Vyfde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

In die sleutelteks, Johannes 15:1-8, is Jesus Christus die wingerdstok en sy Vader die boer wat sorg dat die wingerd vrug dra. In dié metafoor is gelowiges se gehoorsaamheid aan God die vrug en die sigbare bewys dat iemand ‘n navolger van Jesus Christus, die wingerdstok, is.

Handelinge 8:26-40 vertel die verhaal van Filippus wat gehoorsaam was aan die opdrag van die Here, en daarom kon die evangelieboodskap ook in Etiopië uitkom.

Psalm 22:25-31 roep die gemeente op om die Here saam met die psalmdigter te loof.

In 1 Johannes 4:7-21 hoor ons dat God liefde is en altyd die bron van alle liefde sal wees. En deur die werking van die Heilige Gees, stel God ons in staat om lief te hê.

Die goue draad wat in al die tekste voorkom is dat gehoorsaamheid ontstaan binne die geloofsverhouding tussen die drie-enige God en die gelowige.

Ander tekste

Handelinge 8:26-40
Filippus en die Etiopiër
26’n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.” Dit is ’n stil pad.

27Filippus het toe klaargemaak en gegaan.

’n Ontmande Etiopiër wat ’n hoë pos beklee het aan die hof van die kandake, soos die koningin van Etiopië genoem is, en wat haar geldsake beheer het, het na Jerusalem toe gekom om te aanbid. 28Hy was nou op pad terug en het op sy wa gesit en lees uit die profeet Jesaja. 29Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan loop saam met daardie wa.”

30Filippus het daarheen gehardloop en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra toe vir hom: “Verstaan u wat u lees?”

31Die Etiopiër antwoord: “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?”

Hy het Filippus gevra om op te klim en by hom te kom sit. 32Die Skrifgedeelte wat hy gelees het, was dit:
“Soos ’n skaap is Hy gelei
om geslag te word;
en soos ’n lam wat stil is
as hy geskeer word,
het Hy nie sy mond oopgemaak nie.
33In sy vernedering het daar nie reg
aan Hom geskied nie.
Wie sal van sy nageslag kan vertel?
Sy lewe op aarde word beëindig.” v
34Die amptenaar vra toe vir Filippus: “Sê vir my, asseblief, van wie praat die profeet hier, van homself of van iemand anders?”

35Filippus het by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom verkondig.

36Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?” w

38Toe het hy die wa laat stilhou. Filippus en die hofdienaar het albei in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop. 39Toe hulle uit die water kom, het die Gees van die Here vir Filippus weggeneem. Die amptenaar het hom nie meer gesien nie en het sy reis met blydskap voortgesit.

40Filippus is later in Asdod aangetref. Hy het daarvandaan deur al die dorpe gegaan totdat hy in Sesarea gekom het, en oral het hy die evangelie verkondig.

Psalm 22:25-31
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

1 Johannes 4:7-21
God is liefde
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Fokusteks

Johannes 15:1-8
Die ware wingerdstok
15 “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Ekstra stof

Johannes 15:1–26 – Om Jesus te aanvaar en sy pad vir jou te omhels, is die lewe
Die hoofstuk val in drie dele uiteen:

  • Jesus is die ware wynstok – die Een in Wie hulle moet bly om vrug te dra – 15:1-8;
  • Jesus het hulle uitgekies om vrug te dra – hulle sal dit doen deur mekaar lief te hê – 15:9-17;
  • Soos die wêreld Jesus gehaat het, sal die wêreld hulle ook haat – Jesus stuur vir hulle die Heilige Gees wat hulle in hul getuienis sal bystaan – 15:18-27.

15:1-8: Jesus word hier gekontrasteer met die volk Israel.  In die OT is Israel baie keer met ‘n wingerdstok of wingerd vergelyk (Ps 80:9–16; Jes 5:1–7;  Jer 2:21;  Eseg 19:10–14;  Hos 10:1).  Waar Israel egter ‘n wilde wingerdstok geword het (Jer 2:21), is Jesus die ware wingerdstok, dié Een uit wie die wingerd van God sal groei en gedy.

Die klem lê op wat God deur Jesus regkry in die lewe van gelowiges.  Hy is die boer, Jesus die wingerdstok waaruit die gelowiges as lote vrug dra.

Soos Israel uitgetrek en verwoes is (verwys na die ballingskappe – Eseg 19:10-14) sal die lote wat nie vrug dra nie afgesny word – interessant genoeg, nie die hele wingerd, soos in Israel se geval nie, maar net die loot wat nie vrug dra nie.  Dit verwys waarskynlik na Judas, die onberoulike wat sy rug op Jesus gedraai en Hom verraai het.  En dit bly ‘n waarskuwing aan gelowiges wat afvallig word.

Dié wat vrugdra word egter reg gesnoei sodat hulle nog meer vrug kan dra.  Dit verwys waarskynlik na Petrus (en die ander dissipels) wat ten spyte van sy verloëning (en hulle verlating van Jesus in sy uur van nood) deur Jesus nader getrek en heraangestel word as herder van die kudde (Joh 21:15-19).

Petrus het al vrug gedra met: sy belydenis (Joh 6:67), sy onderwerping aan Jesus se voete-was (Joh 13:9) sy gebrekkig verbintenis (Joh 13:37) ensomeer – Judas egter geen: net sy klagte oor die salwing met die reukolie (Joh 12:4), en sy volharding om Jesus te verraai (Joh 13:30; 18:3) word ons vertel.

Die reg snoei werk word deur Jesus se woorde gedoen en word as effektief bewys deur die vrug wat hulle dra.  Die geheim van vrug dra is dus om in Jesus te bly, dws om sy woorde aan te hang en te doen.  Dit moet – wat ook die leuse van die Bybelskool is – ‘n huis word waarin jy woon.  Dit moet jou hele lewe bepaal.

Let op weereens dat die vrug uitgespel word as gebedsverhoring en dissipelskap (vgl Joh 14:13).  Dit is om in Jesus te bly, en van Hom te vra dat God verheerlik word in die lewens van mense – en Hy belowe om daardie gebede te beantwoord.

15:9-17:  Die liefde vir mekaar word in God se liefde vir Sy Seun begrond en as model vir ons liefde gebruik – nie net soos ons liefhet nie, maar soos God liefhet, só moet ons liefhê.  En die liefde word prakties uitgespel as die uitvoer van God se opdragte (woorde) selfs al sluit dit die dood in (vgl ook 1 Joh 3:16).  Dit is ook die enigste ware en blywende bron van blydskap, en maak van ons vriende van God, wat in sy vertroue geneem word, soos ‘n Abraham van ouds (Gen 18)!

En die gehoorsaamheid hieraan ook nou weer nie afhanklik gemaak van ons keuse vir God nie, maar van Sy keuse vir ons.  Anders as die dissipels van daardie tyd wat ‘n rabbi vir hulleself gekies het, het Jesus self sy dissipels uitgekies!  Dit is hoe God werk!

Dit is ongelooflik vir my. Dit is Hý wat ons aangestel het om vrug te gaan dra, en wat sorg dat iemand soos Petrus die reus kan word wat ons aan die einde van sy lewe in hom kon raaksien.  Dit is vir my ‘n ongelooflike troos as ek aan my eie broosheid en gebrokenheid dink.  Hy kan dit ook vir my doen.

Weereens herhaal Jesus die feit dat Sy Vader ons gebede sal verhoor – daar is niks belangriker as gebed nie!

15:18-27: Soos so vele kere in die evangelie van Johannes word onmiddellik na die hoopvolle verkondiging van God se werk in ons, ook die konteks van die teenstand wat ons van die wêreld sal ervaar, geteken.  Die wêreld sal ons haat.

Wat in moeilike omstandighede ons kan troos en bewaar, is die wete dat dit nie anders wat met Jesus nie, en dat teenstand die Skrifwoord bevestig: “Hulle het My sonder rede gehaat”.  Dawid se woorde word op Jesus van toepassing gemaak uit Ps 35:19; 69:5 .  Agitofel is waarskynlik weereens die agtergrond vir wat Dawid daaroor te sê het en laat ‘n mens dink dat Jesus vir Judas met Agitofel vergelyk.

Daarby stuur Jesus vir hulle die Heilige Gees wat self sal getuig oor Hom en hulle in hul getuienis sal versterk.  Daaroor sal die volgende hoofstuk meer te sê hê.

En uiteraard kan ons nie self val vir die verleiding van die wêreld nie, en die wêreld en die wêreldse dinge leer lief kry nie, want dan versaak ons die Een wat in ons werk om vir Sy wil te vra en dit te doen (1 Joh 2:15).

Ek is verras met hoe die episodes met Judas en Petrus eintlik die agtergrond verskaf vir baie wat Jesus in hierdie toespraak op pad na Getsemane sê.  En die realiteit is, ‘n mens kan God se keuse vir jou afwerp en ignoreer soos ‘n Judas, of in jou gebrokenheid aanvaar en omhels soos ‘n Petrus.

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 58 of Lied 295 v 3 of Flam 144

Votum: (Responsories op grond van Jesus se “Ek is” uitsprake in Johannes)

Seëngroet

Lofsang: Flam 105 of Lied 334

Die Wil van God: 1 Johannes 4:7-21

Verootmoediging: Lied 273 of Flam 294 of VONKK 56

Genadeverkondiging: 1 Johannes 4:9-10

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Johannes 15:1-8 (met video)

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang: Lied 269

Seën

Respons: Lied 269 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 58 Ons Vind Ons Krag In Die Here
Lied 295 v 3 “Heer, U laat ons hier vergader”
Flam 144 God Is Liefde 

Votum
V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die brood wat lewe gee.”
G: Voed ons vanoggend sodat ons nooit weer honger en nooit weer dors sal kry nie.

V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die lig vir die wêreld.”
G: Skyn in elke duister hoekie van ons lewe en gee vir ons die lig wat lewe gee.

V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die ingang vir die skape.”
G: Laat ons deur U in- en uitgaan en gee vir ons weiding.

V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die goeie herder.”
G: Dankie dat U u lewe vir ons afgelê het.

V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe.”
G: Ons glo in U, Here Jesus, en sal leef al sterf ons ook.

V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”
G: Ons gaan deur U na die Vader.

V: Here Jesus, U het gesê: “Ek is die ware wingerdstok en julle die lote.”
G: Help ons om in U te bly sodat ons baie vrugte sal dra.
(Uit Cas Wepener se “Soos ‘n blom na die son draai”, Bybel-Media 2011)

Seëngroet

Lofsang
Flam 105 Hy’s Die Een Wat Ek Liefhet [bekend]
Lied 334 “God is Liefde!” juig ons harte”

Die Wil van God
1 Johannes 4:7-21
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Verootmoediging
Lied 273 “Laat my met u verenig lewe”
Flam 294 Neem My Lewe
VONKK 56 My God, Hoe Doelloos, Hoe Verward

Genadeverkondiging
1 Johannes 4:9-10
9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Geloofsbelydenis

Liedere

F144.” God Is Liefde”
(RUBRIEK: Flam – Kersfees / Epifanie, lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: Attie van der Colf © NG Kerk Uitgewers
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21, Rom 5:1-11, Joh 3:16)

God is liefde,
juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef,
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef.

VONKK 58 “Ons Vind Ons Krag In Die Here”
Nav Jeremia 17:7
Teks: Neelsie van Zyl 2007 ©
Melodie: NEELSIE – Neelsie van Zyl 2007 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2009
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Kontemporêr – Geloof en Vertroue, Uitsending

Ons vind ons krag in die Here –
op Hom sal ons vertrou,
op Hom sal ons vertrou.
Ons vind ons krag in die Here –
Hy maak ons soos ‘n boom wat vrugte dra,
Hy maak ons soos ‘n boom wat vrugte dra.

F105. “Hy’s Die Een Wat Ek Liefhet”
(RUBRIEK: Flammikidz – Toewyding)
Musiek: Tradisioneel
Teks: Jan de Wet
© 1999 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Lofliedere vir Jesus – 100 Gunstelinge)

Hy’s die een wat ek liefhet in die môre,
Hy’s die een wat ek liefhet in die aand.
Hy’s die een in die awendskemer,
Hy’s die een in die middernag.
Hy’s die wynstok, ons is die lote,
Hy’s die pottebakker, ons is die klei.
Tussen Hom en my kom daar nooit ooit weer
’n skeidingsmuur.

F294. “Neem My Lewe”
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Toewyding) Teks en musiek: Marina du Toit © 2008 Urial Publishing

Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Want U is die lewe en U is die lig,
U gee die water en ek dra die vrug.

Neem my lewe laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer.
Want U is die Skepper en ek is die klei,
maak vir u hart, Heer, ’n woning in my.

Snoei my vorm my, suiwer my,
laat U meer word binne my.
En laat al die vuilheid wegbrand, Heer,
laat ek weer skoon word al is dit seer.

Snoei my, vorm my, suiwer my,
laat U meer word binne my.
En laat ek die vrug dra om heilig te wees
’n lewende offer gevul met u Gees.

’n Lewende offer vir U,
’n lewende offer gevul met u Gees.

VONKK 56 “My God, Hoe Doelloos, Hoe Verward”
Teks : JA Cramer (1733-1788); Ahasverus van den Berg 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944 (Gesang 33); Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK Werkgroep 2009
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
Melodie: Du Lebensbrot, Herr Jesu Christ – Peter Sohren 1668
© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek – Skuldbelydenis en Genade

My God, hoe doelloos, hoe verward
het ek geword deur sonde.
Hoe is ek nie verblind, verhard,
en aan my wil gebonde.
Hoe het my skuld my nie vervreem,
gemeenskap, Heer, met U ontneem,
U beeld in my verduister.

Maar U het my u guns betuig,
my, sondaar, begenadig.
U het my trotse wil gebuig
en my met guns versadig.
In Christus kon ek redding vind,
is deur Hom nou aan U verbind
om U te dien in liefde.

Verbreek in my voortdurend, Heer,
die neiging tot die sonde.
Maak my in Christus altyd weer
aan U alleen verbonde.
En maak my lewe: kragtig, goed –
dat ek opreg in my gemoed,
met vrug voor U kan lewe.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Johannes 15:1-8
Wys hierdie video (sonder klank) terwyl jy die Skriflesing doen.  Oefen vooraf sodat jou voorlesing pas by die beelde op die skerm.

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Vertel die wonderlike storie van Basil die Wingerdloot (dalk kan jy dit verander na Lettie die Loot?  Of Willie die Wingerdloot?)  Wanneer Basil besef dat hy nie druiwe dra nie, probeer hy baie hard, steunend en kreunend – maar niks gebeur nie.  Totdat die wingerdstok vir hom sê dat hy wat Basil is, net aan die wingerdstok verbind moet bly.  Van toe af het Basil net op die wingerdstok gefokus – en heerlike druiwe gedra.  Hier is die hele verhaal met pragtige illustrasies, asook aktiwiteite soos doolhowe wat jy kan aflaai.

Hier is ook ’n lekker doolhof wat kinders se handjies kan besig hou terwyl hulle na die preek luister.  Kleiner kinders sal dit geniet om die prent gewoon in te kleur, terwyl ouer kinders die ingewikkelde doolhof sal geniet.

Oorweeg om ’n tak en snoeiskêr te gebruik om die inleiding van die preek te illustreer, om so ook kinders te betrek.

Preekriglyn

Goeie snoeiwerk is een van die belangrikste vaardighede wat enige tuinier moet baasraak. Daar is baie redes waarom ons snoei:

  • Snoeiwerk moedig nuwe groei aan, wat vir ons meer blomme en vrugte aan die plant gee
  • Dooie en siek dele van ‘n plant word weggeneem, sodat die plant kan herstel
  • Plante wat geil groei en die hele wêreld toerank word beter gevorm en gehelp om nie skade aan te rig nie
  • Sytakke wat te veel skaduwee op die omgewing gooi, soos op gras, word weggeneem. ‘n Heining word so gesnoei dat lig ook die laer dele bereik, anders ontstaan daar gate in die heining
  • Beskadigde plate kry weer nuwe vorm en word gehelp om te herstel.

Plantgroei en snoeiwerk is ‘n baie goeie beeld om God se betrokkenheid by ons lewens toe te lig. In ons teks sê Jesus dat Hy die ware wingerdstok is op wie ons ingeplant word om so lewe te ontvang, terwyl sy Vader die landbouer is wat ons snoei sodat ons meer vrug kan dra.

“Ek is”

Ons lees vandag Jesus se laaste “Ek is”-uitspraak in die Johannesevangelie: “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die landbouer.”

Die sewe “Ek is”-uitsprake van Christus volgens die Johannes-evangelie is:

  • 6:35 – Ek is die brood wat lewe gee;
  • 8:12 – Ek is die lig vir die wêreld;
  • 10:7 – Ek is die deur van die skape;
  • 10:11 – Ek is die goeie herder;
  • 11:25 – Ek is die opstanding en die lewe;
  • 14:6 – Ek is die weg, die waarheid en die lewe; en
  • 15:1 – Ek is die ware wingerdstok.

Vandag verken ons die laaste “Ek is”- uitspraak: Ek is die ware wingerdstok en my Vader die landbouer”.

Die algemene betekenis van hierdie vergelyking is dat die mens van nature onvrugbaar is behalwe in soverre die mens in Christus is en van Hom deur genade krag ontvang. Drie beginsels word in die gelese gedeelte beklemtoon:

  • Eerstens, dat die mens geen eie krag het om goed te doen nie;
  • Tweedens, dat die mens wat in Christus geanker is, deur die Vader gesnoei en gevorm word;
  • Derdens, dat die Vader die onvrugbare takke verwyder sodat dit in die vuur gegooi en verbrand kan word.

Ons stap nou deur die teks om Jesus se woorde beter te verken.

Ware wingerdstok

Vers 1:  “Ek is die ware wingerdstok.” Christus is – in teenstelling met ander wingerdstokke – die ware wingerdstok. Waarskynlik is Jesus en die dissipels in die Hebronvallei of in die omgewing van die Olyfberg. Die Olyfberg was bekend vir wingerdbou (vgl Joh 14:31). In hierdie omgewing tree Jesus met sy dissipels in gesprek oor Homself as die oorsprong van die lewe in die geloofsgemeenskap.

In die Ou Testament is Israel dikwels vergelyk met ‘n wingerd. Jesus beklemtoon nou dat Hy die ware bron van lewe in die volk van God is. Hy is die ware Messias, die stam waarop die mense van God groei om in ware lewe te kan deel. Jesus bemoedig sy dissipels dat Hy, as die ware wynstok, in hulle sal bly.

Landbouer

Sy Vader is die Landbouer. Die begrip “landbouer” kom ook voor in Markus 12:1; Jakobus 5:7 en 2 Timoteus 2:6 (vgl. 1 Kor. 3:9).

Die funksie van die landbouer word in vers 2 beskrywe naamlik om te snoei. Daar is twee soorte lote, naamlik die wat vrug dra en die wat geen vrugte dra nie. Die vrugtelose word verwyder/afgesny. Die lote wat vrug dra word reggesnoei sodat hulle meer vrug kan dra.

Die landbouer doen dit sonder om die lote enige pyn te spaar, en doen dit ten koste van die plant se eie groei. Die wingerdlote kan nie maar wild en ingetem groei nie. Snoei is dus ‘n pynlike proses vir die plant. Die vrugtelose lote word wegneem of gesnoei. Jesus verwys hier blykbaar na Judas. Judas word weggeneem uit die dissipelkring as vrugtelose loot, Petrus is ‘n voorbeeld van ‘n loot wat reggesnoei word, sodat hy meer vrug kan dra.

Die Griekse woord κatairei (“reg gesnoei”) kan ook vertaal word as skoon, soos in Johannes 15:3. Dit word in die Nuwe Testament vir seremoniële reiniging gebruik (Heb. 10:2).

Vers 3 sluit hierby aan. Jesus sê die dissipels is alreeds reggesnoei of gereinig. Dit beteken hulle is reeds in ‘n toestand om vrug te kan dra, “deur die woorde wat Ek vir julle gesê het”. Dit wil sê: Hulle is reggesnoei deur die volle openbaring wat Jesus gedurende die drie jaar aan hulle gemaak het. Hierdie toestand moet hulle nastreef om in stand te hou. Jesus sê: “Handhaaf julle geloof in My en Ek sal in julle bly en julle vul met wat nodig is om My op aarde te verteenwoordig.” Christus herinner hulle dat hulle in Hom geplant, asook gereinig of gesnoei is.

Bly in My

In vers 4 spoor Christus die dissipels weer ernstig aan om die genade wat hulle ontvang het, in stand te hou (Matt 23:37). ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die wingerdstok bly nie. ‘n Loot wat op die grond val en nie meer in die wingerdstok is nie, kan nie vrug dra nie, en ook nie as die dissipels nie in Christus bly nie. So ‘n loot verdor en sterf. Die enigste manier om voort te gaan, is om gereinig te word om vrug te kan dra, om sodoende die verband met Christus (die wingerdstok) te handhaaf. Judas is weg en Satan sal die res van hulle soos koring sif (Luk 22:31).

Vers 5 voer die gedagte verder: “Ek is die wingerdstok, julle die lote.” Saam vorm hulle een geheel. Die een ding wat nodig is om vrug te kan dra, is dat hulle in Christus bly en Hy in hulle. Die lewe van die wingerdstok vloei in die lote. “Sonder My kan julle niks doen nie.” Solank ons van Christus geskei is, dra ons geen vrug nie, want uit ons eie kan ons niks goed doen nie. Die tak dra nie vrug uit homself nie. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie.

Vrugtelose takke

In vers 6 dring Christus dring daarop aan dat die dissipels  sal  volhard. “As iemand nie in My bly nie ….”. Volharding is inderdaad ‘n genadegawe van God.

Die hele proses wat deur die vrugtelose tak ondergaan word, word in die ses werkwoorde van Johannes 15:2 en 6 beskryf:

  • snoei (kathairei),
  • weggooi (eblēthē),
  • verdroog (eksēranthē),
  • bymekaarmaak (sunagousin),
  • gooi (ballousi) en
  • verbrand (kaietai).

Die begrippe dui op  die onvermydelikheid en die volledigheid van die vernietiging. Totale verwerping is ter sprake. Die resultaat is die totale verdwyning, die vernietiging van die natuurlike kapasiteit van die vrugdraers. Diegene wat van Christus afgesny word, is soos dooie takke. Omdat die krag van Hom is, kom ook die ononderbroke voortsetting daarvan van Hom af. Diegene sonder die krag van God word uitgegooi. Die dissipels word gewaarsku dat dit nie outomaties is dat hulle in Christus is nie. Jesus as die wingerdstok sal sy deel van die verhouding vervul solank die lote in Hom bly.

Gebed en belofte

In vers 7 word ‘n ongelooflike belofte gemaak. Diegene wat in Christus en sy woorde bly, en vanuit hierdie verhouding vra om bepaalde vrug, sal ontvang wat hulle vra. Dit gaan ook vrugte wat uit die verhouding opkom, die vrug wat met dissipelskap verband hou. Ons sal ontvang, want die Vader word juis verheerlik as ons baie vrug dra en dissipels van Jesus is (vers 8).

God is aktief

In ons teks ontmoet ons vir God as aktief teenwoordig in die geloofsgemeenskap. Gelowiges is mense wat ingeplant is in Christus, God werk as Landbouer om gelowiges te bly vorm sodat hulle vrug kan bly dra.

Daar is ook ‘n proses van afsny en wegneem. Verstommend soos dit is, is nie almal in die dissipelkring lote wat in Christus bly nie.

Judas is ‘n voorbeeld van iemand wat sy lewe inplant op iets anders as Christus. Sy verraad van Jesus is ‘n teken dat hy nie in Jesus die Bron van ware lewe sien en uit Jesus wil leef nie. Judas se keuse teen Jesus word deur die Landbouer bevestig deur Judas weg te neem.

Petrus en die ander dissipels is ‘n voorbeeld van ‘n loot wat met tye misluk het. Dink hoe Petrus Jesus verloën het, en hoe die dissipels Jesus in sy uur van nood verlaat het. Petrus word egter weer deur Jesus nadergetrek en heraangestel as leier in die kudde. Petrus het al vrug gedra deur bv. Jesus te bely (Joh. 6:67) en te vra om deur Jesus gewas te word (Joh. 13:37). Hy word verder reggesnoei.

Hierdie proses gaan vandag steeds voort. God is ook onder ons teenwoordig en snoei ons reg sodat ons meer vrug kan dra. Christus is ook die Bron van ons lewens in die geloof, en die bron van ons identiteit. Ons word geroep om uit Christus te bly leef.

Die feit dat Jesus die ware wingerdstok is, beteken dat daar baie valse wingerdstokke is. Die wêreld is vol kompetisie vir Christus. Daar is valse Christusse. Die beloftes van baie kapitaal, eiendom en besit, status en posisie, is kompetisie vir Jesus. Baie gebede om beskerming en uitkoms verklap eintlik wie ons “christus” is.

Jesus was die volmaakte dissipel, want Hy het uit gemeenskap met die Vader geleef en gedoen net wat die Vader sê en vra. So moet ons ware lote wees, wat uit Christus leef en net doen wat Christus sê en vra.

Dit vra lewensgemeenskap met Christus.

Gebed en gehoorsaamheid

Hoe lyk hierdie lewensgemeenskap? Ons teks verwys na gebed om vrug dra en dissipelskap. Dit beteken dat ons doen wat Christus vra.

Gebed is die manier hoe ons met Christus gemeenskap hou, en uit Christus lewe. Gebed is baie meer as ons klompie versoeke aan God. Dit is bly in God, gemeenskap.

Gebed is ook ‘n baie diep erkenning dat ons niks uit onsself kan doen nie. Ons het Christus nodig.

Die Woord van God speel ‘n belangrike rol in die gemeenskap met Christus. Ons word reggesnoei deur die woorde van Christus, en ons bly in die woorde van Christus. Om hierdie rede is die Bybel, die lees en die oordink daarvan met ‘n biddende lewe, so belangrik vir die bly in Christus.

Om saam te vat: Sonder Christus is ons tot niks in staat nie. Hy maak ons gewillig en bekwaam om sy wil te doen. Sonder Christus wag die oordeel op ons. As ons in Hom bly en sy woorde in ons, belowe Hy dat Hy ons gebede sal beantwoord. God word daardeur verheerlik dat ons vrug sal dra en sal leef soos dissipels van Christus. Die goeie werke wat ons dus doen, doen  ons nie om iets te verdien nie, maar ons doen dit om God te verheerlik. Coram deo – ons leef voor die aangesig van God

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 269 God bly met u waar u ook mag gaan – vervang “u” met “ons”

Seën

Respons: Lied 269 refrein “God bly met ons, waar ons ook mag gaan”.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.