Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die sleutelteks kom vandag by monde van Jesaja, op die tydstip van die terugkeer van God se volk na Sion. God herinner sy volk aan elke keer wat Hy hulle verlos het en belowe hy gaan dit weer doen. Hy vermaan hulle om nie by die verlede stil te staan nie, want, sê Hy: “Kyk, ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur.” Dit word in Psalm 126, ‘n pelgrimslied, bevestig. Volgens Johannes 12:1-8, is daar net ses dae oor voor die Pasga. Dis net die laaste paar treë voor Jesus se kruisiging en Christus word gesalf met die oog op sy begrafnis. Die voorganger moet hier teen die einde van lydenstyd die gemeente op hierdie laaste treë neem in ‘n kort herinnering aan die verlede, maar dan die gemeente vooruit laat sien na die nuwe wat aan die kom is en wat God elke Paasfees kom bevestig.

Ander tekste

Psalm 126
Verander tog ons lot, Here!
126 ’n Pelgrimslied.
Toe die Here die lot van Sion
verander het,
was dit vir ons soos ’n droom.
2Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here hét groot dinge
aan hierdie mense gedoen.”
3Die Here hét groot dinge
aan ons gedoen;
ons was bly.
4Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
5Wie met trane saai,
sal die oes met gejuig inbring.
6Al loop hy en huil
terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.

Filippense 3:4b-14
As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.
7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Johannes 12:1-8
Jesus word in Betanië met nardusolie gesalf
(Matt 26:6–13; Mark 14:3–9)
12 Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. 2Daar het hulle vir Jesus ’n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3Toe het Maria ’n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.
4Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: 5“Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”
6Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy ’n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.
7Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. 8Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

Fokusteks

Jesaja 43:16-21
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen
14So sê die Here, julle Verlosser,
die Heilige van Israel:
Om julle ontwil
stuur Ek iemand teen Babel
en laat Ek al sy inwoners,
die Galdeërs, vlug
met dieselfde skepe waarop hulle
hulle vroeër beroem het.
15Ek is die Here, julle heilige God,
die Skepper van Israel, julle Koning.
16So sê die Here,
Hy wat ‘n pad gemaak het deur die see,
‘n deurgang deur die magtige waters,
17Hy wat strydwaens en perde
laat optrek het,
‘n leër op volle sterkte
na sy ondergang toe.
Hulle kon nie weer opstaan nie,
dit was klaar met hulle,
hulle is soos ‘n lamppit uitgedoof.
18Maar moenie net
aan die vroeëre dinge dink
en by die verlede stilstaan nie.
19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,
dit staan op die punt om te gebeur,
julle kan dit al sien kom;
Ek maak in die woestyn ‘n pad,
Ek laat in die droë wêreld
riviere ontspring.
20Die wilde diere sal My vereer,
die jakkalse en die volstruise,
omdat Ek water gee in die woestyn,
riviere in die droë wêreld
om my volk, my uitverkore volk,
se dors te les.
21Dit is die volk wat Ek
vir My geskep het,
en wat my lof sal verkondig.

Ekstra stof

Jesaja verseker in hoofstuk 43 die volk van God se verkiesende liefde (43:1-13) wat Hom beweeg tot ‘n nuwe bedeling (43:14-21) omdat Hy getrou is aan Homself (43:22-28).

43:1-13: Dit is vir baie van ons seker een van die mooiste gedeeltes in die Bybel. Maar luister daarna ook uit die hoek van ‘n volk wat in ballingskap sit en dié bemoedigende woorde van God hoor. God kies hulle uit om aan hulle liefde te bewys en bymekaar te maak in ‘n Tweede Eksodus waar hulle van alle windstreke weer terug na die Beloofde Land sal keer. En alle nasies sal getuies wees van hierdie proses. Let op hoe die roeping van die gehoorsame dienaar van die Here uitgespel word: “sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is.”(43:10). Terloops: Seba was die seun van Kus (Gen 10:7) en was dus ‘n ander naam vir Ethiopië.

43:14-21: God bewerk hierdie Tweede Eksodus deur ‘n nuwe ding te doen, dit is om die Galdeërs te verslaan (deur die Persiërs) en sy volk in ere weer te herstel.

43:22-28: Die redding gebeur al verdien Juda dit nie, en het hulle selfs nie daarvoor gevra nie. God vergewe hulle omdat Hy getrou bly aan Homself. In woorde wat reeds in die eerste hoofstuk gebruik is in Jesaja, nooi God hulle uit om die saak met Hom uit te maak, ‘n tema wat in die volgende hoofstuk verder gevoer sal word.

2.3 Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 126

Seëngroet: (Filippense 1:1b-2)

Sang: Lied 214 “Here ons sal U loof vs 1,2,3”

Wet: Matteus 22:34-40

Skuldbelydenis: Psalm 19

Vryspraak: Filippense 3

Geloofsbelydenis van Nicea

Loflied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Jesaja 43:16-21

Familie-oomblik
Prediking

Gebed: (Uit Jesaja 43)

Offergawes

Wegsending: Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Uitsending
Verbintenis

Seën: Numeri 6:24-26

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 126
Toe die Here die lot van Sion
verander het,
was dit vir ons soos ’n droom.

4Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.

Seëngroet
Aan almal in ………………………………………. wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(Filippense 1:1b-2)

Sang: Lied 214 “Here ons sal U loof vs 1,2,3”

Wet: Matteus 22:34-40
Die vraag oor die grootste gebod
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”
37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis: Psalm 19
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser.

Vryspraak: Filippense 3
7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Geloofsbelydenis van Nicea
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge; en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore: Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God, gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader, deur wie alles tot stand gekom het. Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword; onder Pontius Pilatus is Hy gekruisig; Hy het gely en is begrawe. Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan, en Hy het na die hemel opgevaar. Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie. Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak. Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik. Hy het deur die profete gespreek. Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes. Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige bedeling. Amen.

Loflied: 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Liedere

F22. “Ek Soek U, O God”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Teks en Musiek: Rhe Janse
© 1994 Brettian Productions
(Reeds opgeneem op: Lentereën – Willie Joubert
25 Gunsteling L&A liedere – Louis Brittz
Vrygemaak: Pretoria Oosterlig Gemeente)

Ek soek U, o God, my God,
ek dors na U, God.
Soos ‘n land sonder water,
wil ek tot u nader
om by U te wees,
om by U te wees.

As ek saans aan U dink, my God,
oor U peins in die nag,
dan weet ek U help my,
U hand ondersteun my.
Ek wil naby U bly,
ek wil naby U bly.

Refrein:
Want U liefde is meer werd as die lewe,
daarom sal ek U vir altyd prys;
my hande ophef om u Naam te eer,
want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe… (Nav Ps 63)

F8. “Al Die Lof, Aanbidding En Ere”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Verwondering)
Oorspronklike titel: Be Unto Your Name
Teks en Musiek: Lynn de Shazo & Gary Sadler
Afrikaanse vertaling: Jan de Wet
© 1998 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op Worship Him)

Ons is ‘n oomblik;
U is vir altyd,
God van die eeue,
God voor die tyd.
Ons is ‘n asem;
U is vir ewig –
U wat ons liefhet,
altyd getrou.

Refrein:
Heilig, heilig, Heer God, Almagtig!
Waardig is die Lam wat regeer!
Al die lof, aanbidding en ere
Kom U toe, o Heer,
Kom U toe, o Heer!

Ons is gebroke;
U die Geneser,
Jesus, Verlosser,
Redder en Vriend.
Ons vra die vrae,
U is die Antwoord;
Ons die verdwaaldes,
U is die Weg.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here, toe U ons lot verander het,
het ons gedink ons is aan die droom,
maar U het iets groots aan ons gedoen.
Ons is bly dat U ons lot, in Jesus Christus, verander het.
Wanneer ons vanoggend u Woord oopmaak en luister,
laat ons opnuut die trane hoor wat dit U gekos het om u Seun soos saad in die dorre grond te saai dat Hy sterf.
Laat u Woord vanoggend weer met vreugde in ons lewe grondvat sodat ons sal juig tot U eer. Amen.

Skriflesing: Jesaja 43:16-21

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Roep ’n paar kinders vorentoe. Laat hulle hulle vingers aflek, dit in ’n bakkie met sout druk en dan weer aflek (of gee vir hulle ’n pakkie sout-en-asyn aartappelskyfies om dadelik te eet). Nou kan hulle voel hoe dit moet voel om dors in die woestyn te wees. Plaas vooraf ‘Jannie-verjaar koeldrank’ (sommer gewone groen of rooi koeldrank) iewers waar niemand dit kan bereik nie en ’n koelboks waar dit sigbaar is, maar onopvallend. Sê vir die kinders “Is julle dors? Kry dan vir julle van die koeldrank”.

Nadat die kinders dit probeer bereik het, sê vir hulle dat hulle op die verkeerde plek soek, want in die koelboks (iewers bereikbaar) is daar vir elkeen ’n yskoue blikkie koeldrank (nog lekkerder en beter as die Jannie-verjaar koeldrank).

Ek maak in die woestyn ’n pad,
Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.
20Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise,
omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld
om my volk, my uitverkore volk, se dors te les.
21Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.

Preekriglyn

Die eerste gedeelte van Jesaja (hfs 1-39) handel oor die profeet se kritiesk op die volk se ongehoorsaamheid aan die Here. Dit lei uiteindelik tot God se oordeel wat die volk in balliingskap sou laat gaan. Jesaja roep die heersers en mense van die koninkryk van Juda tot verantwoording voor die Here en profeteer oor die komende vernietiging van Jerusalem.
Vanaf hoofstuk 40 begin Jesaja praat met die volk wat intussen in Babilonië in ballingskap beland het. In die ballingskapstyd bring die profeet hoofsaaklik ‘n boodskap van troos en bemoediging.

Ons teksgedeelte (43:16-21) beskryf die Here op só ‘n wyse dat dit hoop en troos moes bied aan die toehoorders.

Ons teks troos deur op twee belangrike motiewe te wys:

  • Vers 16-17 verwys baie duidelik na die uittog uit Egipte. Die taal en verwysings daarin herinner die gehoor dat die Here reeds met die uittog uit die slawerny van Egipte gewys het Hy is by magte om die Verlossergod vir sy volk te wees. Die nederlaag van die Egiptiese leërmag by die Rietsee word in hierdie verse dramaties in herinnering geroep – byna in dieselfde styl as die liedere van Moses en Miriam in Eksodus 15. Ons kan hierdie tema die uittogmotief noem.
  • Die uittogmotief gaan van vers 18 af oor in skeppingstaal. Dit handel oor God se beheer oor die waters van chaos en vernietiging. Soos Genesis 1 en 2 se skeppingsverhale alreeds aangedui het, behels God se skepping onder andere dat die waters – wat simbool van oerchaos was, maar ook van lewegewende vrugbaarheid geskei en gekanaliseer word. Ons kan hierdie tema die skeppingsmotief noem.

Skepping en uittog is ten nouste verwant. Die skepping van riviere in die wildernis, en ‘n pad deur die woestyn, word in vers 19 as die “nuwe” aangedui. God se skeppingskrag en skeppingswerke is telkens nuut; dit bring nuwe lewe waar daar dorheid en versmorende droogte is. Die effek van hierdie nuwe skepping word in vers 20-21 uitgedruk: Die diere van die veld sal juig oor die riviere waaruit hulle dors geles kan word, en God se volk sal Hom loof vir die nuwe lewe wat Hy gee.

God doen nuwe dinge

Die draaipunt in hierdie paragraaf – tussen die herinnering aan die uittog en die aankondiging van die nuwe skepping wat op die punt staan om te gebeur – kom in vers 18 voor: “Moenie aan die eerste dinge dink nie; aan die vroeëre dinge moet julle nie aandag gee nie” (eie vertaling).

Dit kom as ‘n verrassing, of selfs ‘n skok, dat die profesie direk ná die herinnering aan die uittog, die gehoor herinner dat hulle nie by daardie “eerste/vroeëre dinge” moet vashaak nie.
Daardie herinneringe is uiteraard waardevol, en oortuig die volk selfs dat die Here ‘n sterke God is wat verlossing uit slawerny kan bewerkstellig. Maar, die profesie herinner die gehoor dat God se betrokkenheid by sy volk nie net tot die groot dade van die verlede beperk is nie, maar dat dit telkens weer nuut is.

Dit is asof die profetestem in hierdie perikoop wil sê: “Moenie die Here net in die verlede vaskluister nie. Hy is nie ‘n soort museumstuk wat net aan die goeie ou dae wat verby is, herinner nie. Hy is nou weer nuut! Sy verlossingsmag en verlossingswil is nou net so relevant soos wat dit vir die volk in Egipte was!”

Met hierdie dramatiese draaipunt in die teks word die volk nie net sielkundig gelei om vorentoe, in plaas van agtertoe, te kyk nie. Dis veel meer as ‘n sielkundige strategie; dis die kern van hulle teologiese nadenke in hierdie tyd!

Die konteks van die ballingskap moes hulle nie mislei om te dink dat die Here nou die pad enduit met sy volk gestap het en hulle nou aan die magte van vernietiging oorgegee het nie. Daarin sou geen hoop of troos opgesluit gewees het nie. Maar, die kern van hulle teologie moes wees dat die Here selfs in die allerhaglikste en doodse omstandighede steeds skeppingsmagtig is. Hy kan weer ‘n uittog bewerkstellig! Hy kan weer lewe en vrugbaarheid bring in ‘n dorre en doodse wêreld.

Ballingskap

Die historiese agtergrond van ons teks is die Babiloniese ballingskap. Met die finale wegvoering van leiers uit Jerusalem, asook die vernietiging van die tempel en die stad deur Nebukadnesar van Babilon in 586 vC, is die volk van die Here in diepe ontnugtering gedompel. Gedurende die ballingskap is die volk verstrooi oor die bekende wêreld van destyds: sommige het na Egipte gevlug of is daarheen gedwing; ander het in haglike omstandighede in Juda en Jerusalem agtergebly om tussen die ruïnes ‘n bestaan te probeer maak; en nog ander is deur die Babiloniërs na die land van die groot riviere, die Tigris en Eufraat, geneem.

Die boodskap van hierdie deel van Jesaja ontspring vanuit die Babiloniese ballingskaps-omstandighede en was gerig aan daardie groepering van ballinge in verstrooiing. Die ballinge in die Babiloniese verstrooiing se lewensomstandighede was ironies eintlik beter as die omstandighede van diegene wat in Juda en Jerusalem agtergebly het. Hulle het algaande in hierdie verre land in die samelewing en ekonomiese omgewing begin integreer, en selfs later met die plaaslike bevolking begin ondertrou.

Sionsteologie: God is aan ons kant

Die ontnugtering was egter nie soseer oor hulle fisieke lewensomstandighede nie. Dit was eerder ‘n teologiese ontnugtering. In die dekades voor die vernietiging van Jerusalem het die sogenaamde Sionsteologie in Jerusalem en in die koninkryk van Juda hoogty gevier.

Omdat daar vir baie jare ‘n stryd was tussen die noordelike koninkryk Israel en die suidelike koninkryk Juda oor wie se weergawe van die Jahwistiese godsdiens die “ware” godsdiens verteenwoordig, asook oor wie se heiligdom as die werklike woonplek van God beskou sou kon word, het die val van Samaria en die noordelike koninkryk in 722 vC ‘n reuse-impak op die teologiese selfverstaan in die suidelike koninkryk gehad.

Diegene in die godsdienstige leierskap in Jerusalem het hierdie historiese gebeure vertolk as sou dit ‘n finale bevestiging wees dat die tempel in Jerusalem die “ware” plek van aanbidding is en hulle weergawe van Jahwisme die “ware” beoefening van die godsdiens. Toe die Assiriërs, wat Samaria vernietig het en Israel in ballingskap gevoer het, Jerusalem later ook beleër het (rondom 701 vC) maar nie daarin kon slaag om die stad in te neem nie, is die selfversekerdheid van die tempelgemeenskap in Jerusalem daardeur versterk. En om dit alles te kroon, is die einste Assirië ‘n paar dekades daarna (in 612 vC) deur die Babiloniërs verslaan.

Al hierdie gebeure is deur die tempelleierskap in Jerusalem vertolk as tekens dat hulle beslis die uitverkore volk van God is, dat die tempel die plek is waar hemel en aarde aan mekaar raak en dat die koning uit die stam van Dawid wat op hulle troon gesit het, ‘n ewige koning is.

Ontnugtering

Groot was die ontnugtering egter toe die Babiloniërs uiteindelik in 586 vC daarin geslaag het om Jerusalem en die tempel te vernietig, die kultus tot niet te maak en die koningskap van die Dawidiese geslag tot ‘n einde te laat kom.

Binne die konteks van oorgerustheid en selfversekerdheid wat in die voorafgaande dekades geheers het, het die boom van hulle godsdienstige bestaan meteens uitgeval. Skielik moes hulle hulleself afvra: Is die Here nog aan ons kant? Is ons nog God se volk? Is die Babiloniërs se gode nie nou in beheer nie? Hoe gemaak as ons nie meer ‘n koning uit die Dawidhuis het wat oor ons heers nie? Hoe kan ons die Here steeds hier by die riviere van Babilon aanbid as die tempel in Jerusalem in ruïnes lê?

Troosboodskap

Dit was die omstandighede waarin die troosboodskap van Jesaja aan die Judese ballinge in Babilon gerig is. Die oordeelsboodskap van vroeër (hfs 1-39) gaan nou oor in ‘n troosboodskap, gegrond op presies dieselfde oortuigings met betrekking tot God as voorheen. Dit was die Here se verlossingsdade wat hulle sy volk gemaak het. En dit het die volk in Jerusalem vergeet tydens die tydperk waarin die Sionsteologie hoogty gevier het.

Die troosboodskap van Jesaja in die ballingskapstyd herinner hulle: God is die sterke Verlossergod wat al deur middel van sy groot dade van die verlede getoon het dat Hy sy volk ter wille wil wees en hulle wil verlos uit slawerny en verdrukking. Daarom speel die uittogmotief so ‘n groot rol in ons teks.

God kom altyd weer nuut maak; Hy bring weer lewe waar alles dood en dor is. Daarom kan die dorheid van die woestyn nie eers God se nuwe verlossingsdade weerhou nie.
Jesaja kom herinner hulle daaraan dat God al ‘n droë pad deur die see gemaak het met die uittog uit Egipte. Hy is daarom in staat om riviere in dorre en doodse werklikhede te laat uitbreek. Selfs al sit hulle in ballingskap, kan God dit weer nuut maak.

Water en mag

In die Ou Nabye Ooste, in koninkryke soos Babilonië en Persië was die beheer van water, en die kanalisering daarvan om pragtige tuine aan te lê, nie blote verwysings na ‘n fisiese werklikheid nie. Pragtige en kunstig uitgelegde tuine is dikwels by koningspaleise aangelê as uitdrukking van mag en invloed. Die beheer en kanalisering van water het daarop gedui dat die betrokke koning die oerchaosmagte (wat deur die waters verbeeld word) in bedwang kan hou en dat orde en lewensruimte daaruit geskep kan word. Hierdie konings is daarom ook vereer as heersers wat ‘n kultuurland kon skep uit ‘n doodse en dorre omgewing.

Die beeld van die Here as dié God wat ‘n droë pad deur die waters van die Rietsee kon maak om sy volk uit die slawerny van Egipte te red, en as dié God wat riviere in ‘n dorre streek kan laat uitbreek, het dus ook duidelike kritiek op die magspel van die destydse heersers.

Die ballinge moennie onder die indruk van die konings se mag moes wees nie, want die Here hulle God is die Skeppergod wat eenduidig sy heerskappy oor alle dinge – ook die doodsheid en dorheid van die natuur – kom toon het.

In ‘n tydperk waarin die Judese ballinge self geen koning gehad het wat kon kompeteer met die Babiloniese konings nie, is die belydenis duidelik dat die Here hulle koning is. Hy oortref alle aardse magte deurdat Hy skeppings- en ordeningsmag het. Dit het al geblyk uit die oorgelewerde verhale oor die uittog uit Egipte – “die vroeëre dinge” soos vers 18 dit noem.

Maar daarby moet die gehoor van Jesaja nie bly stilstaan nie. Want God skep nuut. Hy is besig om iets nuuts te doen; dit staan al op die punt om te gebeur! En hierdie wete, te midde van die historiese konteks, skep hoop op nuwe uitkoms uit die ballingskap. Dít is hulle enigste troos!

Droogte

Terwyl ons hier bymekaar is, is gedeeltes van ons land vasgevang in ‘n knellende droogte. Ander dele kom weer deur ‘n geweldige droogte. Hoewel daar uitkoms is, is die waternood op baie plekke nie gebreek nie.

Op ‘n baie kinderlike vlak praat hierdie teks ons moed in. Die Here self sal weer rivier in die droë aarde oopbreek.
Onder moet egter dieper delf. Die teks wil veel meer sê as om mense moed in te praat wat onder droogte gebuk gaan. Hoewel die fisieke konteks sekerlik ‘n groot rol gespeel het in die profetiese voorstellings wat ons in hierdie teks vind dien die fisieke werklikheid hier om te verwys na iets veel dieper en ryker. God se skeppings- en verlossingsmag vernietig alle magte van chaos en bedreiging. Die oerchaoswaters word gekanaliseer deur die Here.
Soos hy ‘n pad deur die waters van die Rietsee gemaak het met die uittog, so kan Hy ook ‘n pad in die dorre wildernis maak.
Dit is juis hierdie elemente wat die teks ‘n gepaste teks vir Lydenstyd maak, die tyd van die kerkjaar waarin ons ons tans bevind.

Absolute doodsheid

Hier in Lydenstyd kan ons weer die absolute doodsheid en dorheid van die ballinge se bestaan in herinnering roep. Die vernietiging van hulle totale bestaan in Juda en Jerusalem was die gevolg van hulle oorgerustheid en selfversekerdheid. Die soort denke waartoe die Sionsteologie hulle mislei het (“God is outomaties aan ons kant”), het hulle algaande laat misverstaan wat dit beteken om God se volk te wees.

Die verlossing wat die Here sou bewerkstellig sou ‘n nuwe bestaan vir die Here se volk inlei. Dit sou as ‘t ware ‘n nuwe werklikheid wees wat aanbreek, oftewel ‘n herskepte werklikheid. Juis daarom herinner hierdie profesie ook die toehoorders aan die uittoggebeure uit Egipte. Dit was veel meer as maar net ‘n uitredding uit ‘n toestand van politieke verdrukking in ‘n vreemde land en onder vreemde heersers. Die uittog en die deurtog deur die Rietsee en die woestyn was as ‘t ware ‘n nuwe skeppingsproses. ‘n Nuwe volk kom daaruit tot stand.
Daarom kan Christengelowiges by wyse van terugskouing ook iets van die Christusgebeure in hierdie teks kan opmerk. Ons herken in die profesie iets van die verlossingsgebeure wat ons in Christus beleef het:

  • Christus se lyding, sterwe en opstanding lei ‘n nuwe skeppingsgebeure in.
  • In Christus se lyding en sterwe daal Hy in die dorheid en doodsheid van ons bestaan in, maar in sy opstanding breek daar riviere in die woestyn deur. Dan maak Hy ‘n pad deur die wildernis na nuwe lewe, oftewel, ‘n nuwe skepping.
  • Dié volk van God wat die Christusgebeure beleef het en bely, word nie bloot uitgered uit moeilike omstandighede nie, maar word herskep tot ‘n nuwe bestaan. Daardie nuwe bestaan getuig van God se heerskappy en mag oor die volle werklikheid. Dit getuig van nuwe lewe en lewensmoontlikhede wat uitspruit wanneer mense van oorgerustheid en selfvoldaanheid bevry word.
Waarvan?

Kom ons vra die vraag: “Waarvan verlos Christus ons?” Hierdie vraag help ons ontdek dat Christus se lyding en sterwe deur en deur ‘n vereenselwiging is met ons doodsbestaan – ‘n bestaan wat getuig van selfvoldaanheid en selfversekerdheid. Die aard van hierdie doodsbestaan word treffend toegelig deur die omstandighede waaroor Jesaja 43 reflekteer.

Waartoe?

Maar dan kan dit opgevolg word met die vraag: “Waartoe verlos Christus ons?” Ons leer ken ook die aard van God se verlossing in die profesie van Jesaja 43. Dis ‘n nuwe skepping wat deurbreek in die dorheid van die woestyn. Hierdie verlossingsdaad van God is telkens nuut in nuwe omstandighede. So moes die ballinge in Babilon agterkom. So kan die Christengemeenskap na Pase ook agterkom. In die verlossingswerk van Christus, soos treffend verbeeld in sy lydensweg, kruisiging en opstanding, is God besig om sy verlossingsdade nuut te realiseer. Christengelowiges kan instem op die toonaard van Jesaja se profesie. Dit dien tot troos (soos in die geval van Jesaja), maar ook tot aanmoediging.

God stuur ons om te leef

Gebed: (Uit Jesaja 43)
Dankie Here
dat U iets nuuts gedoen het,
dat U in die woestyn ’n pad gemaak het,
in die droë wêreld riviere laat ontspring het.
Saam met die wilde diere wil ons U vereer,
omdat U water gee in die woestyn,
riviere in die droë wêreld,
om U volk, U uitverkore volk,
se dors te les.
Ons verkondig hiermee U lof!
Amen

Offergawes

Wegsending: Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Uitsending

Verbintenis
Voorganger: Here, U het ons lot verander, laat almal daarbuite dit sien.
Gemeente: Ons wil sing oor ons nuwe lot en wil laat almal hoor ons juig.

Seën: Numeri 6:24-26
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee! Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.