Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Verandering en die afwagting van iets nuuts wat gaan gebeur, is die deurlopende tema in vandag se tekste. In Johannes 12 lees ons hoe Maria Jesus se voete salf in voorbereiding op Jesus se begrafnis, op die nuwe dinge wat gaan gebeur. In Filippense 3 besing Paulus die nuwe lewe wat deur Christus se dood en opstanding moontlik gemaak is. Vers 14 se woorde “ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voorlê”, eggo die woorde van Jesaja 43:18-19: “Moenie dinge van vroeër in herinnering roep nie; op vorige gebeure moet julle nie die aandag vestig nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen …” Psalm 26 is ‘n versugting en ‘n gebed vir iets nuuts om te gebeur.

Sleutelteks

Johannes 12:1-8
1Ses dae voor die Pasga het Jesus na Betanië gegaan. Dit was die tuiste van Lasarus, wat Jesus uit die dood opgewek het. 2Daar het hulle vir Hom toe ‘n maaltyd voorberei, en Martha het hulle bedien. Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3Toe het Maria ‘n litra egte, uiters kosbare nardusolie geneem, die voete van Jesus gesalf en met haar hare sy voete afgedroog. En die huis is deurtrek met die geur van die olie. 4Toe sê Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai: 5“Waarom is hierdie reukolie nie vir driehonderd denarius verkoop en die geld aan die armes gegee nie?” 6Hy het dit gesê, nie omdat hy vir die armes omgegee het nie, maar omdat hy ‘n dief was – hy het die geldbeurs gedra en het van die bydraes gevat. 7Daarop het Jesus gesê: “Laat haar begaan – sy het dit vir die dag van my begrafnis bewaar. 8Want die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

Ander tekste

Jesaja 43:16-21
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen
14So sê die Here, julle Verlosser,
die Heilige van Israel:
Om julle ontwil
stuur Ek iemand teen Babel
en laat Ek al sy inwoners,
die Galdeërs, vlug
met dieselfde skepe waarop hulle
hulle vroeër beroem het.
15Ek is die Here, julle heilige God,
die Skepper van Israel, julle Koning.

16So sê die Here,
Hy wat ’n pad gemaak het deur die see,
’n deurgang deur die magtige waters,
17Hy wat strydwaens en perde
laat optrek het,
’n leër op volle sterkte
na sy ondergang toe.
Hulle kon nie weer opstaan nie,
dit was klaar met hulle,
hulle is soos ’n lamppit uitgedoof.
18Maar moenie net
aan die vroeëre dinge dink
en by die verlede stilstaan nie.
19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,
dit staan op die punt om te gebeur,
julle kan dit al sien kom;
Ek maak in die woestyn ’n pad,
Ek laat in die droë wêreld
riviere ontspring.

20Die wilde diere sal My vereer,
die jakkalse en die volstruise,
omdat Ek water gee in die woestyn,
riviere in die droë wêreld
om my volk, my uitverkore volk,
se dors te les.
21Dit is die volk wat Ek
vir My geskep het,
en wat my lof sal verkondig.

Psalm 126
Verander tog ons lot, Here!
126 ’n Pelgrimslied.
Toe die Here die lot van Sion
verander het,
was dit vir ons soos ’n droom.
2Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here hét groot dinge
aan hierdie mense gedoen.”
3Die Here hét groot dinge
aan ons gedoen;
ons was bly.
4Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
5Wie met trane saai,
sal die oes met gejuig inbring.
6Al loop hy en huil
terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.

Filippense 3:4b-14
As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.

7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Ekstra stof

Teks en konteks
12:1 Jesus oornag die Saterdagnag net ná die Sabbat in Betanië by sy vriende Marta, Maria en Lasarus vir wie Jesus uit die dood opgewek het.

12:2 Marta bedien hierdie keer sonder enige verwyt! Ook Lasarus het aangelê vir die ete met die hele geselskap van dissipels waaronder Judas Iskariot ook was.

12:3 Maria wat die vorige keer aan Jesus se voete gesit het vir sy lering, vat hierdie keer ‘n fles egte, en baie duur nardusolie (waarskynlik ingevoer van Nepal in die noorde van Indië) en salf Jesus se voete daarmee, waarna sy sy voete met haar hare afgedroog het. Die hele huis het lekker geruik van die olie. ‘n Simbool van die wyse waarop die boodskap van Jesus uiteindelik regdeur die wêreld sou versprei.

Die litra was ‘n Romeinse inhoudsmaat van ongeveer 300 ml wat ook met “pond” vertaal kan word.

12:4 Judas, een van Jesus se dissipels, word as Iskariot geïdentifiseer. Dit beteken waarskynlik “man van Kerijot” – ‘n dorpie in die suide van Juda (Jos 15:25) – soos sy pa Simon ook genoem is (Joh 6:71), hoewel daar talle ander verklarings vir die naam bestaan (sluipmoordenaar [in Hebreeus sicarri, ‘n groep van die Selote], vals een [in Hebreeus šāqar], verraaier [in Hebreeus šakar]). Judas was die een – soos uiteraard met die skryf van Johannes se evangelie bekend was – wat Jesus sou verraai. Judas maak beswaar – uit gierigheid uit – teen Maria se vermorsing – in sy oë – van die olie.

12:5 Judas is baie bewus van die waarde van die olie en vra hoekom dit nie verkoop is vir driehonderd denarii nie – die jaarlikse loon van ‘n gewone arbeider – sodat die armes daarby kon baat vind nie.

12:6 Johannes lewer egter sy eie kommentaar dat Judas se vraag bloot skynheilig was. Hy was bekend as ‘n dief en wou doodgewoon self by die olie gebaat het. Al die dissipels het geweet dat hy in die gewoonte was om in die geheim die geld in hulle geldkassie vir homself te vat (vgl Joh 13:29).

12:7-8 Jesus kom egter op vir Maria. Dit was immers haar eie olie wat sy gebruik het om sy voete te salf. Hy beveel dat sy gelos word om daarmee te doen wat sy self besluit daaroor. ‘n Mens sou Jesus se woord ook só kon verstaan dat Jesus opdrag gee dat sy die orige deel van die nardusolie hou vir die balsem proses by die dag van sy begrafnis. Maar, dit lyk tog asof sy reeds alles gebruik het. Jesus bemoedig haar dus dat Hy “dit” – die olie wat sy so pas gebruik het – koppel aan die gebeure by sy begrafnis. Sy het Hom dus “vooruit” gesalf vir die dag van sy begrafnis (Kruse: John).

12:9 Jesus verklaar dan dat hulle die armes altyd by hulle het. Hulp aan die armes sal altyd moontlik wees. Hy is egter nog net ‘n klein tydjie fisies by hulle. Daarom maak dit sin dat Maria Hom geseën het met haar olie, terwyl Hy nog daar was.

Boodskap en betekenis
Dit is ‘n baie ryk gedeelte. Aan die een kant is daar die liefde wat Marta en Maria aan Jesus bewys. Marta versterk Hom met ‘n feesmaal vir die uiterlike uitdagings op die pad na die kruis. Maria bederf Hom met duur olie vir die innerlike uitdagings nie net op pad na die kruis nie, maar ook vir stryd wat Hy moet voer in die oorwinning van die dood.

Aan die ander kant is daar die verraad van ‘n Judas. Een wat só naby aan Jesus gelewe het, en tog só ver van Hom geëindig het. Sy gierigheid het Hom blind gemaak vir die Messias al het hy die voorreg van sy nabyheid vir meer as drie jaar kon geniet.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Aanvangswoord  
Seëngroet  

Lied 396 “Aanskou die Heiland aan die kruis 1,2,3,4”

Wet: Filippense 3:4b-14

Skuldbelydenis

Vryspraak: 2 Korintiërs 5:17-19

Geloofsbelydenis: ahv Jesaja 53

Opsioneel:

Doopherinnering

Loflied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Epiklese

Skriflesing: Johannes 12:1-8

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 (U is die lig wat deur die donker skyn)
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 393 “Middelpunt van ons verlange 1,2,3,4”

Aanvangswoord  
V1: Kom, almal wat dors is, kom na die water!
V2: En wie geen geld het nie, kom koop en eet!

V1: Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk!
V2: As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig.

V1: Maak julle ore oop en kom na My toe; luister, sodat julle kan leef!
V2: Ek wil met julle ’n ewige verbond sluit, getrou aan die bestendige liefde vir Dawid.

G: Soek die Here terwyl Hy Hom laat vind, roep Hom aan terwyl Hy naby is.

Seëngroet  
Wees gegroet in die Naam van Jesus Christus,
Die Een wat van die oertyd af voorspel is.
Die Een na wie verlang is.
Die Een wat mens geword het, wat lyf geword het,
wat niks geword het ten einde alles te word.
Die Een op wie ons hoop.
Die Een wat sal terugkeer.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2013-14)

Lied 396 “Aanskou die Heiland aan die kruis 1,2,3,4”

Wet: Filippense 3:4b-14
As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.

7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Skuldbelydenis
God van liefde en ontferming,
U ken ons sonde en tog belowe U om ons te vergewe.
Hou ons naby aan U sodat ons u teenwoordigheid sal ervaar.
Skenk aan ons u wysheid.
Maak ons harte oop vir u vreugde,
beveel droë bene om te dans
en skenk aan ons opnuut die vreugde van u verlossing.
Amen.

Vryspraak: 2 Korintiërs 5:17-19 ()
17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

Geloofsbelydenis: ahv Jesaja 53
Die Here was soos ’n loot,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.

Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.

Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.

Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.

Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.

Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Opsioneel:
Doopherinnering
V: Glo jy in God, die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Vader ’n ewige genadeverbond met ons sluit en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem.
G: Die doop is die teken en seël dat ons God se kinders is.

V: Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het en dat Hy ons in die gemeenskap van sy dood en sy opstanding ingelyf het.
G: Die doop is die teken en seël dat God al ons sonde afgewas het.

V: Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig.
G: Die doop is die teken en seël dat die Heilige Gees ons al meer vorm om aan die beeld van God se Seun gelyk te wees.

Loflied 390 “Ons kniel hier aan U voete neer 1,2,3,4”

Liedere

F268. “Verlosser Vir My”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding)
Teks en Musiek: Johan Steenkamp
©  2008 Urial Publishing

1. Verlosser vir my,
eensaam aan ’n kruis,
U het my hart verower.
Verlosser vir my,
gebroke in ’n graf,
U het my hart verower

Refrein:
Ek offer myself,
offer myself
net vir U
Ek offer myself,
offer myself
net vir U.

2. Verlosser vir my,
Oorwinnaar opgestaan,
U het my hart verower.
Verlosser vir my,
Gesalfde Seun van God,
U het my hart verower

Brug:
Ek wil niks terughou nie,
niks terughou nie,
Alles net vir U

F3. “Aan U Voete, Heer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Oorspronklike titel: Aan Uw Voeten, Heer
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afr. vertaling: 2005  Faani Engelbrecht
© 1993  Celmar Music
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

Keervers:
Aan U voete, Heer, is die beste plek, 
daarom kniel ons voor U neer.
Om by U te wees is die grootste eer,
daarom buig ons voor U neer.

Ja, ons verkies nou om by U te wees
en om na U te luister.
in plaas van altyd maar weer besig te wees,
kom ons nou tot rus by U.

Keervers:

En ons verlang na u teenwoordigheid, Heer,
om saam te kniel in aanbidding;
in Gees en waarheid waarlik een te wees,
daarom buig ons voor U neer.

Keervers:

Net soos ‘n vader wat sy kinders vertroos
so omhels U ons elkeen.
U is ‘n Vader wat versorg en beskerm
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Liefdevolle Here,
stuur u Gees in ons midde,
en maak ons ontvanklik vir u Woord.
Help ons om nie net te hoor wat U sê nie,
maar om dit ook uit te leef,
sodat die wêreld kan sien en kan glo
dat U die redder van die heelal is.
Amen.

Skriflesing: Johannes 12:1-8

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Hierdie Sondag fokus op die afwagting van iets nuuts. Dit wys reeds hier, diep in Lydenstyd, vooruit na Christus se opstanding. Afhangend van die ouderdom van die gemeente se kinders, kan jy verskillende simbole kies. ‘n Skoon vel papier is die maklikste manier om vir klein kinders ‘n nuwe begin te verduidelik. Vir ouer kinders kan eiers of paaseiers simbolies goed aanpas by die afwagting van Paasfees.

Woord wat verduidelik kan word: geregtigheid.
of
Nina is baie opgewonde.  Sy skeur die eerste present oop en klap haar hande oor die mooi pop wat sy vir haar verjaardag kry.  Sy maak die volgende een oop: dis klere vir die pop.  Sy is baie bly.  Sy maak nog ‘n present oop en dis ‘n boek.  Haar maats staan rondom haar en kyk blinkoog na die res van die presente.  Hulle weet sy wil baie graag ‘n hondjie hê en hulle kan nie wag dat sy nog presente oopmaak nie.  Sy maak die volgende een oop: dit is twee bakke.  En sy skeur haastig nog een oop: dit is ‘n mandjie. En dan is daar nog net een present oor. En sy begin bekommerd raak, maar sy sê nog niks nie.  Sy maak die laaste present oop, en dit is ‘n leiband.  Maar, daar is geen hondjie nie!  Sy vra met baie huiwering: “Maar, ma, ek het alles vir ‘n hondjie, maar hier is nie nog presente nie?”

Haar pa laat hoor hier van die kant af.  “Oeps, lyk my ons het ‘n present vergeet.  Ek gaan dit gou haal.” En hy verdwyn na die garage en kom te voorskyn met die oulikste klein babahondjie.  Nina spring op en hardloop na haar pa van blydskap en gee hom ‘n drukkie.  Sy het die grootste present uiteindelik gekry. En sy is só bly!

Watter presente het julle al gekry waaroor julle net so bly soos Nina was?

Hoe het dit julle laat voel?
Ons lees in die Bybel van Maria wat vir Jesus ‘n groot present gegee het.  Sy het ‘n bottel baie lekkerruik olie vir Hom gegee.  Dit was so duur dat ‘n mens ‘n hele jaar al jou geld daarvoor moes spaar.
Ons lees dat Judas, die man wat vir Jesus verraai het, nie baie hiervan gehou het nie.  Hy wou eintlik die olie verkoop het en van die geld vir homself gevat het.
Maar, wat sê Jesus?  Los haar, sy het ‘n wonderlike ding gedoen.  Sy het vir my haar beste gegee.  En ek is baie bly daaroor.  Sy maak My hart bly.

Wat sê dit vir ons?
Ons kan maar ons beste vir Jesus gee.  Hy waardeer dit en dit maak sy hart bly.

Preekriglyn

Gebeurtenisse in die Johannes-Evangelie het almal ‘n sterk simboliese karakter. Johannes verbind hierdie gebeure met die opwekking van Lasarus, waarvan ons in die vorige hoofstuk lees.

Die salwing van Jesus se voete is beslis ‘n sterk simboliese handeling:

  • Maria se salwing is ‘n simbool of teken van dankbaarheid was vir die feit dat Jesus haar broer uit die dood opgewek het.
  • Verder gebeur die salwing reg voor Jesus se intog in Jerusalem (12:12-19) waar Hy as “Koning van Israel” vereer word.
  • ‘n Verdere moontlikheid is dat Jesus hier simbolies as Koning gesalf word, alhoewel konings op hulle hoofde gesalf is en nie op hulle voete nie.

Wat hier gebeur dui op die houding wat dissipels teenoor Jesus behoort te hê, maar ook op die spanning en worsteling in die dissipelkring vanweë die uiteenlopende houdings wat ter sprake kom. Judas en Maria staan reg teenoor mekaar.

Voetesalwing

Dit is belangrik om vir ‘n oomblik te kyk na die woordkeuse van die Evangelieskrywer wanneer dit by die voetesalwing kom. Die woord wat die skrywer hier vir “afdroog” (ekmasso) gebruik, is dieselfde woord wat die skrywer later gebruik wanneer Jesus in Johannes 13:5 die dissipels se voete was en afdroog. Maria se salwing van Jesus se voete en die afdroog met haar hare wys as’t ware vooruit na die voetewassing en afskeidsrede in Johannes 13.

‘n Verdere belangrike detail is die protes oor die hoeveelheid en die koste van die reukolie wat Maria gebruik het om Jesus se voete te salf. Die protesteerder is Judas (12:4). Hier kry ons weer die suggestie dat ons dit moet verbind met die laaste maaltyd wat Jesus saam met sy dissipels gehad het en waar Judas vir Jesus verraai het. Die breedvoerige beskrywing van Judas se optrede dien dus ‘n tweeledige doel: Eerstens maak dit die verbinding met Jesus se dood baie duidelik, en tweedens maak dit Judas se protes ongeldig nog voordat hy dit uitspreek. Wat onder normale omstandighede ‘n geldige vraag oor die waarde van die nardusolie sou wees, word by voorbaat as onbetroubaar uitgewys. Hierdie ongeldigverklaring word in vers 6 voortgesit en weer in 13:29 herhaal.

Gierigheid

Gierigheid was die vroeë kerk se interpretasie van Judas se optrede van verraad. Daarom dat Judas hier as ‘n “dief” (12:6) beskryf word – dieselfde woord waarmee Johannes 10:1, 8 en 10 na die persoon verwys wat die kudde bedreig. Die uitdrukking “nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie” (12:6) eggo die beskrywing van die “huurling” (10:13) wat hom nie oor die kudde bekommer nie.

Die gebruik van dié woorde dui aan dat die beskrywing van Judas daarop gemik is om die leser te help om Judas se optrede in die regte konteks te verstaan. Wanneer hy Jesus verraai, is hy ook besig om die kudde te verraai.

Twee gebeure

Ons kan dus sê dat Maria se salwing van Jesus se voete twee gebeure in verband met die “uur van Jesus” antisipeer: Jesus wat die dissipels se voete was by die laaste maaltyd (Joh 13), en Jesus se begrafnis. Johannes verbind die salwing en die voetewassing. Die volle betekenis van die salwing gaan verlore as ons nie hierdie verband in gedagte hou nie.

In Johannes 13 was Jesus sy dissipels se voete as uitdrukking van sy liefde vir hulle en as ‘n manier om hulle as’t ware in die lewe van God in te trek. Hy vra hulle ook om hierdie handeling van diens onder mekaar te herhaal. Wat Jesus vir sy dissipels doen en wat hulle vir mekaar doen, het Maria reeds in 12:3 gedoen.

Twee dissipels, twee houdings

In Maria se optrede vind die leser ‘n voorbeeld van die volheid van ‘n lewe van dissipelskap. Haar optrede wys vir ons die liefde wat ‘n kenmerk van dissipelskap in die Johannesevangelie is, asook die erkenning van Jesus se identiteit wat die Christelike lewe stempel.

Maria se optrede staan in sterk kontras met dié van Judas, wat ‘n onbetroubare reaksie op die gebeure rondom die aanbreek van Jesus se laaste ure verteenwoordig. Judas reageer nie met ‘n handeling van liefde nie, maar met selfsugtige motiewe. Sy optrede lei tot die verwildering van die kudde, terwyl Maria se optrede die model van liefde voorstel wat ook die karakter van die kudde behoort te wees.

Die krag van Maria se getuienis en dissipelskap in hierdie verhaal, is dat sy weet hoe om op Jesus se optrede te reageer sonder dat dit vir haar vertel is. Sy vervul Jesus se liefdesopdrag (Joh 15) nog voordat Hy dit aangekondig het. Sy omarm as’t ware Jesus se heengaan nog voordat Hy sy dissipels daaroor ingelig het (Joh 14; 16). In die salwing van Jesus se voete illustreer sy wat dit beteken om deel van Jesus se kudde te wees. Sy gee haarself in liefde in die aanbreek van Jesus se laaste ure, net soos Jesus Homself binnekort in liefde vir sy dissipels sou gee.

‘n Vrou as voorbeeld

In dié verband is dit belangrik om in die toepassing van Johannes 12:1-8 op die lewe van die kerk, in gedagte te hou dat Johannes ‘n vrou gebruik as die eerste persoon wat Jesus se liefde beliggaam – dié soort liefde wat Jesus van al sy dissipels verwag.

Hierdie gedagte van ‘n vroulike dissipel staan teenoor gelowiges wat meen net mans kan leiersrolle in die kerk van Christus vervul. Hiermee ken die Evangelieskrywer ‘n breër én dieper betekenis aan dissipelskap toe. Beide mans en vroue se toewyding, geloof en dissipelskap is belangrik in die kerk.

Onverwagse gebeure

Dit val ‘n mens op hoe onverwags die meeste handelings in hierdie toneel is:

  • Dit was onverwags dat iemand so ‘n groot hoeveelheid duur parfuum gebruik het om iemand anders se voete te salf.
  • Dit was ook onverwags (ten minste vir die omstanders) dat Jesus die stemming van die fees en die gawe aan Hom gedemp het deur oor sy dood te praat.
  • Boonop was dit onverwags dat Jesus oor ete in ‘n rusie met een van sy dissipels betrokke geraak het.

Maar wat miskien die mees onverwagse was, was dat Maria vir Jesus gesalf het. Dit was gewoonlik mans wat mans salf. Samuel salf Saul as die eerste koning van Israel; manlike pouse salf manlike keisers deur die hele Westerse geskiedenis heen. Maar hier laat Maria haar hare sak – met al die kulturele konnotasies van dié uitdrukking – en salf Jesus.

Dit alles herinner ‘n mens daaraan dat God dikwels onverwagte dinge met, vir en deur onverwagte mense doen. Mense het verwag dat die Messias soos koning Dawid sou lyk. Wat hulle in plaas daarvan gekry het, was ‘n voormalige skrynwerker en rondgaande prediker. Die skares wat Jesus ‘n paar verse hierna verwelkom, het verwag dat Jesus die Romeine sou omverwerp. In plaas daarvan kruisig hulle Hom. Selfs sy volgelinge verwag dat sy kruisiging die einde van die verhaal sal wees – wat uiteindelik blyk net die begin te wees.

God doen die onverwagse …

Dit is natuurlik nog nie eers die helfte van die verhaal nie. Daar is nie verwag dat Sarah kinders sou hê nie, wat nog te sê dat dit die begin van die Joodse volk sou wees. Daar is nie van Moses verwag om die Israeliete na vryheid te lei nie. Daar is nie van Miriam verwag om die profetes van Israel te wees wat haar volk leer om van God se oorwinning oor die Egiptenare te sing nie. Die herderseun Dawid was nie veronderstel om koning te wees nie. So kan ‘n mens aangaan.

God tree gereeld na vore om die onverwagte met, vir en deur onverwagte mense te doen. Die hoogtepunt van die vastyd en die viering van Paasfees, is die hoogtepunt van die werk en handelings van hierdie verrassende God, aangesien die dood as die laaste woord aanvaar word totdat Jesus uit die dood opgewek is.

As daar een ding is wat ons hierdie Sondag kan vra, is dit: Wat kan ons van God verwag? Om met mag en geweld die beheer oor te neem? Om ons gebede te verhoor soos ons dit wil hê? Om ons politieke kandidaat of sportspan te bevoordeel? Of eerder of ons bereid is dat God ons weer deur die onverwagte verras?

… vandag nog

Ons kan ook vra waar God op onverwagte maniere in ons gemeenskap aan die werk is.

  • Deur middel van die halfontbinde jeuggroep waaroor almal in die gemeente bekommerd is, maar wat ‘n veilige plek en vriendskap aan die afvlerk-kind op die rand van selfdood gegee het?
  • Of deur die ouer wordende “dameskring” wat hulle bekommer oor hulle onvermoë om ‘n jonger generasie te lok, maar wat steeds lakens aan die plaaslike kinderhuis voorsien en sodoende ‘n verskil in kinders se lewenskwaliteit maak?
  • Of deur die kerk se besluit om die kerksaal aan ‘n plaaslike program vir haweloses te verhuur – ‘n besluit wat hulle uit finansiële nood geneem het, maar wat hulle verbaas en verheug het oor die feit dat hulle ruimte ‘n plek van veiligheid en troos kon word vir mense wat op die rand van die samelewing woon?
Deur wie werk God?

Dan kan ons verder vra deur wie God volgende kan werk. Kyk bietjie na die persone wat naby jou sit. Want God staan op die punt om elkeen van hulle op ‘n verrassende manier te gebruik om na hulle naaste om te sien; ‘n luisterende oor te gee; hulle werk met getrouheid en moed te doen; om op te staan vir diegene wat minderbevoorreg is; om groepsdruk op skool te weerstaan, en om ‘n alternatief te bied vir hulle wat toekyk. Wie weet? Wat ons wel weet, is dat God ons gereeld verras met waar Hy opdaag, wie Hy gebruik en wat Hy bereik.

Miskien kan ons hierdie Sondag ons mense uitstuur op soek na spore van die onvoorspelbare God, die Een wat opdaag waar ons Hom die minste verwag, en altyd ten goede. As julle hierdie week nagmaal vier, kan jy die mense daaraan herinner dat God ook in hierdie maaltyd van brood en wyn opdaag om vergifnis van sondes en hernuwing van ons sendingopdrag aan ons oor te dra. Verder kan jy die seënbede gebruik om mense te versoek om hulle oë oop te maak vir die verrassende maniere waarop God mense gebruik om vir ander, waarvoor Hy so lief is, te sorg.

En terwyl jy voorberei om te preek, onthou dat God, wat Maria onverwags gebruik het om sy Seun te salf, jou ook gebruik – jou geloof, harde werk en gawes – en daardeur ook onverwagte en wonderlike dinge sal doen.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 308 “Neem my lewe laat dit Heer vs 1,2,3,4,5”

Seën
Ontvang die seën van die diep geheimenis wat ons God noem:
die Bron van lewe, liefde en hoop;
die Woord van die lewe,
en die ewigteenwoordige Gees van genade
sal met julle wees en bly.
Amen

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.