Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Ons Lydenstydreis deur hoogtepunte uit die Ou Testament bring ons by die opwinding van die werk van die Gees van God. Die Gees is die krag van God wat doodsbeendere laat verrys (Eseg 37). Wie dus in donkerte kan bly sing: “Ek wag op die Here wat altyd vergewe” (Ps 130) en die Een wat Lasarus uit die graf terugroep (Joh 11). Die reis wat ons met Jesus op sy kruisweg lei, bevestig in ons harte dat niemand sonder die Gees van God waarlik leef nie. Die liturgie roep ons tot dieper vertroue in die lewegewende krag van God.

Ander tekste

Psalm 130
130 ’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Romeine 8:6-11
6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

Johannes 11:1-45
11 ’n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. 2Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. 3Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.”

4Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

5Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. 6Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. 7Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.”

8Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?”

9Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in ’n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. 10Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.”

11Hierna het Hy vir hulle gesê: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

12Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.”

13Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap. 14Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, 15en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”

16Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”

Jesus by Marta en Maria
17Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.
18Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; 19en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos.

20Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. 21Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

23Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

27“Ja, Here,” sê sy vir Hom, “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

28Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. 30Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. 31Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. 32Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

Jesus laat Lasarus uit die dood opstaan
33Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?”

Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.”
35Jesus het gehuil. 36Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”
37Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”

38Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ’n rotsgraf, en daar was ’n klip voor die ingang gerol. 39Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”

Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

40Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

41Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

43Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!”

44Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ’n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

Die Joodse Raad besluit om Jesus dood te maak
(Matt 26:1–5; Mark 14:1–2; Luk 22:1–2)
45Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

Fokusteks

Esegiël 37:1-14
Ek sal julle terugbring
37 Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in ‘n laagte. Die laagte was vol bene. 2Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.

3Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”
Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”
4Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! 5So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: 6Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

7Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek ‘n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. 8Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. 9Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

10Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was ‘n baie groot menigte. 11Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’12Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe. 13Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. 14Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here.

Liturgie

RUS

Toetrede: VONKK 21 of Psalm 130 of Lied 444

Votum: Psalm 130:5-6

Seëngroet: Psalm 130:7-8

Lofsang: VONKK 214 of Flam 461 of Lied 443

Verootmoediging: Romeine 8:6-11

Toewyding: Flam 339 of VONKK 249

Simboliese handeling

Lauren Daigle se “Come Alive (Dry Bones)

Geloofsbelydenis/Gebed oor die Heilige Gees: (Herman Bavinck)

HOOR

Gebed

Skriflesing: Esegiël 37:1-14a

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 588 of Lied 531

Seën: Psalm 130:7-8, gevolg deur gewone trintariese seën

Respons: VONKK 90

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
VONKK 21 Wag op die Heer of
Psalm 130 of
Lied 444 “Kom kyk!  Kom kyk!”

Votum
Psalm 130:5-6
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.

Seëngroet
Psalm 130:7-8
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Lofsang
VONKK 214 Nog Voordat Ek ’n Kind Was  of
Flam 461 Uit Die Dieptes (Psalm 130 / Ek Wag Op U) [kan ook toetrede lied wees] of
Lied 443 “Wind kan jy nie sien nie”

Verootmoediging
Romeine 8:6-11
6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon

Toewyding
Flam 339 Gees Van God, Kom Neem Nou Beheer (Roem In U Naam) of
VONKK 249 Vader, ons buig hier laag
[onderstaande uit die Seisoen van Luister se 2015 liturgie oor hierdie week se fokusteks]
My Gees is uitgedor, want dit het vergeet om deur U gevoed te word.
Here, ons smeek U om ons te bevry van ons

  • vrees vir die onbekende toekoms
  • vrees vir mislukking
  • vrees vir armoede
  • vrees vir verlies en hartseer
  • vrees vir eensaamheid
  • vrees vir siekte en pyn
  • vrees vir ouderdom
  • vrees vir die dood
  • vrees vir…. (voeg by of gee kans vir stil gebed)

[Gee geleentheid vir ‘n simboliese handeling – dat mense hul “droeë bene” vorentoe bring en iewers op die liturgiese ruimte sit:  op/in die doopfont, naby die Nagmaalstafel, ens.  Gee óf vir mense papiertjies om hul vrese/”droeë bene” neer te skryf, of iets wat die droeë bene simboliseer.  Laat hulle dink wat dié doodsheid in hul eie lewens is wat roep om lewe en díe simbolies na God bring.]

Laat die gemeente rustig lusiter na Lauren Daigle se “Come Alive (Dry Bones) – hierdie video is van die lirieke, wat dit maklik maak om te volg.

Geloofsbelydenis/Gebed oor die Heilige Gees
Ek glo in ‘n geheimsinnige Iemand wat naby my is,
wat binne-in my is,
wat my armsalige gespartel en gespook sien,
wat my dan stilletjies vashou
en my ongemerk van binne uit weer innerlike krag gee.
Ek het dit vele male in my lewe ervaar
as ek wegsing en meegevoer word deur die strome van die lewe
wat my na onder wil trek.
Maar ek het ook in beslissende oomblikke in my lewe ondervind
dat ek opgetel en hoog bo die water gedra word.
Daar was oomblikke dat ek my Bybel sou oopslaan
en elke woord daarin vir my dof en vervelend geklink het.
Maar ek het ook oomblikke beleef waarin die woorde
as’t ware op my afspring, waarin dit glinster en my lewe vul.
En altyd weer was ek oortuig dat daar Iemand in my moet wees,
Iemand wat my vashou,
Iemand wat my saggies maar ferm in die arms toevou.
Ek glo in die Heilige Gees.
(Herman Bavinck, aangehaal in Gebed van die hart deur Willem Nicol)

Liedere

VONKK 21 “Wag op die Heer”
Nav Markus 13:33,35,36
Teks: Wait for the Lord – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992 Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaanse  in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Geloof en Vertroue / Hoop en Voleinding

Wag op die Heer,
sy dag kom gou.
Wag op die Heer:
bly bid en waak.

Wait for the Lord,
whose day is near.
Wait for the Lord:
keep watch, take heart!

VONKK 214 “Nog Voordat Ek ’n Kind Was” 
Nav Psalm 139 Teks: Alwena van der Vyfer 2006 ©
Melodie: HAMMAN – Alwena van der Vyfer 2006 ©; aangepas VONKK Werkgroep 2012
Orrel- en klavierbegeleiding: Daleen Kruger 2012 (Pro Deo)
© Teks en melodie: Alwena van der Vyfer  2006 (geregistreer by SAMRO). Met toestemming gebruik.
© Orrel- en klavierbegeleiding: 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK:  Kinderpsalm – Geloof en Vertroue / Kindwees

Nog voordat ek ’n kind was, het U van my geweet.
Al die bene in my lyf het U reeds opgeskryf –
elke toon en elke voet, elke vinger en ook hand,
my arms en my bene, my kop en my verstand.

Refrein:
Want U is bo my, om my, langs my, agter en ook voor.
U is altyd in en by my, of ek ry en of ek bly.
Want U is bo my, om my, langs my, agter en ook voor.
U is altyd in en by my of ek ry en of ek bly.

F461. “Uit Die Dieptes (Psalm 130 / Ek Wag Op U)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof)  Teks en musiek: Louis Brittz  Kopiereg: © Urial Publishing

Uit die dieptes roep ek na U,
hoor my hulpgeroep, o God.
Sou U my sonde my toereken
wat sou van my oorbly, Heer?

Maar by U is daar vergifnis
daarom sal ek U bly dien.

Refrein:
Ek stel vertroue in  die Here
op die vervulling van u Woord.
Meer as wat die wagters op die môre wag
wag ek op U,
wag ek op U

VONKK 249 “Vader, ons buig hier laag”
Teks: Cecilia van Tonder 2012 © Musiek: TANKWA – Cecilia van Tonder 2012 ©
Musikale verryking: Cecilia van Tonder  2013 © © 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging

Vader, ons buig hier laag in belydenis.
U weet dat elke mens voor U skuldig is.
Ons wil ootmoedig vra dat U vergeef.
Ons wil gehoorsaam aan U leef.
Vader, ons buig hier laag voor u voete neer.
In u genade, Heer, neem U nou beheer.

F339. “Gees Van God, Kom Neem Nou Beheer (Roem In U Naam)”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof / Gebed) Teks en musiek: Ferreira Marais
Kopiereg: Ó 2009 Flam Musiek-Uitgewers (Opgeneem op In U Hande – Trefpunt)

Gees van God, kom neem nou beheer
van ons denke en ons harte,
van ons vrese en ons vlees.
Gees van God, kom lei ons vandag
in ons passie en aanbidding,
in u wysheid en u krag.

En ons hef ons hande op na U
en ons sing uit ons harte vir U.

Ons roem in u Naam
in u grootheid en u heerlikheid.
Ons roem in u Naam
in u liefde en u heiligheid.
Want U is ons God,
God van elke stam en taal.
Ja, U is ons God. Amen.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Esegiël 37:1-14a

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Soos altyd met narratiewe tekste, is dit goed om gewoon die teks op dramatiese manier te lees.  Daarom het ons in 2015 voorgestel:

“Vertel die storie met geluide.  Carolyn Brown sê:  Provide castanets, rain sticks, rattles of all sorts, cans filled with dried beans, or anything that rattles for the verses about the bones.  Several people blow on live microphones or rub sandpaper blocks together to produce the wind sound for verses about God’s breath.  A children’s class could be enlisted to serve as a sound choir practicing in advance.  Or, children could be invited forward to provide sounds as the scripture is read.  In either case, they will need a director leading them during the reading.  It will also help to read the passage twice, first without the sounds, then with them.”

Jy kan ook na die Skriflesing hierdie video van die liedjie “Dem Bones, Dem Dry Bones” wys.  Vir ‘n lekker prettige opsie kan almal die verskillende bene wys soos die liedjie daarvan praat.  As die gemeente kans sien vir enige iets, kan julle die liedjie saam sing en dit al vinniger sing, terwyl almal na die verskillende bene wys.  ONTHOU:  kinders voer nie hul geloof vir grootmense op nie.  Ons woon eredienste sáám by en aanbid sáám.  Daarom noem ons hierdie ook nie ‘n “kinder-oomblik” nie.  Daag die grootmense uit om deel te neem aan die aktiwiteit, sodat die kinders nie voel hulle moet “perform” of dat hulle daar is vir die grootmense se vermaak nie.

Hier is ‘n templaat wat kinders kan gebruik om met “split bins” geraamtes te maak.

Preekriglyn

Wie van julle het ooit die TV-reeks “Bones” gekyk? Dit handel oor ‘n forensiese antropoloog, Bones, wat sommer ‘n hele klomp dinge uit bene kan aflei. Bene verklik hoe oud hulle is, hoe die mense of dier waaraan hulle behoort het, geleef het en uiteindelik ook dood is.

Daar is ‘n vakgebied, osteologie, wat die studie van bene is. Nie net forensiese antropologie nie, maar ook anatomie en argeologie stel belang in bene.

Ja, bene vertel ‘n storie. Bene vertel van geslag, dieet, siektes, lewenstyl, ouderdom, groeikrag, noem maar op.

Vandag het ons ook met ‘n verhaal oor bene te doen. Dooie bene. Bene wat ons vertel van die doodse toestand van God se volk. Maar ook van die groot krag van van God. Hierdie bene vertel daarom net soveel van God as van die mense.

God en Esegiël

Op soortgelyke wyse as wat Esegiël aan die begin van sy bediening na ‘n vallei geneem is – hfst. 3:22 – neem die mag van die Here weer van Esegiël besit, waarskynlik so 10 jaar ná die eerste gebeure, en bring hom deur die Gees van die Here uit en sit hom neer in ‘n laagte.  Dit is waarskynlik dieselfde plek, omdat dieselfde Hebreeuse woord gebruik word.

Waar met die eerste besoek aan die plek die Here vir Esegiël ‘n gesig van Homself gegee het wat hom op die grond laat neerval het, gee die Here hier vir Esegiël ‘n gesig van die volk as ‘n duisternis dooie bene wat dink dit is klaar met hulle.  Waar Esegiël die eerste keer nie enigiets mag gesê het vir die “weerbarstige” volk nie, word hy dié keer ‘n opdrag gegee om nie net nuwe lewe en eenheid te profeteer oor die volk nie, maar selfs as profeet met die Gees te praat in opdrag van die Here om op tree (37:1-14).

Soos die vorige keer beveel die Here hom ook om ‘n simboliese handeling uit te voer, as kragtige verbeeldingryke metafoor, hierdie keer deur op twee stukke hout te skryf en hulle tot een stuk in sy hand saam te voeg (37:15-28).  Daarmee hou die Here die droom van eenheid onder dié wat Hom aanbid, lewendig.  Die ou verdelings tussen noord en suid sal verdwyn in die fokus op die Here se teenwoordigheid.

Dooie bene word lewendig

In Esegiël 37:1-14 gee die Here die belofte “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.

Die Here gee vir Esegiël ‘n gesig van die volk as ‘n duisternis dooie bene wat dink dit is klaar met hulle.  Die Here gee hom ‘n opdrag om nie net nuwe lewe en eenheid te profeteer oor die volk nie, maar selfs as profeet met die Gees te praat om op tree in opdrag van die Here.

Let op hoe beide die woord van God sowel as die Gees van God die lewe bring.

Die profetiese “prediking” skep die verwagting en bereidheid om te luister.  Die profetiese “gebed” – by gebrek aan ‘n beter woord om die gesprek met die Gees te benoem – laat mense in beweging kom as direkte resultaat van die Gees wat lewe bring.  Só bewerk die praat met mense en die praat met God die hernuwing wat nodig is.

Albei is nodig, maar die praat met mense kan nie slaag sonder die praat met God nie.  Soos John Taylor sê: “What preaching by itself failed to achieve, prayer made a reality.” (Ezekiel).

Die belofte van God is dus dat die volk uit die doodsbestaan in die vreemde – die duisternis dooie bene dui op die volk en die grafte op die ballingskap – verlos sal word en na hulle eie land teruggebring sal word.  “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.”

Nuwe Testament

Die evangelie van Johannes gebruik waarskynlik perspektiewe uit hierdie gedeelte op ten minste twee plekke.

  • In Jesus se gesprek met Nikodemus is Jesus verbaas dat hy nie verstaan dat ‘n mens van bo-af gebore moet word nie – hfst. 3.
  • En in Joh. 5:25 verwys Jesus by die bad van Betsata tydens die huttefees op soortgelyke wyse na die lewe wat Hy bring vir dooies: “Daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor, en dié wat daaraan gehoor gee, sal lewe.

Dit is inderdaad iets wat Jesus ook fisies geïllustreer het met die opstanding van Lasarus en natuurlik uiteindelik van Homself.

Geen wonder dat hierdie gelykenis van volksherstel in die tyd van Esegiël uiteindelik ‘n gelykenis en belofte van geestelike geboorte en ook herstel in die tyd van die kerk geword het nie.

Kom ons staan nou stil by die boodskap van hierdie gedeelte.

Vervulde belofte

Hierdie gedeelte word baie keer gelees net as ‘n belofte van geestelike hernuwing sonder om die historiese konteks daarvan in ag te neem.  Die impak van die boodskap van hernuwing word egter verhoog as ‘n mens dit in die eerste plek hoor as ‘n belofteaan die volk in ballingskap.  Hoekom?  Want hierdie profesie van Esegiël hét in vervulling gegaan met die terugkeer van die ballinge in 538 v.C. soos Esra en Nehemia dit vir ons vertel.

Natuurlik was dit net ten dele: sommige aspekte van die hernuwing is immers eers vervul in die tydvak wat met Jesus Christus aangebreek het; sommige aspekte sal eers aan die einde van die tyd vervul word, bv. die omvattende eenheid waarvan hier sprake is.  Maar, die terugkoms en vestiging in Juda is ‘n genoegsame bewys van die konkrete vervulling van die belofte om as inspirerende getuienis van God se waarmaking van sy beloftes vir ander kontekste te dien.  Esra en Nehemia wys immers hoe die herbou van die tempel, die fokus op die Woord en die herbou van die mure van Jerusalem die geloofsgemeenskap weer hernuwe het.  Dít kan God altyd weer doen.

Dit beteken daarom dat ons met ‘n nog groter vrymoedigheid in ons eie kontekste op hierdie God kan staatmaak wat belowe: “Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe.” (37:4,14).  Hy het dit op ‘n spesifieke manier in die verlede bewaarheid.  Hy kan dit ook in die hede in nuwe kontekste laat gebeur.

Esegiël teken dus vir ons ‘n prentjie van ‘n aktiewe God wat op magtige manier intree in hopelose situasies en deur sy Woord en Gees verandering bring. Ons kan daarop vertrou en daarvoor bid, totdat ons ook ervaar wat Israel ervaar het: “‘Ek het dit (immers) gesê en Ek sal dit doen,’ sê die Here.” (37:14).

Tydsberekening

Esegiël leer ‘n mens egter ook hoe belangrik die regte tydsberekening is.  Die eerste boodskap in hierdie laagte/vallei was om stil te bly en simboliese handelinge van oordeel uit te voer.  Die tweede boodskap in dié plek was om die woord van lewe aan beide die volk en die Gees te verkondig sowel as om simboliese handelinge van hoop daar uit te voer.  Ons het daarom ook vandag nog hierdie tipe profetiese onderskeiding nodig om te weet watter boodskap op watter tyd die woord van God is, sodat dit nie maar net die vrug van ons eie verbeelding is nie.

Daarin speel die Woord en die Gees, die eenheid van die geloofsgemeenskap in al sy diversiteit, sowel as die prediking en gebed van sy leiers ‘n belangrike rol.  En as ‘n mens die dubbele opdrag in gedagte hou – preek en bid – is die praat met die Gees van God van selfs nog groter belang as die praat met mense, trouens van beslissende belang.  Iets wat gerus ons manier van doen kan verander!

Mag ons deur hierdie gedeelte in Esegiël geïnspireer word om só naby die Here te lewe, om só met Hom in gesprek te tree, dat ons inderdaad sal groei in ons onderskeiding van dié dinge wat God besig is om te doen, sodat ons ook die seën van God se teenwoordigheid kan ervaar.  Dan sal ons woorde aan mense die oortuigingskrag hê wat van die Gees self af kom.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 588 “O God van hoop, gee ons vrede” of
Lied 531 “Ons Here, God van alvermoë”

Seën
Psalm 130:7-8, gevolg deur gewone trintariese seën
Wag op die Here, want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
Hy alleen sal ons verlos van al ond sondes.

Respons
VONKK 90 “Maranata!”
Nav I Korintiërs 16:22b Teks: Jannie Hougaard 2004 © Melodie: MARANATA – Jannie Hougaard 2004 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Hoop en Voleinding

Maranata!
Maranata!
Maranata!
Kom, Heer, kom weer!

(Alternatiewe teks;)
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer Jesus!
Kom, Heer, kom weer!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.