Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Jeremia 31 belowe die nuwe verbond wat God met Israel sal sluit. Psalm 51 pleit om die liefde van God. Psalm 119 gee riglyne vir ’n jongmens om sy lewe mee in te rig. Hebreërs 5 verwys na Christus as die Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek wat vir die volk intree. In Johannes 12 kondig Jesus aan dat die tyd nou vir Hom gekom het om verhoog te word (die tyd vir sy sterwe).

Ander tekste

Psalm 51:1-12
Neem tog my sonde weg!
51 Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid,
na aanleiding daarvan 2dat die profeet
Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel
met Batseba.
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!
5Ja, my oortredings ken ek
en van my sonde bly ek altyd bewus.
6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.
U uitspraak is dus regen u oordeel regverdig.
7Ek was al skuldig toe ek gebore is,
met sonde belaai toe my moeder
swanger geword het.
8Maar U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:
laat ek dan diep in my binneste weet
hoe U wil dat ek moet lewe.
9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.
U het my verbrysel;
laat my weer jubel.
11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.

Psalm 119:9-16
9Hoe kan ’n jongmens
sy lewe skoon hou?
Deur hom te hou aan u woord!
10Ek wil aan U gehoorsaam wees
met my hele hart,
laat my nie afwyk van u gebooie nie.
11Aan u beloftes hou ek vas,
dit weerhou my van sonde teen U.
12Aan U kom die lof toe, Here,
leer my u voorskrifte.
13Al u bepalings
wil ek een vir een opnoem.
14Om volgens u verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom
van die wêreld.
15U bevele bly my altyd by.
Ek gee ag op die pad wat U aanwys.
16Ek verlustig my in u voorskrifte,
u woord vergeet ek nie.

Hebreërs 5:5-10
5 Elke hoëpriester is ’n mens wat uit die mense geneem en aangestel word om vir hulle by God in te tree deur gawes en offers vir die sondes te bring. 2Hy kan meegevoel hê met die onwetendes en dwalendes, omdat hy self aan swakheid onderhewig is. 3Om hierdie rede moet hy ook vir homself, net soos vir die volk, offers bring vir die sondes.
4Niemand eien hom die eer van hoëpriester toe nie, hy word deur God daartoe geroep, net soos Aäron.
5So het Christus Hom ook nie die waardigheid van Hoëpriester toegeëien nie, God het dit vir Hom gegee toe Hy gesê het:
“Jy is my Seun,
van vandag af
is Ek jou Vader.”
6En op ’n ander plek sê Hy:
“Jy is priester vir ewig
volgens die priesterorde
van Melgisedek.”
7Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God. 8Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is. 9En toe Hy volmaaktheid bereik het, het Hy vir almal wat aan Hom gehoorsaam is, die bron van ewige saligheid geword 10en is Hy deur God verklaar tot Hoëpriester volgens die priesterorde van Melgisedek.

Johannes 12:20-33
Die tyd van sy verheerliking het gekom
20Daar was ook ’n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. 21Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”

22Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus. 23Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in. 25Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.

27“Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. 28Vader, verheerlik u Naam!”
Toe het daar ’n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.
29Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar ’n donderslag was. Ander het gesê: “’n Engel het met hom gepraat.”
30Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. 31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.”
33Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.

34Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is
hy?”
35Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net ’n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. 36Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.”
Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.

Fokusteks

Jeremia 31:31-34
31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ’n nuwe verbond sal sluit. 32Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord 

Seëngroet
Lied 198 “God is my lied 1,2,3”

Wet
(Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2010:24)

Skuldbelydenis :(Uit Psalm 51)

Vryspraak: (Jeremia 31)

Loflied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3”

Epiklese: (Uit Psalm 119)

Skriflesing:  Jeremia 31:31-34

Prediking
Gebed

Geloofsbelydenis
(Uit die Basisliturgie in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Offergawes

Wegsending
Lied 244 “Alles, alles is genade 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord 
Voorganger: Here ontferm U oor ons.
Gemeente: Christus ontferm U.
Voorganger: Here ontferm U oor ons
Gemeente: en gee ons u vrede,
(Lied 248 “Kyrie Eleison”).
“Kyrie Eleison” kan ook as aanvangslied gesing word.
(Uit die Basisliturgie in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Seëngroet 
2Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!
(2 Petrus 1:2 )

Lied 198 “God is my lied 1,2,3”

Wet
(Voorstel: Gebruik voorlesers uit die gemeente met die skuldbelydenis en vryspraak)

Voorganger: Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.
Gemeente: Dankie dat ons U kan erken as die enigste ware God.

V: Jy mag nie enige beeld of afbeelding vereer nie, want Ek eis onverdeelde trou aan My.
G: Dankie dat ons U kan leer ken uit u Woord en die sakramente.

V: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie.
G: Dankie dat ons u heilige Naam mag aanroep.

V: Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.
G: Dankie dat U vir ons sorg en vir tye van rus.

V: Eer jou vader en jou moeder.
G: Dankie vir ons ouers en ander mense wat vir ons omgee.

V: Jy mag nie moord pleeg nie.
G: Dankie dat U vir ons die lewe as ’n waardevolle geskenk gee.

V: Jy mag nie egbreuk pleeg nie.
G: Dankie dat U dit vir ons moontlik maak om aan mekaar getrou te wees.

V: Jy mag nie steel nie.
G: Dankie dat U vir ons die vermoë gee om te kan werk.

V: Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.
G: Dankie dat U ons in die waarheid lei.

V: Jy mag nie iemand anders se besittings begeer nie.
G: Dankie vir wat ons uit u hand ontvang.
(Uit Bybelmedia se Handleiding vir die erediens, 2010:24)

Skuldbelydenis 
3Wees my genadig, o God,
in u troue liefde,
wis my oortredings uit
in u groot barmhartigheid!
4Was my skoon van my skuld,
reinig my van my sonde!

6Teen U alleen het ek gesondig,
ek het gedoen wat verkeerd is in u oë.

U verwag opregtheid
diep in ’n mens se hart:

9Neem tog my sonde weg
dat ek rein kan wees,
was my dat ek witter as sneeu kan wees.
10Laat my weer blydskap
en vreugde belewe.

11Moet tog nie ag slaan
op my sondes nie,
wis al my skuld uit!
12Skep vir my ’n rein hart, o God,
vernuwe my gees
en maak my standvastig.
(Uit Psalm 51)

Vryspraak
Die belofte uit die fokusteks:
Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here. Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie. (Jeremia 31)

Loflied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3”

Liedere

F66. “Op Vaste Fondamente”
(RUBRIEK: Kontemporêr – Die Kerk / Geloof)
Musiek:  AURELIA – Samuel Wesley 1864;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
Teks:  Attie van der Colf © 1978 / 2001;  gewysig Nellis van Zyl Smit/Neil Büchner, 2004
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof  met Louis Brittz)

1. Op vaste fondamente het God sy kerk gebou
Apostels en profete het ons dit toevertrou
Die Koning van die hemel herskep deur Woord en Gees
Verlorenes op aarde dat hul sy volk kan wees

Hy roep uit alle volke ’n volk vir Hom tesaam
Een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam
Hy gee die brood die beker  Hy gee die heil’ge doop
Om hulle te verseker: Ek het jul duur gekoop

Refrein:
Ja Hy lê die steen. Hy is die rots
Sy fondament is vas. Hy is God
O ja, Hy is
Ja, Hy is God

2.O Heer skryf in ons harte dat ons dit nooit vergeet
Al pynig ons die smarte al martel ons die leed
Die kruis van ons Verlosser sluit vergesigte oop
In ’n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop

Refrein:

F76. “Die Woord Van God’
(RUBRIEK: Kinderlied – Woord van God)
Teks en Musiek:  Soekie Rautenbach
© 2003 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op God is groot)
(Deut 6)

Die Woord van God is ewig
Die Woord van God is waar
Die Bybel is die Woord van God
sal dit in my hart bewaar

Die Woord van God is nie te hoog
Die Woord van God is nie te ver
Die Woord van God is naby my
in my mond en in my hart

As ek sit of as ek staan
as ek lê of waar ek gaan
praat ek daaroor want ek weet
dan sal ek dit nooit vergeet

Skryf dit as ’n teken op
op jou hand en op jou kop
in jou huis en op die deur
dat jy dit uit jou kop kan leer

My oë lees die woorde deur
My ore hoor dit weer en weer
My mond bely dit nog ’n keer
My hande doen wat dit my leer

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here
Laat U woord my nou dring…
10Ek wil aan U gehoorsaam wees
met my hele hart,
11Aan u beloftes hou ek vas,
dit weerhou my van sonde teen U.
leer my u voorskrifte.
13Al u bepalings
wil ek een vir een opnoem.
14Om volgens u verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom
van die wêreld.
15U bevele bly my altyd by.
Ek gee ag op die pad wat U aanwys.
16Ek verlustig my in u voorskrifte,
u woord vergeet ek nie.
Laat U woord my nou dring…
Amen
(Uit Psalm 119)

Skriflesing: Jeremia 31:31-34

Prediking

Familie-oomblik

Carolyn Brown stel hier  voor dat ons met kinders oor tatoeërmerke gesels. Mens kan plakkers gebruik as tatoeërmerke wat jy by speelgoedwinkels of supermarkte koop. Dit plak op jou vel en hou gewoonlik vir ‘n paar dae. Na die volgende stort of bad was dit gewoonlik af. Hierdie tatoeërmerke is gewoonlik van korte duur, dit is tydelik en maklik verwyderbaar. Kanse is goed dat jou ouers nie sal omgee as jy ‘n tydelike tatoeërmerk op jou arm aanplak nie. Maar o wee… groot moeilikheid as jy met ‘n permanente tatoeërmerk by die huis sou opdaag. Want sien – dit is werklik permanent.

Mense gebruik graag permanente tatoeërmerke om ‘n eie en unieke identiteit te vestig. Jy kan gewoonlik iemand uitken aan sy of haar merk. Seevaarders was veral lief om ‘n skip se anker op die binnekant van hulle voorarms te laat tatoeër. Elke anker lyk anders as die ander s’n, so dit identifiseer die persoon se uniekheid.

Wanneer Jeremia berig dat God “Sy woorde op hulle harte sal skryf” het dit ook te doen met permanensie.

Die Bybel verklaar: In plaas van die ou wet wat op kliptafels geskryf was, in plaas van die godsdiens van uiterlike reëls en regulasies, kom hier iets heeltemal nuuts: God sal sy wil in die harte van mense skryf sodat elkeen afsonderlik die Here sal dien én sal wéét hoe die Here gedien behoort te word.

Vanuit die perspektief van die Christelike geloof bekyk, het hierdie era eers aangebreek met die uitstorting van die Heilige Gees in die harte van gelowige mense, die Gees wat die gelowiges in alle waarheid lei. Dit is ook waarom Paulus so sterk kon reageer op die Jode se eis dat die wet van Sinai nog deur Christene nagekom moet word in sy uiterlike gestalte en waarom hy sterk aangedring het op ’n gemoedsverandering wat kan lei tot kennis van die wil van God (Rom. 12:2). Dit is ook waarom Christus Hom verset het teen enige vorm van heiligheid wat deur úiterlike wetsonderhouding kom en gepleit het vir ’n verinnerlikte wet (Matt. 6:17–7:28).

Uit die bydrae van 29 Maart 2009 by Seisoen van Luister word die gedagte uitgebrei met:
Wys verskillende tatoeëermerke vir die kinders, dié wat jy saam met ’n paaseier kry wat jy op jou vel plak en gou weer afwas en dié wat met naalde binne in mense se vel geskryf is en nie afwas nie. God skryf sy wet op ons harte: Hy tatoeëer vir altyd sy regte manier van dink en lewe op ons lewe.

In die ou dae het die mense op die volgende verskillende mediums geskryf:
Yster
Stene
Papirus
Perkament (leer velle)

Vandag skryf ons op enigiets:
Papier
Glas
Staal
Plastiek
Elektronies (harde skyf)
Ons het selfs ’n DVD writer!

Vra vir die kinders watter van die goed onvernietigbaar is?
Papier – brand
Glas – breek
Staal – smelt
Plastiek – smelt + brand
Elektronies – ‘crash’!
DVD – krap

God het egter die beste medium wat ’n lewenslange waarborg dra: jou hart!  God skryf daarop, sodat niemand kan sê hulle het nie geweet nie.  Iets wat op jou hart geskryf staan, is iets wat belangrik vir jou is.  God se Woord is op ons harte geskryf.  Kom ons lees dit meer, sodat ons harte warm kan word.

Preekriglyn

[foto wikimedia.commons] Condoleezza Rice, wat George Bush se Nasionale Veiligheidsraadgewer was, het in ’n pastorie grootgeword. Sy vertel dat, alhoewel sy nog nooit aan die bestaan van God getwyfel het nie, haar geloof laagtes en hoogtes gehad het.

Toe sy die eerste keer in 1981 na Kalifornië getrek het om deel te word van ’n fakulteit by die Stanford universiteit, was daar jare wat sy nie gereeld kerk bygewoon het nie. Sy het baie rond gereis.

Een Sondag was sy in supermark, nie ver van haar huis nie. Sy vertel dat sy dit nooit sal vergeet nie.  By die speseryrak het ’n man vir haar gesê dat hy goed vir sy kerk se piekniek aankoop. Hy het uit die bloute gevra: “Speel jy miskien klavier?”

Sy het geantwoord: “Ja”

Hy het gesê dat hulle iemand by sy kerk soek om klavier te speel. Dit was ’n klein, swart Baptiste gemeente. So het sy begin om in die kerk klavier te speel.

Sy vertel dat sy nie baie goed gospel kon speel nie – sy speel Brahms – en dat die swart predikante sommer ’n liedjie begin sing het en dan moes die musiekleier inval. Sy het geen idee gehad wat om te doen nie, daarom het sy haar ma gebel, want dié het al die jare in ’n Baptiste-kerk klavier gespeel.

“Ma,” het sy gesê  “hulle begin net sing.  Wat moet ek maak?”

Sy het geantwoord, “Skat, speel in C en hulle sal terugkom en jou begeleiding begin volg.”

Condoleezza het later gesê: “Dit is waar. As jy in C speel, sal mense terugkom en die musiek volg. Ek vertel die storie, want ek het by myself gedink, ‘Liewe deug, God het ‘n lang arm.’ Dink net, in die supermark op ‘n Sondagmôre. Hy speel net in C en ons begin Hom volg.”

God speel net in C (“in Christus”), en ons sal terugkom na Hom toe. Dis God! (Bron: Nous)

Hoopvolle aankondiging

Ons teks begin met ‘n hoopvolle aankondiging van die Here, gerig aan Israel en Juda (31). Op hierdie stadium is die Here se volk verwoes en verstrooi:

  • Israel, die noordelike tien stamme met sy hoofstad in Samaria, is al in 722 v.C. in ballingskap weggevoer.
  • Ons teks speel meer as ‘n eeu later af wanneer Juda, die suidelike twee stamme, verwoes word en ballingskap beleef.

In albei gevalle gebeur dit omdat die volk die Here nie gehoorsaam het nie. Hulle het God se onderwysing, die Tora, nie gehoorsaam nie. Hulle het hulle verantwoordelikheid in God se genadige verbond (Ek sal vir julle ‘n God wees, en julle sal vir my ‘n volk wees) nie nagekom nie.

In vers 31 kondig die Here aan dat Hy ’n nuwe verbond gaan sluit met Israel en Juda. God neem die inisiatief. Hy begin met die verbondsvolk praat. Dit word beklemtoon deur die herhaling van die frase: “sê die Here”. Die Here sê daar kom ‘n tyd dat Hy ‘n nuwe verbond met die volk gaan sluit.

Wat is nuut? Die nuutheid is: “Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” (33). Dit gebeur nadat die Here vergifnis gee: “Ek sal hulle oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie” (34).

Hierdie beloftes het natuurlik waar geword toe God in C(hristus) begin speel het. Ons kom hierop terug.

Die boek Jeremia

Dit is belangrik om die struktuur van die boek Jeremia te verstaan:

  • Hoofstuk 1-25 bestaan uit die roepings verhaal van die profeet (Hfst. 1), gevolg deur ’n reeks profetiese uitsprake (of eerder belydenisse) van Jeremia tydens die regerings van Josia, Jojakim, Jojagin en Sedekia wat kronologies georden is.
  • Hoofstuk 26-45 beskryf weer die omstandighede waaronder Jeremia die uitsprake gemaak het en is dus meestal biografies van aard.  Moontlik is die uitsprake deur Jeremia aan sy dissipel, Baruk, gedikteer (vgl. 36:18) wat dan aantekeninge gemaak het oor die omstandighede waaronder Jeremia sy boodskappe gelewer het (die gedeeltes is dan ook in die derde persoon geskryf).
  • Hoofstuk 46 tot 51 is ’n versameling profesieë teen verskillende nasies wat op ’n tyd moontlik ’n afsonderlike boek gevorm het, deurdat dit ook aanhalings van Amos en Obadja bevat.
  • Hoofstuk 52 vorm die slot van die boek.  Dit bestaan uit ’n aanhaling van 2 Kon 24:18–25:30 (wat die val van Jerusalem beskryf). Dit dien as bewys dat Jeremia se woorde teen sy volk toe waar geword het.  Gevolglik kan hy as ’n ware profeet beskou word.
Agtergrond

Jeremia het vir omtrent ’n halfeeu lank as profeet opgetree in die tyd dat Babel ’n ernstige eksterne bedreiging vir die verbondsvolk Juda ingehou het.  Daar was egter ook ’n interne bedreiging vir Juda, te wete hulle eie ongeloof.  Daarom het Jeremia Juda se oppervlakkige godsdiens aan die kaak gestel en hulle tot persoonlike bekering opgeroep.  Dit het hom in botsing met die vals profete gebring wat ’n boodskap van vrede en voorspoed verkondig het.  Volgens Jeremia sou die Here hulle egter straf deur hulle in ballingskap te laat wegvoer.  Dit gebeur dan ook in 586 v.C. nadat Jerusalem lank beleër en toe verwoes is.

Jeremia het egter nie net verkondig dat die Here sou sloop nie.  Hy het ook aangekondig dat die Here weer sou bou en plant.  Babel sou eendag val en dan sou die verbondsvolk na hulle land toe terugkeer.  Jeremia gaan egter nóg verder as om te voorspel dat Juda sou terugkeer uit ballingskap – hy het ook voorspel dat daar ’n ingrypende hartsverandering by hulle sou plaasvind.  Die Here sou naamlik vergifnis aan hulle skenk en ’n nuwe verbond met hulle sluit waarop hulle Hom gewillig sou dien.  Dit is dan ook die hoogtepunt in Jeremia se teologie van herstel wat die week se fokus teks is (31:31–34).

Uitleg van ons teks

Tot en met die begin van hoofstuk 30 was die sentrale klem in Jeremia op die oordeel van die Here, met slegs sporadiese verwysings na moontlike uitkoms en hoop (vgl. 2:1–3; 3:14–18; 23:1–8; 24:4–7).  In hoofstuk 30 tot 33 is daar egter ’n wending.  Soveel so dat die paar hoofstukke die Boek van Vertroosting of die Troosboek deur sommige Ou Testamentiese kenners genoem word.  Te midde van meestal biografiese inligting, antisipeer die hoofstukke die herstel van Israel deurdat God se volk weer Sy guns sal geniet.  Hoofstuk 30 fokus grootliks op die herstel van die beloofde land, en hoofstuk 31 op die herstel van die volk se verhouding met God deur ‘n verbondsvernuwing.  Hoofstuk 32-33 brei op die twee temas uit.

Vanweë die sonde van Israel, vind ons verskeie geleenthede in die Ou Testament waartydens God sy verbond met sy volk moes hernu.  Só lees ons van sulke verbondsvernuwings by Moses (Eks 34), Josua (Jos 23-24), Samuel (1 Sam 12) en Hiskia (2 Kron. 29-31).  Die probleem was egter nie net dat Israel soms die bepalings van die verbond verbreek het nie.  Die ware probleem was dat hulle nie werklik in staat was om dit na te kom nie.

In Jer. 31:31-34 gaan dit egter om meer as ’n verbondsvernuwing soos die geval met bogenoemde voorbeelde.  Dit gaan daaroor dat die Here sy wet op ‘n nuwe wyse aan sy volk kom gee het.  Die wet word dus nou verinnerlik.

Die klem van die gedeelte is verder dat God self handel om die innerlike vernuwing te bewerk. Dit word duidelik gemaak deur die vyfvoudige herhaling van “Ek sal” in die gedeelte.

Danksy die transformasie van die volk se harte en gedagtes, sal hulle nie meer uit vrees of dwang die Here dien nie.  God sal sy bepalings op hulle gedagtes (qereb – wat op jou innerlike self dui) en hulle harte skryf.  Die gevolg hiervan sal dramaties wees.

Walter Brueggemann skryf:
Obeying will be as normal and as readily accepted as breathing and eating. . . . All inclination to resist, refuse, or disobey will have evaporated.
Almal sal die Here dien.
Naas die verinnerliking van die verbond, is die wesenskenmerk daarvan die voorsiening wat dit maak vir die volkome vergifnis van sonde (vers 34).

Middel C

Hierdie nuwe verbond eers aangebreek met die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees in die harte van gelowiges. Dit gebeur toe God in middel-C(hristus) begin speel!

Dit is waarom Paulus so sterk kon reageer op die Jode se eis dat die wet van Sinai nog deur Christene nagekom moet word in sy uiterlike gestalte en waarom hy sterk aangedring het op ’n gemoedsverandering wat kan lei tot kennis van die wil van God (Rom. 12:2).

Dit is ook waarom Christus Hom verset het teen enige vorm van heiligheid wat deur uiterlike wetsonderhouding kom. Christus werk met ’n verinnerlikte wet, soos Hy dit alreeds in die Bergrede uitspel (Matt. 6:17–7:28).

Die verinnerlikte wet is ‘n gawe van God self. Daarom stort Christus die Heilige Gees uit wat ons in die volle waarheid kom lei.

Lyding

Die gevaar is dat mens te vinnig spring van die ou verbond, waar God se volk misluk het om God se wil te doen, na die nuwe verbond waar die wet in ons harte geskryf word.

Die gevaar lê op twee vlakke:

  • Ons hou nie rekening met die menslike toestand nie. Ons is nie gebore in staat om te doen wat God vra nie. Ons misluk. Daarom het ons hulp en vergifnis nodig.
  • Ons verreken nie Christus se lyding nie. Ons kan bolangs gaan oor die geweldige prys wat dit God gekos het om die nuwe verbond op ons harte te kom skryf.

Aangesien mense nie God se verbond kan hou nie, het God self die Mens voorsien wat getrou en gehoorsaam was – in ons plek. Die Lam van God het ons mislukking gedra. Sy wonde het vir ons genesing gebring. Sy gehoorsaam word ons gehoorsaamheid.

Christus se lyding is daarom ‘n wesenlike element van die Christelike geloof. Ons verstaan ons eie kondisie voor God eers in die lig daarvan. Christus se lyding is die spieël waarin die nood van die skepping duidelik gesien kan word.

Enige poging om mens-wees en skepsel wees te verstaan sonder die plot van die lyding van Christus, is futiel. Ons kan God, wat die menslike nood in God-in-Jesus se lyding opneem, ook nooit verstaan sonder die venster van Christus sy lyding nie.

Ons kan genade , soos ook in ons teks verwoord, nie verstaan sonder Christus se lyding nie.

God se inisiatief

Lydenstyd beklemtoon die inisiatief wat God neem om ons te verlos. Dit lê ons eie onvermoë, ons ongehoorsaamheid, en ons ellende bloot. Dit ontbloot ook God se trou aan ons.

Die wonder is dat God reeds by ons geboorte hierdie trou oor ons uitstort. By ons doop, toe ons self nog nie in staat was om enigiets te doen nie, word ons reeds ingedoop in Christus se lyding en sterwe, asook in sy opstanding. Toe skenk God reeds God se genade aan ons.

Jesus die nuwe verbond

‘n Teoloog met die naam Wolff skryf dat ons in Jesus die vervulling van die nuutste-van-die-nuwe-verbond sien. Met Jesus word die toekomstige tyd wat Jeremia 31 aankondig teenwoordige tyd, skryf Wolff. In Jesus word die nuwe verbond werklikheid. Met Hom het die einde van die tye ook reeds aangebreek.

Deur die werk van Jesus, sy lyding en oorwinning, is God se woord nou op ons harte geskryf. Die bose is oorwin. Die rug van ongehoorsaamheid is gebreek. Ons kan die Here nou vrylik dien, klein en groot. Ons oortredings is vergewe en die nuwe lewe is ‘n werklikheid.

Daarom vier ons lydenstyd met die grootste dankbaarheid moontlik.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankie Here vir die nuwe verbond wat U in Jesus met ons kom sluit het.
Dankie dat U die verbond hernu ten spyte daarvan dat ons dit so dikwels breek,
dat U getrou is al is ons so dikwels ontrou.
Dankie vir die ewigheid van hierdie nuwe verbond!
Ons is innig dankbaar vir die prys wat betaal is vir hierdie nuwe ooreenkoms:
die kruis met Jesus se liggaam en bloed…
Dankie dat U woord op my hart geskryf is;
dat U my sondes vergewe en nie meer aan my oortredinge dink nie.

Geloofsbelydenis
Gemeente: Ek glo in God – God die Vader.
Voorganger: Ek glo dat Hy alles gemaak het en steeds daarvoor sorg.

Gemeente: Ek glo in God – God die Seun.
Voorganger: Ek glo dat Hy moes ly om die toorn van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy juis onder Pontius Pilatus gely het en onregverdig veroordeel is om die oordeel van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy juis ’n kruisdood moes sterf  om die vloek van God oor my sonde te dra.
Ek glo dat Hy dit vir my persoonlik gedoen het.
Ek glo dat Hy weer opgestaan het as bewys daarvan dat Hy die kwaad oorwin het.

Gemeente: Ek glo in God — God die Heilige Gees.
Voorganger: Ek glo dat Hy dit wat Jesus vir my verwerf het waar maak in my lewe, my oortuig van die sonde in my lewe en my verseker van die verlossing (uit die “Heidelbergse Kategismus”).
(Uit die Basisliturgie in Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Offergawes

Wegsending: Lied 244 “Alles, alles is genade 1,2,3,4”

Seën
24Die Here sal julle seën
en julle beskerm;
25die Here sal tot julle redding
verskyn
en julle genadig wees;
26die Here sal julle gebede verhoor
en aan julle vrede gee!
(Numeri 6)

2 Korinthiërs 13
13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.