Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Met die aankoms van die Grieke (Joh 12) is dit duidelik dat “die tyd van Christus se verheerliking gekom het”. Die evangelie van Johannes dui daarop dat die heerlikheid van Christus aan die kruis uitgebeeld word, en dat dit wys op sy gehoorsaamheid aan die wil van die Vader. Daarin is ons verlossing.

Die liturgie moet die gemeente uitnooi om hierdie verlossing aan te neem en dan dieselfde gehoorsaamheid aan die Vader te betoon.

Ander tekste

Jeremia 31:31-34 (Die nuwe verbond aan Israel en Juda beloof)
31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’nnuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulleharte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

Psalm 51:1-12 ( ’n Gebed om onverdiende vergifnis)
Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid,
na aanleiding daarvan 2dat die profeet
Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel
met Batseba.
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
swanger geword het.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.

of Psalm 119:9-16 (’n Gebed om God se voorskrifte te leer)
9Hoe kan ’n jongmens
sy lewe skoon hou?
Deur hom te hou aan u woord!
10Ek wil aan U gehoorsaam wees
met my hele hart,
laat my nie afwyk van u gebooie nie.
11Aan u beloftes hou ek vas,
dit weerhou my van sonde teen U.
12Aan U kom die lof toe, Here,
leer my u voorskrifte.
13Al u bepalings
wil ek een vir een opnoem.
14Om volgens u verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom
van die wêreld.
15U bevele bly my altyd by.
Ek gee ag op die pad wat U aanwys.
16Ek verlustig my in u voorskrifte,
u woord vergeet ek nie.

Hebreërs 5:5-10 (Jesus het gehoorsaamheid geleer deur wat Hy gely het).
5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.”
6En op ’n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde
van Melgisedek.”

7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Fokusteks

Johannes 12:20-33
Die tyd van sy verheerliking het gekom
20Daar was ook ’n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. 21Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”

22Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus. 23Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in. 25Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.

27“Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. 28Vader, verheerlik u Naam!”

Toe het daar ’n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”

29Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ’n donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.”

30Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. 31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.”

33Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.

34Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?”

35Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. 36Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.”

Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.

Ekstra stof

Drie feeste vorm die agtergrond vir hierdie deel van Johannes, hfst. 8-12:

  1. die Huttefees (7:1-10:21) in die herfs,
  2. die fees van die tempelwyding (10:22-42) in die winter, en
  3. die laaste Paasfees (11:1-12:50) in die lente, wat ook die agtergrond vir die kruisiging en opstandingsgebeure vorm wat later volg.

Die perikope het die volgende temas:

  1. Jesus tree met die Jode in gesprek oor die feit dat Hy die lig vir die wêreld is – 8:12-59.
  2. Jesus genees ’n man wat blind geboreis as teken daarvan – 9:1-41.
  3. Jesus maak Homself bekend as die Goeie Herderwat sy lewe aflê vir sy skape – 10:1-42.
  4. Jesus genees vir Lasarus as teken van sy herderskap en om Homself as die opstanding en die lewe bekend te maak – 11:1-54.
  5. Jesus word gesalf vir sy komende lyding en kom daarvoor in Jerusalem aan vir sy laaste paasfees – 11:55-12:50.

Ons teksgedeelte val dus in hierdie laaste fase.

Johannes 11:55–12:50 – Die koringkorrel moet sterf om vrug te dra
Let op hoe die gedeelte ’n geheel vorm.  Dit word in 6 episodes vertel:

  • die pelgrimstog na Jerusalem vir die Paasfees vir die reiniging – 11:55-57;
  • die verhaal van Jesus se salwing met die oog op sy begrafnis deur die nardussalf van Maria – 12:1-8;
  • die verskillende reaksies op Jesus – die toeloop van die skare en die gramskap van die Joodse Raad – 12:9-11;
  • die intog in Jerusalem onder die toejuiging as Koning van Israel – 12:12-19;
  • die Grieksereaksie wat Jesus laat besef dat sy uur gekom het – 12:20-35;
  • die opsomming van Jesus se bediening wat deur beide geloof en ongeloof begroet word en ewige konsekwensies het – 12:37-50.

11:55-57: Die verhaal van die Intog begin met die plattelanders wat vir die Paasfees optrek na Jerusalem vir die reiniging, by die poel van Siloam, en waarskynlik ook by Betesda.  Die eerste ding wat hulle in Jerusalem daarna doen is om vir Jesus te soek.  Hulle wil sien wat gaan gebeur in die konflik met die Joodse Raad.  Dit verklaar heel moontlik waarom daar so ’n groot groep was wat Jesus ontmoet en in Jerusalem in begelei het.

12:1-8: Jesus doen eers op pad by Betanië aan, waar hy vermoedelik ook in die week gebly het – net 3 km van Jerusalem af.  Dit is ses dae voor die Paasfees, die Sondag van die laaste week van sy aardse lewe.  Dan bewys Maria aan Jesus ’n groot eer deur ’n halfliter baie duur nardusolie te neem en Jesus se voete daarmee te salf, dié voete wat binnekort deur spykers deurboor sou word (’n mens dink ook onmiddellik aan die voetewas episode van hoofstuk 13).  Toe Judas, die verraaier en dief, kritiek daarop lewer deur, verdedig Jesus dit op grond van die feit dat dit ’n profetiese daad is met die oog op sy begrafnis.

12:9-11: Die gewildheid van Jesus en ook Lasarus sorg vir ’n groot toeloop van mense, maar ook vir die gramskap van die Joodse Raad, wat besluit om ook vir Lasarus dood te maak, om die groeiende beweging in die kiem te probeer smoor.

12:12-19: Op die Maandag versprei die nuus dat Jesus op pad is Jerusalem toe soos ’n veldbrand en ’n skare gaan Hom tegemoet om Hom in Jerusalem te begelei.

Let op die verskillende reaksies in die skare:

  • Sommige is uiteraard geïnteresseerd in die gebeure rondom die wonders (vers 17-18),
  • ander om te sien wat in die konflik met die Fariseërs gaan gebeur (11:56).
  • ’n Groot deel van die skare haal OT gedeeltes aan om Hom as die Koning van Israel te verwelkom (Ps 118:26) en wuif Hom met palmtakke die stad binne, terwyl Hy op ’n donkie ry in vervulling van die profesie (Sag 9:9) – aan die einde van die tyd sal ons Hom ook met palmtakke vereer (Open 7:9).
  • Die dissipels is egter verward oor al dié dinge – onthou hulle was nie lus om te kom nie, omdat hulle die konflik met die Joodse Raad gevrees het – en het dit eers later verstaan, soos Johannes ons inlig.
  • En die Fariseërs is net nog meer oortuig dat hulle Hom uit die weg moet ruim, want die hele wêreld gaan agter hom aan (en die Grieke se storie kom nog!).

12:20-35: ’n Aantal Griekssprekendes (godvresendes?) het ook gekom om die Paasfees te vier en staan ook nader om Jesus te ontmoet.  Let op hoe Filippus (Griekse naam) en Andreas saamwerk om die nuus aan Jesus oor te dra (soos met die eerste ontmoeting by die see, en die verhaal van die broodvermeerdering).

En dan is dit asof alles in plek val – Jesus weet die tyd van sy kruisdood (verheerliking) het gekom, interpreteer vir hulle wat aan die gebeur is, en onttrek Hom van die gedrang.

Let op hoe Jesus die metafoor van die koringkorrel wat in die grond moet val en sterf om vrug te dra op Sy eie bediening van toepassing maak.  Dit verheerlik Hom en maak van Hom ’n man van groot betekenis – die tyd van die nasies het gekom, en vir daardie fase van die bediening om aan te breek, moet Hy die pad van die kruis stap.

Sy ontsteltenis oor die pad wat Hy nou moet loop word egter oorwoeker deur die bewussyn van sy roeping (vir die nasies) wat op dié manier tot sy logiese vervulling kom. En daarmee offer Hy sy lewe op – voor die Joodse Raad ’n hand aan Hom slaan.  Jesus gee Homself dus oor in die dood – op sy eie terme en vrywillig.

En Hy nooi sy volgelinge uit om Hom in dieselfde ontlediging en vrug-deur-dood-dra te volg.  Dit is juis in die vrywillige keuse van opoffering wat die krag van nuwe lewe vir ander lê.  En dit is die opofferende voorbeeld wat mense oortuig van die integriteit en betekenis van Jesus (en enige van sy navolgers) se lewe.

En God verseël sy offergawe met sy goedkeurende stem uit die hemel, wat tot verdere oortuiging lei, nie net vir Jesus nie, maar veral vir die skare wat om Hom saamgedrom is.

Jesus verduidelik weereens vir die skare hoe sy lyding inpas in God se plan, maar met min begrip by hulle.

12:37-50: Johannes sluit dié gedeelte af met ’n terugblik op Jesus se wondertekens wat op verrassende wyse met soveel ongeloof begroet is, en vind die verklaring daarvoor in die profesie in Jesaja se roepingsvisioen (Jes 6:10) en die beskrywing van die reaksie op die Dienaar van die Here (Jes 53:1) dat ongeloof deel van God se oordeel oor mense se sonde is.

Tog bars daar geloof op verrassende plekke deur – selfs ’n paar lede van die Joodse Raad (onthou Nikodemus en later Josef van Arimatea) het tot geloof gekom, hoewel hulle stil gebly het daaroor om nie uit die sinagoge geban te word soos die blinde man wat genees is en tot geloof gekom het nie.

En Johannes gee ons ’n laaste publieke toespraak van Jesus as opsomming van sy bediening – sommige luister na Hom en kry die ewige lewe; ander luister nie, en sal aan die einde van die tyd geoordeel word (waarna Johannes reeds in sy proloog in Johannes 1 verwys het).

Dit bly aan die een kant ontroerend om Jesus se insig in wat moet gebeur en sy onverskrokke moed om Homself daarvoor te gee, te sien.  Aan die ander kant is dit ongelooflik inspirerend omdat Hy daarmee vir ons ’n model gee van hoe enigiets van betekenis werk – in positiewe rekenaartaal: “wat jy insit, is wat jy uitkry”.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Die evangelie van Johannes dui daarop dat die heerlikheid van Christus aan die kruis uitgebeeld word, en dat dit wys op sy gehoorsaamheid aan die wil van die Vader. Daarin is ons verlossing.
Die liturgie moet die gemeente uitnooi om hierdie verlossing aan te neem en dan dieselfde gehoorsaamheid aan die Vader te betoon. (Uit Bybel-Media se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle, 2011-12)

Aanvangswoord
31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit.
33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. (Jer 31)

Seëngroet

Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld…
Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees! (Uit 1 Pet 1)

Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,3,5”

Verootmoediging

BEWUS VAN SONDE
Gebruik Jesus se opsomming van die Wet as voorbeeld van ons skuld voor die Here (maw lig die noodsaak uit dat ons daarvan verlos moet word)

Matteus 22:34-40 ()
Die vraag oor die grootste gebod

(Mark 12:28–34; Luk 10:25–28)
34Toe die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs die mond gesnoer het, het hulle bymekaargekom, 35en een van hulle, ’n wetgeleerde, het Hom met ’n vraag probeer vastrek. 36“Meneer,” vra hy, “wat is die grootste gebod in die wet?”

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ 40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

SKULDBELYDENIS
(Uit Psalms 51)
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus reg
en u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.

11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.

Sang: Lied 247 “Heer wees ons genadig (Afrikaans en Latyn)”

BEVESTIGING VAN VRYSPRAAK
Uit Jeremia 31
31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit.

33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.

Uit Hebreërs 5
7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

TOEWYDING
Uit Psalm 119
10Ek wil aan U gehoorsaam wees
met my hele hart,
laat my nie afwyk van u gebooie nie.
11Aan u beloftes hou ek vas,
dit weerhou my van sonde teen U.

14Om volgens u verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom
van die wêreld.
15U bevele bly my altyd by.
Ek gee ag op die pad wat U aanwys.
16Ek verlustig my in u voorskrifte,
u woord vergeet ek nie.

Lofliedere
Lied 223 “Aan Jesus Koning al die eer 1,2,3” en/of
Lied 219 “Laat ons sing van ons Verlosser 1,2,3”

Liedere

F44. “Bring Hom Hulde”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Lof)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 1994  MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 4 en FLAM, vol 1)

Refrein:
Bring Hom hulde, bring Hom ere
Bring Hom hulde, ere, lof en majesteit
Soos in die hemele, so ook op die aarde
Aan Jesus alleen kom toe die eer en heerlikheid.

Aan die kruis het Hy die vyand uitgeklee 
en in die openbaar oor hom getriomfeer.
Die poorte van die doderyk is uitmekaar geskeur
en die leë graf verkondig steeds: Hy alleen regeer!

F232. “Jesus Alleen”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Geloof en Vertroue)
Oorspronklike titel: In Christ Alone
Teks en musiek: Keith Getty & Stuart Townend
Afrikaans vertaling: Faani Engelbrecht
© 2001 Thankyou Music

1. Jesus alleen kan ons vertrou
Hy is ons hoop, ons lied, ons krag
Deur storms heen, deur winterkou’
dwarsdeur die duister van die nag
En deur sy liefde, deur sy hand
vind ons weer rus, bind Hy die band
Ons Vaste Grond, ons Fondament
Hier in sy liefde leef ons nou

2. Jesus alleen word mens soos ons
volheid van God vol kwesbaarheid
Oneindig meer doen Hy vir ons
ly vir ons ongeregtigheid
En deur sy offer word ons vry
Hy dra ons skuld, Hy sterf, Hy ly
Ontneem die dood sy heerskappy
Hier deur sy sterwe leef ons nou

3. Daar in die graf deur dood omring
Wie kon dit weet, wie het verstaan?
Daar breek die dag, die nuwe dag
Jesus, ons hoop, het opgestaan
Hy’t opgestaan in heerlikheid
Hy’t ons van vloek en skuld bevry
Ek leef in Hom en Hy in my
Jesus se bloed maak waarlik vry

4. Geen lewensangs, geen sterwensnood
dit is die krag waarop ons staan
Van die eerste tree tot by die dood
wys Hy die weg wat ons moet gaan
Geen duiwelsplan of aardsbestaan
kan ons ooit ruk vanuit sy hand
Hy sal weer kom, sy bruid kom haal
Tot Hy weer kom, sal ons bly staan

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here Jesus, om U te volg is ons hele lewe. Ons wil die lewe ook vir ewig behou. Laat ons luister na U Woord en Gees sodat ons kan lewe. Amen.

Skriflesing: Johannes 12:20-33

Prediking

Familie-oomblik

Die X-Men is “mutants” – mense wat met spesiale “super-powers” gebore word.  Omdat hulle hierdie spesiale kragte het, is hulle helde wat ander mense help.

Vra vir die kinders watter kragte hulle graag sou wou hê as hulle enige “super power” kon hê.  Vertel ook watter krag jy sal wil hê en wat jy daarmee sal doen.

Ons hou van helde en spesiale kragte.  Die mense van Jesus se tyd het ook van helde gehou!  Hulle het gedink Jesus was ‘n held wat die slegte mense sou vernietig.  Daarom wou hulle hom graag sien.

Ons dink ook dikwels, soos die mense van Jesus se tyd, dat ons spesiale kragte nodig het om helde te wees.  Jesus leer vir ons dat ‘n held anders lyk.  Hy oorwin slegte mense deur hulle lief te hê – selfs al kos dit sy lewe!

Dit is hoe God is.  Hy is ‘n held wat liefhet en sy lewe gee. Hy offer homself op om mense te red.

Miskien het ons nie “super powers” soos die X-Men nie, maar ons het ‘n geheime krag – Jesus se liefde vir ons!  Daardie krag help mense wanneer dit ook vir hulle nodig is om baie op te gee om ander te help.

Preekriglyn

J.W. Tucker, sendeling in die Belgiese Kongo, het geweet sy lewe is in gevaar toe anargie in 1964 uitgebreek het.  Dit was die tyd van uhuru, koloniale bevryding.  Hy het egter getrou op sy pos gebly, wetende dat God hom geroep het.  Op ‘n dag val ‘n bende hom aan, en slaan hom met stokke, knuppels, kaal vuiste en gebreekte bottels dood.  Hulle gooi sy liggaam agter op ‘n vragmotor en gaan voer dit vir die krokodille in die Bomokanderivier.

J.W. Tucker het alles gewaag, en kon skynbaar niks daarvoor wys nie.  Dertig jaar later ontdek ‘n groot vriend van hom, John Weidman, egter op besoek aan Zaïre (nuwe naam van die Belgiese Kongo) hoe God Tucker se offer gebruik het.

Die Bomokanderivier vloei deur die stamgebied van die Mangbetostam, ‘n groep wat die evangelie glad nie ken nie.  Gedurende die burgeroorlog in die sestigerjare vra die Mangbetos die sentrale regering in Kinshasa om hulp.  Die hulp kom toe in die vorm van ‘n brigadier, ‘n formidabele polisieman van Isiro, met ‘n reputasie as sterk leier.  J.W. Tucker het hierdie brigadier twee maande voor hy vermoor is na Christus gelei.

As ‘n nuwe Christen het die brigadier sy bes gedoen om teenoor die Mangbeto te getuig, maar sonder sukses.  Op ‘n dag verneem hy van ‘n Mangbeto-tradisie wat lui: “As die bloed van ‘n man in die Bomokanderivier vloei, moet jy na sy boodskap luister.”

Die brigadier roep die koning en die oudstes bymekaar.  Hulle kom in ‘n amptelike raadsvergadering bymekaar en hoor die brigadier sê:  “‘n Paar maande gelede is ‘n man vermoor, en sy liggaam is in julle Bomokanderivier gegooi.  Die krokodille het sy liggaam verskeur.  Sy bloed het in julle rivier gevloei.  Maar voordat hy dood is, het hy ‘n boodskap aan my oorgedra.  Hierdie boodskap handel oor die Seun van God, die Here Jesus Christus, wat na die wêreld gekom het om sondaars te red.  Hy het vir die sonde van die wêreld gesterf, Hy het ook vir my sonde gesterf.  Ek het hierdie boodskap ontvang, en dit het my lewe verander.”

Terwyl die brigadier praat, het die Gees van die Here oor die mense gekom.  Hulle het op hulle knieë geval en na God om hulp geroep.  Baie het besluit om die Here Jesus te volg.  Sedert daardie dag het duisende Mangbetos Jesus aangeneem, en letterlik dosyne nuwe gemeentes het ontstaan.

— Marshall Shelley, “A Missionary’s Sacrifice Was Worth the Cost,” PreachingToday.com

Hiervoor het Jesus gekom

Wanneer Grieke (nie-Jode, heidene) by die Paasfees vra om Jesus te ontmoet, lei dit tot ‘n verstommende reaksie van Jesus.  Volgens Jesus beteken hulle versoek:

  • dat die tyd vir sy verheerliking, langs die weg van lyding en sterwe, soos die koringkorrel, nou gekom het;
  • dat Een moet sterwe sodat daar ‘n groot oes kan wees – dit is die “wet” van die koringkorrel;
  • dat die “wet” van die koringkorrel ook vir Jesus se dissipels geld – deur jou lewe vir Jesus te gee, behou jy dit vir die ewige lewe;
  • dat die proses om deur sterwe tot verheerliking en oes te kom persoonlike worsteling meebring.  Jesus is diep ontstel, maar Hy weet die heerlikheid van die Vader is op die spel;
  • dat Jesus se dood aan die kruis baie mense, oor allerlei grense, na Jesus sal trek.

Hierdie merkwaardige reeks uitsprake is die gevolg van Grieke, buitestanders, nie-Jode, heidene, se begeerte om met Jesus se praat.  Dit is die teken dat Jesus se lydensweg nou in volle omvang gaan begin.  Hiervoor het Jesus gekom: baie moet na God kom, Grieke, Afrikaners, Mangbetos, beskaafdes, barbare, mans, vroue, Jode, Romeine, noem maar op.

Die versoek van die Grieke is die teken dat ‘n proses wat reg rondom die wêreld gaan spoel, nou begin.  Jesus gaan ly en sterf, daarna verheerlik word, en só ‘n groot oes inbring.  Hierdie beweging gaan in Jesus see dissipels herhaal word.  Hulle gaan hul lewens vir Jesus op die spel plaas, hulle gaan letterlik en / of figuurlik sterf, maar so ook ‘n groot oes vir die koninkryk inbring.

Die beeld van die koringkorrel

Die sentrale metafoor in Jesus se woord is dié van ‘n koringkorrel wat in die grond val, “sterf,” en ‘n groot vermenigvuldiging van korrels – ‘n oes – meebring.  Hoewel ons wetenskaplik weet dat die koringkorrel nie werklik in die grond sterf nie, maar van gedaante verander, ophou om in ‘n bepaalde vorm te bestaan, is Jesus se beeld baie duidelik:  deur ‘n offer van selfprysgawe en gehoorsaamheid te bring word God verheerlik, en mense ingesluit in die groeiende kring van Jesus se dissipels.

Die koringkorrel:  profesie van lyding en sterwe

Die beeld van die koringkorrel is eerstens Jesus se profesie dat die tyd vir sy lyding en sterwe nou aanbreek.  Die koms van die heidene dui op die klimaks van sy bediening.  Deur lyding heen word Hy die Verlosser van die wêreld.  Daarvoor het Hy gekom, sodat almal die genade kan ontvang.  Sy sterwe aan die kruis – sy “verhoging” van die aarde af – trek almal na hom toe.

Dood is egter ‘n manier om wins vir die lewe te bring.  Die koringkorrel moet in die grond beland om te ontkiem en vrug te dra.  ‘n Saadkorrel wat nie in sy ou bestaan sterwe nie, kan nie vermeerder nie.  So lewer Jesus se dood vrug.  Dit is produktief.  Jesus se dood is wins vir die ganse mensdom, want Hy trek die heidene na hom toe.

Ons is deel van die oes

Terwyl die Grieke Jesus op die Paasfees wou ontmoet, was die meeste van ons (vandag hier in die kerk) se voorouers iewers in Noord-Europa, of in die Ooste, of in Afrika woonagtig.  Ons eie voorouers was tydens hierdie Paasfees nog ver van God af, sonder Christus en sonder hoop op die ewige lewe.  Hulle sou eers met die evangelie bereik word nadat Jesus gesterf het, en die boodskap oor die wye wêreld begin uitkring het.

Die wet van die koringkorrel – dit moet sterf om oes voort te bring – het ook vir ons seën gebring.  Ons is deel van die oes wat Jesus voorsien het.  Jesus se opmerkings is vir ons nie maar ‘n ver, teologiese, abstrakte gedagte nie.  Aangesien Hy sy lewe vir ons afgelê het, is ons vandag deel van die oes.  En deel van die proses om die oes te vermenigvuldig deur self ons lewens in diens van Jesus te gee.

Lydenstyd is daarom ‘n tyd van diepe dankbaarheid teenoor die lydende Here, wat gesterf het sodat baie na hom getrek kan word – ook ons.

Die koringkorrel beliggaam gehoorsaamheid

Mense dink dikwels oor geloof en die navolging van Jesus asof dit bloot intellektuele instemming met ‘n paar waarhede behels.  Jy moet ‘n sekere lysie uitgangspunte aanvaar.  Geloof het met jou brein te doen, nie met jou lewe nie.  Waar dit wel met jou lewe te doen het, behels geloof bloot dat jy sekere dinge nié doen nie.  Jy sien af van sekere goed, wat ander as “lekker” mag beskou, maar vir jou is dit taboe.  Gewoonlik is hierdie lysie nie te lank nie.

Die voorbeeld van die koringkorrel demonstreer dat geloof om veel meer gaan.  Dit bring ons fisieke bestaan in gedrang.  Die koringkorrel moet sy lewe aflê om deel van die vrug te word.  Die koringkorrel moet gehoorsaamheid beliggaam.

J.W. Tucker het die reël van die koringkorrel in 1964 in die Belgiese Kongo aan sy lyf gevoel.

Jesus moes ook gehoorsaamheid beliggaam.  Jesus se dood kan met geen menslike dood vergelyk word nie, omdat Jesus die straf op alle sonde moes dra.  Hy was meer as ‘n held wat sy lewe op die spel geplaas het.  In Hom, en op Hom, het die straf vir al ons sonde neergekom.  Hy moes liggaamlik daarvoor betaal.

Die Johannes-evangelie help ons om hierdie beliggaming van gehoorsaamheid raak te sien.  Dit plaas baie klem op die menslikheid van die Seun van die mens. In vers 27 sê Jesus: “Nou is ek diep ontsteld.” Wanneer dit begin het, weet ons nie. Die feit is dat dit die huidige toestand is waarin Jesus verkeer en dis al ’n geruime tyd so. Dit is dieselfde woord wat voorkom in Johannes 11:33.

By Lasarus se begrafnis ontmoet Jesus vir Maria en daar staan: “Toe Jesus haar sien huil . . . Hy was diep geraak en aangedaan.”  Voorbeelde van Jesus se optrede wys hierdie menslike kant van Hom in die Johannes-evangelie. Net Johannes vertel van die Samaritaanse vrou (Joh. 4).  Hier oorskry Jesus verskeie grense om aan hierdie vrou die water van die lewe te bied.  In Johannes 8 spreek Jesus hierdie vrou vry, terwyl die aanklaers alreeds met klippe in die hand staan. “Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.”  Dit is net in die Johannes-evangelie waar die gedeelte oor die voetwassing voorkom, waar Jesus in Johannes 13 sy bokleed uittrek dat Hy soos ’n destydse Griekse slaaf lyk en begin om sy dissipels se voete te was.  Die gedeelte oor Tomas se twyfel kom net in Johannes (20:26) voor.  Jesus verstaan sy eg menslike twyfel en  nooi hom om sy twyfel op Hom te kom besweer.  So eg menslik is Jesus.

Dit is juis hierdie eg menslike Jesus wat in vers 27 sê Hy is diep ontsteld. Moet Hy probeer uitkom uit hierdie ding?  Die versoeking is groot om uit hierdie transaksie te wil uitklim, kop uit te trek en dit tot die Vader te rig.  “Kom asseblief en doen iets hieraan. Kry ’n ander manier om dinge te doen en reg te stel.”

Tog weet Jesus dat gehoorsaamheid aan die Vader jou hele bestaan op die spel plaas.  Hy kies om die Vader te volg.  Hy plaas sy lyf op die spel.  Vir ons.

Die koringkorrel: reël vir Jesus se volgelinge

Jesus bewandel die weg van die koringkorrel.  Daarmee stel Hy ook die standaard vir ons gehoorsaamheid.

Die feit van Jesus se sterwe wat lewe bring, is ook ‘n opdrag aan Jesus se dissipels.  ’n Volgeling van Jesus is geroepe om ’n radikaal ander lewenskoers in te slaan as wat normaalweg in ons wêreld voorkom.  As Hy dan sterf en daardeur lewe gee, moet gelowiges keuses maak wat ook vir hulle lewe of dood kan beteken om Christus ontwil.  Die keuse is “Christus liefhê bo alles” of om “Christus nie lief te hê bo alles nie.”  Iemand wat sy lewe waardevoller ag as Christus, dus sy lewe bo Christus verkies, sal sy lewe by die Here verloor (letterlik vernietig).  Die weg van die gelowige in die wêreld is die weg van die koringkorrel . . . die weg wat Christus geloop het.

Wie “My volg” sal beloon word met “Wees waar Ek is.” Dit is die weg van iemand “wat My dien.”  Dien is hier nie die taal van die diens van ’n slaaf nie, maar van persoonlike betrokkenheid, van vryheid van keuse en van verantwoordelikheid.  Wie uit vrye beweging na Jesus kom, het die weg van Jesus uit vrye beweging gekies.  Die gedeelte wys terug na vers 12-19 waar mense wat om verkeerde redes agter Hom aan wil kom, moet weet wat die navolging van Jesus inhou.

Menslike navolging

Wie kies om Jesus te volg, moet weet dat dit ‘n prys gaan verg.  Dit is egter ‘n prys met ‘n belofte.  Wat jy ook al opoffer om Jesus bo alles lief te hê en te dien, sal vrug oplewer.  ‘n Groot oes.  J.W. Tucker se verhaal getuig hiervan.

Op die pad van dissipelskap volg ons ‘n Here wat weet wat dit beteken om tot die uiterste toe beproef te word.  Sy eie gehoorsaamheid aan God het Hom diep ontsteld gelaat.  Sal Hy dan nie verstaan wat dit beteken as ons deur moeilike keuses ter wille van Hom gaan nie?

Hebreërs 2:18 sê: “Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word.”  Dit word gevolg deur:

Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie.  Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.  (Hebr. 4:15v)

Jesus is nie net God nie, maar ook eg mens.  Hy is ‘n figuur, nie van mag nie, maar van magte­loosheid, nie van sterkste wil wees nie, maar van nederig wees, nie van oorheersing nie, maar van oplig aan ’n kruis, van prysgawe, nie van selfhandhawing nie, van self-verloëning, van sterf om vrug te dra. Nie om jou sin te kry nie, maar om jou wil te laat los en oor te gee aan sy Vader se wil . . . die weg van verhoging loop deur die weg van vernedering. Die weg van vernedering loop uit op die weg van lewe en vrug dra.

Laat ons hierdie Jesus met oorgawe volg.  Mag die voorbeeld van Jesus én mense soos J.W. Tucker ons aanspoor!

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis

As die hernuwing van doopbeloftes as deel van die Paassondagliturgie beplan word, sal dit goed wees om die doopgeloofbelydenis op die Sondae in Lydenstyd te gebruik (sien basisliturgie).
Ek glo in en vertrou op God die Vader,
wat die wêreld gemaak het.
Ek glo in en vertrou op sy Seun Jesus Christus,
wat die mensdom verlos het.
Ek glo in en vertrou op sy Heilige Gees,
wat lewe gee aan die mense van God.
Ek glo in en vertrou op een God:
Vader, Seun en Heilige Gees.
(Uit Bybel-Media se Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle, 2011-12)

Offergawes

Wegsending: Lied 514 Ek weet verseker 1,2,

Seën
Ek bid dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader
aan wie die heerlikheid behoort,
deur sy Gees aan julle wysheid gee
n Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken.
18Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder
dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou,

en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het,
19en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.
Amen (Efes 1)

Musikale Amen: Lied 312/313/314/315/

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.