Vyfde Sondag na Epifanie

Sections

Oorsig

In Markus 1 lees ons dat Jesus verskeie mense gesond maak, preek en bose geeste uitdryf. Jesaja 40 is die bekende gedeelte wat God besing as die een wat ons op arendsvlerke dra. Ook Psalm 147 besing God se grootheid as die Een wat wonde verbind en gebrokenes genees. In 1 Korintiërs 9 skryf Paulus hoe hy die evangelie vir verskillende mense beliggaam het sodat die evangelie vir mense tot redding kon dien.

Ander tekste

Jesaja 40:21-31
21Weet julle dan nie,
het julle nie gehoor nie,
is dit nie van die begin af
aan julle bekend gemaak nie,
het julle nie ’n begrip
van hoe die aarde ontstaan het nie?
22God het sy troon
bokant die hemelkoepel,
die aardbewoners is vir Hom
soos sprinkane.
Hy span die hemel oop soos ’n tentdoek,
oop soos ’n tent vir die mense
om onder te woon.
23Hy maak die vername mense tot niks,
die heersers van die wêreld
asof hulle nie bestaan nie.
24Skaars is hulle geplant,
skaars is hulle gesaai,
skaars het hulle wortelgeskiet,
of Hy blaas sy asem oor hulle,
en hulle verdor,
die stormwind vat hulle weg
soos stoppels.
25Met wie kan julle My dan vergelyk,
wie is soos Ek? vra die Heilige.
26Kyk op na die hemel:
wie het die sterre geskep?
Hy wat die hemelse leër laat uittrek
in hulle volle getal,
dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het.
Met sy groot krag, sy groot mag,
sorg Hy dat geeneen van hulle
ontbreek nie.
27Waarom sê jy dan, Jakob,
waarom kla jy, Israel:
“Die Here sien nie raak
wat van my word nie,
my reg gaan by my God verby”?
28Weet jy dan nie,
het jy nog nie gehoor nie?
Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie
en sy insig is ondeurgrondelik.
29Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
30Selfs jongmanne word moeg
en raak afgemat,
selfs manne in hulle fleur
struikel en val,
31maar dié wat op die Here vertrou,
kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle loop en raak nie afgemat nie.

Psalm 147:1-11, 20c
Ons Here is groot en magtig
147 Prys die Here!
Dit is goed
om tot lof van ons God te sing,
dit is ’n genot om die loflied te sing
wat Hom toekom.
2Dit is die Here
wat Jerusalem weer opbou,
wat die verstrooides van Israel
bymekaarbring.
3Hy genees die gebrokenes van hart
en verbind hulle wonde.
4Hy besluit oor die getal van die sterre
en gee elkeen ’n naam.
5Ons Here is groot en magtig,
sy kennis is onbegrens.
6Die Here laat die hulpeloses
weer opstaan,
maar die goddeloses verneder Hy
tot in die grond.
7Sing vir die Here ’n danklied,
sing tot eer van ons God
met begeleiding van die lier.
8Hy oordek die hemel met wolke,
Hy voorsien reën vir die aarde
en laat gras op die bergland uitspruit.
9Hy gee aan die diere hulle weiding
en versorg die jong kraaie
wat om kos skreeu.
10Die Here het niks
aan die krag van ’n perd
of die liggaamskrag van ’n soldaat nie,
11maar Hy stel prys
op dié wat Hom dien,
dié wat hulle hoop vestig op sy trou.

12Loof die Here, Jerusalem, 
prys jou God, Sion! 
13Hy het die sluitbalke van jou poorte 
sterk gemaak, 
jou inwoners geseën, 
14Hy het in jou grondgebied 
vrede gegee, 
jou met die beste graan gevoed. 
15As Hy die aarde ’n bevel gee, 
word dit vinnig uitgevoer. 
16Hy gee sneeu so wit soos wol, 
Hy strooi ryp uit soos as, 
17Hy laat dit haelstene reën. 
Wie is bestand 
teen die koue wat Hy stuur? 
18Maar op sy bevel smelt alles weer; 
as Hy die warm wind laat waai, 
dan loop die waters. 
19Hy maak sy woord aan Jakob bekend, 
sy voorskrifte en bepalings aan Israel. 
20Dit het Hy vir geeneen 
van die ander nasies gedoen nie; 
hulle ken sy bepalings nie.
Prys die Here!

1 Korintiërs 9:16-23
16As ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my ’n rede om te roem nie. Ek verkondig die evangelie omdat ek móét! En wee my as ek dit nie doen nie! 17As ek dit uit eie keuse doen, kan ek op loon aanspraak maak, maar ek doen dit nie uit eie keuse nie: dit is ’n taak wat aan my toevertrou is. 18Wat is my loon dan? Dit is dat ek as prediker die evangelie kosteloos verkondig en so afstand doen van my reg wat aan die verkondiging van die evangelie verbonde is.

19Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen. 20Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. 21Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. 22Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. 23Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.

24Weet julle nie dat atlete wat aan ’n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle die prys kan wen. 25Almal wat aan ’n wedstryd deelneem, ontsê hulleself allerlei dinge. Hulle doen dit om ’n verganklike oorwinnaarskroon te verkry, maar ons ’n onverganklike. 26Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ’n bokser wat nie in die lug slaan nie. 27Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie.

Fokusteks

Markus 1:29-39
1 Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin só:
Die optrede van Johannes die Doper

(Matt 3:1–12; Luk 3:1–18; Joh 1:19–28)
2In die boek van die profeet Jesaja staan daar geskrywe:
“Kyk, Ek stuur my boodskapper
voor jou uit.
Hy sal die pad vir jou regmaak.
3Iemand roep in die woestyn:
Maak die pad vir die Here gereed,
maak die paaie vir Hom reguit.”
4Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 5Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

6Johannes het klere van kameelhaar gedra met ’n leerband om sy heupe, en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. 7Hy het gepreek en gesê: “Die Een wat ná my kom, is my meerdere. Ek is nie eers werd om te buk en sy skoene los te maak nie. 8Ek het julle wel met water gedoop, maar Hy sal julle met die Heilige Gees doop.”

Jesus word gedoop
(Matt 3:13–17; Luk 3:21–22; Joh 1:29–34)
9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ’n duif na Hom toe sien neerdaal. 11Daar was ook ’n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

Jesus word versoek
(Matt 4:1–11; Luk 4:1–13)
12Net daarna het die Gees Hom weggevat die woestyn in, 13waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is. Jesus was daar saam met die wilde diere, en die engele het Hom versorg.

Jesus begin preek
(Matt 4:12–17; Luk 4:14–15)
14Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. 15Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

Jesus roep sy eerste dissipels
(Matt 4:18–22; Luk 5:1–11)
16Eendag toe Jesus langs die See van Galilea loop, het Hy vir Simon en Simon se broer Andreas gesien waar hulle besig was om werpnette in die see uit te gooi. Hulle was vissers van beroep. 17Hy het toe vir hulle gesê: “Kom hier! Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”

18Onmiddellik het hulle die nette gelos en Hom gevolg.

19Toe Hy ’n entjie verder gaan, het Hy vir Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die skuit besig was om hulle nette reg te maak, 20en dadelik het Hy hulle geroep. Hulle het hulle pa, Sebedeus, net so saam met die loonarbeiders in die skuit gelaat en saam met Jesus gegaan.

Die besetene in Kapernaum
(Luk 4:31–37)
21Hulle het in Kapernaum gekom. Toe die sabbatdag aanbreek, het Jesus reguit na die sinagoge toe gegaan en die mense daar begin leer. 22Hulle was verstom oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.

23Op daardie oomblik was daar in hulle sinagoge ’n man wat van ’n onrein gees besete was. Hy het uitgeskreeu: 24“Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”

25Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.”

26Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom uitgegaan. 27Almal was so verbaas dat hulle onder mekaar geredeneer en gesê het: “Wat gaan hier aan? Dit is ’n nuwe leer, en dit kom met gesag! Hy gebied selfs die onrein geeste, en hulle gehoorsaam hom.”

28En dit was nie lank nie of daar is in Galilea oral in die hele omgewing oor Hom gepraat.

Die genesing van Petrus se skoonmoeder
(Matt 8:14–15; Luk 4:38–39)
29Toe die mense uit die sinagoge kom, het hulle saam met Jakobus en Johannes reguit na die huis van Simon en Andreas toe gegaan. 30Die skoonmoeder van Simon het daar met ’n hoë koors siek gelê, en hulle het Hom dadelik van haar vertel. 31Hy het na haar toe gegaan, haar hand gevat en haar regop gehelp. Toe het die koors haar verlaat, en sy het hulle bedien.

Nog genesings en voortgaande prediking
(Matt 8:16–17; 4:23; Luk 4:40–44)
32Toe dit aand geword het en die son al onder was, het die mense al die siekes en dié wat in die mag van bose geeste was, na Hom toe gebring. 33Die hele dorp het by die deur van die huis saamgedrom. 34Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe. Hy het die bose geeste nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle geweet het wie Hy is.

35Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ’n eensame plek en daar gebid. 36Simon en dié wat by hom was, het Hom egter gesoek, 37en toe hulle Hom kry, sê hulle vir Hom: “Almal soek U.”

38Maar Hy antwoord hulle: “Laat ons êrens anders heen gaan, na die nabygeleë dorpies toe, sodat Ek daar ook kan preek, want daarvoor het Ek gekom.”

39Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en bose geeste uitgedrywe.

Die genesing van die melaatse man
(Matt 8:1–4; Luk 5:12–16)
40Daar kom toe ’n melaatse man na Hom toe wat smekend op sy knieë voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.”

41Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!”

42Sy melaatsheid het onmiddellik verdwyn en hy het gesond geword. 43Jesus het hom dadelik weggestuur, nadat Hy hom ernstig aangespreek 44en vir hom gesê het: “Moet vir niemand iets hiervan vertel nie, maar gaan wys jou vir die priester en bring die offers vir jou reiniging wat Moses voorgeskrywe het. Dit sal vir die mense die bewys wees dat jy rein geword het.”

45Hy het egter gegaan en dit wyd en syd begin verkondig en dit oral geloop en vertel. Daarom kon Jesus nie meer openlik in ’n dorp kom nie en het Hy gewoonlik buite in die oop veld gebly. Tog het die mense van alle kante af na Hom toe gekom.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1

Aanvangswoord: (Uit Jesaja 40)

Seëngroet: (Uit 1 Korintiërs 1)

Lied 191 “Grote God ons bring U eer (mel 190) vs1,2,3

Wet
In een van die ander Leesroostertekste (Psalm 147) staan daar:
Die sonde van ongehoorsaamheid/ eie kop volg/ Hom nie dien nie kom veral na vore in die lewe van Saul as koning oor Israel

Saul se ongehoorsaamheid: (1 Samuel 15)

God se toorn oor sy ongehoorsaamheid: (1 Samuel 15)

Geleentheid vir stilgebed
Kom ons toets ons eie lewens in hoe ‘n mate ons gehoorsaam leef/ nie staatmaak op eie oordeel/  hoe ons die Here dien

Die beginsel van gehoorsaamheid: (1 Samuel 15)

Die beginsel uit een van die ander Leesroostertekste: (Psalm 147)

Skuldbelydenis

ALGEMENE BELYDENIS: (Uit die Book of Common Prayer)

Toewyding: Lied 273 “Laat my met U verenig lewe 1,2,3,4”

Geloofsbelydenis: ahv Johannes Evangelie

Epiklese

Skriflesing: Markus 1:29-39

Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 499 “Die Heer is God en niemand meer vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Aanvangswoord 
Die Here is die ewige God,
Skepper van die hele aarde.
Hy word nie moeg nie,
Hy raak nie afgemat nie
en sy insig is ondeurgrondelik.
29Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
Dié wat op die Here vertrou,
kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle loop en raak nie afgemat nie.
(Uit Jesaja 40)

Seëngroet 
2Aan die gemeente van God in …………………………………., wat Hy vir Hom in Christus Jesus afgesonder en geroep het om aan Hom te behoort, en verder aan almal, waar hulle ook al mag wees, wat die Naam aanroep van Jesus Christus, hulle Here en ons Here.
3Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(Uit 1 Korintiërs 1)

Lied 191 “Grote God ons bring U eer (mel 190) vs1,2,3”

Wet
In een van die ander Leesroostertekste (Psalm 147) staan daar:
10Die Here het niks
aan die krag van ’n perd
of die liggaamskrag van ’n soldaat nie,
11maar Hy stel prys
op dié wat Hom dien,
dié wat hulle hoop vestig op sy trou.
Die sonde van ongehoorsaamheid/ eie kop volg/ Hom nie dien nie kom veral na vore in die lewe van Saul as koning oor Israel

Saul se ongehoorsaamheid
7Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot waar ’n mens kom by Sur teenoor Egipte. 8Hy het koning Agag van Amalek lewend gevang, maar die hele volk om die lewe gebring. 9Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was. Saul-hulle wou dit alles nie om die lewe bring nie. Al die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant gemaak. (1 Samuel 15)

God se toorn oor sy ongehoorsaamheid
10Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: 11“Ek is bedroef daaroor dat ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.”
Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek.

12Die oggend het Samuel hom vroeg klaargemaak om Saul te ontmoet. Iemand het vir Samuel vertel: “Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself ’n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe.”

13Samuel het toe by Saul gekom en Saul het vir hom gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.”

14Samuel vra toe: “Wat vir ’n geblêr van kleinvee is daar dan in my ore? en wat van die gebulk van beeste wat ek hoor?”

15“Hulle het dit van die Amalekiete af gebring,” antwoord Saul. “Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak.”

16En Samuel sê vir Saul: “Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vannag vir my gesê het.”
Saul sê toe vir hom: “Praat maar.”

17Toe sê Samuel: “Al is jy klein in jou eie oë, is jy tog die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf tot koning oor Israel. 18Die Here het jou met ’n doel uitgestuur en Hy het jou beveel: ‘Trek op, bring die sondaars, die Amalekiete, om die lewe. Jy moet teen hulle veg totdat jy hulle uitgeroei het.’19Waarom het jy nie na die bevel van die Here geluister nie? En waarom het jy jou aan die buit vergryp en hierdie ding gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?” (1 Samuel 15)

Geleentheid vir stilgebed
Kom ons toets ons eie lewens in hoe ‘n mate ons gehoorsaam leef/ nie staatmaak op eie oordeel/  hoe ons die Here dien

Die beginsel van gehoorsaamheid
22Maar Samuel antwoord:
“Is brandoffers en ander diereoffers
net so aanneemlik vir die Here
as gehoorsaamheid aan sy bevel?
Nee, gehoorsaamheid is beter
as offerande,
om te luister is beter
as die vet van ramme.
23Weerspannigheid is net so erg
as die sonde van waarsêery;
eiesinnigheid net so erg
as die bedrog van afgodery.
Omdat jy die woord van die Here
verwerp het,
het Hy jou as koning verwerp.”
(1 Samuel 15)

Die beginsel uit een van die ander Leesroostertekste
10Die Here het niks
aan die krag van ’n perd
of die liggaamskrag van ’n soldaat nie,
11maar Hy stel prys
op dié wat Hom dien,
dié wat hulle hoop vestig op sy trou.
(Psalm 147)

Skuldbelydenis
ALGEMENE BELYDENIS (Uit die Book of Common Prayer)
Almagtige en genadige Vader,
ons het van u weë afgedwaal soos verlore skape.
Ons het te veel ons eie kop gevolg;
ons het nagelaat om dinge te doen wat ons moes doen,
en ons het die dinge gedoen wat ons nie moes doen nie;
daar is niks goeds in ons nie.
O Heer, betoon tog aan ons ellendige sondaars genade;
o God, verlos díe wat hulle sonde bely,
vernuwe díe wat berou toon
volgens U beloftes aan die mensdom deur Jesus Christus ons Here;
en gee, o genadige Vader, dat ons om Sy onthalwe
van nou af ‘n goddelike, regverdige en rein lewe sal lei,
tot eer van U Heilige Naam.
Amen

Toewyding: Lied 273 “Laat my met U verenig lewe 1,2,3,4”

Geloofsbelydenis: ahv Johannes Evangelie
Voorganger (V): Ek glo in Jesus Christus, die Woord wat mens geword het.
Gemeente (G): Ons het sy heerlikheid gesien, vol genade en waarheid.

V: Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.
G: Hy is die Seun van God.

V: Hy is die brood wat lewe gee.
G: Wie na Hom toe kom, sal nooit weer honger ly nie; en wie in Hom glo, sal nooit weer dors kry nie.

V: Hy is die lig vir die wêreld.
G: Wie Hom volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.

V: Hy is die goeie Herder.
G: Hy lê sy lewe af vir sy volgelinge (skape).

Hy ken sy volgelinge (skape) en hulle ken Hom.
V: Hy is die opstanding en die lewe.

G: Wie in Hom glo, sal lewe, al sterwe Hy ook.
V: Hy is die weg, die waarheid en die lewe.

G: Niemand kom na die Vader toe behalwe deur Hom nie.
V: Hy is die ware wingerdstok.

G: As ons in Hom bly en Hy in ons, sal ons baie vrugte dra, want sonder Hom kan ons niks doen nie.
(Uit die Evangelie van Johannes)
(Uit Bybelmedia se Vir die erediens- ‘n Handleiding, 2007)

Liedere

F1. “Die Hemel Juig”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof / Verwondering)
Oorspronklike titel: All heaven declares
Teks en Musiek: Noel & Tricia Richards
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht & Jacques Louw
© 1987,1997  Thankyou Music

1. Die hemel juig, getuig van al u grootheid, Heer.
Die skepping buig in aanbidding voor U neer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

2. Ons wil verklaar:
U is die opgestane Heer;
U is die Lam
wat vir ewig sal regeer.

Refrein:
Ja, tot in ewigheid, sal ons u lof besing.
Aan U, daar op die troon, ons hulde altyd bring.

F183. “My Hulp Is Van U, Heer “
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toetrede / Gebed / Geloof en vertroue)
Oorspronklik: Mijn Hulp Is Van U, Heer
Teks: Marcel Zimmer
Musiek: Marcel en Lydia Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2006  Faani Engelbrecht
©  2004  Celmar Music

Ek hef my oë op na die berge
Waar kom my hulp vandaan?
Ek hef my oë op na U, Heer,
wat by my sal staan

My hulp is van U, Heer
U’t alles goed gemaak
U sal nie toe laat dat ek struikel of val
U is my beskermer wat oor my waak
en wat nooit aan die slaap sal raak

Wat kan my dan seermaak die son of die maan?
U is my skadu, U is hier by my,
Bewaar heel my lewe my kom en my gaan.
U beskerm my tot in ewigheid
My hulp is van U, Heer

(2de keer)
U beskerm my tot in ewigheid
My hulp is van U, Heer

(Eindig met)
My hulp is van U, Heer
O, van U

God praat met ons en ons luister

Epiklese

Skriflesing: Markus 1:29-39

Prediking

Familie-oomblik

Ons maak gebruik van die suggesties van Carolyn Brown.

Daar is eintlik 3 afsonderlike stories ingevleg in die perikoop van 11 verse. Om te verseker die kinders hoor elkeen van die stories, maak gebruik van verskillende voorlesers wat die storie dramaties oorvertel. Die ideaal is om ‘n ouer dame te gebruik vir die eerste storie.
Markus 1:29-31 Jesus genees Petrus se skoonmoeder
Markus 1:32-34 Die hele dorp bring siekes na Jesus
Markus 1:35-39 Jesus gaan weg om te bid, dring daarop aan om na nabygeleë dorpies te reis
Carolyn maak ook iets van die oorvloedige gebruik van hande-gebare in die perikoop. U kan meer hieroor lees by bogenoemde skakel.

Preekriglyn

Die tema, “‘n Dag in die lewe van….”, is nogal gewild in verskillende vorme van kuns. Mense beeld graag ‘n dag in die lewe van een of ander karakter of groep uit.

Van die wêreld se beste literatuur speel op een dag af. James Joyce se Ulysses, Alexander Solzhenitsyn se One Day in the Life of Ivan Denisovich, en Mrs Dalloway van Virginia Woolf is voorbeelde hiervan. Wat rolprente betref, dink mens aan die bekende The Breakfast Club, wat op ‘n Saterdag tydens detensie in ‘n Amerikaanse skool afspeel, Clerks, wat in ‘n winkel plaasvind, en Dazed and Confused wat op die laaste skooldag uitspeel.

Dan is A Day in the Life natuurlik ‘n baie bekende liedjie van The Beatles, geskryf deur John Lennon en Paul McCartney. Dit is die laaste snit op die groep se 1967-album, Sgt Pepper’s Lonely Hearts Club Band. Dié liedjie, wat aanvanklik deur die BBC verbied is, word deur Rolling Stone Magazine as die beste Beatle-produk ooit beskou.

‘n Dag in die lewe van Jesus

Ons teks is deel van ‘n merkwaardige beskrywing van ‘n dag in die lewe van Jesus.

Verlede Sondag het ons stilgestaan by Jesus se optrede in die sinagoge in Kapernaum waar hy ‘n onrein gees uit ‘n man verdryf, en die mense geleer het. Ons teks is die onmiddellike vervolg op hierdie gebeure. Trouens, dis net ‘n paar minute na die vorige gebeure. Die kerk (sinagoge) het pas uitgekom (29), toe Jesus en ander reguit na die huis van Simon en Andreas gaan. Petrus se skoonmoeder het daar met ‘n hoë koors siek gelê. Jesus vat haar hand, help haar regop, en genees haar.

Die boodskap oor die genesing in die sinagoge, en dié van Petrus se skoonmoeder versprei vinnig. Teen die aand daag mense met ‘n menigte siekes en persone in die mag van die bose op. Hulle drom voor die deur van die huis saam, en Jesus maak baie siekes gesond en dryf baie bose geeste uit. Die geeste laat Hy nie toe om te praat en te sê wie Hy is nie.

Teen die volgende oggend, toe dit nog nag was, gaan Jesus op ‘n eensame plek bid. Sy dissipels kom Hom soek, en sê die mense soek Hom. Jesus keer egter nie terug nie. Hy en sy dissipels gaan besoek van die nabygeleë dorpies, sodat Hy ook daar kon preek. Só het Jesus dwarsdeur die provinsie Galilea gepreek en baie bose geeste uitgedryf.

Hoofmomente van Jesus se dag

In Markus se beskrywing van hierdie dag in Jesus se lewe, kry ons die hoofmomente van Jesus se bediening:

  • Hy beoefen sy prominente geloofsgewoonte om gereeld te gaan bid.
  • Jesus genees siekes
  • Hy dryf duiwels uit
  • Jesus verkondig die goeie nuus van die evangelie en leer mense hoe God wil hê hulle moet lewe.
Gebed

Vroeër in Markus 1 word Jesus gedoop. By hierdie geleentheid daal die Gees oor Hom om Hom te bemagtig, en hoor Hy die Vader se stem: “Jy is my geliefde Seun.” Hierdie identiteit en roeping, Seun van God, stempel Jesus se hele bediening.

Jesus se gereelde en gedissiplineerde gebedslewe vloei voort uit sy identiteit en roeping. Hy is die Seun van God en soek voortdurend sy Vader in gebed op. Hy het gebid vir krag en bevestiging van sy roeping as God se geliefde Seun (Mark 1:11). Vanuit die gebedsgemeenskap met die Vader kon Hy versoeking afwys en getrou aan sy roeping bly – selfs deur die donker dieptes van Getsemane toe Hy byna oorweldig is deur die verskriklike dood wat Hy sou sterf. Ook hier was gebed die krag wat Hom gehelp het om in pas met die Vader te bly.

Gebed word duidelik in die Evangelies as ‘n geloofsdissipline by Jesus uitgewys. Hy het nie alleen bloot insidenteel, van tyd tot tyd, of in momente van verknorsing, gebid nie. Jesus het ‘n gedissiplineerde gebedslewe gehad. Dit word in ons teks uitgebeeld wanneer vertel word Jesus het die more vroeg, toe dit nog nag was, na ‘n eensame plek gegaan om daar te bid. Hy het ruimte en tyd benut om te verseker Hy kon volledig op sy Vader fokus.

Gebed bring fokus

Dit is merkwaardig om op te let hoe Jesus se kontak met sy Vader fokus en rigting in sy lewe bring. Vers 36 vertel hoe Petrus en van die ander Jesus gaan soek terwyl Hy besig was om te bid. Toe hulle Hom kry, sê hulle almal is besig om na Jesus te soek.

Die vorige aand was Jesus oorval met mense wat siek en in die mag van bose geeste was. Nou was die nag skaars verby, en almal soek alweer na Hom.

Min van ons sal die belangstelling van die skares kan weerstaan. Ons sou teruggegaan en die skare gaan bedien het. Mens sou so goed voel, onmisbaar en in aanvraag. Die skare sou ons verlei om al ons ander take op te skort, en voort te gaan om relevant en behulpsaam te wees. Die suigkrag van ‘n waarderende skare sou vir ons te veel wees.

Jesus kry dit reg om op sy roeping te bly fokus. Hy is nie net vir Kapernaum daar nie. Hy moet ook na die ander dorpe gaan om die mense daar te leer, “want daarvoor het Ek gekom” (38).

Dit is vanuit Jesus se gebedskontak met die Vader dat sy identiteit en roeping die oorheersende krag in sy lewe bly. Dissipels moet dit altyd in gedagte hou. Wie is ons? Waarvoor is ons geroep? Dit verhoed dat ander en hulle behoeftes – hoe verdienstelik dit ook al mag wees – ons nie van ons lewensdoel wegtrek nie. Ons is geroep om geliefde seuns en dogters van ons Here te wees, en ons lewens deur God se roeping vir ons lewe te laat rig – nie deur ander se verwagtings nie.

Jesus genees siekes

‘n Dag in die lewe van Jesus word ook deur die genesing van siekes gekenmerk. Ons lees hoedat Jesus die man met die onrein gees in die sinagoge genees het. Daarna gaan hy saam met sy dissipels na die huis van Petrus se skoonmoeder toe. Daar genees Hy haar. Daarna maak Hy baie siekes gesond en dryf baie bose geeste uit.

Die genesing wat Jesus bring is tekenend van die regering van God wat ‘n werklikheid word. God bring genesing vir God se gebroke mense. Die koms van die koninkryk kom as genesing van gebrokenheid, en as die vrymaking van diegene wat in die greep van boosheid en gebrokenheid is.

In die plaaslike buurt

Dit is opvallend om te sien hoe die ruimtes waar die genesing plaasvind vir ons uitgespel word. Jesus bring die genesing tot in die plaaslike sinagoge, tot in die huis van Petrus se skoonmoeder, tot in die straat voor die huis.

As Hy klaar is in Kapernaum, sê ons teks, gaan Hy ook na die omliggende dorpies toe.

Die heil van God se regering vat mense nie weg uit hulle wêreld nie. Jesus kom tot in die gewone, alledaagse lewe, ruimtes en roetines van mense in. Daar waar ons worstel om elke dag te oorleef, in die plaaslike stofstrate van ons lokale lewe, daar waar die harde feite van die daaglikse bestaan soms dreig om ons te oorweldig, daar kom staan die Messias en bring verlossing en uitkoms.

In God se ekonomie is dit tipies hoe die verlossing werk. Jesus word mens, Hy kom op ons aarde aan. Hy betree ons lewe, ons publieke en private ruimtes, kom raak ons aan, en bring vir ons genesing.

Hy onderrig sy dissipels met woord en daad om dieselfde te doen. Dit is ons roeping as kerk: om mense in publieke en meer private ruimtes te ontmoet, en die herstel van God deur die liefde van Christus na hulle uit te dra.

Jesus verlos mense van die bose

In die liberale Westerse tradisie is dit vir ons moeilik om met boosheid rekening te hou, veral boosheid as ‘n vernietigende eksterne mag wat lewens en omgewings takel, breek en vernietig. Vir ons is boosheid dikwels ‘n geïnternaliseerde geneigdheid om die slegte te doen – hoewel ons eintlik inherent goed is. Westerlinge se naïwiteit oor die werklikheid van boosheid is welbekend.

Die Bybel ken en beskryf die volle geweld van boosheid en gebrokenheid wat op die wêreld se vernietiging ingestel is. Die Bybel is nie naïef oor die werklikheid en afgryslikheid van boosheid nie. Net soos wat mens vandag by die aanskoue van soveel boosheid (twee wêreldoorloë in die laaste honderd jaar, ISIS, Nazisme, Boko Haram, Al Kaïda) ook weet: die bose is ‘n werklikheid.

Die wonder is dat Jesus, die Seun van God, God se regering herstel deur die mag van die bose te verbreek. Ons kan leef in die wete dat die bose aan die kruis oorwin is, en dat boosheid gebind is. Hoe erg onreg en boosheid tier, is die brullende duiwelse magte reeds vasgebind, en word ons eenmaal met Jesus se tweede koms volledig daarvan verlos. Die bose word dan totaal vernietig.

Dit is die wonderlike evangelie dat ons Koning ons lewe in sy hande hou en die laaste woord oor ons lewe spreek.

Doen Jesus dit alles nog?

Die Nuwe Testament is duidelik daaroor dat Jesus deur sy Woord en Gees steeds aktief op aarde teenwoordig is, ook na sy verhoging tot aan die regterhand van die Vader.

Wie oë het om te sien, en ore om te hoor, sal Jesus steeds raaksien as die Een wat genesing en bevryding, herstel en onderrig aan mense bring. Craig Keener se boek, Miracles, The Credibility of the New Testament Accounts, gee goeie navorsing oor die aanwesigheid van God se genesende teenwoordigheid in die wêreld. Die koninkryk van God is inderdaad in ons midde, die koninkryk het naby gekom (Markus 1:15).

Vir ons gemeente beteken dit dat Jesus se geestelike dissipline van gebed, sy wonderwerke en bevryding, en sy lering nie ‘n groot visie is wat ons moet navolg of probeer herskep nie. Dit is eerder ‘n aanwesige werklikheid waarby ons moet leer om aan te sluit. Waar is Jesus nou teenwoordig, deur wie bring Hy genesing en herstel, en waar roep Hy ons om aan te sluit by wat Hy doen?

Jesus is inderdaad steeds in die buurt. Hy leer en onderrig mense, Hy maak gesond, Hy skep vir mense ‘n nuwe toekoms. Hy doen dit ook in ons gemeente. Hy doen dit ook deur ander mense. Hoe meer ons maniere skep waarop ons na hierdie verhale luister, hoe meer sal ons agterkom waartoe Jesus ons nooi en by watter kreatiewe aksies en bewegings ons bewustelik kan aansluit.

Die Weg van Jesus

Die eerste Christene het bekendgestaan as mense van die “Weg”. Dit is mense wat op ‘n spesifieke manier geleef het wat pas by dissipels van Jesus. Uit ons teks word ons aandag op ‘n kragtige manier gefokus op die “Weg” van Jesus:

  • Dissipline van gereelde gebed, gemeenskap met God
  • Fokus op sy roeping
  • ‘n Teenwoordigheid in die gewone, alledaagse lewe van mense, op die uitkyk waar Hy heil en seën vir hulle kan bring.

Hoe kan ons Hom in ons omgewing hierin navolg?

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 499 “Die Heer is God en niemand meer vs 1,2,3”

Seën
Die Here is die ewige God,
29Hy gee die vermoeides krag,
Hy versterk dié wat nie meer kan nie.
Dié wat op die Here vertrou,
kry nuwe krag.
Hulle vlieg met arendsvlerke,
hulle hardloop en word nie moeg nie,
hulle loop en raak nie afgemat nie.
Gaan vlieg met arendsvlerke
Gaan hardloop sonder om moeg of afgemat te word
Amen (Uit Jesaja 40)
of
2 Korinthiërs 13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.