Vyfde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Op hierdie Sondag vestig die sleutelteks ons aandag op die opgestane Here op die ereplek aan die regterhand van God. Hierdie werklikheid help gelowiges om te volhard ten spyte van die swaarste beproewing.

Ander tekste

Psalm 31:2-6, 15-17; 1 Petrus 2:2-10; Johannes 14:1-14

Fokusteks

Handelinge 7:55-60
Stefanus word gestenig
54Toe die lede van die Joodse Raad dit hoor, het hulle van woede op hulle tande gekners.
55Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.

56“Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”

57Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm, 58hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere neergesit by ’n jongman met die naam Saulus. 59Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!”

60Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!”
Met hierdie woorde het hy gesterwe.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 154 of F62

Votum: (N.a.v. Joh. 14:6–7)

Seëngroet: (N.a.v. 1 Pet. 1:1–2)

Lofsang: Lied 496

Toewyding: ( 1 Pet. 2:2–10)

Toe-eiening: Lied 524 of F387 of VONKK 146

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed
Skriflesing
Familie-oomblik
Preek

LEEF

Voorbidding: Bid vir die vervolgde kerk.

Slotsang: Lied 477 of F66

 Seën: (n.a.v. 1 Pet 2:9)

Respons: Lied 316

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader”
F62. “Ons is Hier Vir ’n Doel En Vir ’n Rede (Saam Is Ons Beter)”

Votum: (N.a.v. Joh. 14:6–7)
Jesus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. As julle My ken, sal julle my Vader ook ken.

Seëngroet: (N.a.v. 1 Pet. 1:1–2)
Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld: Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!

Lofsang
Lied 496 “Jesus, U die lewe”

Toewyding: ( 1 Pet. 2:2–10)
2Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. 3Julle het immers ondervind dat die Here goed is.
4Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. 5Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. 6Daarom staan daar in die Skrif:
“Kyk, Ek lê in Sion
’n hoekklip,
uitverkies vir die ereplek.
Wie in Hom glo,
word nooit teleurgestel nie.”
7Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde:
“Die klip wat deur die
bouers afgekeur is,
juis hy het die belangrikste
klip in die gebou geword”
8en:
“’n klip waaroor ’n mens struikel
en ’n rots waarteen
jy jou stamp.”
Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem.

9Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 10Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys.

Toe-eiening
Lied 524 “God roep ons om met woord en daad”
F387. “Hier Is U Kerk (Laat Ons Dien Met Ons Lewe) “
VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 146 “My Gees, My Siel, My Liggaam”
Teks: My spirit, soul and body – Mary Dagworthy James 1885; Halleluja 1951; gewysig Jacques Louw 2010 ©
Musiek: Phoebe Palmer Knapp (1839-1908)
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Pinkster / Liefde, Dankbaarheid en Diens

1. My gees, my siel, my liggaam
wy ek aan U, o Heer.
Ek lê myself as offer
gewillig voor U neer.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

2. My diepste wens is, Here,
– gehoorsaam aan u Gees –
dat ek met al my gawes
vir U mag diensbaar wees.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

3. U liefde vir die wêreld
het U na ons gebring.
Mag ek na ander uitreik
deur liefde wat my dring.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

4. U stuur my na die wêreld
om dáár vir U te werk,
my gees en siel en liggaam
te wy ook aan u kerk.

Refrein:
My hart is op die altaar,
en wagtend op u vuur;
wagtend, wagtend, wagtend,
ja, wagtend op u vuur.

F62. “Ons is Hier Vir ’n Doel En Vir ’n Rede (Saam Is Ons Beter)”
(RUBRIEK: FLAM Kruisfuur – Diens en Getuienis / Kerk)
Teks en musiek: Chardi Visser
© 2009 MAR Gospel Music
(Opgeneem op Uitverkoop)

Ons is hier vir ’n doel en om ’n rede,
om Christus deur ons elkeen te laat lewe,
om te hoor wat Hy sê en die wêreld te verander.

Refrein:
Saam is ons beter, saam is ons meer,
saam bou ons ’n toekoms met dit wat Christus leer.
Saam is ons vir altyd, saam is ons sterk,
saam is ons Sy liefde, saam is ons sy kerk.

Brug:
Saam is ons beter. (x4)
Saam is ons beter. (x2)

Refrein:

F387. “Hier Is U Kerk (Laat Ons Dien Met Ons Lewe)”
(RUBRIEK: Flam – Kerk en Koninkryk; Getuienis)
Teks: Neil Büchner en Jandré Viljoen
Musiek: Neil Büchner
© Flam Musiek-Uitgewers

Hier is u kerk, U stel ons aan.
Ons is gekies, U gee ons u guns.
Laat u Gees oor ons elkeen kom.
Maak, Heer, u wil deur ons bekend
net soos dit is, dat mense dit ken.
Laat u Gees oor ons elkeen kom.

Refrein:
Laat ons dien met ons lewe
waar ons is u liefde bring.
Elke mens sien as u tempel
deur genade, u goedheid bewys
waar U kerk van u liefde getuig.
Hier is u kerk,
(ons is gekies)
hier is u kerk.
(ons is gekies)
hier is u kerk.

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Die Kerk / Geloof)
Musiek: AURELIA – Samuel Wesley 1864; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks: Attie van der Colf © 1978 / 2001; gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
(Liedboek 478)
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou.
Apostels en profete het ons dit toevertrou:
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees.

2. Hy roep uit alle volke ’n volk vir Hom tesaam –
een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam!
Hy gee die brood die beker, Hy gee die heil’ge doop
om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop!

Refrein:
Ja Hy lê die steen, Hy is die rots
sy fondament is vas. Hy is God
o ja, Hy is,
ja, Hy is God.

3. O Heer, skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet,
Al pynig ons die smarte, al martel ons die leed:
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop!
In ’n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop!

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Handelinge 7:55-60

Familie-oomblik

Vandag is die perfekte geleentheid om weer ’n slag in te tree vir die vervolgde kerk. Kry inligting hier.

As jul gemeente spesifieke sendelinge ondersteun wat in ’n land werk waar Christene óf nie vryheid het nie óf vervolg word, kan julle terugvoer van hulle gee. Laat die kinders op ’n wêreldkaart (of plastiek aardbol) wys waar die sendelinge is. Wys foto’s – of Skype! – en vertel hoe dit met hulle gaan. Reël dat een van die kinders vir die sendelinge se spesifieke behoeftes bid.

Preekriglyn

Wat maak dit vir mense moontlik om hul eie dood in die gesig te staar ter wille van Christus?

Yousef Nadarkhani is in Iran ter dood veroordeel omdat hy Islam verruil het vir die Christelike geloof. Hy word as ‘n “afvallige” gesien, hoewel ‘n hof bevind het hy was nooit ‘n praktiserende Moslem voor sy bekering nie.

Yousef is in Oktober 2009 in Rasht, sy tuisstad, in hegtenis geneem op aanklag dat hy verpligte Islamitiese onderrig in Iranse skole bevraagteken het. Hy word aan afvalligheid skuldig bevind en in November 2010 die doodstraf opgelê.

Die appèlhof handhaaf sy vonnis, maar versoek die hof in Rasht om vas te stel of hy ‘n praktiserende Moslem was voor sy bekering na die Christelike geloof. Hoewel die hof bevind hy het Islam nooit aktief beoefen nie, word sy vonnis en straf gehandhaaf aangesien hy ‘n Moslem gebore is.

Na vonnisoplegging het die hof aangedui sy straf sal ter syde gestel word as Yousef sy geloof verloën. Hy het drie keer kans gekry om die Christelike geloof af te sweer, ooreenkomstig die Islamitiese Sharia-reg. Yousef het elke keer geweier om dit te doen. Die Iranse hoofregter, Ajatolla Sadeq Larijani, het opdrag gegee dat die uitvoering van die strafoplegging vir een jaar uitgestel moet word. Die hoof van Iran se Islamitiese gesagsliggaam, Ajatolla Khamenei, moes uiteindelik ‘n beslissing oor die vonnis maak.

Die skadu van die doodstraf het lank oor Yousef Nadarkhani geval. Gedurende 2013 is hy uiteindelik vrygelaat, nadat sy vonnis en straf weens heftige internasionale druk tersyde gestel is. Hy is later weer gearresteer, maar aan die begin van Januarie 2014 vrygelaat.

Yousef het die internasionale gesig geword van gelowiges wat steeds weens hul geloof in Jesus Christus vervolg word. Ander is nie so gelukkig nie. Baie verloor steeds hul lewens as martelaars vir hul getrouheid aan Jesus Christus. Die lang ry van martelare oor die afgelope twintig eeue word steeds langer.

Waarom?

Wat maak dit vir mense moontlik om hul eie dood in die gesig te staar ter wille van Christus? Om herhaaldelik te weier om Christus te verloën? Hulle sien verder as die sigbare. Martelare sien die heerlikheid van God, en sien Jesus Christus in die verhewe posisie aan die regterhand van God staan. Hulle weet hulle lewe is verborge in Christus by God.

In die lig hiervan is die gee van jou lewe vir Christus oor en oor die moeite werd.

Die eerste martelaar

Stefanus, van wie ons teks vertel, was die heel eerste persoon wat sy lewe weens geloof in Jesus Christus verloor het. Dit gebeur aan die einde van ‘n lang toespraak voor die Sanhedrin, die hoogste hof van die Jode.

Wanneer die verhoor ontspoor, en die Sanhedrin hom teregstel, sien hy die heerlikheid van God, en Jesus Christus in die verhewe posisie aan die regterhand van God staan. Hy weet sy lewe is verborge in Christus by God. Daarom kan hy sy lewe gee vir die getuienis oor Jesus Christus.

Stefanus was een van die eerste sewe diakens van die gemeente in Jerusalem. Ons weet ‘n paar dinge van hom. Hy was “vol van geloof en die Heilige Gees” (Hand. 6:5). “Vol genade en krag” het hy groot wonders en tekens onder die volk verrig (Hand 6:8). Sommige Jode argumenteer met Stefanus, maar hul argumente kon nie standhou voor die wysheid en Gees waarmee hy gepraat het nie (Hand 6:10). Daarop hits hulle vals getuies aan om te sê Stefanus laster God en Moses. Die godsdienstige leiers gryp Stefanus en sleep hom voor die Sanhedrin, waar mense vals verklaar hy praat teen die tempel en teen die wet. Volgens hulle sê Stefanus Jesus sal die tempel afbreek en die gebruike wat die Jode van Moses ontvang het tot niet maak (Hand. 6:11-15).

Getuienis oor God se werk

Terwyl die Sanhedrin in sitting is, staar die raadslede na Stefanus en sien dat sy gesig soos dié van ‘n engel lyk (Hand. 6:15). Dit is ‘n beskrywing van iemand wat naby aan God is, en van God se heerlikheid uitstraal (Eks. 34:29vv).

Daarop begin Stefanus met ‘n toespraak waarin hy die waarheid van Jesus Christus beskryf. In terme van die lengte daarvan, is dit duidelik dat Lukas (die skrywer van Handelinge) groot waarde aan die toespraak geheg het.

Twee temas is sentraal in Stefanus se toespraak:

  • Regdeur die geskiedenis van Israel het God leiers gegee wat die volk moes red, lei en begelei, maar die volk het hulle deurgaans verwerp en was boonop ongehoorsaam aan God se wet. Josef was bv. deur sy broer verwerp, maar deur God gered om die volk se toekoms te verseker. Moses is gestuur om die volk te red, maar sy leierskap is verwerp.
  • Die Jode het die tabernakel in die woestyn gehad, en later die tempel in Jerusalem. Die volk het die fout gemaak om te dink God woon letterlik onder hulle in die tempel, en het in afgodsdiens verval. Hulle het gedink die tempel gee hulle beheer oor God.

Hierdie twee temas hou verband met die klagtes teen Stefanus:

  • Dit is nie hy, Stefanus, wat teen die wet van God is of leer dat Jesus dit verwerp nie. Dit was in die verlede juis die Jode wat Moses (en die God wat Moses gedien het) verwerp het. Hulle het afgodsdiens beoefen, God se boodskappers, die profete, verwerp en doodgemaak, en nagelaat om die ware wet te onderhou.
  • Hoewel God die tabernakel en die tempel as ontmoetingsplek met die volk gegee het, het God self reeds in die Ou Testament verklaar Hy is nie gebonde aan tabernakel en tempel nie. As Stefanus dus getuig oor ‘n nuwe ontmoeting met God in Jesus Christus, staan dit nie teenoor die Ou Testament nie.

Stefanus getuig dat God regdeur die Ou Testament onder sy volk gewerk het. God sit hierdie werk voort deur die Messias, Jesus van Nasaret, wat deur die Jode verwerp is. So verwerp hulle God se openbaring in die Ou Testament. Hulle verwerp die ware aanbidding van God, soos Jesus dit kom beliggaam het.

Stefanus draai nie doekies om nie. Aan die einde van sy boodskap sê hy:

Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook.

Was daar ooit ‘n profeet wat nie deur julle voorvaders vervolg is nie? Hulle het God se boodskappers doodgemaak wat lank tevore die koms van die Regverdige aangekondig het. Nou het julle self die Regverdige verraai en vermoor.

Julle is die mense wat deur bemiddeling van engele die wet van God ontvang het, en tog het julle dit nie gehoorsaam nie. (7:51-53)

Om die heerlikheid van God te sien

Stefanus getuig van God se handelinge oor die eeue deur sy volk. Hy verdoesel nie die volk se mislukking om God en God se bedoelinge te gehoorsaam nie. Ook nie oor hulle verwerping van God se hoogste en grootste openbaring in Jesus van Nasaret nie.

Toe die Sanhedrin Stefanus se woorde hoor, het hulle woedend op hulle tande gekners. Kort hierna breek die damwal van hulle aggressie.

In hierdie oomblikke sien Stefanus, vol van die Heilige Gees, die heerlikheid van God, en Jesus wat aan die regterhand van God staan. Normaalweg is die heerlikheid van God bedek vir mense se oë. In hierdie oomblikke gee die Heilige Gees hom ‘n visie op God se heerlikheid. “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”

Sy woordkeuse is betekenisvol. Stefanus beskryf Jesus as die “Seun van die Mens” wat aan die regterhand van God staan. Die titel “Seun van die Mens” dui op Jesus wat die oorwinning behaal het. Dit het gebeur deur sy gehoorsame lyding in diens van God. Jesus wat gely het, is verhoog deur God (Luk. 9:22). Lyding tot heerlikheid is ook die patroon wat deur die martelare gevolg sou word. Die Seun van die Mens is die een wat die oorwinning sal gee aan diegene wat vir die evangelie ly, en wat Hom nie sal skaam om hulle name in die teenwoordigheid van God te bely nie (Luk. 12:8).

“Mob justice”

Stefanus se belydenis dat Jesus, wat deur die Jode verwerp is, die ereposisie aan die regterhand van God beklee, en die oorwinnende Heerser (Seun van die Mens) is, was vir die Jode te veel. Hulle skreeu hard en druk hulle ore toe om nie verder Stefanus se laster te hoor nie, soos hulle dit sien. Soos een man storm hulle op hom af, sleep hom die stad uit, en stenig hom.

Die Sanhedrin het nie die reg gehad om iemand tereg te stel nie. Daarom het die hoëpriester Jesus aan die Romeinse gesagvoerder oorhandig en het die skare by Pilatus aangedring om Jesus ter dood te veroordeel.

Hier oorweldig hulle emosies die Sanhedrin, verloor hulle selfbeheersing, en vind “mob justice” plaas. Daar word geen formele skuldigbevinding gemaak of vonnis uitgespreek nie. Alle skyn van orde verdwyn. Stefanus word die slagoffer van die Jode se minagting vir Jesus en sy volgelinge.

Vermorste lewe?

Menslik gesproke lyk Stefanus se dood na ‘n vermorsing. ‘n Dinamiese, jong, wyse getuie van Jesus Christus kom heeltemal te vroeg aan sy einde.

So voel mens oor baie ander martelare. Dink aan die jong pastor, Yousef Nadarkhani, wat so hittete sy lewe ter wille van Christus verloor het. Hoe nodig het die kerk in Iran nie sy Yousef’s, en die jong kerk in destydse Jerusalem sy Stefanusse nie!

Op ‘n menslike vlak borrel die weersin en verset teen magsmisbruik, ‘n vertrapping van menseregte en die koelbloedigheid van ‘n boendoehof in jou binneste op.

Soos die martelare, wat in die aangesig van die martelinstrumente en die dood, verder kan kyk, die heerlikheid van God kan raaksien, en die Here Jesus Christus as heerser oor die heelal herken, so moet ons ook verder kyk.

In die dood van Stefanus is God aan die werk. Hoewel God nie die outeur van Stefanus se dood is nie – die skuld daarvoor rus vierkantig op die Sanhedrin se skouers – word God nie gekeer nie, en bereik God ‘n verstommende einddoel met hierdie tragiese gebeure.

Weerstand teen die Here ontbloot

Stefanus se toespraak fokus op God se werk met die Israeliete deur die eeue. God berei ‘n volk voor deur wie Hy sy genesing en geregtigheid vir die wêreld wil skenk. Israel bly egter faal. Uiteindelik kom Jesus as gestuurde van die Vader om hierdie doel te verwesenlik, en die volk na hulle heerlike bestemming te lei om ‘n seën vir die nasies te wees.

Israel bly ontrou. God se tugtiging deur die eeue loop op bitter min uit. Die weerstand teen God en die onvermoë om God se werk te herken, lei tot die dood van Jesus. Tog is daar Jode wat Christus aanvaar, soos op Pinksterdag. Daar kom ‘n kerk in Jerusalem tot stand. Terselfdertyd bly die weerstand teen God en sy Gesalfde groei. Uiteindelik kom daar ‘n groot breuk tussen Israel en kerk.

Stefanus se dood ontbloot die Jode se agenda teen Jesus en sy kerk as ‘n agenda teen God se bedoelinge met die volk. Hierdie verskriklike onreg is ‘n oproep aan die volk om tot inkeer te kom. Presies dit sou gebeur met ‘n ewe talentvolle jongman, Saulus, wat die moord op Stefanus op daardie stadium goedkeur. Hy sou wel aanstons in sy spore gestuit word, berou toon, en na God draai. God se uitroepteken in Stefanus se sterwenskrete gaan uiteindelik nie by hom verby nie.

Saad vir die evangelie

“Die bloed van die martelare is die saad van die evangelie”, het ‘n bekende kerkvader, Tertullianus, gesê. Mens sou verwag die dood van gelowiges sal die jong, groeiende kerk sou in sy spore stuit.

Tog gebeur die teenoorgestelde. Martelaarskap laat die kerk groei. Die evangelie versprei en die kerk groei nie bloot deur mooi, passievolle preke nie. Die voorbeeld van die martelare, mans en vroue, wat tot in die dood volhard, trek ander nader aan die geloof in Christus. Hoe meer eers die Sanhedrin en later veral die Romeinse keisers die Christene vervolg het, hoe meer groei die kerk. Aan die begin van die vierde eeu n.C. is meer as die helfte van die Romeinse staat se burgers Christene.

Die saad van die evangelie is inderdaad die bloed van die martelare.

Stefanus se voorbeeld

Mens sien spesifiek in Stefanus se dood die krag van martelaarskap. In sy laaste oomblikke versterk God die martelaar deur hom die heerlikheid van God te laat sien. Wat vir ander mense verborge bly, dit sien die martelaar. Die gordyn van die hemel weggetrek, en die Seun van die Mens word aan die regterhand van God sigbaar.

Dit maak dit vir Stefanus moontlik om sy vervolgers in sy laaste oomblikke te vergewe: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie” (60). Hy sterf met die woord, “Here Jesus, ontvang my gees!” (59)

Vir Stefanus is dit meer as sy lewe wat op die spel is. Hy is gefokus op God. Hy weet as hy lewe, is dit tot voordeel van die kerk. As hy sterwe, is hy by Christus. Dis nie werklik die klipgooiers wat sy lewe en geluk bepaal nie. Christus doen dit. Daarom kan hy met vergifnis in sy hart en verlange na die Here sterwe.

Hierdie voorbeeld van ‘n geseënde dood, van moedigheid, vergewensgesindheid en bewussyn van die heerlikheid van God het deur die eeue ‘n kragtige effek op die omstanders gehad. Hulle het God in die lewe van die sterwende en veroordeelde raakgesien, en self begin glo.

Ook Jode kom tot geloof

In die eerste dekades van die kerk se bestaan, lees ons dikwels hoe Jode verhard die evangelie bly verwerp het. Van Paulus se grootste worstelinge was die onverklaarbare raaisel dat God se volk Hom verwerp het.

Tog toon godsdiens-sosioloë soos Rodney Stark oortuigend aan dat die dramatiese groei van die Christelike kerk in die eerste eeue na Christus deels te wyte is aan groot getalle Jode wat tot bekering gekom het. Baie van hierdie Jode was juis diegene wat deur die stede van die hele Romeinse Ryk verspreid gewoon het. Paulus se sendingreise, waarin hy telkens die Joodse sinagoges in nuwe stede gaan opsoek het, het jare later uiteindelik besonder suksesvol geblyk te wees.

In later dekades het die Jode onder andere Stefanus se toespraak weer gelees en gehoor, opnuut God se bedoelinge deur sy volk verstaan, en hul lewens aan Christus gegee. Stefanus, God se uitroepteken, so wreed vermorsel daar in Jerusalem, se woorde het langsamerhand vrug gedra. Sy toespraak en sy dood was nie tevergeefs nie.

Woorde en dade

Stefanus is die prototipe van talle martelaars wat na hom sou volg. Sy optrede onder die aanslag teen die kerk is ook nagevolg. In die eerste eeue het die aanslag teen die Christelike geloof op twee vlakke gelê:

  • Die samehang, logika en rasionele integriteit van die Christelike geloof is aangeval. Geleerde mense wou aantoon dat die geloof onsinnig was. Die apostels en latere teoloë, bekend as die kerkvaders, het die geloof teen hierdie aanslae verdedig. Dit is soos Stefanus wat, in die aangesig van die aanslae deur die Sanhedrin, in sy toespraak ‘n samehangende blik gee op die logika van God se betrokkenheid by die wêreld deur sy volk.
  • Christene self is wreedaardige, liggaamlike leed aangedoen. Dikwels doodgemartel of tereggestel. Ook dit gebeur met Stefanus. En soos hy oomblikke tevore met sy woorde ‘n getroue getuie was, is ook sy wreedaardige dood ‘n getuienis van sy getrouheid aan God, en veral van God se getrouheid aan hom.

Dit is juis die wyse waarop Christene deur woord en daad die aanslae teen die geloof hanteer het, dat die kerk bly groei het.

Vir vandag

Hierdie is ook ‘n boodskap vir vandag. Die aanslae teen die Christelike geloof het nie opgehou nie. Selfs in die vrye Weste vra ons getrouheid aan die Here dat ons die integriteit van ons geloof met woord en voorbeeld gestand moet doen. ‘n Paar voorbeelde:

  • Daar is in baie gesinne lyding om kinders of huweliksmaat – in die aangesig van teenstand uit die gesin – getrou aan die Here leef.
  • Die intellektuele aanslag teen geloof het nog nie opgehou nie. Geloof word steeds passievol afgekraak en as belaglik voorgehou.
  • Baie gelowiges verkeer in lewensgevaar, en word van hul gesinne vervreem of van hul lewe ontneem.

Tog bly die kerk steeds groei, ten spyte van vervolging. Die onderdrukking van geloof in kommunistiese lande, het die kerk gelouter en in baie gevalle laat gedy. Dink aan China waar die ondergrondse kerk dramaties groei.

Die Here is teenwoordig in ons lyding ter wille van ons geloof. Die Here laat ons sy heerlikheid sin, en maak ons geloof dieper, voller, groter en wyer wanneer ons deur woord en daad uitgedaag word om te getuig.

God stuur ons om te leef

Voorbidding
Bid vir die vervolgde kerk. Kry riglyne hier.

Slotsang
Lied 477 “Hou Christus self sy kerk in stand”
F66. “Op Vaste Fondamente”

Seën: (n.a.v. 1 Pet 2:9)
Julle is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Respons
Lied 316 “Kom seën en beskerm ons nou”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.