Vyfde Sondag van Paastyd

Sections

Liturgie

Toetrede
Lied 526 “Waar daar liefde is” of
F21. In Die Hemel Is Die Heer [baie bekend]

Votum: Openbaring 21:1-5)

Seëngroet

Lofsang
Psalm 148 [Leesrooster Psalm] of
Lied 602 “Ek sien ‘n nuwe hemel kom” [Leesrooster teks] of
Lied 168 “Heilige Jesus” of
VONKK 5 Vreugde! Vreugde! [dieselfde melodie as “Praat ek mense-, eng’letale]

Wet en Toewyding
Genadeverkondiging

Geloofsbelydenis: Lied 264 “Hoe heerlik is die Jesus-naam!

Gebed

Skriflesing: Johannes 13:31-35

Familie-oomblik

Preek
Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 530 “Praat ek mense-, eng’letale”

Seën

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 526 “Waar daar liefde is” of
F21. In Die Hemel Is Die Heer [baie bekend]

Votum: (Openbaring 21:1-5)
21 Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. 2En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar man versier is.

3Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

5Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

6Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.

Seëngroet

Lofsang
Psalm 148 [Leesrooster Psalm] of
Lied 602 “Ek sien ‘n nuwe hemel kom” [Leesrooster teks] of
Lied 168 “Heilige Jesus” of
VONKK 5 Vreugde! Vreugde! [dieselfde melodie as “Praat ek mense-, eng’letale]

Wet en Toewyding
Johannes 13:34-35 en Lied 250 “Gods wet vra al ons liefde”
of Johannes 13:34-35 en VONKK 278 Hemelse Vader, van U kom smeek ons
of VONKK 57 Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod

Genadeverkondiging
V: Die Here bring vanoggend vir ons almal die goeie boodskap dat ons gered is.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

V: Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; met die mond bely ons, en ons word gered.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

V: Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

V: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
G: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.
(Uit “Soos ’n Blom na die Son draai” deur Cas Wepener)

Geloofsbelydenis
Lied 264 “Hoe heerlik is die Jesus-naam!”

Liedere

F21. “In Die Hemel Is Die Heer”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Verwondering) Teks en musiek: Tom Hiemstra Teks: (strofes 3,4 onbekend)
© 2001 MAR Gospel Music Publishers (vers 1 en 2 opgeneem op Louis Brittz se CD Ons Koning kom weer)

1. In die hemel is die Heer
en sy glans is soos kristal.
Hy’s die Heilige van God
en Hy heers oor die heelal.

Refrein:
Daar is mag in sy Woord!
Soos die waters druis sy stem.
Soos die son op die see se blou,
so die rykdom van sy trou.
Want aan U is die mag
en die heerlikheid en krag.
En aan U is die eer
en die lof, want U regeer.

2. Miljoene in gereedheid,
is die eng’le om sy troon.
Verbysterend sy sieraad
en die weelde van sy kroon.

Refrein:

3. Drie maal heilig is die Heer,
Hy wat was en is en kom.
Hy’s die Alfa en Omega,
almagtig en verhewe.

Refrein:

4. Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
die heerlikheid en lof
van nou af en vir ewig.

Refrein:

VONKK 278 “Hemelse Vader, van U kom smeek ons”
Teks:  Elena G Maquiso; Hannes van der Merwe 2014 © Melodie: ILONGGO – Tradisioneel Filippyns
Orrelbegeleiding: Friena Maritz 2014 © © Teks en orrelbegeleiding: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit RUBRIEK:  Multikultureel – Gebede / Drie-eenheidsondag / Geloof en Vertroue

1. Hemelse Vader,
van U kom smeek ons:
Gee aan u kinders
u liefde,  deernis.
Maak ons ‘n eenheid
deur u genade.
Hemelse Vader,
U is ons God.

2. O Here Jesus,
ons kniel hier voor U,
herdenk u lyding
en u oorwinning.
Ons bring ons lofsang
en ons aanbidding
aan U, o Here.
U is ons God.

3. Heilige Trooster,
ons vra afhanklik:
Skenk ons genade,
geloof, volharding.
Neem ons gebede
tot by die Vader.
Heilige Trooster,
U is ons God.

VONKK 5 “Vreugde! Vreugde!”
Teks: JJH du Plessis 2007 (Pro Deo) Melodie: ODE AN DIE FREUDE (Koraal-simfonie Nr 9) – Ludwig van Beethoven 1824 (ritmies aangepas)
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: openbare besit RUBRIEK:  Klassiek – Paasfees / Uitsending

1. Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde,
want ons Heiland het verrys.
Tot die dood was Hy verneder,
uit die graf het Hy herrys.
Alle eer aan die Oorwinnaar!
Elke knie moet voor Hom buig.
“Jesus Christus is die Here!” –
elke tong moet dit getuig.

2. Jesus leef, Hy heers vir ewig,
heerlik is sy majesteit.
As gestuurde van die Vader
stuur Hy ons nou wêreldwyd.
Hy bring heling, skenk bevryding:
daarvan moet ons bly getuig.
Vreugde! Vreugde! Juig van vreugde
want ons Heiland het verrys.

VONKK 57 “Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod”
Johannes 13:34-35 Teks: A new commandment I give unto you  – Roy Crabtree; Afrikaanse teks:  Daleen Kruger 2008 (Pro Deo)
Melodie: NEW COMMANDMENT – Roy Crabtree  Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Andy Silver Kantoryverwerking: Albert Troskie 2011 (Pro Deo)
© Melodie en klavierbegeleiding: Roy Crabtree   © Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking:  2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)  RUBRIEK: Kontemporêr – Die Wil van God / Liefde, Dankbaarheid en Diens

Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê,
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 13:31-35

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Laat almal voorbeelde noem van liefde.  Wie is almal lief vir jou?

As julle mense in jul gemeente het wat betrokke is by een of ander liefdesdiens – voedingsprojek, versorging van kinders, ens – gee inligting van die projek deur en verduidelik dat dit ook liefde is.

Julle kan ook “charades” speel, waar mense verskillende maniere van liefde wys uitbeeld.  Kyk by hier 

BybelMedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2015-16 maak die volgende oulike voorstel:
Vra vir die kinders hoe mense kan sien in watter skool hulle is.
As jy in die winkel gaan rondloop met jou skooluniform aan gaan almal mos weet in watter skool jy is.
Jesus sê dis so met ons wat sy dissipels is ook. Ons het ook ‘n uniform waaraan mense ons uitken.
Jesus sê in Johannes 13:35: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van my is.”
Ons uniform is nie klere nie, maar dat ons vir God, mekaar en ander mense lief is!

Preekriglyn

Ons kort teksgedeelte is gelaai met intrige en betekenis. Die toneel is Jesus se laaste gesprekke met sy dissipels op die vooraand van sy gevangeneming en kruisiging. Judas verlaat die dissipelkring nadat hy die stukkie brood by Jesus gevat het. Verder is Jesus se verheerliking ter sprake. Die spanning word verdiep met die mededeling dat Jesus ook die dissipels gaan verlaat. Waar Hy heen gaan, kan die dissipels nie kom nie. Maar hulle word geroep om mekaar met Jesus se liefde lief te hê.

Dis ‘n mondvol. Tot vandag is hierdie gedeelte ryk aan betekenis vir die lewe van Jesus se dissipels.

Judas se verraad

Ons teks verwys na Judas wat die dissipelkring verlaat. In die voorafgaande gedeelte sê Jesus die dissipels wat Hom gaan verraai, is die een vir wie Hy die stukkie brood gaan aangee. Hy gee dit dan aan Judas, met die opdrag dat Judas gou moet maak. Judas neem die brood, en gaan dadelik uit. Dit was letterlik (en figuurlik) nag.

Jesus het duidelik geweet wie Hom gaan verraai. Waarom Judas besluit het om Jesus te verraai, is onduidelik. Ons getuienis oor Judas se innerlike worsteling is beperk. Judas was ingetrek by die worsteling tussen lig en duisternis; tussen waarheid en leuen; tussen God en Satan. Judas word ‘n voertuig van God se teenstanders.

Toe Judas die brood neem, het die Satan in hom ingevaar. Van dié oomblik af is Judas nie meer homself nie. Hy is oorgeneem deur die duisternis. Dit is nie Jesus wat die duiwel in hom ingejaag het nie. Hierdie gedeelte wil eerder sê Satan kon niks doen voordat Jesus hom die reg daartoe gegee het nie. Dit dui op die mag wat Jesus het. Hy is in beheer van alles wat met Hom gebeur. As Jesus sê Judas moet gou maak, bevestig dit hierdie gedagte. Jesus is volkome in beheer. Soos Hy in Johannes 10:17-18 gesê het, lê Hy sy lewe sélf af en sal dit ook sélf opneem.

Judas was iemand wat nader aan God se openbaring was as baie ander mense. Hy het Jesus se onderrig beleef en sy wonderwerke gesien. Petrus het getwyfel toe Jesus oor sy kruisiging gepraat het en Tomas sou later die opstanding betwyfel, maar ons het geen aanduiding dat Judas ooit iets anders as getrou was nie. In die bokamer wou Petrus nie dat Jesus sy voete was nie. Judas het dit oënskynlik hom laat geval en Jesus se nederige rol aanvaar. Iets moes gebeur het om die man se ywer te vernietig. Hy het kante geruil en ‘n pion van die bose geword.

Intense aanvalle

Opvallend genoeg word die verraad in die bokamer aan die orde gestel. Die bokamersituasie was ‘n keerpunt in die lewe van die dissipels. Jesus het hier besondere geestelike voorbereidingswerk gedoen. Daar waar God intensief besig is om te werk, is Satan se aanval soveel meer intens.

In die Lukasevangelie se weergawe van die laaste nagmaal is dit op hierdie punt dat Jesus vir Simon Petrus vertel dat die Satan hom ook wil hê (Luk 22:31-32). Satan se begeerte om Jesus se volgelinge te verongeluk, bereik dieper vlakke as wat ons kan dink. Die vraag kom onwillekeurig of almal wat vandag intiem verbind is met die lewe en werk van Christus, ook so kwesbaar is?

Moderne verraad

Judas se optrede is paradoksaal. Mens vra jouself af hoe dit moontlik is dat iemand in die dissipelkring opgeneem is, en tog sy rug op Jesus kan draai. Hoe kan so iets gebeur?

Hierdie verraad is ‘n moontlikheid wat nie net tot die kring van die dissipels beperk is nie, maar ook betrekking het op vandag se volgelinge van Jesus. Vir baie is die wegdraai en die uiteindelik verraad iets wat oor ‘n lang tyd in hulle groei. Dalk het dit te doen met ander stemme wat algaande die stem van Jesus in hul lewe begin verdring. Of met verwagtinge van Jesus wat nie materialiseer nie. Dalk het jy gemeen Jesus sou bepaalde seëninge oor jou uitstort, maar vir jou gevoel het jy net teenspoed beleef.

Geweldige trauma of lyding kan ‘n Godsverduistering oor mens bring. Ons moenie vinnig wees om mense wat van Jesus wegdraai te veroordeel nie. Die regte weg is om steeds liefde te beoefen, en oor Jesus te bly gesels en te getuig.

Verder moet ons self aan Jesus bly vashou en ons bly voed met die woorde van Jesus, wat lewe gee. Dit is voorts wesenlik om nie jou rug op die dissipelkring te draai nie, selfs al misluk so baie dissipels, want in die geloofsgemeenskap lê die behoud van die band met Jesus.

Waarskuwing

Judas se verhaal is ook ‘n waarskuwing. Ons lees sy verhaal as “insiders” wat dink dit teken ‘n prentjie van iemand anders. Maar Judas is ‘n meer verontrustende figuur as Pilatus en Kajafas of enige van die ander Joodse leiers. Hy het immers die lig gesien en dit verstaan, maar nogtans die duisternis gekies. Judas is die herinnering daaraan dat elke dag oordeelsdag is en dat op enige dag die getrouste volgeling, soos Judas, of soos ek en jy, mag wegdraai van die lig en die duisternis in strompel, vasgevang in die mag van die bose.

Paulus is brutaal eerlik oor die moontlikheid van hierdie bedreiging. Hy waarsku teen die mense wat “die Satan navolg” (1 Tim 5:15), en dié wat deur die duiwel verlei kan word om “sy wil te doen” (2 Tim 2:26). Johannes self konfronteer mense wat Christus ken, wat met die geloof goed bekend is, maar wat dit verdraai en dan teenoor Christus gaan staan. Hy noem hulle die “antichris” (1 Joh 2:18, 22; 4:3; 2 Joh 1:17).

Dis is maklik om verleiding in ‘n ander se lewe raak te sien. Die moeiliker opgaaf is om dit by jouself te eien. Daarom het ons mekaar se wysheid, ondersteuning en oorsig oor ons lewens nodig.

Viervoudige verheerliking

Wanneer Judas laat spaander, bly Jesus duidelik die Een wat in beheer van sake is. Hy vermy nie die verraad en die lyding wat voorlê nie. Jesus reageer op die verraad en kruis deur te sê die Seun van die mens gaan verheerlik word. Die lyding wat voorlê is die pad van sy verheerliking. Jesus is nie die passiewe slagoffer van Judas se verraad nie. Hy kies om sy lydingsweg as pad na sy verheerliking in gehoorsaamheid te loop.

Iemand sê die gedeelte vertel van ‘n viervoudige verheerliking:

Die verheerliking van Jesus het aangebreek. Die verheerliking is die kruis. Die spanning is weg. Enige twyfel is finaal verwyder, heeltemal weg. Judas het uitgegaan en die kruis is nou verseker.

In Jesus is God verheerlik. Die gehoorsaamheid van Jesus verheerlik God. Daar is slegs een manier vir iemand om te wys dat Hy sy Vader liefhet, bewonder en vertrou, en dit is om hom te gehoorsaam, indien nodig tot die bitter einde toe. Die enigste manier vir ‘n kind om sy ouers te eer is om hulle te gehoorsaam. Jesus bewys die hoogste eer en glorie aan God, omdat Hy tot die dood gehoorsaam sal wees aan Hom.

In Jesus verheerlik die Vader Homself. Dit is ‘n vreemde gedagte dat die hoogste eer van God in Jesus se menswording en die kruis lê. Daar is geen groter eer as dat iemand jou lief het nie.

God verheerlik Jesus. Dit is die anderkant van die saak. Op hierdie oomblik was die kruis die verheerliking van Jesus. Maar daar is veel meer. Na die opstanding en die hemelvaart kom ook die finale triomf van Christus. Dis is waarvan die Nuwe Testament praat as die tweede koms van Christus. Op die oomblik is die kruis die verheerliking van Jesus, maar die dag sal kom dat sy heerlikheid sigbaar sal wees aan die hele skepping.

Opdrag aan die dissipels

Die verheerliking van Jesus sal uitloop op sy weggaan (33). Dit beteken nie dat sy dissipels ledig moet wag op sy terugkeer nie. Wanneer Jesus weggaan, moet sy dissipels optree soos Hy van sy volgelinge verwag. Hy is hulle Here en Meester en hulle moet Hom eer deur sy gebod uit te voer (34-35)

Die basiese opdrag van Jesus is liefde, wat in hierdie verband nie op ‘n blote gevoel dui nie, maar opofferende liefde soos Jesus met die voetwassing geïllustreer het. Die gebod van die liefde was nie heeltemal nuut nie – die wet en die profete is opgesom in die dubbele gebod: Jy moet die Here jou God liefhê . . . Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Deut 6:5; Lev 19:18; Mark 12:28-33; Gal 5:14). Deur sy onderrig en voorbeeld het Jesus nuwe betekenis aan die gebod gegee.

Jesus gee ‘n uitdruklike opdrag aan sy dissipels. Hy gebruik in Johannes 13:34 die sterkste taal moontlik. Vir Jesus is hierdie opdrag nie net ‘n voorstel of ‘n suggestie nie, net so min as die opdragte van die Vader aan Hom ”n suggestie was. Die opdrag om lief te hê, dra al die gesag van die persoon wat dit gegee het; God self.

Die opdrag om lief te hê was vir Johannes van die grootste belang. Dwarsdeur sy briewe verwys hy daarna as die kenmerk van diegene wat die teenwoordigheid van God in hulle lewe reflekteer. Johannes het as pastor waarskynlik ‘n gemeente gesien wat deur rusie verdeel is (1 Joh 2:11). Daarom stel hy die eis om Christus se liefde te wys, in belangrikheid, gelyk aan die geloof in Christus (1 Joh 3:23).

Liefde gee en ontvang

Die liefdesgebod stel in woorde wat Jesus in Johannes 13:14 bedoel het toe Hy sy dissipels beveel het om mekaar se voete te was. As ons nie ‘n ondubbelsinnige ervaring of belewenis gehad het van hoe dit werklik voel om liefde te ontvang nie, is dit onmoontlik om self onvoorwaardelik liefde te betoon aan iemand anders. Jesus staan op die punt om sy dissipels te verlaat, maar Hy laat hulle ‘n skat na voordat Hy gaan; sy liefde, sy vreugde (Joh 15:11) en sy vrede (Joh 14:7).

Tertullianus vertel van die heidene (‘n eeu nadat hierdie evangelie geskryf is) wat oor die Christene opmerk: “Kyk hoe lief het hulle mekaar! Hoe gereed is hulle om vir mekaar te sterf.”

In die vroeë kerk was dit juis die sosiale omgee vir mekaar en die toewyding van Christene aan mekaar wat so ‘n verblindende getuienis was in die Romeinse wêreld met sy skerp sosiale verdelings en grense. Niks kan ‘n beter getuienis in hierdie stukkende en gebreekte wêreld van ons uitdra as die radikale en opregte liefde wat tussen die lede van die kerk bestaan nie.

Daar is baie plekke waar jy gemeenskappe gaan kry wat jou belange deel. Daar is baie plekke met mense net soos jy; lief vir sport, lief vir musiek, lief vir tuinmaak, lief vir politiek, lief vir motors. Maar dit is die opdrag van die kerk om ‘n gemeenskap van liefde te wees, ‘n gemeenskap van volgelinge van Jesus Christus wat in mekaar belê omdat Christus in hulle belê het. Mense wat nie liefde betoon op grond van die gedeelde belange of die aantreklikheid van die ander nie, maar wat liefhet op grond van die voorbeeld van Christus Jesus, wat almal se voete gewas het, ook dié van Judas.

Waarheid en liefde

Jesus verbind liefde en dissipelskap. As ons mekaar liefhet, sal almal weet ons is dissipels van Jesus (35). Dissipels is mense wat die lewe, leer en voorbeeld van Jesus navolg. Jesus is die waarheid, en gee die opdrag om lief te hê.

Dit is dikwels moeilik om liefde en waarheid sáám vas te hou. Christene verskil dikwels in nasionale debatte oor kerklike, politieke of kulturele sake. In plaaslike gemeentes verskil ons ook. Die spanning tussen ons passie vir die waarheid en die opdrag van Jesus om lief te hê, bly lewensgroot by ons.

Ons faal baie keer. Kyk hoe ons oor leerstellige sake kan verskil, hoe ons met een of ander sosiale saak of geregtigheid onderling met mekaar kan handel, mekaar veroordeel, uitsluit, afbreek en bespot. Dis soms skrikwekkend hoe die ywer vir die waarheid en die opdrag om lief te hê so teenoor mekaar kan staan binne die kerk en gemeentes en gemeenskappe.

Ja, dit is nie altyd eenvoudig om die verheerlikte Christus te volg nie. Dikwels veraai mens vir Jesus. Dikwels faal ons die liefde wat Hy ons geleer het. Ons word in hierdie teks genooi om nie soos Judas “uit te gaan” nie, maar by Jesus te bly en sy groot, vernuwende gebod uit te voer. Ons doen dit as mense wat beleef het Jesus dien ons. Hy het my voete gewas, en ook die voete van Judas. So moet ek en jy ook liefhê!

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 530 “Praat ek mense-, eng’letale”

Seën