Vyfde Sondag van Paastyd

Sections

Oorsig

Die vyfde Sondag in Paastyd se Latynse naam vanuit die kerktradisie is cantate (“sing”) uit Psalm 98:1. Hierdie week se Psalmteks sowel as die teks uit Handelinge sluit by hierdie tema van sing aan aangesien God in albei hierdie tekste geprys word. Ook die Johannesevangelie begin met God wat deur Jesus verheerlik word.

Daar is ‘n tweede tema wat deur die tekste loop, en dit is God wat “nuut maak” of “herskep”. In die Psalmteks word God geloof vir die eerste skepping en in Openbaring vir die nuwe skepping. In Johannes gee Jesus op die vooraand van sy kruisiging vir sy dissipels ‘n nuwe gebod van liefde, en in die Handelingeteks gee God vir Petrus nuwe betekenis aan wat heilig is en wat nie. Die hoop wat dit bring om te weet God kan nuut maak, is iets wat deur die liturgie gebruik kan word saam met lof aan hierdie Skepper-God.

Sleutelteks

Openbaring 21:1-6

‘n Nuwe hemel en ‘n nuwe aarde
1Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie. 2En ek het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal. Sy is gereedgemaak, soos ‘n bruid wat versier is vir haar man. 3Ek het toe ‘n harde stem van die troon af hoor sê:
“Kyk, God se woonplek is by die mense.
En Hy sal by hulle woon;
hulle sal sy volke wees,
en God self sal by hulle wees as hulle God.
4Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog.
En die dood sal nie meer daar wees nie;
ook nie rou of ‘n gehuil of pyn
sal meer bestaan nie;
want die eerste dinge het verbygegaan.”

5Hy wat op die troon sit, het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En Hy het ook gesê: “Skryf neer dat hierdie woorde betroubaar en waar is.” 6Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water – verniet!

7Wie oorwin, sal hierdie dinge beërf, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. 8Maar vir die lafhartiges, ongelowiges, losbandiges, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is die brandende poel van vuur en swael; dit is die tweede dood.”

Ander tekste

Handelinge 11:1-18

Petrus verantwoord hom voor die gemeente in Jerusalem
11 Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die woord van God aangeneem het. 2Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt: 3“Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.”

4Petrus het toe vir hulle alles mooi uiteengesit: 5“Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geesvervoering ’n gesig gesien het,” het hy gesê. “Ek het iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, uit die hemel sien afkom, en dit het tot by my gekom. 6Toe ek goed daarna kyk, sien ek daarin viervoetige diere van die aarde, wilde en kruipende diere, en wilde voëls. 7Ek het toe ’n stem gehoor wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.’8Maar ek het geantwoord: ‘Nooit nie, Here! Ek het nog nooit my mond aan iets gesit wat onrein of onheilig is nie.’9’n Tweede keer het ek die stem uit die hemel gehoor: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.’10Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek.

11“Terselfdertyd het daar drie mans wat van Sesarea af na my toe gestuur is, by die huis aangekom waar ons tuis was. 12Die Gees het vir my gesê dat ek nie moet aarsel om saam met hulle te gaan nie. Ek en hierdie ses broers is toe saam met hulle, en ons het in Kornelius se huis ingegaan. 13Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het, wat vir hom gesê het: ‘Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon daar haal wat ook Petrus genoem word. 14Hy het ’n boodskap vir jou waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin.’

15“Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin. 16Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ 17Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?”

18Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”

Psalm 148
Sy Naam alleen is hoog verhewe
148 Prys die Here!
Prys die Here vanuit die hemele,
prys Hom in die hoë hemel!
2Prys Hom, alle engele,
prys Hom, alle hemelwesens!
3Prys Hom, son en maan,
prys Hom, alle sterre!
4Prys Hom, hoogste hemele,
en waters in die hoë hemelruim!
5Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want Hy het beveel
en hulle is geskep;
6Hy het hulle vir altyd
hulle vaste plek gegee,
vir hulle ’n orde neergelê
waarbuite hulle nie kan
beweeg nie.
7Prys die Here van die aarde af,
seediere en al die oseane,
8weerlig en hael, sneeu en miswolke,
stormwind wat sy opdrag gehoorsaam,
9berge, al die heuwels,
vrugtebome, al die seders,
10wilde diere, al die vee,
al wat kruip of vlieg,
11konings van die aarde, alle volke,
vorste, alle regeerders van die aarde,
12jong manne en meisies,
grysaards saam met seuns!
13Laat hulle die Naam van die Here
prys,
want sý Naam alleen is hoog verhewe,
sy majesteit strek oor die aarde
en oor die hemel.
14Hy het aan sy volk mag gegee.
Dit is die roem
van al sy troue dienaars,
die Israeliete,
die volk naby wie Hy is.
Prys die Here!

Johannes 13:31-35
Jesus se heengaan is naby
31Toe Judas uit is, sê Jesus: “Nou word die Seun van die mens verheerlik, en God word deur Hom verheerlik. 32En aangesien God deur Hom verheerlik word, sal God self Hom ook verheerlik; en Hy sal Hom binnekort verheerlik. 33My kinders, Ek is nog net ’n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie. 34Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.

Ekstra stof

Oorsig van Hoofstuk 21-22
Tema: God skep hemel op aarde vir sy volk.
Die oorwinning oor die Satan en die oordeel oor die mensdom word opgevolg in hoofstuk 21 met:

  • die koms van die nuwe hemel en nuwe aarde – vers 1,
  • die vestiging van die Nuwe Jerusalem uit die hemel op die aarde as die woonplek van God. Só word alles nuut gemaak – vers 2-8 en
  • die beskrywing van die heerlikheid van die Nuwe Jerusalem – die bruid, die vrouvan die Lam – wat in wese eintlik ook die beskrywing van God se heerlikheid is – vers 9-27.

Hoofstuk 22 sal dié prentjie afrond met ‘n beskrywing van die water van die lewe wat uit die troon van God en die Lam uit die stad vloei – vers 1-6. Die boek word daarna afgesluit met ‘n versekering van die spoedige en besliste wederkoms belofte van die Here Jesus as aanmoediging vir die gelowiges om vas te hou aan die woorde van God.

Die koms van die nuwe hemel en aarde – Openbaring 21:1
Die koms van die nuwe hemel en die nuwe aarde word in ‘n enkele vers beskrywe. Dit vervang die ou hemel en aarde wat so pas met die laaste oordeel tot niet gegaan het. Die enigste detail waarop uitgebrei word, is die feit dat daar nie ‘n see sal wees nie. Dit dui op die feit dat daar geen boosheid meer sal wees nie, aangesien die see as die woonplek van die Bose beskou is.

Daarmee sluit Openbaring presies aan by die belofte wat Jesaja al lank tevore van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gebring het, waarin daar ook ‘n nuwe bedeling vir Jerusalem, die Godsvolk, sal wees (Jes. 65:17-18).

Die vestiging van die Nuwe Jerusalem – Openbaring 21:2-8
Die Nuwe Jerusalem (vgl. ook Openb. 3:12 waar insluiting in hierdie stad as beloning aan Filadelfia belowe word) daal uit die hemel neer (sommige manuskripte sê: “uit God se hemel”) as gereed gemaakte bruid vir die Lam van God, waarmee ‘n idilliese prentjie van “hemel op aarde” geskets word. Die versierde vrou staan in skerp kontras met die bose Babilon wat deur God vernietig is.

In ‘n sekere sin word hemel en aarde een in die Nuwe Jerusalem, die Gods volk (Du Rand). Die plek ís ook die mense! Die gelowiges ís ook die stad van die Here God. Die droom van Jesaja 2 dat Jerusalem die ontmoetingsplek met God vir die nasies sal wees, word só uiteindelik in sy volheid bewaarheid!

Dit verklaar ook hoekom die nasies steeds deel van die beskrywing van die Nuwe Jerusalem, die Godsvolk, in die volgende hoofstuk sal wees. Vergelyk ook Jesaja 65:17-18 en Sagaria 8:20-23; 14:8 waar dié beloftes die eerste keer uitgespreek is in die OT en waarvan Openbaring die vervulling beskrywe.

Hierdie is die vervulling van die OT ideaal van God wat ‘n God vir sy volk is en hulle wat vir Hom ‘n volk is. Dit was die ideaal van die Ou Verbond (Gen. 17:7; Eks. 29:45; Lev. 26:11-12). Dit het die ideaal van die Nuwe Verbond gebly (Jer. 31:33; Eseg. 37:27-28 [wat ook ‘n effek op die nasies sal hê).

Dit is ook nie net die volke – let op die meervoud! – wat nou God se woonplek (tent) word nie, maar hulle ervaar ‘n omvattende herstel wat God aankondig: elke traan word afgedroog, die dood word vernietig, daar sal nie meer gerou of gehuil word nie, want daar sal geen pyn meer wees nie. Die eerste dinge het verbygegaan, die nuwe het gekom (soos Paulus ook in 1 Kor. 5:17 skrywe!).

God maak alles nuut. Om die waarheid te sê, in ‘n sekere sin is dit eintlik in beginsel afgehandel, want die belofte kom van die Een wat die Alfa en die Omega is, die Begin en die Einde. Elkeen wat hierna smag, sê God, sal versadig word. Hulle sal drink uit die fontein van lewegewende water om vir ewig te lewe. En dié lewensdrank sal verniet wees (vgl. Jes. 55:1). Eden is herstel.

Dít is die deel van elkeen wat aan God bly vashou. Die res van die mensdom se deel is die tweede dood, die vuurpoel, waar die bose driemanskap saam met die dood en die doderyk reeds is.

Agt karaktereienskappe van dié mense wat dit nie sal maak nie word uitgespel waarin duidelike ooreenkomste nie net met ander soortgelyke lyste in die NT is nie, maar ook ooreenkomste met die Tien Gebooie: lafaards (dié wat bang geword het), onbetroubares (óf ongelowiges – dié wat ontrou geword het), losbandiges (seksuele perverte), moordenaars, onsedelikes (pornois), towenaars (pharmakois – mense wat towerspreuke en dwelms gebruik), afgodsdienaars en al die leuenaars.

Hulle lot is vir ewig verweef met die vuurpoel, die tweede dood. Dit is die plek waar God nie is nie. Alleen maar die boosheid in al sy afgryslike glorie.

Liturgie

In die oorsig word melding gemaak van ’n tweede tema wat deur die tekste loop, en dit is God wat “nuut maak” of “herskep”. Die liturgie probeer hierby aansluit.

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Openbaring 1:8

Seëngroet: Openbaring 1:4-5

Lied: 192 “Grote God U skepperhand 1,2,3”

Wet
God se nuutmaak proses met die mens was dringende noodsaak, want die mens was/ is verlore agv sonde. Paulus raak liries hieroor as hy aan die Romeine skryf…

Romeine 7

Skuldbelydenis

Vryspraak: Die nuutmaakproses…

Geloofsbelydenis en oproep tot lof
– uit Psalm 148:1-13

Loflied: 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3″

Epiklese

Skriflesing: Openbaring 21:1-6

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 590 “Het jy gehoor dat eenmaal 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277  U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©

Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die Christuskers (Paaskers) word aangesteek. Blomme kan ingebring word om die feestelikheid van die Paastyd te beklemtoon.

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord: Openbaring 1:8
“Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige.

Seëngroet: Openbaring 1:4-5
Genade vir julle en vrede van Hom
wat is en wat was en wat kom,
en van die sewe Geeste
wat voor sy troon is;
5en van Jesus Christus,
die betroubare getuie,
die Eersgeborene uit die dood
en die heerser oor die konings van die aarde.
of
V: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie.
G: Die Eerste wat uit die dood opgestaan het.

V: Die Heerser oor die konings van die aarde.
G: Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos,

V: en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader.
G: Aan Hom behoort die heerlikheid en krag tot in alle ewigheid!

Almal: Amen.
– uit Openbaring 1:4-8

Lied: 192 “Grote God U skepperhand 1,2,3”

Wet
God se nuutmaak proses met die mens was dringende noodsaak, want die mens was/ is verlore agv sonde. Paulus raak liries hieroor as hy aan die Romeine skryf…

Romeine 7
14Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos ’n slaaf aan die sonde verkoop. 15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.

Skuldbelydenis
21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?

Vryspraak: Die nuutmaakproses…
24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.
Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. (Openb. 1:5b-6) en…

Openbaring 21
1Toe het ek ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie. 2En ek het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal. Sy is gereedgemaak, soos ‘n bruid wat versier is vir haar man.

“Kyk, God se woonplek is by die mense.
En Hy sal by hulle woon;
hulle sal sy volke wees,
en God self sal by hulle wees as hulle God.
4Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog.
En die dood sal nie meer daar wees nie;
ook nie rou of ‘n gehuil of pyn
sal meer bestaan nie;
want die eerste dinge het verbygegaan.”
5Hy wat op die troon sit, het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

Geloofsbelydenis en oproep tot lof
V: Loof die Here uit die hemel;
loof Hom in die hoogtes!
G: Halleluja! Loof die Here!

V: Loof Hom, al sy engele;
loof Hom, al sy hemelse magte!
G: Halleluja! Loof die Here!

V: Loof Hom, son en maan;
loof Hom, al die helder sterre!
G: Halleluja! Loof die Here!

V: Loof Hom, hoogste hemele
en die water wat bo
die hemelkoepel is!
G: Halleluja! Loof die Here!

V: Laat hulle die Naam van die Here loof,
want dit is Hy wat bevel gegee het –
en hulle is geskape.
G: Halleluja! Loof die Here!

V: Hy het hulle gevestig
vir altyd, vir ewig.
G: Halleluja! Loof die Here!

V: Hy het ’n vaste orde bepaal
wat nie verbygaan nie.
G: Halleluja! Loof die Here!

V: Loof die Here vanaf die aarde –
seemonsters en al die diep waters,
vuur en hael, sneeu en newels,
stormwind wat sy bevel uitvoer;
berge en al die heuwels,
bome wat vrugte dra
en al die seders;
wilde diere en al die vee,
diere wat kruip
en voëls wat vlieg.
G: Halleluja! Loof die Here!

V: Loof die Here –
konings van die aarde
en al die volke, aanvoerders
en al die regeerders van die aarde;
jong mans en ook jongmeisies,
oumense saam met jongmense.
G: Halleluja! Loof die Here!

V: Laat hulle die Naam van die Here loof,
want sy Naam alleen is hoog verhewe;
sy luister reik oor aarde en hemel.
G: Halleluja! Loof die Here!
– uit Psalm 148:1-13

Loflied: 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Liedere

VONKK 21 “Wag op die Heer”
Nav Markus 13:33,35,36
Teks: Wait for the Lord – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994/2009

Musiek: Jacques Berthier 1923-1992Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaanse  in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Geloof en Vertroue / Hoop en Voleinding

Wag op die Heer,
sy dag kom gou.
Wag op die Heer:
bly bid en waak.

Wait for the Lord,
whose day is near.
Wait for the Lord:
keep watch, take heart!

VONKK 119 “Heilig, Heilig, Heilig Is Die Heer”
Nav Openbaring 4:8 en 11
Teks: Holy, holy, holy is the Lord – onbekend; Afrikaanse weergawe: VONKK Werkgroep 2009.
Melodie: Onbekende oorsprong.
Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2010
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2010
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding, kantoryverwerking en musikale verryking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping

1. Heilig, heilig, heilig is die Heer.
Heilig is die Heer God Almagtig.
Heilig, heilig, heilig is die Heer.
Heilig is die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Heilig, heilig, heilig is die Heer.

2. Jesus, Jesus, Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer God Almagtig.
Jesus, Jesus, Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Jesus, Jesus, Jesus is die Heer.

3. Waardig, waardig, waardig is die Heer.
Waardig is die Heer God Almagtig.
Waardig, waardig, waardig is die Heer.
Waardig is die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Waardig, waardig, waardig is die Heer.

4. Ere, ere, ere aan die Heer.
Ere aan die Heer God Almagtig.
Ere, ere, ere aan die Heer.
Ere aan die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Ere, ere, ere aan die Heer.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, ek wil aan U dink, U ken, U liefhê
Laat u Woord in my groei
totdat U my volmaak verander het
en ek leef soos Jesus geleef het.
Amen.
– Augustinus

Skriflesing: Openbaring 21:1-6

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Gesels oor ’n bangmaak fliek wat hulle al gekyk het (Harry Potter, of selfs Peter Pan, Finding Nemo se begin, Kung Fu Panda, Brave, ens).  Baie keer is dit moeilik om die “scary” dele te kyk – mens wil jou oë toemaak of uit die vertrek uitgaan.

Maar as mens eers een keer die fliek gesien het, dan weet jy hoe dit gaan eindig.  En wanneer jy die einde gesien het, kan jy dapper wees deur die scary dele.

Johannes vertel vir Christene van die einde wat kom – dat God die hemel en die aarde nuut gaan maak.  Dit help ons om dapper te wees.

Die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde
21     1–4 Toe sien ek ’n nuwe hemel en aarde. Die ou hemel en aarde met die see het verdwyn. Ek sien ook hoe God sy stad, die nuwe Jerusalem, uit die hemel laat afkom. Die stad was pragtig, soos ’n bruid wat haar vir haar troue mooi gemaak het. ’n Harde stem van die troon af sê toe: God bly nou by en tussen die mense. Hulle is sy mense en Hy is hulle God. As hulle huil, sal God hulle troos. Hulle sal ook nie meer doodgaan nie. Hartseer of pyn sal hulle nie meer ken nie. Al die slegte dinge van die wêreld sal nie meer bestaan nie.”
(Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)

Preekriglyn

Openbaring 21:1-6 handel oor die nuwe hemel en die nuwe aarde, en die koms van die nuwe Jerusalem na die aarde as die woonplek van God. Dit volg op ‘n beskrywing van die oorwinning oor Satan en die laaste oordeel. Die kernboodskap is dat die skepping van die nuwe hemel en die nuwe aarde ‘n daad van God is. Mense kan nie die koninkryk tot stand bring nie.

Kom ons staan vir ‘n oomblik by ons teks stil.

Nuwe hemel en nuwe aarde

Hier word duidelik na die Ou Testament verwys. Die uitdrukkings “die nuwe hemel en die nuwe aarde” en “die nuwe Jerusalem” kom in die Ou Testament voor in onder meer Jesaja 65:17-18. Die beeld van die herstelde Jerusalem is ‘n uitdrukking van die vervulling van God se beloftes aan sy volk. Dit is ‘n beeld van samehang en voortgang tussen die aarde en die toekoms wat God se volk verwag. Dit is waar God en sy volk sal saamwoon, die “blywende plek” wat “bokant die bergtoppe” uitstaan en waarheen “al die nasies sal stroom (Jes. 2:1-4; Miga 4:1-4; Sag. 14:8).

Geen see meer nie

Die “see” of “waters” “was daar nie meer nie” (Op. 21:1). Die “waters” het ryke betekenis in die Bybel:

  • In die eerste skeppingsverhaal simboliseer dit die vormlose chaos en donkerte voordat God in liefde geskep en georden het.
  • In Jesaja 57:20-21 word die goddeloses vergelyk met die “onstuimige see wat nie tot rus kan kom nie”; vir hulle is daar “geen vrede” nie.
  • Toe Jesus op die water loop, is dit byna soos ‘n gelykenis wat aantoon hoe Hy die aardse toestand te bowe gaan en oor die magte wat ons bedreig, triomfeer.

Die see is grensloos – dit simboliseer hoe ons maklik op ons lewensreis verlore kan raak. Die see hou in ‘n sin die dood vas. As die see verdwyn, beteken dit dus hierdie toestand is verby.

Teenoor die bedreigende “waters” staan die “water van die lewe” wat deur Jesus se koms gratis beskikbaar is. In Openbaring 7:17 en 22:1 lees ons ook van die lewende water. Dit herinner aan Jesus se woorde in Johannes 4:14 en 7:38, en verwys ook na Jesaja 55:1: “Kom, almal wat dors het, kom na die water toe, selfs ook dié wat geen geld het nie.”

“Afkom”

Die woord “afkom” in Openbaring 21:2 dui aan die nuwe Jerusalem kom “van God af uit die hemel”. Dit dui aan dat die heilige stad nie deur ons aktiwiteite op aarde gevestig word nie, maar volkome van God afkomstig is. Die nuut geskape stad is “gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is”. Dit word “mooi gemaak” of “versier”.

“Woon”

In die Ou Testament het die volk in die woestyn God se glorie gesien waar die tabernakel opgerig is. Nou sal God by sy volk “bly” of “woon”. Waar die Evangelie van Johannes begin met die gedagte dat die Woord vlees geword en onder ons kom “woon” het, eindig Openbaring met dieselfde gedagte – dat God by ons kom woon.

“Afgehandel”

Die Griekse word gegonan (perfektum van ginomai – Op 21:6) word in die Nuwe Afrikaanse Vertaling vertaal met “dit het klaar gebeur”. Dit kan ook vertaal word met “dit is afgehandel” of “all has been brought to pass”. In Openbaring 16:17 lees ons ‘n soortgelyke frase wanneer daar ‘n groot stem uit die hemel kom wat sê: “Dit is verby!” Sommige meen ons moet in hoofstuk 21 lees: “het tot bestaan gekom” of “hulle het tot bestaan gekom” of “alle dinge het tot bestaan gekom”. Die nuwe skepping, waaruit die skeppende Woord reeds voortgekom het, is nou voltooi. Jesus is die eerste beginsel, sowel as die voltooiing of uiteindelike doel.

Ons teks skets dus die werklikheid van die nuwe Jerusalem wat as ‘n geskenk van God uit die hemel neerdaal. God skep dit God bring dit tot stand. God kom bly by God se mense. Dit het klaar gebeur, wat beteken dit is ‘n onkeerbare werklikheid. Ons kan reeds leef met die vaste sekerheid dat ons deel is en sal wees van hierdie heerlike werklikheid.

Boodskap

Wat beteken hierdie teks vir ons?

Inspirasie in moeilike tye

Openbaring is aan werklike gemeentes geskryf in ‘n moeilike tyd in die kerk se bestaan. Openbaring help ons, net soos daardie vroeë gelowiges, om ons broosheid en kwesbaarheid in die oë te kyk. Terselfdertyd laat Openbaring ons sien hoe gemeentes met die genade van die Here ‘n betekenisvolle rol in ‘n misleidende en verwarrende wêreld kan speel.

Gemeentes hoef nie, soos tóé reeds dikwels gebeur het, op geestelike afdraaipaaie te beland nie. Hulle kan aan die drie-enige God getrou bly. Hulle hoef nie deur die Romeinse politiek en kultuur van hulle tyd mislei te word nie. Vrees vir sosiale uitsluiting, ekonomiese isolasie en politieke vervolging, die drang na geld en goed en mag, en die druk van die keisers hoef nie die laaste woord te spreek nie.

Die sentrale tema van “die nuwe stad wat God voorberei” doen iets aan ons: dit “lok, roep en inspireer” ons. Dit is eie aan ons menslike aard dat ons onseker is oor die toekoms. Ons het nie die toekoms in ons hande nie; ons weet nie presies wat eendag gaan gebeur nie; ons kan nie die toekoms voorspel of beheer nie. Tog kan ons met hoop leef, want die Here sal self in die nuwe stad teenwoordig wees “op ‘n sigbaarder en voller manier” as wat tans die geval is. “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly” (Op 21:3).

Dit is hierdie verwagting wat vir Christene die moed gee om vas te hou en roepingsgetrou te leef in die aangesig van die bose en oënskynlike hooploosheid. Onthou, die “see” en alles wat dit verteenwoordig, die chaosmagte en boosheid, is mee afgereken.

Vuur hoop aan

‘n Bekende teoloog sê die Christelike geloof wentel om hoop as kernmoment. Die Christelike geloof is ‘n geloof wat beter en meer verwag. Dit is ‘n geloof wat uitsien. Christene wag met verlange op die voltooiing van God se skeppings- en verlossingswerk. Hulle hoop en bid vir “die nuwe hemel en die nuwe aarde”.

Hierdie teoloog, Daniel Migliori, stel ‘n paar beginsels voor vir ons verstaan van die Christelike hoop vandag:

  • Ons moenie voorgee dat ons gedetailleerde inligting oor die toekoms besit nie. Die taal van die Christelike hoop is die taal van metafoor, beeld en gelykenis, soos “die nuwe hemel en die nuwe aarde” en “die nuwe Jerusalem”. Calvyn het daarom sober en terughoudend geskryf oor die laaste dinge. Hy het geglo die koninkryk gaan vol luister, vreugde, geluk en glorie wees, maar ook dat die taal waarin die Bybel oor die laaste dinge praat, verwyderd is van ons waarneming, tot op die dag dat God se heerlikheid aan ons geopenbaar sal word. Luther het gesê so min as wat kinders in die baarmoeder weet van hulle geboorte, so min weet ons van die ewige lewe.
  • Ons hoop is gegrond op die opstanding van Jesus, die Gekruisigde. God se eer was nog altyd in die triomf van lewe oor dood. Die drie-enige God was van die begin af daarop ingestel om lewe te deel.
  • Ons moet waak teen ‘n dualistiese verstaan van die Christelike hoop. Dit gaan oor die geestelike én die fisiese, oor die mensdom én die hele skepping. Die Christelike hoop is vir my én vir ons.
  • Utopiese hoop is iets anders. Utopiese hoop wil met menslike bronne en kapasiteit ‘n beter toekoms skep. Christelike hoop kritiseer nie net die status quo nie, maar ook utopiese hoop en die verabsoluterende programme van revolusie.
  • Die Christelike hoop maak ons verbeelding wakker en spoor ons aan tot aksie in die rigting van God se nuwe hemel en nuwe aarde. Die simbole van die Christelike hoop is uitnodigend en gee geboorte aan kreatiewe handelings in diens van Christus. Dit motiveer ons om vir groter geregtigheid, vryheid en vrede te werk.
‘n Huwelik

‘n Verder aanmoediging en versterking vloei uit die beeld van die huwelik wat ons hier aantref. Teoloog NT Wright sê die hele wêreld wag vir “the marriage of heaven and earth”. Die nuwe Jerusalem kom uit die hemel “soos ‘n bruid versier vir die bruidegom”.

Hierdie beeld is merkbaar anders as die gewilde een van die Christen wat naak en onversier hemel toe gaan om die Maker in vrees en bewing te ontmoet. In Openbaring 21:1-5 is dit nie ons wat hemel toe gaan nie, maar die hemel wat aarde toe kom. Trouens, dit is die kerk, die hemelse Jerusalem, wat aarde toe kom. (Sien Fil. 3; Gal 4:26; Heb. 12:22-24).

Die hemelse Jerusalem wat aarde toe kom, is die finale antwoord op die bede van die Ons Vader dat God se koninkryk sal kom en sy wil op die aarde, soos in die hemel, sal geskied. God se plan en belofte was van altyd af om alles in die hemel en op die aarde aan Christus te onderwerp (Ef. 1:10).

Die mooi van die simboliek van ‘n huwelik is vir Wright dat liefde, en nie haat nie, die laaste woord in die heelal het. Die bruid van die Lam ís die nuwe Jerusalem wat deur die profete van die ballingskap, veral Esegiël, beloof is. Anders as by Esegiël, waar die tempel die middelpunt vorm as heenwysing na God se teenwoordigheid, gaan hier geen teken nodig wees nie. God self gaan in Christus teenwoordig wees.

‘n Praktiese lewe

Ons hoop en die wonderlike beelde waarmee ons teks ons hoop aanvuur moet vorm aanneem in ‘n daaglikse, praktiese lewe van toewyding aan God.

Ons leef vandag anders, want ons het ‘n toekoms. Ons weet waar die geskiedenis gaan eindig. Daarom kies ons om vandag gehoorsaam aan God te lewe in alles wat ons doen. Ons verander die wêreld in die rigting van God se heerlike toekoms wat aan die kom is.

Ons leef dit wat ons bid. Ons bid dat God se koninkryk kom, daarom leef ons gehoorsaam aan God die Koning elke dag. Ons weet ons is die bruid van Christus, daarom is ons toegewy aan die bruidegom.

‘n Gesamentlike lewe

Ons is as Christene nie alleen op die wêreld nie. Ons is ook deel van ‘n geloofsgemeenskap, ‘n gemeente. Ons saam-wees help ons juis glo en fokus op die Here.

Een van die redes waarom Christene sedert die vroegste tye elke week bymekaargekom het, was om hulle verwagting lewend te hou. Wanneer hulle bymekaargekom het, het hulle die Bybel gelees en mekaar daaraan herinner dat Jesus die Here is en wat dit beteken dat Hy na hulle toe gekom het. Daar was baie versoekings in hulle tyd. Een groot versoeking was om hulle geloof dat Jesus regeer, in te ruil vir hoop op die keiser. Dit sou die weg van die minste weerstand wees: Vervang die verwagting van die nuwe hemel en die nuwe aarde en die roeping om Jesus te volg, met die strewe na status, welvaart en insluiting in die aardse koninkryk.

Om hierdie rede was die weeklikse byeenkomste onontbeerlik. Wanneer hulle bymekaargekom het om Jesus as die Here te aanbid, het die Christene ‘n ander wêreld betree. Hulle het hulle situasie in ‘n nuwe lig gesien – hulle lewe van opoffering, kruisdra, uitsluiting en die risiko om vervolg te word in die lig van Christus se beloftes en lewende teenwoordigheid. Hulle het die magte wat hulle volgelingskap bedreig, op die naam genoem en verklaar dat dié magte nie oor hulle heers nie. Hulle het hiermee voortgegaan, regdeur die geskiedenis tot vandag toe.

Wanneer ons kerk toe gaan – wat ons nie moet ophou doen nie – is dit om onsself opnuut te verbind aan die Een wat op die troon sit sodat ons elke dag sal leef soos mense wat weet aan wie ons behoort.

God stuur ons om te leef

Gebed
Here van die lewe,
U het U tot die dood toe aan die mensdom verbind.
U het die graf oorwin.
Deur ‘n skouspel vir mense te word,
opgelig teen die vloekhout,
het U volkere na U getrek.
Die lewe wat ons vanweë ons sonde verloor het,
het U herstel deur u opstanding uit die dood.
Gedurende hierdie vyftig dae van Pase
verkondig ons die heerlike openaring van u sterwe en opstanding.

Want alle eer kom U toe,
Nou, en tot in ewigheid. Amen.

Offergawes

Wegsending: Lied 590 “Het jy gehoor dat eenmaal 1,2”

Seën
V: Seën ons, Here God, seën Afrika.
G: Laat sy mag tot in die hemel reik.

V: Hoor ons as ons in ons gebede vra:
G: Seën ons in Afrika, kinders van Afrika.

V: Daal neer, o Gees, Heilige Gees.
G: Daal neer, o Gees, Heilige Gees, kom woon in ons.

V: Lei ons, o Heilige Gees.
G: Hou u hand, o Heer, oor Afrika.

V: Lei ons na eenheid en begrip.
G: Hoor ons as ons U om vrede vra.

V: Seën ons in Afrika.
G: Kinders van Afrika.

V: Seën ons, Here God, seën Afrika.
G: Neem dan nou die boosheid van ons weg.

V: Maak ons van ons sonde ewig vry.
G: Seën ons Afrika. Kinders van Afrika.

Almal: Amen
– uit Flam 92

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.