Vyfde Sondag ná Epifanie

Sections

Oorsig

Ware godsdiens is om Jesus te ken en wel Hom as die gekruisigde. Hy is die enigste wat regverdig is en die voorbeeld stel van wat dit beteken om sout en lig te wees. Die gelowige se lig kan ook helder skyn as wetsvervulling beteken om die naaste in nood raak te sien en te dien.

Ander tekste

Jesaja 58:1-9a (9b-12)
Wys my volk op hulle oortredinge
58 Die Here sê:
Roep uit volle bors,
moet niks verswyg nie!
Laat jou stem hoor,
duidelik soos ’n ramshoring!
Wys my volk op hulle oortredinge,
die afstammelinge van Jakob
op hulle sondes.
2Hulle vra wel elke dag na my wil,
asof hulle graag wil weet
wat Ek van hulle verwag.
Hulle gee voor dat hulle ’n nasie is
wat doen wat reg is
en hom aan die bepalings
van sy God hou.
Hulle vra My wel
om regverdige beslissings
asof hulle van my teenwoordigheid hou.
3Hulle vra:
“Waarom vas ons, maar U sien dit nie,
verootmoedig ons ons, maar U gee nie aandag daaraan nie?”
Dit is omdat julle op die vasdae doen
wat julle wil
en die mense wat vir julle werk,
nog harder laat werk.
4Julle vasdae loop uit op twis en rusie,
julle dam mekaar met die vuis by.
Julle kan nie op hierdie manier vas
en dan verwag dat julle gebed
verhoor sal word in die hemel nie.
5Is dit ál wat Ek op ’n vasdag wil hê:
net dat ’n mens homself verneder,
dat hy sy nek buig soos ’n biesie
en in sak en as sit?
Noem jy dít ’n vasdag,
’n dag waarvan die Here hou?
6Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie:
om dié wat onregverdig
gevange gehou word, te bevry,
om die juk wat op mense druk, af te haal,
om verdruktes vry te maak,
om elke juk te breek?
7Is dit nie dat jy vir dié wat honger is,
van jou brood gee nie,
dat jy aan die armes en die dakloses
’n blyplek gee nie,
dat wanneer jy iemand sonder klere sien,
jy vir hom klere gee nie,
dat jy jou medemens
nie aan sy lot oorlaat nie?
8Dan sal die lig vir jou deurbreek
soos die rooidag,
jy sal gou herstel.
Hy wat jou red,
sal voor jou uit gaan,
die mag van die Here
sal agter jou aankom.
9Dan sal jy roep,
en die Here sal antwoord,
jy sal om hulp roep,
en Hy sal sê: Hier is Ek!
As jy sorg dat mense nie meer by jou
verdruk word nie,
nie meer gedreig
en vals beskuldig word nie,
10as jy jou wy aan dié wat honger het,
as jy voorsien in die behoeftes
van dié wat in nood is,
sal die lig vir jou skyn
wanneer dit donker is,
sal wat vir jou nag is,
word soos die helder middag.
11Die Here sal jou altyd deur lei;
selfs in dor streke
sal Hy in jou behoeftes voorsien.
Hy sal jou sterk maak.
Jy sal wees soos ’n tuin met volop water,
soos ’n fontein waarvan die water
nie opdroog nie.
12Jou mense sal die ou puinhope herbou,
die fondamente herstel
wat al geslagte lank bestaan.
Jy sal bekend staan as ’n volk
wat sy afgebreekte mure herbou,
wat sy strate herstel
sodat daar weer mense kan woon.

Psalm 112:1-9 (10)
Die regverdige sal nooit wankel nie
112 Prys die Here!
Dit gaan goed met elkeen
wat die Here dien,
wat al sy vreugde vind
in die gebooie van die Here.
2Sy nageslag is ’n sterk krag in die land,
die geslag van die opregte word geseën:
3daar is oorvloed en rykdom in sy huis.
Wat hy doen, is reg en blywend:
4hy laat sy lig in die donker uitstraal
vir die opregtes,
hy is genadig, barmhartig en regverdig.
5Dit is ’n goeie mens wat hom ontferm
en wat uitleen
en in al sy sake reg optree.
6Die regverdige sal nooit wankel nie,
hy sal altyd onthou word.
7Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie,
hy is gerus, hy vertrou op die Here.
8Hy voel hom veilig,
hy is nie bevrees nie:
hy sal die neerlaag van sy vyande
aanskou.
9Hy gee mildelik vir die armes.
Wat hy doen, is reg en blywend.
Hy geniet hoë aansien.
10Die goddelose sien dit
en raak ontsteld,
hy kners op sy tande van magteloosheid.
Van die begeertes van die goddelose
kom daar niks.

Matteus 5:13-20
Die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld

(Mark 9:50; Luk 14:34–35)
13“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.

14“Julle is die lig vir die wêreld. ’n Stad wat op ’n berg lê, kan nie weggesteek word nie; 15ook steek ’n mens nie ’n lamp op en sit dit onder ’n emmer nie maar op ’n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. 16Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Die vervulling van die wet
17“Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. 18Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.

19“Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die hemel. Maar wie die wet gehoorsaam en ander so leer, sal hoog geag word in die koninkryk van die hemel. 20Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie.”

Fokusteks

1 Korintiërs 2:1-12
Paulus se prediking
2 Wat my betref, broers, toe ek na julle toe gekom het om die geheimnisvolle waarheid van God aan julle te verkondig, het ek nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. 2Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde. 3Bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe gekom. 4Die boodskap wat ek verkondig, het julle oortuig, nie deur geleerdheid en welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees. 5Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God.

Die openbaring deur die Gees van God
6Tog is wat ons verkondig wysheid, maar net vir dié wat daarvoor ryp is, en dan ‘n wysheid wat nie van hierdie wêreld is of van die heersers van hierdie wêreld nie. Hulle is buitendien aan die ondergaan. 7Wat ons verkondig, is die wysheid van God, die verborge waarheid wat bedek was en wat God van ewigheid af vir ons voorbestem het tot ons ewige heerlikheid. 8Nie een van die heersers van hierdie wêreld het hierdie wysheid geken nie. As hulle dit geken het, sou hulle nie die Here van die heerlikheid gekruisig het nie. 9Maar soos daar geskrywe staan:

“Wat die oog nie gesien
en die oor nie gehoor het nie,”
en wat in die hart van ‘n mens
nie opgekom het nie,
dit het God gereed gemaak
vir dié wat Hom liefhet.

10Aan ons dan het God dit deur die Gees bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse van God. 11Watter mens ken die verborge dinge van ‘n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is? So ook ken niemand die verborge dinge van God nie, behalwe die Gees van God. 12Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het.

13Dit verkondig ons ook, nie met geleerde woorde wat die menslike wysheid ons leer nie, maar met woorde wat die Gees ons leer.

So verklaar ons geestelike dinge aan mense wat die Gees het. 14Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. 15Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie. 16Daar staan geskrywe:
“Wie ken die gedagtes
van die Here?
Wie sal hom raad gee?”
Maar ons, ons het die Gees van Christus.

Ekstra stof

Ons lees in Handelinge 18:1-18 van Paulus se bediening in die gemeente van Korinte. Dit was in die jare 51-52 nC.

Uit sy eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus daar aangekom het: “bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering” (1 Kor 2:3). Hy verwys hier waarskynlik na die impak wat die voorafgaande gebeure in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene op hom gehad het. In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi (Hand 16:11-40); in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode (17:1-9), sowel as direk daarna in Berea waarheen dieselfde Jode hom agtervolg het en ook daar uitgedryf het (17:10-15); en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ‘n flou respons uitgelok (17:16-34).

Hoewel daar in die eerste drie stede groeiende gemeentes gestig is, is dit onseker of daar op hierdie stadium ‘n lewensvatbare gemeente in Atene ontstaan het. Net Dionisus, ‘n lid van die Areopagus, ‘n vrou Damaris en ‘n paar ander het daar gelowig geword. Dit is ook hier waar Timoteus weer by Paulus aangesluit het, nadat hy in Filippi agtergebly het om na die gelowiges daar om te sien, hoewel Paulus hom direk weer teruggestuur het na Tessalonika en die ander gemeentes in Masedonië. Na Timoteus se besoek aan hierdie gemeentes, het hy weer in Korinte by Paulus-hulle aangesluit, vanwaar Paulus se briewe aan die Tessalonisense geskryf is.

Dat Paulus hom ook hier in Korinte voorgeneem het om nie “met hoë woorde of groot geleerdheid” (1 Kor 2:3) met hulle te praat nie, verwys waarskynlik ook terug na sy toespraak op die Areopagus in Atene, die stad. Hy wou egter ook fokus op die kern van die boodskap van Jesus Christus, spesifiek die kruis (2:2), en dit in die krag van die Heilige Gees doen (2:4), ‘n teologiese perspektief wat broodnodig was in die lig van die afwykende idees van sommige van die gemeentelede wat mettertyd kop uitgesteek het. Dieselfde geld sy lering oor die opstanding in hfs 15, maar daaroor eers later.

Die mense van Korinte het hom goed behandel en sy boodskap is met goeie gevolg ontvang. Hy kon ‘n hele jaar en ‘n half hier bly en sake het regtig baie goed verloop. Lukas wyt hierdie goeie ontvangs aan die werk van die Here wat een nag in ‘n gesig vir Paulus bemoedig het om nie stil te bly nie, maar die evangelie te verkondig (Hand 18:9). In woorde wat herinner aan God se woorde aan Elia (1 Kon 19:18), verseker die Here Paulus dat daar baie mense in hierdie stad aan Hom behoort (Hand 18:10).

Paulus het by Akwila en Priscilla, wat tentmakers was net soos hyself – en boonop vermoënd, wil dit voorkom, want hulle het ook ‘n huis in Efese (1 Kor 16:19) gehad – gaan bly. Met die groeiende verset van die ongelowige Jode in die sinagoge (die gebou is steeds daar), het Paulus die Joodse gemeenskap verlaat en in die huis van Titius Justus, ironies genoeg net langs die sinagoge, sy bediening voortgesit. En in nog ‘n stukkie ironie kom die hoof van die sinagoge, Krispus, en sy hele huisgesin tot bekering en sluit by die groeiende Christelike gemeenskap aan.

Met die wisseling van goewerneurs het die Jode probeer om Paulus voor die nuwe goewerneur Gallio aan te kla, maar dié wou niks daarvan weet nie, en het hulle uit sy hof gejaag. Uit woede het die Jode die hoof van die sinagoge, Sostenes, aangerand, maar kon nie in hulle doel slaag om Paulus-hulle in diskrediet by die stadsbestuur te bring nie. As dit dieselfde Sostenes is as wat in 1 Korintiërs 1:1 genoem word, het hy tot bekering gekom en deel van die bediening geword aan sy tuisstad.

Dit is op sy derde sendingreis, nadat Paulus die gemeentes in Galasië en Frigië besoek het, dat hy weer in Efese aangekom het en meer as 2 jaar daar kon bly. Terwyl hy daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou het (Hand 19:1-20), het hy waarskynlik sy briewe aan die Korintiërs geskrywe (1 Korintiërs was sy tweede brief aan hulle – vgl 1 Kor 5:9 wat na die eerste brief verwys). Dit is ook moontlik dat hy Korinte hierna weer besoek het (Hand 19:21-20:6), voordat hy in Masedonië 2 Korintiërs geskrywe het, wat waarskynlik eintlik 2 briewe was, sy 4de en 5de brief (hfs 1-9 en hfs 10-13), en sy tranebrief, sy 3de brief, opgevolg het (2 Kor 2:4).

Die brief van 1 Korintiërs
Paulus skryf hierdie brief tydens sy verblyf in Efese (1 Kor 16:8) op sy derde sendingreis, waarskynlik ongeveer 54 nC.

In die brief raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig.

Dat dit nodig was, spruit onder andere uit voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge. Julius Caesar het in 44 vC die stad weer opgebou, nadat dit vir meer as ‘n eeu dormant gelê het (Rome het dit in 146 vC verwoes). Die strategiese posisie van die stad, op die 5 km breë landengte tussen Ooste en Weste, het beteken dat dit gou in ‘n groot handelstad ontwikkel het, met ‘n groot kosmopolitaanse samestelling van mense reg oor die Romeinse ryk.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete – godin van die liefde – godsdiens was, met die groot altaar op die Akrokorinte berg. Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prostitute in tempeldiens was. Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het. Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Sport was ook ‘n geliefde tydverdryf met die tweejaarlikse Istmiese spele wat as teenvoeter vir die Olimpiese Spele in Olympia gehou is. Paulus sinspeel heel moontlik op hierdie spele in 1 Kor 9:24-27.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is. En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor 5:9-11).

Paulus kan dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie. Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief. Let bv. op na die taal van konfrontasie (4:18-21), appèl (10:31 vv), sarkasme (6:5) en ironie (1:26-27) wat hy gebruik. En 2 Korintiërs wys dat dit eers slegter met hulle verhouding gegaan het, voor dit uiteindelik herstel is!

Dit is ook duidelik dat sommige van hierdie lewenswandel sake deur die huisgesin van Chloë (1:11) aan Paulus gerapporteer is, moontlik met die besoek van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus (16:17). Dit is sake soos: verdeelheid en wysheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11) en prostitusie (6:12-20), waarskynlik ook die vraag na die hoofbedekking van vroue, wat saamhang met die vraag na die algemene rol van vroue in die gemeente (11:2-16) en die nagmaalviering (11:17-34).

Maar daar is ‘n hele klomp ander sake wat Paulus verder aan in sy brief aanraak, wat heel waarskynlik in antwoord is op ‘n vroeëre brief van die Korintiërs aan hom (7:1). Telkens lei hy dié sake in met die frase: “En nou …” en dan hanteer hy die sake waaroor hulle vrae gehad het. Dit gaan oor sake soos seks en die huwelik (7:1), ongetroudes (maagde – 7:25), offers aan afgode (8:1), geestelike gawes en die erediens (12:1), offergawes (16:1) en oor Apollos (16:12).

Die enigste saak wat nie oor die Christelike lewenswandel gaan nie, is die lering wat Paulus oor die opstandingsliggaam gee in hoofstuk 15, hoewel dit ook duidelik iets is waaroor die Korintiërs afwykende idees gehad het, en Paulus hulle daaroor wou onderrig.

Die teologiese perspektief op die opstanding verteenwoordig waarskynlik ook ‘n korrektief nie net op hulle idees oor die geestelike gawes en wat dit beteken om geestelik te wees nie, maar ook op hulle idees oor die Christelike lewenswandel. ‘n Mens se gedrag hier en nou word immers onder andere bepaal deur hoe jy dink oor die toekoms. As jy nie in die opstanding glo nie, kan jy eintlik hier mos maak wat jy wil. Dit maak dan nie saak, volgens sommige Korintiër gelowiges, of jy asketies lewe (hfst 7) of immoreel (hfst 5) nie, solank jy net geestelik is, en bv. in tale praat (hfst 14).

In tandem met sy aanvanklike beklemtoning van die kruisteologie (1:17-2:16) begrond hierdie twee teologiese perspektiewe – die kruis en die opstanding – die Christelike lewenswandel, en spel dit die raamwerk uit waarbinne hulle dissipelskap uitgelewe moet word. Dit is ook die basis van die eenheid wat hy bepleit onder almal wat deel is van die gemeenskap van Christus.

Hoofstuk 16 sluit die brief af met ‘n paar praktiese sake.

1 Korintiërs 2 – God oortuig deur getuienisse
Daar is altyd die gevaar dat ‘n mens sal dink dat geleerdheid en welsprekendheid mense sal oortuig eerder as die kragtige werking van die Gees wat deur die boodskap van Jesus Christus self werk. Paulus herinner ons daaraan dat ‘n oortuiging gegrond op menslike redenasies aards bly en ontoereikend is. ‘n Oortuiging wat van God af kom, kom per definisie nie van menslike wysheid af nie, maar word aan jou geopenbaar.

Daarom het Paulus – en onthou sy ervaring op die Areopagus in Atene, waar hy argumentatief gewerk het en min sukses gehad het (Hand 17:16 vv), hoewel daar geleerdes is wat hiervan verskil – hom hier voorgeneem om by die inhoud van die boodskap van Jesus Christus te bly, en die Here te vertrou vir die uitwerking daarvan op die mense wat na hom luister.

Dit herinner my net weer daaraan dat ‘n mens versigtig moet wees wanneer jy met ongelowiges in gesprek tree oor die Here, en nie te veel tyd moet spandeer aan argumente vir die geloof nie, maar veel eerder aan getuienisse oor geloof en oor God (die vertaling in vers: “geheimnisvolle waarheid” word letterlik as “getuienis” in die oorspronklike aangegee!), want daarin lê die krag van ‘n openbaring van God se Gees. Argumente vir die geloof het immers meer betekenis vir gelowiges as vir ongelowiges.

Dat Paulus hier op Jesus as die gekruisigde fokus het te make met van die probleme wat hy met die gemeente ervaar, spesifiek dat hulle nie hul eie voorkeure in terme van leiers kruisig en die eenheid in Christus belangriker ag as hulle eie “wysheid” nie. Tog kan hy nie anders as om later voluit te praat oor die opstanding en ook die wederkoms nie (hfs 15), omdat dit die kruis in perspektief plaas en die sentrum van ons hoop vorm.

Dit is interessant dat sy bewussyn van sy swakheid, nie net terugverwys na sy ervaringe in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene nie, maar die opening laat vir God om Sy krag te demonstreer. Dit is juis hier waar hy die gesig gekry het van God wat hom aanmoedig om aan te hou met die bediening (Hand 18:9). En in 2 Korintiërs sal Paulus uiteindelik skrywe oor swakhede, sowel die swakhede waarvoor die Satan verantwoordelik is (ie doring in die vlees), as swakhede wat inherent aan jouself of jou omstandighede is: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12:9). Daarom sê Paulus: “sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.” (12:10).

“Heersers van hierdie wêreld” dui waarskynlik hier die politieke leiers van sy tyd aan (dieselfde woord word gebruik as in Rom 13:3, waar dit onteenseglik op aardse leiers dui), hoewel die gedagte van die gevalle engele wat ‘n rol speel in wêreldsake ook op die agtergrond is, waaroor Paulus meer uitgebreid sal skrywe in sy brief aan die Efesiërs (hfs 6).

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Psalm 112

Votum: Psalm 112
Prys die Here!
Dit gaan goed met elkeen
wat die Here dien,
wat al sy vreugde vind
in die gebooie van die Here.
2Sy nageslag is ’n sterk krag in die land,
die geslag van die opregte word geseën:
3daar is oorvloed en rykdom in sy huis.
Wat hy doen, is reg en blywend:
4hy laat sy lig in die donker uitstraal
vir die opregtes,
hy is genadig, barmhartig en regverdig.
5Dit is ’n goeie mens wat hom ontferm
en wat uitleen
en in al sy sake reg optree.
6Die regverdige sal nooit wankel nie,
hy sal altyd onthou word.
7Vir slegte tyding is hy nie bevrees nie,
hy is gerus, hy vertrou op die Here.
8Hy voel hom veilig,
hy is nie bevrees nie:
hy sal die neerlaag van sy vyande
aanskou.
9Hy gee mildelik vir die armes.
Wat hy doen, is reg en blywend.
Hy geniet hoë aansien.
10Die goddelose sien dit
en raak ontsteld,
hy kners op sy tande van magteloosheid.
Van die begeertes van die goddelose
kom daar niks.

Seëngroet
Terwyl ’n gemeentelid die Christuskers aansteek:
Voorganger: God wat uitreik na almal, Christus, Lig vir die wêreld, en die Heilige Gees wat God se lig deur ons skyn, groet ons!
[Uit Bybelmedia se “Woord en Fees”]

Lofsang
Lied 351 “Kom, verwonder julle, mense” of
F63 Hoe Goed Is Die Heer (Hosanna Aan Die Koning)

Wet: Jesaja 58:5-10
5Is dit ál wat Ek op ’n vasdag wil hê:
net dat ’n mens homself verneder,
dat hy sy nek buig soos ’n biesie
en in sak en as sit?
Noem jy dít ’n vasdag,
’n dag waarvan die Here hou?
6Is die vas wat Ek wil hê, nie dít nie:
om dié wat onregverdig
gevange gehou word, te bevry,
om die juk wat op mense druk, af te haal,
om verdruktes vry te maak,
om elke juk te breek?
7Is dit nie dat jy vir dié wat honger is,
van jou brood gee nie,
dat jy aan die armes en die dakloses
’n blyplek gee nie,
dat wanneer jy iemand sonder klere sien,
jy vir hom klere gee nie,
dat jy jou medemens
nie aan sy lot oorlaat nie?
8Dan sal die lig vir jou deurbreek
soos die rooidag,
jy sal gou herstel.
Hy wat jou red,
sal voor jou uit gaan,
die mag van die Here
sal agter jou aankom.
9Dan sal jy roep,
en die Here sal antwoord,
jy sal om hulp roep,
en Hy sal sê: Hier is Ek!
As jy sorg dat mense nie meer by jou
verdruk word nie,
nie meer gedreig
en vals beskuldig word nie,
10as jy jou wy aan dié wat honger het,
as jy voorsien in die behoeftes
van dié wat in nood is,
sal die lig vir jou skyn
wanneer dit donker is,
sal wat vir jou nag is,
word soos die helder middag.

Verootmoediging
Lied 354 “O Christus, ons verlange” of
F9 Ons Redding Kom Van Ons God  [bekend]

Genadeverkondiging
Aan almal wat in ware berou na Jesus Christus kom vir verlossing, verklaar ek vrygespreek in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Mag ons sorg dat mense nie meer by ons verdruk word nie. Mag ons ons wy aan dié wat honger het. Mag ons jy voorsien in die behoeftes van dié wat in nood is.

Geloofsbelydenis

Liedere

F63. “Hoe Goed Is Die Heer (Hosanna Aan Die Koning)”
(RUBRIEK: FLAM Kruisfuur – Lof) Teks en musiek: Chardi Visser © 2009 MAR Gospel Music (Opgeneem op Uitverkoop)

Hoe goed is die Heer.
Hoe goed is u wysheid en krag.
Hoe goed is u guns en genade oor my elke dag.
Ek sal U loof, ek sal U eer.

Refrein:
Hosanna in die hoogste hemele.
Hosanna aan die Koning.
Hosanna ook hier oop die aarde.
Hosanna sal ons sing.

F9. “Ons Redding Kom Van Ons God”
(RUBRIEK: Flam – Lof / Verwondering) Oorspronklike titel: Salvation belongs to our God Teks en musiek: Adrian Howard en Pat Turner
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani en Hanneke Engelbrecht © 1985 Restoration Music, Ltd.

1. Ons redding kom van ons God
wat heers vanaf Sy hemeltroon.
Hy is die Lam.
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

Refrein:
Hy is die Heer vir ewig en ewig,
En Hy regeer vir ewig en ewig.
Hy is ons Heer vir ewig en ewig.
Amen.

2. En ons, die verlostes, getuig,
deur Woord en Gees lei Hy ons.
En ons roep dit uit:
Wysheid, heerlikheid, sterkte en mag,
lof, dank en eer net aan Hom.

VONKK 73 “Soos Die Vader U Gestuur Het (Uitsendingslied)*”
Nav Johannes 20:12 en Matteus 5:14 Teks: Jacques Louw 2006 © Melodie: KARIEN – Karien Pretorius 2006 ©, gewysig en ritmies aangepas VONKK Werkgroep 2009 © 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK: Kontemporêr – Uitsending

Keervers:
Soos die Vader U gestuur het,
stuur U ons ook na die wêreld.

1. Maak ons Heer, getuies van u Naam
wat u Woord aan ander sal uitdra.

Keervers:
Soos die Vader U gestuur het,
stuur U ons ook na die wêreld.

2. Laat ons, Heer, u liefde sigbaar maak
deur te dien soos U ons geleer het.

Keervers:
Soos die Vader U gestuur het,
stuur U ons ook na die wêreld.

3. Gee vir ons ‘n hart vol deernis, Heer,
vir die nood en hartseer van ander.

Keervers:
Soos die Vader U gestuur het,
stuur U ons ook na die wêreld.

4. Laat ons, Heer, soos helder ligte skyn,
soos ‘n stad wat bo-op ‘n berg lê.
Amen. Amen. Amen.**

* Die lied hoef nie noodwendig in geheel by Uitsending gesing te word nie.
** Die Amen-gedeelte kan ook as ‘n afsonderlike respons gesing word.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: 1 Korintiërs 2:1-12

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Carolyn Brown sê dat die Korintiërs “wys” wou wees volgens die wêreld se standaarde. Ons – ook kinders – wil graag “wys” of “slim” lyk vir die mense rondom ons. Paulus sê ons moet vergeet daarvan. Ons word eerder herinner dat wat “wys” lyk vir die wêreld, nie is wat “wys” lyk vir God nie. Voorbeelde van “wyse” keuses wat kinders daagliks moet maak, is om te kies om van jou geld vir armes te skenk;, om by die kind wat pouse alleen is, te sit; om eerder jou sussie op te pas as om te speel, ens.

’n Lekker storie is die van The Tawny Scrawny Lion, deur Kathryn Jackson. Dit vertel van ’n skynbaar dwase haas wat ’n honger leeu hanteer op ’n manier wat op die ou end baie wys is. Nie alleen word die haas nie geëet nie, maar kry ook ’n nuwe vriend. Jy kan elektroniese weergawes kry by iTunes of amazon. Daar is ook video’s op YouTube (wys net ’n gedeelte).

Preekriglyn

Op facebook lees mens dikwels hoe mense vir Jesus wil opstaan en Jesus se eer wil red. Baie van hierdie mense bewonder radikale godsdienstigheid omdat “daardie mense” ten minste toegewyd genoeg is om hulle godsdiens met tande, naels en gewere te verdedig.

Met Kersfees verlede jaar was baie Amerikaners opgewonde omdat Donald Trump beplan het om in die Kerstyd op te staan vir Jesus.

Jaco Strydom vertel op Netwerk24.com:
Die afgelope tyd loop ek oral kerkmense raak wat sê die rede vir hul opgewondenheid oor Donald Trump is die video wat op sosiale media die ronde doen waarin hy sê daar sal dié Kersfees weer Kersmusiek in winkels gespeel word. (Sodat mense Jesus kan loof terwyl hulle geld uitgee?)

Hy staan op vir die Christendom, sê hulle. In die video sê hy daar gaan weer baniere voor winkels wees wat lees “Merry Christmas”, en voeg dan by “dit gaan polities inkorrek wees om dit nié te doen nie”.

Ek vermoed dat die winkels hierdie jaar ’n rekordwins gaan maak uit Amerikaanse Christene. Whoopy!

Hoe dít egter die goeie nuus van Jesus is, weet ek nie.

Dit klink soms of mense wat wil opstaan vir Jesus meen Jesus het soldate en gewere nodig. Ons moet darem ‘n slag weer ‘n handgranaat vir Jesus gooi – figuurlik bedoel, natuurlik.

Mens kan opstaan vir Jesus op ‘n manier wat glad nie pas by Jesus nie. Wat toon jy verstaan baie min wie Jesus is, en veral wie Jesus vir mense wil wees. Waar Jesus gedien het, wil mense beveel; waar Jesus teen geweld gekies het en Hom nie verset het nie, wil mense platskiet en oorwin; waar Jesus sag en liefdevol was, wil mense ander rond marsjeer.

Dit was ook so in Paulus en die Korintiërs se tyd.

Grafika: Donald Trump, die eiendom van Gage Skidmore met kopiereg gereël deur Creative Commons wat plasing en redigering toelaat. Dit is hier beskikbaar.

Sprekers in die antieke wêreldIn die antieke wêreld was ‘n spreker se eerste besoek aan ‘n stad van kritiese belang om ‘n goeie reputasie te kweek. Orators het met mekaar kompeteer vir applous. Kompeterende vertonings en toesprake was aan die orde van die dag.

Kom ons leer ‘n nuwe woord: Die antieke Griekse wêreld was bekend vir sy Sofisme. Die Sofiste was ‘n kategorie leermeesters wat uitgeblink het in die gebruik van indrukwekkende retoriese tegnieke en verskillende filosofieë om mense te leer. Hulle wou luisterraars aanspoor om uit te blink in die lewe en deugdelik te wees. Veral jong staatsmanne en adellikes het opgedaag vir hulle toesprake en lesings.

In ons teks kies Paulus vir ‘n ander benadering. Anders as die Sofiste het hy homself nie as die beste voorgestel en geprojekteer nie. Hy het nie gekompeteer soos die orators van sy tyd nie.

Paulus se benadering eggo Sagaria 4:6: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”

Op hierdie manier beklemtoon Paulus se “angs en huiwering” (vers 3) die hoeksteen van sy boodskap, naamlik God se kragtige en oortuigende teenwoordigheid.

Kom ons volg Paulus en stap deur die teks.

Paulus se nederigheid pas by sy boodskap

Uit eie persoonlike ervaring (“wat my betref”) sê Paulus in vers 1, weet hy die evangelie is nie menslike wysheid nie. Hy sluit hiermee by 1 Kor. 1:17 aan waar hy gesê het: “Christus het my … gestuur … om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor.”

Paulus het nie in menslike krag gekom nie, inteendeel sy voorkoms en ingesteldheid by sy aankoms was meer soos dié van ‘n swakke en ‘n dwaas. Paulus was nie indrukwekkend nie. Sy optrede het gelyk soos dié van ‘n man wat ‘n Messias verkondig wat aan ‘n kruis tereggestel is. Net soos min soos Jesus aan ‘n kruis aantreklik voorgekom het, net so min was Paulus.

Paulus sit nie aan nie. Volgens 2 Kor. 10:10 het baie Korintiërs Paulus as onindrukwekkend beleef en het sy woorde vir hulle maar min beteken. Elders praat hy van sy “toestand” of “siekte” wat vir mense aanleiding kon gee om hom te verag of selfs te verfoei (Gal 4:14).

Verder het sy verkondiging van die evangelie dikwels onder uiters moeilike omstandighede plaasgevind. Daar was baie struikelblokke, en eintlik moes hy liewer maar stilgebly het, was dit nie dat God hom gedwing het nie: “Ek verkondig die evangelie omdat ek móét!” (1 Kor. 9:16).

Paulus het nie met hoë woorde of groot geleerdheid gekom nie. Dit gaan nie oor hom nie, dit gaan oor God. Hy het gekom om te getuig van die “geheimnisvolle waarheid van God.” Die Griekse woord is letterlik die “getuienis” van God, wat in die Nuwe Testament dui op iets wat God openbaar het.

Die Gekruisigde

Dit is wat hy in vers 2 beklemtoon: hy wou oor niks anders praat as Jesus, die Christus, die gestuurde van God, en spesifiek oor Jesus as die gekruisigde nie. Merkwaardig vul hy die boodskap oor Jesus met die inhoud van die kruis. Vir die sukses- en magsgedrewe Grieks-Romeinse wêreld was ‘n gekruisigde ‘n misdadiger, en nie juis goeie materiaal vir ‘n suksesvolle spreker nie.

Ons ontdek later in Korintiërs hoe Paulus leer dat alles regkom wanneer mens fokus op die kruis van Jesus. Selfs verskeurdheid in die gemeente en probleme met leierskap kom reg vanuit die kruis. Die kruis is nie net ‘n teken van vergifnis en redding nie. Nee, Jesus se selfontlediging en diens aan die kruis lê vir Paulus die grondpatroon vir die hele Christelike lewe neer.

Waar die kruis vir mense ‘n teken van swakheid is, is dit ook die manier waarop Paulus volgens vers 3 na die Korintiërs gekom het: bewus van sy swakheid, en met groot angs en huiwering. Dit is onseker presies wat “swakheid” beteken. Dit kon ‘n fisieke siekte wees, maar dit kon ook wees:

  • sy nederige werk (tente maak),
  • sy armoede,
  • sy blootstelling aan vervolging. of
  • sy swak vermoë om boeiend te praat, wees.

Die punt is: hierdie styl pas by die kruis. Dit is juis wanneer die swakheid van God, die selfprysgawe van Jesus, eweseer in swakheid verkondig word, dat die krag van die boodskap tot sy reg kom. Die swak Paulus deel in die lyding en dood van Christus, sodat daar ware lewe vir die Korintiërs kan kom en eer aan God gebring kan word. Paulus se nederigheid het inderdaad by sy boodskap gepas.

Swak voordrag pas by die boodskap

In vers 4 sê Paulus in soveel woorde beide sy prediking én sy boodskap was maar oninspirerend. Dit was nie geleerd of welsprekend nie. Dit was swak.

Eintlik is Paulus in goeie geselskap:

  • Moses was ook nie ‘n goeie spreker nie (Eks. 4:10);
  • Jesaja se lippe was onrein (Jes. 6:5);
  • Jeremia het nie geweet hoe om te praat nie, want hy was nog jonk (Jer. 1:6).

God kies egter dikwels om deur swakheid te werk. Die krag van God kom tot openbaring deur menslike swakheid.

Die Sofiste en orators van sy tyd wou mense oortuig en leer deur argumente en indrukwekkende spraaktegnieke. Paulus steek maar lelik af. Hy wou nie ‘n redenaar wees nie. Sy doel was om die krag van God aan die werk in mense se lewens te sien. Onder die verkondiging van die evangelie is die kragtige werk van die Heilige Gees in mense se lewens gesien.

Die kragtige werk van die Heilige Gees is hier nie tekens en wonders nie. Deur swak prediking, op grond van die Gees se werk, is die Korintiërs oortuig dat Jesus die Here is, die Gestuurde van God. Deur die Gees het hulle hul tot Jesus bekeer, Hom begin dien en volg. Geen mens kan dit bewerk nie – net God.

Paulus se doel

In vers 5 blyk Paulus se doel is dat die Korintiërs in die krag van God moet vertrou, en nie op menslike wysheid nie. Daarom is Paulus nie geïnteresseerd in die Sofiste se oortuigende manier van praat nie. Eerder as om deur menslike slimmigheid oortuig te word, is die Korintiërs se geloof begrond in God.

Vir Paulus is ‘n mens wie se geloof rus op die krag van God ‘n mens wat glo die kruis is God se weg van verlossing. Jy tot hierdie oortuiging gekom op grond van die Heilige Gees se werk in jou lewe.

Die kruis is tog wysheid

Nadat Paulus valse wysheid wat op menslike oortuigings rus uitgelig het, sê hy in verse 6 tot 9 dat wat hy verkondig, tog ook “wysheid” (6) is. “Wysheid” dui hier op vol, volledig, volkome, onberispelik en sonder gebrek. Paulus se prediking is nie sonder wysheid nie, maar dan ‘n besonderse wysheid wat “nie van die wêreld is of van die heersers van hierdie wêreld nie.” Omdat hulle wysheid nodig het om te regeer en gesag uit te oefen, verstaan hulle nie die wysheid van die evangelie of die kruis van selfverloëning, liefde en selfs sterwensbereidheid nie.

Die “wysheid” in vers 7 verwys na die spesifieke openbaring in Christus. Dit is ‘n geheimenis in die sin dat God dit wel bekend gaan maak, maar ook verborge hou vir die wêreldheersers. Die inhoud hiervan is die heilsplan van God soos dit deur Jesus Christus tot uitvoering gebring is.

Hierdie wysheid is van ewigheid af. God het dit vir ons “ewige heerlikheid” bestem. In vers 8 word Jesus die “Here van die heerlikheid” genoem. Dit is ‘n geloofsbelydenis van die vroeë kerk. Dit is die benaming van God in die Ou Testament en nou oorgedra op Jesus Christus. Dit word ‘n belydenis dat Jesus self ook God is. Dat die heerseres van dié wêreld nie hierdie wysheid gehad het nie, is duidelik uit die feit dat hulle Hom gekruisig het.

Paulus haal in vers 9 uit die Ou Testament aan (Jes. 64 en 65) om te toon dat geen mens die openbaringe van God kan verstaan sonder dat God self dit moontlik maak nie:

Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie
en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie,
dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.

Geen mens kon die kruis as weg tot redding self uitdink nie. Dit is nie ‘n filosofie wat mense self skep om hulself te red nie. Dit is ‘n geheimenis van God wat in Christus en deur die Gees aan ons openbaar is. God het dit vir ons gereed gemaak.

Openbaar deur die Gees

In die vorige verse het Paulus verklaar dat die heersers van die wêreld die wysheid van God nie ken omdat dit gaan om verborgenheid wat nie deur menslike kenmiddele kenbaar is nie, maar wel deur gelowiges geken kan word. In verse 10 tot 16 verklaar hy hoe dit gebeur. God openbaar dit deur sy Gees.

Paulus gebruik “gees” in drie onderskeie betekenisse:

  • Dit is die Gees van God,
  • die geheiligde gees van die gelowiges, en
  • die geestelike orgaan of kapasiteit van elke mens.

By die heersers van die wêreld (6-9) is alleen die laaste gestalte van “gees” aanwesig. By die gelowiges is al drie gestaltes aanwesig: as mens besit hy “gees” wat hom van die dier onderskei; as gelowige is sy gees geheilig sodat hy nou ‘n “geestelike mens” (15) geword het in teenstelling met die “natuurlike mens” (14); die Gees van God woon in hom. Hierdie Gees bring hom tot die kennis van die verborgenheid van God (7) en tot ‘n begrip van die wysheid van God (6).

Sonder die Heilige Gees van God bly die mens onkundig oor God. Ons is gelukkig nie in daardie posisie nie juis omdat ons wel nie die gees van die wêreld ontvang het nie, maar die Gees wat van God kom.

Vir die mens wat die Gees van God nie het nie, klink en lyk die evangelie wat Paulus verkondig en dié wat die Gees van God ontvang het na onsin. Die mens wat egter die Gees van God ontvang het, naamlik die gelowige, ken die ware werklikheid. Dié wat nie die Gees van God ontvang het nie, begryp selfs ook nie die gelowiges nie.

Landskap van die Drie-Eenheid

Kom ons pas hierdie gedeelte op onsself toe.

Ons word in die eerste plek bewus van die merkwaardige manier waarop ‘n lewe van gemeenskap tussen gelowiges en Vader, Seun en Heilige Gees hier uitgebou word. Deur die hele gedeelte is Paulus aanmekaar besig om te verduidelik dat geloof slegs bestaan in verhouding tot Vader, Seun en Heilige Gees.

Dat ons in Christus glo, die verlossing smaak, deur die geloof lewe, is uit en uit ‘n inisiatief van God. Dit is God wat verlossing moontlik maak, wat die dwaasheid van ‘n sterwende Christus aan die kruis die begin van nuwe lewe maak, en ons verlig deur sy Gees.

Geloof is dus veel meer as maar net dat mens met sekere leringe saamstem. Geloof is om ingetrek te word in gemeenskap met die lewende God.

Geloof is net moontlik, omdat God dit gee.

Nie menslike wysheid nie

Verlossing is nie deur ons uitgedink nie. Ons kan ons eie geestelike posisie nie uit eie vindingrykheid, deur introspeksie, of deur inspanning verbeter nie. Mens kom nie by die waarheid van God in Jesus uit deur navorsing te doen, atome te split, of oor land en see te reis nie.

Ons het openbaring nodig om verlos te word. Wat ons nie weet nie, moet aan ons meegedeel word. God doen dit. God bring verlossing en kommunikeer dit. Dit gebeur deur mense wat die Woord van God verkondig, wie se woorde bevestig word deur die krag van die Heilige Gees. Hierin speel die Bybel ‘n belangrike rol, want in die Bybel het ons die betroubare getuienis oor God en God se werk tot ons heil.

Die Heilige Gees maak hierdie woorde lewend in ons harte, en oortuig ons van die waarheid van God in Jesus Christus. So word ons ingetrek in die fontein van lewe en liefde, die Drie-enige God.

Los ‘n bietjie al die argumente

Daar is altyd die gevaar dat ‘n mens sal dink dat geleerdheid en welsprekendheid mense sal oortuig eerder as die kragtige werking van die Gees wat deur die boodskap van Jesus Christus self werk. Paulus herinner ons daaraan dat ‘n oortuiging gegrond op menslike redenasies aards bly en ontoereikend is. ‘n Oortuiging wat van God af kom, kom per definisie nie van menslike wysheid af nie, maar word aan jou geopenbaar.

Dalk het Paulus self ‘n les geleer. Net voordat hy na Korinte gekom het, het hy op die Areopagus in Atene die Griekse filosowe argumentatief probeer oortuig van die waarheid (Hand. 17:16vv). Dit lyk nie of dit goed gewerk het nie. Moontlik was dié ervaring die rede waarom hy hom voorgeneem het om by die Korintiërs by die inhoud van die boodskap van Jesus Christus te bly, en die Here te vertrou vir die uitwerking daarvan op die mense wat na hom luister.

Ons moet meer aandag aan getuienisse oor geloof en oor God (“geheimnisvolle waarheid” in vers 1 beteken letterlik “getuienis”) gee, want daarin lê die krag van ‘n openbaring van God se Gees.

Ons swakhede blokkeer God nie

Die belangrikste les is dat ons swakhede God nie blokkeer nie. Nie Moses, Jesaja, Jeremia of Paulus se swakhede kon God se werk keer nie. Ons s’n ook nie. God slaan ‘n reguit hou met ‘n krom stok.

In 2 Korintiërs sal Paulus uiteindelik skrywe oor swakhede, sowel die swakhede waarvoor die Satan verantwoordelik is (die doring in die vlees), as swakhede wat inherent aan jouself of jou omstandighede is. Die troos is: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12:9).

Daarom, sê Paulus, “sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.” (12:10).

Ons het aan die begin gewonder waarom mense so graag wil opstaan vir Jesus. Waarom wil mense selfs gewelddadig, al is dit met woorde, vir Jesus verdedig. Dis ‘n vreeslike misverstand. Die punt is ons hoef nie vir Jesus op te staan nie. Want Jesus staan altyd op vir ons en ons swakhede. Wanneer ons getuig van die Lam van God, aan die kruis ter slagting gelei, werk die Gees kragtig. So word die evangelie versprei.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 280 “Here, Redder, groot en magtig”

Seën
Julle is die sout vir die aarde . . .
Julle is die lig vir die wêreld.

Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (uit Matt 5:13-14, 16).

Respons
VONKK 73 “Soos Die Vader U Gestuur Het” (Uitsendingslied) [nav Matt 5:14]

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.