Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

As gemeenskap van gelowiges is ons identiteit in Christus. Lydenstyd is vir ons ’n tyd van verwagting op iets nuuts in ons eie lewe, dat God ons lot sal verander. Ons sien hierdie tekens van verwagting in die natuur, ons sien hierdie tekens van verwagting in ons eie lewe en in ons gemeenskappe. Tydens hierdie erediens wag ons, in gemeenskap met ander gelowiges, binne die ruimte van die erediens. Ons wag nie soos mense sonder hoop nie.

Ander tekste

Jesaja 43:16-21
16So sê die Here,
Hy wat ’n pad gemaak het deur die see,
’n deurgang deur die magtige waters,
17Hy wat strydwaens en perde
laat optrek het,
’n leër op volle sterkte
na sy ondergang toe.
Hulle kon nie weer opstaan nie,
dit was klaar met hulle,
hulle is soos ’n lamppit uitgedoof.
18Maar moenie net
aan die vroeëre dinge dink
en by die verlede stilstaan nie.
19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,
dit staan op die punt om te gebeur,
julle kan dit al sien kom;
Ek maak in die woestyn ’n pad,
Ek laat in die droë wêreld
riviere ontspring.
20Die wilde diere sal My vereer,
die jakkalse en die volstruise,
omdat Ek water gee in die woestyn,
riviere in die droë wêreld
om my volk, my uitverkore volk,
se dors te les.
21Dit is die volk wat Ek
vir My geskep het,
en wat my lof sal verkondig.

Psalms 126:1-6
Verander tog ons lot, Here!
126 ’n Pelgrimslied.
Toe die Here die lot van Sion
verander het,
was dit vir ons soos ’n droom.
2Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here hét groot dinge
aan hierdie mense gedoen.”
3Die Here hét groot dinge
aan ons gedoen;
ons was bly.
4Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
5Wie met trane saai,
sal die oes met gejuig inbring.
6Al loop hy en huil
terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.

Johannes 12:1-8
Jesus word in Betanië met nardusolie gesalf

(Matt 26:6–13; Mark 14:3–9)
12 Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. 2Daar het hulle vir Jesus ’n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3Toe het Maria ’n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.

4Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: 5“Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”

6Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy ’n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.

7Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. 8Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

Fokusteks

Filippense 3:4b-14
Die ware geregtigheid
3 Verder, my broers, wees bly in die Here! Om dieselfde dinge aan julle te skrywe, is vir my nie moeite nie, en vir julle gee dit sekerheid.
2Pas op vir daardie dwaalleraars;
pas op vir daardie mense
wat kwaad stig;
pas op vir daardie betekenislose
besnydenis!

3Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. 4Tog sou ek ook op uiterlike dinge kon vertrou.

As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.

7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

15Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink—God sal ook hierin aan julle die regte insig gee. 16In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.

17Wees my navolgers, broers, en let op die mense wat lewe volgens die voorbeeld wat ons vir julle stel. 18Ek het dikwels vir julle gesê en tot my verdriet moet ek dit nou herhaal: Daar is baie wat as vyande van die kruis van Christus lewe. 19Die verderf is hulle einde; die maag is hulle god; hulle skande is hulle trots; hulle is aardsgesind. 20Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. 21Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.

4 Daarom, my broers, moet julle vas staan en getrou bly aan die Here. Ek het julle baie lief en verlang na julle. Julle is my blydskap en my kroon.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Hongerdoek
’n “Hongerdoek” word in die liturgiese ruimte aangebring en lidmate word genooi om byvoorbeeld koerantuitknipsels en foto’s wat hulle herinner aan lyding in die wêreld daarop aan te bring. Lidmate wat vas, word ook aangemoedig om dit wat hulle prysgee tydens Lydenstyd met ’n nota op die hongerdoek aan te dui. Waar daar op barmhartigheidswerk gefokus word, word niebederfbare produkte en klere by die hongerdoek neergesit en later, na afloop van die diens, uitgedeel.
(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13, Basis liturgie vir die Lydenstyd)

Lied 384 “Jesus o dink aan my (Afr + Eng)”

Aanvangswoord
9Here, almagtige God, wie is soos U?
U krag is groot, Here, u trou is oral!
10U heers oor die onstuimige see:
as sy golwe opstaan,
laat U hulle bedaar.
12Aan U behoort die hemel,
aan U behoort ook die aarde,
die wêreld en alles daarin.
U het alles gemaak.
13Die noorde en die suide,
U het dit geskep;
Tabor en Hermonberg roem u Naam.
14U het ’n magtige arm,
sterk is u hand,
kragtig u regterhand.
15U troon is gebou
op geregtigheid en reg,
liefde en trou staan in u diens.
(Psalm 89)

Seëngroet
Aan almal in ………………………………………. wat deur Christus Jesus aan God behoort, met hulle ouderlinge en diakens.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!
(Filippense 1:1b-2)

Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Verootmoediging
WET (wat soos ‘n spieël funksioneer waarin ek my sonde ne tekortkominge raaksien)
(Eksodus 20:1-17 DB)
Die Here het die volgende reëls vir sy ooreenkoms met die volk gegee:  “Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou uit Egipte bevry waar jy slawewerk gedoen het.  Net Ek mag jou God wees. Jy mag nie ander gode hê nie.  Jy mag nie vir jou ’n beeld maak of iets in die skepping probeer naboots om dit te aanbid of daarvoor te offer nie. Jy mag nie beelde maak wat lyk soos enigiets wat in die lug daar bo is of soos iets hier op die aarde waarop jy bly of soos iets in die plekke in die water onder die aarde, om dit te vereer soos God nie. Ek verdra dit nie dat jy in ander gode glo nie. Ek reken met almal af wat die rug vir My draai, selfs met hulle kleinkinders en agterkleinkinders.  Ek bly getrou en my liefde bly altyd staan vir duisende geslagte lank vir almal wat lief is vir My en aan My gehoorsaam is. “Jy mag nie die Here jou God se Naam sommerso gebruik nie. Die Here sal elkeen straf wat sy Naam gebruik sonder dat hy respek vir die Here het. “Onthou dat die sewende dag die Here se dag is.  Jy moet ses dae lank met jou werk aangaan en jou met jou alledaagse dinge besig hou. Die sewende dag is die Here jou God se dag. Jy, jou kinders, die man en vrou wat vir jou werk, jou vee en die buitelander wat by jou bly, nie een van hulle mag op die sewende dag met elke dag se werk aangaan nie.  Die Here het die lug, die grond en die see met alles wat daarin bly, binne ses dae gemaak. Op die sewende dag het die Here gerus. Die Here het daarom van die sewende dag iets besonders gemaak en dit vir Hom eenkant gesit. “Jy moet respek hê vir jou pa en jou ma. Jy sal dan lank en gelukkig leef waar die Here jou laat bly. “Jy mag nie iemand anders doodmaak nie. “Jy moenie ontrou wees aan jou man of jou vrou en by iemand anders slaap nie. “Jy moenie iets steel nie. “Moenie vir ander mense lieg en hulle bedrieg nie. “Moenie afgunstig raak op iemand anders se besittings nie. Jy moenie wens dat sy vrou of sy werkers, sy bees of sy donkie, eerder aan jou behoort het nie. Jy moenie jaloers wees op die dinge wat iemand anders het en dink dat jy dit eerder moes besit het nie.”

Skuldbelydenis
Moet my tog nie straf
vir sondes wat ek onwetend
gedoen het nie.
14Weerhou my van opsetlike sondes,
laat hulle nie oor my heers nie.
Dan sal ek onberispelik wees
en vry van hierdie groot sonde.
15Mag wat ek sê en wat ek dink
tog vir U aanneemlik wees,
Here, my Rots en my Verlosser. (Psalm 19)

Vryspraak: 2 Korintiërs 5:17-21
17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

20Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ’n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! 21Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.

Lied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Die geloofsbelydenis kan ook hier funksioneer.

Liedere

F207. “U Het U Heerlikheid, O Heer”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lydenstyd / Lof)
Oorspronklike titel: You laid aside Your majesty
Teks en Musiek: Noel Richards
Afrikaanse vertaling: Hanneke en Faani Engelbrecht © 2006
© 1985 Thankyou Music
(Fil 2:5-11)

U het U heerlikheid en eer, vir die wêreld prys gegee
U het swaar gely onder sondaarshande
U het al ons skuld gedra aan die kruis op Golgota
U het opgestaan – U heers vanuit die hemel

Here, ek wil U besing, U my hart se loflied bring
O, Here, hoor my dankgebede
Ek wil U altyd vereer en aan U my lewe gee
Here, hoor my as ek sing vir U my Koning.

F21. “In Die Hemel Is Die Heer”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Lof / Verwondering)
Teks en Musiek: Tom Hiemstra
Teks: [strofes 3,4 onbekend]
© 2001  MAR Gospel Music Publishers
(vers 1 en 2 opgeneem op Louis Brittz se CD “Ons Koning kom weer”)
LW:  Ons wil graag al vier verse vir gebruik bekendstel!!

In die hemel is die Heer
en sy glans is soos kristal.
Hy’s die Heilige van God
en Hy heers oor die heelal.

Refrein:
Daar is mag in Sy woord!
Soos die waters druis sy stem.
Soos die son op die see se blou,
so die rykdom van sy trou.
Want aan U is die mag 
en die heerlikheid en krag.
En aan U is die eer 
en die lof, want U regeer.

Miljoene in gereedheid,
is die eng’le om sy troon.
Verbysterend sy sieraad
en die weelde van sy kroon.

Refrein:

Driemaal heilig is die Heer,
Hy wat was en is en kom.
Hy’s die Alfa en Omega,
almagtig en verhewe.

Refrein:

Aan Hom wat op die troon sit,
en aan die Lam,
die heerlikheid en lof
van nou af en vir ewig.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word;
10laat u koninkryk kom; laat u wil geskied,
soos in die hemel net so ook op die aarde;
11gee ons vandag ons daaglikse brood;
12en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;
13en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose.
Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid
tot in ewigheid. Amen. (Matteus 6:9-13)

of sing Lied 266 “Ons Vader wat woon in die hemel vs 1”

Skriflesing: Filippense 3:4b-14

Prediking

Familie-oomblik

Dit is ‘n moeilike gedeelte om met kinders te behandel.  Fokus eerder op een gedagte in die teks, bv. die waarde van dinge waarmee ons wil spog.

Alternatief:
In die fokusteks word melding gemaak van “sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.”

In die rekenaar wêreld is daar sagteware beskikbaar wat 2 digitale foto’s inmekaar kan “skuif”, kan verander, in die engels bekend as Morphing.

‘n Gratis program kan afgelaai word en word soos volg adverteer:
Bring Your Pictures to Life! Animate Your Photos!

This amazing picture morphing software transforms one person or object into another before your eyes!

Create your very own photo effects from your home PC and amaze your friends and loved ones! All you need is two digital photos and Morpheus Photo Morpher. The latest version lets you upload animations to popular sites like YouTube and PhotoBucket, as well as post your animation directly to Morpheus Galleries, Morpheus Software’s social network. With Morpheus Galleries, you can share animations via Facebook or MySpace, and view hundreds of great animations made by other users.

Met kinders kan “verandering” so illustreer word.

Preekriglyn

Neil Boorman het besluit om letterlik elke produk in sy besit met ‘n brand-kenteken (handelsmerk) op letterlik te verbrand.

Hy vertel:  “Vanaf ‘n vroeë ouderdom is ek geleer om aanvaar te word, geliefd te wees, as cool gesien te word, moet ‘n mens die regte goed besit.  Op laerskool het ek probeer vriende maak met die gewilde kinders, net om geterg te word oor ek nie die regte strepies (brand) op my tekkies het nie.  Ek het by my ouers gesanik tot ek die regte skoene gehad het.  Toe is ek natuurlik by die skool aanvaar en het baie gelukkig gevoel.  Solank my ouers die regte brands vir my gekoop het, was daar meer pret in die lewe.

“Nou is ek 31 jaar oud.  Ek leef nog steeds volgens die wet van die speelgrond, asof ek steeds op skool is.

“Die manier waarop ons ons geld spandeer, definieer wie ons is.  In ons sekulêre samelewing, waar ons familie en geloofsverbintenisse vroeër ons identiteit en die sin van die lewe gedefinieer het, is daar nou Coca Cola, Apple en Mercedes Benz.” [Foto van Boorman]

Uiterlike identiteit

Wie is ons?  Mens kan jou identiteit meet aan uiterlike dinge, soos die koeldrank wat jy drink (Coca Cola, Sprite, Pepsi), die tablet waarop jy werk (Apple), en die motor waarin jy ry (Mercedes, BMW of Audi).  Die handelsnaam op jou T-hemp, die woonbuurt waarin jy bly, die vriende met wie jy meng.  Ons leef tot vandag toe in ‘n samelewing waar uiterlike kenmerke jou identiteit stempel.

In Paulus se wêreld was daar ook sulke uiterlike dinge – kom ons noem dit godsdienstige handelsmerke – waarop mens jou kon beroem.  Hy noem sewe daarvan:

  • Op die agtste dag besny: dit beteken Paulus was ‘n rasegte, gebore Jood.
  • Van geboorte ‘n Israeliet:  Hy is deel van God se uitverkore volk op aarde, ‘n volk met ‘n roemryke verlede wat aanspraak kan maak op God se besondere guns.
  • Uit die stam Benjamin:  Hierdie was ‘n klein stam, maar het volgens oorlewering die noordelike stamme se afgodery vrygespring.  Jerusalem en die tempel was binne die Benjaminstam se jurisdiksie.  Verder was Saulus, die eerste koning van Israel en Paulus se naamgenoot, afkomstig uit die Benjaminstam.
  • ‘n Egte Hebreër:  Paulus was die ware Jakob, die regte taal, identiteit en kultuur, iemand wat stam uit die trotse Joodse agtergrond.
  • In wetsopvatting ‘n Fariseër:  Hy was deel van die godsdienstige groep wat erns gemaak het om God se wet na te kom.
  • ‘n Ywerige vervolger van die kerk:  Paulus kon nooit vergeet dat hy op ‘n stadium ‘n ywerige vervolger van die kerk was nie.  Hier gebruik hy daardie optrede as bewys van sy toewyding en ywer.
  • Onberispelik in wetsonderhouding om God se vryspraak te kry:  In soverre mens deur wetsonderhouding in die regte verhouding met God kan leef, was Paulus blaamloos.
Die regte handelsmerke

Paulus was die soort mens met wie die Joodse maatjies by wyse van spreke op die skoolterrein sou wou speel.  Hy het die regte handelsmerk op sy T-hemp gehad, die regte strepies op sy broek, die regte kenteken op sy tekkies.  Paulus het gehad wat saam maak in die oë van mense.

Hierdie strewe is bekend vir baie moderne mense.  Net soos Neil Boorman, is dit belangrik vir ons hoe ons gesien word en waarmee ons geassosieer word.  Ons trek aan om in te pas by ander se verwagtings, ons gebruik die soort produkte wat ons sosiaal aanvaarbaar maak, ons soek sekerheid en sekuriteit in die bekende simbole wat waarde tot ons lewe toevoeg.

Waardeloos in verhouding tot Christus

In vers 7 is daar skielik ‘n wending in Paulus se betoog.  Afkoms en uiterlike simbole is skielik onbelangrik.  In die lig van Jesus Christus, vervaag die uiterlike, en word die band met Jesus die beslissende verhouding in sy lewe:

Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees…. (7-9)

Christus is die deurslaggewende bate.  Die dinge waarna Paulus vroeër verwys het – familie, uiterlike verbintenisse en toewyding – is nie opsigself waardeloos nie.  Maar dit vervaag in belangrikheid in die lig van Christus Jesus.  Sy identiteit word ten diepste nie deur die uiterlike gestempel nie, maar deur Jesus Christus.  Daarom draai hy van die ander dinge weg, en fokus op Christus om Christus as enigste bate, of liewer as enigste wins te verkry.  Dit herinner ons aan 1:21 waar hy sê die lewe is Christus en die sterwe wins.

‘n Nuwe strewe

Daarom is daar ‘n nuwe strewe in Paulus se lewe.  Christus is die allesoortreffende bate in sy lewe.  Hy streef daarna om Christus as enigste bate te verkry en een met Hom te wees.

In vers 12 gebruik Paulus sterk taal: Hy span homself in om alles in Christus syne te maak.  Hy maak hom los van alles wat agter is, van al die brand names wat vroeër sy lewe gekenmerk het.  Hy kap alle ander fondamente op, verbrand al die ou brûe agter hom.  Dit gaan oor Christus en Christus alleen.

“Omdat Christus my Syne gemaak het…”

Ons moet versigtig wees vir ‘n nuwe soort wettisisme.  Paulus moraliseer nie.  Hy roep ons nie op om Christus ons s’n te maak asof ons nie in Jesus deel as ons nie werk om Jesus te verkry nie.  Hy span hom in, “omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het…” (12).

Paulus se inspanning is om te groei in Christus in, omdat hy Christus reeds as Geskenk ontvang het.  Hy maak Jesus syne, omdat Jesus hom reeds Jesus s’n gemaak het.  Jesus het Paulus vasgegryp.  Daarom gryp hy na Jesus, daarom groei hy in die identiteit wat Jesus gee, in.

Mens kan dit nie genoeg beklemtoon nie.  Dis nie asof Jesus ver is, en ons net deel kry aan Jesus as ons hard werk nie.  Jesus kom naby ons, Jesus raak ons aan, Jesus maak ons deel van die lewe van Vader, Seun en Heilige Gees.  Daarom gee ons alles van ons kant af om in te groei in hierdie nuwe identiteit in.  Christus spreek ons vry (9), en ons groei in hierdie vryspraak in.

Hoe kry mens Christus as enigste bate?

Soos reeds gesê, is Christus self die bron van die nuwe identiteit wat ons as kinders van God het.  Die proses begin in die liefdevolle hart van God waardeur God ons nadertrek en ons in Christus verlos en deel maak van God se familie.

Ons groei in hierdie nuwe verhouding in deur onsself daarvoor te gee.  Luister na Paulus:

Al wat ek wens,

  • is om Christus te ken,
  • die krag van sy opstanding te ondervind, en
  • deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood,
  • in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood. (10-11)

Om Christus te ken beteken om ‘n persoonlike ervaring van, ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus te hê.  Paulus praat nie van blote kopkennis nie, maar van hartskennis.  Dit is kennis wat die 30 cm van mens se kop na jou hart geskuif het.  Die lewende Here Jesus is by ons, en word vir ons ‘n lewende werklikheid, omdat Hy ons ontmoet, en ons Hom daagliks deur Woord en gebed opsoek, en in sy teenwoordigheid deur die Heilige Gees rus.

Die krag van sy opstanding te ondervind:  Jesus is nie net ‘n leermeester wat ons van die mooi dinge in die lewe vertel nie.  Jesus is nie net ‘n goeie raadgewer nie.  Jesus is die lewende Here, wat deur Jesus se Woord en Gees in mense se lewens ingryp, ons nuut maak en ‘n nuwe begin met ons maak.  Ons lewe nou volgens ander maatstawwe.  Ons oorwin die sonde en is gehoorsaam, omdat Jesus ons help en ons begelei.

Deel te hê aan sy lyding:  Die brand names waarmee ons graag assosieer, is gewoonlik tekens van sukses en rykdom.  Ons was ons hare met hierdie sjampoe, want suksesvolle mense doen dit.  Ons ry met daardie motor, want dit spel voorspoed en sukses.  Ons skree vir die sportspanne wat hoë hoogtes behaal.  Die nuwe lewe in Jesus werk soveel anders.  Jesus se lyding duur steeds voort in die wêreld.  Mense wat Jesus volg, neem hulle kruis op en gaan waar Hy lei.  Dit verg opoffering, pyn en lyding.  Tog is die onherroeplik die weg tot lewe.  Die dwaasheid en magteloosheid van die kruis is die krag van God tot redding van almal wat glo.  Daarom deins Jesus se volgelinge nie terug om Jesus se voortgesette lyding as merktekens van hulle lewe te dra nie.

Verwagting van die opstanding uit die dood: Jesus is die eerste wat deur God uit die dood opgetel is.  Daarom leef ons in die verwagting dat God ook diegene in Christus nuut sal maak anderkant die dood.  Ons uitsig op die oorwinning van God anderkant die dood, gee ons insig in die hede.  Dit gee ons die moed om in Christus die wêreld te take en te verander.  Dit versterk ons in ons strewe om die aarde te help genees in Jesus se Naam, om onsself te gee vir die koms van God se koninkryk in hierdie wêreld.

Praktiese lewenstyl

Let op: Paulus praat van ‘n praktiese lewenstyl.  Hy is nie besig om die groei in Christus as blote kopkennis te beskryf nie.

  • Natuurlik is daar kopkennis ingesluit: ons moet die regte dinge weet om in Christus en in gemeenskap met Hom te groei.
  • Maar dit verg ook ‘n strewe, ‘n begeerte, ‘n houding en gesindheid van wil-naby-Christus-kom.
  • Naas hierdie strewe het mens ook vaardighede nodig, soos om met die Woord en deur gebed met Christus gemeenskap te hou.  Ander geestelike praktyke, soos erediensbywoning, nadenke, praktiese diens en selfopoffering is ook belangrike vaardighede wat ons moet beoefen.
  • Ten slotte verg hierdie praktiese lewenstyl ook ‘n lewensritme, gewoontes wat ons oor ‘n lang tyd voortsit.
Wat werklik saak maak

Ons is hartgrondig verander.  God is aan die werk.  God gryp ons in Christus vas.  Daarom lei ons ‘n lewe wat Christus vasgryp en Christus se identiteit ons identiteit maak.  Alles is nuut!

Dalk tyd om vuur te maak en ‘n paar uiterlike krukke waarop jy staat maak te verbrand?  Tyd om Christus opnuut vas te gryp?

God stuur ons om te leef

http://www.morpheussoftware.net/?gclid=CN2ondrvxrUCFcbKtAodtnYAPQ

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.