Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Hierdie Sondag staan bekend as Judica (“Die reg”) na aanleiding van Psalm 43:1-2a: “Laat tog reg aan my geskied, o God …” Die teks uit Hebreërs 5 lê vandeesweek die grondslag met die belydenis dat Christus die bron van ewige saligheid geword het. Die sleutelteks uit Johannes 12 wys dat hierdie saligheid wat Christus bring slegs moontlik gemaak word deurdat Hy soos ‘n koringkorrel in die grond val en sterf. Die twee tekste uit die Ou Testament eggo die Bybelse verlossingsritme deur Psalm 51 se smeekgebed om die vergifnis van sonde te beantwoord met God se verbondsvernuwing in Jeremia 31 nadat die volk die vorige verbond verbreek het. God is in Christus inderdaad die bron van ewige saligheid.

Ander tekste

Jeremia 31:31-34
31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

Psalm 51:1-12
Neem tog my sonde weg!
51 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid,
na aanleiding daarvan 2dat die profeet
Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel
met Batseba.
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.

Hebreërs 5:5-10
5 Elke hoëpriester is ’n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.
4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron.

5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.”
6En op ’n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde
van Melgisedek.”

7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Sleutelteks

Johannes 12:20-33
Openbare onderrig oor Jesus se dood 
20 Daar was ‘n aantal Grieke onder die mense wat gekom het om op die fees te aanbid.

21 Hulle het toe na Filippus gegaan, wat van Betsaida in Galilea was, en hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus sien.”

22 Filippus het dit toe vir Andreas gaan vertel, en toe gaan sê Andreas en Filippus dit weer vir Jesus.

23 Maar Jesus antwoord hulle: “Die uur het gekom dat die Seun van die Mens verheerlik moet word. 24 Amen, amen, i Ek sê vir julle: As ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit net een enkele korrel; maar as dit sterf, dra dit baie vrug.

25 Wie sy lewe liefhet, verloor dit; maar wie sy lewe in hierdie wêreld gering ag, sal dit vir die ewige lewe behou.

26 As iemand My wil dien, laat hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienskneg ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.

27 “Nou is my siel j ontsteld. Wat sal Ek sê? Vader, red My uit hierdie uur? Maar Ek het tog juis met die oog op hierdie uur gekom!

28 Vader, verheerlik u Naam!” Daar het toe ‘n stem uit die hemel gekom: “Ek het dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”

29 En die skare wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ‘n donderslag was. Ander het gesê: “‘n Engel het met hom gepraat.” 30 Jesus het geantwoord: “Hierdie stem het nie ter wille van My gekom nie, maar ter wille van julle. 31 Nou het die oordeel oor hierdie wêreld aangebreek; * nou sal die heerser van hierdie wêreld k uitgedryf word.

32 En as Ek van die aarde af verhoog word, sal Ek almal na My toe trek.”

33 Dit het Hy gesê om aan te dui watter dood Hy sou sterf.

34 Die skare het Hom toe geantwoord: “Ons het uit die wet gehoor dat die Christus l vir ewig bly, m en hoe sê u dat die Seun van die Mens verhoog moet word? Wie is hierdie Seun van die Mens?”

35 Jesus het toe vir hulle gesê: “Nog ‘n kort tydjie is die lig by julle. Terwyl julle die lig het, leef daarvolgens, sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis leef, weet nie waarheen hy gaan nie. 36 Terwyl julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan wees.”

Toe Jesus dit gesê het, het Hy weggegaan en Hom van hulle onttrek.
Die Bybel 2020-vertaling
Pers is die liturgiese kleur van Lydenstyd. Daar is ook dae waarop ander kleure gebruik kan word. Tydens die Groot Lydensweek word donkerrooi gebruik, maar op Donderdagaand vir die viering van die instelling van die nagmaal word wit gebruik.

 

Liturgie

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord:  – uit Filippense 2:5-11

Seëngroet:  (Uit 1 Pet 1)

Lied 547 “Alle volke, klap julle hande 1,2,3”

Wet

Skuldbelydenis: Psalm 51:1-12

Vryspraak: Jeremia 31:31-34

Geloofsbelydenis

Loflied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Epiklese: uit Psalm 25:1-10

Skriflesing: Johannes 12:20-33

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord  – uit Filippense 2:5-11
V: Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou
G: as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,

V: maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
G: En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder.

V: Hy was gehoorsaam tot in die dood,
G: ja, die dood aan die kruis.

V: Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef
G: en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is,

V: sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is,
G: die knie sou buig,

V: en elke tong sou erken:
G: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God die Vader.
Almal: Amen.

Seëngroet: (Uit 1 Pet 1)
Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld…
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!

Lied 547 “Alle volke, klap julle hande 1,2,3”

Wet: Gebruik Jesus se opsomming van die Wet as voorbeeld van ons skuld voor die Here (maw lig die noodsaak uit dat ons daarvan verlos moet word).
Matteus 22:34-40 ()
Die vraag oor die grootste gebod
(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Skuldbelydenis: Psalm 51:1-12
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!

U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.

10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.

Vryspraak: Jeremia 31:31-34
31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

Geloofsbelydenis
Ek glo in en vertrou op God die Vader,
wat die wêreld gemaak het.
Ek glo in en vertrou op sy Seun Jesus Christus,
wat die mensdom verlos het.
Ek glo in en vertrou op sy Heilige Gees,
wat lewe gee aan die mense van God.
Ek glo in en vertrou op een God:
Vader, Seun en Heilige Gees.

Loflied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Liedere

F44. “Bring Hom Hulde”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994  MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Bring Hom hulde, bring Hom ere
Bring Hom hulde, ere, lof en majesteit
Soos in die hemele, so ook op die aarde
Aan Jesus alleen kom toe die eer en heerlikheid.

Aan die kruis het Hy die vyand uitgeklee 
en in die openbaar oor hom getriomfeer.
Die poorte van die doderyk is uitmekaar geskeur
en die leë graf verkondig steeds: Hy alleen regeer!

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
Teks : Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit

1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

F232. “Jesus Alleen”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: In Christ Alone
Teks en musiek: Keith Getty & Stuart Townend
Afrikaans vertaling: Faani Engelbrecht
© 2001 Thankyou Music

1. Jesus alleen kan ons vertrou
Hy is ons hoop, ons lied, ons krag
Deur storms heen, deur winterkou’
dwarsdeur die duister van die nag
En deur sy liefde, deur sy hand
vind ons weer rus, bind Hy die band
Ons Vaste Grond, ons Fondament
Hier in sy liefde leef ons nou

2. Jesus alleen word mens soos ons
volheid van God vol kwesbaarheid
Oneindig meer doen Hy vir ons
ly vir ons ongeregtigheid
En deur sy offer word ons vry
Hy dra ons skuld, Hy sterf, Hy ly
Ontneem die dood sy heerskappy
Hier deur sy sterwe leef ons nou

3. Daar in die graf deur dood omring
Wie kon dit weet, wie het verstaan?
Daar breek die dag, die nuwe dag
Jesus, ons hoop, het opgestaan
Hy’t opgestaan in heerlikheid
Hy’t ons van vloek en skuld bevry
Ek leef in Hom en Hy in my
Jesus se bloed maak waarlik vry

4. Geen lewensangs, geen sterwensnood
dit is die krag waarop ons staan
Van die eerste tree tot by die dood
wys Hy die weg wat ons moet gaan
Geen duiwelsplan of aardsbestaan
kan ons ooit ruk vanuit sy hand
Hy sal weer kom, sy bruid kom haal
Tot Hy weer kom, sal ons bly staan

God praat met ons en ons luister

Epiklese: uit Psalm 25:1-10
V: Tot U, Here, rig ek my,
G: my God, op U vertrou ek.

V: Laat my vertroue tog nie vergeefs wees nie.
G: Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie.

V: Maak my u wil bekend, Here,
G: leer my u paaie.

V: Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin,
G: want U is God, my redder.

V: Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is.
G: In U stel ek elke dag my verwagting.

V: Tot U, Here, rig ek my,
G: Maak my u wil bekend, Here.

Skriflesing: Johannes 12:20-33

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Carolyn Brown beveel die volgende aan…
Display a crucifix to ponder what Jesus meant by “I will be lifted up.”  Point to the physical ways Jesus was lifted up and how many people saw him die there.  Tell very briefly some of the stories of the cross emphasizing those in which Jesus forgives people.  Acknowledge that it is hard to look at such a painful cross, but it also makes us realize how much God loves us.  We are drawn to that love.  (If the crucifix is not part of your tradition, feature it today to explain a cross they may see in churches of their friends or in their friends’ jewelry.)
of
Die X-Men is “mutants” – mense wat met spesiale “super-powers” gebore word.  Omdat hulle hierdie spesiale kragte het, is hulle helde wat ander mense help.

Vra vir die kinders watter kragte hulle graag sou wou hê as hulle enige “super power” kon hê.  Vertel ook watter krag jy sal wil hê en wat jy daarmee sal doen.

Ons hou van helde en spesiale kragte.  Die mense van Jesus se tyd het ook van helde gehou!  Hulle het gedink Jesus was ‘n held wat die slegte mense sou vernietig.  Daarom wou hulle hom graag sien.

Ons dink ook dikwels, soos die mense van Jesus se tyd, dat ons spesiale kragte nodig het om helde te wees.  Jesus leer vir ons dat ‘n held anders lyk.  Hy oorwin slegte mense deur hulle lief te hê – selfs al kos dit sy lewe!

Dit is hoe God is.  Hy is ‘n held wat liefhet en sy lewe gee. Hy offer homself op om mense te red.

Miskien het ons nie “super powers” soos die X-Men nie, maar ons het ‘n geheime krag – Jesus se liefde vir ons!  Daardie krag help mense wanneer dit ook vir hulle nodig is om baie op te gee om ander te help.

Preekriglyn

Baie van ons is ontwortel in die Corona-tyd. Ons betree die tweede jaar van inperking. Baie se lewens voel en is verrinneweer en gedisoriënteer. Mens wonder hoe dinge weer gaan regkom en hoe ons vorentoe sal regkom?

In so ‘n tyd vra mens nuut wat beteken sukses vir ons. Hoe bereik ons sukses, hoe jaag ons dit na?

Baie mense smag daarna om die ongebreidelde soeke na selfvervulling, selfverruiming en selfverryking te hervat. Hoe gaan ons dinge weer herstel om te wees soos dit was voor Covid ons getref het?

Jesus wys ‘n ander rigting. Sukses en vervulling het met diens te doen. Dit klink vreemd op ons Westerse ore. Ons ken ander opvattings oor sukses.

Waar plaas ons selfverloënende liefde en diens ons op hierdie weg na sukses? In ons teks word voorspoed verbind aan sterwe ter wille van ander, sterwe in diens. Dit staan lynreg teenoor ons gangbare strewe na sukses en bevordering van ons eie belang.

Jesus se verheerliking

Jesus sê in ons teksgedeelte: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word” (v 23). In die eerste elf hoofstukke van Johannes se Evangelie verwys “die tyd” van Jesus se verheerliking na die toekoms. In Johannes 2:4 sê Jesus vir sy ma: “My tyd het nog nie gekom nie.” By ‘n latere geleentheid wil Joodse leiers vir Jesus gevange neem, maar hulle doen dit nie “… omdat sy tyd nog nie gekom het nie” (7:30). Die verteller sê weer in 8:20 dat Jesus nie gevange geneem is nie, ongeag sy Hy hoogs kritiese uitsprake teenoor die Fariseërs “… omdat sy tyd nog nie gekom het nie”. Maar nou, in Johannes 12, het die situasie verander en het “die tyd”, die oomblik aangebreek.

Wat het gebeur dat die situasie verander en die aangewese tyd nou hier is? Die verhaal gee minstens twee leidrade.

Grieke daag op

Die eerste teken van die tyd van Jesus se verheerliking is die Grieke wat opdaag om vir Jesus te sien. Ná die opwekking van Lasarus waarvan ons in Johannes 11 lees, het baie mense tot geloof in Jesus gekom en was daar ongekende belangstelling in Hom. Dit loop daarop uit dat die Fariseërs vir mekaar gesê het: “Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!” (v 19). Onmiddellik hierna daag ‘n aantal Grieke op om vir Jesus te ontmoet … (v 20). As Jesus hiervan hoor, sê Hy: “Die tyd het gekom …” (v 23).

Die koms van die Grieke maak dat Jesus sê die tyd het nou gekom. Die tyd het gekom omdat die “hele wêreld” nou na Jesus toe kom. Dit wat reeds aan die begin van hierdie Evangelie aangekondig is, naamlik dat die ware lig elke mens verlig, is met die koms van die Grieke aan die gebeur.

Tyd van sy lyding

Tweede teken: Vir die Johannesevangelie is die tyd van Jesus se verheerliking ook die tyd van sy lyding en sy kruisiging. Jesus se kruis is die plek waar Hy almal na Hom toe trek. Sy kruis is sy verhoging.

Dit is ‘n verstommende omkeer van alle menslike logika.

Die tyd van sy dood, die tyd van sy kruisiging, is die tyd wat Hy almal, die hele wêreld, na Hom toe trek (v 32). Wanneer die Grieke dan by Jesus opdaag, het die tyd aangebreek waarop Hy almal, Jode sowel as Grieke, na Hom toe trek. Dit is die tweede leidraad wat die teks vir ons gee om die tyd te verstaan. Dit is die tyd van sy dood wat Hy almal, soos hier in die verhaal, na Hom toe trek.

Jesus se sukses

Hierdie is die skynbare hoogtepunt in die “suksesstorie” van Jesus. Dit is die moment wanneer die hele wêreld agter Hom aanloop en Hom opsoek. Hoe hanteer Hy dit?

Hy sien dit as die beslissende uur wat in sy lewe aanbreek om God se plan vir die wêreld te volbring. Daarvoor moet Hy die weg van die koringkorrel gaan, die weg van die dood, die weg van liefde tot die uiterste van die kruis, loop. Daardeur en so alleen sou Hy vrug dra en alle mense na Hom trek, optrek vir die oordeel, vir die dood tot die ewige lewe (Joh. 3:16). Wie Hom soek, in Hom wil glo, moet Hom daar soek. Ook hierdie vyfde Lydensondag is ‘n beslissende uur …

Beslissende uur

Die aanbreek van die beslissende uur is ‘n kernwoord in ons teks en ‘n keerpunt in die evangelie – maar ook in die geskiedenis van die hele mensdom, van wie die Grieke verteenwoordigers is.

Die terme “die uur van verheerliking” en “verhoging” van Christus dui by Johannes op die een groot gebeure van die kruisdood, opstanding en hemelvaart. Op hierdie vyfde Lydensondag, die Sondag voor Palmsondag, moet dit duidelik onderstreep word dat die weg van Jesus alleen deur die dood heen, deur die sterwe van die graankorrel, na die opstanding voortgaan. En alleen só dra dit vrug in die verloop van menselewens en van die geskiedenis.

In hierdie simboliese uur is alles op die spel, die volle heil, die heil wat Jesus buite ons, maar vir ons, bewerkstellig! En slegs só kan Hy alle mense optrek in sy verhoging, optrek uit die sonde en optrek uit die oordeel. Hierdie beslissende uur word op die vyfde Lydensondag herdenk, weer beslissend bedink.

Jesus se weg ook ons weg

Jesus se lydensweg wat met hierdie beslissende oomblik aanbreek, dui ook vir ons die weg aan.

Wie Jesus wil sien en gelowig volg, moet saam met Hom op die weg van die selfverloënende dienende liefde gaan; moet nie aan eie gemak of voordeel dink nie, maar trou bly tot in die dood (sien Luk 9:23).

Hier is lydenstyd aanskou ons enersyds Jesus se lyding ter wille van ons. Ons aanvaar ook deur geloof die heil van Jesus se verlossing. Dit is vir ons. Maar die proses eindig nie daar nie. Ons volg Jesus tot waar sy lyding diep in ons lewe insny, waar ons opgelig word tot daar waar Christus is: aan die kruis (12:26).

Jesus verander die wêreld

Die Grieke wat opdaag om Jesus te kom sien, is ‘n aanduiding dat die wêreld gereed is vir die verlossing wat Jesus bring.

Hierdie verlossing is nie net vir individue nie, maar vir die hele wêreld. Vir die hele kosmos.

Terwyl Jesus in ons teks met die skare praat, hoor hulle ‘n donderslag. Hulle eien dit as ‘n stem. Jesus sê dan:

Hierdie stem het nie ter wille van My gekom nie, maar ter wille van julle. 31 Nou het die oordeel oor hierdie wêreld aangebreek;  nou sal die heerser van hierdie wêreld uitgedryf word.

Die sterwende koringkorrel knikker die bose uit. Die koringkorrel se sterf en opstaan oorwin die bose, verander die hele wêreld. Jesus se uur van verheerliking lui in beginsel die doodsklok van die kwaad en die bose in die wêreld.

Die goeie nuus is dat die rug van boosheid, siekte en dood reeds aan die kruis gebreek is.

Veral in ons tyd waarin ons telkens bewus word van die deurwerking van die kwaad en magte van die duisternis, bring dit ‘n troosboodskap. Dink maar aan Covid-19 en die doodsheid wat hierdie pes bring, maar ook in allerlei vorme van sinnelose geweld, verkragting, uitbuiting, korrupsie …

Jesus se verhoging aan die kruis red ons van ons eie skuld, maar het ook veel dieper betekenis. Immers deur die kruis het Christus die bose magte ontwapen en van hulle krag beroof (sien Kol 2:15; ook 1:13).

Teen die mag van die liefde, uitgedruk in sy vrugdraende dood, kan die Bose nie standhou nie. Hieraan kan gelowiges vashou, ook wanneer twyfel en wanhoop hulle oorval. Christus verlos hulle van hul valse sekerhede, maar ook van hulle wanhoop. Christene is immers wedergebore tot ‘n lewende hoop (vgl. 1 Pet 1:3) om draers van hierdie hoop te wees. En juis as draers van hierdie hoop sal hulle ook ervaar dat die bose in hulle én in hulle omgewing oorwin word deur die hoop en die geloof en die liefde wat God se Gees in hulle harte uitstort (Rom 5:4-5).

Die nuwe weg vir ons

Die verheerliking van God, die doen van wat Gód wil, die weg van diens en liefde, staan haaks op die strewe na sukses. Dit is vir baie mense vreemd. Want ons Westerse verbruikergerigte en welvaartbeluste strewe na sukses, na gemak en gewin, na mag met al sy liefdelose, verontmenslikende, natuur- en medemens uitbuitende kultuur, staan fel teenoor die weg van die liefde, diens en offerbereidheid. Laat ons eerlik wees: as gelowiges is ons dikwels meer kinders van hierdie wêreld, vasgevang deur allerlei egoïstiese drange. Ook dit moet op hierdie Lydensondag bedink word – en in onsself oorwin word. In die skuldbelydenis tydens die erediens kan dit op hierdie dag aan die orde kom.

Vernuwe

Deur die sterwende graankorrel, word gelowiges vernuwe tot ‘n liefdediens wat alles ontvang wat die graankorrel gee, maar ook alles gee wat Hy vra.

Die uur van sy verheerliking is ook die beslissende uur vir hulle wat wil volg: dit sny diep in hulle lewe in, teen hulle natuurlike liefdes (liefdes bo Hom: sien vers 25), teen die gangbare gebruike en kultuur waarin ons lewe. Op hierdie Sondag word almal wat glo, opgetrek na Hom toe – vir die oordeel ja, maar tot Hom aan die kruis: om daar te wees waar Hy is (vers 26!).

Juis aan die kruis word die magte van die dood, van die versoeking, van die verslawing, van die verontregting, van die teenstand teen God deurbreek. Wie Jesus sien, wie Jesus volg, wie Jesus dien,, sien die wêreld anders: as die terrein waarop hulle draers van die liefde, en so draers van die hoop word – ook as hulle mense en stukke van hierdie wêreld aan die mag van die bose ontruk en hulle onder die heerskappy van God plaas.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3”

Seën – uit Psalm 31:9-16
V: Here Jesus, deur u dood en opstanding het U my ’n veilige staanplek gegee.
G: Ek vertrou op U, Here, U is ons God.

V: My tye is in u hand.
G: Ons tye is in u hand, Here! 

Ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader
aan wie die heerlikheid behoort,
deur sy Gees aan julle wysheid gee
en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder
dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou,
en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,
19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Amen (Efesiërs 1)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.