Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Fokusteks

Johannes 12:1-8

Hierdie Sondag is tradisioneel bekend as Judice (Reg)

Ander RCL tekste

Jesaja 43:16-21 (Kyk, die Here gaan iets nuuts doen);
Psalm 126 (
Mense bid dat die Here hulle lot sal verander);
Filippense 3:4b-14
(Om Jesus as Here te ken, oortref alles in waarde).

Johannes 12:1-8
Jesus word in Betanië met nardusolie gesalf

(Matt 26:6–13; Mark 14:3–9)
12 Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. 2Daar het hulle vir Jesus ’n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3Toe het Maria ’n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.

4Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: 5“Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”
6Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy ’n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.
7Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. 8Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

Eksegese

R E Brown is van oordeel dat ons hier met twee insidente te make het: (1) ’n insident in Galilea by die huis van ’n Fariseër: ’n Persoon wat boete doen oor haar sondes kom die vertrek binne en huil in Jesus se teenwoordigheid. Haar trane val op Jesus se voete en sy vee dit met haar hare af. Die (skandalige) optrede om haar hare in die openbaar los te maak, sê iets van haar karakter en help om die Fariseër se verontwaardiging te verklaar. Laasgenoemde vorm die ruggraat van Lukas se verhaal van die gebeure; (2) ’n Insident in Betanië by die huis van Simon die melaatse waar ’n vrou, as uitdrukking van haar liefde vir Jesus baie duur nardusolie gebruik om Jesus se hoof te salf. Markus en Matteus volg hierdie weergawe.

Johannes gebruik die tweede weergawe, maar maak gebruik van detail van die eerste weergawe en voeg op plekke sy eie kommentaar in (soos die teenwoordigheid van Lasarus, Marta en Maria en kommentaar oor Judas). Die insluiting van laasgenoemde lei tot ’n vreemde kombinasie van die salwing van Jesus se voete deur Maria en dan die feit dat sy dit met haar hare afvee. Dit is duidelik dat, soos in die res van die evangelie, ons hier met ’n simboliese handeling te make het. Dit lyk of Johannes hierdie verhaal wil verbind met die opwekking van Lasarus waarvan ons in die vorige hoofstuk lees. Om die waarheid te sê, ons kry reeds ’n bondige bespreking van hierdie perikoop in Johannes 1:1-2, dus nog voordat dit gebeur. Verder staan dié teks tussen stellings oor die Jode se vasberadenheid om Jesus dood te maak (11:53) en die besluit om Lasarus ook dood te maak (12:9-10).

Dit is duidelik dat die salwing van Jesus se voete ’n baie sterk simboliese handeling is. Binne die konteks van die verhaal lyk dit of Maria se optrede ’n teken van dankbaarheid was vir die feit dat Jesus haar broer uit die dood opgewek het. Dit is veral so dat net Johannes die salwing voor die intog van Jesus in Jerusalem plaas (12:12-19) waar Jesus as “Koning van Israel” vereer word. ’n Verdere moontlike interpretasie is dat Jesus hier as koning gesalf word – alhoewel konings op hul hoofde en nie op hul voete gesalf word nie.

Sonder om op die eksegetiese detail van die hele perikoop in te gaan, is dit wel belangrik om vir ’n oomblik te kyk na die woordkeuse van die evangelis ten opsigte van die voetsalwing. Die woord wat die evangelis hier gebruik vir “afdroog” (Gr ekmasso), is dieselfde woord wat die skrywer later gebruik wanneer Jesus in Johannes 13:5 die dissipels se voete was en afdroog. Maria se salwing van Jesus se voete en die afdroog met haar hare, wys as ’t ware vooruit na die voetwassing en afskeidsrede in Johannes 13.

’n Verdere stukkie interessante eksegetiese detail hou verband met die protes oor die hoeveelheid en die koste van die reukolie wat Maria gebruik het om Jesus se voete te salf. Die protesmaker (antagonis) is Judas (12:4) en weereens het ons hier die suggestie dat ons dit moet verbind met die laaste maaltyd wat Jesus saam met sy dissipels gehad het, waar Judas Jesus verraai het. Die breedvoerige beskrywing van Judas se optrede dien ’n tweeledige doel: eerstens maak dit die verbinding met Jesus se dood baie eksplisiet en tweedens maak dit Judas se protes ongeldig, nog voordat hy dit uitspreek. Wat onder normale omstandighede na ’n geldige vraag oor die waarde van die nardusolie sou wees, word deur die evangelis by voorbaat as onbetroubaar uitgewys. Hierdie delegitimering word in vers 6 voortgesit en weer in 13:29 herhaal.

Gierigheid was die vroeë kerk se interpretasie van Judas se optrede van verraad. Daarom dat Judas hier as ’n “dief” beskryf word, dieselfde woord wat in Johannes 10:1, 8, 10 gebruik word om na die persoon wat die kudde bedreig, te verwys. Die uitdrukking “nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie”, eggo die beskrywing van die “huurling” (10:13) wat hom nie oor die kudde bekommer nie. Die gebruik van dié woorde suggereer dus dat die beskrywing van Judas daarop gemik is om die leser te help om die optrede van Judas in die regte konteks te verstaan. Wanneer hy Jesus verraai, is hy ook besig om die kudde te verraai.

By wyse van samevatting sou ons kon sê dat Maria se salwing van Jesus se voete twee gebeure in verband met die “uur van Jesus” antisipeer: Jesus wat in Johannes 13 die dissipels se voete by die laaste maaltyd was en Jesus se begrafnis. Laasgenoemde vind ons veral in Markus en Matteus. Die vierde evangelis se unieke bydrae hou verband met sy verbinding van die salwing en die voetwassing. Hierin vind ons sy teologiese bydrae. Die volle betekenis van die salwing gaan verlore as ons nie hierdie band in gedagte hou nie.

In die voetwassing (Joh 13) was Jesus sy dissipels se voete as uitdrukking van sy liefde vir hulle en as ’n manier om hulle as ’t ware in die lewe van God in te trek. Hy vra hulle ook om hierdie handeling van diens onder mekaar te herhaal. Wat Jesus vir sy dissipels doen en wat hulle vir mekaar doen, het Maria reeds in 12:3 gedoen. In Maria se optrede vind die leser dus ’n voorbeeld van die volheid van ’n lewe van dissipelskap. Haar optrede wys vir ons die liefde wat ’n kenmerk van dissipelskap in Johannes is en daarmee ook ’n erkenning van die identiteit van Jesus wat die Christelike lewe stempel.

Maria se optrede staan in sterk kontras tot dié van Judas, wat ’n onbetroubare reaksie op die gebeure rondom die aanbreek van Jesus se laaste ure verteenwoordig. Judas reageer nie op die aanbreek van Jesus se uur met ’n handeling van liefde nie, maar met selfsugtige motiewe. Judas se optrede lei tot die verwildering van die kudde, terwyl Maria se optrede die model van liefde voorstel, wat ook die karakter van die kudde behoort te wees.

Die krag van Maria se getuienis en dissipelskap in hierdie verhaal is dat sy weet hoe om op Jesus se optrede te reageer sonder dat dit aan haar vertel is. Sy vervul Jesus se liefdesopdrag (Joh 15) nog voordat Jesus dit aangekondig het. Sy omarm as ’t ware Jesus se heengaan nog voordat Hy sy dissipels daaroor ingelig het
(Joh 14 en 16). In die salwing van Jesus se voete illustreer sy wat dit beteken om deel van Jesus se kudde te wees. Sy gee haarself in liefde in die aangesig van die aanbreek van Jesus se laaste ure, net soos wat Jesus Hom in liefde binnekort vir sy dissipels sou gee.

Maria se salwing van Jesus se voete is dus ’n eskatologiese handeling en daarmee saam ook ’n eskatologiese aankondiging van die beloftes wat dissipelskap inhou. Haar salwingshandeling illustreer die evangelis se eskatologiese visie van die nuwe lewe, van hulle wat Jesus se lewe en dood omarm en so kinders van God word. Jesus se woorde oor dissipelskap in die afskeidsgesprekke, sal eksplisiet duidelik maak wat hierdie storie reeds illustreer: Dissipelskap word gedefinieer deur dade van liefde en jou reaksie op Jesus.

In dié verband is dit belangrik om in die toepassing van Johannes 12:1-8 in die lewe van die kerk, in gedagte te hou dat die vierde evangelis ’n vrou gebruik as die eerste persoon wat die liefde van Jesus beliggaam. Dié soort liefde wat Jesus van al sy dissipels verwag. Hierdie gedagte van ’n vroulike dissipel in die vierde evangelie, staan in skerp kontras met die stereotipe aannames wat ons dikwels in die literatuur vind oor die samestelling van Jesus se dissipelkring. Hiermee kry die evangelis dit reg om aan dissipelskap ’n breër én dieper betekenis toe te ken.

Hermeneutiek

Op voetspoor van Koester (Symbolism in the Fouth Gospel) en in die lig van die opmerkings oor die teks hierbo, is dit die moeite werd om die gebruik van voetewas in die eerste eeu van nader te bekyk. Dit is so dat mense in die algemeen hulle eie voete gewas en gesalf het. Voetewas was ’n roetine saak wat met higiëne verband gehou het. Olie is gebruik om die seerplekke wat deur die dra van sandale veroorsaak is te verlig en genees. Wanneer gaste by iemand se huis aangekom het, veral na ’n lang reis, was dit die gebruik dat die gasheer ’n skottel water voorsien waarin die gaste dan voor die maaltyd hul eie voete gewas het. In die Ou Testament lees ons byvoorbeeld hoe Abraham in Genesis 18:4 sê: “Laat ek eers ’n bietjie water laat haal sodat u u voete kan was, en kom rus dan onder die boom”. Dieselfde praktyk vind ons in ander Bybelse tekste, asook Grieks-Romeinse bronne. In sommige gevalle kan ’n gasheer olie of salf vir sy gaste voorsien, maar sal hulle dit self aan hulle voete smeer.

’n Slaaf was basies die enigste persoon van wie verwag is om iemand anders se voete te was en met olie te smeer. Dit is duidelik dat slawerny die veronderstelling was vir hierdie tipe handeling. As gevolg van hierdie breër semantiese veld en assosiasies van voetewas en slawerny, is dit so dat dié wat bereid was om iemand se voete te was, buitengewone toegeneentheid jeens of verering vir die persoon gehad het, om deur hierdie handeling met slawerny verbind te word.

Daarom is die salwing van Jesus se voete deur Maria binne die literêre en kulturele konteks van daardie tyd, die bewys van Maria se besondere toewyding aan Jesus as deel van haar dankbaarheid vir die feit dat Hy haar broer opgewek het. Die nardusolie wat sy gebruik het, was ook buitengewoon duur, byna ’n jaar se salaris. Verder is dit betekenisvol dat sy bereid was om haar hare los te maak om Jesus se voete af te droog, aangesien goed versorgde hare tot ’n persoon se waardigheid in die antieke wêreld bygedra het. Die vrouens was trots op hul lang hare en dit was ook deel van ’n aantreklike voorkoms, die gevolg was dat enige skade aan jou hare as vernederend ervaar is. Deur haar hare te gebruik om Jesus se voete af te droog, verhoog Maria se sin vir selfnegering, wat reeds duidelik word in die feit dat sy bereid was om Hom soos ’n slaaf te dien.

In direkte kontras met hierdie gedagtes van Koester, skryf Ester Fuchs ’n insiggewende artikel met die titel “Moses / Jesus / Women: Does the New Testament offer a Feminist Message?” In hierdie artikel kyk sy na die verhale van Moses en Jesus vanuit ’n feministiese perspektief, met Moses en Jesus as die protagoniste van verskillende verhale. Die saak wat sy ondersoek is nie gemik op die historiese realiteit van die verhale nie, maar eerder op hoe die narratiewe in die bewussyn van die lesers, dit wat goed en gepas is, die optrede van mans en vrouens konstrueer. Sy kom tot die gevolgtrekking dat ons beide by Jesus en Moses te make kry met leiers wat hulle moes bewys as outentieke verteenwoordigers van groter waarhede met spesiale goddelike bande. Beide funksioneer dus as heroïese figure binne die verhale.

Sy skryf: “The positive, even revolutionary attitude of Jesus to women has been a constant theme in feminist literature of the past two decades. A closer look at the presentation of women in the Greek Bible reveals that women appear and disappear as abruptly as they do in the Hebrew Bible. There is no sustained treatment of  a female heroine that comes close to the stature of Jesus. There is no textual evidence that bears out the idea that the Christian Gospels are liberating texts for women. This is not to countermand the subtlety and sophistication of recent feminist hermeneutics, but the presentation of Jesus as the liberator of women is hermeneutical. The biblical text does not support it. There is neither speech, nor dialogue, nor even a narrative that deals explicitly with the status of women in Jewish or Gentile society. The implicit messages ferreted out by ingenious theologians and historians of the roots of Christianity are in the eyes of the beholders; and as long as the beholders accept their subjective stance, there is no attempt here at purposeful misrepresentation. (All interpretations are subjective, including this one.)”

Wanneer sy oor Johannes 12:1-8 skryf, doen sy dit in die volgende woorde: “The heroes’ concern for women in need results in both cases in genuine and far-reaching expressions of gratitude. Mary shows her gratefulness by anointing Jesus’ feet with precious oil and by wiping them off with her hair. This is perhaps the most extreme dramatization of female prostration. Mary took a pound of costly perfume made of pure nard, anointed Jesus’ feet, and wiped them with her hair (John 12:3). There is no comparable gesture in the Moses cycle on the part of any woman. Zipporah, Reuel’s daughter, is given to him in marriage, but there is no description of female prostration” (my kursivering).

Ons kan kritiek teen hierdie argumente inbring, maar dit neem nie die verantwoordelikheid weg om ook erns te maak met kommentaar wat radikaal verskil van ons eie interpretasie nie. Hierdie opmerkings roep ons  op om met omsigtigheid te werk te gaan wanneer ons nadink oor die literêre en historiese kontekste waarin die Bybel ontstaan het. Patriargie was aan die orde van die dag en ons moet daarmee rekening hou.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Tema: Geloofsvertroue hou niks terug nie

Fokus 

Om Jesus te ken en te dien verskuif al ons waardes. Christus roep ons tot ’n nuwe identiteit. Ons vorige waardes, strewes, gewoontes en belangstellings word waardeloos. Om Jesus te ken en as lewende Here te dien word ons belangrikste doelwit.

Rus

Die eerste beweging van die Seisoen van Luister se luistersiklus is om tot rus te kom.  Hier is ‘n paar voorstelle vir hierdie Sondag waaruit jy kan kies:

  • ’n Vaste lied wat baie geskik is om as toetredelied gedurende Lydenstyd te gebruik, is Lied 397 – “Ontsluit, o Heer, ontvlam ons hart”. Die verse kan afwisselend of al drie saam op ’n Sondag gesing word.
  • Ander wat ook gebruik kan word: 519 – “Wees stil en weet: Ek is die Heer”; 518 – “Voel jy soms of die Here te ver is”; 516 – “As sou dan ook die vyeboom nie bot nie”
  • Of gebruik die volgende responsoriese liturgiese moment aan die begin van die Erediens:

Voorganger: Ons beoordeel dus nou nie meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër so beoordeel, beoordeel ons  Hom nou nie meer so nie. Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Gemeente:     Dit alles is die werk van God.

Voorganger:  Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.
Gemeente:    Dit alles is die werk van God.

Voorganger: Die boodskap van versoening is dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Hy het die boodskap van versoening aan ons toevertrou.
Gemeente:   Dit alles is die werk van God.

Voorganger: Ons tree dus as gesante van Christus op en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!
Gemeente:   Dankbaar neem ons die versoening aan (2 Kor 5:16-20).

  • As verootmoediging in die erediens:
    Laat die gemeente luister na Koos du Plessis se lied “Gebed”.
    Daarna gaan die voorganger die gemeente voor in ’n gebed van skuldbelydenis.
    Antwoord: Gemeente sing Lied 245.‘n Lidmaat of kind lees Filippense 3:4-14 voor as riglyn vir ’n toegewyde lewe.

Lied

‘n Lied wat uitstekend hierna sal pas:

FLAM 3. “Aan U Voete, Heer”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding / Verwondering / Aanbidding)
Oorspronklike titel: Aan Uw Voeten, Heer
Teks en Musiek: Marcel Zimmer
Afr. vertaling: 2005 Faani Engelbrecht © 1993 Celmar Music (Opgeneem op FLAM, vol 1)

Keervers: Aan U voete, Heer, is die beste plek, 
daarom kniel ons voor U neer. 
Om by U te wees is die grootste eer, 
daarom buig ons voor U neer. 

1.  Ja, ons verkies nou om by U te wees
en om na U te luister.
in plaas van altyd maar weer besig te wees,
kom ons nou tot rus by U.

Keervers:

2. En ons verlang na u teenwoordigheid, Heer,
om saam te kniel in aanbidding;
in Gees en waarheid waarlik een te wees,
daarom buig ons voor U neer.

Keervers:

3. Net soos ‘n vader wat sy kinders vertroos
so omhels U ons elkeen.
U is ‘n Vader wat versorg en beskerm
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U;
en ons kom tot rus by U.

Familie-oomblik

Nina is baie opgewonde.  Sy skeur die eerste present oop en klap haar hande oor die mooi pop wat sy vir haar verjaardag kry.  Sy maak die volgende een oop: dis klere vir die pop.  Sy is baie bly.  Sy maak nog ‘n present oop en dis ‘n boek.  Haar maats staan rondom haar en kyk blinkoog na die res van die presente.  Hulle weet sy wil baie graag ‘n hondjie hê en hulle kan nie wag dat sy nog presente oopmaak nie.  Sy maak die volgende een oop: dit is twee bakke.  En sy skeur haastig nog een oop: dit is ‘n mandjie. En dan is daar nog net een present oor. En sy begin bekommerd raak, maar sy sê nog niks nie.  Sy maak die laaste present oop, en dit is ‘n leiband.  Maar, daar is geen hondjie nie!  Sy vra met baie huiwering: “Maar, ma, ek het alles vir ‘n hondjie, maar hier is nie nog presente nie?”

Haar pa laat hoor hier van die kant af.  “Oeps, lyk my ons het ‘n present vergeet.  Ek gaan dit gou haal.” En hy verdwyn na die garage en kom te voorskyn met die oulikste klein babahondjie.  Nina spring op en hardloop na haar pa van blydskap en gee hom ‘n drukkie.  Sy het die grootste present uiteindelik gekry. En sy is só bly!

Watter presente het julle al gekry waaroor julle net so bly soos Nina was?

Hoe het dit julle laat voel?

Ons lees in die Bybel van Maria wat vir Jesus ‘n groot present gegee het.  Sy het ‘n bottel baie lekkerruik olie vir Hom gegee.  Dit was so duur dat ‘n mens ‘n hele jaar al jou geld daarvoor moes spaar.

Ons lees dat Judas, die man wat vir Jesus verraai het, nie baie hiervan gehou het nie.  Hy wou eintlik die olie verkoop het en van die geld vir homself gevat het.

Maar, wat sê Jesus?  Los haar, sy het ‘n wonderlike ding gedoen.  Sy het vir my haar beste gegee.  En ek is baie bly daaroor.  Sy maak My hart bly.

Wat sê dit vir ons?

Ons kan maar ons beste vir Jesus gee.  Hy waardeer dit en dit maak sy hart bly.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Maria demonstreer hoe dissipelskap lyk

Inleiding

Oor Maria se optrede kan mens nét in die oortreffende trap praat:

  • Sy stort ‘n jaar se loon in die vorm van nardussalf op Jesus se voete uit;
  • Sy wy haar hele lewe aan Jesus toe;
  • Sy betoon die diepste liefde van haar hart aan Jesus;
  • Haar optrede word gebore uit diepe dankbaarheid oor wie Jesus is, en hoe Hy haar broer uit die dood opgewek het;
  • Sy was en salf Jesus se voete met die gesindheid van ‘n toegewyde slaaf, want voete-was was slawe-werk;
  • Sy versorg Jesus oorvloediglik terwyl die doodsdreigemente en verwerping reeds begin opstapel;
  • Sy verloor haar waardigheid deur haar hare in die openbaar los te maak, en Jesus se voete met haar trots (haar hare) af te droog.

Maria is aangegryp deur Jesus en wy haarself aan Hom toe.

Lydenstyd is ‘n tyd vir nadenke

Walter Brueggemann skryf dat lydenstyd by uitstek ‘n tyd is om te besin oor ons navolging van Jesus.  Die vertellings van Jesus se lyding en sterwe skep die geleentheid om – gedissiplineerd en verbeeldingryk – na te dink oor hoe ons lewe ingebed is in die lewe van Jesus. Ons het nodig “to situate (or re-situate) our lives in the story of Jesus.  We become aware that the story of Jesus requires and permits a new version of our own story of life and faith”.

Hoe plaas of oriënteer ons ons lewens na aanleiding van hierdie gebeure?  Wat leer Maria se lewe as dissipel ons oor die navolging van Jesus?  Hoe lyk egte dissipelskap?

Een: Dissipelskap koop in op die lyding en sterwe van Jesus
Maria salf Jesus in Betanië met die oog op sy begrafnis (12:7).  Sy stort ‘n jaar se loon op Jesus se voete uit, om Hom voor te berei vir sy lyding, sterwe en begrafnis.  Deur die tradisionele begrafnisgebruik van salwing, behandel Maria Jesus se byna-dooie liggaam asof Hy reeds dood is.  Sy doen dit met ‘n dankbare hart, gedagtig aan Jesus wat Lasarus uit die dood opgewek het.

Maria betoon liefde aan die lydende Here wie se sterwe alles te sê het vir lewe-en-dood kwessies.

Brueggemann sê dat Maria belê in Jesus se dood.  Deur die lydende Here met salf te verheerlik, neem sy Jesus se lyding op haar, neem sy haar kruis op, dra sy haar deel van die lyding van Jesus.  Soos Paulus later sou skryf: “Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam”.

Dit is ‘n saak van lewe en dood om die lydende Jesus te volg:

‘n Sterwe aan:

  • jou aspirasies en jou agenda;
  • selfverheerliking en die illusie dat die wêreld om jou en jou besittings draai;
  • die behoefte om ‘n wenner te wees en Jesus bloot te volg vir die voorspoed wat Hy kan bring.

Dissipels deel in Jesus se lyding.  Alles wat lyding en die kruis wil systap en probeer vermy, is vir dissipels ‘n versoeking.  Ons lewe is ingebed in die lyding en sterwe van Jesus.  Sodat ons saam met Hom kan opstaan in ‘n nuwe lewe, alreeds hier op aarde.

Maria se daad is ‘n hoopvolle inkoop in die lyding en sterwe van Jesus.  Jesus is die Weg tot lewe.  Anderkant sy lyding, sterwe en begrafnis het die Vader Hom opgewek uit die dood en Hom verhef tot die hoogste heerlikheid (Filippense 2:9).  Hier “profeteer” Maria se verheerliking van Jesus nog net van sy opstanding.  Sy weet wel reeds Hy het Lasarus opgewek uit die dood.  Hy het mag daaroor.  Daarom is sy lyding en sterwe ook vir ons die weg tot lewe.

Jesus vra nie net ‘n stukkie van ons lewe nie.  Hy vra alles.  Wanneer ons ons lewe oriënteer aan sy leiding en sterwe, word ons uitgedaag:  “Neem jou kruis op en volg My”.  Dit bly – ook vir ons – die weg tot lewe.

Twee:  Dissipelskap hou niks terug nie
Maria offer haar besittings en haar geld in diens van Jesus.  Deur haar salwing plaas sy haarself in die posisie van ‘n slaaf van Jesus.  Sy wy haar lewe aan Hom toe.  Om ‘n jaar se loon op enigiemand te bestee, is ‘n verskriklike mors van geld.  Maar nie wanneer dit op Jesus uitgestort word nie.  Om alles vir Hom op te offer, is die regte, toepaslike ding om te doen.

Deur die eeue was daar die verhale van die martelaars wat presies dit gedoen het.  Mense vir wie dit ‘n eer was om hul lewe in Jesus se diens te gee.  Richard Würmbrand, wat dikwels deur die Sowjet-Unie gemartel is weens sy dissipelskap, getuig van die intense vreugde wat hy beleef het.  Hy het met sy stukkende lyf snags in sy sel gedans van vreugde oor wie Jesus is, en die voorreg om in sy lyding te deel.

Dink aan die effek van hierdie selfoorgawe.  Die geur van Maria se liefdesdaad  dra soos die welriekende geur van nardusolie haar getuienis oor die ganse wêreld, tot vandag toe.

Op watter punte daag die Here jou in jou lewe uit om alles te gee?  Watter betekenis ken ons aan Jesus toe? Tot watter mate is ek regtig bereid om my lewe aan Hom toe te vertrou? Waarmee is God deur ons gemeente besig, wat ons uitdaag om ons prioriteite en ons agenda op te skort op grond van Wie Hy is, en deur ons vir die wêreld wil wees?

Drie:  Dissipelskap groei uit diepe liefde vir Jesus
Waar kom Maria se liefde en toewyding vandaan?  Sy is die een wat graag aan Jesus se voete gesit het.  Sy lering moes vir haar besonder betekenisvol wees.  Hy het ook haar broer uit die dood opgewek.

Jesus het haar lewe diep aangeraak.  Sy bediening was op ‘n besondere wyse op vroue gerig, ‘n uitreik na hulle diepste wese.  Hy het vroue se mens-wees herstel en hul isolasie deurbreek.  Die vroue-teoloog Dorothy Sayers help ons om dit onder woorde te bring as sy sê:

Perhaps it is no wonder that women were the first at the Cradle and the last at the Cross. They had never known a man like this Man – there never has been another. A prophet and teacher who never nagged at them, never flattered or coaxed or patronized; who never made arch jokes about them, never treated them as “The women, God help us!” or “The ladies, God bless them!”; who rebuked without querulousness and praised without condescension; who took their arguments seriously; who never mapped out their sphere for them, never urged them to be feminine or jeered at them for being female; who had no axe to grind and no uneasy male dignity to defend; who took them as he found them and was completely unself-conscious. There is no act, no sermon, no parable in the whole Gospel that borrows its pungency from female perversity; nobody could possibly guess from the words or deeds of Jesus that there was anything “funny” about woman’s nature.

Daar is diepe aanvaarding by Jesus, genesende aanvaarding.  Hy slaan sy arms om sondaars.  Hy tel verstotelinge op en gee aan hulle waardigheid.  Hy bring gemarginaliseerdes na die sentrum.  Vervreemdes word in gemeenskap opgeneem.  Saggeus en die vrou by die put word versoen met hulle gemeenskap.  Die weduwee van Nain kry haar seun en haar bestaansmiddele terug.  Die blinde Bartimeus kan sien.  Legio word bevry en ‘n getuie van die groot dade van God.

Ja, Jesus maak mense heel, tot vandag toe.  Deur sy wonde kom daar vir ons genesing op alle vlakke.  Hy is gebreek sodat ons geheel kan word.  Sal ons dan nie alles aan sy voete neerlê nie? Dit is die enigste toepaslike daad van toewyding vir dissipels wat soveel ontvang het.

Vier: Dissipelskap skep dienende, liefdevolle gemeenskap
Die woord wat Johannes hier kies vir “afdroog” (12:3, Grieks ekmasso), is presies dieselfde woord wat in die volgende hoofstuk gebruik word wanneer Jesus die dissipels se voete was en afdroog (13:5).  Maria verstaan, nog voordat Jesus dit demonstreer, dat dissipelskap liefdevolle diens beteken.

In die voetwassing (Joh 13) was Jesus sy dissipels se voete as uitdrukking van sy liefde vir hulle en as ’n manier om hulle as ’t ware in die lewe van God in te trek.  Hulle kry deel aan sy lyding en sterwe.  Hy vra hulle ook om hierdie handeling van diens onder mekaar te herhaal. Wat Jesus vir sy dissipels doen en wat hulle vir mekaar doen, het Maria reeds in 12:3 gedoen. In Maria se optrede vind ons ’n voorbeeld van die volle lewe as dissipel. Haar optrede wys vir ons die liefde wat ’n kenmerk van dissipelskap is.

Waar selfgerigtheid mense isoleer, asook vyandskap en twis in die hand werk, skep liefdevolle diens gemeenskap tussen mense.

Die alternatief

Judas se optrede en motiewe word uitvoerig in hierdie gedeelte beskryf.  Hy kom ook weer sterk na vore as teen-figuur in die voetewassing, in die laaste maaltyd en in die verraai van Jesus.

Judas illustreer hoe ‘n lewe lyk wat nié ingebed is in die lewe en sterwe van die Here Jesus Christus nie.  Judas leef in die geloofsgemeenskap, maar met sy eie agenda.

Daar is ‘n Judas in elkeen van ons.  Judas se optrede is by verstek die posisie wat ons met ons lewens inneem.  Lydenstyd skep die geleentheid om ons posisionering te heroorweeg.

Die bedoeling van die verhaal is nie om Judas te beskaam nie, maar om die alternatief van egte dissipelskap vir ons prakties uit te beeld.  Dit is ‘n keuse waarmee elkeen van ons elke dag gekonfronteer word.  Sal ons Jesus volg, of ons eie agenda nastreef?  Wat beteken Jesus vir ons?  Watter kragte, soos gierigheid, trek ons weg van Jesus?  Tot watter mate is ons regtig bereid om ons lewens aan Hom toe te vertrou?

Dissipelskap as geskenk

Gelukkig hang ons dissipelskap nie in die eerste plek van ons eie pogings af nie.  Dissipelskap, soos ons dit by Maria sien, is ‘n vanselfsprekende reaksie op die liefde en oorgawe van Jesus.  Sy kosbare liefde vir ons maak dit moontlik om onsself vir Hom te gee.

Laat ons Hom daarvoor prys!

God stuur ons om te leef

 

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

  • Litanieby die Offergawe 

Voorganger: Kinders van die lewende God, vier die gawes wat ons lewe verryk.
Gemeente: Asem en kos, omgeemense en sagte woorde, musiek en kleure.

Voorganger: Verheerlik God wat die Gewer van alles is.
Gemeente: Ons prys God omdat Hy weet wat ons nodig het en dit gee nog voordat ons daarvoor vra.

Voorganger: God se gawes verras ons:
Gemeente: Soos die omhelsing van ’n kind, woorde van aanmoediging, helder blommeprag.

Voorganger: God se gawes laat ons vervuld leef:
Gemeente: Nuwe werksgeleenthede, moed om op te staan vir geregtigheid, woorde wat sê, “ek is lief vir jou”.

Voorganger: God se gawes verander ons:
Gemeente: Hoop wanneer wanhoop ons verswelg, vergifnis wanneer sonde ons verstrik.

Voorganger: Ons dank God nou met stamelende mond.
Gemeente: O God van elke goeie en volmaakte gawe, ons dank U dat U na ons toe uitreik met liefde, aanraking, genade en gawes.

Voorganger: En laat ons lewe dankie sê:
Gemeente: Help ons, Here, om mense te word wat gee, uitreik na hulle wat gebrek lei, eensames in hulle eensaamheid aanraak en omgee vir hulle wat probleme ervaar.

Voorganger: Wanneer ons gee, groei ons al meer na die beeld van Christus:
Gemeente: God is die God wat gee.

Voorganger: Ons word al meer die mense wat God ons gemaak het om te wees:
Gemeente: God het ons gemaak om goed te wees.

Voorganger: Wanneer ons gee, word ons rentmeesters vir God wat omgee.
Gemeente: Here, heilig ons daaglikse lewe en alles wat ons gee. Amen

  • Slotlied: Lied 309
  • Seën: Die sewe kruiswoorde kan as seën gebruik word.

Jesus het aan die kruis uitgeroep:
“My God, My God, waarom het U my verlaat?”
Gaan nou in die wete dat Hy jou nie ’n enkele oomblik in hierdie week sal verlaat nie.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.