Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die opskrif van die sleutelteks is “Die tyd van sy verheerliking het gekom”. Die Evangelie van Johannes sien Christus se kruisiging, anders as die Sinoptiese Evangelies, as verheerliking. In die voorafgaande perikoop, Johannes 12:12-19, kom Jesus Jerusalem triomfantelik binne. Die stem uit die hemel spreek van verheerliking van God se Naam. In aansluiting by die status as verhoogde Christus, word God se aanstelling van Christus as sy Seun en Hoëpriester in Hebreërs 5 aangehaal.

Ander tekste

Jeremia 31:31-34
31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

Psalm 51:1-12
Neem tog my sonde weg!
51 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid,
na aanleiding daarvan 2dat die profeet
Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel
met Batseba.
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.

Psalm 119:9-16
9Hoe kan ’n jongmens
sy lewe skoon hou?
Deur hom te hou aan u woord!
10Ek wil aan U gehoorsaam wees
met my hele hart,
laat my nie afwyk van u gebooie nie.
11Aan u beloftes hou ek vas,
dit weerhou my van sonde teen U.
12Aan U kom die lof toe, Here,
leer my u voorskrifte.
13Al u bepalings
wil ek een vir een opnoem.
14Om volgens u verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom
van die wêreld.
15U bevele bly my altyd by.
Ek gee ag op die pad wat U aanwys.
16Ek verlustig my in u voorskrifte,
u woord vergeet ek nie.

Hebreërs 5:5-10
5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.”
6En op ’n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde
van Melgisedek.”

7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Fokusteks

Johannes 12:20-33
Die tyd van sy verheerliking het gekom
20Daar was ook ‘n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. 21Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”

22Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus. 23Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ‘n groot oes in. 25Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.

27“Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. 28Vader, verheerlik u Naam!”

Toe het daar ‘n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”

29Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag was. Ander het gesê: “‘n Engel het met hom gepraat.”

30Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. 31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.”

33Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.

34Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?”

35Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net ‘n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. 36Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.”

Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.

Ekstra stof

Johannes 11:55–12:50 – Die koringkorrel moet sterf om vrug te dra
Eers net ‘n oorsig:  Let op hoe die gedeelte ‘n geheel vorm.  Dit word in 6 episodes vertel:

  • die pelgrimstog na Jerusalem vir die Paasfees vir die reiniging – 11:55-57;
  • die verhaal van Jesus se salwing met die oog op sy begrafnis deur die nardussalf van Maria – 12:1-8;
  • die verskillende reaksies op Jesus – die toeloop van die skare en die gramskap van die Joodse Raad – 12:9-11;
  • die intog in Jerusalem onder die toejuiging as Koning van Israel – 12:12-19;
  • die Grieksereaksie wat Jesus laat besef dat sy uur gekom het – 12:20-35;
  • die opsomming van Jesus se bediening wat deur beide geloof en ongeloof begroet word en ewige konsekwensies het – 12:37-50.

11:55-57: Die verhaal van die Intog begin met die plattelanders wat vir die Paasfees optrek na Jerusalem vir die reiniging, by die poel van Siloam, en waarskynlik ook by Betesda.  Die eerste ding wat hulle in Jerusalem daarna doen is om vir Jesus te soek.  Hulle wil sien wat gaan gebeur in die konflik met die Joodse Raad.  Dit verklaar heel moontlik waarom daar so ‘n groot groep was wat Jesus ontmoet en in Jerusalem in begelei het.

12:1-8: Jesus doen eers op pad by Betanië aan, waar hy vermoedelik ook in die week gebly het – net 3 km van Jerusalem af.  Dit is ses dae voor die Paasfees, die Sondag van die laaste week van sy aardse lewe.  Dan bewys Maria aan Jesus ‘n groot eer deur ‘n halfliter baie duur nardusolie te neem en Jesus se voete daarmee te salf, dié voete wat binnekort deur spykers deurboor sou word (‘n mens dink ook onmiddellik aan die voetewas episode van hoofstuk 13).  Toe Judas, die verraaier en dief, kritiek daarop lewer deur, verdedig Jesus dit op grond van die feit dat dit ‘n profetiese daad is met die oog op sy begrafnis.

12:9-11: Die gewildheid van Jesus en ook Lasarus sorg vir ‘n groot toeloop van mense, maar ook vir die gramskap van die Joodse Raad, wat besluit om ook vir Lasarus dood te maak, om die groeiende beweging in die kiem te probeer smoor.

12:12-19: Op die Maandag versprei die nuus dat Jesus op pad is Jerusalem toe soos ‘n veldbrand en ‘n skare gaan Hom tegemoet om Hom in Jerusalem te begelei.

Let op die verskillende reaksies in die skare:

  • Sommige is uiteraard geïnteresseerd in die gebeure rondom die wonders (vers 17-18),
  • ander om te sien wat in die konflik met die Fariseërs gaan gebeur (11:56).
  • ‘n Groot deel van die skare haal OT gedeeltes aan om Hom as die Koning van Israel te verwelkom (Ps 118:26) en wuif Hom met palmtakke die stad binne, terwyl Hy op ‘n donkie ry in vervulling van die profesie (Sag 9:9) – aan die einde van die tyd sal ons Hom ook met palmtakke vereer (Open 7:9).
  • Die dissipels is egter verward oor al dié dinge – onthou hulle was nie lus om te kom nie, omdat hulle die konflik met die Joodse Raad gevrees het – en het dit eers later verstaan, soos Johannes ons inlig.
  • En die Fariseërs is net nog meer oortuig dat hulle Hom uit die weg moet ruim, want die hele wêreld gaan agter hom aan (en die Grieke se storie kom nog!).

12:20-35: ‘n Aantal Griekssprekendes (godvresendes?) het ook gekom om die Paasfees te vier en staan ook nader om Jesus te ontmoet.  Let op hoe Filippus (Griekse naam) en Andreas saamwerk om die nuus aan Jesus oor te dra (soos met die eerste ontmoeting by die see, en die verhaal van die broodvermeerdering).

En dan is dit asof alles in plek val – Jesus weet die tyd van sy kruisdood (verheerliking) het gekom, interpreteer vir hulle wat aan die gebeur is, en onttrek Hom van die gedrang.

Let op hoe Jesus die metafoor van die koringkorrel wat in die grond moet val en sterf om vrug te dra op Sy eie bediening van toepassing maak.  Dit verheerlik Hom en maak van Hom ‘n man van groot betekenis – die tyd van die nasies het gekom, en vir daardie fase van die bediening om aan te breek, moet Hy die pad van die kruis stap.

Sy ontsteltenis oor die pad wat Hy nou moet loop word egter oorwoeker deur die bewussyn van sy roeping (vir die nasies) wat op dié manier tot sy logiese vervulling kom. En daarmee offer Hy sy lewe op – voor die Joodse Raad ‘n hand aan Hom slaan.  Jesus gee Homself dus oor in die dood – op sy eie terme en vrywillig.

En Hy nooi sy volgelinge uit om Hom in dieselfde ontlediging en vrug-deur-dood-dra te volg.  Dit is juis in die vrywillige keuse van opoffering wat die krag van nuwe lewe vir ander lê.  En dit is die opofferende voorbeeld wat mense oortuig van die integriteit en betekenis van Jesus (en enige van sy navolgers) se lewe.

En God verseël sy offergawe met sy goedkeurende stem uit die hemel, wat tot verdere oortuiging lei, nie net vir Jesus nie, maar veral vir die skare wat om Hom saamgedrom is.

Jesus verduidelik weereens vir die skare hoe sy lyding inpas in God se plan, maar met min begrip by hulle.

12:37-50: Johannes sluit dié gedeelte af met ‘n terugblik op Jesus se wondertekens wat op verrassende wyse met soveel ongeloof begroet is, en vind die verklaring daarvoor in die profesie in Jesaja se roepingsvisioen (Jes 6:10) en die beskrywing van die reaksie op die Dienaar van die Here (Jes 53:1) dat ongeloof deel van God se oordeel oor mense se sonde is.

Tog bars daar geloof op verrassende plekke deur – selfs ‘n paar lede van die Joodse Raad (onthou Nikodemus en later Josef van Arimatea) het tot geloof gekom, hoewel hulle stil gebly het daaroor om nie uit die sinagoge geban te word soos die blinde man wat genees is en tot geloof gekom het nie.

En Johannes gee ons ‘n laaste publieke toespraak van Jesus as opsomming van sy bediening – sommige luister na Hom en kry die ewige lewe; ander luister nie, en sal aan die einde van die tyd geoordeel word (waarna Johannes reeds in sy proloog in Johannes 1 verwys het).

Liturgie

Moontlike ritueel om by te voeg
Klaagdoekritueel
Hier kan lidmate die geleentheid kry om die artikels, foto’s, koerantberigte en gebede aan die klaagdoek vas te steek. Dit kan in stilte gedoen word of die orrelis/pianis kan die oomblik met agtergrond musiek vul. Hierdie wydingsmoment kan afgesluit word met ’n gebed deur ’n kerkraadslid, lidmaat of voorganger.

Aanvangslied: Lied 396

Aanvangswoord

Seëngroet: Uit 1 Petrus 1

Lied 391

Skriflesing van belofte: Jeremia 31:31-34 

Skuldbelydenis: Psalm 51 

Vryspraak: Uit Hebreërs 5

Geloofsbelydenis: Die Geloofsbelydenis van Nicea

Loflied
Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3” en/of
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Epiklese: Uit Psalm 119

Skriflesing: Johannes  12:20-33

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 400

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 396

Aanvangswoord
Voorganger: Aanskou die Heiland, sien die kruis.
Gemeente: Vir ons het Hy Hom daar laat hang,

Voorganger: die Hemelvors, verag, verguis.
Gemeente: Hy leef, Hy sterf – in ons belang!

Voorganger: Vir al ons skuld het Hy betaal.
Gemeente: Vir ons in helle angs gedaal!

Voorganger: Sy kruis, sy liefde – onbegrens,
Gemeente: ontsluit in ons ’n nuwe mens!

Voorganger: Hom kan ons nou met vreugde dien
Gemeente:in die ruimte deur sy kruis voorsien.

Seëngroet: Uit 1 Petrus 1
Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld…
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!

Lied 391

Skriflesing van belofte: Jeremia 31:31-34
31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

 Skuldbelydenis: Psalm 51
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.

Vryspraak: Uit Hebreërs 5
8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword…

Geloofsbelydenis
Die Geloofsbelydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes. Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.

Loflied
Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3” en/of
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Liedere

VONKK 14Hy Het Self Ons Sondes”
1 Petrus 2:24
Teks: Jannie Hougaard 2003 ©
Melodie: JOANIE – Francé Ludik 2003 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
Teks : Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Uit Psalm 119
10Ek wil aan U gehoorsaam wees
met my hele hart,
laat my nie afwyk van u gebooie nie.
11Aan u beloftes hou ek vas,
dit weerhou my van sonde teen U.
12Aan U kom die lof toe, Here,
leer my u voorskrifte.

14Om volgens u verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom
van die wêreld.
15U bevele bly my altyd by.
Ek gee ag op die pad wat U aanwys.
16Ek verlustig my in u voorskrifte,
u woord vergeet ek nie.
Amen

Skriflesing: Johannes  12:20-33

Familie-oomblik

Die X-Men is “mutants” – mense wat met spesiale “super-powers” gebore word.  Omdat hulle hierdie spesiale kragte het, is hulle helde wat ander mense help.

Vra vir die kinders watter kragte hulle graag sou wou hê as hulle enige “super power” kon hê.  Vertel ook watter krag jy sal wil hê en wat jy daarmee sal doen.

Ons hou van helde en spesiale kragte.  Die mense van Jesus se tyd het ook van helde gehou!  Hulle het gedink Jesus was ‘n held wat die slegte mense sou vernietig.  Daarom wou hulle hom graag sien.

Ons dink ook dikwels, soos die mense van Jesus se tyd, dat ons spesiale kragte nodig het om helde te wees.  Jesus leer vir ons dat ‘n held anders lyk.  Hy oorwin slegte mense deur hulle lief te hê – selfs al kos dit sy lewe!

Dit is hoe God is.  Hy is ‘n held wat liefhet en sy lewe gee. Hy offer homself op om mense te red.

Miskien het ons nie “super powers” soos die X-Men nie, maar ons het ‘n geheime krag – Jesus se liefde vir ons!  Daardie krag help mense wanneer dit ook vir hulle nodig is om baie op te gee om ander te help.

Preekriglyn

Kontras is een van die tegnieke wat fotograwe gebruik om uitsonderlike foto’s te neem. Deur subtiel te speel met teenstellende kleure, skakerings en selfs teksture, is ‘n tegniek wat in werklikheid terugdateer na die tyd van die klassieke kunsmeesters. In Rembrandt of Monet se werke sien mens hoe kontras tussen lig en donker of helder in fokus en meer uit fokus, die verskil tussen middelmatig en meesterstuk beteken. Die skrywer wil waag om te sê dat ironie vir taal soos kontras in beeldende kuns werk. Die verrassende teenstellings help om alles beter te sien en te verstaan.

Die Johannesevangelie is ‘n grafiese evangelie, propvol ironie. Die doel van die evangelie – volgens 20:30-31 – is om geloof te bewerk in Jesus Christus as die Seun van God en deur Hom toegang tot die ewige lewe te verkry. Verder weet ons dat dié evangelie baie sterk met tekens en beelde werk. Dit is gevolglik ‘n unieke evangelie wat anders lyk en klink as die eerste drie evangelies.

Agtergrond by ons teks

Jesus het kort voor die gebeure in ons teks vir Lasarus uit die dood opgewek. ‘n Gebeurtenis wat opspraakwekkend was! Soveel so dat, terwyl die skares na Jesus gestroom het, pogings onderweg was om Jesus te elimineer (11:45-57). Die opwekking se nadraai het so dramaties ontwikkel dat daar selfs pogings was om Lasarus te vermoor (12:9-11).

Die fokus bly egter op die groeiende belangstelling van mense om met Jesus kontak te maak. ‘n Reuse skare wag Jesus in wanneer Hy die triomfantelike intog in Jerusalem maak (12:12-19) – alles tot die ergernis van die Fariseërs wat met hulle hande in die hare was (12:19). Op ironiese wyse word die woorde van die Fariseërs in die volgende vers korrek bewys.

Grieke by die Paasfees

Tussen die Paasfeesgangers in Jerusalem was daar Grieke wat die Joodse geloof aangeneem het. Hulle was deel van die sogenaamde proseliete of half-proseliete van die dag, maar het net beperkte toegang tot die tempel gehad. Alles was nie vir hulle oë bedoel nie! Hulle nader egter Filippus met ‘n versoek om vir Jesus te sien. Eerste hoorders (soos ons vandag nog) moes by die aanhoor hiervan geglimlag het. Dink net. Dele van die Joodse geloof was vir die heidense bekeerlinge buite perke, maar die Seun van God – die Een wat die ewige lewe bewerk – was toeganklik.

Die versoek van die Grieke was gewoon “. . . om Jesus te sien”. Dit sou beteken om Jesus te ontmoet en moontlik met Hom gesprek te hê. Daar is geen verdere aanduiding van die inhoud of motivering vir die versoek nie.

Filippus en Andreas

In wat beskryf kan word as ‘n ketting van bemiddeling, neem Filippus die Grieke na Andreas en dié nader Jesus. Die verwysing na Filippus en Andreas strook met Johannes se aanvanklike vertelling dat Filippus die eerste was om deur Jesus raakgesien te word (1:43-44), terwyl Andreas die eerste was wat Jesus as Messias raakgesien (1:41) en gevolg het. Johannes noem die twee by name om na hulle roeping te verwys, maar verder weet ons ook dat dié twee waarskynlik self van Griekse afkoms was. Tradisie verbind ook beide met die bring van die evangelie onder nie-Jode.

Nadat Filippus en Andreas Jesus vertel het van die versoek, is daar ‘n wending in die verhaal. Op die oppervlak lyk dit asof Jesus die versoek botweg ignoreer. Dit is egter, uit wat volg, duidelik dat die versoek eerder ‘n draaipunt verteenwoordig. Een van die aanduidings van die wending is Jesus wat sê: “die tyd het gekom . . .” Voor hierdie punt in die verhaal het Jesus dikwels gesê dat sy tyd nog nie gekom het (7:30; 8:20), maar nou bevestig Hy die wesenlike van die oomblik.

Jesus beskryf hierdie oomblik nie as ‘n oomblik van vernedering nie. Dit is die oomblik van sy verheerliking. Die Johannes-evangelie beskou Jesus se dood nie as ‘n negatiewe insident of teken van mislukking nie, maar ‘n positiewe verheerlikende oomblik wanneer Hy sy aardse sending suksesvol voltooi. Dit is immers hoekom Jesus gekom het!

Saad wat moet sterf

Die betekenis van Jesus se dood en verheerliking word met ‘n gelykenis in ‘n enkele vers uitgedruk. Die saad wat moet sterf voordat dit kan vrug dra, is ‘n beeld wat nie veel verduideliking nodig het nie. Jesus se dood word as so ‘n saai van saad gesien. Deur sy dood sal die veelvuldige vrug volg. Daar is egter ‘n kinkel! Jesus bring dissipelskap (om Hom na te volg) in verband met dié beeld. In binêre taal word navolging beskryf as die getroue navolging van Jesus deur haat van die eie lewe, met as wins die ewige lewe.

Jesus se woorde beskryf die koste van dissipelskap. Om Hom te volg is om saam met Hom te sterf – om Hom as ‘t ware selfs in die grond in te volg. Op tipiese wyse beskryf Johannes belangrike sake met sterk woorde. Liefde word lynreg gekontrasteer met haat – dieselfde woord wat Lukas 14 gebruik om oor die koste van dissipelskap te praat. Hierdie is waarskynlik ‘n tipies Hebreeuse uitdrukking wat ook in Genesis 29:30-31 voorkom.

Daar is ‘n interessante logika in vers 24 en 25. Vers 24 maak dit duidelik dat die voordeel van die sterf in die grond, vrug vir almal is. In vers 25 word hierdie sterfbeeld in die grond egter die vereiste vir persoonlike wins. Die indikatief van Jesus se sterwe, wat die ewige lewe moontlik maak, is in vers 25 die imperatief wat die dissipels oproep om self te sterf en daardeur die ewige lewe te verkry.

Finale hoofstuk

Vers 27 bring ‘n persoonlike verdieping in Jesus se belewenis van sy situasie. Die woordeskat neem ons terug na hoofstuk 11, toe Jesus by Lasarus se graf diep ontsteld was in sy gees. Nou is Jesus egter oor sy eie situasie diep ontsteld. In ‘n persoonlike en intieme toneel sien ons die gesprek tussen Vader en Seun, ten aanskoue van almal. Hierdie toneel bevestig dat die tyd vir die finale hoofstuk aangebreek het, asook dat wat aan die gebeur is juis dit is waarvoor Jesus gekom het. Die stem uit die hemel wat ook tydens die doop en die  verheerliking op die berg gehoor is, bevestig Jesus se selfverstaan van sy situasie.

Drie ironieë

Ons het aanvanklik gesê Johannes werk sterk met ironie en kontras. Daar is drie ironieë in ons teks om die goeie nuus volgens Johannes in die gelese gedeelte toe te lig.

Ironie in wêreldbeelde – Jesus se hoogste strewe was om te sterf.
Ons lewe in ‘n tydsgewrig waar elke poging aangewend word om langer op die ondermaanse te lewe. Van natuurlike medisyne tot unieke preparate uit eksotiese oorde – soos Dooieseemodder – word aangebied as media tot ‘n langer lewe. Dit is daarom nie vreemd nie dat talle mense dit as hulle hoogste strewe stel om lank te lewe. Jesus se antwoord op die vraag oor lewenstrewe, is om te sterf.

Deur die loop van die Johannesevangelie gebruik Jesus talle “Ek is” uitsprake gekoppel aan beelde om iets meer oor sy identiteit en sy sending te verduidelik. Dit is van die begin af duidelik dat sy sending oor die redding van die wêreld gaan. Reeds in die aankondiging van Johannes die Doper (1:29) en in die gesprek met Nikodemus (Joh 3), kom die heil van die wêreld aan die orde.

Wanneer ons oor die wêreld nadink, is daar egter ‘n skerp kontras tussen twee beelde van die wêreld sigbaar. Aan die een kant – soos vandag – is die wêreld die asemrowende toneel van skoonheid. Of dit die natuurskoon of die glimlag van ‘n kind is, die wêreld is mooi. Dit is immers God se wêreld en Hy is tot die dood toe lief daarvoor. Johannes 3:16 beskryf die diepte van God se liefde vir die wêreld wat Hy gemaak het en steeds versorg.

Die wêreld is egter ook die plek waar die afgryslikste realiteite voorkom. Mense onderdruk mense en die natuur word bedreig deur die vernietigende hand van die mens. Tereg sê Paulus in Romeine 8 dat die skepping kreun. Die rede vir die pyn en afgryse is gesetel in die stelsel wat deur mense ontwerp en in stand gehou word. Dit is ‘n stelsel wat sekere mense bevoordeel (dikwels ten koste van ander) en ongelykhede en ongelukkigheid bewerk. Dit is ‘n stelsel wat ten diepste verrot en korrup is. ‘n Stelsel wat onder die oordeel van die getroue Skeppergod staan. Daar is talle skitterende gedigte in Afrikaans wat starre realiteite van die gebroke wêreld verwoord. Dit is daarom verstaanbaar dat die heil vir die wêreld ook die oordeel oor die wêreld en sy owerste beteken (12:31-32).

Ironie in tydsberekening – lewe deur ‘n dooie saadkorrel.
In die gesprek met Nikodemus (Joh 3) het Jesus God se fokus op die wêreld verwoord. In sy bediening het dit egter aanvanklik baie sterk oor die Judeërs gegaan. Met verloop van tyd het die fokus van sy bediening wyer sirkels begin trek. In een van die deurslaggewende oomblikke in Johannes (8:39-59) het Jesus daadwerklik begin om heil vir ‘n wyer wêreld te skets. Selfs in die gedeelte oor die skape en die Goeie Herder (Joh 10) het Jesus gesinspeel op ‘n wyer kring van skaap/volgelinge (Joh 10:16).

Met die koms van die Grieke in Johannes 12:20, breek die dag en uur aan waarvan Jesus vertel het. Die tyd het nou gekom – in teenstelling met 7:30 en 8:20 – vir Jesus se verheerliking. Soos wat 12:24-26 hierdie verheerliking uitbeeld, lyk dit vir ons kwalik na verheerliking. ‘n Eenversgelykenis beskryf die kontras tussen die verheerliking deur erkenning en eerbetoon (soos ons sou verwag) en Jesus se sterwe en dood in landboutaal. Op ‘n vreemde manier word die beeld van saad wat in die grond sterf en die oes wat daardeur moontlik word, die patroon om Jesus se dood te verstaan. Die verheerliking is daarom die vergesig om in die saadkorrel alreeds die sterwe, maar ook die wuiwende are op die oesland te herken. Sake word selfs meer ingrypend wanneer die beeld van die sterwende saadkorrel op dissipelskap toegepas word.

Daar is egter ‘n kinkel in die verhaal. Ons weet dat die lewe deur die dood van die Saad vir ons (ook) bedoel is. Dit het universele reikwydte (Joh 3:16). In navolging van Jesus word dit ook ons roeping; ons moet die Saad volg en self as saad sterf in navolging van Jesus. Johannes het nie dieselfde beeld oor die koste van dissipelskap as byvoorbeeld Lukas nie. In Lukas sien ons die koste van ‘n lewe van navolging, maar in Johannes die oproep om te sterf aan jou eie belange. In skerp taal word dit beskryf as ‘n noodwendige haat van die eie ek ter wille van die ewige lewe.

Hierdie realiteit word in Romeine 6 en Kolossense 2 treffend in verband met die doop gebring. Deur die doop sterf ons saam met Christus sodat ons saam met Hom opgewek kan word! Watter beter manier is daar om oor die betekenis van die doop na te dink! Wanneer ek aan die eie ek sterf, kom my rol in die gebroke stelsel skielik ook onder die vergrootglas. My sterwe as saad van die Saad behels dat ek my eerste lojaliteit teenoor Christus eerder as die stelsel uitleef.

Ironie in plek – die kruis word die simbool van heil.
Die skrilste kontras is egter die kruis. Terwyl Cicero dit as die gruwelikste teregstelling en straf beskou het, word die kruis Jesus se verhoogde platform. Na ‘n oomblik van aanvegting (12:27-29) bevestig Jesus sy roeping, naamlik om te sterf ter wille van die aarde. Meer nog, hoe sy fisieke teregstelling – die verhoging aan die kruis – heil vir die wêreld beteken. Terwyl blote oë slegs die teregstelling sien, kan geloofsoog die verhoging en verheerliking waarneem.

Met behulp van ‘n beeld wat reeds in die gesprek met Nikodemus (3:14) aan die orde gekom het en herinner aan die tyd van die uittog uit Egipte (Num 21), word die redding en heil beskryf. In dié proses word almal saam opgetel uit die moeras van die wêreld (hier in terme van die gebroke stelsel). Jesus beklemtoon die betekenis hiervan verder in 12:44-50, waar sy heilswerk toegelig word.

Anders as die ander evangeliste, sien Johannes Jesus se lyding en sterwe nie as ‘n laagtepunt nie, maar ‘n hoogtepunt. Die klimaks van sy aardse bediening. In werklikheid is die kruis nie die vernedering nie, maar die verhoging van Jesus. Aan die kruis word sy heerlikheid en redding en die Vader se versorgende liefde sigbaar gemaak. As ons na die kruis kyk, kan ons met reg dink en sê: “Dit is hoe onvoorwaardelike liefde lyk.”

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 400

Seën
Die Here het ons geseën en tot ons redding verskyn. Die Here het sy aangesig oor ons laat skyn en was ons genadig. Hy het ons gebede verhoor en aan ons sy vrede kom gee!
Hy het ons lyding op Hom geneem. Ons siekte het Hy gedra . . . Hy was van God verlaat, sodat ons vir ewig in sy teenwoordigheid kan wees. Hy het die dood oorwin sodat ons die ewige lewe kan hê.
Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader; van die Here Jesus Christus, ons Here en die Helige Gees, ons Trooster en Leidsman.
Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.