Vyfde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks vertel ‘n storie binne ‘n storie – van Jesus wat wonderdade verrig in die lewe van gewone mense met hulle alledaagse sorge van siekte en dood. Die gedeelte uit die Korintiërsbrief handel oor ‘n oproep tot die gemeente om te doen wat hulle kan om ewewig in die samelewing te bring deur hulle oorvloed met ander te deel. Die teks uit 2 Samuel is ‘n hartstogtelike klaaglied van Dawid oor die dood van Saul en sy seun, Jonatan, tydens die oorlog teen die Filistyne. Die psalm besing die troue liefde van die Here en sy verlossingsdade. In Koninkrykstyd kan hierdie tekste die kerk help om as getuies van God se genade in die wêreld te leef.

Ander tekste

2 Samuel 1:1, 17-27
Dawid verneem van Saul se dood
1 Na die dood van Saul, op die derde dag daarna, het daar onverwags iemand uit Saul se kamp by Dawid aangekom.
Dawid se klaaglied oor Saul en Jonatan
17Dawid het toe die volgende klaaglied oor Saul en sy seun Jonatan gesing. 18Hy het opdrag gegee dat hierdie booglied aan die inwoners van Juda geleer moet word. Die lied is ook opgeteken in die Boek van die Opregte.

19“Jou trots, Israel—
op jou hoogtes lê dit verslaan.
Hoe het die helde geval!
20Moet dit nie in Gat vertel nie;
moet dit ook nie bekend maak
in Askelon se strate nie,
anders sal die Filistynse meisies
bly wees
en die dogters van die heidene jubel.
21Gilboaberge! Offerland!
Nòg dou, nòg reën vir julle!
Waarlik, dáár is die heldeskild
besoedel.
Saul se skild—dit is nie
met olie ingesmeer nie
22maar met bloed van gesneuweldes,
met vet van helde!
Jonatan se boog—dit het
pal gestaan.
Saul se swaard—dit het sy werk
goed gedoen.
23Saul en Jonatan, geliefde
en beminde mense—
in lewe en sterwe nie geskei nie.
Hulle was vinniger as arende,
sterker as leeus.
24Israelitiese dogters,
julle moet huil oor Saul!
Hy het julle beklee
met sierlike klere,
goue sierade het hy daarop
laat aanbring.
25Hoe het die helde geval?
In die hitte van die stryd!
Jonatan lê verslaan op die hoogtes,
26Ek is bedroef oor jou,
my broer Jonatan.
Jy was baie na aan my hart.
Jou liefde was vir my wonderliker
as die liefde van enige vrou.
27Hoe het die helde geval?
Met die wapen in die hand
het hulle omgekom!”

Psalm 130
Ek wag op die Here
130 ’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

2 Korintiërs 8:7-15
Die Christelike vrygewigheid
8 Broers, ons wil hê julle moet weet van die genade wat die gemeentes in Masedonië van God ontvang het. 2Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid. 3Ek verseker julle hulle het na vermoë, ja, bo vermoë, bygedra. 4Uit eie beweging het hulle by ons daarop aangedring om te mag deel in die liefdeswerk van hulpverlening aan die gelowiges in Judea. 5Dit was meer as wat ons verwag het, want eers het hulle hulleself aan die Here gegee en toe aan ons. Dit is soos God dit wil.

6Daarom het ons vir Titus versoek om hierdie liefdeswerk, waarmee hy vroeër by julle begin het, nou ook te voltooi.
7Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig.

8Ek gee nie ’n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets. 9Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.

10Nou wil ek julle net raad gee om julle te help. Julle was verlede jaar nie alleen die eerste wat iets gedoen het nie, julle was ook die eerste wat gewillig was om iets te doen. 11Maak die werk nou ook klaar. Die ywer om uit julle beskikbare middele die insameling af te handel, moet net so groot wees as die gewilligheid waarmee julle dit begin het. 12As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie.

13Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, 14moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. 15Daar staan ook geskrywe:
“Dié met baie, het nie
te veel gehad nie,
en dié met ’n bietjie,
nie te min nie.”

Sleutelteks

Markus 5:21-43
Genesing van ‘n vrou en opwekking van ‘n dogter 
(Matt 9:18-26; Luk 8:40-56 )
21 Nadat Jesus weer met die boot na die oorkant gevaar het, het ‘n groot skare om Hom saamgedrom waar Hy langs die see was. 22 Een van die leiers van die sinagoge , met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. En toe hy Hom sien, val hy voor sy voete neer 23 en smeek Hom ernstig: “My dogtertjie lê op sterwe. Kom lê u hande op haar, sodat sy gesond kan word en leef.” 24 Jesus het saam met hom vertrek. ‘n Groot skare het Hom gevolg en teen Hom gedruk. 25 Daar was ‘n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26 Sy het erg gely onder baie dokters, en sy het al haar besittings daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie – dit het eerder slegter met haar gegaan. 27 En toe sy van Jesus hoor, het sy in die skare van agter af gekom en aan sy bokleed geraak, 28 want sy het gesê: “As ek maar net aan sy bokleed kan raak, sal ek gesond word.” 29 Die oorsaak van haar bloeding het toe dadelik opgehou, en sy het aan haar liggaam gevoel dat sy van haar kwaal genees is. 30 Jesus het onmiddellik agtergekom dat krag uit Hom uitgegaan het. Hy het in die skare omgedraai en gevra: “Wie het aan my bokleed geraak?” 31 Maar sy dissipels het vir Hom gesê: “U sien dat die skare van alle kante af teen U druk, en tog vra U, ‘Wie het aan My geraak?'” 32 Hy het om Hom bly rondkyk om die een te sien wat dit gedoen het. 33 Toe die vrou besef wat met haar gebeur het, het sy bewend van vrees voor Hom kom neerval en Hom die volle waarheid vertel. 34 Hy sê toe vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees genees van jou kwaal.” 35 Terwyl Hy nog praat, kom daar mense van die leier van die sinagoge se huis af en sê: “U dogter het gesterf. Waarom val u die leermeester nog lastig?” 36 Jesus het egter in die verbygaan gehoor toe die berig oorgedra word, en sê toe vir die leier van die sinagoge: “Moenie ontsteld wees nie – glo net!” 37 En Hy het niemand toegelaat om met Hom saam te gaan nie, behalwe Petrus, Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus. 38 Toe hulle by die leier van die sinagoge se huis kom, sien Hy ‘n geroesemoes, en mense wat huil en erg weeklaag. 39 Hy gaan toe in en vra vir hulle: “Waarom gaan julle so tekere en huil julle? Die kindjie het nie gesterf nie, maar slaap net.” 40 Hulle het Hom egter uitgelag. Maar nadat Hy almal uitgejaag het, het Hy die vader van die kindjie, haar moeder en dié wat by Hom was, saamgeneem en ingegaan na waar die kindjie was. 41 Hy neem toe die kindjie se hand en sê vir haar, “Talita koem!” wat, as dit vertaal word, beteken ‘Dogtertjie, Ek sê vir jou: Staan op!’ 42 Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop. Sy was twaalf jaar oud. Hulle was stom van verbasing. 43 Hy het hulle streng opdrag gegee dat niemand dit moes weet nie, en gesê dat hulle vir haar iets te ete moes gee. (2020-vertaling).

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Uit Psalm 130

Seëngroet: (2 Tess 1)

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet as riglyn om te leef
Geloof… vir die vrou met bloedvloeiing… wat genesing ontvang sê Jesus: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees genees van jou kwaal.”
Lees Paulus se weergawe oor geloof in Efesiërs 2:1-10

Geloofsbelydenis: ahv Efesiërs 1 en 4

Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Epiklese: Gebed ahv Ps 130

Skriflesing: Markus 5:21-43

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 542 “Jesus ons loof U 1,2”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Uit Psalm 130
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.

5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag…

By Hom is die verlossing seker.

Seëngroet:  (2 Tess 1)
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet as riglyn om te leef
Geloof… vir die vrou met bloedvloeiing… wat genesing ontvang sê Jesus: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede en wees genees van jou kwaal.”

Lees Paulus se weergawe oor geloof in Efesiërs 2:1-10
Lewe uit die dood
2 Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes 2wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het. Julle het gelewe soos hierdie sondige wêreld en julle laat lei deur die vors van die onsigbare magte, die gees wat daar nou aan die werk is in die mense wat aan God ongehoorsaam is.

3So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het. Vanweë ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. 4Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. 5Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered! 6Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ’n plek in die hemel gegee, 7sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.

8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. 9Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. 10Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

Geloofsbelydenis: ahv Efesiërs 1 en 4
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
soos Hy dit vooruit al bestem het.
So het Hy Hom dit voorgeneem- Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.
Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.
Deur Christus het ons deel geword van die volk van God
toe ons die waarheid wat aan ons verkondig is,
die evangelie van ons verlossing, gehoor het
en tot geloof gekom het.

In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, ons as die eiendom van God beseël.

Daar is net één liggaam en net één Gees,
soos daar net één hoop is waartoe God ons geroep het.
Daar is net één Here, één geloof, één doop,
één God en Vader van almal:
Hy wat oor almal is,
deur almal werk
en in almal woon.

Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Liedere

Flam 26. “Ek Staan Voor U (Reën)”
(RUBRIEK:  Kersvlam – Verwondering / Toenadering)
Teks en Musiek: Corli J van Rensburg
© 2009 FLAM Uitgewers

Ek staan voor U
ek kniel voor U neer
ek gee my lewe vir U, liewe Heer

Ek vra na U
na u volheid en mag
ek verlang na U, Heer
na u liefde en u krag

Brug:
Kom, Jesus, genees my seer
want net U is in beheer

Refrein:
Ek dors na U
Ek smag na U
soos `n dor droë land
`n land sonder water
U troue liefde is beter as die lewe
maak my heel
neem my hand
Heer, stort reën oor my land

Hier staan ek Heer op my knieë
laat u wil geskied
laat my wandel in u weë

Ek is klein en dwaas
maar U leef in my
u bloed aan die kruis het my bevry

(Brug)
(Refrein)

(Einde:)
Kom Jesus
laat dit reën
laat dit reën
laat dit reën
Heer laat dit reën…

VONKK 72 “Wees Stil, Want Die Heilige Is Hier”
Teks: Be still, for the presence of the Lord –  David  J Evans (1986); Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008 ©
Melodie: BE STILL – David J Evans 1986
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: David J Evans 1986
Kantoryverwerking: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© 1986 Kingsway Thankyou Music (admin CopyCare SA)
RUBRIEK: Kontemporêr – Toetrede en Aanbidding

1. Wees stil, want die Heilige is hier
in ons teenwoordigheid.
Kom buig nou voor Hom neer
met eerbied en ontsag.
Erken sy heiligheid
en sy geregtigheid.
Wees stil, want die Heilige is hier
in ons teenwoordigheid.

2. Wees stil, want die heerlikheid van God
skyn oral rondom ons.
Hy is met eer gekroon,
met mag en majesteit.
Uit Hom straal helder lig –
‘n glans wat als verlig.
Wees stil, want die heerlikheid van God
skyn oral rondom ons.

3. Wees stil, want die Here God van mag
is werksaam om ons heen.
Hy neem ons sonde weg,
genees ons grootste seer.
Niks stuit die Gees se werk
of kan sy krag beperk.
Wees stil, want die Here God van mag
is werksaam om ons heen.

VONKK 41 “God Is Liefde! Laat Ons Lofsing”
Teks: God is Love – Timothy Rees (1874-1939); Jacques Louw 2008 ©
Musiek: ABBOT’S LEIGH – Cyril Vincent Taylor 1942 (1907-1991)
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: 1970 Oxford University Press. Met toestemming gebruik.
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

1. God is liefde! Laat ons lofsing
– hemel, aarde, mensdom saam.
God se grootheid in die skepping,
laat ons jubel oor sy Naam!
Hy wat alles goed gemaak het,
hou die heelal in sy hand.
Hy oorlaai ons met sy goedheid –
liefde ver bo ons verstand.

2. God is liefde! Hy omvou ons
daagliks met ‘n liefdesband.
Hy bewaar uit alle volke
al sy kinders deur sy hand.
As die lewe ons laat seerkry,
as ons ly deur pyn en smart,
weet ons God deel in ons swaarkry –
daar is deernis in sy hart.

3. God is liefde, maar die sonde
maak ons vir sy liefde blind.
God vergeef, genees die wonde
van die sonde wat ons bind.
Sonde, dood en hel sal nooit nie
oor ons heerskappy kan kry.
God se liefde, so onfeilbaar,
sal vir ewig by ons bly.

God praat met ons en ons luister

Epiklese Gebed: ahv Ps 130
Here…
by wie daar troue liefde is;
by wie verlossing séker is:
hoor my hulpgeroep en luister tog:

Ek wag op U Here,
want by U is daar vir my vergifnis;
My siel wag op U Here,
meer as die nagwagte wag op die dagbreek,
want U waarborg die vervulling van U Woord.
Ek vertrou op U Here,
want alleen by U is verlossing seker.

In U genade word ek vergewe en
aan my sondes en ongeregtighede dink U nie meer nie.
U alleen is my verlosser!

Mag die woorde van my mond
en die oordenking van my hart
welbehaaglik wees voor u aangesig,
o Here, my rots en my verlosser!

Skriflesing: Markus 5:21-43

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Dit is heeltemal voldoende om gewoon die Bybelverhale vir kinders te vertel, sonder om ‘n morele lessie daaruit te probeer haal.
Aangeheg die fokusteks uit die Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Jesus wil Graag Help
21–24 Hierna is Jesus weer met die boot terug na die oorkant toe. Toe Hy op die strand kom, het baie mense na Hom toe gekom. Onder die mense was iemand met die naam Jaïrus. Hy was die hoof van die plek waar die Jode tot God gebid het. Toe hy Jesus sien, val hy voor Hom neer. Hy sê vir Jesus: “My dogtertjie is besig om dood te gaan. Asseblief, kom raak net aan haar. Dan sal sy leef!” Jesus is toe saam met hom. ’n Groot klomp mense is agter Jesus en Jaïrus aan.

’n Vrou word Gesond
25–26 Tussen die mense was daar ’n vrou wat vir twaalf jaar lank siek was. Sy het baie swaar gekry. Sy het al haar geld aan dokters betaal om haar gesond te maak, maar sy het net sieker geword.

27–29 Die vrou het op ’n dag van Jesus gehoor. Sy sê toe vir haarself: “As ek net aan hierdie Man kan vat, sal ek gesond word.” Toe Jesus so tussen die mense stap, kry sy haar kans. Sy het aan Hom geraak. Sy kon dadelik voel dat sy gesond word.

30–31 Jesus het geweet iemand het van sy krag gebruik om gesond te word. Hy draai toe om en vra: “Wie het aan My gevat?”
Die dissipels antwoord: “Hier is baie mense rondom U. Hoe vra U dan: ‘Wie het aan My gevat?”’ Jesus het Hom nie aan hulle gesteur nie. Hy het rondgekyk om te sien wie dit was.

32–34 Die vrou was so bang dat sy gebewe het. Sy val toe voor Jesus neer en vertel Hom alles. Jesus sê vir haar: “Omdat jy in My glo*, is jou siekte vir altyd weg. Gaan leef nou in vrede met God!”

Jesus is Sterker as die Dood
35–36 Jesus was nog besig om met die vrou te praat, toe kom ’n paar mans van Jaïrus se huis af daar aan. Hulle sê vir Jaïrus: “Jou dogter is nou net dood. Moenie vir Jesus verder pla nie.”
Jesus het dit gehoor. Hy sê toe vir Jaïrus: “Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om te glo!”

37–39 Jesus is toe saam met Petrus, Jakobus en Johannes na Jaïrus se huis toe. Hy wou nie hê die ander mense moet saamgaan nie. By Jaïrus se huis het ’n groot klomp mense buite gestaan en huil. Jesus vra vir hulle: “Hoekom huil julle so hard? Die kindjie slaap net. Sy is nie dood nie.”

40–43 Die mense het Jesus uitgelag. Hy jaag hulle toe uit die huis uit. Daarna is Jesus saam met die ouers en sy drie dissipels na die dogtertjie toe. Jesus vat haar hand en sê: “Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!” Die dogtertjie het dadelik opgestaan en tussen hulle rondgestap. Sy was twaalf jaar oud. Jesus sê toe dat iemand vir haar iets moet gee om te eet. Die mense was baie verbaas. Jesus het hulle mooi gevra om nie te vertel wat gebeur het nie.

Die twee verhale wys hoe geloof prakties werk.  Vertel die verhale met die klem op hulle vertroue op Jesus, ten spyte van wat ander mense sou kon sê of doen aan hulle.

  • Jaïrus, ‘n vername Jood, leier van die sinagoge van die Jode, waag dit om Jesus te vra om sy dogter te genees, al plaas dit sy werk in gevaar.  Hy is bereid om sy werk te verloor, sodat sy dogter kan lewe.  En hy hou aan glo toe Jesus dit van hom vra.
  • Die vrou, iemand waarmee ander mense niks te doene wou hê omdat sy so siek was, waag dit om Jesus uit te soek en aan te raak om genees te word.  Sy laat haar nie afsit deur wat ander van haar sal sê nie, en vertrou dat Jesus haar kan genees.  En Hy doen dit.

Preekriglyn

Vandag fokus ons teks op wonderlike versterkende verhale. In Jesus Christus het God op aarde aangekom en openbaar God die Vader, Seun en Heilige Gees Godself as ‘n God wat in ons donkerste momente aktief besig is.

Ons is vandag bevoorreg om egte, lewensgetroue verhale te lees. Dit vertel oor gebeure van intense lyding, wat oor jare strek of wat ‘n mens aan jou hart ruk omdat dit oor die dood van ‘n kindjie gaan. In hierdie gebeure is Jesus teenwoordig en handel Jesus.

Die werke van God – die genesing van ‘n vrou en die opwekking van ‘n kind uit die dood – roep baie ingewikkelde vrae by mens op. Een gewilde vraag is waarom alle mense nie genees word of waarom lyding nie deur God voorkom word nie.

Ons kan dit nie ontwyk nie. Maar kom ons stap eers deur ons teks en vra dan daarna wat dit vir ons geloof in die lewende, teenwoordige, handelende God beteken.

Ons teks, vers-vir-vers

5:21 Markus fokus op die groot skare wat by Jesus bymekaarkom ná Hy van die Geraseners terug is. Moontlik het hulle Hom ingewag op die strand naby die hawe van Kapernaum.

5:22-23 Markus teken Jaïrus as een van die sinagogehoofde. Hy was dus nie al leier van die geestelike gemeenskap nie. Hy val in ‘n gebaar van aanbidding voor Jesus neer en smeek Hom om sy hande op sy dogtertjie te kom lê dat sy gesond kan word en lewe. Daarmee illustreer hy sy geloof in Jesus.

5:24 Elkeen wat al ‘n dodelike siek kind gehad het, sal weet wat hierdie situasie aan ‘n ouer kan doen. Jesus reageer dus onmiddellik en gaan saam met Jaïrus terwyl die groot skare ook die pad vat na Jaïrus se huis.

5:25-27 Die vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, het deur die skare gebeur en sy bo-kleed aangeraak. Markus wy ‘n bietjie meer as Lukas uit oor haar uitmergelende lyding met dokters wat haar nie kon help nie. Sy het alles verloor in die proses. Dit het haar niks gebaat nie, en sy was eerder slegter daaraan toe. Haar toestand was wel nie direk lewensbedreigend nie, maar in terme van die chroniese permanente aard daarvan het dit enige lewensvreugde uit haar getap.

5:28 Markus verklaar ook vir ons die rede vir haar optrede. Sy het gedink as sy selfs net sy klere kan aanraak, sal sy gesond word. Daarmee illustreer sy haar geloof in Jesus. Let op dat sy nie van die soom van sy kleed praat nie.

5:29 Dit is dan ook presies wat gebeur het. Haar bloedvloeiing het opgedroog en sy het aan haar liggaam agtergekom dat sy genees was van die siekte.

5:30 Markus verklaar ook vir ons die rede vir Jesus se reaksie. Hy het “in Homself” geweet dat krag van Hom uitgegaan het. Dit is hoekom Hy in die skare omdraai en vra wie het sy klere aangeraak.

5:31-33 ‘n Mens kan duidelik die ooggetuie karakter van hierdie verhaal agterkom in die fokus op die dissipels wat verward rondkyk en dink Jesus speel seker as Hy sê iemand het Hom aangeraak. Daar was ‘n groot samedromming rondom hulle. Jesus het egter geweet wat gebeur het, maar voor Hy haar kon opspoor, het sy bang geword en bewend voor Hom neergeval en met die volle waarheid vorendag gekom.

5:34 Markus fokus in Jesus se gesprek met haar ook op haar geloof, maar haar genesing staan vir hom in die eerste plek voorop. In die tweede plek praat hy egter ook van die vrede wat sy nou kan hê op haar verdere lewenspad. Hy voeg by dat dit nie net ‘n korttermyn oplossing sou wees nie: “Wees genees van hierdie siekte van jou.” Sy wou nie weer daaraan ly nie.

5:35 Markus vertel met meer detail as Lukas dat Jesus nog aan die praat was met die vrou toe daar “mense” van die sinagogehoof (se huis) aankom. Hulle het die nuus kom oordra dat sy dogter gesterf het en dat hy daarom nie die leermeester verder moet pla nie.

5:36 Interessant is dat Markus sê dat Jesus “toevallig gehoor het wat vertel word”. Die Griekse frase kan egter ook vertaal word dat Jesus “geïgnoreer het wat vertel word” of soos die NET Bible dit vertaal: “paying no attention to what was said”. Dit maak sy opdrag aan Jaïrus nog meer spesifiek dat hy nie moet steur aan wat ander sê aan die gang is nie, maar wat Jesus besig is om te doen: “Moenie vrees nie, glo net.”

5:37 Terstond sorg Jesus dat niemand meer met hulle saamloop nie, slegs die drie binnekring dissipels, Petrus, Jakobus en Johannes, die twee “seuns van die donder”. Soos Markus die verhaal vertel, waarskynlik om te keer dat daar nog mense met Jaïrus praat en sy geloof ondergrawe.

5:38-40 Jesus kom toe by die huis en sien die rumoer en mense, waarskynlik roubeklaers, wat baie huil en weeklaag, selfs binne die huis. Hy gaan toe in en betig hulle dat hulle ontsteld is en huil, want in sy oë het die kind nie gesterf nie, maar slaap sy net. Toe hulle hom uitlag – ‘n teken van hulle ongeloof – het Hy almal uitgestuur en net die pa en ma en sy dissipels – waarskynlik die binnekring – in die kamer waar die kind was, toegelaat.

5:41 Jesus vat toe die kind se hand en sê vir haar in Aramees: “Talita koem!” Dit beteken “Dogtertjie, staan op!” Talita was ‘n aanspreekvorm van ‘n klein dogtertjie wat ook met iets soos “kleintjie” weergegee kan word.

5:42 Die dogtertjie het onmiddellik opgestaan en kon weer soos ‘n normale twaalfjarige rond(hard)loop. Almal was uitermate verbaas.

5:43 Jesus het hulle uit deernis met die dogtertjie egter streng opdrag gegee om haar nie in die publiek bloot te stel deur oral daarvan te vertel nie, en vir haar te sorg deur vir haar iets te gee om te eet. Jesus wou ook nie die aandag op sy eie genesingsmag fokus nie, omdat hy op pad was na die kruis. Dit is aan die kruis dat ons God se volle bedoeling met Jesus leer ken.

Boodskap

Ons is in die Covid-era gekonfronteer met dood en risiko. Min dinge is seker. In ‘n tyd soos hierdie boei hierdie teks ons besonderlik. Ons lees van verwoestende siekte en die dood. Ons ontmoet ‘n lewegewende Here, te midde van groot ellende – destyds en vandag. Wat sê dit vir ons van geloof en uitkoms uit die ellende van ons bestaan?

In ‘n gepubliseerde reeks lesings wat die groot teoloog Karl Barth in 1946 in Bonn, te midde van die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog opgelewer het, vertel Barth hoe ‘n groepie gelowiges elke oggend bymekaar gekom het. Rondom hulle het die verwoesting van Nazi-Duitsland en die ruïnes van Bonn hulle begroet. Sewentig miljoen mense was wêreldwyd dood. Almal was ontredder.

In ‘n tyd soos hierdie, vertel Barth in die inleiding tot sy lesingreeks, vra jy wat ons ten diepste glo oor God. Jy vra na wat die kerk van die eeue deur al die tye onder sulke omstandighede gesê het. Wat was hulle woorde wat getroos en hoop gegee het?

Dan begin hy te praat oor die Apostoliese Geloofsbelydenis: “Ek glo in God die Vader ….” “Ek glo in die Here Jesus Christus ….” “Ek glo in die Heilige Gees ….” Wat beteken dit om hierdie woorde in Covid-tye te sê? Na WO II? Wanneer ‘n kind sterf? Wanneer jy aan ‘n verwoestende siekte wat die lewe uit jou tap, soos bloedvloeiing, ly? Wanneer Covid sy tol eis?

Ons teks help ons om hierdie woorde stamelend te sê, te midde van ons diepe swaarky.

Die rol van geloof

Die twee verhale leen hulle uitstekend om te praat oor hoe geloof prakties werk. Die tekste fokus op die rol van geloof in die genesing – beide die amper outomatiese geloof van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, en die amper sterwende geloof van Jaïrus.

Die sleutel tot genesing lê egter op ‘n ander plek, in die verhouding met en afhanklikheid van Jesus self. Wanneer geloof op Hom gerig is, kom God se krag in werking.

Só nooi die twee verhale ons uit om te bly glo in die Een wat ons lewe in sy hande hou. Of ons lewe, genees word, uit ‘n ernstige siekbed opstaan en huis toe terugkeer, of nie. God is ons troos. In lewe en in sterwe.

Alan Cole (kommentaar op Markus) beskryf dit so (vryelik vertaal):
Die een voorwaarde vir God se werk is dat ons God vertrou. Ons word geroep om afhanklik van God te wees, God te vertrou, God te gehoorsaam. Dit is die Bybelse betekenis van geloof. Dit is meer as intellektuele instemming of begrip. So ‘n persoonlike, vertrouende geloof is die enigste en beste uitdrukking van ons eie hulpeloosheid, en uitdrukking van God se mag en gesag. Genesing is iets anders as ‘n formule wat uitgespreek word. Dit is iets anders as magiese woorde. Dit is openheid en vertroue voor God.

Waarom nie almal nie?

Een van die groot vrae is waarom God nie alle mense genees en alle rampe afweer nie? Is God dan nie liefdevol nie? Is God – met eerbied gesê – dalk buiterig of arbitrêr? Hoe kan mens glo in ‘n liefdevolle, genesende God, en alle dogtertjies word nie lewend en alle siek mense genees nie?

Daar is mense wat eenvoudig verkondig dat God die goeie God is wat nie wil hê sy kinders moet ly nie. Siekte is van die duiwel afkomstig. God wil hê dat ons van elke siekte genesing sal ontvang. Hulle leer dat waar geloof aanwesig is, sal God genesing skenk.

As jy dus nie gesond word nie, is daar fout met jou. Dit is jou gebrek aan geloof of jou sonde.

So ‘n aanname klop nie met die Bybelse getuienis nie. Die Bybel getuig dat mense genesing ontvang ten spyte van wie hulle is of was. God se vrye genade is aan die werk. Tog getuig die Bybel ook dat almal nie genees word nie.

Verborge dinge

Prof Willie Jonker het in die 1980’s oor God en siekte geskryf ons moet aanvaar dat die verlossing wat in Christus ‘n werklikheid is, in hierdie lewe nog dikwels ‘n verborge karakter dra. Ons moet die groter samehang van die Bybel in ag neem. Ons is nog slegs “in hoop gered en sien saam met die ganse skepping uit na die dag van die openbaarmaking van die kinders van God”. Dan sal genesing ons almal se volle deel wees.

Ons leef nog in ‘n tussentyd, waarin ons sug oor die aanwesigheid van die mag en die gevolge van die sonde. Ons is nog nie heeltemal dáár nie. Ons liggaamlike dood lê nog vir ons voor.

Daarom moet ons leer om soos Calvyn te praat, wat nie bang was vir teenstrydighede nie. Daar is nie ‘n eenvoudige oplossing nie, sê Calvyn. Dit is asof Calvyn iewers tussen berusting by siekte en opstand daarteen beweeg. Daar is vir hom “iets soos oorwinning oor ons lyding te midde van ons lyding” – of daar nou genesing is en of daar die noodsaak is om te volhard. Net God weet wat sy doel in elke situasie is. Net God kan dit aan mense leer wat gelowig met Hom omgaan.

Terwyl ons lees van die vrou en die dogtertjie wat genees word, lees ons ook van Job se worsteling en Johannes die Doper wat aan die hand van Herodes sterf. Die volkome genesing lê nog in die toekoms.

Dat God se wil die toekomstige volkome genesing van die hele skepping en God se kinders deur geloof is, dit is waarmee die teks ons troos.

Gerig op God

Gelowige mense rig in siekte hulle hart op die voorsienige God, die lewende God wat omgee, sê Calvyn. Gelowige mense weet egter dat die voorsienige wil van God ‘n verborge karakter het. Geeneen van sy tydgenote het die woord “geheim” so dikwels soos Calvyn gebruik nie. Hy het gepraat van die “geheime werk van God”.

Toe Calvyn self reeds baie siek was en erg gely het (hy is op 57 oorlede), het hy daagliks oor Job gepreek. Sy gehoor was vlugtelinge en vreemdelinge wat swaarkry geken het. Job was gekonfronteer met ‘n God wat sy gesig herhaaldelik verberg. Hierdie verborgenheid van God verdonker die geskiedenis, bedreig die geloof en laat die gelowige wanhoop. Job se lyding was veral geestelik van aard.

Calvyn het sy toehoorders gemaan om baie eerlik oor hulle lyding te wees. Hulle moes nie probeer om ‘n betekenis daaraan te gee wat daar nie was nie. Hulle lyding was swaar en soms verskriklik. Vertroue in die voorsienige God, vra vertroue in ‘n verborge God wie se gesig blykbaar weggedraai is. Calvyn bemoedig sy toehoorders deur te sê die verborgenheid van God nie vir altyd sal aanhou nie, hulle moet geduldig wees. Hulle moenie verwag dat God altyd onmiddellik optree nie. God tree nie op die eerste dag op nie. Hulle moet wag. Ons ken net ten dele.

Padtekens

Die bekende Nuwe Testamentiese geleerde, NT Wright, sê die twee genesings in ons teks is padtekens.

Ons lees in ons teks van Jesus se genesingskrag, sê Wright. Dit wil ons nie aan ‘n Jesus as Wonderwerker bekendstel wat alle pyn uitwis nie. Dit stel ons aan ‘n Jesus bekend wat ‘n revolusie begin en God se genesingskrag bring, maar met ‘n diepergaande doel. Die tekens van wondergenesing en opwekking uit die dood, was tekens van die ware revolusie en genesing wat deur sy dood en opstanding sou kom. Soos padtekens belangrik is, maar nie self die bestemming is nie, moet ons verder lees ten einde die bestemming te vind.

Die bestemming is die heerlike genesing aan die einde van die tyd met die wederkoms. Hierdie genesings is padtekens wat ons daaraan herinner.

Genesings kom regdeur die geskiedenis voor. Tot vandag nog. Maar dit bly padtekens van die heerlike toekoms wat wag.

Die heerlike toekoms is die lewensveranderende verlange in ons geloofservaring. Jaïrus se dogtertjie het weer gesterf, en die vrou met bloedvloeiing ook. Ons diepste hoop is nie op hierdie lewe gerig nie. Dit is op die bestemming waarheen die padtekens ons wys.

As daar nie genesing is?

Joni Eareckson Tada is ‘n gelowige wat nie genesing gevind het nie, en tog bly glo. Om God te vertrou selfs al word jy nie genees nie, is haar getuienis.

Die verhaal van Joni Eareckson Tada (Joni. The unforgettable story of a young woman’s struggle against quadriplegia & depression, het ook die basis vir ‘n rolprent oor haar lewe gevorm het. Sy het op 18 jarige ouderdom in ‘n duik-ongeluk ‘n kwadrupleeg geword (1967), en uiteindelik na 2 jaar se ontwrigtende worsteling, haar gebrek te bowe gekom en ‘n loopbaan van skilder en skryf gevolg, met baie groot sukses. Sy is ‘n gewilde spreker wat haar geloof in Jesus op innemende manier verwoord en baie mense aangeraak het met haar boodskap van hoop.

Sy is onlangs deur ‘n volgende fase van toetsing, met borskanker, waarna sy die boek – A Place of Healing: Wrestling with the mysteries of suffering, pain and God’s Sovereignty – geskryf het. Sy vertel in dié nuwe boek van ‘n jongman David wat haar een oggend na ‘n diens bygedam het, vir haar gebid het, en toe verras was dat sy nie genees is nie. In die gesprek wat daarna gevolg het, het hy haar beskuldig dat sy sonde in haar lewe moes hê, anders sou sy gesond geword het. Joni het op haar kenmerkende innemende manier geantwoord, nee, dit is nie die geval nie.

Hy het egter volhard en toe vir haar van ongeloof beskuldig. Sy het geantwoord: dit kan wees, maar dan het dit met jou geloof te make en uit Lukas 5 aangehaal waar Jesus die verlamde man genees toe hy die geloof van sy vriende sien (vers 20)!

Inderdaad! Soos sy self sê:
The focus is always on Jesus Christ and His will for those who suffer. To possess great faith is to believe in a great Savior, and Scripture welcomes the faith of anyone who believes in Jesus’ will to heal.

Ten slotte

Ons teks onderstreep God se meelewing en empatie met ons nood. Dit onderstreep dat genesing deel is van die groot program (of revolusie) om herstel in God se gebroke skepping te bring.

Waar genesing plaasvind, is dit padtekens om ons te herinner dat God met ons op pad is na ‘n heerlike bestemming.

Intussen word ons genooi om in geloof aan Jesus te raak, ons nood na Jesus te neem, te bly bid en gemeenskap met God in Jesus Christus op te soek. In hierdie nabye verhouding word daar genesing in ons lewens ingeweef – geestelike en emosioneel, soos in Joni Tada se geval, of ook liggaamlik soos vandag nog met mense gebeur.

Wat ook al – fisieke genesing of nie – Jesus is ons hoop en ons lewe.

Christus is ons hoop. Die gekruisigde Here is by ons as ons ly. Die opgestane Here het die dood oorwin. Ons enigste troos is dat ons in lewe en in sterwe nie aan onsself nie, maar aan ons Verlosser, Jesus Christus, behoort (Heidelbergse Kategismus). Wanneer verlamming en angs ons tref, moet ons dit met hierdie hoop beveg.

Ons kan in gedagte roep hoe die vrou aan Jesus se klere geraak en toe in gebed Hom ontmoet het. Ons kan die beeld oproep van hoe Hy die dogtertjie uit die dood wakker maak en in gebed ons vertroue opnuut in Hom stel as die een wat volle mag oor lewe en dood het.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 542 “Jesus ons loof U 1,2”

Seën
Ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus,
die Vader
aan wie die heerlikheid behoort,
deur sy Gees aan julle wysheid gee
en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder
dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou,
en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,
19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Amen (Efes 1)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.