Vyfde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Tema: Jesus genees Simon se skoonma en ander siekes

Hierdie Sondag neem die temas van verlede Sondag verder. Wat maak Jesus met hierdie gesag wat Hy het? Hy gebruik dit in liefde om mense te genees (Mark 1:29-39). God is inderdaad almagtig en sien ons raak, hoe klein ons ook al is (Jes 40:21-31). Paulus bevestig dat sy vryheid in Christus iets is wat hy vrywillig prysgee ter wille van ander. Hy laat hom bind, want dit is wat liefde doen. Psalm 147:1-11, 20c is ‘n loflied op heropbou en herstel. Dit eggo die liefde van God vir sy mense wat in die ander tekste so direk na vore tree. Hierdie liefde is konkreet en sigbaar in dade.

Ander tekste

Jesaja 40:21-31
21Weet julle dan nie,
het julle nie gehoor nie,
is dit nie van die begin af
aan julle bekend gemaak nie,
het julle nie ’n begrip
van hoe die aarde ontstaan het nie?
22God het sy troon
bokant die hemelkoepel,
die aardbewoners is vir Hom
soos sprinkane.
Hy span die hemel oop soos ’n tentdoek,
oop soos ’n tent vir die mense
om onder te woon.
23Hy maak die vername mense tot niks,
die heersers van die wêreld
asof hulle nie bestaan nie.
24Skaars is hulle geplant,
skaars is hulle gesaai,
skaars het hulle wortelgeskiet,
of Hy blaas sy asem oor hulle,
en hulle verdor,
die stormwind vat hulle weg
soos stoppels.
25Met wie kan julle My dan vergelyk,
wie is soos Ek? vra die Heilige.
26Kyk op na die hemel:
wie het die sterre geskep?
Hy wat die hemelse leër laat uittrek
in hulle volle getal,
dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het.
Met sy groot krag, sy groot mag,
sorg Hy dat geeneen van hulle
ontbreek nie.
27Waarom sê jy dan, Jakob,
waarom kla jy, Israel:
“Die Here sien nie raak
wat van my word nie,
my reg gaan by my God verby”?
28Weet jy dan nie,
het jy nog nie gehoor nie?
Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie
en sy insig is ondeurgrondelik.
29Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
30Selfs jongmanne word moeg
en raak afgemat,
selfs manne in hulle fleur
struikel en val,
31maar dié wat op die Here vertrou,
kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle loop en raak nie afgemat nie.

Psalm 147:1-11, 20c
Ons Here is groot en magtig
147 Prys die Here!
Dit is goed
om tot lof van ons God te sing,
dit is ’n genot om die loflied te sing
wat Hom toekom.
2Dit is die Here
wat Jerusalem weer opbou,
wat die verstrooides van Israel
bymekaarbring.
3Hy genees die gebrokenes van hart
en verbind hulle wonde.
4Hy besluit oor die getal van die sterre
en gee elkeen ’n naam.
5Ons Here is groot en magtig,
sy kennis is onbegrens.
6Die Here laat die hulpeloses
weer opstaan,
maar die goddeloses verneder Hy
tot in die grond.
7Sing vir die Here ’n danklied,
sing tot eer van ons God
met begeleiding van die lier.
8Hy oordek die hemel met wolke,
Hy voorsien reën vir die aarde
en laat gras op die bergland uitspruit.
9Hy gee aan die diere hulle weiding
en versorg die jong kraaie
wat om kos skreeu.
10Die Here het niks
aan die krag van ’n perd
of die liggaamskrag van ’n soldaat nie,
11maar Hy stel prys
op dié wat Hom dien,
dié wat hulle hoop vestig op sy trou.
Prys die Here!

1 Korintiërs 9:16-23
16As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ’n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie! 17As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is ’n taak wat aan my toevertrou is. 18Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kosteloos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is.

19Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen. 20Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. 21Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. 22Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. 23Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.

24Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. 25Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. 26Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. 27Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.

Sleutelteks

Markus 1:29-39
Die Bybel 1983-vertaling
Die genesing van Petrus se skoonmoeder
(Matt 8:14–15; Luk 4:38–39)
29Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. 30Die skoonmoeder van Simon het daar met ‘n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. 31Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.

Nog genesings en voortgaande prediking
(Matt 8:16–17; 4:23; Luk 4:40–44)
32Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. 33Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. 34Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is.

35Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid. 36Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, 37en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”
38Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”
39Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe.
Die Bybel 2020-vertaling

Genesings in Simon se huis 
(Matt 8:14-17 ; Luk 4:38-41 )
29 Nadat hulle uit die sinagoge gekom het, het hulle dadelik saam met Jakobus en Johannes na die huis van Simon en Andreas gegaan.
30 Simon se skoonmoeder het siek gelê met koors, en hulle het Hom dadelik van haar vertel.
31 Hy het na haar gegaan, haar hand gevat en haar opgehelp. Die koors het haar verlaat en sy het hulle bedien.
32 Toe dit aand word en die son reeds onder was, het hulle almal wat siek en deur demone besete was, na Hom gebring. 33 Die hele dorp m het by die deur saamgedrom.
34 Hy het baie siekes met allerlei kwale gesond gemaak en baie demone uitgedryf. Hy het die demone nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het.

Jesus se prediking in Galilea 
(Luk 4:42-44 )
35 Vroegoggend, toe dit nog stikdonker was, het Hy opgestaan, buitentoe gegaan en na ‘n verlate plek vertrek. Daar het Hy gebid.
36 Simon en dié saam met hom het agter Hom aan gegaan.
37 Toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”
38 Maar Hy sê vir hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die naburige dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”
39 En Hy het deur die hele Galilea gegaan, in hulle sinagoges gepreek en demone uitgedryf.

Ekstra stof

Markus 1:29-34
Teks en konteks
1:29 Markus vertel ook die verhaal van die genesing van Simon Petrus se skoonmoeder. Hy voeg egter die detail by dat Jakobus en Johannes Jesus van die sinagoge af vergesel het na Simon se huis. Dit lyk asof Andreas ook daar saam met sy broer Simon gebly het.

1:30-31 Getrou aan Markus se vinnig-vloeiende evangelie beklemtoon hy die spoed waarmee dit alles plaasvind. Die dissipels het onmiddellik vir Jesus van haar koorssiekte vertel. Jesus het nadergegaan, haar hand gevat en haar opgewek.

Markus gebruik dieselfde Griekse woord egeirō vir die genesing (vgl ook Mark 2:9,11-12; 5:41; 9:27) as vir die werklike opwekking uit die dood (Mark 6:14,16; 12:26; 14:28; 16:6).

As getuienis van haar volle genesing staan Simon se skoonmoeder op en bedien hulle. In Matteus se weergawe hiervan sonder sy Jesus in haar bediening uit.

1:32-34 Let op dat dit aand word met die son wat ondergegaan het. Dws, die sabbat was verby. Simon se skoonmoeder is genees terwyl dit nog sabbat was, terwyl die skares eers begin saamdrom by die deur van die huis van Simon vir genesing en bevryding toe die sabbat verby was.

Baie siekes en duiwelbesete mense is na Jesus gebring sodat daar ‘n samedromming by die deur van die huis ontstaan het. Let op dat siekte en besetenheid duidelik onderskei word. Let ook op dat Hy hulle almal genees en bevry, maak nie saak aan watter siekte of besetenheid hulle gely het nie.

Dit is interessant dat die duiwels só goed weet wie Jesus is, en mense dit so moeilik agterkom, ten spyte van sy prediking en wonderwerke! Jesus keer egter telkens dat die demone sy identiteit as God bekend maak (Mark 1:25,34). Soos Paulus later ook in Filippi doen (Hand 16).

Jesus probeer ook keer dat die mense wat genees word ander van Hom vertel (Mark 1:44). Jesus waarsku selfs sy dissipels dat hulle nie te koop moet loop met die feit dat Hy die Christus is nie (Mark 8:30).

Hoekom? Aan die een kant wou Jesus die spoed waarmee die stories oor Hom versprei, vertraag, want binnekort sou Hy nie meer in van die dorpe kon bedien nie, weens die skares wat Hom gevolg het (Mark 1:45: ). Veral omdat die skares Hom eerder gevolg het weens die wonderwerke wat Hy gedoen het as weens sy prediking en boodskap.

Aan die ander kant wou Jesus soveel as moontlik mense bereik vóórdat die Fariseërs en Skrifgeleerdes se teenstand Hom sou begin beperk. Sy poging om onder die radar te werk, het egter min gehelp, want kort hierna het die Joodse leiers begin om Hom teen te staan (Mark 2:23-3:6).

Markus 1:34-39
1:35 Markus vertel vir ons meer spesifiek as Lukas dat hierdie afsondering in ‘n verlate plek ‘n tyd van gebed was. Jesus se bediening was ingebed in sy gebedsverhouding met God (vgl. ook Mark 6:46 – op die berg; 14:32-42 – in Getsemane). Dit is ook vroegoggend, toe dit nog baie donker was. Die gemeenskap met God was vir Jesus belangriker as ‘n lang nagrus.

1:36-37 Markus se fokus is ook op die dissipels, eerder as op die skares. Hy vertel ons van Simon en dié saam met hom wat “naarstiglik” na Jesus soek. Onthou dat Markus Petrus se weergawe van die evangelie op skrif stel. Hulle soek na Jesus ter wille van die skare: “Almal soek U.”

1:38 Die tyd van gebed het Jesus egter oortuig dat na die aangrensende dorpe moet gaan, sodat Hy daar ook kan preek. Die rede? “Daarvoor het Ek gekom.”

1:39 Dit is dan wat Jesus ook doen. Hy is gehoorsaam aan die opdrag wat die Here Hom gee, en wat in die gebedstyd bevestig is. Hy sit sy reisende bediening voort in die hele Galilea en preek in die Joodse sinagoges en dryf demone uit.

Betekenis en boodskap
Ons het reeds met Lukas se weergawe van hierdie verhaal agter gekom hoe belangrik die tyd van afsondering was vir ‘n nuwe fase in Jesus se bediening. Markus beklemtoon nog meer as Lukas die kontak wat Jesus met God maak deur gebed en die roeping wat gevolglik daaruit vloei. Jesus se roeping lê in die verspreiding van die boodskap van die koninkryk van God aan alle Jode regdeur die land.

Uiteindelik is dit natuurlik ook hierdie boodskap wat aan alle mense gebring moet word, soos die verhale in Handelinge en die res van die NT vir ons vertel. Die evangelie moet tot aan die eindes van die wêreld verkondig word.

Wat Markus ons ook leer, is dat daar ‘n tyd is vir die vestiging van die boodskap in ‘n gemeenskap en ‘n tyd vir die verspreiding daarvan na ander gemeenskappe.

Sonder dat die boodskap grondvat in ‘n gemeenskap, sal die evangelie nie plaaslik floreer nie. Daarom het Jesus talle insette gemaak in Kapernaum (Mark 1:21; 9:33; Luk 7:1; 10:15; Joh 2:12; 6:17,59). Sonder dat die boodskap egter versprei na ander gemeenskappe, sal die evangelie nie ‘n globale impak maak nie. Daarom het Jesus nie net daar gebly nie.

Albei fasette van die verkondiging is belangrik. Plaaslik en globaal. Die een kan nie ten koste van die ander beklemtoon word nie. Gelowiges en gemeentes wat dít nie verstaan nie, sal vasval, óf in ‘n verarming plaaslik, óf in ‘n verskraling globaal. Opbou en uitbou. Gelyktydig.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 471

Aanvangswoord: Jesaja 40

Seëngroet  

Lied 207

Wet

Riglyn vir die gelowige se lewenswandel: 1 Korintiërs 9

Algemene belydenis: (Uit die Book of Common Prayer)

Vryspraak 

Geloofsbelydenis: ahv Johannes Evangelie

Toewyding: Lied 273 “Laat my met U verenig lewe 1,2,3,4”
of
Loflied 191 “Grote God ons bring U eer (melodie lied 190) vs1,2,3”

Epiklese: Lied 254

Skriflesing: Markus 1:29-39

Familie-oomblik
Prediking

Gebed: Amen (Uit Jesaja 40)

Offergawes

Wegsending: Psalm 147:1,2,3,4

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 471
Soek allereers die koninkryk van God;
en sy geregtigheid.
wat jul nodig het sal die Vader dan
vir julle gee uit sy oorvloed.
Hy sal voorsien in sy oorvloed.
Halleluja! Halleluja!
Halleluja!
Amen. Amen.

Aanvangswoord: Jesaja 40
Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie
en sy insig is ondeurgrondelik.
29Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
30Selfs jongmanne word moeg
en raak afgemat,
selfs manne in hulle fleur
struikel en val,
31maar dié wat op die Here vertrou,
kry nuwe krag.

Seëngroet  
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus, wat self God is, deur die Heilige Gees wat ons leer om Hom te ken. Amen.

Lied 207
1. Eer aan die Vader,
wat alles gemaak het;
eer aan die Seun,
ons Verlosser en Vriend;
eer aan die Gees
wat ons lei in die waarheid –
aan God Drie-enig
ons lof en ons lied.
Ere aan God! Die Heer van alle here
woon ook in ons deur sy Woord en sy Gees
Gee ons die liefde, geloof en vertroue
om u gehoorsame kinders te wees.

2. Heiland, aan U
al ons dank en aanbidding
U het kom soek,
ons van sonde gered.
Deur u verdienste
kom ons na die Vader;
hoor Hy sy kinders
se lied en gebed.
Ere aan God! Die Heer van alle here
woon ook in ons deur sy Woord en sy Gees
Gee ons die liefde, geloof en vertroue
om u gehoorsame kinders te wees.

3. Wek in ons liefde,
o Heer, vir u waarheid:
Waarheid gee insig,
versterk en maak vry.
U is die Waarheid,
die Weg en die Lewe:
U woon in ons
en laat ons in U bly.
Ere aan God! Die Heer van alle here
woon ook in ons deur sy Woord en sy Gees
Gee ons die liefde, geloof en vertroue
om u gehoorsame kinders te wees.

4. Maak ons, o Heer,
u getroue getuies
dat ons met vreugde
dit oral vertel:
Christus, oorwinnaar
oor dood en oor chaos.
Hy ken ons nood,
Hy kom red en herstel.
Ere aan God! Die Heer van alle here
woon ook in ons deur sy Woord en sy Gees
Gee ons die liefde, geloof en vertroue
om u gehoorsame kinders te wees.

5. Heer van die skepping
en Heer oor ons lewe:
niks wat u aandag,
u almag ontgaan.
Groot is u werke,
herskeppend u liefde;
heerlik, o Heer,
is u heilige Naam.
Ere aan God! Die Heer van alle here
woon ook in ons deur sy Woord en sy Gees
Gee ons die liefde, geloof en vertroue
om u gehoorsame kinders te wees.

Wet

Riglyn vir die gelowige se lewenswandel: 1 Korintiërs 9
24Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. 25Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. 26Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. 27Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.

Algemene belydenis: (Uit die Book of Common Prayer)
Almagtige en genadige Vader,
ons het van u weë afgedwaal soos verlore skape.
Ons het te veel ons eie kop gevolg;
ons het nagelaat om dinge te doen wat ons moes doen,
en ons het die dinge gedoen wat ons nie moes doen nie;
daar is niks goeds in ons nie.
O Heer, betoon tog aan ons ellendige sondaars genade;
o God, verlos díe wat hulle sonde bely,
vernuwe díe wat berou toon
volgens U beloftes aan die mensdom deur Jesus Christus ons Here;
en gee, o genadige Vader, dat ons om Sy onthalwe
van nou af ‘n goddelike, regverdige en rein lewe sal lei,
tot eer van U Heilige Naam.
Amen

Vryspraak 
2Dit is die Here
wat Jerusalem weer opbou,
wat die verstrooides van Israel
bymekaarbring.
3Hy genees die gebrokenes van hart
en verbind hulle wonde.
10Die Here het niks
aan die krag van ’n perd
of die liggaamskrag van ’n soldaat nie,
11maar Hy stel prys
op dié wat Hom dien,
dié wat hulle hoop vestig op sy trou.

Geloofsbelydenis: ahv Johannes Evangelie
Voorganger (V): Ek glo in Jesus Christus, die Woord wat mens geword het.
Gemeente (G): Ons het sy heerlikheid gesien, vol genade en waarheid.

V: Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
G: Hy is die Seun van God.

V: Hy is die brood wat lewe gee.
G: Wie na Hom toe kom, sal nooit weer honger ly nie; en wie in Hom glo, sal nooit weer dors kry nie.

V: Hy is die lig vir die wêreld.
G: Wie Hom volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.
V: Hy is die goeie Herder.

G: Hy lê sy lewe af vir sy volgelinge (skape).
Hy ken sy volgelinge (skape) en hulle ken Hom.

V: Hy is die opstanding en die lewe.
G: Wie in Hom glo, sal lewe, al sterwe Hy ook.

V: Hy is die weg, die waarheid en die lewe.
G: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie.

V: Hy is die ware wingerdstok.
G: As ons in Hom bly en Hy in ons, sal ons baie vrugte dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
(Uit die Evangelie van Johannes)
(Uit Bybelmedia se Vir die erediens- ‘n Handleiding, 2007)

Toewyding: Lied 273 “Laat my met U verenig lewe 1,2,3,4”
1. Laat my met U verenig lewe,
U wat die ware wynstok is;
u krag gee my voortdurend lewe,
bewaar my van verderfenis.
Deurstroom, besiel en seën my
sodat ek altyd vrugbaar bly.

2. Word elke loot nie reg gesnoei nie,
sal daar net wilde lote skiet.
Die druiwestok sal nie kan bloei nie,
die rank en loot geen vrugte bied.
Die wyse wynboer ken sy snoei
sodat die druif al voller groei.

3. Geen groeikrag kom deur eie strewe,
niks kan ek sonder U, o Heer;
in u gemeenskap bloei my lewe
en word die lewensvolheid meer.
Ek wil aan U verbonde bly –
bly U, o Here, steeds in my.

4. Nee, Heer, van U wil ek nie skei nie,
U wat die ware wynstok is.
As ek nie in u liefde bly nie,
is ek ‘n loot wat vrugloos is.
Gee dat ek altyd vrugbaar bly
en U verheerlik word in my.
of
Loflied 191 “Grote God ons bring U eer (melodie lied 190) vs1,2,3”
1. Grote God, ons bring U eer,
ons aanbid U, Koning, Heer.
U kom toe die lof alom –
U wat was, wat is, wat kom.
Voor U buig die skepping neer –
U wat ewig sal regeer.

2. Om u troon bring eng’le eer:
“Heilig, heilig, heilig, Heer”.
Hier op aarde word ‘n lied
deur die eeue aangebied:
Die getuies van u Naam,
jubel in hul lofsang saam.

3. Vader, ewig, goed en groot,
hoor ons lof uit elke oord.
Seun van God in ewigheid,
ons is tot u diens bereid.
Heil’ge Gees, Vertrooster, Heer,
ons, u kerk, wil U steeds eer.

Liedere

F1. “Die Hemel Juig”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: All heaven declares
Teks en Musiek: Noel & Tricia Richards
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht & Jacques Louw
© 1987,1997 Thankyou Music

1. Die hemel juig, getuig van al u grootheid, Heer.
Die skepping buig in aanbidding voor U neer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

2. Ons wil verklaar:
U is die opgestane Heer;
U is die Lam
wat vir ewig sal regeer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

F183. “My Hulp Is Van U, Heer”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toetrede / Gebed / Geloof en vertroue)
Oorspronklik: Mijn Hulp Is Van U, Heer
Teks: Marcel Zimmer
Musiek: Marcel en Lydia Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2006 Faani Engelbrecht
© 2004 Celmar Music

Ek hef my oë op na die berge
Waar kom my hulp vandaan?
Ek hef my oë op na U, Heer,
wat by my sal staan
My hulp is van U, Heer
U’t alles goed gemaak
U sal nie toe laat dat ek struikel of val
U is my beskermer wat oor my waak
en wat nooit aan die slaap sal raak
Wat kan my dan seermaak die son of die maan?
U is my skadu, U is hier by my,
Bewaar heel my lewe my kom en my gaan.
U beskerm my tot in ewigheid
My hulp is van U, Heer

(2de keer)
U beskerm my tot in ewigheid
My hulp is van U, Heer

(Eindig met)
My hulp is van U, Heer
O, van U

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Lied 254
1. Spreek Heer, spreek Heer,
want u dienaar luister.
Net u Woord, Heer,
bring weer lig in duister.

2. Spreek Heer, spreek Heer,
want u kinders luister.
Net u Woord, Heer,
bring weer lig in duister.

Skriflesing: Markus 1:29-39

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Wat maak iemand ‘n superhero? Net sy of haar spesiale krag? Het die supervillains ook spesiale vermoëns? Wys prente van superheroes en hulle teenstanders, die villains. Lei die gesprek tot by superheroes wat omgee vir mense en hulle wil help, teenoor die villains wat net alles vir hulleself wil hê.

Jesus is sterker as enige hero of villain, maar wat Jesus nog meer besonders maak, is dat Hy innig lief is vir mense. Hy sien mense raak. Hy weet wanneer hulle hulp nodig het, en Jesus gebruik sy mag om mense gesond te maak.
of
Vertel die verhaaltjie van die twee houtkappers wat twee heeltemal verskillende werkswyses gehad het. Op ‘n dag het hulle bosboustasie besluit om ‘n kompetisie aan te bied. Die houtkapper wat die meeste bome in ‘n dag sou afkap, sou die wenner wees.

Die eerste houtkapper was bekend as ‘n baie effektiewe werker en het uitgegaan met die beste tegnieke, implimente en werkskedules. Hy het normaalweg in een dag meer verrig as sewe ander houtkappers. Die tweede houtkapper was nie baie groot of sterk nie, maar hy het ‘n leuse gehad waarvolgens hy geleef en gewerk het: Begin met die einde in gedagte.

Toe die kompetisie aan die einde van die dag sluit, het die eerste houtkapper, soos verwag, ‘n hele paar honderd meer bome afgekap as die tweede. Maar toe die wenner aangewys word, moes almal tot hulle verbasing hoor dat dit die tweede houtkapper is.

Die beoordelaar verduidelik toe dat die eerste houtkapper inderdaad die meeste bome afgekap het, maar uit die verkeerde plantasie! Die eerste ding wat die tweede houtkapper gedoen het, was om in die hoogste boom, as ‘n uitkykpunt, te klim en te besef: “Verkeerde plantasie! Ek moet daar anderkant gaan kap!”

Preekriglyn

Op die Sabbat doen Jesus wonders. In Markus 1:21-28 dryf Hy die bose geeste uit en in Markus 1:29-39 doen Hy verskeie genesingswonders, met die genesing van Petrus se skoonma as ‘n eerste wonder.

Ons leer Jesus en God se bedoeling met die bediening van Jesus in ons teks ken. Kom ons stap deur ons teks en kyk na die besonderhede daarvan.

Genesing

Vers 1:29-31. Jesus en sy dissipels gaan direk van die sinagoge af huis toe vir die Sabbatsmaaltyd teen die sesde uur (twaalfuur). Hier vind hulle Petrus se skoonmoeder ernstig siek (letterlik “sterwend”) aan ‘n hoë koors. Jesus steek sy hand na haar toe uit, help haar om op te staan en sy is onmiddellik en volkome gesond. Só demonstreer Jesus dat Hy gesag het, nie net oor die bose nie, maar ook oor siekte. Hierna bedien Petrus se skoonma die gaste met haar gasvryheid.

Dit is merkwaardig dat Markus dieselfde woord gebruik vir haar “opwekking” uit die koorssiekte as wat hy later ook sal gebruik vir die “opwekking” uit die dood. Die genesing van haar koors is dus as’t ware op dieselfde vlak as ‘n opwekking “uit die dood” uit.

Genees om te dien

Petrus se skoonma se genesing loop uit op haar diens. Die werkwoord “dien” kom nog twee maal in Markus voor (1:13; 14:43-52). Om te dien is ‘n noodsaaklike faset van Christenskap. Dit is ook nie tot buitengewone omstandighede of die kerklik-godsdienstige ruimte beperk nie. Diensbaarheid is die gesindheid waarvolgens jy jou hele lewe inrig. Jy leef dit in al jou verhoudings, ongeag die uitdagings daaraan verbonde. Daar is wel verskillende maniere van dien na gelang van jou omstandighede (vgl v 31 met v 37).

Genesings

Vers 32-34. Hierna bring die hele dorp hulle siekes na Jesus, want dit was reeds sononder op die Sabbat en die Jode kon vrylik rondbeweeg. Tipies van Markus se skryfstyl vergroot hy as hy sê dat die hele dorp daar was. Tog word die geeste weer verbied om Jesus se ware identiteit bekend te maak.

Gebed en fokus

Vers 35-37. Te midde van al die bedrywighede, gaan Jesus eenkant toe om te bid. Hy doen dit om tyd met sy Vader deur te bring. Hoekom? Ons kan net raai. Dit kan wees dat Jesus Homself wou beskerm teen die versoeking om eerder gewild te wees onder mense as om in diens van die koninkryk te staan. So openbaar Jesus dat Hy gekom het om die Vader in die harte en lewe van alle mense sigbaar te maak. Markus se sin vir die dramatiese kom weer na vore as hy sê “almal” soek na Jesus.

Vers 38-39. Hierna stuur die Vader Jesus na ‘n ander dorp om daar te preek, want dit gaan oor die evangelie wat vertel moet word. Die wonders is slegs die bevestiging daarvan.

Samevattend

Eers was Jesus in Kapernaum waar Hy die mense in die sinagoge, die hartklop van die Joodse godsdiens, geleer het. Daarná dryf Hy ‘n onrein gees uit ‘n man uit voordat Hy, letterlik minute ná die sinagogediens, Petrus se skoonma gesond maak. Die nuus oor die gebeure versprei vinnig. Teen die aand daag ‘n menigte mense met siekes en persone in die mag van die bose op om deur Jesus genees te word. Nadat alles verby is, gaan bid Jesus eers voordat Hy en sy dissipels na nabygeleë dorpies gaan om daar te preek. Jesus het nie net die opdrag gegee dat die evangelie versprei moet word nie, nee, Hy het dit self ook verkondig en die aanbreek van die koninkryk bevestig met die wonderwerke wat Hy dwarsdeur die provinsie Galilea gedoen het.

Boodskap

Kom ons fokus nou op die boodskap van ons teks.

Jesus is naby

Genesing is ‘n teken dat God se koninkryk ‘n werklikheid geword het. Die koms van die koninkryk bring genesing vir mense wat siek, seer en gebroke is. Dit bevry mense van hulle sonde en die magte wat oor hulle beheer het. Dit gebeur op alle plekke – vanaf die sinagoge tot by die huis tot in die wêreld.

Jesus staan nie eenkant terwyl mense swaarkry nie. Hy betree hulle gewone, alledaagse lewensruimtes waar hulle worstel om elke dag te oorleef, van die aanbiddingsplekke tot die stofstrate van die wêreld. Hier maak Hy die koninkryk van God sigbaar as Hy verlossing en uitkoms bring. Hierin onderrig Hy sy dissipels met woord en daad, en dan stuur Hy hulle om presies dieselfde te doen. Hy berei hulle ook voor dat dit nie ‘n eenvoudige, maklik bereikbare bediening sal wees nie. In alles moet hulle Jesus se voorbeeld van die dienskneggesindheid in God se liefde openbaar en na almal uitreik. Só maak volgelinge van Jesus God se koninkryk onder alle mense en in alle omstandighede sigbaar.

Dieper gedink oor genesing

‘n Mens sien hier hoe Jesus aan die een kant amper voor die voet genees en bevry. Dit getuig van sy bereidheid om die effek van die sondeval ook in terme van siekte en besetenheid op te hef. Dit getuig van sy gesag oor die lewe en die dood. Die genesing is immers in Markus se oë gelykstaande aan ‘n opwekking uit die dood.

Aan die ander kant sien ‘n mens dat Jesus probeer keer dat Hy net as ‘n wonderwerker bekend staan. Daarom beperk Hy die sensasie wat amper onvermydelik die nuus oor sy wonderwerke sou vergesel. Hy wil hê dat sy wonders sy woorde sal onderstreep, want dit is uiteindelik sy woorde wat ons harte en lewens verander. En ‘n heel hart is belangriker as ‘n heel liggaam.

Ons leer meer daaroor in die ontstellende verhaal van die man wat by die poel van Betsata genees is. Hy is ná 38 jaar genees, maar lyk asof hy daarna steeds in sonde voort geleef het. Hoor net Jesus se waarskuwing aan hom toe hulle later in die tempel ontmoet: “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat iets slegters nie met jou gebeur nie.” (Joh 5:14; vgl ook Joh 8).

Ten spyte van hierdie waarskuwing verklap die man egter Jesus aan die Jode wat aanleiding gee daartoe dat hulle Jesus oor die genesing vervolg het, omdat dit op ‘n Sabbatdag gebeur het (Joh 5:15-16). Dit wil dus lyk asof die man sy Geneser verraai. Dat sy liggaam genees is, maar dat sy hart onaangeraak gebly het deur Jesus.

Ons moet dus genuanseerd kyk na genesing. God genees. Vandag nog. En Hy doen dit baie keer onmiddellik en sonder verwyt. Soos in die evangelies. Maar, die genesing van die hart is steeds die eintlike ding wat moet gebeur. En soms in sy wysheid sluit dit genesing van die liggaam uit.

Vergelyk die verhaal van Joni Eareckson Tada (A Place of healing: wrestling with the mysteries of suffering). Sy is ‘n kwadrupleeg ná ‘n duikongeluk. Sy het ‘n wêreldwye bediening, maar steeds vanuit ‘n rolstoel. Joni glo in genesing, maar bely dat die Here dit in haar geval nog nie gedoen het nie. Trouens, sy sukkel die afgelope tyd met toenemende pyn in haar verlamde ledemate en is onlangs weens kanker gehospitaliseer.

Sy soek egter: God’s redemption in her pain. Sy sê onder andere in haar boek:

Pain is a bruising of a blessing; but it is a blessing nevertheless. It’s a strange, dark companion, but a companion – if only because it has passed through God’s inspecting hand. It’s an unwelcome guest, but still a guest.

Hoe lyk Jesus se koningskap?

Dis in ons teks opvallend dat Petrus se skoonmoeder dadelik begin dien nadat sy genees is. Sy word opgewek uit ‘n dodelike siekte om te dien.

Diens is self die wesenskenmerk van Jesus se hele bediening. Jesus het gekom om te dien en so God se wil te doen. Dit sien ons in ons teks.

Hiermee keer Jesus mense, ook gelowiges, se idee van die koninkryk radikaal op sy kop. Vanuit die Ou Testament is mense op soek na ‘n aardse koning wat hulle van verskeie wêreldse koninkryke, waaronder die Romeinse owerheid, sou bevry. In die plek daarvan sou die aardse koning ‘n eie, nuwe koninkryk oprig waar die owerheid en sy magte geen beheer meer sou hê nie. In so ‘n koninkryk wou Johannes en Jakobus ereplekke hê, al moes hulle lyding ervaar. Tog sterf Jakobus volgens Handelinge 12:2 ‘n martelaarsdood aan die hand van koning Agrippa, terwyl Johannes heel waarskynlik verban word (Op 1:9). Dit is egter nie dié koninkryk waarvan Jesus gepraat het nie.

Die koninkryk wat Jesus sigbaar maak, het niks met aardse paleise, trone en konings te doen nie. Dit gaan oor God wat sy heerskappy in Jesus sigbaar maak. Dit doen Jesus deur te dien, ja, deur ons self tot met sy dood te dien.

Ja, Markus beklemtoon deurgaans dat Jesus die lydende Seun van God is wat nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien (10:45).

Gebed en fokus

Nog ‘n deel van die boodskap is Jesus se nagtelike gebed en sy reaksie wanneer Hy verneem ‘n skare is op soek na Hom. Hy leef in kontak met sy Vader en ontvang sy selfverstaan en sy roeping by die Vader. Daarom is Hy nie uitgelewer aan gewildheid by mense nie. Jesus hoef nie terug te gaan na die skare en by hulle erkenning te kry nie. Sy erkenning kom uit die hand van sy Vader.

Om te dien het baie slaggate. Ons begeerte om goed te doen het soms verborge motiverings. Miskien is dit om deur mense geprys te word. Miskien doen ons iets goeds net om bedank te word. Moontlik word ons afgeskrik deur wat mense sê en doen. Dan steel dit ons begeerte om te dien.

Vir Petrus se skoonmoeder was Jesus se optrede die enigste motivering tot liefdevolle diens. Diens vra ons om met hart en hand, sonder perke, na ander uit te reik – al is dit hoe gering, of al vra dit my alles. Ons moet onthou dat Satan nie tevrede is met wat mooi en goed en reg is nie. Die duiwel wil juis ons verhouding met die Here versteur. Hy wil hê ons moet moedeloos en nutteloos voel. Hy wil hê dat ons eerder die toejuiging van mense sal soek.

Die antwoord is om in stilte en gebed op die Here God se roepstem te fokus. Mense wat nie hul selfdefinisie by God ontvang nie, is dikwels uitgelewer aan die verwagtinge van ander. Dit is dikwels ‘n kortpad na spanning en ongesonde gevolge.

Kontak met God en die ontvang van jou lewensroeping en jou fokus uit God se hand is ‘n belangrike vertrekpunt vir ‘n vervulde lewe.

Covid-19

Hierdie teks is as’t ware vir die Covid-tyd geskryf. Baie gelowiges getuig dat God hulle in die koors aangeraak en genees het. Ander vertel met die diepste hartseer van geliefdes wat aan die dood afgestaan is. Waarom Jesus hulle nie – soos Petrus se skoonmoeder – opgewek het uit ‘n siekbed nie, is nie aan ons bekend nie.

Wat ons wel weet, is dat gelowiges leef onder die belofte van opwekking uit die dood, indien nie hierdie kant van die graf nie, wel verseker aan die ander kant daarvan. Jesus se opwekking is die bewys en belofte daarvan. Daarmee kan ons mekaar troos.

God stuur ons om te leef

Gebed
U Here is die ewige God-
U gee die vermoeides krag,
U versterk dié wat nie meer kan nie.
Ons, wat op die Here vertrou,
kry nuwe krag.
Ons sal vlieg met arendsvlerke,
ons sal hardloop en nie moeg word nie,
ons sal loop en nie afgemat raak nie.
Amen (Uit Jesaja 40)

Offergawes

Wegsending: Psalm 147:1,2,3,4
1. Dis goed om God se lof te sing;
om Hom te loof, gee ons genot.
Die lof wat ons aan Hom moet bring,
dit kom Hom toe. Hy is ons God.
Hy bou Jerusalem weer op.
Ons tuiste het ons t’ruggevind.
Genees is weer ons hart se klop.
Ons wonde is weer sag verbind.

2. Die sterre het Hy afgetel
en elkeen met ‘n naam benoem.
Geen taal kan van sy mag vertel,
sy grenselose kennis noem.
Die swakkes word weer opgehef,
God sal vir hulle uitkoms bring.
Die goddeloses word getref
deur God se fel vernedering.

3. Sing nou ‘n danklied tot die Heer;
Die aarde word met reën besproei,
Hy reël die wolke en die weer,
die bergland word met gras begroei.
Hy wat vir mens en dier voorsien,
het niks aan die vertoon van krag,
maar is gesteld op wie Hom dien
en prys stel op sy trou en mag.

4. Sing, Sion, sing, Jerusalem.
Jou poorte is deur Hom versterk.
Prys God, jou God, met blye stem.
Hy’t voorspoed in jou land bewerk.
Die aarde doen wat Hy beveel.
Hy’t alles onder Hom gestel.
Hy het sy woord jou meegedeel.
Kom, prys die Here, Israel.

Seën
Staan in verwondering oor wie God is.
Staan in afwagting oor wat God gaan doen.
Wandel hoopvol, want God is aan die werk.
Die genade van ons Here, Jesus Christus,
die liefde van God ons Vader
en die gemeenskap met die Heilige Gees is by julle.
of
“Julle sal vlieg met arendsvlerke, julle sal hardloop en nie moeg word nie, julle sal loop en nie afgemat raak nie” (Jes 40:31).

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en H

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.