Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

In die tradisie staan hierdie Sondag bekend as Judice (laat reg geskied).

In die fokusteks wat handel oor die opwekking van Lasarus uit die dood, verwys Jesus na Homself as die opstanding en die lewe. Ook die Esegiëlteks handel oor lewe uit die dood aan die hand van die visioen van beendere wat tot lewe gewek word. Die psalm is die lied van gelowiges wat ten spyte van moeilike omstandighede steeds hulle vertroue op die Here stel. Die teks uit Romeine fokus op die verskil tussen ’n lewe wat deur die sondige natuur beheers word, en ’n lewe wat deur die Gees van God beheers word. Ook in dié gedeelte is daar sprake van die sterflike liggaam wat lewend gemaak word deur die werking van die Gees.

Ander tekste

Esegiël 37:1-14; Psalm 130; Romeine 8:6-11

Fokusteks

Johannes 11:1-45
Die dood van Lasarus
11 ’n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. 2Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. 3Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.”

4Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

5Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. 6Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. 7Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.”

8Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?”

9Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in ’n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. 10Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.”

11Hierna het Hy vir hulle gesê: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

12Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.”

13Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap. 14Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, 15en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”

16Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”

Jesus by Marta en Maria
17Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.

18Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; 19en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos.

20Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. 21Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

23Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

27“Ja, Here,” sê sy vir Hom, “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

28Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. 30Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. 31Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. 32Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

Jesus laat Lasarus uit die dood opstaan
33Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?”
Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.”

35Jesus het gehuil. 36Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”

37Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”

38Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ’n rotsgraf, en daar was ’n klip voor die ingang gerol. 39Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”
Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

40Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

41Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

43Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!”

44Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ’n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

Die Joodse Raad besluit om Jesus dood te maak
(Matt 26:1–5; Mark 14:1–2; Luk 22:1–2)
45Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

46Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. 47Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens. 48As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.”

49Een van hulle, ’n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks, 50en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.”

51Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe. 52En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring.

53Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak. 54Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na ’n dorp met die naam Efraim. Daar het Hy met sy dissipels ’n rukkie gebly.

55Die paasfees van die Jode was naby. Baie mense het voor die paasfees van die platteland af na Jerusalem toe gegaan om hulle te reinig. 56Hulle het daar na Jesus gesoek en waar hulle in die tempel gestaan het, vir mekaar gesê: “Hoe dink julle? Hy sal seker nie fees toe kom nie, of hoe?”

57Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe al klaar opdrag gegee dat as iemand weet waar Hy is, hy dit moet aangee sodat hulle Hom gevange kan neem.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede: Vonkk 55 (Jesus, toe U mens geword het)

Votum: Ps. 138

Geloofbelydenis oor Jesus
Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God,
gebore uit die maagda Maria,
wat gely het onder Pontius Pilatus,
gekruisig is, gesterf het en ter helle neergedaal het,
wat op die derde dag opgestaan het uit die dood,
opgevaar het na die hemel,
en sit aan die regterhand van God, die Almagtige Vader.

Ek bely my geloof in hierdie Jesus…
saam met Marta: “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” (Joh 11);
saam met Petrus: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” (Matt 16);
saam met Tomas: “My Here en my God!” (Joh 20);
saam met Maria Magdalena: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester (Joh 20);
saam met die offisier: “Hierdie man was werklik die Seun van God.” (Matt 27);
saam met die blinde man: “Een ding weet ek wel: ek was blind, en nou sien ek- As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.” (Joh 9);
saam met die Samaritane: “Ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is” (Joh 4);
saam met die twaalf: “… ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.” (Joh 6); en
saam met party van die mense: “Hy is die Christus” (Joh 7).
(Wicus Wait, Maart 2011)

Lofsang:  Flam 208

Liedere

VONKK 55 “Jesus, Toe U Mens Geword Het”
1. Jesus, toe U mens geword het,
en vir die mens u bloed gestort het,
het U gekom soos God dit wil.
Here, mag my lewenstrewe
– my denke, dade, hele lewe –
ook so gerig wees op u wil.
Ek wil my hart en hand,
my Heer, aan U verpand.
Hoor my bede:
Kom heilig my, en leer U my
om al my liefde Ú te wy.

2. Elke dag, as mens verbonde
aan ons gebrokenheid en sonde,
het U gely, getroos, gedien.
Ja, o Heer, te alle tye
was U vervul met medelye,
en alle nood het U gesien.
Leer my ook elke dag
wat U van my verwag.
Laat my liefde
opmerksaam bly, wil U my lei
om aan u diens my toe te wy.

3. U, Heer Jesus, het geduldig
die ergste leed verduur, onskuldig,
op vyande U nooit gewreek.
Selfs vir hul met wrede harte
het U gebid in al u smarte.
U het gekom om vry te spreek.
U dra die doringkroon,
betaal ons sondeloon.
Jesus Christus, kom help U my, dat as ék ly,
ek ook soos U vergewend bly.

Teks : Heil’ge Jesus, mijn ten leven –Jodocus van Lodenstein 1620-1677; Nederland 1806; GBA Gerdener 1931; AGB 1944; gewysig Gerjo van der Merwe 1978; gewysig VONKK-werkgroep 2009
Melodie: “Wachet auf” ruft uns die Stimme – Phillip Nicolai 1599, in aansluiting by Hans Sachs 1513?; aangepaste vorm 1803-05 Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Teks en orrelbegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Openbare besit
RUBRIEK:  Klassiek –  Toewyding en Aanroeping / Nagmaal / Lydenstyd

F208. “U Het Nie Gewag Op My”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lydenstyd)
Oorspronklike titel: You did not wait for me
Teks en Musiek: Mark Altrogge
Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Sovereign Grace Praise
CCLI Song No. 24047;  CCLI License No. 2048851

U het nie gewag op my om na U te kom
maar Uself geklee met brose menslikheid
U het nie gewag op my, om uit te roep na U
maar U roep my op die naam:  “Kom na My”

Vir ewig is ek dankbaar, O, Heer
Dankbaar vir die kruis, Heer, wat U dra
Vir ewig is ek dankbaar, o Heer
want U soek my voor ek daarvoor vra

God praat met ons en ons luister

Familie-oomblik

Dit is belangrik dat kinders die Bybel leer ken.  Daarom is dit dikwels goed om die Bybelverhaal self te vertel, eerder as om daaroor te “preek”.  Vertel die verhaal van Jesus en Lasarus op ‘n eenvoudige wyse aan die kinders oor.  Jy kan dalk selfs maak asof jy Lasarus is en vir die kinders vertel wat met jou gebeur het.  Draai kinders in toiletpapier toe om hulle te help om die storie te visualiseer.

Preekriglyn

Die lewensverhaal van Lance Armstrong, super-fietsry-fenomeen, is ’n vermenging van intense blydskap en diepe pyn.

Armstrong het die Tour de France vir ’n rekord sewe keer gewen, nadat hy kanker oorleef het.  Op pad na die kruin van sy fietsryloopbaan, is hy in Oktober 1996 op 25-jarige ouderdom met testikulêre kanker (fase 3) gediagnoseer.  Dit het reeds na sy brein, abdomen en longe versprei.  Op sy eerste besoek aan ’n uroloog, met ’n pynlike tumor, het hy reeds bloed uitgehoes.  Onmiddellike chirurgie was nodig, en sy kanse om te oorleef was op minder as 40% gestel.  Kankergewasse is later ook uit sy brein verwyder.

Niemand het kon voorsien dat Armstrong na fietsry sou kon terugkeer en die gedugste wedren op aarde, die Tour de France, vir ’n rekord sewe keer sou wen nie.  Daarmee het hy die gesamentlike rekord van vyf oorwinnings deur Miguel Indurain, Eddy Merckx, Bernard Hinault en Jacques Anquetil ver oortref.

In sy lewensverhaal, It’s not about the bike, vertel hy van die intense worsteling met die strawwe chemoterapie en die chirurgie.  Hy is openhartig oor die emosionele oorwinnings wat hy oor homself moes behaal voor sy besluit aan die begin van 1998 om na professionele fietsry terug te keer.

Vreugde en blydskap, pyn en hoop

Die gebeure rondom die dood van Lasarus getuig ook van geweldige pyn en hartseer, en oorweldigende hoop.  Ons lees hier van ’n diep menslike drama.  Intense emosies kom na vore.  Hoop, en die bevestiging van hoop, maar ook die diep en donker klowe van die lewe, is in hierdie verhaal vervleg.

Jesus ontvang berig dat Lasarus, broer van sy goeie vriende, Maria en Martha, siek is.  Jesus het vir Marta en haar suster Maria en Lasarus liefgehad (5).  Jesus vertoef nog twee dae voordat Hy en sy dissipels na Betanië, ’n dorpie naby Jerusalem vertrek.

Die dissipels is nie lus vir die reis nie.  Die spanning tussen Jesus en die Joodse leiers van Jerusalem het al breekpunt bereik.  Onlangs wou die Jode Jesus in Jerusalem stenig (Joh. 9).  Daarom is Tomas seker dat die reis na die provinsie Judea, in die omgewing van Jerusalem sekerlik op hulle dood sal uitloop (16).

Wanneer die groep by Betanië aankom, verneem hulle Lasarus is al vier dae dood.  Jesus verseker Marta die dood is nie die einde nie, Lasarus sal uit die dood opstaan.  Tog raak Marta en Maria, met hul Joodse vriendekring, se hartseer en trane Jesus so, dat sy eie gemoed vol skiet.  Jesus huil by die graf.  Uiteindelik wek Jesus Lasarus uit die dood op, maar onder ’n donker wolk.  Die Jode besluit om Lasarus weer dood te maak, en Jesus ook uit die weg te ruim.

Lasarus word opgewek om te bevestig dat Jesus mag oor die dood het.  Tog speel hierdie wonderlike, vreugdevolle teruggee van die lewe af in die klimaat van intense vyandskap, boosheid en vervolging.  Lasarus se bloed word gesoek.  Selfs die demonstrasie van die heerlikheid van God bring pyn mee.  Uiteindelik sou Lasarus weer sterf.

Saam met Lance Armstrong, Maria, Marta en Lasarus, deel ons almal in die blydskap en die pyn wat die lewe kenmerk.  Daarom is dit belangrik om die sin wat Johannes 11 tot ons lewe toevoeg, te ontdek.

Die kern van die verhaal

Die verhaal van Lasarus se opwekking is só opgeteken, dat die ontknoping daarvan in die gesprek met Marta, verse 20 tot 27, plaasvind.

Al twee die susters glo dat Jesus Lasarus van die dood sou kon red: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie” (21, 32).  Jesus kon die dood van hulle broer voorkom.  “Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra” (22).

Hulle woorde getuig van hulle geloof en vertroue in Jesus, ook in ’n slegte situasie, maar dit vertel ook van die konflik in hulle.  Hóé help geloof mens as dit hier diep binne-in jou so oorweldigend seer is?

Christina Landman verwys na iemand wat gesê het: “Pyn kan so diep word, dat jy God nie daaronder kan vind nie.” Wanneer ’n mens in só ’n situasie kom, kan dit tog help om na Marta te kyk – en hoe Jesus haar konflik hanteer het.  Wat doen Jesus toe Hy Marta se seer sien? En hoe haar geloofstryd haar pyn erger gemaak het?  Hoe help Jesus?

Een:  Jesus bevestig en versterk geloof
In haar diepste pyn sê Jesus dat pyn en verlies nie die laaste woord te sê het nie.  Die dood is nie die einde nie.  Trane is nie die finale werklikheid nie: “Jou broer sal uit die dood opstaan” (23).  Toe Maria hierdie woorde toepas op die opstanding op die laaste dag uit die dood, maak Jesus die betekenis wyer.  Opstanding is nie net deel van die eindtyd nie, maar ’n werklikheid wa reeds elke dag ervaar kan word.

Jesus sê: “Ek is die opstanding en die lewe.  Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.  Glo jy dit?”

Jesus hanteer Marta se pyn deur die aan die egte, rotsvaste basis van geloof vas te knoop.  Jesus self, en die lewe wat Hy bring, is die troos in die pyn van die doodsverlies.  “Glo jy dit, Marta?”  Dan haar antwoord “Ja, Here, ek glo as dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” (27)

Dis nie die intensiteit van Marta se geloof wat so belangrik is nie.  Die fokus, die anker van die geloof, Jesus self, is die bron van troos.

Daar is ook ’n tweede manier waarop Jesus help:

Twee: Jesus huil
Jesus betoon egte menslike meelewing in Marta en Maria se hartseer.  Eerder as om lang, teologiese verduidelikings te gee, huil Jesus saam met hulle.  Jesus probeer nie allerhande verklarings gee oor lyding in die algemeen, of oor die rede agter Lasarus se dood nie.  Nee, hy huil omdat Marta en Maria, saam met hulle vriende, huil.

Hierdie is egte trane.  Die Grieks sê dat Hy “innerlik gegloei het van aandoening.”  Jesus tree nie hier soos Superman op wat ’n kitsoplossing vir elke probleem het nie.  Hy vee nie die egte menslike smart uit die pad met ’n goedkoop “toemaar” nie.

Volgens Christina Landman huil Jesus om nog ’n rede.  Hy huil omdat Hy weet geloof maak nie sin vir mense wanneer hulle seer het nie.  Hy sien hierdie konflik in Marta, Maria en in jou en my.  Hy huil omdat Hy weet hoe skuldgevoelens oor ons geloofstryd ons pyn eintlik nog erger maak.  Hy huil wanneer seer die vyand van ’n mens se geloof word!  Jesus weet van seer.  Van konflik.  “My God, my God, waarom het U My verlaat?” vertel hiervan.

In sy trane word Jesus op ’n baie diep vlak vir Maria en Marta ’n medemens wat hulle pyn help dra.

Daar is egter ’n nog dieper rede waarom Jesus huil.  Jan du Rand sê Jesus se hartseer strek verder as net ’n meelewing met Lasarus se dood.  … Jesus staan voor die dood as manifestasie van die mag van die Bose en weldra moet Hy met sy eie lewe die hoogste offer betaal om juis die mag van die lig te laat seëvier oor die Bose.

Daar is ook ’n derde manier waarop Jesus help:

Drie: Jesus wek Lasarus op uit die dood
Jesus gebruik gesprek as metode om geloof te bevestig en te versterk.  Jesus dra ons deur opregte meelewing te betoon.  Maar derdens dóén Jesus ook, Hy wek Lasarus op uit die dood, om ons te herinner aan wie Hy is.  Hy is die Gestuurde van die Vader.  Hy het gekom om lewe te bring.  Hy roep kragtig na Lasarus in vers 43.  Net só roep Hy ander tot lewe, ook vir ons.  Elkeen van ons wat glo, hoor nou reeds die kragtige roep tot lewe.  Ons deel in die geskenk van die lewe.  Die lewe breek reeds hier en nou aan, selfs al moet ons nog sterwe.

Lasarus se opwekking is ’n profetiese heenwysing na Jesus se opwekking uit die dood.  En Jesus se opwekking is ’n bevestiging van die opwekking uit die dood van almal wat in Hom glo.  Lasarus se opwekking herinner ons dat ons in Jesus alreeds-nou-die-lewe-besit.

Lasarus se opwekking bevestig die waarheid van Jesus se woorde: “As jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien” (40).

Omraam deur die wonderbaarlike mag van God

Dit is belangrik om raak te sien dat die gebeure omraam word deur verwysings na die wonderbaarlike mag van God.

In vers 4 hoor Jesus die nuus van Lasarus se siekte en sê dan: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

Hierdie woorde kom weer aan die einde, in vers 40, op ’n kragtige manier na vore: “As jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien.”

Lasarus word opgewek, sodat ons die krag van God kan sien, en kan weet die kragtige woord van God, wat tot lewe wek, is ook op ons van toepassing.

Dit eindig nie in die dood nie

Lance Armstrong se verskriklike lyding deur kanker het nie in die dood geëindig nie.  Daardie episode word deur lewe, energie, vreugde en prestasie gevolg.  Soos Lasarus, het hy ’n tweede kans gekry.  Soos Lasarus, sal ook hy weer sterf.

Die verhaal van Lasarus se tweede kans, bevestig egter vir ons dat Jesus lewe gee.  Dit het Jesus die dood gekos.  Hy het gehuil, gely, was van God verlate, en het gesterf, sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie.

Jesus is God se Woord wat die ewige lewe, nou reeds, oor ons klein lewens uitroep.  Laat ons dit glo, en met ons diepste hartseer by Jesus gaan skuil.  Hy help vandag nog.  Hy is die Lewe.

F60. “U Liefdeslied Vir My”
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – God se liefde / Paasfees)
Oorspronklike titel: Oh, Danny Boy
Musiek: Tradisionele Ierse Volksmelodie
Teks: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Ons Koning kom!)

1. U liefde kleur die blou-blou helder hemel.
U goedheid rys die dagbreek oor die see.
U almag blink in maanlig oor die berge.
Die skoonheid van U skepping sleur my mee

U glorie sprei in vlerke van ‘n arend.
Genade sweef in wolke hoog en vry.
Die skepping sing vir my gewone sterfling.
Die Skepper God se liefdeslied weerklink in my.

2. Ek sien die kruis, ek volg U spoor na Golgota.
Ek sien die kroon, die dorings wat U dra
Ek kniel hier neer om nederig en dankbaar
vergifnis vir my sondeskuld te vra.

Ek ken die kruis, ek ken die Man van smarte.
Ek voel U pyn. U liefdesbloed bevry.
En van die kruishoutkoppie styg die note.
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my.

3. Wat is die mens dat U oor hom sou glimlag,
En wie is ek dat U vir my sou kom?
Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my

Hoe groot u liefde, grenslose genade!
Die Lam van God se liefdeslied weerklink in my
Van krip tot kruis weerklink U liefdeslied vir my!

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.