gehad.
Hy het sterk lote gehad, geskik vir koninklike septers.
Hy het hoog gegroei, tot by die wolke,
en jy kon hom uitken aan sy hoogte en sy baie ranke.
(Esegiël 19:10-11)

Dinge loop skeef

Deur die volk se opstand en weerstand teen die Here, het dinge skeefgeloop. Die Here God self het Israel se opponent geword. Verbygangers (ander nasies) het die wingerdstok begin stroop (Psalm 80).

Die Here het die wingerdstok uitgeruk, die oostewind het dit verdor, die vrugte is afgeruk, die sterk lote het verdroog, en die wingerdstok het in die woestyngrond beland, in ‘n dorsland. In hierdie ballingskap het vuur uit die lote gekom en die ranke en vrugte verteer (Esegiël 19:12-14).

Verlange na verlossing

Daar het ‘n oorblyfsel van die wingerdstok uit ballingskap teruggekeer Israel toe. Tog het die wingerdstok nooit weer behoorlik wortel geskied nie. Sedert die terugkeer uit die ballingskap (in die sesde eeu v.C.) tot in Jesus se tyd het die wingerdstok nooit weer behoorlik wortel geskied en gebloei nie.

Vir die Jode van Jesus se tyd was die ballingskap nog nie verby nie. Israel was in hul eie land steeds in ballingskap. Ander volke het hulle oorheers. Israel moes noodgedwonge die knie buig voor goddelose heersers. Hulle het met verlange uitgesien dat die God van Israel sou kom en ‘n nuwe begin met die wingerdstok maak.

Die beeld van die wingerdstok projekteer die geskiedenis van die Here se seën oor Israel, maar ook hulle ontrou, en God se oordele daaroor, soos ‘n helder beeld op ‘n groot doek. “Wingerdstok” is ‘n kodewoord wat ‘n groot en wye historiese panorama oor die eeue oproep. Dit vertel van skade en skande, dit skree die hunkering en verlange na verlossing uit. Wie sal kom en die wingerdstok genees? Wie sal die ware, goddelike lewensap laat vloei? Wie sal lewe gee?

Almagtige God, kyk tog uit die hemel af
en ontferm U weer oor hierdie wingerdstok,
neem hom weer onder u sorg.
Hou in stand wat U met u eie hande geplant het,
die wingerdstok wat U vir Uself gekweek het!
Hou u hand oor die mense wat deur U uitgekies is,
oor die volk wat U vir U grootgemaak het.
Here, almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan,
verskyn tog tot ons redding!
(Psalm 80:15vv)

Jesus is die ware wingerdstok

Jesus gebruik aangrypende woorde, gerig aan mense wat sug om verlossing en lewe: “Ek is die ware wingerdstok.” (15:1) Daarmee sê Hy: God voorsien in Jesus die egte, betroubare wingerdstam waaruit nuwe, egte lewe vir God se mense sal vloei.

Waar Israel telkens gefaal het, voorsien God in Jesus die God-mens die ware Israeliet, die volkome gehoorsame Mens waaruit die nuwe lewe kan vloei.

Israel se God bly getrou aan sy belofte teenoor die volk. En waar die volk bly misluk om die ware wingerdlote te wees, raak God die volk nou in Jesus aan. God voorsien die stam waaruit die lote kan lewe.

Die ontsettende krisis is dat die sonde en die dood in die wingerd aan die werk is. Ten spyte van belofte en pogings kan die volk nie die ware wingerdstok wees nie – nie op hulle eie nie. God bring egter uitkoms. Jesus is die ware wingerdstok.

Die woord wat hier met “ware” vertaal word, dui ook op betroubaarheid. Jesus is nie alleen die “egte” wingerdstok nie, Hy is ook die “betroubare” wingerdstok – mense kan hulle lewe en hulle hoop aan Jesus verbind. Hy is die ware Jakob. Hy is die betroubare Jakob. Hy is die wonderlike antwoord op sy volk se diepste nood.

“My Vader is die boer”

Jesus is die weg waarlangs God sy mense in staat stel om God te gehoorsaam. Deur jou lewe, soos ‘n wingerdloot, op Jesus “in te prop”, word dit moontlik om God getrou te dien.

Jesus is die wingerdstok, die dissipels die lote, en die Vader is die boer wat die lote help om vrug te dra. Hierdie is die sentrale fokus van hierdie paar verse: deur inplanting in Jesus kry God die Vader die nuwe lewe (vrug dra) reg in die lewe van Jesus se dissipels.

Afsny

Die boer sny in die eerste plek alle lote af wat nie vrug dra nie. Vrug dra verwys hier na toewyding en getrouheid in die lewe van Jesus se dissipels, en hulle beskikbaarheid om Jesus se werk in die wêreld te doen.

Een van die dissipels wat nie vrugte dra nie, was Judas Iskariot. In die voorafgaande gedeelte het Jesus sy verraaier aangewys. Judas kies teen Jesus, Judas breek die band met Jesus, Judas bepaal sy eie agenda en gaan agter sy eie kop aan. Onberoulik draai hy sy rug op Jesus en verraai Hom.

Die Vader sny hierdie lote af. Dit bly ‘n waarskuwing aan gelowiges om nie afvallig te word nie.

Met hierdie opmerking help Jesus die 11 oorblywende dissipels om te verstaan wat nou in Judas se lewe gebeur. Judas doen die verstommende, onbegryplike ding: hy is deel van die dissipelkring, Hy is genooi om saam met Jesus te wandel en in Jesus te bly. Maar hy kies die ondenkbare moontlikheid: om Jesus te verlaat en Hom te verwerp.

Reg snoei

Die wingerdlote wat in Jesus bly, kan verwag om reg gesnoei te word, sodat hulle meer vrugte kan dra.

Hierdie woorde word in ‘n nag van hoog-drama uitgespreek. Dit is die nag voordat Jesus gevange geneem en gekruisig word. Een dissipels verraai Jesus en word afgesny. ‘n Tweede dissipel, Petrus, is op die punt om Jesus te verloën. Petrus word die voorbeeld van hoe die Vader dissipels snoei sodat die verkeerde in hul lewe onder bedwang gebring kan word, en hulle meer vrug kan dra.

Die dwaasheid wat Petrus aanvang deur Jesus te verloën, word ‘n geleentheid waardeur die Vader Petrus reg snoei. Aan die einde van die Johannes-evangelie, na sy opstanding, kom Jesus weer na Petrus toe, raak hom aan en herstel hom in sy amp as apostel.

Daar sou ook uiters onaangename ervarings en krisisse later in Petrus se lewe volg. Hy word bespot (Hand 2:13), in die tronk opgesluit (Hand 5:18; 12:1-19), en hy moet ‘n heidense huis betree (Hand 10). Dit word, onder God se genadige hand, alles reg snoei geleenthede waar hy gevorm word om meer bruikbaar vir Jesus te wees. Elke snoei-geleentheid het hom net meer dryfkrag gegee om aan God gehoorsaam te wees.

“Bly in My”

In die res van ons teksgedeelte dring Jesus by die dissipels aan om “in Hom” te bly, sodat hulle vrug kan dra. Hy gebruik die biologiese feit dat takke wat nie verbind is aan die stam nie, geen lewenskrag het nie, en verdroog.

Die dissipels word daaraan herinner dat hulle hul energie vanuit gemeenskap met die lewende Here Jesus moet put. Hulle “bly in hom” is die keersy van sy “bly in hulle.” “Bly in My” is die dissipels se reaksie van toewyding aan die lewende Here wat tot aan die einde tussen hulle bly en met hulle gemeenskap hou. Dit is om Jesus se woorde toe te laat om binne-in jou te bly. (15:7)

Die doel van hierdie “bly in My” is nie in die eerste plek emosionele hoogtepunte, of mistieke ervarings nie. Bly in Jesus is die dissipline van geestelike gemeenskap met Jesus, sodat jy baie vrug kan dra.

Sonder Jesus is geen vrug moontlik nie, met Jesus is baie vrug dra moontlik.

Vrug dra

Deur sy bediening het Jesus die dissipels voorberei om vrug te dra. Hierdie vrug dra bestaan daaruit dat hulle Jesus se missie in die wêreld voortsit. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle….” (Joh. 20:21)

Vestig die kerk

Hierdie 11 dissipels sou vrug dra deur die Here se kerk te vestig. Die kerk is op Pinksterdag gebore deur die uitstorting van die Gees en het gegroei op grond van die apostels se prediking. Hulle sou saam met ander werk, soos Mattias (wat Judas Iskariot vervang het), en Paulus wat dramaties deur die opgestane Christus tot apostel geroep is. Evangeliste soos Stefanus en Phillippus het ook ‘n rol gespeel. Hulle het almal een span gevorm, en die boodskap van Jesus verkondig.

Hulle is aangestel en bemagtig om baie vrug te dra. Hulle het in Jesus gebly, en sy woorde in hulle. Hulle is deur die Vader reg gesnoei deur moeilike omstandighede. En die vrug het nie uitgebly nie. Die kerk het gegroei. Meer en meer mense het Jesus begin navolg.

Volle vrug te dra

Die baie vrug bestaan ook daaruit dat die Vader sy dissipels snoei sodat hulle nie net een of twee aspekte nie, maar die volle vrug dra – al nege aspekte van die vrug van die Gees. (Gal 5:22-23)

Dis opvallend hoe daar progressie in die vrug dra van ons teks is. Die teks groei van “meer vrugte” (2), na “baie vrugte” (5) om te eindig by “vrugte wat sal hou” (16).

Indiwidue, dorpe, nasies

Uit die verhaal van die vroeë kerk, kan ons sien dat die Here soms mense na indiwidue gestuur het. Filippus het die Etiopiese amptenaar op ‘n verlate pad ontmoet. Ander is na huishoudings gestuur, soos Petrus na Kornelius en sy gesin. Paulus en Silas is betrokke by die redding van die bewaarder In Filippi, en sy gesin. Soms is hele gemeenskappe aangeraak, en het baie begin glo. Die kerk is vinnig gevestig in stede, hoewel dit aan die begin natuurlik klein was. Binne ‘n paar eeue is inderdaad van nasies dissipels van die Here gemaak.

Die baie vrug kom ook na vore in die publieke invloede van Jesus se volgelinge. Ons beïnvloed nie net ons eie gemeente, ons gemeenskappe en ons werkplekke nie, maar ons is geroep om baie vrug in ons land en in ons wêreld te dra. Dit is die belofte wat Jesus in Johannes 15 gee.

Deur gebed

“As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.” (7) Verbind aan die belofte van baie vrug dra, is die belofte van kragtige gebed. Daar is nie limiete op die krag van gebed in soverre dit beoefen word deur mense wat in Jesus bly en vanuit die inwoning in Jesus lewe en vrug dra nie.

Groot dinge het al gebeur deur klein mensies wat in Christus gebly het. David Wilkerson was die “skinny preacher” wat geharde misdadigers in New York na Christus gelei het. William Wilberforce was die Britse politikus was die sisteem van slawerny teen alle verwagting in en na 40 jaar van stryd beëindig gekry het. Baie vrug.

Tot eer van die Vader

Deur vrug te dra, verheerlik Jesus se dissipels God die Vader. Volgens die Johannes-evangelie was Jesus se enigste doel gedurende sy bediening om God die Vader te verheerlik. Dit word ook die doel van die 11 dissipels met wie Jesus hier praat, in elke woord wat hulle uiter en elke daad wat hulle doen. Omdat hulle in Jesus bly, sal hulle dade Jesus-agtig wees, soos die werke van Jesus. Hulle sit Jesus se missie voort. Op daardie manier verheerlik hulle die Vader.

Drie gevare

Ons sluit af deur op drie gevare te wys as ons oor vrug dra praat:

  • Moralisering: asof vrug dra net gaan oor bepaalde morele karaktertrekke wat ek moet vertoon. Of sekere dinge wat ek moet vermy. Nie lelik praat nie. Nie dans of drink nie. Vrug dra sluit hierdie dinge beslis in, maar is veel meer as net ordentlikheid
  • Self-verbetering: asof ek myself verbeter en so aan vrug geboorte gee. Hierdie is ook ‘n vorm van moralisering. Die vrug dra begin nie by my nie, dit is ‘n geskenk van God. Ek ontvang die gawe van die vrug uit God se hand, ek word ‘n kanaal daarvoor deur in Christus te bly.
  • Indiwidualisering: asof die vrug dra net oor my indiwiduele lewe gaan. Vrug dra – daarteenoor – is God se manier om die wêreld te verander.

God stuur ons om te leef

Gebed na die preek
Here, hou my vas, om in U, die ware Wynstok te bly,
sodat ek die voedingstowwe kan kry om waarlik te leef, vrug te dra,
vrugte wat by my bekering pas.
Dankie, Hemelvader, dat U nie ’n kwaai oom is wat uit die hemel sit ek kyk waar ek droogmaak nie. Dankie dat U regtig vir my lief is.
Dankie dat u aard liefde is.
Here, gee dat ek, u kind, na U sal lyk, en ook u liefde sal uitleef.
Bewaar my, Here, daarvan om wat ek bely, te weerspreek met hoe ek leef . . .
Saam met die Psalmdigter is my gebed dat mense oor die hele aarde U sal erken
en hulle tot U sal bekeer;
dat alle volke U as koning sal erken,
want U is Koning van die heelal,
en Koning van my hart. Amen
(Uittreksel uit gebed van Lambert Jacobs soos opgeneem in Groot gebedeboek 2003)
(Uit Bybelmedia se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2011-12.)

Geloofsbelydenis
Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is,
sy Seun gestuur het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem.
Hy moes in die menslike natuur aan die geregtigheid voldoen
en die straf vir die sondes deur sy allerbitterste lyding en sterwe dra.
So het God sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon toe Hy ons sondelas op Hom gelê het,
en so sy goedheid en barmhartigheid uitgestort (het) oor ons,
wat skuldig was en die ewige vervloeking verdien het.
Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee,
en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek,
sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê.
(Ahv Artikel 20 van die Nederlandse Geloofsbelydenis)

Wegsending: Lied 417 “Jesus ons eer U (opgestane Heer) vs 1,2”

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

2 Korintiërs 13:13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.