Vyfde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Psalm 30 is ’n lofpsalm vir die inwyding van die tempel. ’n Hele aantal van die psalmverse kan saam met die fokusteks, Markus 5:21-43, gelees word en selfs in die mond van die karakters van die evangelieverhaal geplaas word:

  • Vrou wat aan bloedvloeiing gely het: “Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak” (Psalm 30:3).
  • Jaïrus se dogter: “Here, U het my gered van die doderyk, my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe” (Ps 30:4)
  • Jaïrus: “Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer” (Ps 30:6) en “Luister, Here, en wees my genadig! Help my, Here! Ek was in die rou, maar U het my met vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek” (Ps 30:11-12).

Ander tekste

Klaagliedere 3:23-33
21Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
22deur die liefde van die Here
het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
24Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
25Die Here is goed vir wie op Hom
bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
26dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here;
27dit is goed vir ’n mens
om sy las in sy jeug te dra.
28Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly
as God hom die las opgelê het,
29laat hy hom diep verootmoedig
—miskien is daar hoop—
30laat hy sy wang draai vir wie hom slaan,
laat hy maar oorvloedig
smaad ondervind.
31Die Here verstoot ’n mens
nie vir altyd nie;
32as Hy beproewing oor ’n mens
gebring het,
ontferm Hy Hom weer,
want sy liefde is groot:
33dit is teen sy sin
dat Hy mense in ellende en beproewing
bring.

Psalm 30 – Prys die Here, sy toorn duur net ’n oomblik maar sy goedheid vir ewig;
30 ’n Psalm. ’n Lied vir die inwyding
van die tempel. Van Dawid.
2Ek wil u lof verkondig, Here,
want U het my gered
en my vyande nie laat bly wees
oor my nie.
3Here my God, ek het
na U geroep om hulp
en U het my gesond gemaak.
4Here, U het my gered
van die doderyk,
my aan die lewe gehou toe ek
al op pad was na die dood toe.
5Sing tot eer van die Here,
julle wat Hom getrou dien,
loof sy heilige Naam!
6Waarlik, sy toorn duur net ’n oomblik,
maar sy goedheid lewenslank.
Gisteraand was daar nog trane
en vanmôre lag ek al weer.
7Toe dit goed gegaan het,
het ek wel gesê:
“Niks sal my ooit laat wankel nie.”
8Deur u goedheid het U my
op ’n veilige berg laat staan, Here.
Maar toe U U aan my onttrek het,
het ek baie bang geword.
9Ek het na U geroep, Here.
Ek het U om genade gesmeek:
10“Watter voordeel is daar
in my ondergang
as ek die graf moet ingaan?
Kan stof U loof?
Kan dit u trou verkondig?
11Luister, Here, en wees my genadig!
Help my, Here!”
12Ek was in die rou,
maar U het my van vreugde laat dans.
U het my rouklere uitgetrek
en vir my feesklere aangetrek.
13Daarom sal ek sing tot u eer;
ek sal nie stilbly nie.
Here my God, vir altyd sal ek U loof!

2 Korintiërs 8:7-15 – Deur Christus se offer kan ons vrygewig wees.
7Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig. 8Ek gee nie ’n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets. 9Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word. 10Nou wil ek julle net raad gee om julle te help. Julle was verlede jaar nie alleen die eerste wat iets gedoen het nie, julle was ook die eerste wat gewillig was om iets te doen. 11Maak die werk nou ook klaar. Die ywer om uit julle beskikbare middele die insameling af te handel, moet net so groot wees as die gewilligheid waarmee julle dit begin het. 12As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie. 13Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, 14moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. 15Daar staan ook geskrywe:
“Dié met baie, het nie
te veel gehad nie,
en dié met ’n bietjie,
nie te min nie.”

Fokusteks

Markus 5:21-43
Die dogtertjie van Jaïrus. Die vrou met bloedvloeiing

(Matt 9:18–26; Luk 8:40–56)
21Jesus het daarna met die skuit teruggevaar oorkant toe en toe Hy nog daar by die see was, het ’n groot menigte om Hom saamgedrom. 22Een van die raadslede van die sinagoge, ’n man met die naam Jaïrus, kom toe daar aan. Net toe hy vir Jesus sien, val hy op sy knieë voor Hom 23en smeek Hom dringend: “My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”

24Hy het saam met hom gegaan. ’n Groot menigte het agter Hom aan gegaan en hulle het van alle kante af teen Hom gedruk.

25Daar was ook ’n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word. 29En dadelik het die bron van haar bloedvloeiing opgedroog, en sy kon aan haar liggaam agterkom dat sy van haar kwaal ontslae was. 30Jesus het ook self onmiddellik geweet dat daar van Hom krag uitgegaan het. Hy het Hom in die gedrang omgedraai en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31Sy dissipels het Hom geantwoord: “U sien tog dat die mense van alle kante af teen U druk, en dan vra U nog: Wie het aan My geraak?”

32Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. 33Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het. Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. 34Daarna sê Hy vir haar: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!”

35Terwyl Jesus nog met die vrou praat, kom daar mense van die raadslid van die sinagoge se huis af en sê vir hom: “U dogter het gesterwe. Waarom val u nog ons Leermeester lastig?”

36Jesus het egter met die een oor gehoor wat daar gesê word, en Hy sê toe vir die raadslid van die sinagoge: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

37Jesus het niemand behalwe Petrus, Jakobus en Johannes die broer van Jakobus toegelaat om verder saam met Hom te gaan nie. 38Hy kom toe by die huis van die raadslid van die sinagoge aan en sien die hele gedoente van mense wat verskriklik huil en te kere gaan. 39Hy het ingegaan en vir hulle gesê: “Wat raas en huil julle so? Die kindjie het nie gesterwe nie, sy slaap net.”

40Hulle het Hom uitgelag.
Hy het almal beveel om uit te gaan. Hy het net die pa en die ma van die kindjie en die drie dissipels wat by Hom was, saamgeneem en in die kamer ingegaan waar die kindjie was. 41Hy vat toe die kindjie se hand en sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op!

42Dadelik het die dogtertjie opgestaan en begin loop; sy was al twaalf jaar oud. Die mense was stom van verbasing. 43Hy het hulle toe streng opdrag gegee om niemand anders daarvan te laat hoor nie en gesê hulle moet vir haar iets te ete gee.

Ekstra stof

Die evangelie van Markus
Die evangelie van Markus is waarskynlik geskrywe deur Johannes Markus, ‘n aanvanklike metgesel van Paulus [Kol 4:10] en later ook van Petrus [1 Pet 5:13]. Dit is heel moontlik geskrywe in Rome (volgens Irenaus) aan die gemeente in Rome (volgens Papias). Geleerdes stem vandag saam dat dit die eerste evangelie is (ongeveer 65 n.C. voltooi), wat o. a. deur Matteus en Lukas as ‘n bron gebruik is. Feitlik die hele inhoud van die evangelie van Markus kan in die ander evangelies gevind word.

Markus vertel die verhaal van Jesus van sy doop tot sy opstanding. Twee derdes van die boek gaan oor Jesus se bediening in Galilea en die laaste derde van sy boek oor Jesus se finale week in Jerusalem.

Jesus vervul volgens Markus die Messiaanse verwagting deurdat God se koninkryk in Jesus aanbreek. Die nuwe Uittog waarvan Jesaja praat begin met die bediening van Jesus wat sy lyding en plaasvervangende dood insluit. Daardeur het Hy ‘n model van dissipelskap gegee wat opgesluit lê in selfverloëning, die opneem van ‘n kruis en Hom na te volg (8:34).

Na ‘n proloog (Markus 1:1-15) wat die goeie nuus van Jesus Christus aankondig, ontvou die verhaal in 4 dele, met ‘n kort epiloog aan die einde:

  1. Markus 1:16-3:6 – Jesus begin sy publieke bediening met die aankondiging van die koninkryk van God. Die gebeure volg mekaar vinnig op: Hy roep die dissipels, dryf demone uit, maak die siekes gesond en verbind dit telkens aan die koninkryk van God. In die proses begin die skares van verwondering om Hom saamdrom en laai die teenstand van die godsdienstige en politieke leiers op.
  2. Markus 3:7-8:21 – Die impak van Jesus se bediening van lering en genesing op drie belangrike groepe word beskryf: die skares wat steeds verwonderd staan oor wat Jesus alles doen en sê; die dissipels wat dieper in die geheim van Jesus ingelei word, selfs in die bediening gebruik word, maar stadig van begrip is; die groeiende teenstand wat Jesus se bediening uitlok.
  3. Markus 8:22-10:45 – Jesus lei sy dissipels dieper in die aard en betekenis van sy bediening, in en die wyse waarop dit ‘n model vir hulle van ware dissipelskap gee.
  4. Markus 10:46-15:47 – Jesus gaan Jerusalem binne tot verrukking van die skares, maar word uiteindelik deur hulle verwerp en deur die leiers gekruisig, ironies as die “koning van die Jode”.

Die epiloog (Markus 16:1-8[20]) herinner die lesers daaraan dat Jesus opgestaan het uit die dood.

Interessant, die prentjie van die kerk wat ons in Markus kry, is dat dit die plek is waar grense oorgesteek word na gemarginaliseerdes. Dit pas goed in die situasie van die vervolging in Rome in keiser Nero se tyd.

Net om dit te vergelyk met die ander sinoptiese evangelies:

  • Matteus (apostel?) vertel die storie van Jesus aan Joodse Christene wat ‘n verbintenis het aan die Groot Opdrag aan die heidene. Heel moontlik is dit geskrywe in Antiochië in die 70’s n.C. Die storie van Jesus van Sy geboorte tot die Groot Opdrag sluit groot blokke van sy leringe in en stel Jesus voor as die Seun van God, die Messiaanse Koning van die Jode, wie se boodskap vir alle mense bedoel is. Die kerk is vir hom die familie van God (broers en susters vir mekaar).
  • Lukas (‘n dokter wat Paulus soms vergesel het – Kol 4:14 – die enigste “heidense” outeur in die Bybel) vertel die storie van die redding van Israel wat Jesus (en die Gees in Handelinge) bring. Dit is heel moontlik na die val van Jerusalem in 70 n.C. geskrywe aan Christene uit die heidense nasies. Dit word gerig aan Teofilus, andersins onbekend, wat heel moontlik die publikasie moontlik gemaak het. Lukas plaas die verhaal in die konteks van die wêreldgeskiedenis en sluit die voortgaande bediening van die Gees in die kerk van die begin af in. Die kerk is in die eerste plek vir hom die plek waar alle Jode welkom is, daarom word bv. spesifiek aandag gegee aan die stories van vroue (In Handelinge word dié prentjie uitgebrei).

En natuurlik moet ons nie vergeet dat Handelinge deel twee is van Lukas, wat die storie van redding deur Jesus vertel soos dit deur die Gees en die kerk voortgesit word van Jerusalem af tot in Rome. Die kerk word hier beskryf as die plek waar mense uit alle kulture welkom is (akkulturasie), maar ook deur die evangelie verander word (inkarnasie). Vergelyk bv. Paulus in gesprek met die Epikureërs en Stoïsyne in Atene (Hand 17).

Markus 5:21-43 – “Bly maar net glo!”
Dit tref ‘n mens hoe belangrik geloof en vertroue in Jesus is in die twee verweefde verhale van die raadslid, Jaïrus, van die sinagoge (heel waarskynlik van Kapernaum), en die vrou wat aan bloedvloeiing gely het (vgl Levitikus 15:25–30 vir ‘n beskrywing – sy was ‘n sosiale uitgeworpene, omdat sy voortdurend onrein was). Die vrou se geloof wentel om die aanraking van Jesus, en word inderdaad daardeur genees. Die man se vertroue lê in die feit dat hy aanhou glo, al is sy dogtertjie al dood, soos Jesus Hom aanraai: “Bly maar net glo!”

Jaïrus se naam beteken onder andere “hy staan op” wat moontlik simboliese betekenis kon hê. Dit is ook interessant dat die vrou 12 jaar gely het aan ‘n volwasse vroue siekte, en dat die dogtertjie 12 jaar oud was en op die rand van volwassewording gestaan het. Die ooreenkoms van hierdie wonderwerk met soortgelyke gebeure in die lewe van Elia (1 Kon 17) en Elisa (2 Kon 4) is ook merkwaardig.

Let op hoe drie dissipels genoem word, Petrus, en die twee broers, Jakobus en Johannes, wat ‘n soort binnekring van die dissipels vorm en hier toegelaat word om die opwekkingswonder te ervaar. Hulle is ook die enigste wat teenwoordig is op die berg van verheerliking waar Moses en Elia aan Jesus verskyn.

Die verhaal in Matteus en Lukas`

Matteus plaas die verhaal direk na die gesprek oor die vastyd (Mark 2:18-22) en vermeld dat die dogtertjie al dood was toe Jaïrus met Jesus begin praat het. Hoewel hy die verhaal met ‘n ekonomie van woorde vertel, gee hy tog ‘n ekstra stukkie detail oor die fluitspelers by die huis. Hy vertel nie van die drie dissipels wat saam met Jesus daar was nie.

Lukas plaas die verhaal ook soos Markus na die gebeure met Legio, en volg die orde en detail van Markus se verhaal met kleiner wysigings, byvoorbeeld deur die vraag oor wie Jesus aangeraak het, in die mond van Petrus te plaas.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 72 “Wees Stil, Want Die Heilige Is Hier” of
Flam 26. “Ek Staan Voor U (Reën)”

Votum: Ps 30:2-5
2Ek wil u lof verkondig, Here,
want U het my gered
en my vyande nie laat bly wees
oor my nie.
3Here my God, ek het
na U geroep om hulp
en U het my gesond gemaak.
4Here, U het my gered
van die doderyk,
my aan die lewe gehou toe ek
al op pad was na die dood toe.
5Sing tot eer van die Here,
julle wat Hom getrou dien,
loof sy heilige Naam!

Seëngroet

Lofsang
Psalm 30 of
VONKK 41 “God Is Liefde! Laat Ons Lofsing” of
Flam 112. (a) “My Hande Hef Ek Op Na U” (b) “Ek Roem U Naam”

Wil van God: 2 Korintiërs 8:7-15
7Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig. 8Ek gee nie ’n opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets. 9Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word. 10Nou wil ek julle net raad gee om julle te help. Julle was verlede jaar nie alleen die eerste wat iets gedoen het nie, julle was ook die eerste wat gewillig was om iets te doen. 11Maak die werk nou ook klaar. Die ywer om uit julle beskikbare middele die insameling af te handel, moet net so groot wees as die gewilligheid waarmee julle dit begin het. 12As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie. 13Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te kan help nie; maar sodat daar ewewig sal wees, 14moet julle wat nou oorvloed het, dié help wat gebrek ly. Dan, as hulle weer oorvloed het en julle gebrek ly, kan hulle julle weer help. So kom daar ewewig. 15Daar staan ook geskrywe:
“Dié met baie, het nie
te veel gehad nie,
en dié met ’n bietjie,
nie te min nie.” 

Toewyding
Lied 308 “Neem my lewe, laat dit Heer” of
Flam 288. “Hy Is Die Een”

Genadeverkondiging: Klaagliedere 3:23-33
21Maar dít sal ek ter harte neem
en om dié rede bly ek hoop:
22deur die liefde van die Here
het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie,
23dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
24Ek sê vir myself: Die Here is my lewe,
daarom hoop ek op Hom.
25Die Here is goed vir wie op Hom
bly hoop,
vir die mens wat na sy wil vra;
26dit is goed om geduldig te wag
op die hulp van die Here;
27dit is goed vir ’n mens
om sy las in sy jeug te dra.
28Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly
as God hom die las opgelê het,
29laat hy hom diep verootmoedig
—miskien is daar hoop—
30laat hy sy wang draai vir wie hom slaan,
laat hy maar oorvloedig
smaad ondervind.
31Die Here verstoot ’n mens
nie vir altyd nie;
32as Hy beproewing oor ’n mens
gebring het,
ontferm Hy Hom weer,
want sy liefde is groot:
33dit is teen sy sin
dat Hy mense in ellende en beproewing 
bring.

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes”

Liedere

Flam 26. “Ek Staan Voor U (Reën)”
(RUBRIEK: Kersvlam – Verwondering / Toenadering)
Teks en Musiek: Corli J van Rensburg
© 2009 FLAM Uitgewers

Ek staan voor U
ek kniel voor U neer
ek gee my lewe vir U, liewe Heer
Ek vra na U
na u volheid en mag
ek verlang na U, Heer
na u liefde en u krag

Brug:
Kom, Jesus, genees my seer
want net U is in beheer

Refrein:
Ek dors na U
Ek smag na U
soos `n dor droë land
`n land sonder water
U troue liefde is beter as die lewe
maak my heel
neem my hand

Heer, stort reën oor my land
Hier staan ek Heer op my knieë
laat u wil geskied
laat my wandel in u weë
Ek is klein en dwaas
maar U leef in my
u bloed aan die kruis het my bevry

(Brug)
(Refrein)

(Einde:)
Kom Jesus
laat dit reën
laat dit reën
laat dit reën
Heer laat dit reën…

VONKK 72 “Wees Stil, Want Die Heilige Is Hier”
Teks: Be still, for the presence of the Lord – David J Evans (1986); Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008 ©
Melodie: BE STILL – David J Evans 1986
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: David J Evans 1986
Kantoryverwerking: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Musikale verryking: Anton Esterhuyse 2010
© 1986 Kingsway Thankyou Music (admin CopyCare SA)
RUBRIEK: Kontemporêr – Toetrede en Aanbidding

1. Wees stil, want die Heilige is hier
in ons teenwoordigheid.
Kom buig nou voor Hom neer
met eerbied en ontsag.
Erken sy heiligheid
en sy geregtigheid.
Wees stil, want die Heilige is hier
in ons teenwoordigheid.

2. Wees stil, want die heerlikheid van God
skyn oral rondom ons.
Hy is met eer gekroon,
met mag en majesteit.
Uit Hom straal helder lig –
‘n glans wat als verlig.
Wees stil, want die heerlikheid van God
skyn oral rondom ons.

3. Wees stil, want die Here God van mag
is werksaam om ons heen.
Hy neem ons sonde weg,
genees ons grootste seer.
Niks stuit die Gees se werk
of kan sy krag beperk.
Wees stil, want die Here God van mag
is werksaam om ons heen.

VONKK 41 “God Is Liefde! Laat Ons Lofsing”
Teks: God is Love – Timothy Rees (1874-1939); Jacques Louw 2008 ©
Musiek: ABBOT’S LEIGH – Cyril Vincent Taylor 1942 (1907-1991)
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: 1970 Oxford University Press. Met toestemming gebruik.
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

1. God is liefde! Laat ons lofsing
– hemel, aarde, mensdom saam.
God se grootheid in die skepping,
laat ons jubel oor sy Naam!
Hy wat alles goed gemaak het,
hou die heelal in sy hand.
Hy oorlaai ons met sy goedheid –
liefde ver bo ons verstand.

2. God is liefde! Hy omvou ons
daagliks met ‘n liefdesband.
Hy bewaar uit alle volke
al sy kinders deur sy hand.
As die lewe ons laat seerkry,
as ons ly deur pyn en smart,
weet ons God deel in ons swaarkry –
daar is deernis in sy hart.

3. God is liefde, maar die sonde
maak ons vir sy liefde blind.
God vergeef, genees die wonde
van die sonde wat ons bind.
Sonde, dood en hel sal nooit nie
oor ons heerskappy kan kry.
God se liefde, so onfeilbaar,
sal vir ewig by ons bly.

Flam 112. (a) “My Hande Hef Ek Op Na U”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: I Lift My Hands
Teks en Musiek: André Kempen
Afrikaanse vertaling: Vers 1 Jan de Wet & vers 2 Atlanta van Vuuren
© 1989 Kempen Music

1. My hande hef ek op na U
Ek loof U naam en buig voor U
want U is Heer,
die Koning van my hart.
En ek dien geen afgod nie
en niks is meer belangrik nie
as dat U in my hart regeer
daar is geen plek vir ander nie.
Voor U o Heer,
lê ek nou, my lewe neer.

2. O Koning Heer, ek wil U eer
U naam besing, U hulde bring
want U o Heer, bly altyd, in beheer.
U wil ek my lewe wy
gehoorsaam my in U verbly
Laat my lied ‘n loflied wees
aan U o Vader, Seun en Gees.
Ek wil U roem, Vader noem
My God en Heer.

(b) “Ek Roem U Naam”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof / Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: I lift my hands
Musiek: André Kempen
Teks: Braam Hanekom (met toestemming André Kempen)
© 1989 Kempen Music
(Opgeneem in Jeugsangbundel II; Opgeneem op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek roem u Naam,
ek wil graag sing.
Ek wil U eer,
U hulde bring.
want daar is trou en liefde by U, Heer.

Refrein:
Ek wil voor u almag buig,
met my hele hart getuig
van u groot ontferming,
genade vir ‘n sterfling.
Ja, daar is geen einde aan u liefde nie

2. My diepste nood
bring ek voor U.
Ek bid tot U,
ek vra U, Heer,
sien my tog raak, genees my grootste seer.

Refrein:

Flam 288. “Hy Is Die Een”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Geloofsbelydenis)
Teks en Musiek: Carli Lessing
© 2007 Broken Records

1. Hy is die een wat ek glo
Hy is die enigste waarheid nou vir my
Hy is die een wat ek glo
En elke woord wat Hy sê dra ek met my

Pre-Chorus 1:
En Hy is die een wat sy liefde kom gee
Sonder dat ek dit ooit kan verdien

Refrein:
Jesus, ek sal U volg
Elke dag in u voetspore loop
Jesus, ek sal U volg
En waar U my ook lei, sal ek gaan

2. Hy is die een wat genees
Hy is die een wat die blind in my laat sien
Hy is die een wat genees
En ook die een wat my lymkoud hart laat voel

Pre-Chorus 1:
Refrein:

3. Hy is die een wat ek soek
As ek alleen en onseker rond bly dwaal
Hy is die een wat ek soek
Die einde en die begin van my verhaal

Pre-Chorus 2:

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes”
1 Petrus 2:24
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: JOANIE — Francé Ludik 2003 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis / Nagmaal / Lydenstyd

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.

VONKK 123 “Wees Stil En Weet”
Teks: Stille, mein Wille! – Katharina von Schlegel (gebore 1697); Be still my soul – Jane Borthwich 1814-1897; Jacques Louw 2010 ©
Musiek: FINLANDIA – Jean Sibelius 1899 (1865 -1957)
© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lyding en Nood / Sterwe en Begrafnis

1. Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Kom bring na Hom jou hartseer en jou pyn.
God sal voorsien; in donker tyd van seer
sal sy genade helder oor jou skyn.
Wees stil en weet: Die Here God regeer.
Net Hy genees ons hart se diepste seer.

2. Wees stil en weet: Die Heer is altyd daar.
In smart en eensaamheid is Hý by jou.
Sy Heil’ge Gees sal jou getrou bewaar
en met sy troos en liefde jou omvou.
Wees stil en weet: Die Heer is altyd daar.
Hy sorg vir jou in hartseer* en gevaar.

3. Wees stil en weet: As storms om jou woed,
is Hy die rots waarop jy kan kan bou.
Vertrou op Hom; in voor- en teëspoed
kan jy jou lewe aan Hom toevertrou
Wees stil en weet: Die Here is jou krag.
Hy gee jou moed en hoop vir elke dag.

4. Wees stil en weet: Jou God is in beheer.
Niks sal jou ooit kan ruk uit God se hand.
Geen siekte, swaarkry wat jy mag ontbeer
sal jou kan skei van God se liefdesband.
Wees stil en weet: Jou God is in beheer.
Niks kan sy liefde vir sy kinders keer.
* kan met siekte/lyding/swaarkry vervang word

God praat met ons en ons luister

Gebed Lied 257 “O Heer, maak oop my hart se poort”

Skriflesing: Markus 5:21-43

Familie-oomblik

Die twee verhale wys hoe geloof prakties werk. Vertel die verhale met die klem op hulle vertroue op Jesus, ten spyte van wat ander mense sou kon sê of doen aan hulle.

  • Jaïrus, ‘n vername Jood, leier van die sinagoge van die Jode, waag dit om Jesus te vra om sy dogter te genees, al plaas dit sy werk in gevaar. Hy is bereid om sy werk te verloor, sodat sy dogter kan lewe. En hy hou aan glo toe Jesus dit van hom vra.
  • Die vrou, iemand waarmee ander mense niks te doene wou hê omdat sy so siek was, waag dit om Jesus uit te soek en aan te raak om genees te word. Sy laat haar nie afsit deur wat ander van haar sal sê nie, en vertrou dat Jesus haar kan genees. En Hy doen dit.

Aanvullend/ alternatiewelik kan ‘n animasie video van YouTube oor Jaïrus se dogtertjie se genesing afgelaai word met ‘n FLV converter. Die storie word in Engels vertel en die video is net oor die 8 minute lank.

Preekriglyn

Fred Smith is ‘n invloedryke sakeman wat Christenleiers reeds vir dekades mentor. Hy word ernstig siek in 2004. Semi-bewusteloos beland hy in die hospitaal. Sy familie het nie verwag dat hy sou leef nie.

In sy siektetoestand mompel Fred kort-kort: “Ek begeer om huis toe te gaan. Ek wil tuis wees.” Dit lei tot ‘n emosionele familiegesprek waartydens die familie besluit om Fred se wense te respekteer en hom toe te laat om te sterf. Hulle vra dat die masjiene ontkoppel word, wetende dat Fred nie lank sou neem om te sterf nie.

Vir die volgende 36 uur waak hulle langs sy bed, sing, bid, lees uit die Bybel voor, en groet vir Fred. Sy toestand gaan inderdaad agteruit, sy longe begin versaak, en sy asemhaal verswak radikaal. Teen middernag op die tweede dag sit sy dogter, Brenda, en bid tot God om antwoorde. Waarom ly haar pa so? Wanneer gaan hy dan huis toe?

Fred gaan aan die hoes. Hy word wonderbaarlik wakker. Brenda begin met hom gesels, troos hom, en verseker hom dat die familie hom dit gun om huis toe te gaan. Alles gaan rustig wees, borduur sy voort. Fred sal sy bewussyn verloor en sagkens oor die grens van hier na daar gaan.

Fred se oë rek groot. Hy kry sy asem terug. Huis toe? Hy wil glad nie na sy ewige huis toe gaan nie, sê Fred. “Ek wil Parkchesterweg toe gaan!” Brenda is verstom, weet aanvanklik nie wat om te sê nie. Dan vlieg sy op, gaan roep die verpleegsuster, wat die dokter bel. Gou-gou is die masjiene weer gekoppel en volstoom aan die werk.

So waar as vet: Fred staan uit sy siekbed op en gaan huis toe. Die Here het hom aangeraak en vir hom genesing gegee.

Twee genesings

Ons preekteks bevat twee genesingsverhale wat ineengestrengel is.

Die verhaal begin met die raadslid van die sinagoge wat by Jesus om hulp aanklop omdat sy dogter sterwend is. As hoorder van die verhaal word ons getref deur die man se nood: “My dogtertjie lê op haar uiterste” (23). Elkeen wat al ’n siek kind gehad het, sal weet wat hierdie situasie aan ’n ouer kan doen. Die siekte is akuut en vereis Jesus se onmiddellike aandag.

Ons lees ook van sy geloof: “Kom lê tog u hande op haar sodat sy kan gesond word en lewe”. Daarom is ons bly om te lees dat Jesus sy versoek toestaan en saam met hom gaan.

Maar hierdie kind is nie die enigste sieke nie. “Daar was ook ’n vrou” (25) wat al 12 jaar lank siek is. Alhoewel haar siekte ook besonder erg is, is haar toestand chronies van aard en nie lewensbedreigend nie. Die feit dat Jesus eers aan haar tyd afstaan, het tot gevolg dat die siek dogtertjie intussen sterf. Omdat ons die einde van die verhaal ken, is dit vir ons nie so ’n groot probleem nie. Ek kan my voorstel dat die pa van die kind dalk anders daaroor gevoel het! Ons haal die twee verhale eers uitmekaar.

Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het

Ons weet min van die arme vrou, net dat sy baie lank chronies siek was. Dat sy al die mediese moontlikhede vir genesing uitgeput het – trouens, die Bybel sê dat sy “baie gely” het onder die behandeling van talle dokters. Sy het verskillende dokters besoek, in die hoop dat iemand haar kan help. In die proses het sy alles wat sy besit het, daaraan bestee. Maar haar toestand het net vererger. Die realiteit van haar lewe was dus baie hartseer: Uiteindelik was sy nie net siek nie, maar arm ook. Sy was sosiaal waarskynlik uitgestoot – as gevolg van haar bloedvloeiing was sy permanent onrein, en dus in die sinagoge, in die tempel en in die algemene sosiale omgang onwelkom (Lev 12; Eseg 18:6). Hierdie arme mens vestig haar laaste hoop op Jesus. Sy glo dat as sy net aan sy klere kan raak, sal sy genees word.

Dit doen Jesus dan ook. Hy ontferm Hom oor haar. Hy laat haar ook nie net saggies weggaan na haar genesing nie. Jesus laat nie so ’n onpersoonlike ontmoeting met Hom as die Messias toe nie. As Jesus omdraai en na die vrou begin soek, val sy op haar knieë voor hom neer en vertel Hom haar hele geskiedenis. Dit moes vir haar ’n wonderlike en bevrydende oomblik gewees het – al die jare se lyding kon sy voor Jesus uitstort. Haar hele lewe verander en Jesus gee haar die belofte van vrede, asook dat sy volkome genees is (34). Jesus doen hier niks minder nie as om haar lewe vir haar terug te gee. In dié gesprek spreek Jesus hierdie merkwaardige woorde: “Jou geloof het jou gered.”

Die rol van geloof

Geloof – die geloof van die persoon wat genees word – speel dikwels ’n groot rol in die wondergenesings. Maar daar is geen bloudruk van ’n “perfekte geloof” wat die minimum standaard sou haal sodat Jesus dan daarop reageer deur ’n wonderwerk te doen nie! Hierdie vrou het, om die waarheid te sê, ’n ietwat twyfelagtige geloof, naamlik dat daar magiese krag uit Jesus se klere na haar sal oorvloei. Sekerlik nie ’n geloofsheld nie! Dit geld ook van die pa van die siek kind waarvan Markus 9:24 ons vertel. Hy is nie eers seker of hy wel glo nie, daarom roep hy: “Ek glo . . . Help my in my ongeloof.” Daar is geen sprake van ’n perfekte geloof by die ontvangers van God se genade nie. Net maar ’n fokus op Jesus, dat Hy Hom op een of ander manier oor hulle sal ontferm. Jesus ontferm Hom dan oor hierdie vrou en genees haar. Hy ontferm Hom ook oor die siek kind in Markus 9.

Wat veroorsaak genesing?

Jy kan hier met reg vra: Wat is die eintlike oorsaak van die genesing? Is dit die vrou se geloof, of Jesus se krag (ten spyte van haar ietwat verdagte geloof). Van Ruler sê hiervan dat ’n mens die twee nie so teen mekaar durf afspeel nie. Dit is duidelik dat albei hier ’n rol speel, sowel die vrou se misplaaste maar opregte geloof, as die feit dat Jesus om Godswil haar wil aanraak. Natuurlik is dit God se krag wat hier deur Jesus werk.

Maar ons word deur God se krag in Jesus Christus aangeraak wanneer ons ons deur die geloof in afhanklikheid voor God stel. Wanneer ons, by wyse van spreke, moeite doen om aan die soom van Jesus se kleed te raak. Aan diegene wat in geloof en afhanklikheid na Jesus toe kom, sê Hy: “Jou geloof het jou gered.” Aan diegene wat nie na Jesus toe kom nie, sê Jesus dit nooit! Die sleutel is dus geloof wat ons na Jesus toe rig, wat ons na Hom toe bring, wat maak dat ons Hom volg, dat ons sy dissipels word. Daarom is geloof belangrik, trouens – onontbeerlik. Oor die inhoud van die geloof kan ons lank redeneer. Uit hierdie verhaal is dit egter duidelik dat daar mense is wat dalk op punte anders as ons glo, maar waarvan die geloof tog nog op Jesus Christus gerig is. Ook hulle geloof is aanneembaar by Jesus, omdat die fokus daarvan op Hom gerig is.

Jaïrus se kind

Wat vir die vrou ’n wonderlike ervaring moes wees, was vir Jaïrus waarskynlik louter hel. En terwyl hy seker ongeduldig maar beleefd wag dat Jesus klaar luister na die arme vrou se hele lewensgeskiedenis, sterf sy kind.

Hy wat Jaïrus is, het ook in Jesus geglo. Selfs al was hy ’n raadslid van die sinagoge, wend hy hom tot Jesus. Soos reeds genoem, verklaar hy sy geloof in vers 23 duidelik: “Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.” Hy glo dus dat Jesus die mag het om haar gesond te maak en haar lewe ook volledig vir haar terug te gee, soos wat Hy vir die vrou gedoen het. Maar nou het Jesus so lank gedraai dat dit te laat geword het. Sy kind is dood. Sy huismense, wat die boodskap bring, sê vir hom dat hy Jesus nie langer moet lastig val nie. Hulle glo duidelik nie dat Jesus nou meer iets kan doen nie.

Wat het in Jaïrus se hart aangegaan? Ons weet nie. Die Bybel sê niks. Ook hier is nie sprake van onwrikbare wonderwerkende geloof by hom nie. Nee, die krag in hierdie situasie kom ook van Jesus af. Dit is Jesus wat hom troos en bemoedig met die woorde: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo” (36). As Jesus die kindjie dan besoek, vat hy net vir Petrus, Jakobus en Johannes en die kind se ouers saam.

Wanneer Hy by die huis kom, met die boodskap dat die kindjie net slaap, lag die mense Hom uit. As eerste reaksie kan ons besonder negatief oordeel oor hierdie gelag. Maar dit is ten diepste die reaksie van verdriet, van verlore hoop. Hierdie mense weet wat die dood is. Hulle weet wanneer iemand dood is. En in ’n pynlike situasie waar ’n kind nou net dood is, het hulle nie tyd vir speletjies nie.

Ons kan gerus ’n bietjie simpatie met hulle hê – hulle ken die dood, maar nie vir Jesus nie. Later sal hulle egter ook weet: By Hom is daar lewe en hoop – in lewe en dood! Jesus wek die dogtertjie uit die dood op met die bekende woorde: “Talita, koem!” By al die veronderstelde trane van vreugde en blydskap, sê die Bybel ook dat die mense stom was van verbasing. Daar was nou geen plek meer vir ’n siniese lag nie. Net maar plek vir stille dankbaarheid en respek vir Jesus.

Vrae met of sonder antwoorde

Daar is geen antwoord op die vraag waarom Jesus eers Jaïrus se dogtertjie laat sterf het terwyl Hy tyd bestee het aan die siek vrou nie. Daar is baie vrae – veral rondom swaarkry en lyding – waarop daar geen goeie antwoorde is nie. Maar daar is vir ons troos in Jesus se woorde aan Jaïrus: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

As ons self die draaiboek vir hierdie verhaal geskryf het, sou ons waarskynlik dat Jesus eers gou die akute probleem van die siek kind hanteer het. Daarna kon Hy rustig aandag gegee het aan die chroniese probleem van die vrou, wie se lewe nie in gevaar was nie.

Maar ons skryf nie die draaiboek nie. Nie van hierdie verhaal nie en ook nie van ons eie lewensverhaal nie – alhoewel ons medewerkers daaraan is. Die draaiboek van ons eie lewensverhaal maak dikwels ook onverstaanbare draaie sodat ons maar net saam met Jaïrus kan wonder waarom God dan nie aandag gee aan ons dringende smeekbedes nie. Of saam met die vrou twaalf jaar lank gebuk gaan onder erger wordende lyding met skynbaar geen einde nie. Jesus verduidelik nie sy optrede aan Jaïrus nie. Hy verduidelik dit ook nie aan ons nie. Maar Hy bemoedig Jaïrus – en ons – met die woorde: “Moet jou nie ontstel nie. Bly maar net glo!”

Vir ons is dit goed om te weet dat die Een wat so sê, die Koning is. Ons Koning. En dat geloof en geduld baie naby mekaar lê. Die Bybel noem dit “volhard in die geloof”. Jesus sê in hierdie verhaal: “Bly maar net glo.”

Bly glo

Ja, ons word genooi om te bly glo in die Een wat ons lewe in sy hande hou. Of ons lewe, genees word, uit ‘n ernstige siekbed opstaan en huis toe terugkeer, of nie. God is ons troos. In lewe en in sterwe.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotlied
Lied 574 “‘n Skare stroom van oral saam” of
VONKK 123 “Wees Stil En Weet’

Seën

Respons
VONKK 123 “Wees Stil En Weet” Refrein:
“Wees stil en weet: Jou God is in beheer. Niks kan sy liefde vir sy kinders keer.” (Of enige van die ander verse se refrein) of  

Lied 494 “Gelukkig is die mens” laaste deel van die refrein:
“God wil en kan en sal vir ons ‘n toevlug wees .”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.