Vyfde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

Daar is ’n goue draad wat deur al die tekste loop, naamlik dat ware godsdiens altyd diep vanuit die hart kom en nie gemeet kan word aan die bloot uiterlike onderhouding van wette nie. Die twee Ou-Testamentiese tekste wil albei die doen van geregtigheid en ontferming jeens minder-bevoorregtes voorhou as ware godsdiens. Die Matteusteks roep gelowiges op om sout vir die aarde en lig vir die wêreld te wees, terwyl ons teks uit 1 Korintiërs alles herlei na die diepste bedoelinge van die hart: Alleen diégene wat die Gees van Christus het, leef die lewe van ware godsdiens/geloof.

Ander tekste

Psalm 112:1-9 (10); 1 Korintiërs 2:1-12, (13-16); Matteus 5:13-20

Fokusteks

Jesaja 58:1-9a (9b-12)
Wys my volk op hulle oortredinge
58 Die Here sê:
Roep uit volle bors,
moet niks verswyg nie!
Laat jou stem hoor,
duidelik soos ’n ramshoring!
Wys my volk op hulle oortredinge,
die afstammelinge van Jakob
op hulle sondes.
2Hulle vra wel elke dag na my wil,
asof hulle graag wil weet
wat Ek van hulle verwag.
Hulle gee voor dat hulle ’n nasie is
wat doen wat reg is
en hom aan die bepalings
van sy God hou.
Hulle vra My wel
om regverdige beslissings
asof hulle van my teenwoordigheid hou.
3Hulle vra:
“Waarom vas ons, maar U sien dit nie,
verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?”
Dit is omdat julle op die vasdae doen
wat julle wil
en die mense wat vir julle werk,
nog harder laat werk.
4Julle vasdae loop uit op twis en rusie,
julle dam mekaar met die vuis by.
Julle kan nie op hierdie manier vas
en dan verwag dat julle gebed
verhoor sal word in die hemel nie.
5Is dit ál wat Ek op ’n vasdag wil hê:
net dat ’n mens homself verneder,
dat hy sy nek buig soos ’n biesie
en in sak en as sit?
Noem jy dít ’n vasdag,
’n dag waarvan die Here hou?
6Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie:
om dié wat onregverdig
gevange gehou word, te bevry,
om die juk wat op mense druk, af te haal,
om verdruktes vry te maak,
om elke juk te breek?
7Is dit nie dat jy vir dié wat honger is,
van jou brood gee nie,
dat jy aan die armes en die dakloses
’n blyplek gee nie,
dat wanneer jy iemand sonder klere sien,
jy vir hom klere gee nie,
dat jy jou medemens
nie aan sy lot oorlaat nie?
8Dan sal die lig vir jou deurbreek
soos die rooidag,
jy sal gou herstel.
Hy wat jou red,
sal voor jou uit gaan,
die mag van die Here
sal agter jou aankom.
9Dan sal jy roep,
en die Here sal antwoord,
jy sal om hulp roep,
en Hy sal sê: Hier is Ek!
As jy sorg dat mense nie meer by jou
verdruk word nie,
nie meer gedreig
en vals beskuldig word nie,
10as jy jou wy aan dié wat honger het,
as jy voorsien in die behoeftes
van dié wat in nood is,
sal die lig vir jou skyn
wanneer dit donker is,
sal wat vir jou nag is,
word soos die helder middag.
11Die Here sal jou altyd deur lei;
selfs in dor streke
sal Hy in jou behoeftes voorsien.
Hy sal jou sterk maak.
Jy sal wees soos ’n tuin met volop water,
soos ’n fontein waarvan die water
nie opdroog nie.
12Jou mense sal die ou puinhope herbou,
die fondamente herstel
wat al geslagte lank bestaan.
Jy sal bekend staan as ’n volk
wat sy afgebreekte mure herbou,
wat sy strate herstel
sodat daar weer mense kan woon.
13As jy nie op die sabbat oortree nie,
op my heilige dag doen
net wat jy wil nie,
as jy die sabbat ’n vreugde noem,
as jy die heilige dag van die Here
in ere hou,
as jy dit eer deur nie jou gewone gang
te gaan nie,
nie te doen net wat jy wil nie,
en nie handel dryf nie,
14sal jy vreugde vind in die Here.
Ek sal jou die land
weer in besit laat neem,
Ek sal jou laat eet van die opbrengs
van die land van jou vader Jakob.
Ek, die Here, het dit gesê.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Lees Ps 112 of sing Ps 112 in die Liedboek

Liedere

F294. “Neem My Lewe”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Gebed / Toewyding)
Teks & Musiek: Marina du Toit
©  2008 Urial Publishing

Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer
Want U is die lewe en U is die lig
U gee die water en ek dra die vrug

Neem my lewe laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer
Want U is die Skepper en ek is die klei
Maak vir u hart, Heer, ’n woning in my

Snoei my vom my, suiwer my
Laat U meer word binne my
En laat al die vuilheid wegbrand, Heer
Laat ek weer skoon word al is dit seer

Snoei my, vorm my, suiwer my
Laat U meer word binne my
En laat ek die vrug dra om heilig te wees
’n Lewende offer gevul met u Gees

’n Lewende offer vir U
’n Lewende offer gevul met u Gees

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Sluit aan by die punt “Waar God sigbaar word” deur ‘n storie te vertel van iemand wat goed doen teenoor hulle naaste.  Die verhaal van Racheltjie de Beer kan goed werk, of die verhaal van Mary Jones, die dogtertjie wie se optrede aanleiding gegee het tot die stigting van die Bybelgenootskap.  Lees haar storie (Prentjie van Mary Jones kom uit die Bybelgenootskap se boekie:  “Mary Jones and her Bible”.)  Of vertel die verhaal van die Vrystaatse meisie, Anel Kleingeld, wat verlede jaar water ingesamel het en George toe gestuur het.

Preekriglyn

Die Franse filosoof Jacques Derrida is een van die invloedrykste denkers uit die tweede helfte van die twintigste eeu.  Hy was van Joods-Franse afkoms en is in Algerië gebore en getoë, die derde van vyf kinders.  Sy intellektuele bydrae het hy in Europa gelewer.

Op sy eerste skooldag, in 1942, is hy uit die skool gesit weens anti-Semitiese kwotas wat die aantal Jode op skool gereguleer het.  Klein Jacques wou nie na die Joodse sentrum toe gaan nie, en het ’n jaar lank skelm uit die skool gebly.  In die tyd het hy sokker gespeel, en gemeen hy sou eendag ’n professionele sokkerspeler word.  In plaas daarvan het hy ontpop in ’n werklik invloedryke filosoof.

Derrida is die vader van ‘n denkwyse wat as dekonstruksie bekendstaan. Dekonstruksie is ’n metode wat die ongetoetste aannames waarmee mense werk, wil uitdaag en wil wysig.  Mense leef met veronderstellings oor allerhande dinge, bv. wat die huwelik is en hoe huwelike werk, wie met wie mag trou, en hoe jy uit ’n huwelik tree.  Mense vertel stories om hierdie aannames in stand te hou, sê Derrida, en bied oplossings vir die lewe op grond daarvan aan, sonder dat dit ooit behoorlik uitmekaargehaal en getoets is.  Mense gebruik hierdie aannames om ander te beheer en te lei, sonder dat die ander ooit kon deelneem aan die gesprek oor die aannames en waardes wat ter sprake is.

Die teoloog-filosoof John Caputo verduidelik dat dekonstruksie soek altyd na ’n neut wat dit wil kraak.  Dit is, in ’n neutedop, wat dekonstruksie beteken.  Bring enige aanname: dekonstruksie sal die uitmekaarhaal en laat wankel.  Die “neutedop” kan ’n bepaalde waarde wees, ’n instelling soos die huwelik, ’n politieke sisteem soos apartheid of kommunisme, kapitalisme, die ANC, revolusie, privaat grondbesit, of Afrikaner-nasionalisme.  Die kerk kan ’n konstruksie wees, of die staat, of opvoeding en onderwys.  Die “neutedop” kan letterlik enige aanname of vertrekpunt wat gangbaar deur ’n groep aanvaar word.  Dekonstruksie kraak die neut en versteur die rustige, stabiele karakter daarvan.  Dit vernietig die neut.

Dekonstruksie kan dit alles regkry, omdat alle aannames eintlik uit botsende elemente bestaan.  Die kern van vernietiging is reeds in die aanname (neut) geleë.  Niks is daarom veilig nie.

Selfs diegene van ons wat niks van filosofie weet nie, herken die proses van dekonstruksie dadelik.  Mens identifiseer oombliklik hiermee.  Dit het mode geword.  Oral rondom ons is mense besig om letterlik alles te dekonstrueer.

Nog ’n manier om dekonstruksie te verduidelik is om die beeld van ’n gebou as konstruksie te gebruik.  ’n Gebou word opgerig, die fondasie deur die mure bedek, die bakstene deur pleister, die pype in die mure toegemessel.  Mens sien die grootste gedeelte van die gebou nie – bv. die dakbalke, die spykers, die beton onder die vloere.  Dekonstruksie begin die gebou uitmekaarhaal sodat die strukture waarop dit rus blootgelê kan word.  Natuurlik nie werklike geboue nie, maar denkgeboue.  Dit haal uitmekaar, verduidelik dat mense dinge voorstaan bloot omdat dit vir hulleself voordeel inhou en vir hulleself mag besorg, sonder dat die aannames ooit behoorlik getoets word.

Die Here dekonstrueer Israel

In ons teks, kan mens sê, dekonstrueer die Here Israel se godsdiensbeoefening.

Die volk het hulle godsdienste instellings en hulle godsdienstige gebruike gehad.  Hulle vra elke dag na die Here se wil, gee voor dat hulle die regte dinge doen, en dat hulle gehoorsaam is aan die Here se wette (vers 2).  Hulle vra die Here om hulle reg te lei (2), hou gereelde vasdae (3), en gebede (4).

Op die oppervlak lyk die godsdiensbeoefening mooi.  Onder die oppervlak, nadat die “gebou” bietjie uitmekaargehaal is, die neut gekraak is, is daar ander motiewe:

      • Hulle vra na die Here se wil “asof hulle wil weet” (2);
      • Hulle gee voor hulle soek wat reg is en hou aan die Here se opdrag, maar dit is net “voorgee” (2);
      • Hulle vas, en gaan deur al die uiterlike prosesse van vas, en verwag die Here seën daarop, maar hulle gaan voort om te lewe soos hulle wil (3).

Sodra mens dié godsdienstige gebou bietjie bekyk, sien jy dis ’n godsdiens gebou op onreg en verdrukking.  Mense is vroom voor die Here, maar intussen:

• word werkers net harder en harder gedryf (3)
• kenmerk twis en rusie die onderlinge lewe van die gelowiges (4)
• word mense onregverdig gevange gehou (6)
• is daar verdrukking, en word ’n juk op mense se skouers gelê (6)
• ly party honger, en ander het weer baie brood (7)
• is daar armes en dakloses (7)
• het sommige mense baie klere en ander moet kaal deur die lewe gaan (7)
• laat gelowiges hul medemens aan hul eie lot oor (7).

Jesaja spreek hierdie profesie waarskynlik by die tempel uit.  Die profesie verwys in vers 12 na die verwoeste puinhope van die stad, met afgebreek mure en stukkende strate.  Die omstandighede pas by die terugkeer van die ballinge uit ballingskap na hul pragtige stad wat vroeër deur Nebukadneser “gedekonstrueer” is.

Die oorblyfsel van die ballinge het ongeveer in 530 – 520 v.C. teruggekeer om Jerusalem te herbou.  Vir die volgende dekades, selfs eeue, was die sosiale omstandighede uiters haglik.  Die terugkerende ballinge was meer welgesteld, en kon die verarmde Jode wat agtergebly het, maklik uitbuit.  Die profeet Haggai vertel dat misoeste daartoe gelei het dat boere in die skuld geraak het by geldskieters en mettertyd hul grond verloor het.  Hulle moes hulself dan as slawe aan rykes verkoop om die skuld te betaal.  Dit het tot geweldige ellende gelei.

Intussen het die volk God se wil gesoek, gebid en gevas en verlang na die opbou van Jerusalem.  Jerusalem was nie al wat vervalle was nie.  Israel se godsdiens was op wankelende fondamente gebou.  Hulle saak met die Here was nie reg nie, want hulle saak met hulle medemense was nie reg nie.  Iemand moes die foutlyne in hul godsdiens uitwys.  Dekonstruksie was nodig.

Die seën van God se dekonstruksie

Derrida se dekonstruksie is venynig en aanvallend.  Dit ondermyn alles wat standvastig is.  Niks wat mooi, skoon en edel is, hou stand nie.  Derrida vertel self hy het grootgeword met ’n haat vir die familie.  Baie van veral sy vroeë werk, sê hy, kan verstaan word uit haat vir die familie en alles wat dit verteenwoordig – die gesag, die aannames en strukture daarvan.  Hy is suspisieus teenoor alles.  Daar is nie hoop nie.  Daar is nie redding en heiliging van instellings moontlik nie.  Alles moet afgebreek word.

God se dekonstruksie is altyd uit God se liefde en genade gebore.  Die Here wys die foute uit, sodat die foute reggemaak kan word.  God lei ons tot bekering, sodat ons vol blydskap en vrede kan lewe.

Daarom moet ons God se dekonstruksie doelbewus opsoek.  Dit is juis die rede waarom ons bid en vas.  Dit is om onsself oop te stel vir God, sodat God ons aandag kan kry, sodat God ons kan meet, ons lewens as’t ware uitmekaar kan haal, en op sy genadige manier weer op die regte wyse aanmekaar kan sit.

God se dekonstruksie is veilig, want die maak gesond wat siek is.

Daar is ’n belofte aan God se dekonstruksie verbind.  Wanneer ons doen wat die Here sê, sal die lig soos ’n rooidag deurbreek, die Here sal antwoord en ons lei, Hy maak ons sterk, soos ’n tuin met volop water, ’n borrelende fontein, Hy help ons om die puinhope, die afgebreekte mure en die stukkende strate te herstel (verse 8-12).

Die maatstaf van God se dekonstruksie

Iemand het Derrida op ’n dag gevra of daar iets in die wye wêreld is wat nie gedekonstrueer kan word nie.  Is daar iets wat kan standhou, wat nie afgetakel kan word nie?  Volgens oorlewering het Derrida sy kop gekrap, ’n bietjie nagedink, en gesê: “Ja, daar is iets wat nie gedekonstrueer kan word nie.  Geregtigheid teenoor ander dra nie die kiem van sy eie vernietiging nie.  Geregtigheid hou altyd stand.”

Op hierdie punt het Derrida die naaste aan God en die naaste aan die getuienis van die evangelie gekom.  Hy sou Jesaja 58 verstaan.

Mens kan nie die Here wil dien, terwyl mense rondom jou vergaan nie.  Waar is ’n mense naby aan God (v 2); waar word God sigbaar deur sy kinders se lewe (v 10)?  Die antwoord is: in ons verhouding met ons medemens.  Waar geregtigheid geskied.

Wat gebeur met die mense wat rondom ons leef?  Hoe gaan dit met hulle?  Met hoeveel simpatie en empatie gee ons om vir hulle rondom ons?  Met hoeveel energie soek ons hulle belange?

Ons mag baie denkraamwerke is stand hou wat verduidelik waarom die mense rondom ons krepeer.  Ons mag sê mense is lui, hulle is agterlik, wil nie werk nie.  Ons mag sê ons wou help, maar hulle wou hulle nie laat help nie.  Ons kan denkkonstruksies skep wat ons pas.

In ’n land soos Suid-Afrika is dit verskriklik moeilik om oor armoede te praat sonder om jou in die harde neut van rassisme – van alle kante – vas te loop.  Alles is verpolitiseer.  Mens kan amper nie die onderwerp van geregtigheid aanroer sonder om in ’n emosiebelaaide, bitsige argument te beland nie.

Tog is God se maatstaf die vraag hoe ons – wat ’n bietjie het – leef teenoor diegene rondom ons wat verdruk word, sonder klere is, nie toegang het tot behoorlike geleenthede nie.  Ons het werklik God se hulp nodig om vry te word van ons raamwerke en brille, sodat ons mense kan raaksien, mense waar ons ons klein bietjie kan doen om omstandighede te verbeter.

Een van die wonderlike verhale van die afgelope twee dekades in ons kerk is hoe baie lidmate God toegelaat het om hulle ou raamwerke af te breek.  Mense het God toegelaat om vir hulle nuwe harte en nuwe oë te gee waarmee hulle nood en ellende raaksien en help.  Daar is tienduisende voorbeelde.  Die wyse waarop die boere van Elliot en die plaaslike taxi-vereniging mekaar ondersteun, is maar een hiervan.

Weerstand teen God se dekonstruksie

Natuurlik laat ’n mens jou nie sommer dekonstrueer nie.  Jy laat nie sommer dat ’n ander jou vertel jy is verkeerd nie.  Jy hou selfs vir God op ’n afstand.  Jy gebruik alle moontlike argumente om te sê jy is reg net soos jy is.  Dis ander wat verkeerd is.  Ander wat sleg is.  Ander wat verdien wat hulle kry.  Self hoef jy nie te verander nie.

Daarom is die evangelie so uitnodigend en bemoedigend.  Ons word genooi om na God te kom en Hom toe te laat om ons harte en gesindhede te laat verander.

Jesus vertel talle gelykenisse om ons aan te moedig om met God se oë na ander te kyk.  Hy praat:

  • oor die man wat onder rowers verval het en toe deur ’n barmhartige Samaritaan van alle mense gehelp is,
  • oor die ryk man wat Lasarus nie versorg het nie;
  • oor die eindoordeel (Matteus 25) waar die skape en die bokke van mekaar geskei word omdat sommiges God se hart verstaan het en toe iemand met water gehelp het, mense wat nie klere gehad het nie, geklee het, siekes versorg en gevangenes in die tronk besoek het.  Matteus 25 is Jesus se weergawe van Jesaja 58.

Jesus doen ook talle dade van geregtigheid om ons te nooi om self doeners van geregtigheid te word:

  • Hy gee die weduwee van Nain se enigste seun uit die dood uit aan haar terug, sodat sy weer versorging in ’n manlik-gedomineerde wêreld kan hê;
  • Hy reik uit na die vrou wat in sonde betrap is en gee haar ’n nuwe kans op die lewe;
  • Hy genees mense – gee sig aan blindes, ’n vaardige hand aan ’n man met ’n verdorde hand, lammes kry bene, kinders word opgelig en ontvang waarde.

Oor Jerusalem huil Jesus.  Hy wou die stad se inwoners moederlik versamel en op God se weë lei, maar hulle wou nie.  Dit is die karakter van God.  By God is daar onvermoeide ywer om ons uit te nooi op die regte pad.

Waar God sigbaar word

Iemand vertel ’n aangrypende verhaal oor ’n massiewe standbeeld van Jesus wat tydens bomaanvalle in die Tweede Wêreldoorlog swaar beskadig is.  Na die oorlog het die kerkmense brokstukke van die standbeeld opgetel, dit aanmekaargelas en so goed moontlik gerestoureer.  Net die twee hande kon hulle nêrens kry nie.  Uiteindelik los hulle die standbeeld sonder hande, maar bring ’n koperplaat op die beeld aan wat sê:  “Julle is Jesus se hande.  Waar julle Jesus se werk verrig, daar word die aanraking van sy hande gevoel, daar word God gesien.”

Dis presies wat Jesaja 58 sê.  God word sigbaar waar ons reg doen teenoor ons naaste, en hulle wat swaarkry optel en versorg.

God stuur ons om te leef

VONKK 38 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
Teks: Nuwe Sionsgesange 1994; gewysig Jacques Louw 2009 ©
Melodie: EVENTIDE – William Monk 1861
© Teks:  2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

F289. Ek Gee U My Hande (My Hele Menswees)
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding)
Teks en Musiek: Carli Lessing
©  2007 Broken Records

1. Ek gee U my hande
Om u werk te doen
Ek gee U my voete
Om u weg te loop
Ek gee my oë
Om te sien soos U doen
Ek gee my tong
Om u woorde te sê

Refrein:
Ek gee my hele menswees
Ek gee alles wat ek is
Ek bring my hele lewe
My liggaam en my gees
Here Jesus, ek kom vra
Kom leef en werk en bid in my

2. Ek gee my gedagtes
Dat U in my kan dink
Ek gee U my gees
Dat U in my kan bid
Maar bo dit alles
Kom gee ek ook my hart
Laat u liefde
Vir mense in my brand

Refrein: