Vyfde Sondag van Paasfees

Sections

Oorsig

Ander tekste

Handelinge 11:1-18; Psalm 148; Johannes 13:31-35

Fokusteks

Openbaring 21:1-6
Die nuwe hemel en die nuwe aarde
21 Toe het ek ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie. 2En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ’n bruid wat vir haar man versier is.

3Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. 4Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.”

5Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”
En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

6Verder sê Hy vir my: “Dit het klaar gebeur. Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.

7Elkeen wat die oorwinning behaal, sal dit alles kry, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees.

8“Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood.”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Speel ’n musiekstuk, soos Handel se “Halleluja” (’n toonsetting van Openbaring 19:6)
Of Michael W Smith se “Agnus Dei

Votum
“Die Lam wat geslag was, is waardig
om die mag en rykdom,
die wysheid en sterkte,
die eer, heerlikheid en lof
te ontvang.”

Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê:
“Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
behoort die lof en die eer,
die heerlikheid en die krag,
tot in alle ewigheid.”
Die vier lewende wesens het gesê: “Amen!” En die ouderlinge het gekniel en God aanbid.
(Openb. 1:12-14)

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. (Openb. 1:4b-5a)

Lofsang
(Probeer een of twee Lofliedere meer as gewoonlik sing, om die erediens ’n feestelike karakter te gee.)
Lied 597 “Dié met helder witte klere”
Lied 601 “Dié wat die Here wil dien”
Flam 1 “Die Hemel Juig 
Flam 9 “Ons Redding kom van ons God
Vonkk 119 “Heilig, Heilig, Heilig Is Die Heer”

Wet
34Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” (Joh. 13:34-35)

Verootmoediging
Flam 122 “Abba Vader”
Lied 590 “Het jy gehoor dat eenmaal”
(Lied 601 kan ook goed hier werk, as dit nie by die Lofsang gesing word nie)
VONKK 21 “Wag op die Heer”

Genadeverkondiging
Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. (Openb. 1:5b-6)

Geloofsbelydenis /  Doopherinnering
(Liturg staan by doopfont)
Voorganger: Ons doop is ’n teken en seel dat God ons gered het. Deur die geboorte, dood en opstanding van Jesus Christus is die magte wat ons bind, verbreek en het God se koninkryk ons wêreld ingekom. Deur ons doop is ons burgers van God se koninkryk gemaak en vrygemaak van alles wat ons gevange hou. Kom ons vier vanoggend opnuut hierdie vryheid deur die beloftes wat by ons doop gemaak is te herbevestig.

V: Glo jy in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Gemeente: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat God ons Vader met jou doop al sy beloftes aan jou toegesê en jou Syne gemaak het.
Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat Jesus Christus vir jou gesterf het en dat jy die redding wat Hy bewerk het, besit.
Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Heilige Gees in jou woon en vir jou die krag gee om ’n ware dissipel van Jesus te wees.
Jy behoort aan die Here en niks kan hierdie waarheid ooit verander nie.
G: Amen.

Liedere

VONKK 21 “Wag op die Heer”
Nav Markus 13:33,35,36
Teks: Wait for the Lord – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaanse  in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Meditatief – Geloof en Vertroue / Hoop en Voleinding

Wag op die Heer,
sy dag kom gou.
Wag op die Heer:
bly bid en waak.

Wait for the Lord,
whose day is near.
Wait for the Lord:
keep watch, take heart!

VONKK 119 “Heilig, Heilig, Heilig Is Die Heer”
Nav Openbaring 4:8 en 11
Teks: Holy, holy, holy is the Lord – onbekend; Afrikaanse weergawe: VONKK Werkgroep 2009.
Melodie: Onbekende oorsprong.
Orrelbegeleiding: Gerrit Jordaan 2010
Kantoryverwerking: Gerrit Jordaan 2010
Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2010
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding, kantoryverwerking en musikale verryking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Meditatief – Toetrede en Aanroeping

1. Heilig, heilig, heilig is die Heer.
Heilig is die Heer God Almagtig.
Heilig, heilig, heilig is die Heer.
Heilig is die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Heilig, heilig, heilig is die Heer.

2. Jesus, Jesus, Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer God Almagtig.
Jesus, Jesus, Jesus is die Heer.
Jesus is die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Jesus, Jesus, Jesus is die Heer.

3. Waardig, waardig, waardig is die Heer.
Waardig is die Heer God Almagtig.
Waardig, waardig, waardig is die Heer.
Waardig is die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Waardig, waardig, waardig is die Heer.

4. Ere, ere, ere aan die Heer.
Ere aan die Heer God Almagtig.
Ere, ere, ere aan die Heer.
Ere aan die Heer God Almagtig –
wat was en is en weer sal kom.
Ere, ere, ere aan die Heer.

F122. “Abba Vader”
(RUBRIEK: Flam – Gebed, Toewyding; Afhanklikheid)
Teks en musiek: Wian Vos
© 2005 Urial Publishing

Abba Vader, Heer, gelowig buig ons voor U neer.
Ons verklaar opnuut dat U regeer.
Jesus Christus, Heer, ons bely dit U kom weer.

Lei ons elke dag en neem beheer
van ons stad, van u kerk,
die omgewing waar ons woon en werk.

Deur u Gees, deur u kinders
om u hand en hart te wees,
neem beheer van ons stad…

F1. “Die Hemel Juig”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: All heaven declares
Teks en musiek: Noel en Tricia Richards
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht en Jacques Louw
© 1987, 1997 Thankyou Music

1. Die hemel juig, getuig van al u grootheid, Heer.
Die skepping buig in aanbidding voor U neer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

2. Ons wil verklaar:
U is die opgestane Heer;
U is die Lam
wat vir ewig sal regeer.

Refrein:

F9. “Ons Redding Kom Van Ons God”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: Salvation belongs to our God
Teks en musiek: Adrian Howard en Pat Turner
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani en Hanneke Engelbrecht
© 1985 Restoration Music, Ltd.

1. Ons redding kom van ons God
wat heers vanaf Sy hemeltroon.
Hy is die Lam.
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

Refrein:
Hy is die Heer vir ewig en ewig,
En Hy regeer vir ewig en ewig.
Hy is ons Heer vir ewig en ewig.
Amen.

2. En ons, die verlostes, getuig,
deur Woord en Gees lei Hy ons.
En ons roep dit uit:
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

F42. “Alles Het Nuut Geword” 
(RUBRIEK: Flammikidz – lof)
Teks en musiek: Paul Bouwer
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4)
(2 Kor 5:17-18)

Al die ou dinge het verbygegaan.
Alles het nuut geword.
Al die ou dinge het verbygegaan.
Nuwe mens, nuwe mens!
Alles het nuut geword.
Nuwe mens, nuwe mens!
Alles het nuut geword.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Ons dank U , Heer,
Vir ’n liefde so sterk

Dat U in ’n heelal skape,
’n wêreld daarin plaas
En lewe gee aan skepsels
Sodat U iemand kan hê om lief te hê.

Dat U reageer op die ergste wat mens kan doen
En dit oorwin
Sonder dat enige bloed vloei
Behalwe U eie.

Dat U u Gees asem in wat U geskape het,
Mensehande toelaat om te deel
In die bou
Van u lewe en doel in die wêreld.

Dat U woon in wat U geskape het,
En liefde vir U in ons harte plaas,
Sodat, wanneer ons tyd maak om te kyk,
Ons U in mekaar sal vind
En die liefde sal deel wat ons in U vind.
Amen
(Deur John van de Laar  by Sacredise.com)

Skriflesing: Openbaring 21:1-6

Familie-oomblik

Die simboliek is miskien te gevorderd vir kinders.  Fokus op die boodskap dat soos God aan die begin van alles by die mense was (Gen 1), so sal God ook by die einde van alles by sy mense wees (Open 21).

Bangmaak flieks
OF gesels oor ’n bangmaak fliek wat hulle al gekyk het (Harry Potter, of selfs Peter Pan, Finding Nemo se begin, Kung Fu Panda, Brave, ens).  Baie keer is dit moeilik om die “scary” dele te kyk – mens wil jou oë toemaak of uit die vertrek uitgaan.  Maar as mens eers een keer die fliek gesien het, dan weet jy hoe dit gaan eindig.  En wanneer jy die einde gesien het, kan jy dapper wees deur die scary dele.
Johannes vertel vir Christene van die einde wat kom – dat God die hemel en die aarde nuut gaan maak.  Dit help ons om dapper te wees.

Next year I’ll be Special

Die storie deur Patricia Reilly Giff gaan oor ’n meisie, Marilyn, wat baie swaar kry in Gr 1 en droom dat dit volgende jaar beter sal gaan.  Sy droom dat Juff Munch volgende jaar steeds die Gr 1’s se juffrou sal wees en dat Marilyn by die vriendelike Juff Lark sal wees.  Marilyn sal gekies word om te help in die klas, die bord skoon te maak, ens.  Sy sal in die boonste groep ingedeel word, waar iemand haar sal help om die moeilike woorde reg te kry.  Wanneer sy uiteindelik die antwoorde regkry, sal die kinders by haar wil sit en haar insluit by hul speletjies.  (Jy gaan waarskynlik nie die boek in die hande kan kry nie, maar maak jou eie storie op oor ’n dogtertjie wat swaar kry maar hoop op ’n beter toekoms.)

Magnetiese Bord
Gebruik enige van die variasies van kinder speelgoed waar jy op ’n bord skryf en dan ’n papier oplig of ’n knoppie beweeg en alles op die bord verdwyn.  Sluit aan by die teks in Johannes.  Verduidelik hoe ons soms goed verkeerd doen – maak merkies op die bord.  Jesus neem die verkeerde goed weg – maak die bord skoon.

Preekriglyn

Notas:

  • Soos in die voorafgaande preke, fokus ons op die historiese agtergrond van die teks, die teks self, en die groter verbande van die teks, voordat die brug na hedendaagse lesers geslaan word.
  • Ons werk in die preek met verse 1 tot 8.

Die fliek Murder on the Orient Express, gebaseer op Agatha Christie se speurroman, word deur iMDB.com as een van die tien beste “whodunnit” speurspanningsflieks ooit gereken.

Die Belgiese speurder, Hercule Poirot, reis met die bekende Orient Express-trein van Istanbul, onderweg na Engeland.  Een van die passasiers vra sy beskerming, maar Poirot weier.  Die volgende dag word hierdie passasier dood in sy kompartement aangetref, en Poirot versoek om die moord op te los.  Die trein word geforseer om te stop weens sneeu op die spore.  Dit gee hom ‘n paar uur om die saak op te los voordat die plaaslike polisie die ondersoek oorneem.  Gedurende die ondersoek kom Poirot agter baie passasiers skakel met ‘n 5-jaar oue ondersoek waarin ‘n kleuter ontvoer en vermoor is, terwyl die baasbrein vervolging ontsnap het.  Dit het tot die dood van die moeder en die selfdoding van die vader aanleiding gegee.  Poirot besef dit kan die sleutel tot die oplossing van die moord wees.  Maar gaan hy dit betyds oplos?

‘n Goeie spanningsfliek laat mens letterlik op die punt van jou stoel sit.

Net soos ‘n goeie speurverhaal.  Deon Meyer is Suid-Afrika se gewildste speurverhaalskrywer.  In sy onlangse 7 dae volg ons speurder Bennie Griesel se week van hel.  “Ek sal elke dag ‘n poliesman skiet, tot julle die moordenaar van Hanneke Sloet aankla,” lees die dreigbrief aan die SAPD.  En dan begin die skietery.  Bennie Griesel moet die dossier onder geweldige druk heropen, terwyl hy sy nuwe vriendin, ‘n sangeres, voor haar openingsaand weghou van die bottel, sy seun keer om nie skandes te maak nie, sy kollegas daarvan weerhou om die ondersoek te kelder, en sy eie, verterende lus vir die helende kragte van drank in toom probeer hou.  Sewe dae van hel.

Mens kan die boek nie neersit voordat die drama teen die laaste bladsye ontknoop nie!

Swaarkry sug vir ontknoping

Sewe dae van hel.  Reeds die titel van Meyer se boek, help die leser verstaan Griesel se smarte eindig na sewe dae.  Sy swaarkry, en die uiterste spanning waaraan hy onderwerp is, duur vir ‘n begrensde tyd.  As onse Bennie moed bly behou, fokus op deurdruk en aanhou, kan hy weet: die saak gaan opgelos word, die familiespanning sal eindig, daar is ‘n liggie voor in die tonnel ….

Die Boek Openbaring wil dieselfde doen.  Dit is geskryf aan gelowiges in die eerste eeu na Christus.  Openbaring troos en bemoedig in ‘n tyd toe gelowiges bitter swaar gekry het.  Die groot verdrukking, weens vervolging deur die Romeinse keiser wat self die titel “god” en aanbidding opgeëis het, sal verby gaan.

Openbaring wil ook Christene se geloofslewe van die werklikheid van transformeer.  Hulle moenie langer sien en dink dat die keiser in beheer van die geskiedenis (ook hul eie) is nie.  God is in beheer.  Die doel is om hulle te transformeer van mense sonder hoop en neerslagtig tot mense wat vasstaan in die geloof en met vreugde hulle lewe leef.

Openbaring is ‘n geestelik-versorgende boek.  Dit is die stem van die Groot Herder wat met sy kudde praat.

Geplaas aan die einde van die Bybel

A geestelik-versorgende boek is openbaring doelbewus teen die einde van die Bybel geplaas.  Openbaring is soos die laaste bladsye van Deon Meyer se 7 Dae.  Dit is die ontknoping in die laaste minute van Murder on the Orient Express se spanningsverhaal.

In hierdie laaste bladsye, waarvan Openbaring 21 letterlik die laaste bladsye van die laaste bladsye is, sien ons die ontknoping van die wêreld se geskiedenis.  Hier verneem ons waarheen alles op pad is.  Die gordyne word gelig sodat ons die einde kan sien.

Ontknoping in die middel van die drama

Op hierdie manier is Openbaring suiwer genade uit God se hand.  Ons leef nog in die middel van die geskiedenis, met geen idee wanneer die laaste bladsye van die boek aanbreek nie.  Ons leef nog in die middel van Murder on the Orient Express, sonder om te weet wanneer die fliek gaan eindig.  Dalk trek ons eers by dag drie van sewe dae van swaarkry.  Ons ken nog nie al die hoogte- en laagtepunte van die drama wat voorlê nie.  Máár ons ken die einde!  Die plek waar alles gaan eindig, die finale ontknoping van die wêreld se geskiedenis, word reeds vooraf deur God aan ons in hierdie bladsye openbaar.

Sodat ons moed kan skep.  En verstandig kan lewe.  Sodat ons – spreekwoordelik – die regte perd kan opsaal.  En die regte rigting inslaan.

Meer oor ons teks: verse 1 tot 8

Volgens Jan du Rand (p. 578) sluit Openbaring 21 verse 1 tot 8 God se oordeelsvoltrekking af, en dien ook as inleiding tot die opwindende aanbreek van die nuwe era, wat in verse 9 tot 27 met beeldspraak as die nuwe Jerusalem beskryf word, en in 22 verse 1 tot 5 as die nuwe Eden.

Voordat God se nuwe era vir God se skepping aanbreek, moet die sonde eers finaal gestraf word.  Daarom is ons teks ook gesien as finale afsluiting van die strafepisode (19:6 – 21:8).  Dit is ook die inleiding tot 21:9 – 22:5 wat vertel van die nuwe verlossing wat vir gelowiges aanbreek.  God se eeue oue betrokkenheid by die mensegeskiedenis bereik sy hoogtepunt wanneer die goddelose finaal verdelg word in die poel van vuur (21:8) en die nuwe Jerusalem uit die hemel verskyn.

Ons teks bestaan uit die volgende momente:
Verse 1 tot 2 bevat ‘n visioen van die nuwe hemel, aarde en Jerusalem.  Die ou hemel en aarde verdwyn, en word vervang met die nuwe hemel en aarde.  Sonde het God se eerste, goeie skepping binnegedring en dit verslaaf aan die verganklikheid en gebrokenheid (Rom. 8:21), daarom moet die ou hemel en aarde met die nuwe vervang word.  Die nuwe bestaan vervang die eerste bestaan wat met sonde besmet was.  Ook die see sal nie meer bestaan nie.  Die see is as bedreiging en oorsprong van die Bose gesien (12:18; 13:1).  In die nuwe bedeling bestaan die Bose nie meer nie, daarom ook nie die see nie.

Dan sien hy die nuwe Jerusalem, van God uit die hemel, versier soos ‘n bruid vir haar man.  Dit is God se groot verrassing, die klimaks van ons bestaan.  Die hoogtepunt van ons verlossing is die koms van die nuwe Jerusalem!

In verse 3 tot 4 word die betekenis van die nuwe Jerusalem verduidelik.  ‘n Harde stem, waarskynlik van ‘n engel, gebruik Ou Testamentiese beelde word verduidelik wat gebeur:

  • God woon nou by mense, Hy slaan tent op (tabernakel) by mense.  Dit is die vervulling van die verbondsbelofte by Sinai, “Ek sal by julle bly en julle God wees, en julle sal my volk wees (o.a. Lev. 26:11-12).
  • “Hulle sal sy volke wees” – die enkelvoud “volk,” volgens die Sinaiverbond, word vervang met die meervoud volke.  God sal die God wees van al die volke wat Hom aanbid.  Die volke word nou saamgebind tot die een nuwe Godsvolk op die nuwe aarde onder God se nuwe hemel.
  • Hierdie nuwe Jerusalem bring nuwe vooruitsigte en voordele:
    • Al die trane van lyding en opoffering word opgedroog
    • Die oorsake van lyding (dood, leed, smart en pyn) verdwyn
    • Die eerste dinge van vroeër, die dekades van hel, het verbygegaan

In verse 5 tot 8 word sewe uitsprake, deur God self vanaf die troon gegee, opgeteken:

  • Kyk, Ek maak alles nuut: God neem die ou skepping en bou die nuwe skepping daaruit; God vervang die gebrokenheid met ‘n nuwe volmaakte begin.
  • Hierdie woorde is betroubaar en waar: Die boodskap van Openbaring is nie ‘n sprokie of mooi storietjie nie, dit is waar en betroubare openbaring van God se toekoms.
  • Dit het klaar gebeur: Die tydvorm van werkwoord (perfektum) dui daarop dat God se nuwe begin onafwendbaar reeds aan die gebeur is.  Ons ervaar die resultate van gebeure wat reeds afgehandel is.  Jesus het reeds aan die kruis gesê: “Dit is volbring”, God se verlossingsplan is onafwendbaar beklink.
  • Ek is die Begin en die Einde: God is die Alfa en die Omega.  God het die skepping begin, en voleindig dit nou met groot regverdigheid.  God ontplooi verlossing en oordeel aan die einde van die wêreld se geskiedenis.
  • Aan elkeen van dors het, gee Ek te drinke: Almal wat verlang na God se verlossing, ook mense wat nou nog God se heerskappy verwerp, word uitgenooi om van God se lewegewende water te kom drink.
  • Die oorwinnaar sal alles kry: Diegene wat glo kan uitsien na ‘n wonderlike erfporsie: om volmaak hulle verbintenis met God te kan beleef.
  • Die ewige straf in die poel van vuur en swael: Mense wat God se heerskappy verwerp, het ook ‘n erfporsie.  Deur ‘n lys sondes soos ‘n klagstaat op te noem, word verduidelik waarom die ongehoorsames God se straf verdien.
Ontknoping

Ons moet hierdie verse – soos vroeër gesê – lees as die ontknoping van God se verhaal met God se skepping.  Die verhaallyne word hier tot ontsluiting kom, was regdeur die Bybel teenwoordig.  Van die begin af lees ons dat God ‘n goeie skepping gemaak het.  Die skepping word geteister deur krisis en sonde.  God bly egter voortgaan om ‘n betroubare wêreld te skep, en mense te leer om in liefde en trou teenoor God en mekaar te lewe.

Hierdie lyne is regdeur die wet, die profete en die Christusverhaal teenwoordig.  God skep ‘n nuwe volk tot seën vir die nasies, God vestig sy koningskap in Israel, God voed sy volk deur straf op in die ballingskap, God bring ‘n oorblyfsel terug na die land, God stuur Sy Seun – alles om genesing en herstel vir die skepping moontlik te maak.

Toepassing

Wat beteken hierdie teks vir ons?

Een: Skep moed
Toe Openbaring aan die gemeentes in die Romeinse provinsie Klein-Asië geskryf is, was die bedoeling om hulle te bemoedig.  Al het alles hoe duister gelyk, is onderstreep dat God in beheer is.  God weet wat God doen, en God is met God sê wêreld onderweg na die heerlike voltooiing en nuut maak daarvan.  Hiervan getuig ons teks.

Twee:  Gee jou lewe vir God se aksie
Regdeur die Bybel word vertel dat God nou reeds, in die hede, besig is om God se skepping te vernuwe en te herstel as die eerste tekens van God se komende ryk.  Ons teks wys waarop God se verhaal, of God se geskiedenis, met die skepping uitloop.  Daarom is die teks ook ‘n uitnodiging aan ons.  Ons word geroep om getrou aan God se bedoelinge te bly.

Prakties is dit ‘n uitnodiging om in God se geskiedenis met die wêreld in te klim.  Ons word uitgenooi om God se storie met die wêreld soos klere aan te trek.  Ons word geroep om Bybelkarakters te word wat getrou aan die Lam bly.

Hoe bly mens getrou aan die Lam in jou lewe van elke dag?  Ons teks help ons deur die teenoorgestelde van God se goeie bedoelings met die wêreld te onderstreep:

Maar dié wat bang en ontrou geword het, die losbandiges, moordenaars en onsedelikes, bedrieërs en afgodsdienaars en al die leuenaars, hulle lot is die poel wat met vuur en swael brand, dit is die tweede dood. (8)

Ontrou aan God se bedoelings is om jy eie kop te volg en vir jouself ‘n wet te wees (losbandig); om jou naaste te ondergrawe en te ondermyn (moordenaar); seksueel en moreel losbandig te wees (onsedelik); vals te wees (bedrieër), onbetroubaar (leuenaar); en jou lewe ten diepste verkeerd te anker (afgodsdienaar).

Om God se verhaal of missie soos klere aan te trek, is om vanuit jou nuwe identiteit in Christus te lewe.

Drie: God se oordeel is goeie nuus
Die gedagte aan God se oordeel val swaar op Westerse ore.  Spesifiek op die plek waar ons kultuur tans is.  In die era van laat-moderniteit (of post-modernisme soos sommige dit wil noem, waar “post” nie soseer “na” beteken nie, maar “groeiende uit”) val die aksent swaar op inklusiwiteit.  Ons is kultureel geprogrammeer om nie te wil veroordeel nie.  Ons wil nie arrogant genoeg wees om te sê ander is verkeerd nie.  Daarom wil ons ook nie ander godsdienstige oortuigings afwys nie.  Ons wil elkeen sy reg gee om te wees en te maak soos hulle wil.  Ander lewensstyle is aanvaarbaar.  Diversiteit is belangrik, ook morele en godsdienstige diversiteit en moet omhels word.  Hierdie beskouing waardeer onsekerheid bo sekerheid, twyfel bo vaste oortuiging.

Die vraag is waar God se oordeel inpas in ‘n alles-omhelsende lewensbeskouing?  Oordeel tussen mense veronderstel tog dat sekeres reg is, en ander verkeerd?

Voordat mens te vinnig oor inklusiwiteit oordeel, moet ons eers die alternatief wat ons kultuur bied, verstaan.  Die alternatief is groeiende fundamentalisme.  Fundamentalisme is om te kies vir die absolute waarheid van jou eie oortuigings, en almal dan in die lig daarvan te beoordeel.  Omdat jy absoluut reg is, is almal wat van jou verskil verkeerd, ‘n gevaar, en moet reggehelp word.  Anders tref die oordeel hulle.

Die vraag is of fundamentalisme God nog kan toelaat om te oordeel.   Kan ons God vertrou om reg en waar te oordeel?  Of sal ons self God speel en die oordeel namens God voltrek?

Beide van hierdie soort denke beroep hom op God.  God is vir sommige die alles-aanvaardende God.  Vir ander is God die absolute Waarheid wat vernietigend oordeel oor mense wat verkeerd is.

Christene moet waak teen beide van hierdie ekstreme pole.  Beide die blote omhelsing van alles en nog wat, asook die absolute sekerheid van jou eie oortuigings, is doodloopstrate.

Die uitdaging is om God op God se Woord te neem.  Om duidelik uit te maak wie God is en wat God van ons verwag.  Dit kan mens nie in isolasie doen nie.  Jy het nodig om na ander te luister.  Jy het nodig om saam met ander na God se Woord te luister.  Mens het nodig om God toe te laat om die koring en onkruid saam te laat groei.  Maar jy het ook nodig om ‘n helder uitsig op God se waarheid te hê, en daarvolgens te lewe.

Want God oordeel uiteindelik.  Nie alles is aanvaarbaar nie.  God maak onreg tot niet.  God weerstaan die goddelose en hoogmoedige.  God laat jou nie toe om te doen wat jy wil nie.  Die voleinding van die skepping sal God se reg duidelik laat blyk.

Dit is daarom wys en verstandig om God se Woord ernstig te neem en daarvolgens te lewe.

Mense wat swaarkry en ly onder ander; mense wat uitgebuit word, verdruk word, doodgemaak word, kan met vrymoedigheid roep dat God tog sal kom om ‘n einde aan die ou dinge te maak.  God sal dit doen, op God se tyd.  God se oordeel is goeie nuus.

Dit is wat Desmond Tutu bedoel het toe hy gesê het:

For us who are Christians, the death and resurrection of Jesus Christ is proof positive that love is stronger than hate, that life is stronger than death, that light is stronger than darkness, that laughter and joy, and compassion and gentleness and truth, all these are so much stronger than their ghastly counterparts.

God se oordeel is goeie nuus.  Dit beteken die oorwinning van goed oor sleg staan vas.

Vier: Ons leef tóg in ‘n morele wêreld
Steeds by die Westerse kultuur.  ‘n Groeiende oortuiging leer die wêreld nie moreel is nie.  Die sg. Nuwe Ateïste verwerp die beskouing dat die wêreld moreel geskape is en dat God sal oordeel.  Richard Dawkins glo byvoorbeeld dat die universum presies die eienskappe het wat ‘n objektiewe mens sal verwag dit moet hê.  Ten diepste ken die heelal geen ontwerp, geen doel, geen boosheid en geen goed nie.  Daar is niks behalwe blinde, genadelose onverskilligheid nie (“nothing but blind, pitiless indifference”).

Evolusionêre bioloog Stephen Jay Gould beskryf mense as ‘n kosmiese ongeluk wat nooit weer sal gebeur nie, selfs al sou die boom van lewe weer geplant kon word nie.  Ons is dus niks meer as komplekse organismes wat deur selfsugtige gene gedwing word om uit eie-belang op te tree nie.

Hierdie lewensbeskouing was nié onbekend in die heersende Grieks-Romeinse wêreldkultuur van die Nuwe Testament nie.  Die mag van die keiser was absoluut, en die keiser het gedoen wat die keiser goed dink.  Politiek, militêre aksie, sakebedrywighede, die hef van belasting, sosiale verhoudinge, die reël van arbeid en produksie, was in die tyd van die Nuwe Testament in die omliggende wêreld in baie gevalle sonder enige morele oorweging beplan en uitgevoer.

Selfs die gode was in die Grieks-Romeinse wêreld immoreel, en het mekaar en mense altoos probeer uitoorlê.  Mense kon maar net by die gode leer.

Filosofies was ook daar ook oortuigings dat die wêreld nie ‘n morele kode ken nie.  Anders as wat moderne Westerlinge mag dink, het ons nie ateïstiese wetenskapsbeoefening nodig om hierdie soort lewensbeskouing op die tafel te sit nie.

Die uiteinde hiervan is natuurlik ‘n onveilige wêreld waar mense aan mekaar doen net wat hulle dink hulle eie belang sal bevoordeel en waarmee hulle dink hulle sal wegkom.

Openbaring is ‘n gesofistikeerde protes teen hierdie lewensbeskouing.  Regdeur die boek word vertel hoe selfsugtige politiek, sakebedrywighede en onreg onder die oordeel van God staan.  Hiermee sal God self afreken.  God het die wêreld gemaak.  God is moreel, en daarom is God se skepping tot in elke vesel daarvan moreel.  Mens saal ‘n verloorperd op as jy immoreel lewe.

Vyf: Lewe soos die Lam
Wanneer leef mens wel ooreenkomstig God se bedoelinge met God se wêreld?  Volgens Klaas Nürnberger (in sy boek Regaining Sanity for the Earth, soos aangehaal in die Bybel-Media preekriglyne) is Jesus Christus die beliggaming van God se bedoelinge.  In Openbaring speel die Lam daarom juis dié sentrale rol.  Sy selfopoffering wys onmiskenbaar dat God goed is en ook hoe goed God is.  Só goed dat Hy Homself offer.  Daarom moet ons praat van God se “sacrificial benevolent intentionality”.  Die Lam offer Homself vir die welsyn van die skepping.  Die nuwe hemel, aarde en Jerusalem is die vrug van die offer van die Lam.

Van ons verwag God om onsself, selfopofferend, te gee vir die welsyn van ander en vir die versorging van God se skepping.  Hierdie diensbaarheid word nie deur die wrede wêreld beloon nie, maar eerder geminag.  Tog is die dood en opstanding van Jesus Christus bewys dat liefde en diens sterker as haat is (Tutu).

Openbaring bring nie valse troos nie.  Dit sing nie susliedjies wat die harde realiteite van die lewe wil versag nie.  Openbaring troos ons nie soos susmiddels of dwelmmiddels deur ons uit die werklikheid waarin ons daagliks lewe te verplaas na ’n ander wêreld nie.

Openbaring sê: God oorwin boosheid deur die Lam.  Laat ons daarom lewe soos die Lam.  Só word ons deel van God se nuut maak van God se wêreld.

Ja, ons ken die plot.  Die laaste bladsye van die geskiedenis is vir ons oopgeslaan.  Laat ons daarom met insig lewe.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer
Speel Handel se “Worthy is the Lamb” (toonsetting van Openbaring 5:12-13)
Of Louis Brittz se “In die Hemel is die Heer

Slotlied
Lied 599 As “Hy weer kom, as Hy weer kom”
Flam 42 “Alles het nuut geword”

Seën

Respons
Lied 599 se refrain of
Speel Handel se “Amen
Terwyl mense uitstap, kan jy weer Handel se “Hallelujaof Michael W Smith se “Agnus Dei speel.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.