Vyfde Sondag van Lydenstyd

Picture of Preekbundel
This content is only available to members.

Sections

Oorsig

Jesus wat vir Lasarus uit die dood opwek (Joh. 11), is ‘n vooruitwysing na Jesus se eie opstanding uit die dood en van ons opwekking tot ‘n nuwe lewe deur die Gees wat in ons woon (Rom. 8). Dit sluit aan by die belofte aan Israel dat hulle uit die doodsbestaan van die ballingskap tot nuwe lewe gewek sal word (Eseg. 37). Dit maak dit vir ons moontlik om vanuit die diepste dieptes van die lewe steeds op die troue liefde van God te vertrou (Ps. 130).

Sleutelteks

Romeine 8:6-11
‘N LEWE ONDER BEHEER VAN DIE GEES
81Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in •Christus Jesus is nie. 2Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. 3Dit waartoe die wet, verswak deur ons sondige aard, nie in staat was nie, het God gedoen: Deur sy eie Seun vanweë die sonde in die gestalte van ‘n sondige mens te stuur, het Hy die sonde in die mens veroordeel, 4sodat die vereiste van die wet in ons vervul kon word, ons wat nie volgens ons sondige aard leef nie, maar volgens die Gees. 5Wie volgens hulle sondige aard leef, bedink immers die dinge van hulle sondige aard, maar diegene wat volgens die Gees leef, bedink die dinge van die Gees.

6Die denke van ons sondige aard loop uit op die dood, maar die denke van die Gees bring lewe en vrede. 7Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God; dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. 8Wie in hulle sondige aard bly, kan God nie tevrede stel nie.

9Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees – as die Gees van God inderdaad in julle woon. As iemand nie die Gees van Christus het nie, behoort hy nie aan Hom nie. 10Maar as Christus in julle is, is die liggaam, as gevolg van die sonde, wel dood; daarenteen, op grond van die regverdiging, is die Gees lewe. 11As die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat Christus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

12Daarom dan, broers, het ons ‘n verpligting – maar nie teenoor ons sondige aard, om daarvolgens te leef nie. 13Want as julle volgens julle sondige aard leef, sal julle sterf. Maar as julle deur die Gees die praktyke van die liggaam doodmaak, sal julle leef. 14Almal wat deur die Gees van God gelei word, hulle is kinders van God. 15Julle het immers nie ‘n Gees ontvang wat verslawing bring, sodat julle weer bang hoef te wees nie; nee, julle het die Gees ontvang wat bevestig dat ons tot kinders aangeneem is, en deur Hom roep ons “Abba, Vader!” 16Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is. 17Maar as ons kinders is, is ons ook erfgename – erfgename van God en mede-erfgename met Christus mits ons inderdaad saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

Ander tekste

Esegiël 37:1-14;
Ek sal julle terugbring
37 Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in ’n laagte. Die laagte was vol bene. 2Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.

3Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”
Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

4Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! 5So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: 6Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

7Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek ’n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. 8Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. 9Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

10Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was ’n baie groot menigte. 11Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’12Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe. 13Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. 14Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here.

Psalm 130;
Ek wag op die Here
130 ’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Johannes 11:1-45
Die dood van Lasarus
11 ’n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. 2Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. 3Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.”

4Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

5Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. 6Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. 7Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.”

8Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?”

9Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in ’n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. 10Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.”

11Hierna het Hy vir hulle gesê: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

12Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.”

13Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap. 14Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, 15en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”

16Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”

Jesus by Marta en Maria
17Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.

18Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; 19en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos.

20Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. 21Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

23Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

27“Ja, Here,” sê sy vir Hom, “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

28Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. 30Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. 31Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. 32Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

Jesus laat Lasarus uit die dood opstaan
33Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?”
Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.”

35Jesus het gehuil. 36Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”

37Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”

38Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ’n rotsgraf, en daar was ’n klip voor die ingang gerol. 39Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”
Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

40Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

41Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

43Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!”

44Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ’n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

Die Joodse Raad besluit om Jesus dood te maak
(Matt 26:1–5; Mark 14:1–2; Luk 22:1–2)
45Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

Ekstra stof

Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is
Daar is net een manier om die Christelike lewe te leef, en dit is deur die Gees. Geen wonder Hy word 20 keer genoem in hierdie hoofstuk nie!

‘n Oorwinnende Christelike lewe kan nooit deur die wet gebeur nie, daarvoor is ons sondige vlees te swak. Dit kan net wees deur ‘n daaglikse oorgawe aan die beheer van die Gees waardeur ‘n einde gemaak word aan ons sondige praktyke (8:13). ‘n Mens kan selfs sê soos Paulus dat daar ‘n nuwe wet is, die wet van die Heilige Gees (8:2).

Hiermee sluit Paulus aan by ‘n hele paar OT profete wat reeds ‘n paar 100 jaar tevore verkondig het dat ware verandering net deur God self kan kom. Jeremia het daaroor gepreek in Jer. 31:31-34, Esegiël het dit aan die ballinge verkondig in Eseg. 11:19-20, en Jesaja laat ook van hom hoor in Jes. 65:17-25.

Let op hoe Paulus dit as ‘n geestelike werklikheid skets (8:9), maar ook as ‘n fisiese konkrete werklikheid: “sal ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (8:11). Net soos Jesus uit die dood opgewek is, sal die Gees ons ook uit die dood opwek.

Maar, en dit is baie belangrik, hierdie werk van God word nie ‘n werklikheid vir ons sonder dat ons ons daarop toelê nie. Ons het ‘n verpligting om deur die Gees ‘n einde te maak aan ons sondige praktyke, iets waarop Paulus in hoofstuk 12 en verder aan weer sal terugkom.

Leesrooster vir lidmate

Romeine 8:6-11
Paulus help ons die transformerende liefde van God verstaan.

Moment 1
Die Gees leef in ons
In hierdie gedeelte van Romeine beklemtoon Paulus die kontras van iemand wat vanuit die Gees lewe teenoor iemand wat in sonde lewe. Ons gelowiges se aksies word hier onder die kollig geplaas. Paulus beeld die kontras uit tussen iemand wat getransformeer word deur die Gees van God en iemand wat voortgaan met ‘n sondige bestaan. Paulus wil die leser herinner dat dieselfde Gees van God wat Christus uit die dood opgewek het, nou binne elke gelowige lewe. Hoe beleef jy God se teenwoordigheid in jou lewe elke dag?

Moment 2
Jesus vervul die wet
Vandag se teksgedeelte is deel van ‘n groter gesprek waarmee Paulus besig is en wat veral fokus op die wet van God. Volgens Paulus was die wet nooit veronderstel om die begin en einde van God se verhaal met Israel te wees nie. God se verlossing word volbring aan die kruis. Dit is deur hierdie verlossingsdaad dat die sterflike en sondige natuur van die mens getransformeer word. Ons vertrou dus nie op onsself nie, maar lewe vanuit God se genade. Wat beteken dit vir jou om getransformeer te word deur die Gees? Lewe jy anders vandat jy God leer ken het?

Moment 3
God bring nuwe lewe
Al hierdie week se leesroostertekste fokus op God wat nuwe lewe gee. God wat iets lewend maak wat dood was, is so ‘n algemene metafoor in die Bybel, dat dit glad nie vreemd vir ons klink nie. Tog sê dit dat God die onmoontlike moontlik maak deur iets nuut te maak. Aan die einde van Lydenstyd is dit juis hierdie paradoks van lewe uit die dood wat aan die voorpunt van ons geloofslewe staan. Vir iets nuuts om te begin moet iets anders doodgaan. Wat moet in jou lewe sterf?

Moment 4
Die God wat droë bene lewend maak
Esegiël 37 se beeld van droë bene wat weer lewend word en Johannes 11 se verhaal van Lasarus wat uit die dood opstaan, is van die bekendste en kragtigste beelde in die Bybel. Paulus herinner dat dit dieselfde Gees is wat binne elke gelowige lewe en hulle vernuwe. Die Here is baie magtiger as wat enigeen kan begryp. Gaan sit en dink aan oomblikke in jou lewe waar jy voel God deur jou gewerk het. Is daar oomblikke waar God nuwe lewe in jou dooie bene ingeasem het? Skryf jou getuienis neer en gaan deel dit met ‘n vriend.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aanvangswoord: Romeine 12
of
V: Uit die dieptes roep ek na U, Here,

Seëngroet 

Lied: 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Wet: Romeine 12 (as oproep tot skuldbesef)

Riglyne vir die Christelike lewe

Skuldbelydenis

Gebed: ahv Psalm 130

Vryspraak: (Uit Romeine 8)

Geloofsbelydenis: – Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Epiklese

Skriflesing: Romeine 8:6-11

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Aanvangswoord: (Psalm 130)
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag…
of
V: Uit die dieptes roep ek na U, Here,
luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
G: Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.

V: As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
Maar by U is daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
G: Ons wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wag ek op die môre.

V: Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
G: Hy alleen sal ons verlos
van al ons sondes.
– uit Psalm 130

Seëngroet 
Genade en vrede van God die Vader
wat sy Seun na die wêreld toe gestuur het,
van Jesus Christus die Gekruisigde
en van die Heilige Gees wat ons aan Christus verbind.

Lied: 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Wet: Romeine 12 (as oproep tot skuldbesef)

Riglyne vir die Christelike lewe
9Die liefde moet opreg wees.
Verafsku wat sleg is
en hou vas aan wat goed is.
10Betoon hartlike broederliefde
teenoor mekaar;
bewys eerbied teenoor mekaar
en wees mekaar daarin tot voorbeeld.
11Moenie in julle toewyding
verslap nie,
bly altyd geesdriftig,
dien die Here.
12Verbly julle in die hoop;
staan vas in verdrukking;
volhard in gebed.
13Help die medegelowiges
in hulle nood
en lê julle toe op gasvryheid.
14Seën julle vervolgers,
ja, seën hulle,
moet hulle nie vervloek nie.
15Wees bly saam met dié wat bly is
en treur saam met dié wat treur.
16Wees eensgesind onder mekaar.
Moenie hooghartig wees nie,
maar skaar julle by die nederiges.
Moenie eiewys wees nie.
17Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.
18As dit moontlik is,
sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense.
19Moenie self wraak neem nie,
geliefdes,
maar laat dit oor aan die oordeel
van God.
Daar staan immers geskrywe:
“Dit is mý reg om te straf;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.
20“As jou vyand honger is,
gee hom iets om te eet;
as hy dors is,
gee hom iets om te drink;
want deur dit te doen,
maak jy hom vuurrooi
van skaamte.”
21Moet jou nie deur die kwaad
laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad
deur die goeie.

Skuldbelydenis

Gebed: ahv Psalm 130
Here…
by wie daar troue liefde is;
by wie verlossing séker is:
hoor my hulpgeroep en luister tog:
Ek wag op U Here,
want by U is daar vir my vergifnis;
My siel wag op U Here,
meer as die nagwagte wag op die dagbreek,
want U waarborg die vervulling van U Woord.
Ek vertrou op U Here,
want alleen by U is verlossing seker.
In U genade word ek vergewe en
aan my sondes en ongeregtighede dink U nie meer nie.
U alleen is my verlosser!

Vryspraak: (Uit Romeine 8)
Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in •Christus Jesus is nie. 2Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.

Deur sy eie Seun vanweë die sonde in die gestalte van ‘n sondige mens te stuur, het Hy die sonde in die mens veroordeel…

9Julle, daarenteen, bly nie in julle sondige aard nie, maar in die Gees –

Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is
en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.
– Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied: 197 “Wonderbare Koning 1,2”

Liedere

VONKK 53. “Skuil By Die Vader”
Teks: Pieter Malherbe 2006/2009 ©
Melodie: VADERLIEFDE – Pieter Malherbe 2006 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2009
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Skuil by die Vader,
Hy is genadig.
Daar’s niemand soos Hy nie,
Hy’s altyd getrou.
Hy is vol deernis,
Hy ken jou onrus.
Sy liefde beskerm jou,
Hy’s altyd getrou.

Refrein:
O Vader, ons aanbid U,
voor U kom kniel ons neer.
O Vader, ons aanbid U,
ons kom vrymoedig weer,
want U’s die Een by wie ek veilig skuil.
Ja, U’s die Een by wie ek veilig skuil.

2.Skuil by die Vader,
Hy trek jou nader.
Hy gee jou genade,
Hy’s altyd by jou.
Hy sal vergewe,
Hy gee jou lewe.
Hy hoor jou gebede,
jy kan Hom vertrou.

Refrein:
O Vader, ons aanbid U,
voor U kom kniel ons neer.
O Vader, ons aanbid U,
ons kom vrymoedig weer,
want U’s die Een by wie ek veilig skuil.
Ja, U’s die Een by wie ek veilig skuil.

F339. Gees Van God, Kom Neem Nou Beheer (Roem In U Naam)
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Gebed) Teks en musiek: Ferreira Marais Kopiereg: Ó 2009 Flam Musiek-Uitgewers
(Opgeneem op In U Hande – Trefpunt)

Gees van God, kom neem nou beheer
van ons denke en ons harte,
van ons vrese en ons vlees.
Gees van God, kom lei ons vandag
in ons passie en aanbidding,
in u wysheid en u krag.
En ons hef ons hande op na U
en ons sing uit ons harte vir U.
Ons roem in u Naam
in u grootheid en u heerlikheid.
Ons roem in u Naam
in u liefde en u heiligheid.
Want U is ons God,
God van elke stam en taal.
Ja, U is ons God. Amen.

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Die voorstel is Rethie van Niekerk se bydrae in ‘n vorige preekstudie:
Lees die teks uit ‘n kinder-vriendelike vertaling soos Joubert, S., 1999. Die Nuwe Testament vir kinders in ’n taal wat hulle verstaan, Vanderbijlpark: Carpe Diem:

8 1–4 Hier is egter nou goeie nuus! God is nie meer vir ons kwaad nie, want ons glo in Christus Jesus. Die Heilige Gees het ons nuut gemaak. Hy is sterker as die sonde en die dood. Dit wat die wet nie kon regkry nie, het God reggekry. Hy het sy eie Seun na ons toe gestuur. Jesus het ’n mens geword, net soos ons. Hy het sy lewe aan die kruis vir ons weggegee. Nou kan ons doen wat God se wet van ons vra. Want sonde is nie meer ons baas nie. Die Heilige Gees is nou ons Hoof.

5–8 Daar is twee soorte mense: dié wat toelaat dat die sonde hulle baas is en dié wat toelaat dat die Gees hulle lei. Mense wat sonde doen, is eintlik al klaar dood. Hulle is God se vyande. Hulle luister nie na wat Hy sê nie. Mense wat na die Heilige Gees luister, lewe regtig. Hulle het vrede in hulle lewe. Hulle weet hulle gaan vir altyd lewe.

9–11 Sonde is nie die sterkste in julle lewe nie. Want die Gees bly in julle. As die Heilige Gees nie in iemand is nie, dan behoort hy of sy nie aan Christus nie. Christus is die heeltyd by julle. Daarom sorg die Heilige Gees dat julle vir altyd lewe. Ook al gaan julle liggaam eendag dood, maak dit nie saak nie. God sal sorg dat julle vir altyd by Hom bly. Hy sal julle lewendig maak. Net soos wat God vir Jesus lewendig gemaak het, sal Hy julle ook lewendig maak. Sy Gees sal daarvoor sorg.

Hoor by kinders wie van hulle weet wat “time out” is en hoe dit by hulle huise werk. Dit is wanneer jy stout is en iets verkeerd gedoen het, en jy moet vir ‘n rukkie lank in die hoek gaan staan of op ‘n spesifieke stoel gaan sit. (Jy kan dit selfs demonstreer met ‘n spesiale stoel.) Dit is glad nie lekker nie. Terwyl jy daar sit, moet jy dink aan jou verkeerde keuses en die gevolge daarvan. (Noem ‘n paar voorbeelde.)

Vandag se teksgedeelte sê dat die Gees van Jesus ons vrygemaak het van sonde en straf. Dit is soos om vrygelaat te word van “time out”. Omdat ons vrygemaak is, maak ons beter keuses en probeer ons om minder sonde te doen.

Preekriglyn

“Who wants to live forever?” het Freddy Mercury en die popgroep Queen in 1986 gevra. Dié lied, geskryf deur Brian May, ‘n lid van die groep, het ‘n emosionele toneel in die rolprent Highlander begelei. Dit is interessant dat sowel gelowiges as ongelowiges positief op hierdie vraag antwoord. Die soeke na onsterflikheid is so oud soos die mens. Op fisieke vlak is enigiets van preparate tot terapie, meditasie tot lagterapie en modderbaddens op vreemde plekke algemeen vir dié op soek na die geheim van ‘n ewige bestaan op die ondermaanse.

Alhoewel die wêreld se pogings futiel is (die mens is soos die gras, vandag hier en more weg), weet ons as gelowiges dat daar wel ‘n geheim bestaan wat ewige lewe waarborg. Ongelukkig is daar onder gelowiges nie eenstemmigheid oor presies hóé hierdie geheim nagejaag moet word nie. Vir talle gaan dit oor strenger wettisisme terwyl ander ‘n meer vrye en bevryde lewe as geheim voorhou.

Die soeke na ‘n antwoord blyk deel uit te maak van die saak wat agter die brief aan die Romeine lê. In die algemeen reken ons immers dat Paulus se briewe op sekere pastorale situasies of nood in gemeentes gevolg het. Briewe het nie ten doel gehad om teologiese ensiklopedieë te word nie, maar om praktiese advies vir medegelowiges aan te bied. Die doel was meer pastoraal as teoreties.

Wettiese lewe

Paulus, as buitengewone Fariseër, het maar alte goed geweet hoe verleidelik ‘n wettiese lewe mag lyk. Aan die einde van elke dag kon ‘n mens stap vir stap jou dag oorskou en met trots regmerkies langs elke prestasie of goeie daad maak. Maar, helaas, die apostel het ook maar alte goed geweet hoe die kruisies keer op keer die regmerkies oorskadu het. Kombineer dit met die ervaring van enige vorm van lyding en die afleiding was eenvoudig: Lyding is straf; daarom moet ek nog harder probeer om die wet na te kom en ‘n beter mens te wees.

In die vorige hoofstuk noem Paulus egter hy besef dat dit ‘n drogredenasie is. Dit is immers waar dat hoe harder jy probeer hoe minder kry dit reg. Inderdaad, die wet lei tot die dood. En om die saak nog sterker te stel, veral as jy uit eie krag en vasberadenheid die wet probeer nakom. “Los maar!” sê die apostel.

Vrygemaakte lewe

Maar hoe dan gemaak? Moet ons maar vir lief neem dat ons is wat ons is. Soos hulle sê: “So gemaak, so laat staan.”

Allermins! En hier breek die lig deur. Vir mense wat beleef dat God hulle op grond van sy genade vrygemaak en boonop regverdig verklaar het, is daar die heerlike nuus van die Heilige Gees wat juis gegee is om gelowiges se oë gevestig te hou op Christus terwyl hulle vernuwe word. Soos daar ‘n skepping aan die begin was, is daar nou herskepping. Hierdie proses geskied buite ons om. Ons lewer nie ‘n bydrae om dit suksesvol te maak nie.

Dit is egter ‘n proses wat ons ten diepste betrek. Soos medisyne wat in ‘n navorsingsomgewing buite ons betrokkenheid ontwikkel is, moet ons dit inneem om te baat daarby. ‘n Mediese voorskrif wat in die medisynekassie bly, het immers geen kans om te werk nie.

Strydende lewe

Natuurlik is verandering nie iets wat maklik in ons gebeur nie. Mens word nie outomaties al hoe soos God dit wil hê nie. Daar is ‘n voortdurende stryd tussen vlees en Gees, en die versoeking is altyd daar om terug te keer na vorige maniere van lewe. Ons aard is eenvoudig so dat ons ‘n ingeboude weerstand en teenstand teen verandering het. Die noodwendige gevolge van verandering wat volg op die nuwe bestuur word nie raakgesien nie en waar dit wel raakgesien word, nie verwelkom nie. Soveel te meer as ek self nie in die sentrum daarvan staan nie! Ons verstaan dikwels nie die betekenis van God se genadehandeling as oproep tot verandering nie. Erger nog, ons reken die nodige verandering is bloot ‘n verstelling of kosmetiese wysiging.

Hierteenoor wil die gedeelte ons help verstaan dat hier twee radikaal verskillende lewensruimtes ter sprake is. Twee ruimtes wat onversoenbaar en onvermengbaar met mekaar is. Met die ou mens wat alles in sy vermoë doen om die nuwe mens te weerstaan.

Omhels vernuwing

Waarom sukkel ons so om vernuwing te omhels? Prof Johan Cilliers noem drie redes waarom dit so mag wees:

  • In sommige gevalle verstaan ons bloot nie die noodsaak van verandering nie. Alhoewel dit volgens ons gedeelte lewensnoodsaaklik is, beskou sommiges dit as ergernis eerder as noodsaak.
  • In die tweede plek is daar die moontlikheid dat die omvang van die nodige verandering misverstaan word. Hier is nie bloot sprake van ‘n bietjie nuwe verf of restourasie nie. Ons praat van platslaan en oorbou. Skewe mure gebou op gekraakte fondamente kan immers nie reg gepleister of reg geverf word nie. Nee, die noodsaaklike verandering bring ‘n nuwe identiteit mee.
  • In die derde plek word die boodskap van vernuwing en hartsverandering skepties en met ‘n stewige porsie ongeloof begroet. Sê ons nie immers: “‘n Jakkals verander van haar, maar nie van snaar nie?” Paulus se boodskap is egter dat hierdie verandering moontlik is op grond van die Gees wat in ons is. Dit is nie ons keuses of vasberadenheid nie, maar die krag van die Gees van Christus wat ons herskep en nuut maak. Dit is egter ‘n proses wat ons ten nouste betrek; daarom word ons keuses en betrokkenheid vereis. In terme van beelde is dit die verskil tussen om ‘n inspuiting te ontvang en om dialise te ondergaan. Die een vereis ‘n oomblik van ongerief en ‘n ligte prikkie, terwyl die ander volledige onttrekking en suiwering van al die bloed vereis. In die geloofsdialise word die gelowige genoop om te sterf aan jouself en daardeur die leisels aan die Gees oor te gee. Onder nuwe bestuur en nuwe beheer word die gelowige vernuwe om hoe langer hoe meer aan die beeld van Christus gelykvormig te word. Hierdeur word ons ingesluit in die heilswerk en lewegewende werk van Christus. Ons in Hom en Hy in ons deur sy Gees.
Ernstige vrae

Op grond van ons teks is daar ernstige vrae wat gevra moet word:

  • Eerstens, is ek oortuig dat ek ingrypende verandering nodig het? Ons gedeelte praat helder en duidelik oor die verskil tussen lewe en dood en ‘n mens sonder diepliggende vernuwing wat afstuur op die dood. Hierteenoor bring die veranderende werk van die Gees lewe. Ewige lewe.
  • Tweedens, glo ek dat die Heilige Gees van God my kan genees en algaande kan maak waarvoor ek geskep is? Of glo ek dat daar geen salf te smeer is nie? Gelowiges word herinner dat die Gees die Gees van Christus is. Soos hulle in Christus moet bly, wil Christus deur sy Gees in hulle bly. Die verandering wat noodsaaklik is, is ingrypend en nie maar kunsgrepies nie. Dit sny in tot die diepste wese van wie en wat ons is. Is ons bereid om dit met die genade van God te waag?
  • In die derde plek, is ek bereid om alles op die spel te plaas? Is ek bereid om myself volledig aan die Gees se vernuwingsprogram te onderwerp?

Martin Luther het gesê dat die Woord kom om ons te verander. ‘n Mens wil hiertoe byvoeg: “en as dit waar is, hoeveel keer meer as die Woord én Gees kom?” Teenoor ‘n soeke na kitsoplossings en vinnige resultate, word gelowiges herinner dat die werk van die Gees meer as ‘n bietjie pleisterwerk en ‘n laag nuwe verf is. Vir dié wat dit waag, is daar egter die heerlike wete: ewig lewe.

Prakties

Ons teks help ons met praktiese oorwegings om vernuwe te word:

  • Ons moet die denke van ons sondige aard doelbewus neerlê en leer dink ooreenkomstig die Heilige Gees. Kom ons gee onsself daagliks doelbewus oor aan die Heilige Gees en vra die gees om ons denke en ons lewe te vernuwe.
  • Dit beteken dat ons daagliks teen ons sondige aard moet kies. Verban die denke van die sonde uit jou lewe. Kies daarteen. Omhels die goeie van God
  • Vul jou lewe met die Woord van God. Luther sê die funksie van die Woord is om ons te vernuwe. Die Gees bekragtig die Woord in ons lewens. Vul daarom jou gedagtes met die Woord oordink dit gedurigdeer, memoriseer dit, prewel dit, soos Psalm 1 sê.
  • Aanvaar mislukking en begin elke keer net weer oor.

Hierdie patroon sal jou lewe vernuwe.

God stuur ons om te leef

 Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 400 “Juig, juig in Hom 1,2,3,4,5”

Seën
Voor die seën
Omdat die Gees van Hom
deur wie Jesus uit die dood opgewek is
in julle woon,
sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is
ook julle sterflike liggame lewend maak
deur sy Gees wat in julle woon.
– uit Romeine 8:11

Mag die liefde van die Here Jesus ons na Hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God,
Vader, Seun en Heilige Gees,
met ons wees
en vir altyd by ons bly.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

© Missio 2024 | All rights reserved.