Vyfde Sondag in Lydenstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Johannes 12:20-33
Ander tekste: Jeremia 31:31-34; Psalm 51:1-12 of Psalm 119:9-16; Hebreërs 5:5-10

Inleiding

Die opskrif van die sleutelteks is “Die tyd van sy verheerliking het gekom”. Die Evangelie van Johannes sien Christus se kruisiging, anders as die Sinoptiese Evangelies, as verheerliking. In die voorafgaande perikoop, Johannes 12:12-19, kom Jesus Jerusalem triomfantelik binne. Die stem uit die hemel spreek van verheerliking van God se Naam.

In aansluiting by die status as verhoogde Christus, word God se aanstelling van Christus as sy Seun en Hoëpriester in Hebreërs 5 aangehaal.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Aanvangswoord
Voorganger: Ons het gedwaal en ons eie pad geloop.
Gemeente: Here, dink aan ons.

Voorganger: Oor ons oortredings is Hy deurboor.
Gemeente: Here, dink aan ons.

Voorganger: Die straf vir ons vrede, was op Hom.
Gemeente: Here, dink aan ons.

Voorganger: Deur sy wonde het genesing gekom.
Gemeente: Here, dink aan ons.

Ritueel
Sing Lied 384 oordenkend en herhaaldelik terwyl die  vyfde lydenskers uitgedoof en die hongerdoek aangevul word.

Diens van die Woord 

Gebed om die opening van die Woord
Here, skenk aan ons deur u genade in hierdie lydenstyd

  • deernis om swaarkry raak te sien,
  • insig in ons eie aandeel aan die kwaad,
  • berou om vergifnis te vra,
  • behoefte om aan onsself te sterf,
  • moed om gehoorsaam te wees,
  • wysheid om nou u hart te hoor. Amen.
Diens van die tafel

Benut die ander Leesroostertekste vir hierdie Sondag aan tafel. Die brood en wyn van die nagmaal is die tekens van Christus se lyding en ons verlossing.

Wet: Psalm 119:9-16

Sondebelydenis: Psalm 51:1-12

Vryspraak: Jeremia 31:31-34

Nagmaal/nagmaalsherinnering

Uitsending

Slotsang

Uitsending
Hebreërs 5 inspireer ons tot ’n gehoorsame lewe:
“Hoewel Hy die Seun was,
het Hy deur alles wat hy gely het,
geleer wat gehoorsaamheid is.
En toe Hy volmaaktheid bereik het,
het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is,
die bron van ewige saligheid geword. (Heb 5:8-9).

Musiek en sang

By die ritueel: Lied 384 “Jesus, o dink aan my”
By nagmaal/nagmaalsherinnering: Lied 400 “Juig, juig in Hom”
Slotsang: Lied 396 “Aanskou die Heiland, sien die kruis”

Preekstudies: Johannes 12:20-33

Teks en konteks

Johannes het ’n evangelie (verhaal van goeie nuus) nagelaat wat anders lyk en klink as die drie Sinoptiese Evangelies. Dit word aanvaar dat Johannes eers teen die einde van die eerste eeu sy verhaal opgeskryf het. Teen dié tyd was die kerk al tuiste vir die tweede en derde geslag gelowiges. Verder was die val van Jerusalem al dertig of meer jare in die verlede. Dit is verstaanbaar dat Johannes daarom op ’n unieke manier oor die goeie nuus van die koms van die Seun van God nadink en dit daarvolgens opskryf. Volgens hoofstuk 20:30-31 het Johannes twee doelwitte met sy evangelie gehad, naamlik: (1) om geloof te wek by hoorders en lesers dat Jesus die Christus (Verlosser) is; en (2) sodat gelowiges in Jesus Christus die ewige lewe in sy Naam mag hê.

Hierdie kombinasie van Seun van God, Jesus die Christus, en ewige lewe deur geloof in Hom herinner aan die gesprek met Nikodemus in Johannes 3. Tydens laasgenoemde gesprek het Jesus teruggegryp op ’n Ou-Testamentiese verhaal (Num 21:8-9) van die Israeliete se opstand teen Moses tydens die woestyntog en God se opdrag aan Moses om ’n beeld van ’n giftige slang te maak. Die slang moes aan ’n paal opgelig word en die heil sou daardeur gebring word vir dié wat daarna kyk. Interessant is die tema van kyk en sien presies waar ons perikoop begin.

Jesus het kort te vore Lasarus uit die dood opgewek. ’n Gebeurtenis wat opspraakwekkend was! Soveel so dat, terwyl die skares na Jesus gestroom het, pogings onderweg was om Jesus te elimineer (11:45-57). Die opwekking se nadraai het so dramaties ontwikkel dat daar selfs pogings was om Lasarus te vermoor (12:9-11). Die fokus vir die huidige bly egter op die groeiende belangstelling van mense om met Jesus kontak te maak. ’n Reuse skare wag Jesus in wanneer Hy die triomfantelike intog in Jerusalem maak (12:12-19) – alles tot die ergernis van die Fariseërs wat met hulle hande in die hare was (12:19). Op ironiese wyse word die woorde van die Fariseërs in die volgende vers korrek bewys.

Tussen die Paasfeesgangers in Jerusalem was daar Grieke wat die Joodse geloof aangeneem het. Hulle was deel van die sogenaamde proseliete of half-proseliete van die dag, maar het net beperkte toegang tot die tempel gehad. Alles was nie vir hulle oë bedoel nie! Hulle nader egter Filippus met ’n versoek om vir Jesus te sien. Eerste hoorders (soos ons vandag nog) moes by die aanhoor hiervan geglimlag het. Dink net. Dele van die Joodse geloof was vir die heidense bekeerlinge buite perke, maar die Seun van God – die Een wat die ewige lewe bewerk – was toeganklik.

Die versoek van die Grieke was gewoon “. . . om Jesus te sien”. Dit sou beteken om Jesus te ontmoet en moontlik met Hom gesprek te hê. Daar is geen verdere aanduiding van die inhoud of motivering vir die versoek nie.

In wat beskryf kan word as ’n ketting van bemiddeling, neem Filippus die Grieke na Andreas en dié nader Jesus. Die verwysing na Filippus en Andreas strook met Johannes se aanvanklike vertelling dat Filippus die eerste was om deur Jesus raakgesien te word (1:43-44), terwyl Andreas die eerste was wat Jesus as Messias raakgesien (1:41) en gevolg het. Johannes noem die twee by name om na hulle roeping te verwys, maar verder weet ons ook dat dié twee waarskynlik self van Griekse afkoms was. Tradisie verbind ook beide met die bring van die evangelie onder nie-Jode.

Nadat Filippus en Andreas Jesus vertel het van die versoek, is daar ’n wending in die verhaal. Op die oppervlak lyk dit asof Jesus die versoek botweg ignoreer. Dit is egter, uit wat volg, duidelik dat die versoek eerder ’n draaipunt verteenwoordig. Een van die aanduidings van die wending is Jesus wat sê: “die tyd het gekom . . .” Voor hierdie punt in die verhaal het Jesus dikwels gesê dat sy tyd nog nie gekom het (7:30; 8:20), maar nou bevestig Hy die wesenlike van die oomblik.

Jesus beskryf hierdie oomblik nie as ’n oomblik van vernedering nie. Dit is die oomblik van sy verheerliking. Anders as die Sinoptiese Evangelies beskou Johannes Jesus se dood nie as ’n negatiewe insident of teken van mislukking nie, maar ’n positiewe verheerlikende oomblik wanneer Hy sy aardse sending suksesvol voltooi. Dit is immers hoekom Jesus gekom het!

Die betekenis van Jesus se dood en verheerliking word met ’n gelykenis in ’n enkele vers uitgedruk. Ingelei met die Johannese merker “Amen, Amen”, skep Jesus ’n beeldwêreld waar Jood en Griek (en enige moderne leser) onmiddellik kan sien wat sy komende dood beteken. In Afrikaans sê ons, “sien is glo”. Deur die oë van Johannes kan mens waag om te sê, “sien is om te verstaan”. Sê ons nie altemit, “o, ek sien . . .’ wanneer ons tot begrip of insig kom nie?

Die saad wat moet sterf voordat dit kan vrug dra, is ’n beeld wat nie veel verduideliking nodig het nie. Jesus se dood word as so ’n saai van saad gesien. Deur sy dood sal die veelvuldige vrug volg. Daar is egter ’n kinkel! Jesus bring dissipelskap (om Hom na te volg) in verband met dié beeld. In binêre taal word navolging beskryf as die getroue navolging van Jesus deur haat van die eie lewe, met as wins die ewige lewe.

Die Johannesevangelie bevat nie ’n gedeelte soos Lukas het, oor die koste van dissipelskap nie. Dit is egter duidelik dat Jesus se woorde hier presies dit is. Om Hom te volg is om saam met Hom te sterf – om Hom as ’t ware selfs in die grond in te volg. Op tipiese wyse beskryf Johannes belangrike sake met sterk woorde. Liefde word lynreg gekontrasteer met haat – dieselfde woord wat Lukas 14 gebruik om oor die koste van dissipelskap te praat. Hierdie is waarskynlik ’n tipies Hebreeuse uitdrukking wat ook in Genesis 29:30-31 voorkom.

Daar is ’n interessante logika in vers 24 en 25. Vers 24 maak dit duidelik dat die voordeel van die sterf in die grond, vrug vir almal is. In vers 25 word hierdie sterfbeeld in die grond egter die vereiste vir persoonlike wins. Die indikatief van Jesus se sterwe, wat die ewige lewe moontlik maak, is in vers 25 die imperatief wat die dissipels oproep om self te sterf en daardeur die ewige lewe te verkry. Hierdie uitspraak het ’n parallel in Markus 8:35 waar die persoonlike verantwoordelikheid tot aksie in dissipelskap ter sprake is. Die kern is egter die instaatstelling deur die Saad wat in die grond geval het.

Daar is interessante verbande tussen die “latere” verstaan van die doop (Rom 6; Kol 2) en hierdie sterwe van die eie ek. Die doop van die gelowige word beskryf as die sterwe saam met Christus om ook weer saam met Hom op te staan.

Vers 27 bring ’n persoonlike verdieping in Jesus se belewenis van sy situasie. Die woordeskat neem ons terug na hoofstuk 11, toe Jesus by Lasarus se graf diep ontsteld was in sy gees. Nou is Jesus egter oor sy eie situasie diep ontsteld. In ’n persoonlike en intieme toneel sien ons die gesprek tussen Vader en Seun, ten aanskoue van almal. Hierdie toneel bevestig dat die tyd vir die finale hoofstuk aangebreek het, asook dat wat aan die gebeur is juis dit is waarvoor Jesus gekom het. Die stem uit die hemel wat ook tydens die doop en die  verheerliking op die berg gehoor is, bevestig Jesus se selfverstaan van sy situasie.

Die verwagting wat by lesers geskep is oor die heerlike boodskap wat opgesluit is in Jesus se dood/ verheerliking, word skielik gekontrasteer met die wanbegrip van sommige omstanders. Terwyl almal dieselfde geluid waargeneem het, het sommige weinig meer as ’n donderslag gehoor terwyl ander die gebeurtenis aan ’n engel toegeskryf het. In die perikoop wat hierop volg, word die tragiese realiteit gerapporteer dat nie almal wat waarneem verstaan waaroor dit gaan nie! Dit is selfs meer tragies as Jesus se woorde in 12:30 gehoor word: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.” Mense wat dit nie verstaan nie, kan kwalik deel in die boodskap wat hierop volg.

Die oordeel oor die wêreld val saam met Jesus se dood. Selfs die owerste van die wêreld se lot word beslis wanneer Jesus sy dood tegemoet gaan. Vir hulle wat enige vrees kon koester oor hoe die oordeel hulle kon raak, kom die wonderlike troos dat Jesus hulle na Hom toe sal aantrek.

Opmerking
Die beeld wat Jesus skets, het ’n klomp moontlike verbande wat dit na vore bring. Vir die Jode wat hulle Ou-Testamentiese verhale geken het, was dit ’n herinnering aan die koperslang van Moses in die woestyn. Vir die plaaslike kultuur ’n herinnering aan die statusverhoging wat ter sprake was. Artemidorus (laat 2e eeu) en Ps-Kallistenes vertel verhale waaruit dit duidelik word dat mense wat gekruisig is in die oë van die omstanders verhoging van sosiale status verkry het. Vir ons 21ste eeuse oë en ore maak dit nie baie sin nie. In die eerste eeu het ’n deel van die gemeenskap kruisiging as ’n verhoging in sosiale status gesien.

Jesus se gebruik van die frase, “om na My toe te trek”  het ’n dubbele betekenismoontlikheid. Aan die een kant ’n nadertrek om te red/beskerm en aan die ander kant om te oordeel oor. In die taal van die dag is die term “nader trek” gebruik om te verwys na die dagvaarding (in ons taal en terme) van iemand om voor die hof te verskyn. Die oordeelsgedagte word ’n dringende waarskuwing om die woorde ernstig op te neem; iets wat in 12:36 op die spits gedryf word.

Die verband tussen die Vader se oordeel en Jesus se beskerming moet ook nie uit die oog verloor word nie. Ons sien dat die verskriklike oordeelsaankondiging oor die wêreld vir dissipels nie so erg is nie; hulle word immers deur Jesus aangetrek soos wat Hy (tydens hierdie oordeel) van die aarde opgetel word.

Opmerking
Die woord “wêreld’ word in Johannes op twee maniere gebruik. Aan die een kant is dit ’n verwysing na die geskape werklikheid rondom ons. Dit is goed aangesien die Skepper daarvan goed is. God het hierdie wêreld tot die dood toe lief en stuur sy Seun om dit te red. Binne in hierdie geskape werklikheid is daar egter ’n stelsel (ook genoem “wêreld”) onder leierskap van die owerste van die wêreld, wat onder die oordeel van God staan. Dit is die stelsel wat vervreemd van God is en in opposisie tot God staan. Dit is die stelsel wat in vers 31 beoordeel word saam met die leier daarvan wat uitgegooi word. Hierdie dubbele betekenis is nie so vreemd vir ons moderne ore soos wat dit mag klink nie. Ons leef in ’n pragtige wêreld . . . ’n plek waar springbokke pronk, die son agter ’n kameeldoringboom sak en jongmense sterre in mekaar se oë bring. Dit is egter ook die wêreld waar despote met vrees regeer, mense van honger omkom en onsekerheid oor die dag van môre jou rasend kan maak.

In vers 33 word onderstreep dat die voorafgaande Jesus se selfverstaan oor sy dood aandui en ten doel het om volgelinge op te roep om Hom te volg. Die boodskap was oor sy verheerliking. Tog het die aard van in die grond val om te sterf, Hom in sy gees diep ontstel. Soveel so dat teen die einde van vers 36 ons lees dat Jesus onttrek het en Hom skuilgehou het. Die uur het egter gekom.

Preekvoorstel

Kontras is een van die tegnieke wat fotograwe gebruik om uitsonderlike foto’s te neem. Deur subtiel te speel met teenstellende kleure, skakerings en selfs teksture, is ’n tegniek wat in werklikheid terugdateer na die tyd van die klassieke kunsmeesters. In Rembrandt of Monet se werke sien mens hoe kontras tussen lig en donker of helder in fokus en meer uit fokus, die verskil tussen middelmatig en meesterstuk beteken. Die skrywer wil waag om te sê dat ironie vir taal soos kontras in beeldende kuns werk. Die verrassende teenstellings help om alles beter te sien en te verstaan.

Die Johannesevangelie is ’n grafiese evangelie, propvol ironie. Die doel van die evangelie – volgens 20:30-31 – is om geloof te bewerk in Jesus Christus as die Seun van God en deur Hom toegang tot die ewige lewe te verkry. Verder weet ons dat dié evangelie baie sterk met tekens en beelde werk. Dit is gevolglik ’n unieke evangelie wat anders lyk en klink as die drie Sinoptiese Evangelies. Die prediker wat ’n boodskap uit die Johannesevangelie bring, moet deurgaans waak teen ’n algemene storielyn ten koste van die unieke Johannese vertelling.

Hierdie preekvoorstel bied drie ironieë aan om die goeie nuus volgens Johannes in die gelese gedeelte toe te lig.

Ironie in wêreldbeelde – Jesus se hoogste strewe was om te sterf
Ons lewe in ’n tydsgewrig waar elke poging aangewend word om langer op die ondermaanse te lewe. Van natuurlike medisyne tot unieke preparate uit eksotiese oorde – soos Dooieseemodder – word aangebied as media tot ’n langer lewe. Dit is daarom nie vreemd nie dat talle mense dit as hulle hoogste strewe stel om lank te lewe. Jesus se antwoord op die vraag oor lewenstrewe, is om te sterf.

Deur die loop van die Johannesevangelie gebruik Jesus talle “Ek is” uitsprake gekoppel aan beelde om iets meer oor sy identiteit en sy sending te verduidelik. Dit is van die begin af duidelik dat sy sending oor die redding van die wêreld gaan. Reeds in die aankondiging van Johannes die Doper (1:29) en in die gesprek met Nikodemus (Joh 3), kom die heil van die wêreld aan die orde.

Wanneer ons oor die wêreld nadink, is daar egter ’n skerp kontras tussen twee beelde van die wêreld sigbaar. Aan die een kant – soos vandag – is die wêreld die asemrowende toneel van skoonheid. Of dit die natuurskoon of die glimlag van ’n kind is, die wêreld is mooi. Dit is immers God se wêreld en Hy is tot die dood toe lief daarvoor. Johannes 3:16 beskryf die diepte van God se liefde vir die wêreld wat Hy gemaak het en steeds versorg.

Die wêreld is egter ook die plek waar die afgryslikste realiteite voorkom. Mense onderdruk mense en die natuur word bedreig deur die vernietigende hand van die mens. Tereg sê Paulus in Romeine 8 dat die skepping kreun. Die rede vir die pyn en afgryse is gesetel in die stelsel wat deur mense ontwerp en in stand gehou word. Dit is ’n stelsel wat sekere mense bevoordeel (dikwels ten koste van ander) en ongelykhede en ongelukkigheid bewerk. Dit is ’n stelsel wat ten diepste verrot en korrup is. ’n Stelsel wat onder die oordeel van die getroue Skeppergod staan. Daar is talle skitterende gedigte in Afrikaans wat starre realiteite van die gebroke wêreld verwoord. Dit is daarom verstaanbaar dat die heil vir die wêreld ook die oordeel oor die wêreld en sy owerste beteken (12:31-32).

Ironie in tydsberekening – lewe deur ’n dooie saadkorrel
In die gesprek met Nikodemus (Joh 3) het Jesus God se fokus op die wêreld verwoord. In sy bediening het dit egter aanvanklik baie sterk oor die Judeërs gegaan. Met verloop van tyd het die skopus van sy bediening wyer sirkels begin trek. In een van die deurslaggewende oomblikke in Johannes (8:39-59) het Jesus daadwerklik begin om heil vir ’n wyer wêreld te skets. Selfs in die gedeelte oor die skape en die Goeie Herder (Joh 10) het Jesus gesinspeel op ’n wyer kring van skaap/volgelinge (Joh 10:16).

Met die koms van die Grieke in Johannes 12:20, breek die dag en uur aan waarvan Jesus vertel het. Die tyd het nou gekom – in teenstelling met 7:30 en 8:20 – vir Jesus se verheerliking. Soos wat 12:24-26 hierdie verheerliking uitbeeld, lyk dit vir ons kwalik na verheerliking. ’n Eenversgelykenis beskryf die kontras tussen die verheerliking deur erkenning en eerbetoon (soos ons sou verwag) en Jesus se sterwe en dood in landboutaal. Op ’n vreemde manier word die beeld van saad wat in die grond sterf en die oes wat daardeur moontlik word, die sjabloon om Jesus se dood te verstaan. Die verheerliking is daarom die vergesig om in die saadkorrel alreeds die sterwe, maar ook die wuiwende are op die oesland te herken. Sake word selfs meer ingrypend wanneer die beeld van die sterwende saadkorrel op dissipelskap toegepas word.

Daar is egter ’n kinkel in die verhaal. Ons weet dat die lewe deur die dood van die Saad vir ons (ook) bedoel is. Dit het universele reikwydte (Joh 3:16). In navolging van Jesus word dit ook ons roeping; ons moet die Saad volg en self as saad sterf in navolging van Jesus. Johannes het nie dieselfde beeld oor die koste van dissipelskap as byvoorbeeld Lukas nie. In Lukas sien ons die koste van ’n lewe van navolging, maar in Johannes die oproep om te sterf aan jou eie belange. In skerp taal word dit beskryf as ’n noodwendige haat van die eie ek ter wille van die ewige lewe.

Hierdie realiteit word in Romeine 6 en Kolossense 2 treffend in verband met die doop gebring. Deur die doop sterf ons saam met Christus sodat ons saam met Hom opgewek kan word! Watter beter manier is daar om oor die betekenis van die doop na te dink! Wanneer ek aan die eie ek sterf, kom my rol in die gebroke stelsel skielik ook onder die vergrootglas. My sterwe as saad van die Saad behels dat ek my eerste lojaliteit teenoor Christus eerder as die stelsel uitleef.

Ironie in plek – die kruis word die simbool van heil
Die skrilste kontras is egter die kruis. Terwyl Cicero dit as die gruwelikste teregstelling en straf beskou het, word die kruis Jesus se verhoogde platform. Na ’n oomblik van aanvegting (12:27-29) bevestig Jesus sy roeping, naamlik om te sterf ter wille van die aarde. Meer nog, hoe sy fisieke teregstelling – die verhoging aan die kruis – heil vir die wêreld beteken. Terwyl blote oë slegs die teregstelling sien, kan geloofsoog die verhoging en verheerliking waarneem.

Met behulp van ’n beeld wat reeds in die gesprek met Nikodemus (3:14) aan die orde gekom het en herinner aan die tyd van die uittog uit Egipte (Num 21), word die redding en heil beskryf. In dié proses word almal saam opgetel uit die moeras van die wêreld (hier in terme van die gebroke stelsel). Jesus beklemtoon die betekenis hiervan verder in 12:44-50, waar sy heilswerk toegelig word.

Anders as die ander evangeliste, sien Johannes Jesus se lyding en sterwe nie as ’n laagtepunt nie, maar ’n hoogtepunt. Die klimaks van sy aardse bediening. In werklikheid is die kruis nie die vernedering nie, maar die verhoging van Jesus. Aan die kruis word sy heerlikheid en redding en die Vader se versorgende liefde sigbaar gemaak. As ons na die kruis kyk, kan ons met reg dink en sê: “Dit is hoe onvoorwaardelike liefde lyk.”

© Missio 2024 | All rights reserved.