Vyfde Sondag van Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Vanoggend se sleutelteks  bied die geleentheid om die gemeente te begelei om binne die legio dinge wat in hulle lewe gebeur en die uitdagings van die lewe tot rus te kom en versterk te word deur ’n ontmoeting met God. Hierdie ontmoeting laat ons egter nie ontvlug van ons roeping nie, maar gee ons juis krag om God se verteenwoordigers in die wêreld te wees.

Ander tekste

Psalm 42
Mens, waarom so in vertwyfeling?
42 Vir die koorleier. ’n Gedig van die
Koragiete.
2Soos ’n wildsbok smag
na waterstrome,
so smag ek na U, o God.
3Ek dors na God, na die lewende God.
Wanneer kan ek gaan
en voor God verskyn?
4Dag en nag is ek in trane,
want sonder ophou sê hulle vir my:
“En waar is jou God nou?”
5As ek my lewe voor my laat verbygaan,
dink ek daaraan hoe ek opgetrek het
na die woonplek van God,
voor ’n skare uit
na sy huis toe geloop het
met gejuig en lofsang—
’n skare wat feesvier.
6Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.
Hy is my helper 7en my God!
Uit my vertwyfeling roep ek na U
hier van die Jordaangebied,
van Hermonberg,
van die Kleinberg af
8waar die waters teen mekaar raas
en u waterstrome bruis.
U het golf na golf oor my laat slaan.
9Tog sal die Here weer op ’n dag
sy trou laat blyk
en sal ek selfs in die nag
’n lied vir Hom sing,
’n gebed tot die God van my lewe.
10Ek wil vir God sê:
“My Rots,
waarom het U my vergeet?
Waarom moet ek gebuk gaan
onder die smaad van die vyand?”
11Dit sny deur my hele wese
as my teëstanders my spot
en dag na dag vir my sê:
“En waar is jou God nou?”
12Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom
’n loflied sing.
Hy is my helper en my God!

Psalm 43
Stuur u lig en u waarheid
43 Laat tog reg aan my geskied, o God,
behartig tog my saak
teen ’n godlose bende,
red my van vals en misdadige mense.
2Net U is my skuiling, my God;
waarom verstoot U my dan?
Waarom moet ek gebuk gaan
onder die smaad van die vyand?
3Stuur u lig en u waarheid
dat dié my lei
en my bring na u heilige berg,
na u woning!
4Laat my ingaan na die altaar van God,
die God oor wie ek wil jubel en juig,
dat ek U kan loof met die lier,
o God, my God!
5Waarom is ek so in vertwyfeling
en waarom kerm ek so?
Vertrou op God!
Ja, ek sal weer vir Hom
’n loflied sing.
Hy is my helper en my God!

Galasiërs 3:23-29
23Voordat hierdie geloof gekom het, is ons deur die wet gevange gehou en bewaak totdat die tyd van die geloof sou aanbreek. 24Ons was dus onder die toesig van die wet totdat Christus sou kom, sodat ons deur te glo, vrygespreek sou word. 25Maar nou dat die tyd van die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van die wet nie.

26Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, 27want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. 28Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één. 29En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Lukas 8:26-39
’n Besetene word van bose geeste bevry

(Matt 8:28–34; Mark 5:1–20)
26Daarna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat reg teenoor Galilea lê. 27Toe Jesus daar aan wal gaan, het ’n man van ’n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het ’n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in ’n huis gebly nie, maar tussen grafte. 28Toe hy Jesus sien, skreeu hy en val op sy knieë voor Hom neer terwyl hy hard uitroep: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!”

29Dit het hy gesê omdat Jesus die onrein gees beveel het om uit die man uit te gaan. Dit was ’n bose gees wat hom al baiekeer beetgepak het. Al het hulle hom met hand en voetboeie vasgemaak om hom in bedwang te hou, het hy die boeie uitmekaar geruk en is hy deur die bose gees die woestyn in gejaag.

30Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?”

“Legio,” antwoord hy, want daar het baie bose geeste in hom ingevaar. 31Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onderaardse diepte toe terug te stuur nie.

32Daar het ’n hele trop varke teen die berg geloop. Die bose geeste het Jesus gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar. Hy het hulle dit toegelaat, 33en die bose geeste het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop sit toe op loop teen die hang af, die see in, en hulle versuip.

34Toe die wagters sien wat gebeur het, hardloop hulle weg en gaan vertel dit in die dorp en op die plase. 35Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die bose geeste uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand, en hulle het bang geword. 36Maar dié wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene genees is. 37Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan.

38Die man uit wie die bose geeste uitgevaar het, het Jesus gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom weggestuur en gesê: 39“Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God vir jou gedoen het.”
Hy het toe gegaan en die hele dorp deur bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het.

Fokusteks

1 Konings 19:1-4, (5-7), 8-15a
Elia vlug vir Isebel
19 Agab het vir Isebel vertel wat Elia alles gedoen het, ook dat hy al die profete om die lewe gebring het. 2Toe het Isebel ’n boodskapper na Elia toe gestuur om vir hom te sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie môre teen hierdie tyd met jou gemaak het soos jy met die profete nie.”

3Elia het bang geword en ter wille van sy lewe gevlug. Toe hy by Berseba in Juda kom, het hy sy slaaf daar agtergelaat. 4Hy self het egter ’n dagreis ver die woestyn in gegaan. Daar het hy onder ’n besembos gaan sit en gewens hy gaan dood. Hy het gesê: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie.”

5Toe gaan hy lê en hy het daar onder die besembos aan die slaap geraak. Toe hy hom weer kom kry, skud ’n engel aan hom en sê: “Word wakker! Eet!”

6Toe hy opkyk, sien hy by sy kop roosterkoek wat op warm klippe gebak is, en ’n kruik water. Hy het geëet en gedrink en weer gaan lê. 7Die engel het ’n tweede keer aan hom geskud en gesê: “Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.”

8Toe staan hy op en hy eet, en deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God.

9Hy het in ’n grot ingegaan en die nag daar deurgebring. Toe het die woord van die Here tot hom gekom en vir hom gesê: “Wat maak jy hier, Elia?”

10Hy antwoord toe: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”

11Maar die Here sê vir hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”

Skielik was daar ’n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ’n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. 12Na die aardbewing was daar ’n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte.

13Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak en by die bek van die grot gaan staan. Toe hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “Wat maak jy hier, Elia?”

14Hy het geantwoord: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met u verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.”

15Maar die Here sê vir hom: “Draai in jou spore om

na die Damaskuswoestyn toe, en as jy daar aangekom het, moet jy vir Gasael salf tot koning van Aram. 16Jy moet ook vir Jehu seun van Nimsi salf tot koning van Israel, en vir Elisa seun van Safat uit Abel-Megola moet jy salf tot profeet om jou op te volg. 17Dan sal dit só wees: wie Gasael se swaard vryspring, Jehu sal hom doodmaak; wie Jehu se swaard vryspring, Elisa sal hom doodmaak. 18Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie.”

19Nadat hy daarvandaan af weggegaan het, kry hy vir Elisa seun van Safat besig om te ploeg met twaalf spanne van twee, terwyl hy self by die agterste span geloop het. Toe Elia by hom verbyloop, gooi Elia sy mantel op hom. 20Hy het sy osse net so gelos en agter Elia aangehardloop en gesê: “Laat ek tog net my pa en ma gaan groet. Dan sal ek saam met u gaan.”

Elia antwoord hom toe: “Gaan as jy wil. Ek hou jou mos nie terug nie.”

21Toe draai Elisa om en gaan slag twee osse, en met die juk het hy die vleis gebraai en vir sy werksmense gegee om te eet. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.

Ekstra stof

Elia se moedeloosheid, moontlik as gevolg van uitbranding, om na die grootste hoogtepunt van sy bediening, die oorwinning oor Baäl voor die oë van die koning en sy mense.  In só ’n situasie werk ’n mens se kop natuurlik nie meer logies nie, want die dreigement van Isebel, die krag agter die troon en die godsdiens, wat die gode aanroep, is eintlik hol na Elia se demonstrasie op die berg Karmel dat daar nie ander gode is nie!  Hoe ironies dat ’n leë dreigement só ’n uitwerking op Elia kon hê.

Elia sou nie veilig wees in Juda nie, aangesien koning Agab en koning Josafat van Juda ’n goeie verhouding gehad het (hulle veg bv. saam in ‘n oorlog 1 Kon 22) en vlug na Berseba, die mees suidelike deel van Israel (vgl die frase “van Dan tot Berseba” wat die vêrste Noord-Suid punte van die land aandui – 1 Sam 3:20).  Hier was ook ’n heiligdom waarteen Amos in die tyd van Jerobeam II uitgevaar het (Amos 5:5).

Dit is egter ook die plek waar die ooreenkoms tussen Abraham en Melgisedek gesluit is (Gen 21:27 vv), waar Elia self nou ’n ontmoeting met ’n engel het.  Dit is ook die plek waar Hagar deur die Here se engel tegemoet gekom word (Gen 21).

En dit is veral ook die plek waar Moses wonderwerke beleef het.
Let op hoe Elia ’n doodsbegeerte het, net soos Moses dit lank tevore gehad het (Num 11).  Die Here versterk hom egter deur die brood en water (vgl die manna en water in die woestyn met Moses) wat die engel vir hom voorberei, en stuur Elia na die (ge)berg(te) Horeb (ten nouste verbind aan die berg Sinaï, wat moontlik die naam is van ’n bergpiek in die Horeb gebergtes), die plek waar Moses by die brandende braambos sy opdrag kry (Gen 3), hy later water uit ’n rots in die woestyn laat loop (Gen 17), en uiteindelik op die Sinaïberg die wet van die Here ontvang (Eks 19-24).  Die tydperk van sy reis, 40 dae en nagte, kom ook ooreen met Moses se tyd op die berg.

Na ’n nag se uitrus, ontmoet Elia vir God self.  Anders as met Moses bied die Here aan om voor Elia verby te gaan (vgl Moses in Eks 33).  Hy is egter nie in die sterk wind of die aardbewing of die vuur nie.  Hy is in die fluistering in die windstilte.

Let op hoe die Here twee keer vir Elia vra: “Wat maak jy hier?”  Die eerste keer antwoord die Here Hom met die fluistering in die windstilte, die tweede keer met ’n aantal nuwe opdragte: “Draai in jou spore om …”  Uit dié opdragte sou ’n hele aantal konsekwensies vir Israel kom: Gasael as koning van Aram en Jehu as koning van Israel sou die oordeel van God op die huidige ongehoorsaamheid van die volk teenoor God laat kom, waartydens Isebel ook sterf, en Elisa sou die profeet word wat Elia sou opvolg en Elia se profetiese werk in Israel voortsit.  Om die waarheid te sê, Elisa sou eintlik vir Gasael salf en iemand uit sy groep sou Jehu salf tot koning.

Let ook op dat die Here self sorg dat daar 7 000 gelowiges oorbly wat nie vir Baäl aanbid nie.  Dit is eintlik vir my die mees gerusstellende boodskap in die gedeelte.  God sluimer of slaap nooit nie, en Hy lei nooit aan uitbranding nie!

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 159 “God is hier teenwoordig vs 1,2,3”

Aanvangswoord 
Gee geleentheid vir stilte na die aanvangswoord.

Litanie na stilte
Voorganger: Ek roep na God om hulp.
Gemeente: Ek roep na God, want Hy sal my hoor.
Voorganger: Ek wil dink aan die dade van die Here,
ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër.
Voorganger: Ek wil nadink oor al u werk,
Gemeente: en oor al u dade peins.
Voorganger: Alles wat U doen, is heilig, o God.
Gemeente Waar is ’n god so groot soos God?
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13, 23 Junie 2013)

Seëngroet 
Voorganger: Genade en vrede vir julle van God die Vader . . .
Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Voorganger: . . . en van God die Seun . . .
Gemeente: Ons skuld het Hy gedra.

Voorganger: . . . en van God die Heilige Gees.
Gemeente: Hy maak ons nuut
(uit: Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle,  17).

Lof 197 “Wonderbare Koning 1,2” en/of
Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Wet van God (Eksodus 20, Die Boodskap)
Die Here het die volgende reëls vir sy ooreenkoms met die volk gegee:  “Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte bevry waar jy slawewerk gedoen het.  Net Ek mag jou God wees. Jy mag nie ander gode hê nie.  Jy mag nie vir jou ’n beeld maak of iets in die skepping probeer naboots om dit te aanbid of daarvoor te offer nie. Jy mag nie beelde maak wat lyk soos enigiets wat in die lug daar bo is of soos iets hier op die aarde waarop jy bly of soos iets in die plekke in die water onder die aarde, om dit te vereer soos God nie. Ek verdra dit nie dat jy in ander gode glo nie. Ek reken met almal af wat die rug vir My draai, selfs met hulle kleinkinders en agterkleinkinders.  Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is. “Jy mag nie die Here jou God se Naam sommerso gebruik nie. Die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik sonder dat hy respek vir die Here het. “Onthou dat die sewende dag die Here se dag is.  Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan en jou met jou alledaagse dinge besig hou. Die sewende dag is die Here jou God se dag. Jy, jou kinders, die man en vrou wat vir jou werk, jou vee en die buitelander wat by jou bly, nie een van hulle mag op die sewende dag met elke dag se werk aangaan nie.  Die Here het die lug, die grond en die see met alles wat daarin bly, binne ses dae gemaak. Op die sewende dag het die Here gerus. Die Here het daarom van die sewende dag iets besonders gemaak en dit vir Hom eenkant gesit. “Jy moet respek hê vir jou pa en jou ma. Jy sal dan lank en gelukkig leef waar die Here jou laat bly. “Jy mag nie iemand anders doodmaak nie. “Jy moenie ontrou wees aan jou man of jou vrou en by iemand anders slaap nie. “Jy moenie iets steel nie. “Moenie vir ander mense lieg en hulle bedrieg nie. “Moenie afgunstig raak op iemand anders se besittings nie. Jy moenie wens dat sy vrou of sy werkers, sy bees of sy donkie, eerder aan jou behoort het nie. Jy moenie jaloers wees op die dinge wat iemand anders het en dink dat jy dit eerder moes besit het nie.”

Skuldbelydenis: Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil vs 1”

Vryspraak: Romeine 5
Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God. 3Dit is egter nie al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, 4en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; 5en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het. 6Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe. 7’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie, selfs nie vir ’n regverdige nie. Ja tog, vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. 8Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. 9Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. 10Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. 11Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.

Lied 240 “Heiland as in ootmoed stil vs 2”

Liedere

Flam 6  “Heer Jesus, my Redder”
Musiek: Darlene Zschech
Teks: Shout to the Lord  –  Afr teks:  © Jacques Louw, 2005
Teks & musiek: © Hillsongs Australia / Unisong Music Publishers

Heer Jesus, my Redder,
Heer, daar is niemand soos U.
Laat elke dag, als wat ek doen,
volwees van U liefde, Heer.

My skuilplek, my trooster,
veilige vesting van krag.
Met hart en stem, als wat ek het,
bring ek aan U ewig eer.

Refrein:
Kom laat ons juig, kom ons sing voor die Here.
Sing van Sy mag, van Sy grootheid en krag.
Berge buig neer en die see ruis saam
by die aanhoor van sy Naam.

Ek wil U prys, want U is my Skepper.
Ek wil U loof en my lewe lank eer.
Niks vergelyk met u liefde 
en sorg vir my.

F267.”As Ek Kon Sing (Sy Woorde)”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
©  2008 Urial Publishing

1. As ek kon sing soos die eng’le sing
en die hemel se taal verstaan
Dan sou ek
die Here God kon prys
Maar al praat ek in aardse taal
met die vlekke van ‘n mens
luister Hy
na die woorde van my hart

Refrein:
Want Hy leer my weer ‘n lied
met die woorde wat Hy bied
om te sê die Vader is hier by my
Hy’s die Heer wat oor my waak
wat my nooit nie sal verlaat
Hy’s die Een wat ewig sorg vir my

2. Here wat oor die aarde strek
oor elke mens oor elke plek
hoor die lied
wat ek bring om U te prys
En as my woorde somtyds faal
om U grootheid te bepaal
luister tog
na die woorde van my hart

Brug:
In die aand buig ek my neer
om te sing tot Sy eer
al my note skiet tekort
maar Sy Gees word uitgestort
en Sy liefde vloei oor my
en Sy liefde vloei oor my
en Sy liefde vloei oor my

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Genadige God, U nooi ons uit om U te volg op ’n reis na ware vryheid. Doen vandag weer die wonderdaad om ons met u Woord aan te raak, sodat die weerstand om naby aan U te kom ons nie oorweldig nie, en ons met liefde vir U en ons naaste kan leef.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13, 23 Junie 2013)

Skriflesing: 1 Konings 19:1-15

Prediking

Familie-oomblik

Dit is nog ‘n verhaal wat uitstekend op ‘n dramatiese wyse vertel kan word.  Die perikoop indeling fokus op Elia se ervaring van uitbranding en benoudheid vir die gevaar wat Isebel, die wreedste koningin in die Bybel, vir hom bied.  Kinders sal uitstekend identifiseer met die wyse waarop God hom help met kos, rus en krag.

Die toneel op die berg kan ook gebruik word om kinders te leer hoe om na God te luister.  Hy praat nie in die groot gebeure nie, maar in die “fluistering van die windstilte”.
(Uit die vorige bydrae by Seisoen van luister, 12 Augustus 2012)

Aktiwiteit: Soek die sleutelwoorde wat in die fokusteks na vore kom…

Die volgende woorde is weggesteek:

Preekriglyn

Marilyn McEntyre vertel hoe sy die boek A Hole is to Dig vir haar kinders gelees het toe hulle klein was. Elke bladsy, pragtig geïllustreer, praat oor die doel van een of ander item: “‘n Hoop blare is om in te speel, ‘n modderpoel is om in te gly en te kraai van plesier!” En so aan.

Die logika is goed as jy ‘n kind is. Vir kinders bestaan die wêreld ter wille van ons vermaak – dit gee ons dinge om te doen en verskaf ons plesier en genot. Wanneer mens die boek as ‘n volwassene lees, sê Marilyn, het dit ‘n meer pragmatiese effek: “Gate is iets wat opgevul moet word voordat iemand daarin val en jou dagvaar, hope blare is iets wat in vullissakke gesit moet word voor die munisipale vragmotor die vullis kom oplaai. Modder is iets wat van jou skoene gevee moet word voor jy die mat besmeer.”

Hierdie selfde pragmatisme, wat ‘n moeë en afwysende kyk op gate in die grond en modder het, is Sondae in die liturgie van kerke aan die werk wanneer dit by stilte kom. Stilte is skynbaar vir kerke iets wat ten alle koste gevul moet word, uit die erediens geweer moet word.

Dalk sal dit ons help om meer die verhaal te hoor van Elia op die berg Horeb, waar hy op die Here gewag het. Die Here was nie in die geweldige wind, die aardbewing of die vuur nie. Die Here was in die groot stilte, soos die New Revised Standard Version dit vertaal, in die “sound of sheer silence.”

Die lang tradisie in die Christelike geloof van kontemplatiewe spiritualiteit toon aan dat daar kennis oor God is wat net in stilte ontvang word. ‘n Stilte wat groot, lank en doelgerig genoeg volgehou word sodat ‘n heilige ruimte geskep word wat die Heilige Een kan betree.

(Marilyn Chandler McEntyre, “Silence is to dwell in,” Christianity Today, 7 Augustus 2000)

Só het Elia dit ervaar. Hy het God in die stilte ontmoet. Veel dieper as in die vlammende oorwinning op Karmelberg.

Dramatiese kontras

Tussen 1 Konings 18, waar Elia op Karmelberg oor die Baälprofete triomfeer, en die beangste profeet met ‘n doodsbegeerte van 1 Konings 19, is daar ‘n dramatiese kontras. Die selfversekerde Elia van hfs. 18, wat die honderde Baälprofete en die koning selfversekerd trotseer, en die uitgeputte figuur onder ‘n besembos van hfs. 19, is wêrelde uitmekaar.

Wat is hier aan die gebeur?

Sommige mense stel ‘n psigiese verklaring voor. Elia is dalk uitgebrand. Na sy besondere prestasie op Karmel, haal die spanning hom in. Daarom sukkel hy met ‘n natuurlike neerslagtigheid. Ander stel ‘n fisiese verklaring voor. Op Karmel het die adrenalien gepomp. Hy kon selfs ver voor Agab se strydwa uit hardloop. Nou is die spanning verby, die adrenalien uitgewerk, en ‘n natuurlike fisiologiese post-adrenalien depressie neem van Elia besit. Hy voel soos ‘n dominee wat die hele naweek hard gewerk het, wonderlike geestelike hoogtepunte met die gemeente op Sondag beleef het, en nou is dit Maandag. Blou Maandag.

Mens moet ook nie die rol van vrees onderskat nie. Elia oorwin die Baälprofete in die Here se Naam, maar Agab is steeds op die troon. Isebel soek Elia se bloed. Sy dreig hom. Skielik besef hy hy is nie meer langs die Kritspruit of buite bereik in Sarfat nie. Hy staan midde-in die stryd. Daarom laat spaander hy.

‘n Behoorlike vlug

Elia doen niks halfpad nie. Ook nie wanneer hy in hfs. 19 op die vlug slaan voor Isebel uit nie. Hy vlug suidwaarts. Juda, die Suidelike twee-stammeryk, is egter nie ‘n veilige plek nie. Koning Agab en koning Josafat van Juda het ‘n goeie verhouding gehad (hulle veg bv. saam in ‘n oorlog 1 Kon 22). Daarom vlug Elia verder, na Berseba, die mees suidelike deel van Israel (vgl. die frase “van Dan tot Berseba” wat die vêrste Noord-Suid punte van die land aandui – 1 Sam 3:20). Daar laat hy sy slaaf agter en gaan nog ‘n dag verder, in die woestyn in.

In die woestyn gaan lê Elia onder ‘n besembos, en wens hy gaan dood. Hy het nou genoeg belewe, en wil sterwe. Hy is, sê hy, niks beter as sy voorvaders nie.

Waar is die Here?

Die Bybel gebruik die kontras tussen hoofstuk 18 en 19 om ons meer oor die Here te leer. Hoofstuk 19, met Elia in die diep, donker put, kan dalk die plek wees waar die Here by voorkeur met hom wil werk. Hier, eerder as in die dramatiese oomblikke op Karmel, die vuurslag uit die hemel, en – veral – die doodmaak van die honderde Baälprofete na die tyd.

In hoofstuk 18, op Karmel, leer ons nie soveel oor die Here nie. Ons lees daar hoe die Here vir Elia sê Hy wil die droogte tot ‘n einde bring. Daarom moet Agab met die waarheid van die één Here gekonfronteer word, die afgodediens ontmasker word, en die volk hulle weer tot die Here keer.

Elia self speel in hfs. 18 die sentrale rol. Hy verskyn aan Agab, hy gee die bevel dat die hele Israel op Karmelberg bymekaar moet kom. Hy tref reëlings rondom die offer deur die Baälpriesters en rondom sy eie, eenvoudige offer aan die Here. Die Here betoon Homself as die ware God deur die offer met vuur te verteer, en oorvloedige reën te gee.

Ja, mens leer nie soveel oor die Here in hfs. 18 nie. Mens sou hfs. 18 kon klaar lees en wonder of die Here eintlik – met eerbied gesê – ‘n soort Baälgod is. In hfs. 18 is die vraag dalk net, sou mens kon dink, wie die sterkste God is? Wie die meeste vrugbaarheid kan gee? Wie die meeste reën kan laat val? Wie die sterkste vuurvlamme kan laat uitslaan.

In hoofstuk 19, waar Elia beangs vlug, leer mens die Here soveel dieper ken. Hier word God aan ons voorgestel nie as ‘n vrugbaarheidsgod, of ‘n onpersoonlike natuurkrag aan wie mense persoonlike eienskappe toedig, soos die heidene met Baäl gedoen het nie. Hier leer ons die versorgende liefde van God ken, ervaar jy die bystand wat God gee, ontdek jy hoedat die Here sy profeet optel en hom opnuut op sy roeping fokus.

Die versorgende God

Onder die besembos raak Elia aan die slaap. Wanneer hy wakker word, gee die engel van die Here vir hom roosterkoek en water. Daar is nie ‘n meer konkrete manier waarop ‘n beangste vlugteling die troos van die Here kan beleef nie. Elia kry brood en water in die woestyn.

Dit herinner mens aan die manier waarop die Here die volk onder Moses in die woestyn versorg en versterk het. Die Here het kos en water gegee. Nou, in hierdie woestyntyd, doen die Here dieselfde met Elia.

‘n Moeë, uitgeputte, beangste vlugteling het nie argumente nodig nie. Moenie tereggewys of verwyt word nie. Dis nie beskaming of bestraffing wat nou gaan help nie. So iemand het slaap, brood en water nodig. So iemand het sagte, bemoedigende, vertroostende woorde nodig. So iemand moet opgetel word, staan gemaak word, en uit die situasie uit gelei of gestuur word.

Dit alles doen die Here met Elia. Hy stuur hom op veertig dae en nagte lank te loop tot by Horeb, die berg van God. Hier word die versterking en bemoediging tot ‘n hoogtepunt gevoer wanneer die Here aan Elia verskyn.

Ontmoeting met God

Wie net hoofstuk 18 lees, sou dink dat Elia God op sy grootste ontmoet het. Dink aan die vuurvlamme, die oorwinning oor die Baälprofete (Elia maai hulle af), en die gietende reën. Wie kan die grootheid van God meer dramaties beleef?

Waarskynlik is dit waarom die koel doodsdreigement deur Isebel Elia so onverhoeds betrap. Wanneer die Here hom in 19:9 vra wat hy daar by Horeb maak, klink die selfbejammering helder op: Elia het met hart en siel vir die Here gewerk, die Israeliete is goddeloos, en nou is net Elia oor en word hy boonop gesoek om doodgemaak te word.

Elia het gedink hy is die een wat alles moet doen. Hy het gedink die beskerming van God se Naam en God se eer hang alles van hom af. Hy het gedink hy moet baie moed aan die dag lê, dan sal God reageer. Hy het gedink drama, hoogspanning en publieke veldtogte is die manier waarop God se eer en God se koningskap in Israel gered sal word.

Hoofstuk 19 stel die misverstand reg. Die Here ontmoet Elia op die berg. In ‘n praktiese katkisasieles leer die Here Elia sy teenwoordigheid beleef. Dis ervaringsleer op sy beste. Eers is daar ‘n geweldige wind wat rotse losbreek. Maar die Here is nie in die wind nie. Daarna vind ‘n aardbewing plaas. Maar die Here is nie in die aardbewing nie. Toe kom daar vuur, soos op Karmel. Maar die Here is ook nie in die vuur nie.

Toe kom daar ‘n besondere stilte, “sheer silence,” ‘n fluistering in die windstilte. Dis in hierdie stilte dat Elia die Here vind.

Nie net in aksie nie

Mense wat God net in aksie soek, of in die dramatiese, mis ‘n belangrike dimensie van die ontmoeting met God. Stilte is ondramaties. Maar dikwels is die genade van die Here ondramaties. Dit het met ‘n roosterkoek en water in die woestyn te doen. Met die fluistering in die windstilte.

Wie geestelik wil groei, en wie kragtig en dramaties in God se diens wil staan, moet ruimte maak vir die stilte. Dit is in die stilte dat ons oopgaan vir God. Dit is wanneer ons afsien van drama en aksie, en voor God stil raak, dat God ons ontmoet en op sy helderste met ons begin werk.

Dit is wanneer afsien van woorde, en ‘n slag luister, wanneer jy ophou met jou eie prestasie, en leeg, verwese en beskimmeld voor God staan, dat die ruimte oopgaan waarin God jou ontmoet. Dit is wanneer jy jouself gee vir die ontwrigting in jou lewe, en oopgaan vir God, dat die Here met jou begin werk.

Dis wanneer jy opnuut besef alles is maar eintlik genadebrood dat die Here jou aandag kry en nuwe sin en betekenis in jou lewe bring. Dit is wanneer jy oopgaan om die Here in die stilte te soek, dat daar nuwe energie in jou lewe kom om die Here daarbuite te gaan dien.

Stilte en aksie het mekaar nodig

Die aksie van hoofstuk 18 en die stilte van hoofstuk 19 moenie teenoor mekaar afgespeel word nie. Die een is nie reg, en die ander verkeerd nie. Wat wel waar is, is dat aksie sonder stilte leeg en betekenisloos raak. En stilte sonder aksie? Dit deug ook nie. Die stilte berei ons vir aksie voor.

Daar is Skrifkenners wat hfs. 19 as belangrike kritiek op Elia se optrede hfs. 18 lees. Die argument is dat Elia te ver gaan in hfs. 18. Hy kry die volk bymekaar, dwing ‘n konflik met die Baäldienaars af, en tree sterk op die voorgrond. Elia raak oormoedig. Die Here verhoor sy gebed en steek die offervuur aan die brand. Dan gaan Elia heeltemal te ver. In sy oormoed maak hy die Baälprofete dood.

Kon dit God se bedoeling wees? In 18:1 kondig die Here sy genade aan en sê vir Elia Hy wil dit weer oor die volk laat reën. Daarom moet daar bekering kom. Elia omskep God se behoefte aan genade in die moord op die Baälprofete.

Is dit dalk ‘n geval dat Elia God beginne speel? Kyk ook na sy gevoel dat hy die enigste ware dienaar van die Here is. Dit terwyl Obadja, die paleisopsigter, 100 profete van die Here veilig versteek het sodat Isebel hulle nie kon doodmaak nie (18:4). Elia kry die gevoel alles hang van homself en sy aksie af. Hy is daarmee buite perke.

As dié kritiek geregverdig kan word, wil hfs. 19 onderstreep dat dinge in ons lewe ontspoor wanneer ons nie die dissipline het om stil voor God te wees en God se sagte woorde in die fluistering van die windstilte te hoor nie. Die leegheid , nederigheid en selfbevraagtekening van die stilte is nodig om die vurige aksie op koers te hou en dit met gehoorsaamheid te temper.

“Draai in jou spore om…”

Aksie het stilte nodig. Ons sien dit pragtig in hfs. 19 geïllustreer. Nadat die Here Elia in die fluistering van die windstilte ontmoet het, fokus die Here hom in ‘n tweede ontmoeting met ‘n aantal nuwe opdragte.  “Draai in jou spore om…” Elia moet dinge gaan doen.

Dit sou goeie gevolge vir Israel inhou:

  • Gasael as koning van Aram en Jehu as koning van Israel sou die oordeel van God op die huidige ongehoorsaamheid van die volk teenoor God laat kom,
  • waartydens Isebel ook sterf, en
  • Elisa sou die profeet word wat Elia sou opvolg en Elia se profetiese werk in Israel voortsit.
  • Die Here sorg dat daar steeds profete vir sy Naam is. Daar bly 7 000 gelowiges oor wat nie vir Baäl aanbid nie. God sluimer of slaap nooit nie, en Hy lei nooit aan uitbranding nie!

Soos ons aan die begin gesê het: Die lang tradisie in die Christelike geloof van kontemplatiewe spiritualiteit toon aan dat daar kennis oor God is wat net in stilte ontvang word. ‘n Stilte wat groot, lank en doelgerig genoeg volgehou word sodat ‘n heilige ruimte geskep word wat die Heilige Een kan betree.

God stuur ons om te leef

Gebed
God droog alle trane (Nav 1 Konings 19:3-4)
Genadige Vader,
soos Elia wil ek ook nou bid:
Here, alles het vir my te veel geword.
Ek weet nie meer hóé verder nie. Ek is net ‘n mens.
Bewaar my van onverantwoordelike optrede
en besluite.
My anker is die wete dat U my liefhet
en ‘n doel het met die moeilike tyd
waardeur ek nou moet gaan.
Dankie dat U my liefhet en dat U die lewe gee,
en dit in oorvloed.
(Uit: Gebede vir jou lewenspad van Solly Ozrovech, 2009:173)

Geloofsbelydenis
In plaas van gesamentlike geloofsbelydenis kan die pragtige gedig gebruik word:
Dit was net ’n ligte wind
Baie rustig, nes ’n briesie
Dit het ’n haar oor my voorkop gewaai
En ek het geweet dit was God.

Ek is wakker gemaak deur ’n klein straaltjie lig
Dit het deur die gordyn geglip, op my gesig
Dit het my laat opstaan, met gordyne oopgetrek
Het die oggend saggies in my kamer ingehuppel
Ek het geweet dit was God.

Midde-in my eensaamheid het die foon gelui
’n Stem wat ek goed ken, sê:
“Hallo, ek’s lief vir jou.”
Liefde het deur my siel gevloei
Ek het geweet dit was God.

Reën het saggies op die dorstige grond geval
Op ’n aarde wat bedelend daarvoor wag
Deur die heilige druppels het ek geloop,
Vreesloos sonder ’n sambreel
Ek het geweet dit was God.

Dit was net ’n bietjie bitterheid het ek gedink
Maar dit wou nie my hart verlaat nie
Dit het om my siel vir lank gehang
totdat ’n storm my diepste wese geruk
en al my bitterheid weggewaai het
Ek het geweet dit was God.

Dit was net ’n akkerboom
Oortrek met rooi herfsblare
Maar in die oggendlig
Was dit gevul met hemel
Ek het oopmond verwonderd gestaan
Ek het geweet dit was God.

Ek het my Bybel oopgemaak
In stilte bekende woorde gelees
In die bladsye hoor ek ’n geluid, ’n fluistering
Ek het geweet dit was God.

O Here God, het ek uitgeroep
Ek het U lief
U wil nie vir my wegkruip nie
Tussen die krake van elke dag
Vind ek U wagtend, om deur my aanbid en bewonder te word
U glip in my lewe soos nag en dag, soos sterre en sonskyn
Ek weet dat U God is!

Offergawes

Wegsending: Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Seën
Mag julle bewus wees van God se teenwoordigheid.  Mag julle God se nabyheid ervaar en
mag die goddelike vrede wat alle verstand te bowe gaan oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus..  Amen.
(Leesrooster, 10 Augustus 2008)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.