Vyfde Sondag ná Epifaniefees

Sections

Oorsig

Walter Brueggemann sê dat ons ’n nuwe oriëntasie vir ons tyd, wat gekenmerk word deur gebrokenheid en ellende, benodig. Jesaja doen dit deur ons oë te rig op die kosmiese heerlikheid van die Skepper. Tog is die klein dingetjies ingebed in die groot, kosmiese dinge! Psalm 147 sit hierdie refleksie oor die verband tussen die oneindige en die intieme voort. Die Here het ’n persoonlike verhouding met die sterre (4), maar Hy genees ook die gebrokenes van hart (3). Markus 1 skets vir ons ’n gewone “dag in die lewe van Jesus”. Ons sien die nou verband tussen gebed en aksie wanneer Jesus Petrus se skoonma genees. Paulus sit Jesus se lewenswyse voort deur namens God naby aan mense te kom. Om mense vir Christus te wen (19), is hy bereid om só naby aan hulle te kom en selfs vir die Jode ’n Jood te word (20) en om swak te word vir die swakkes (22).

Ander tekste

Jesaja 40:21-31
21Weet julle dan nie,
het julle nie gehoor nie,
is dit nie van die begin af
aan julle bekend gemaak nie,
het julle nie ’n begrip
van hoe die aarde ontstaan het nie?
22God het sy troon
bokant die hemelkoepel,
die aardbewoners is vir Hom
soos sprinkane.
Hy span die hemel oop soos ’n tentdoek,
oop soos ’n tent vir die mense
om onder te woon.
23Hy maak die vername mense tot niks,
die heersers van die wêreld
asof hulle nie bestaan nie.
24Skaars is hulle geplant,
skaars is hulle gesaai,
skaars het hulle wortelgeskiet,
of Hy blaas sy asem oor hulle,
en hulle verdor,
die stormwind vat hulle weg
soos stoppels.
25Met wie kan julle My dan vergelyk,
wie is soos Ek? vra die Heilige.
26Kyk op na die hemel:
wie het die sterre geskep?
Hy wat die hemelse leër laat uittrek
in hulle volle getal,
dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het.
Met sy groot krag, sy groot mag,
sorg Hy dat geeneen van hulle
ontbreek nie.
27Waarom sê jy dan, Jakob,
waarom kla jy, Israel:
“Die Here sien nie raak
wat van my word nie,
my reg gaan by my God verby”?
28Weet jy dan nie,
het jy nog nie gehoor nie?
Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie
en sy insig is ondeurgrondelik.
29Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
30Selfs jongmanne word moeg
en raak afgemat,
selfs manne in hulle fleur
struikel en val,
31maar dié wat op die Here vertrou,
kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle loop en raak nie afgemat nie.

Psalm 147:1-11, 20c
Ons Here is groot en magtig
147 Prys die Here!
Dit is goed
om tot lof van ons God te sing,
dit is ’n genot om die loflied te sing
wat Hom toekom.
2Dit is die Here
wat Jerusalem weer opbou,
wat die verstrooides van Israel
bymekaarbring.
3Hy genees die gebrokenes van hart
en verbind hulle wonde.
4Hy besluit oor die getal van die sterre
en gee elkeen ’n naam.
5Ons Here is groot en magtig,
sy kennis is onbegrens.
6Die Here laat die hulpeloses
weer opstaan,
maar die goddeloses verneder Hy
tot in die grond.
7Sing vir die Here ’n danklied,
sing tot eer van ons God
met begeleiding van die lier.
8Hy oordek die hemel met wolke,
Hy voorsien reën vir die aarde
en laat gras op die bergland uitspruit.
9Hy gee aan die diere hulle weiding
en versorg die jong kraaie
wat om kos skreeu.
10Die Here het niks
aan die krag van ’n perd
of die liggaamskrag van ’n soldaat nie,
11maar Hy stel prys
op dié wat Hom dien,
dié wat hulle hoop vestig op sy trou.

12Loof die Here, Jerusalem,
prys jou God, Sion!
13Hy het die sluitbalke van jou poorte
sterk gemaak, 
jou inwoners geseën, 
14Hy het in jou grondgebied 
vrede gegee, 
jou met die beste graan gevoed. 
15As Hy die aarde ’n bevel gee, 
word dit vinnig uitgevoer. 
16Hy gee sneeu so wit soos wol, 
Hy strooi ryp uit soos as, 
17Hy laat dit haeltene reën. 
Wie is bestand 
teen die koue wat Hy stuur? 
18Maar op sy bevel smelt alles weer; 
as Hy die warm wind laat waai, 
dan loop die waters. 
19Hy maak sy woord aan Jakob bekend, 
sy voorskrifte en bepalings aan Israel. 
20Dit het Hy vir geeneen 
van die ander nasies gedoen nie; 
hulle ken sy bepalings nie.
Prys die Here!

Markus 1:29-39
Die genesing van Petrus se skoonmoeder
(Matt 8:14–15; Luk 4:38–39)
29Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. 30Die skoonmoeder van Simon het daar met ’n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. 31Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.

Nog genesings en voortgaande prediking
(Matt 8:16–17; 4:23; Luk 4:40–44)
32Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. 33Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. 34Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is.

35Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid. 36Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, 37en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”
38Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”
39Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe.

Fokusteks

1 Korintiërs 9:16-23
Die regte en pligte van ’n apostel
9 Is ek nie vry nie? Is ek nie ’n apostel nie? Het ek nie vir Jesus, ons Here, gesien nie? Is julle wat aan die Here behoort, nie die vrug van my werk nie? 2Al is ek vir ander nie ’n apostel nie, vir julle is ek dit tog. Immers, julle wat aan die Here behoort, is die seël op my apostelskap.

3My verdediging teen dié wat regter oor my speel, is dít: 4het ons dan nie reg op lewensonderhoud nie? 5Het ons nie selfs die reg om elkeen sy vrou wat ’n gelowige is, op reis saam te neem soos ook die ander apostels en die Here se broers en Sefas nie? 6Of is dit net ek en Barnabas wat nie die reg het om op te hou met die handearbeid vir eie onderhoud nie? 7Wie dien ooit op eie koste as soldaat? Wie plant ’n wingerd en eet nie van sy vrugte nie? Of wie pas vee op en geniet nie van hulle melk nie?

8Wat ek sê, is nie maar net alledaagse waarhede nie. Sê die wet dit nie ook nie? 9In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: “Jy mag nie ’n bees waarmee jy graan dors, se bek toebind nie.” Is dit miskien oor die beeste dat God Hom bekommer? 10Of sê Hy dit juis ter wille van óns? Ja, ter wille van ons is dit geskrywe. Hy wat ploeg, moet met verwagting ploeg, en hy wat dors, moet dit doen met die verwagting om sy deel te ontvang. 11As ons vir julle die geestelike saad gesaai het, is dit dan te veel gevra as ons van julle die stoflike lewensonderhoud sou inoes? 12As julle aan ander hierdie reg toestaan, kom dit ons dan nie nog meer toe nie?

Maar van hierdie reg het ons nie gebruik gemaak nie. Inteendeel, ons dra al die koste self sodat ons geen hindernis in die weg van die evangelie van Christus sou lê nie. 13Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die tempel lewe, en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang nie? 14So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang. 15Wat my betref, ek het hiervan geen gebruik gemaak nie. Ek skryf dit ook nie met die bedoeling om daarop aanspraak te maak nie. Ek gaan liewer dood! Dié roem sal niemand my ontneem nie!

16As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ’n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie! 17As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is ’n taak wat aan my toevertrou is. 18Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kosteloos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is.

19Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen. 20Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. 21Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. 22Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. 23Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.

24Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. 25Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. 26Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. 27Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.

Ekstra stof

1 Korintiërs 9 – Om met passie jou roeping na te jaag
Paulus reageer hier op mense wat kritiek lewer op sy bediening met ’n reeks retoriese vrae waarmee hy bevestig dat hy ’n apostel is en die voorregte daaraan verbonde sou kon geniet, soos inderdaad al die ander apostels, baie keer saam met hulle eggenotes.  In die proses noem hy ’n paar riglyne van hoe apostels van ander gawes in die kerk onderskei is in sy tyd, bv, dat hulle Jesus persoonlik na sy opstanding gesien het (1 Kor 15:5-8).  In 2 Korintiërs 10-13 sal hy dit nog uitvoeriger doen.

Let op hoe hy voorbeelde uit ’n wye reeks lewensverbande gebruik om sy punt te staaf, en dit dan ook in die wet van God begrond (Deut 25:4; vgl sy raad aan Timoteus hieroor: 1 Tim 5:18).  Weereens sien ’n mens die lering van Jesus weerspieël in sy beredenering (Matt 10:10; Luk 10:7).

Tog het hy (en Barnabas) besluit om dié voorregte nie te gebruik nie, sodat niemand beswaar kon maak dat hulle hulleself verryk deur die bediening nie.  Die evangelie is vir hom belangriker as sy eie belang (let op weer die kruis-evangelie wat deurkom).  Hy gaan liewer dood!  Trouens dit is sy roem en eer dat hy dit kosteloos doen, al het hy die reg om van hulle afhanklik te wees vir sy lewensonderhoud.

Dan brei hy uit op sy passie in die lewe, om soveel mense as moontlik vir Christus te wen, en dat hy dit met alles in hom najaag, net soos ’n atleet op die baan (in die tweejaarlikse Istmiese spele) of ‘n bokser in die kryt.

Sy roeping word breed uitgespel:  vir Jode (wettiese mense), vir heidene (hy gebruik nie die woord nie, maar praat van mense wat sonder die wet lewe, wat die betekenis duidelik maak), en vir swakkes (vgl hfst 8 en Rom 14; 15).  Trouens “vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.”  Geen wonder dat sy bediening en uiteindelik skryfwerk die hele Christelike wêreld beïnvloed het en steeds doen.

Let op dat hy nie sy eie menings en oortuigings prysgee nie, nooit die liefdesgebod van Christus bv. verlaat nie, maar tog aanpas by die mense wat hy op ‘n gegewe tyd bedien, sodat hy iets vir hulle kan beteken.  Hy het bv. die sabbat nagekom ter wille van die Jode, anders sou hulle hom nooit toegelaat het om by hulle in die sinagoge op te tree nie.  Vergelyk bv. Hand. 16:3 waar Timoteus besny is; Hand 18:18 waar Paulus ‘n gelofte afgelê het; Hand 21:20-26 waar Paulus ‘n reinigingshandeling ondergaan ter wille van die Jode.

Soms het hy egter ook baie skerp verskil van mense wie se oortuigings die hart van die evangelie aangerand het.  Dit het hy gedoen teenoor Jode (Gal 2:11-14 – waar hy Petrus teengestaan het) en teenoor heidene (baie keer in hierdie brief, waar hy verkeerde idees oor allerlei aanvat).  Ander kere het hy egter sensitief opgetree teenoor mense wat nie die kennis gehad het wat hy het nie (1 Kor 8).

Die hoofstuk laat my weer besef hoe belangrik ‘n bewussyn van my roeping (doel) is, dat dit my passie in die lewe moet wees, en dat ek dit met alles in my moet najaag, beide in voorbereiding as in uitvoering, sodat ook ek nie ander uitnooi tot hulle roeping om dit met passie na te jaag nie, en nie self kwalifiseer nie.

Neem daarom ‘n tyd vandag om na te dink oor jou roeping (doel) en passie in die lewe.  Wat het die Here op jou hart gedruk wat jy ten alle koste moet najaag: jou roeping, jou doel?  Wat is jou passie in die lewe – die ding wat net so ‘n belangrike rol speel dat jy nie anders kan as om dit te doen nie?  En hoe staan dit met jou fokus – is jy nog met alles in jou gefokus daarop?

Lewensbelangrike vrae en lewensveranderende vrae!

En as jy nie só ‘n roeping of passie het nie – die Here gee dit aan dié wat Hom soek!

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Epifanie en die tyd na Epifanie is ’n tyd van prag, grootsheid en lig! Dit is ’n tyd van uitbundige vreugde vir alle Christene. Epifanie voltooi die Kersgety en verteenwoordig die verskyning van God se Woord wat vlees geword het in Jesus Christus. Epifanie kan ook vertaal word met “verskyning”. Na sy geboorte herken ons Jesus al meer as verskyning van God se lig in die wêreld. Epifanie sê: “God is verlossend teenwoordig in hierdie wêreld.”

Oorspronklik was die fees van Epifanie die spesiale dag in die Advent-Kersfees-Epifanie siklus. Hierdie dag van “teofanie” of die verskyning van God se lig en krag in Christus, was in die vroeë kerk, saam met die Pase en Pinkster die derde hoofgebeurtenis op die Christelike kalender. Dit spreek van die antieke menslike ervaring (Noordelike Halfrond) van die verlange na lig te midde van die kortste en donkerste dae van die jaar. In die vroegste leesroosters en preke vir hierdie dag, het Epifanie gefokus op Johannes 1:1-2:11. Die temas het van die begin af gekonsentreer op Christus as lig, sy koms na hierdie wêreld, sy doop in die Jordaan en die eerste wonder – die verandering van water in wyn. Gemeenskaplik aan al hierdie sake is die teologiese aanspraak dat God in Jesus teenwoordig was en aan mense verskyn het – selfs tot aan die uiteinde van die aarde.
(Uit Preekstudies en Liturgiese Voorstelle 2012, Bybel Media: p2)

Ons kies om daarom ruim gebruik te maak van die Basis Liturgie vir die tyd na Epifanie

God nooi ons uit en ons kom tot rus
Die wit Christuskers word op ’n sigbare plek voor in die liturgiese ruimte aangebring. Dit brand reeds wanneer die erediens begin.

Aanvangslied: Flam 113 “Here Jesus, U skyn oor almal” en/of Lied 339 “Halleluja! Prys die Heer!”

Aanvangswoord
Voorganger: Die  tyd het  aangebreek!
Gemeente: Die koninkryk van God het naby gekom!

Voorganger:Bekeer julle
Gemeente: en glo die evangelie (Mark 1:15).

Seëngroet
Vrede en lig vir julle
van God wat die lig geskep het,
en gesê het “die lig is goed”.

Aanbiddingslied: Flam 20 “U is die Lig” en/of Lied 372 “Hoe glansryk blink die Môrester”

Skriflesing: Johannes 1:1-14

Die Woord het mens geword
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. 4In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

6Daar was ’n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. 7Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. 8Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

9Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. 12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.

14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

Lied 354 “O Christus ons verlange vs 1, 4”

Geloofsbelydenis: ahv Ps 147
Prys die Here!
Dit is goed
om tot lof van ons God te sing,
dit is ’n genot om die loflied te sing
wat Hom toekom.
2Dit is die Here
wat Jerusalem weer opbou,
wat die verstrooides van Israel
bymekaarbring.
3Hy genees die gebrokenes van hart
en verbind hulle wonde.
4Hy besluit oor die getal van die sterre
en gee elkeen ’n naam.
5Ons Here is groot en magtig,
sy kennis is onbegrens.

10Die Here het niks
aan die krag van ’n perd
of die liggaamskrag van ’n soldaat nie,
11maar Hy stel prys
op dié wat Hom dien,
dié wat hulle hoop vestig op sy trou.
Prys die Here!

Liedere

F113. “Here Jesus, U Skyn Oor Almal”  
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Diens en Getuienis)
Oorspronklike titel: Shine, Jesus, shine
Teks en Musiek: Graham Kendrick
Afrikaanse vertaling: Breda Ludik
© 1987 Make Way Music
(Opgeneem in Jeugsangbundel II)

Here Jesus, U skyn oor almal,
met die glans van u liefde skyn U.
Skyn op ons tot ons oë oopgaan.
Maak ons vry om te lewe voor U.
Skyn oor my.  Skyn oor my.

Refrein:
Soos lig wat skyn in die donker van hierdie wêreld,
soos lig wat skyn, skyn die Heer in ons.
Kom, Jesus, kom en verdryf al die donker in ons.
Kom laat u liefde die wêreld oorwin.

Here, maak my ‘n lig wat helder
skyn om liefde te dra, al verder.
Skyn deur my tot die hele wêreld,
weet dat U vir ons almal gesterf het.
Skyn deur my.  Skyn deur my.

F20. “U Is Die Lig”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang / Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Toewyding)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

U is die Lig, U laat my sien;
U is die brood vir my lewe;
U is die water wat binne my vloei;
U laat my leef, u laat my groei.

Refrein:
Ek loof U Heer vir als wat U is.
Ek loof U Heer, U’s my Vader.
Ek loof U Heer vir als wat U gee.
Meer as wat ek kan verstaan,
Daarvoor kom prys ek U Naam!

U is die Woord, U wil my rig;
U wys my U wil vir my lewe;
U skenk my vrede en U gee my rus;
U het my lief net soos ek is

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Woord van God, Woord van die lewe,
Woord vir ewig, vas en waar,
Woord onfeilbaar en verhewe
waarin God Hom openbaar.
Woord betroubaar, vas en waar
deur miskenning, deur gevaar-
wat sou ons dan ooit laat bewe?
In díe Woord het ons die lewe.
Amen
(Lied 255 vers 1)

Skriflesing: 1 Kor 9:16-23

Prediking

Familie-oomblik

Verduidelik vir die kinders dat Paulus sy lewe lank vir ander mense van Jesus vertel het.  Speel “telefoontjie” deur ‘n goeie boodskap (bv. “Jesus is lief vir jou”) in ‘n kind se oor te fluister.  Laat die kinders die boodskap vir mekaar fluister.  Of laat die kind dit vir die eerste persoon in die kerk fluister en laat die boodskap deur die kerkgebou beweeg.

Preekriglyn

Matteo Ricci, ‘n Italiaanse Christen uit die Jesuïeteorde, kry eindelik in 1583 toestemming om China binne te gaan.  Die Chinese regering het destyds nie Europeërs in China toegelaat nie.  Hy gaan toe geklee soos ‘n Boeddhiste monnik wat Chinees praat en stel homself voor as ‘n nederige soeker na wysheid.  Aan die begin was hy glad nie suksesvol nie.  Die Chinese in die gebied waar hy gewerk het, naby Canton, het nie die Chinese dialek wat hy in Macao aangeleer het, gepraat nie.  Hulle het ook nie van Boeddhiste gehou nie.  Matteo volhard egter en wen mettertyd die vertroue van die mense.

Matteo het ook talle kontakte by die koninklike hof opgebou.  Daar was mense baie beïndruk met sy nederige aanpak en sy belangstelling in Chinese kundigheid.  Die koning het baie van Matteo se geskenke gehou, veral ‘n klok en ‘n harp.  Matteo het na nuwe maniere gesoek om die Christelike geloof oor te dra sodat dit sin vir die Chinese sou maak.  Hy het verskeie Christelike tekste in Chinees vertaal.  In 1603 skryf hy Die ware leer van die Heerser van die Hemel, wat die Christelike geloof aangebied het in die vorm van ‘n filosofiese gesprek in die tradisie van Confucius.  Die boek is in Chinees geskryf en is baie goed ontvang.

Matteo Ricci was die eerste groot Jesuïete sendeling na China.  Talle ander het hom gevolg en die uitdra van die evangelie op ‘n kultuursensitiewe wyse gedien.

Twee kragte

In die lewe van Matteo Ricci het twee kragte saamgespan.  Die eerste was sy passie om die evangelie te deel.  Die tweede was die passie om naby aan die mense te kom, om soos hulle te word.  Sodoende kon hulle die evangelie by hom hoor.

Vir ons mag dit vreemd klink dat iemand as Christen in die drag van ‘n Boeddhis gaan.  Tog is hierdie aksie deel van die kern van die Christelike geloof.  Jesus het die verlossing vir ons gebring, maar in die gestalte van ‘n mense.  Soos het onder ons kom woon, sodat ons die goeie nuus kon hoor, ja, sodat die goeie nuus in die gedaante van ‘n mens vir ons gedoen kon word.

Jesus het God se aksie tot ons redding beliggaam.  Ons noem dit inkarnasie.  Matteo Ricci het ‘n inkarnasionele benadering gevolg.

Dieselfde gebeur met Paulus.  Hy beskryf sy Godgegewe passie in 1 Korintiërs 9.  Sy passie is om die evangelie te verkondig (16).  Hy doen dit deur vir die swakkes swak te word, vir die sonder die wet soos een sonder die wet, en vir die onder die wet soos een onder die wet.

‘n Gebrek aan passie laat geloof sterf

Hoekom kwyn die Christendom in Europa en lyk asof dit heeltemal sal verdwyn? Hoe kan so ’n sterk boodskap sy effek verloor en slegs as ’n tradisie en ’n mooi geskiedenis in museums sterf? Selfs waar die kerk vir lank die belangrikste gebou in die middel van die stad was? Daar is tog eredienste gehou; die Woord van God is verkondig en die Here is geloof en aanbid!

Wat egter al minder gebeur het, is dat gelowiges getuig het en nuwe bekeerlinge gemaak is, dat gelowiges opgehou het om hulle godsdiens buite die eredienste uit te leef en te getuig van ’n lewende verhouding wat hulle met God het. So ’n Christelike getuienis kan nie ongesiens verbygaan nie; so ’n openbaring van God se genade laat ander nie ongeraak nie. Nee, die saad van die Woord en die getuienis daarvan is God se instrumente om die mense van hierdie sondige wêreld te beïnvloed en hulle oë en harte oop te maak vir die Here se liefde en sy koninkryk. Ware getuienisse en prediking wat mense buite die kerke bereik, sal enige kerk laat groei.

Maar as die gelowiges dit nie meer doen nie, as die kerk ophou om sy lig te laat skyn in die donker wêreld en die dissipels begin swyg, dan hoor die ongelowiges nie meer die Woord nie en bly daardie kerk net so lank lewe soos wat dit neem vir daardie gelowige geslag mense om oud te word en uit te sterf. (Toets: Wat is die gemiddelde ouderdom van mense in julle erediens?)

‘n Verkeerde verstaan van die evangelie

Die verskynsel van gelowiges wat nie getuig en sout vir die wêreld is nie, hang baie nou saam met die manier waarop mense die evangelieboodskap verstaan. Dit word in vers 23 kras en reguit deur Paulus reggestel. Die verkeerde manier van verstaan is dat mense die boodskap van verlossing aanneem, maar dit aanvaar as ’n private aangeleentheid tussen hulle en die Here. Daarna reken hulle dat daar geen verpligting bestaan om die boodskap verder uit te dra nie.

Dit is asof hierdie mense dink dat hulle die boodskap van die kruis kan glo en dan die keuse het of hulle wel gaan deel wees van die verdere verspreiding daarvan of nie. Die weg van saligheid is so dikwels verduidelik tot by die punt waar die bekeerling die ewige lewe ontvang en nou die blydskap van die hemel moet ervaar, sonder om daarmee saam iets te noem van die plig waarvan Paulus in vers 16 praat om te gaan preek – “en wee my as ek dit nie doen nie!” In hierdie gemaklike evangelie val die klem nie op opoffering en lyding saam met Jesus ter wille van ander nie, maar net op die drie of vier stappe wat jy moet doen om ontslae te raak van jou sondes en te begin fokus op alles wat die Here nou vir jou as sy kind gaan gee.

Die ware evangelie

Wat is die ware Evangelie dan? Daar is baie gelykenisse van Jesus wat reguit sê dat die Here nie in leë woorde belangstel of in bekerings sonder werke of in geloof sonder naasteliefde nie. Jakobus sê dat geloof sonder werke dood is en gelowiges wat nie Jesus se groot opdrag in Matteus 28 uitvoer nie, dus nie gehoorsaam is nie, nie deel is van God se plan nie. Daarom ook nie waarlik gelowig is nie. Miskien is hulle in die kerk, maar hulle is nie in die koninkryk van God nie. Daarom waarsku Christus dat daar op die laaste dag kerkmense sal wees, predikante en pastore wat sal sê: “Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek en wonderwerke gedoen nie?” Dit was helaas nie die soort van werke wat die Here vir hulle gevra het nie. Dit was preke, maar nie God se boodskap volgens sy plan nie.

Nee, die ware geloof is nie ’n saak net tussen my en God nie, dit is nie ’n kwessie van ek in my klein hoekie en jy in joune nie. Die evangelieboodskap is die krag van God wat my laat glo dat Hy my uit genade gered het sodat ek diensbaar vir Hom kan wees. Die evangelieboodskap praat van God wat Here is oor die hele aarde, dat Hy alle mense wil red, dat Hy mense red en aan hulle geloof gee juis om dit te gaan doen, om te gaan verkondig. Dit is volgens Petrus die rede hoekom die Here ons kies: Hy het ons gekies “om te gaan verkondig . . .” (1 Pet 2:9,  1933-vertaling). Dit is hoekom die Here die volk Israel gekies het, hoekom Hy vir Paulus gekies het en hoekom Hy vandag nog mense kies. Nie om al singend ons oë hemelwaarts te rig en die ander mense op die aarde in hulle ongeloof te los nie, maar om soos Jesus onsself te gee sodat hulle deur ons woorde en voorbeelde ook deel van God se koninkryk kan word.

Geloof en verkondiging behoort bymekaar

Dit is hoe ons Paulus se woorde in vers 23 moet verstaan wanneer hy sê: “Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.” Wat Paulus hier reguit sê en in vers 27 beaam, kom met ’n skok vir baie. Hulle kan egter nie wegkom van hierdie eenvoudige bedoeling nie, naamlik, Paulus het die verlossingsboodskap van God ontvang en dit gaan vertel vir ander mense. Sy geloof in die Here saam met sy getuienis en prediking daarvan gee vir hom deel aan God se koninkryk. Dit beteken daar is nie so iets soos geloof in die Here sonder dat hy daaroor gaan preek nie.

Natuurlik verdien hy nie sy plek in die hemel met sy preke nie. Nee, dit is God se genade wat hom red. Maar die genade van God is nie iets wat net in sy kop of in ’n dooie geloof leef nie. God se genade verander ’n mens totaal. Dit maak jou lief vir God en bereidwillig om God se liefde uit te dra. Dit dring jou en stuur jou en is uiteindelik die toets of daardie geloof van jou ware geloof is of nie.

Die Here het mense gered en hulle getrou en gehoorsaam gemaak om sy boodskap te versprei totdat dit by ons gekom het en ons help om in Hom te glo. As ons dit waarlik glo, dan sal dit deur ons gaan tot by die volgende geslag of groep mense, want dit is hoe God se plan werk. Maar as daardie boodskap by ons vassteek en nie verder gaan nie, dan blyk dit dat dit ons nie werklik verander het nie en dat dit nooit deel van ons geword het nie. Dan dink ons ons is gelowig, maar het ons nooit deel geword van God se plan om die mense van hierdie wêreld te red nie. Dan is ons (by wyse van spreke) gekies om te gaan vertel, maar omdat ons nie gaan vertel het nie, het ons ons eie verkiesing gekanselleer.

Die Here roep mense om sy boodskap te gaan verkondig. Hy doen dit nou. Hy red ons deur ons sondes te vergewe en hierdie kragtige Boodskap aan ons te gee om te gaan vertel. Sê dankie vir die Here dat Hy genadig is vir ons en gewillig is om ons ook deel te maak van sy kerk. En bid dat Hy ons bereid sal maak om hierdie boodskap te gaan deel met ander mense wat geestelik honger is en op die punt is om die ewige dood te sterf. So kan ons ook seker wees dat ons deel is van God se plan, en saam met Paulus sal hoor: “Mooi so, goeie en getroue slaaf . . .”

Kultuursensitiewe verkondiging

‘n Mens moet versigtig wees dat die vrymoedigheid om te verkondig nie kultureel onsensitief is nie.  Verkondiging moenie vanuit ‘n posisie van mag en oordondering geskied nie.

Hier kan ons baie by Paulus leer.  Ook by Matteo Ricci.  Verkondiging moet geskied binne die raamwerk van liefde en nabyheid.  ‘n Verkondiger moet ‘n goeie luisteraar wees.  ‘n Verkondiger moet belangstel in die beswil van die mense en sensitief wees vir wie hulle is en waar hulle op die lewenspad verkeer.  Verkondiging is ‘n uitnodiging na die pad wat tot die lewe lei.  Dit is nie dwang soontoe nie.

Soos kasterolie?

Elke dag, op presies dieselfde tyd, gaan Margaret na die badkamerkassie, maak die deurtjie oop, en haal die groot bottel kasterolie uit.  Dan gaan sy kombuis toe om ‘n eetlepel te neem.  Die oomblik wat sy die badkamerkassie oopmaak, sny haar Yorkshire terriër, Patches, ‘n lyn en gaan kruip weg.  Soms duik hy onder die bed in, ander kere kruip hy agter ‘n groot stoel weg.

Iemand het Margaret oortuig Patches sal sterk tande ontwikkel, ‘n pragtige pels kry, en ‘n lang lewe hê as sy hom elke dag ‘n eetlepel kasterolie gee.  As ‘n daad van liefde, een maal ‘n dag, keer sy Patches aan, druk hom teen die grond vas, dwing sy mond oop, en gooi ‘n eetlepel kasterolie by sy keelgat af.

Natuurlik het nóg Margaret nóg Patches hulle daaglikse stoeigeveg geniet.

Toe gebeur dit.  Op ‘n dag, tydens die gebruiklike geveg, stamp Patches die gehate bottel kasterolie dat dit oor die vloer trek.  Jy sien net olie spat.  Dis ‘n tydelike oorwinning.  Margaret moet eers ou handdoeke in die badkamer gaan soek om die gemors skoon te maak.

By haar terugkeer, word Margaret diep geskok.  Patches staan in die middel van die poel kasterolie en lek dit gretig op.  Hy het ‘n tevrede uitdrukking op sy bakkies soos net ‘n hond kan hê.  Margaret moes van die lag uitbars.  Skielik het alles sin gemaak.  Patches hou van kasterolie.  Hy haat dit egter om vasgedruk te word en kasterolie in sy keel afgeforseer te kry.

Die evangelie is goeie nuus, en die passievolle verkondig daarvan is die lewensbloed van die kerk.  Maar dit moet van naby, in wellewende verhoudings, sonder dwang, geskied.

God stuur ons om te leef

Gebed: (Lirieke deur Louis Brittz–Kook vir die Koning)
(Uit Preekstudies en Liturgiese Voorstelle 2012, Bybel Media: p6)

Gekruisigde Hande
Die lewe by ons is nogal soet
maar die wiele draai vir die kinders van Beiroet.
Die vroue in Kaïro is moeg gewag vir later.
Die Koerde in Turkye vra waar’s die lewenswater.
Kan iemand hoor hoe hulle roep?
Here gee my:
Gekruisigde hande wat gee;
gekruisigde voete wat loop;
waar Hy sou loop, van myself gestroop;
’n hart waarin waarheid kan groei
en trane wat vrylik vloei
as wortel diep, sy liefde groei.
Die nuus op die TV laat my sug.
Ek raak dit al gewoond en ek draai my rug.
’n Bedelaar in Indië se oë is verwytend
en deur sy harde masker sien ek sy oë is pleitend.
En Jesus vra waarom ek vlug.
Ek weet dat iemand sal moet gaan
dat ander kan verstaan.
Ek weet dat iemand sal moet sterf
dat ander Hom kan erf.
Amen

Wegsending: Lied 524 “God roep ons om met woord en daad 1,2,3”

Seën
Mag die God van vrede
wat Jesus na ons wêreld gestuur het,
julle toerus met alles wat goed, reg, waar en mooi is,
sodat julle sy wil sal doen
en Jesus Christus deur julle naby aan ons wêreld mag kom. Amen.

Musikale Amen: Lied 314

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.