Vyfde Sondag in Paastyd

Sections

Oorsig

Filippus doop die ontmande Etiopiër, want Jesus is almal se Verlosser (Hand 8). Die Here hoor ons geroep om hulp (Ps 22). God doen net wat goed is vir jou omdat Hy jou volmaak liefhet (1 Joh. 4). Die Here is soos ‘n wingerdstomp waaruit ons as lote spruit – Hy voorsien wat ons nodig het om geestelik te groei en gehoorsaam te wees (Joh. 15).

Ander tekste 

Psalm 22:25-31
24Julle wat die Here dien,
prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!
Betoon Hom eerbied,
nageslag van Israel!
25Die nood van die hulpelose
het Hy nie verontagsaam
en gering geskat nie,
Hom daarvan nie teruggetrek nie,
maar die hulpgeroep na Hom
het Hy gehoor.
26My loflied in die volle vergadering
kom van Hom af,
my geloftes sal ek nakom
voor die mense wat Hom dien.
27By dié offermaaltyd sal die armes
genoeg hê om te eet,
en sal dié
wat na die wil van die Here vra,
Hom prys.
Mag hulle lank en gelukkig lewe.
28Mense oor die hele wêreld
sal die Here erken
en hulle tot Hom bekeer.
Alle volke sal Hom as koning erken,
29want die koningskap behoort
aan die Here;
Hy heers oor die volke.
30Al die rykes van die wêreld sal ook
aan dié maaltyd deelneem
en Hom as koning erken,
ja, alle mense,
sterflik en verganklik,
sal voor Hom kniel.
31Die nageslag sal Hom dien,
en hulle sal van die Here vertel
aan die volgende geslag.
32Dié sal dan aan die volk
wat nog gebore moet word
van hierdie verlossingsdaad getuig:
die Here het dit gedoen.

1 Johannes 4:7-21
7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Johannes 15:1-8
“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ’n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Sleutelteks

Handelinge 8:26-40
Filippus en die hofdienaar van Ethiopië
26 ‘n Engel van die Here het vir Filippus gesê: “Maak gereed en gaan na die suide, met die pad wat van Jerusalem afwaarts loop na Gasa. Dit is ‘n verlate pad.”
27 Hy het toe gereedgemaak en vertrek. En kyk, daar was ‘n man van Ethiopië, ‘n eunug, ‘n hoë amptenaar van die kandake, die koningin van die Ethiopiërs, wat in beheer van haar hele skatkis was en na Jerusalem gegaan het om te aanbid.
28 Hy was op pad terug, en het op sy wa die profeet Jesaja gesit en lees.

29 Toe sê die Gees vir Filippus: “Gaan nader en bly by daardie wa.”
30 Filippus het nader gehardloop, hom die profeet Jesaja hoor lees, en gevra: “Verstaan u wat u lees?”
31 Hy het geantwoord, “Hoe sou ek kon, as niemand dit vir my verduidelik nie?” en Filippus genooi om op die wa te klim en by hom te kom sit.

32 Die Skrifgedeelte wat hy besig was om te lees, was:
“Soos ‘n skaap is Hy ter slagting gelei,
en soos ‘n lam wat stom is
voor sy skeerder,
so maak Hy sy mond nie oop nie.
33 In sy vernedering is regspraak
Hom ontneem,
en wie sal sy nageslag kan opnoem?
Want sy lewe word van die aarde weggeneem.” 34 Die eunug sê toe vir Filippus: “Ek vra jou, van wie sê die profeet dit – van homself of van iemand anders?”

35 Filippus het begin praat, en vanuit hierdie Skrifgedeelte die evangelie van Jesus aan hom verkondig.
36 Langs die pad kom hulle by ‘n plek waar daar water is. Die eunug sê toe: “Kyk, water! Wat verhoed dat ek gedoop word?” 38 Hy het opdrag gegee dat die wa moet stilhou; en hulle het albei afgeklim tot in die water, Filippus sowel as die eunug, en hy het hom gedoop.
39 Toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus weggeneem; en die eunug het hom nie meer gesien nie, maar hy het sy reis met blydskap voortgesit.
40  Filippus, egter, is in Asdod gevind. En soos wat hy rondgereis het, het hy die evangelie in al die stede verkondig, totdat hy in Caesarea aangekom het. (2020-vertaling).

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 164 of Flam 184 of VONKK 110 [bekend]

Votum: Psalm 22:25-31 (of kies enkele verse, afhangende van die fokus van die diens)

Seëngroet: Gewone Trinitariese seëngroet

Lofsang: Lied 547 of Flam 421 of Flam 383

Doopherinnering: 1 Johannes 4:7-12

Toewyding: Lied 334 of Flam 144 of VONKK 41

HOOR

Gebed Lied 273

Skriflesing: Handelinge 8:26-40

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 523

Seën

Respons: Lied 533 of 534

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede

Lied 164 “Ons is almal hier tesaam” of

Flam 184 Ons Is Almal Hier Tesaam of

VONKK 110 Saam Wil Ons Die Here (kanon) [bekend]

Votum

Psalm 22:25-31 (of kies enkele verse, afhangende van die fokus van die diens)

24Julle wat die Here dien,

prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!

Betoon Hom eerbied,

nageslag van Israel!

25Die nood van die hulpelose

het Hy nie verontagsaam

en gering geskat nie,

Hom daarvan nie teruggetrek nie,

maar die hulpgeroep na Hom

het Hy gehoor.

26My loflied in die volle vergadering

kom van Hom af,

my geloftes sal ek nakom

voor die mense wat Hom dien.

27By dié offermaaltyd sal die armes

genoeg hê om te eet,

en sal dié

wat na die wil van die Here vra,

Hom prys.

Mag hulle lank en gelukkig lewe.

28Mense oor die hele wêreld

sal die Here erken

en hulle tot Hom bekeer.

Alle volke sal Hom as koning erken,

29want die koningskap behoort

aan die Here;

Hy heers oor die volke.

30Al die rykes van die wêreld sal ook

aan dié maaltyd deelneem

en Hom as koning erken,

ja, alle mense,

sterflik en verganklik,

sal voor Hom kniel.

31Die nageslag sal Hom dien,

en hulle sal van die Here vertel

aan die volgende geslag.

32Dié sal dan aan die volk

wat nog gebore moet word

van hierdie verlossingsdaad getuig:

die Here het dit gedoen.

Seëngroet

Gewone Trinitariese seëngroet

Lofsang

Lied 547 “Alle volke, klap julle hande” of

Flam 421 Almal Saam, Loof Die Here (Loof Die Here)http://flam.kerkmusiek.co.za/product/f421-in-gm/   of

Flam 383 Al Julle Volke, Klap Julle Hande (Psalm 47)http://flam.kerkmusiek.co.za/product/f383-in-c/

Doopherinnering

[by doopvont] Met jou doop het God jou aangeneem as sy kind. Luister hoe leef kinders van God:

Lees 1 Johannes 4:7-12

7Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ’n kind van God en ken God. 8Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde. 9Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. 10Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

11Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê. 12Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

13Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee. 14En ons het gesien en is getuie daarvan dat die Vader die Seun as Redder van die wêreld gestuur het. 15Wie bely dat Jesus die Seun van God is—God bly in hom en hy in God. 16En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom. 17Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. 18Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. 19Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie. 21En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Toewyding

Lied 334 “God is liefde!” juig ons harte of

Flam 144 God Is Liefde of

VONKK 41 God Is Liefde! Laat Ons Lofsing

Liedere

F184. “Ons Is Almal Hier Tesaam”

(RUBRIEK: Flam – Toetrede) Oorspronklik: We Have Come Into His House  Teks en musiek: Bruce T Ballinger

Afrikaanse teks: Attie van der Colf; Verwerking en alternatiewe teks: F Esterhuizen en Retief Burger, 2004

Kopiereg: © 1976 Universal Music

 

Ons is almal hier tesaam,

vergader in sy Naam,

verheerlik Hom.

Tot die dood was Hy getrou

en daardeur is ons nou sy eiendom.

Laat ons maak soos Hy ons sê,

mekaar steeds lief te hê

en Hom bo alles eer.

Loof Hom, Christus die Heer. (x2)

 

Halleluja! Ek kan nie sonder U nie.

Halleluja! Ek sal nie stilbly nie!

Halleluja! Daar is geen ander Naam nie

as Jesus Christus, die Heer,

as Jesus Christus, die Heer.

 

F421. “Almal Saam, Loof Die Here (Loof Die Here)”

(RUBRIEK: Flammikidz – Lof) Teks en musiek: Iné Stander © Brettian Productions

 

Refrein:

Almal saam, loof die Here,

almal saam, loof sy Naam.

Almal saam, loof die Here,

almal saam, loof sy Naam.

 

Alle volke, alle nasies,

loof die Here, prys Nkosi.

Alle volke, alle nasies,

loof die Here, prys Nkosi.

 

Oe, hoe-hoe…

 

Refrein:

 

Alle volke, alle nasies,

loof die Here, prys Nkosi.

Alle volke, alle nasies,

loof die Here, prys Nkosi.

 

As ek kyk na als wat Hy so mooi gemaak het:

aan sy liefde is daar geen einde nie.

As ek dink aan al die sonde wat Hy weggevat het:

aan sy liefde is daar geen einde nie.

 

Alle volke, alle nasies,

loof die Here, prys Nkosi.

Alle volke, alle nasies,

loof die Here, prys Nkosi.

 

Refrein:

 

F383. “Al Julle Volke, Klap Julle Hande (Psalm 47)”

(RUBRIEK: Flam – Lof) Teks: TT Cloete  © NG Kerk Uitgewers (Psalm 47) Musiek:  Louis Brittz © Urial (Ps 47)

 

Al julle volke, klap julle hande;

juig tot eer van God met ’n jubel stem,

want aan die Here, die Allerhoogste, kom eerbied toe;

Hy is Koning oor die aarde:

 

Pre-refrein:

Prys God, prys Hom met psalms, prys ons Koning,

prys Hom met psalms!

 

Refrein:

Hy is Koning oor die hele aarde;

sing vir Hom, vir Hom ’n lied.

Hy is Koning oor al die nasies, prys Hom op sy heil’ge troon

bo almal verhewe.

 

F144. “God Is Liefde”

(RUBRIEK: Flam – Kersfees / Epifanie, lof) Musiek: Retief Burger Teks: Attie van der Colf © NG Kerk Uitgewers  © 2005 Urial Publishing

(1 Joh 4:7-21, Rom 5:1-11, Joh 3:16)

 

God is liefde,

juig ons harte en bedink wat Liefde doen.

Dat Hy ons sy Seun gestuur het

om ons sonde te versoen.

 

Hy wat eerste liefgehad het,

het in Liefde ons vergeef,

nou kan ons uit God gebore

uit die bron van liefde leef,

uit die bron van liefde leef,

uit die bron van liefde leef.

 

VONKK 110 “Saam Wil Ons Die Here (kanon)”

Teks: AP van der Colf 1984 (met toestemming NG Kerk-Uitgewers) Melodie: TSJEGGIË – Tsjeggiese volksmelodie

Ostinati: Colin Campbell 2010 (Pro Deo) © Teks en ostinati: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit

RUBRIEK: Tradisioneel – Lofprysing

 

(1)  Saam wil ons die Here prys vir al sy liefde.

Almal loof sy grote Naam!

 

(2)  Hy is goed vir elk van ons;

dank Hom uit een mond tesaam.

 

(3)  Een in Jesus, onse Heer;

wie Hom liefhet, gee Hom eer.

 

(4)  In die Gees is ons tesaam.

God is liefde, roem sy Naam.

 

VONKK 41 “God Is Liefde! Laat Ons Lofsing”

Teks: God is love – Timothy Rees 1874-1939; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008  © Musiek: ABBOT’S LEIGH – Cyril Vincent Taylor 1942

© Teks: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

© Musiek: ABBOT’S LEIGH by CV Taylor (1907-1991) © Oxford University Press.  Reproduced by permission. All rights reserved.

RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

 

1. God is liefde! Laat ons lofsing

– hemel, aarde, mensdom saam.

God se grootheid in die skepping,

laat ons jubel oor sy Naam!

Hy wat alles goed gemaak het,

hou die heelal in sy hand.

Hy oorlaai ons met sy goedheid –

liefde ver bo ons verstand.

 

2.  God is liefde! Hy omvou ons

daagliks met ‘n liefdesband.

Hy bewaar uit alle volke

al sy kinders deur sy hand.

As die lewe ons laat seerkry,

as ons ly deur pyn en smart,

weet ons God deel in ons swaarkry –

daar is deernis in sy hart.

 

3.  God is liefde, maar die sonde

maak ons vir sy liefde blind.

God vergeef, genees die wonde

van die sonde wat ons bind.

Sonde, dood en hel sal nooit nie

oor ons heerskappy kan kry.

God se liefde, so onfeilbaar,

sal vir ewig by ons bly.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 273 “Laat my met U verenig lewe”

Skriflesing: Handelinge 8:26-40

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Bybel-Media se Woord en Fees suggereer onder andere hierdie video of hierdie aktiwiteit / inkleurprent.

John Stevens sluit aan by die manier waarop ons mekaar in die kerk leer en help om te leer. Jy kan ‘n lekker aktiwiteitsboek (soos wat mens goedkoop kry by ‘n speelgoedwinkel) gebruik om die idee te illustreer. Hy gebruik ook ‘n pragtige illustrasie wat aansluit by die idee van die oorsteek van grense en mense wat ingesluit word, waar jy ‘n stuk papier skeur sodat mense daardeur kan stap.

Hier is ‘n lied oor die Etiopiër se verslag aan die koningin. Hier is die lirieke. Dalk kan ‘n musikale persoon in die gemeente ‘n meer kinder-vriendelike verwerking daarvan maak.

Preekriglyn

Misha (nie sy regte naam nie), ‘n tandheelkundestudent uit Noord-Afrika, vertel hoe hy vir agt jaar na iemand gesoek het wat hom meer oor Jesus kon vertel. Hy het as skolier bewus geraak van gebeure uit Jesus se lewe soos die Nuwe Testament dit oorvertel, maar kon geen detail daaroor kry nie. In sy land word die Christelike geloof aktief onderdruk.

Uiteindelik, na agt jaar, sien hy ‘n advertensie oor ‘n kursus in die Nuwe Testament. Hy maak kontak en ontdek die volheid oor Jesus. Sy leermeesters het hom die evangelie in die gebeure van die Nuwe Testament help ontdek. Hoewel hy in die grootste risiko moontlik leef, is hy ‘n toegewyde volgeling van Jesus, met ‘n lewende geloof.

Misha vertel hoe hy sedertdien bewus geraak het Jesus het nog volgelinge in sy land. Hy kon die Here al saam met ander gelowiges aanbid, een van die groot vreugdes in die lewe.

Ons teks is ‘n aangrypende verhaal van iemand wat op soek is antwoorde wat saak maak. Daar is ‘n dieper honger wat na versadiging vra. Ons lees hoedat God voorsiening maak deur iemand te stuur. Die honger word gestel – na God en na behoort aan God se gemeenskap.

Inleiding: die groter prentjie

Ons kan ons vandag heerlik in hierdie teks verlustig.

Handelinge kan opgedeel word in ongeveer 6 breë bewegings wat telkens afsluit met ‘n paar opsommende opmerkings van Lukas oor die vestiging en uitbreiding van die woord van God en die getal gelowiges.

Ons gaan net kortliks iets oor die eerste twee bewegings sê, om te verstaan waar ons teks in Handelinge inpas.

Elke keer is dit asof Lukas ‘n pouse daarmee skep voor die verhaal in ‘n nuwe rigting beweeg: geografies, etnies, kultureel, eties,  intellektueel, en polities.

Eerste beweging: 1:1-6:7 – Jode in Jerusalem
Die goeie nuus oor Jesus versprei na ander Jode in Jerusalem deur die werk van Petrus en Johannes en die ander apostels.  Dit sluit ‘n hele lys van “godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son” (2:5) in wat op Pinksterdag na Petrus-hulle luister: Perse, Mediërs en Elamiete, sowel as die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en die provinsie Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die dele van Libië om Sirene, mense uit Rome, Jode sowel as heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, Kretensers en Arabiere. ‘n Verlamde man word genees wat tot ‘n groot stuk getuienis teenoor die Joodse volk en twee keer teenoor die Joodse Raad lei.

Dit sluit af met die opmerking in 6:7 – “Die woord van God het verder versprei, en die getal gelowiges in Jerusalem het geweldig toegeneem. Selfs ‘n groot aantal priesters het gelowig geword.”

Drie grense word hier oorgesteek:

  • Die eerste interne Joodse gemeenskapsgrens na Jerusalem en die Joodse Raad word deur die gemeente oorgesteek, sowel as
  • die eksterne Joodse gemeenskapsgrens na die godsdienstige Jode uit al die ander nasies.
  • En die gemeente self steek die grens oor tussen die Hebreeussprekendes en Griekssprekendes deur hulle weduwees gelyke behandeling met die daaglikse versorging te gee.  En sewe Griekssprekendes word aangestel om dié werk te verrig, waaronder Filippus waarvan ons nou gaan lees.

Tweede beweging: 6:8-9:31 – Jode in Judea, Samaria en Afrika
Die goeie nuus oor Jesus versprei geografies, na die vervolging wat met Stefanus se marteldood begin, merendeels na Jode in Judea, Galilea en Samaria (van gemengde Assiriese en Joodse afkoms) sowel as Afrika (Etiopiese amptenaar – heel moontlik een van die godsdienstige Jode op pad terug na die Paasfees nadat hy God daar gaan aanbid het) met die Griekssprekende evangelis Filippus se grensoorskryding wat veral uitgesonder word, hoewel 8:4 sê dat dit ‘n beweging van gewone gelowiges was: “Die gelowiges wat uitmekaar gejaag is, het so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig.”

Die beweging sluit af met die opmerking in 9:31 – “In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk ‘n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe, die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.”

Die horisontale geografiese uitbreiding begin sy aanvang neem, maar hier word die grense nog merendeels na Jode in ander dorpe en stede oorgesteek, wel ook na Jode van ‘n ander etniese groep.

Oor Filippus:

Twee spesifieke insidente wat getuig van Filippus se grensoorskryding, een van die sewe brugbouers (nie die apostel nie), ‘n Grieksprekende Jood, word vertel:

Eerstens: Sy uitreiking na ‘n stad in Samaria (moontlik Samaria self, wat in dié tyd oorwegend Grieksprekend was;

  • Dit kon Sigem gewees het, naby Sigar, wat tot vandag toe eintlik die middelpunt van die Samaritaanse lewe was. Dit word vandag Neapolia genoem.
  • Interessant is dat Sigem ook met Abraham verbind word [Gen. 12:6] en dat Stefanus juis in sy toespreek na Sigem verwys [7:16]).  Dit word nou die plek waar die evangelie vir die tweede keer aan die Samaritane verkondig word.  Jesus het dit die eerste keer in Sigar gedoen aan die Samaritaanse vrou by die put.
  • Dit bly verrassend dat Jesus in Matt 10:5 eintlik sy dissipels verbied het om die evangelie aan Samaritane te verkondig, maar tog self die ontmoeting met die Samaritaanse vrou gebruik het om die dorpie te bereik.  En hier kom die evangelie nou na hulle toe in die persoon van Filippus.

Tweedens, die Etiopiër op die pad na Gasa toe, wat ‘n volgende grens is wat oorgesteek word, sosiaal-maatskaplik, etnies en ook godsdienstig (‘n ontmande was nie welkom in die Joodse gemeenskap nie).

Lukas het van dié gebeure heel moontlik gehoor toe hy later by Filippus en sy vier profetes-dogters in Sesarea oorgebly het (21:8).

Hoe laat hierdie teks ons verwonderd oor God en God se werk? Ons gee aan drie aspekte aandag:

  • God se beplanning
  • Begelei om te verstaan
  • Oorsteek van grense
God se beplanning

Die eerste perspektief is dat dié ontmoeting met die Etiopiese amptenaar haarfyn deur God beplan is.

Eers praat die Engel van die Here, baie keer met God self geassosieer in die Ou Testament, met Filippus om na die pad van Jerusalem af na Gasa te gaan.

Dan praat die Gees direk met Filippus, en beveel hom om te gaan loop saam met die wa van die Etiopiese amptenaar (8:29).

En na die Etiopiër tot geloof kom en gedoop is, neem die Gees van die Here vir Filippus weg (8:39).

Dit is nogal ‘n algemene ding in Handelinge – dat God mense inspan om Sy beplanning uit te voer.  Die gemeente en die leiers wag op God voordat hulle optree.

Begelei om te verstaan

Die tweede perspektief is die groot klem wat Filippus plaas op begrip van die evangelie.

Een van die groot vrae van ons dag oor Bybeluitleg is volgens Dirkie Smit: “Verstaan jy eers iets as jy spesifieke metodes gebruik het om dit te verklaar of nie?” (Neem, Lees, 2006:66)

Daaragter lê die konflik tussen verklaar en verstaan, tussen die meer objektiewe, beskrywende verklaring van iets en die meer subjektiewe, toe-eienende, toepassende verstaan van iets.

Filippus se intree-vraag aan die Etiopiese amptenaar bly relevant tot vandag toe nog: “Verstaan jy wat jy lees?” (:30)

Deur ‘n interessante woordspel op die woord γινώσκω (verstaan) in die oorspronklike Griekse vraag: γινώσκω ἀναγινώσκω (verstaan jy wat jy lees), wys Filippus hoe verstaan nie gelyk is aan lees nie.

Die antwoord van die amptenaar is netso relevant.  “Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?” (:31) antwoord hy vir Filippus. Die woord wat hy gebruik vir “uitlê” is ὁδηγέω, wat beteken om te “lei” of “begelei” (soos ‘n gids).  En dít is presies die tipe begeleiding wat Filippus vir hom gee.

Hy klim saam met die amptenaar op die wa en begin ‘n lewensveranderende reisgesprek met die amptenaar.  Hy sluit aan by die vrae wat die amptenaar het oor die lees van die teks (Jes. 53:7-8) en beweeg daarvandaan na die evangelie van Jesus Christus.

Die evangelie gaan vir hierdie amptenaar oop, en dit is interessant dat hy vra of iets nou gaan verhinder dat hy gedoop word.  En met ‘n eenvoudige geloofsbelydenis klim Filippus en hy by ‘n riviertjie af en hy word in die koninkryk van God ingedoop.

Filippus steek grense oor

Die derde perspektief is die grense wat in dié verhaal oorgesteek word:

  • Hy was kennelik ‘n vername man wat hoër op die sosiale leer was as Filippus. Hy was ook heel moontlik ryk, omdat hy die minister van finansies van sy koningin was. Daarby was hy van ‘n ander ras. ‘n man van Kus uit Afrika, Ethiopië aan die onderpunt van Egipte.
  • Maar die belangriker grens in terme van die Bybelse verhaal, is dat hy ‘n ontmande was. En laat ons onmiddellik onthou, dit het beteken dat hy nie in die Ou-Testamentiese volk van God opgeneem sou kon word nie (Deut. 23:1).
  • Die interessante is dat hy in Jesaja lees, en die vraag is of hy nie ook die gedeelte in Jes. 56:3-5 gelees het wat juis ‘n toekoms vir ontmandes voorspel: “‘n Nie-Israeliet wat by die volk van die Here aangesluit het, moenie dink: die Here sal my van sy volk afsny nie. ‘n Ontmande moenie van homself dink: ek is maar ‘n droë boom nie. So sê die Here: Aan die ontmandes wat my Sabbatte onderhou, wat kies vir wat Ek wil, en wat lewe volgens my verbond, aan hulle sal Ek in my tempel en aan sy mure ‘n teken gee, ‘n erenaam wat beter is as seuns en dogters. Ek sal aan sulke mense ‘n naam gee wat nie uitgewis sal word nie.”

Filippus volg die leiding van die Gees en steek hierdie grense oor om hierdie man met die evangelie van Jesus Christus te bereik.

Boodskap vir ons

Kom ons gesels oor drie vlakke waarop die boodskap van hierdie teks vir ons lê:

  • Om na God te luister en Hom te volg in sy leiding. Lukas het al verwys na die apostels wat op gebed en die woord sou konsentreer. Die orde is belangrik: om God se wil uit te vind is die sentrum van die lewe. Daarsonder kan ‘n gemeente nie sy roeping vervul nie. Dit is onder andere waarom ons sulke geleenthede soos Pinkster het, maar ook ons eredienste en kleingroepe. Die Biddend Luister is een plek waar al dié goed bymekaar kan kom.
  • Ons moet erns maak met ons begeleiding van mense om regtig te verstaan. Dit beteken dat ons aan ons taal en musiek en kommunikasie moet werk, sodat mense KAN hoor.
  • Die derde vlak waaraan ons meer aandag gee, is die grense wat ons moet oorsteek.
Etnisiteit

Etnisiteit was eintlik ‘n grens wat Filippus maklik oorgesteek het.  Eintlik is dit waar van al vier grense wat ons hier bo genoem het.  Die godsdienstige grens het ‘n groter potensiaal gehad om hom af te sit, maar dit het nie.

As ons egter na ons dag kyk, is dit steeds ‘n grens wat baie mense onder ons moeilik oorsteek.

Ons sukkel steeds met kleur in ons land.  Nie dat ons nie weet dat dié eenheid wat God bring rondom die evangelie, soos die verhaal van die Etiopiër ons weereens herinner, die grense van ras moet oorsteek nie, sodat kleur, etnisiteit, en kultuur nie in ons pad staan om ‘n ware reënboog gemeenskap as beeld van God te vorm nie.

Want dít is waaroor dit gaan – ons almal is die beeld van God, en elkeen van ons het ‘n bydrae om te lewer.  As een van ons ons afskei, en nie wil saamstaan om God te verteenwoordig op hierdie aarde nie, dan skend ons die beeld van God.

Wees soos die kinders

Brenda Salter McNeil skryf in haar boek  A Credible Witness op treffende wyse hieroor.

En sy vertel ‘n storie van haar jong kind wat haar lof besing het by sy onderwyser, en dié toe vir haar genooi het om met die graad vier klas oor rassisme te kom praat.

En het hy haar gewaarsku, sy moenie droogmaak en hom in verleentheid bring nie!

Sy besluit toe om ‘n legkaart te bou met hulle en deel vir elkeen ‘n stukkie daarvan uit. Haar plan is om eers ‘n verduideliking te gee hoe ons almal mekaar nodig het om die legkaart te bou, anders as wat ons gewoonlik doen deur op ons eie te begin bou.

Maar terwyl sy begin verduidelik, sien sy agter in die klas ‘n klompie wat besig is met iets, sy weet nie wat nie, maar hulle luister nie na haar nie.  Sy loop toe nader en kom agter, hulle is besig om die stukkies van die legkaart in mekaar te begin pas, sonder dat sy nog vir hulle die opdrag gegee het om dit te doen.

En toe sy hulle daarna vra, sê hulle:  “The pieces are supposed to go together.  It doesn’t make any sense if we don’t put all of our pieces together.” (2008:85)

Om Christus te kies is ook om vir sy volle liggaam te kies!

Wat ‘n tydige boodskap – uit die mond van kinders!  Ons is bedoel om saam te wees.  As ons nie al ons stukkies by mekaar sit nie, dan maak die beeld nie sin nie.

En ons as kerk moet dié woord goed hoor.  Tony Campolo sê in die voorwoord van Salter se boek: “A church that is not unified is a scandal and a contradiction of the gospel.”

Salter McNeil onderstreep ‘n sentrale waarheid in haar boek, dat om Christus te kies, is om ook vir sy gemeenskap te kies – en dié gemeenskap is opgebou uit elkeen wat die naam van Christus noem, wat kies om met Hom geassosieer te word, wat bely dat hulle deur Hom uitgekies is om deel van sy liggaam te wees.

En die ongelooflike voorreg van só deel van sy gemeenskap te wees, is dat ons eenheid, midde in ons diversiteit, ons verskille van ras en kleur en kultuur, een van die kragtigste maniere is om die werklikheid van wat Jesus vir ons in Paasfees aan die kruis bewerk het, en deur die Gees op alle mense met Pinksterdag uit te stort, te demonstreer … sodat die wêreld kan glo.

Ons het ‘n nuwe getuienis nodig

Ek dink ons as kerk het ‘n nuwe storie of getuienis nodig in dié land van ons – ‘n storie wat sin maak, ‘n storie wat die moeite werd is om voor te lewe, ‘n storie wat vir ons vertel wie ons is en wat ons sin en betekenis in die lewe gee.  En dit is ons almal se storie, elkeen van ons het ‘n rol daarin, soos ‘n stokvel, om die gesamentlike storie te kan skryf wat sy oorsprong het in die feit dat God vir ons lief is net soos ons is, swart, wit, bruin en geel, en ons en ons stories is die moeite werd vanweë Christus

En ek dink die begin van daardie storie, is die storie van Jesus by die put in gesprek met die Samaritaanse vrou. En die storie word voortgesit met Filippus in Samaria en hier by die Etiopiër en verder aan met Petrus en Kornelius en Paulus in Asië en Europa.

Ons moet grense oorsteek – want dit is hoe die evangelie werk!

Die Here gee vir ons met hierdie tekste ‘n model wat wys hoe ‘n mens ander moet lief hê oor grense heen, grense van godsdiens, en etnisiteit en sosiale en politieke affiliasie.  Jesus wys hier vir ons hoe om verhoudinge te bou wat wederkerig is en daag ons uit om ‘n diep verrykende verandering in ons gemeenskappe te begin.

Te veel keer preek ons die vertikale waarheid van die kruis, dat ons met God versoen is deur Jesus Christus.  En dit is waar – maar dit is net een deel van die waarheid.  Daar is ‘n horisontale werklikheid wat ook aangespreek moet word, die mure wat ons verdeel, is afgebreek en ons is nou een bloed-verwante familie in Christus … en om enigiets minder as dit te preek, is ‘n een-dimensionele boodskap.  Soos Salter sê: “(it) is not the cross but a “stick” that we can use to hit people over the head.” (2008:21)

Ten slotte

Soms voel mens soos die Etiopiese amptenaar: op soek na die les van jou dors. So het Misha van wie ons aan die begin vertel het vir agt jaar gevoel. Mag die Here dan vir jou ‘n Filippus stuur.

Meestal is ons Filippus, die een wat die Waarheid ken en die evangelie kan uitlê. Mag die Here ons verblinding wegvat sodat ons die geestelik hongeres na wie Hy ons stuur kan herken, ook al verteenwoordig hulle groot grense om oor te steek.

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotsang
Lied 523 “Goddelike liefdebande”

Seën
Soos die Vader Jesus gestuur het,
stuur Hy julle ook.
Vrede vir julle!

Respons
Lied 533 of 534 Stuur ons…

 

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.