Vyfde Sondag van Paasfees

Sections

Oorsig

Ander tekste

Psalm 31:1-5, 15-16 (NAV 1-6, 16-17); 1 Petrus 2:2-10; Johannes 14:1-14.

Fokusteks

Handelinge 7:55-60
1. Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.
2. “Kyk,” het hy gesê, “ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.”
3. Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm,
4. hom uit die stad uitgesleep en gestenig. Die getuies het hulle klere neergesit by ‘n jongman met die naam Saulus.
5. Terwyl hulle vir Stefanus stenig, het hy geroep: “Here Jesus, ontvang my gees!”
6. Toe het hy op sy knieë neergesak en hard uitgeroep: “Here, moet hulle tog nie hierdie sonde toereken nie!” Met hierdie woorde het hy gesterwe.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Kom, alles wat groot is in die skepping, kom,
prys die Here!
kom, berg Kilimandjaro en Victoriameer,
kom, Skeurvallei en Serengeti-vlakte,
kom, vet kremetarte en mangobome,
geelhoutbome en amaroelas,
kom, loof die Here!
Jubel en juig in Hom vir ewig en ewig.
Kom, al julle kleintjies:
Werkende swart miertjies en dansende vlinders,
besige paddavissies en lieweheerbesies;
kom, julle springende sprinkane
en spattende waterdruppels;
kom, stuifmeelspikkels en vuurvliegies,
grassade en alle ander plantjies,
kom, loof die Here!
Jubel en juig in Hom vir ewig en ewig.
Amen.
(Uit: Van Rensburg, Ewald, God seën Afrika, Lux Verbi 2009, bl 61-62.)

Liedere

Liedboek 417
Flam 1 en 21.

Herinnering aan die opstanding en hemelvaart van Jesus
Laat iemand Efesiërs 1:18-23 voorlees.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Wie van die kinders weet wat ‘n martelaar is?
Ja, dit is iemand wat gemartel word omdat hy of sy glo. In die geskiedenis van die kerk was daar baie Christene wat gemartel is net omdat hulle in Jesus glo!

Sommige van hulle is in ‘n arena gesit saam met leeus. ‘n Arena is amper iets soos ons rugbystadions. In die middel was daar ‘n oop gedeelte en rondom baie sitplekke vir die toeskouers. Die mense het dus gesit en kyk hoe die leeus die Christene verskeur. Dit is verskriklik wreed, nè?

‘n Ander manier van marteling was die brandstapels. Hulle is op ‘n groot stapel hout vasgemaak, en as hulle nie hulle geloof in Jesus wou prysgee nie, is die hout aan die brand gesteek. Dit is wreed, maar baie van hulle het die Here geprys terwyl hulle in die vlamme gesterf het!

Dink julle daar is vandag nog mense wat vir hulle geloof in Jesus gemartel word?
Mens kan dit amper nie glo nie, maar daar is nog steeds martelare! Een van die plekke waar dit redelik onlangs nog gebeur het, was Soedan, in die noorde van Afrika. Die regering was onder die beheer van Moslems en hulle wou die Christene uitroei. Daar was ‘n lang burgeroorlog tussen die groepe – vir 22 jaar lank (van 1983 tot 2005). Twee en ‘n half miljoen mense is doodgemaak. Helfte van hulle was van die Episkopaalse kerk. Baie kerkleiers is uitgesonder en het ‘n marteldood gesterf.

Kamal Tutu, ‘n Christen in die suide van Soedan, het kwaai brandwonde opgedoen toe die regering hulle kerk aangeval het. Hy vertel: “Hulle het die priester gevang en hom vermoor, saam met ander priesters in die omgewing. Baie mense is in die kerk aan die brand gesteek. Hulle het my vasgemaak en my in die son gelos. Nadat hulle die kerk met die mense daarin afgebrand het, het hulle my op die gloeiende kole van die afgebrande kerkgebou gegooi. Toe het hulle vertrek. My hande is permanent geskend. My vrou moet nou alles vir my doen, want ek kan niks self doen nie – nie eens op my eie eet nie. Maar Jesus bly my alles.”

Ten spyte van hierdie wrede vervolging, het die Christendom verstommend gegroei. In 1983 was net 5% van die bevolking in die suide van Soedan Christene. Vandag is meer as 85% van die ses miljoen mense daar Christene.

Daarom word dikwels gesê: Die bloed van die martelare is die saad van die kerk. Dit beteken: As Christene bereid is om te ly omdat hulle in Jesus glo, oortuig dit ook ander om in Hom te glo.

In 1 Petrus 2:21 lees ons: “Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely het en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.”

Is jy bereid om te ly omdat jy vir Jesus volg? Of kom ons vra dit liewers só: Het jy vir Jesus só lief dat jy sal opstaan teen alles wat sy naam oneer of skade aandoen?

Dit is waaroor vanoggend se preek ook gaan. Ons gaan bietjie gesels oor die verhaal van nog ‘n martelaar. Sy naam was Stefanus. Hy het in Jesus se voetspore gevolg en daarom is hy gestenig. Hulle het hom met klippe doodgegooi…
(Verhaal oor Soedan aangehaal uit Ewald van Rensburg se boek: God seën Afrika , Lux Verbi 2009, bl 67-69.)

Preekriglyn

Stefanus sterf as ‘n martelaar. Sover bekend die eerste martelaar in die vroeë kerk. Hy is wreed met klippe doodgegooi. Gestenig.

Hoekom? Wel, hy het hom vasgeloop in die godsdienstige leiers van die Jode. Hulle het nie gehou van die boodskap wat hy verkondig het nie.

Hulle het hom kammakastig verhoor – en skuldig bevind. Maar dit was ‘n tipiese “bosverhoor”. Valse beskuldigings oor uitlatings in verband met die tempel en tradisie van Moses.

Dit is duidelik: Sy eintlike misdaad was sy geloof in Jesus. Hy het ‘n oop hemel gesien, met Jesus wat aan die regterhand van God staan. Dié Jesus, wat opgevaar het na die hemel, was vir Stefanus so ‘n werklikheid, so naby aan hom, dat hy maar net agter Hom aan wou loop.

Daaroor het hy baie vrymoedig getuig, maar in die proses nogal bietjie astrant op die Jode se tone getrap! Daarom neem hulle die reg in eie hande. Hulle ruim hom eenvoudig uit die weg. Maak hom van kant.

Dit word die katalisator vir ‘n hewige vervolging van die kerk (Hand 8).

Nou wil ‘n mens dadelik sê: Wel, dit is ‘n lekker sappige storie om oor te vertel. Sensasioneel. Iets wat vandag die koerante se voorblad sou kon haal. Dit is tog iets besonders, buitengewoon. Iemand wat bereid is om sy lewe te gee vir sy geloof. Maar … het dit enige boodskap vir ons gewone mense; vir ons as Christene wat vanoggend in die kerk sit?

Die idee van martelaarskap lyk bietjie verdag in ons tyd. Dit klink te veel na fanatisme. En dit druis reglynig in teen die postmoderne tydsgees waarin ons vir alle moontlike oortuigings ruimte wil gee. Om jou eie oortuiging so te verabsoluteer dat jy daarvoor sal sterf, nou ja, dit is té ekstremisties, vergesog. Dit is wat mense soos Al Qaeda se selfmoordbomplanters sal doen. Dit is fanaties. Daarom is dit uit. Onaanvaarbaar. Dit pas nie by Christene nie …

Nou moet ek erken dit sou bietjie vergesog wees as die tema van hierdie preek sou wees: Die Here vra van ons almal om martelaars te wees!

Maar … dalk moet ons nie té gou die baba met die badwater uitgooi nie! Want martelaarskap is beslis nie vreemd aan Christenskap nie. Daarvan is Stefanus die bewys. Miskien moet ons verder gaan en sê: Daarvan is Jesus sélf die bewys! Want eintlik was Stefanus nie regtig die eerste martelaar in die vroeë kerk nie, maar Jesus. Wat is die kruis anders as ‘n marteldood? Om gestenig of gekruisig te word – dit is amper ewe wreed.

Daarom moet ons nog bietjie verder kyk na wat met Stefanus gebeur het. Wat het hy nou eintlik gedoen om ‘n martelaar te word?

Wel, hy het aanvanklik geredeneer met ‘n paar ouens uit Afrika (Libië en Egipte!) wat aan die sinagoge van die Vrygemaakte Slawe behoort het. Hy het hulle ore aangesit. Lukas sê hulle was nie opgewasse teen die wysheid wat die Heilige Gees vir Stefanus gegee het nie.

Toe laat hulle die storie versprei: “Ons het hom teen Moses en God hoor laster.” Dit klink nogal bekend. Dit is mos presies waarvan Jesus ook beskuldig is. Soos Jesus, word Stefanus ook voor die Joodse Raad gesleep.

As hulle vir hom vra of dit waar is, gryp hy die kans en steek ‘n lekker lang preek af. Dié preek lyk na ‘n bra vervelige geskiedenisles. ‘n Mens sou kon dink dit was sekerlik niks nuuts vir die Joodse Raad nie. Maar daar sit wel ‘n paar skerp angels in dié les versteek.

Hy dui aan hoe die Jode telkens in die geskiedenis God se boodskap verwerp het. Dit het met die meeste van die profete gebeur, maar veral ook met Moses. Uiteindelik loop hierdie patroon uit op die verwerping van Jesus en sy boodskap, van wie Moses duidelik ‘n voorloper was, volgens Stefanus.

In die loop van sy preek bring Stefanus ook die tempel in die prentjie. Moses het al die tabernakel (die tent met die getuienis) laat maak, maar die Jode het telkens afgode in plaas van die ware God aanbid. En toe Salomo uiteindelik die tempel bou, het hy dit self uitdruklik gestel dat God nooit daarin vasgekeer kan word nie.

Nou kyk, dit is duidelik: As jy die Jode wou kwaadmaak, moes jy net ‘n skewe aanmerking oor die tempel maak. Dit was mos een van die hoofaanklagte teen Jesus ook.

Hoekom? Wel, dit tas hulle heilige tradisie aan. En as jy aan godsdienstige mense se tradisies raak, is die vet dadelik in die vuur.

Dit gebeur maar vandag nog in ons kerke ook.
As dit by kerklike tradisies kom, is daar sekere onderwerpe wat predikers behendig vermy. Of as hulle sou waag om daaroor te praat, moet hulle maar voorbereid wees op ‘n tipe martelaarskap.

As ons na ‘n konkrete voorbeeld soek, sou ons dalk kon dink aan die gestoei rondom die Belydenis van Belhar. Hierdie belydenis is mos onlangs by die Sinode van Wes- en Suid-Kaap bespreek. Daar was ‘n voorstel dat dit as vierde belydenisskrif deur die Algemene Sinode aanvaar moet word. (Met die voorbereiding van hierdie preek is die uitslag natuurlik nog nie bekend nie.) (Redakteur: die besluit is deur die Wes-Kaap sinode aanvaar met ‘n 80% stem daarvoor.)

Hierdie is ‘n saak waaroor die emosies hoog loop. Wat die sinodes ook al sê, is dit ‘n feit dat daar heelwat gemeentes is waar die brandstapels aangesteek sal word vir enigeen wat hierdie belydenis durf verdedig of aanprys. Nie omdat daar regtig met die inhoud fout gevind kan word nie. Meeste mense wat dit afskiet, het nie regtig die moeite gedoen om dit te bestudeer nie. Hulle sou dalk net ontdek dat dit eg Bybels is! Maar nee, hulle is uit “beginsel” daarteen gekant, bloot omdat hulle vermoed dat dit moontlik ‘n denkskuif in ons kerklike tradisies kan veroorsaak.

Dit is ironies dat dit dikwels die kerk is wat van sy eie mense martelaars maak. Meestal juis oor geloofsake. Hulle word tot ketters verklaar en gestenig, of op ‘n brandstapel gesit. Ja, daar was ‘n tyd in die vroeë kerkgeskiedenis toe die Christene deur die owerhede vir die leeus gevoer is, bloot omdat hulle hulle geloof in Christus bely het. Maar toe word die kerk ‘n staatskerk, met geweldige status en mag en vaste tradisies. En wee die een wat dit sou teëgaan!

Dalk stenig ons nie meer mense soos wat met Stefanus gebeur het nie. Ons het egter wel die vermoë om effektief hulle stem stil te maak.

Waag dit net om te sê die tempel is nie ‘n heilige koei nie – God kan nooit daarin toegesluit word nie – dan sien jy wat gebeur! Waag dit net om vrae oor die kerklike tradisies te vra en die vet is in die vuur. Toe dit in die pers bekend word dat Bybel-Media ‘n boek van Frits Gaum gaan publiseer met die titel: Fluit-fluit, die kerk is uit? het daar ‘n taamlike herrie in die koerante se briewekolomme losgebars, nog voordat die boek verskyn het! Die koerante wou sensasie hê en het gesuggereer dat Gaum sê die NG Kerk se dae is getel. Die laat mense dadelik rooi sien …

Ons gooi dalk nie meer klippe nie, maar ons weet hóé om mense swart te smeer, onder verdenking te plaas, karaktermoord te pleeg. Dit is ook maar ‘n soort steniging, ‘n brandstapel, ‘n houtkruis!

Die vraag is: Waarvoor sal ons bereid wees om martelaars te word? Sal jy jou lewe gee, of jou reputasie, ter wille van jou geloofsoortuiging?

In sy nuwe boek oor die hemelvaart van Jesus ( Waar is Jesus nou? ) skryf Coenie Burger oor die gevaar van fundamentalisme (p 29). Hy sê fundamentaliste raak dikwels fanaties oor die Bybel, oor sekere reëls en beginsels wat ons moet toepas en uitvoer. Hy sê daar is sekere konserwatiewe Protestante wat ‘n vreemde soort hardheid ontwikkel in die verdediging van die waarheid. Volgens hom is dit toe te skryf aan die feit dat hulle nie verstaan dat Jesus, ook ná sy hemelvaart, steeds by ons teenwoordig is nie. Daarom klou hulle aan die Bybel vas, maar die Bybel is nie vir hulle die verhaal en stem van die lewende Heer nie. Dit is vir hulle ‘n reëlboek waaruit ons beginsels, uitgangspunte en wette aflei wat stiptelik nagekom moet word.

Vir dié soort verdediging van die waarheid kan mens natuurlik ook ‘n martelaar word. Met ‘n houding van raak nie, smaak nie, roer nie aan nie, kry jy wel gou die wind van voor. Maar is dit ‘n geldige martelaarskap?

Stefanus se getuienis voor die Joodse Raad was nogal parmantig. Vers 51: Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Hy beskuldig hulle daarvan dat hulle altyd God se boodskappers vervolg en doodgemaak het. En nou het hulle self die Regverdige, hulle Messias, verraai en vermoor.

Sterk woorde. Konfronterend. Uitdagend. Geen wonder nie dat die Jode op hulle tande begin kners het. Maar in daardie oomblik kyk Stefanus, vol van die Heilige Gees, op na die hemel en sien die heerlikheid van God en Jesus wat aan die regterhand van God staan (vs 55).

Hier kry ons die antwoord op die vraag van Burger se boek: Waar is Jesus nou? Hy is aan die regterhand van God. Die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) se weergawe van dié uitdrukking is betekenisvol: Hy het Jesus in die regeerposisie reg langs God sien staan. Hy het nie in die hemel in verdwyn toe Hy opgevaar het nie. Hy is in die regeerposisie – alle mag is aan Hom gegee. En Hy is betrokke by ons. Die hemel is oop. En Jesus staan!

Baie eksegete lewer kommentaar op die feit dat Stefanus Jesus sien staan. Dit is ongewoon. Op al die ander plekke waar dit ter sprake kom, sit Hy aan die regterhand van God. Hoekom staan Hy hier?

‘n Mens moet sekerlik versigtig wees om nie té veel in hierdie besonderheid in te lees nie. Die betekenis word nie in die teks uitgespel nie. Party kommentare sê Hy staan, want Hy is gereed vir aksie. Hy verwelkom as’t ware vir Stefanus. Hy wys sy betrokkenheid. As mens jou verbeelding gebruik, sou jy kon sê Hy staan, want Hy is opgewonde! Dalk gee Hy applous, klap Hy hande vir Stefanus!

In die lig hiervan is dit tog interessant dat Jesus nie ingryp en verhoed dat Stefanus gestenig word nie. Ja, Hy het alle mag in die hemel en op aarde (Matt 28:19). En ja, Hy sien wat gebeur. Hy is nie afwesig nie. Hy het nie weggeraak toe Hy opgevaar het nie. Hy is by ons. Maar Hy keer nie noodwendig dat swaarkry en selfs marteling oor ons pad kom nie. Hy is by ons terwyl dit gebeur en dra ons daardeur. Daarom sien Stefanus Hom staan.

Dit is alleen maar deur sy teenwoordigheid dat ons regtig kan weet wat die dinge is waarvoor ons bereid moet wees om te sterf. Die Bybel en sy waarhede is vir ons belangrik, maar dit is alleen wanneer die lewende Here voor jou staan dat jy weet dat geen verguising of marteling jou sal keer om te getuig van dit wat Hy jou op die hart lê nie.

As hulle jou dan wil stenig omdat jy bereid is om by die werk, by die skool, op die sportveld, in jou vriendekring, by jou eie huis, ja, orals te wys dat jy aan Jesus behoort, dat Jesus jou Koning is, sal jy ook die moed hê om te sê: Laat die klippe maar kom … Ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens wat aan die regterhand van God staan.

As jy weet dat dié Jesus, wat opgevaar het na die hemel, wat regeer oor hemel en aarde, ook bý jou is, sal jy die moed hê om te sê: Ek gaan nie saamlag vir vuil en rassistiese grappe nie; ek gaan nie meedoen aan onetiese praktyke nie; ek gaan nie ander mense uitbuit vir my eie gewin nie; ek maak geen kompromieë oor belangrike Christelike waardes nie. Waardes soos eerlikheid, integriteit, betroubaarheid, respek vir ander, deernis (veral teenoor randfigure, dié wat swaarkry), openheid teenoor dié wat van my verskil (ook ander kulture en gelowe). Al kos dit my ook wat. Al moet ek ly. Al word ek gestenig of gekruisig.

Ons het pas die munisipale verkiesings gehad. Kan jy jou indink watter verskil dit aan ons samelewing kan maak as die mense wat ons verkies het – en waarskynlik is ‘n meerderheid van hulle Christene! –maar net die moed gehad het om regtig op te staan vir ‘n konsekwente Christelike lewenswyse volgens Jesus se voorbeeld? Moenie ‘n fout maak nie, hulle sal beslis die wind van voor kry. Wie vir Christus wil volg, sê ja vir die kruis! Dit is juis wat die verskil maak …

Kyk maar na Stefanus. Dit is merkwaardig dat Stefanus se optrede hier, terwyl hy sterf, byna ‘n spieëlbeeld is van wat Jesus gedoen het op Golgota. Hy gee sy gees oor, nie aan die Vader nie, maar aan die verhoogde Here, Jesus. En hy sterf met die gebed op sy lippe dat die Here hulle tog nie hierdie sonde moet toereken nie. Presies soos Jesus gedoen het.

Niemand van ons soek martelaarskap nie. Maar ons kan nie daarby verbykom dat lyding ter wille van die evangelie een van die oortuigendste vorms van getuienis is nie. Die bloed van die martelare was nog altyd die saad van die kerk! Lyding, saam met of ter wille van Jesus wat aan die regterhand van God sit (of staan!), het die krag om die wêreld te verander.

Dit is nie om dowe neute dat Lukas vertel van Paulus wat hierdie hele petalje staan en bekyk het nie. Hy het nie daar en dan verander nie. Tog kan ‘n mens jou voorstel watter indruk dit op Hom gemaak het. Die saad was geplant. En dit het ontkiem toe Paulus self die lewende Here op pad na Damaskus ontmoet het. Maar ek dink Jesus het hier al geglimlag – en dalk gestaan om vir Stefanus hande te klap!

Ons vier binnekort die hemelvaart. Ons moet dit nie sien as Jesus se weggaan nie. Dit was eintlik sy troonsbestyging. Sien jy Hom staan in die regeerposisie? Het Hy rede om vir jou hande te klap?

Dalk moet ons saam met die Soedanese Christen bid wat gesê het:
Goeiemôre, Here!
Ek is lief vir U.
Wat gaan U vandag doen?
Ek wil graag deel daarvan wees!
Dankie, Here!
Amen.
(Uit: God seën Afrika, Lux Verbi 2009, bl 224.)

God stuur ons om te leef

‘n Afrikagebed
Ek is net ‘n vonkie,
maak my ‘n vuur, Here!
Ek is net ‘n snaar,
maak my ‘n ramkietjie.
Ek is net ‘n druppel, Here,
maak my ‘n fontein.
Ek is net ‘n molshoop,
maak my ‘n berg.
Ek is net ‘n veertjie,
maak my ‘n vlerk.
Ek is net ‘n bedelaar, Here,
maak my die Koning se kind!
Ek loof U, want U het my gebed verhoor.Amen.
(Uit: God seën Afrika, Lux Verbi 2009, bl 66.)