Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Die Sondag word Judica (“Die reg”) na aanleiding van Psalm 43:1-2a “Laat reg aan my geskied, o God . . .”

In die liturgie moet die gemeente ontdek dat God regverdig regeer en dat Hy as Skepper nuwe dinge kan doen (Jes 43:16-21). Lei hulle om te verstaan dat God alles kan verander ( Ps 126). Daarvoor het Hy sy Seun gestuur om sy lewe vir ons te offer. Geen offer wat ons bring is te veel gevra nie (Joh 12:1-8). Ja, ons moet alles agterlaat en die Here voluit dien (Fil 3:4b-14).

Ander tekste

Psalm 126
Verander tog ons lot, Here!
126 ’n Pelgrimslied.
Toe die Here die lot van Sion
verander het,
was dit vir ons soos ’n droom.
2Ons het gelag en gesing.
Onder die nasies het hulle gesê:
“Die Here hét groot dinge
aan hierdie mense gedoen.”
3Die Here hét groot dinge
aan ons gedoen;
ons was bly.
4Verander tog ook nou ons lot, Here,
soos U droë spruite in die Suidland
in waterstrome verander.
5Wie met trane saai,
sal die oes met gejuig inbring.
6Al loop hy en huil
terwyl hy die saaisak dra,
hy kom juigend terug
terwyl hy sy gerwe dra.

Johannes 12:1-8
Jesus word in Betanië met nardusolie gesalf
(Matt 26:6–13; Mark 14:3–9)
12 Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. 2Daar het hulle vir Jesus ’n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3Toe het Maria ’n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.

4Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: 5“Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”

6Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy ’n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.

7Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. 8Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”

Filippense 3:4b-14
As iemand meen dat hy op uiterlike dinge kan vertrou, ek nog meer: 5ek is op die agste dag besny, van geboorte ’n Israeliet, uit die stam Benjamin, ’n egte Hebreër, in wetsopvatting was ek ’n Fariseër, 6in my ywer ’n vervolger van die kerk, in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik.

7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

12Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. 13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. 14Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Fokusteks

Jesaja 43:16-21
Jy is Myne
43 Luister, so sê die Here
wat jou geskep het, Jakob,
wat jou gevorm het, Israel:
Moenie bang wees nie, Ek verlos jou,
Ek het jou op jou naam geroep,
jy is Myne.
2As jy deur water moet gaan,
is Ek by jou,
deur riviere,
hulle sal jou nie wegspoel nie;
as jy deur vuur moet gaan,
sal dit jou nie skroei nie,
die vlamme sal jou nie brand nie,
3want Ek is die Here jou God,
die Heilige van Israel, jou Redder.
Ek gee Egipte as losprys vir jou,
Kus en Seba in jou plek.
4Omdat jy vir My kosbaar is,
omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.
5Moenie bang wees nie,
Ek is by jou.
Ek bring jou kinders van die ooste af,
Ek maak hulle bymekaar
van die weste af,
6Ek sê vir die noorde: Gee!
vir die suide:
Moet hulle nie terughou nie!
Bring my seuns van ver af,
my dogters van die uithoeke
van die aarde af,
7elkeen wat na my Naam genoem word,
elkeen wat Ek geskep het tot my eer,
wat Ek gevorm het,
wat Ek gemaak het.
8Laat my volk hierheen kom,
die volk wat blind is, al het hulle oë,
wat doof is, al het hulle ore.
9Laat al die nasies bymekaarkom.
Al die volke moet teenwoordig wees.
Watter afgod kan hierdie dinge so aankondig?
Wie kon vooraf sê wat gebeur het?
Laat hulle hulle getuies bring
dat dié hulle saak bewys,
en dié wat luister,
kan sê: Dit is waar.
10Israel, julle is my getuies,
sê die Here,
en ook my dienaar wat Ek uitverkies het
sodat julle My kan ken en in My kan glo
en kan besef dat Ek die Here is.
Voor My was daar geen god nie,
en na My sal daar ook nie een wees nie,
11Ek, Ek is die Here,
buiten My is daar geen redder nie.
12Ék het die redding aangekondig
Ék het gered en dit laat verkondig,
Ek, nie ‘n ander god onder julle nie.
Julle is my getuies, sê die Here,
en Ek is God.
13Ook hierná is Ek nog God.
Uit my mag kan niemand
gered word nie.
Wat Ek doen,
kan niemand ongedaan maak nie.
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen
14So sê die Here, julle Verlosser,
die Heilige van Israel:
Om julle ontwil
stuur Ek iemand teen Babel
en laat Ek al sy inwoners,
die Galdeërs, vlug
met dieselfde skepe waarop hulle
hulle vroeër beroem het.
15Ek is die Here, julle heilige God,
die Skepper van Israel, julle Koning.
16So sê die Here,
Hy wat ‘n pad gemaak het deur die see,
‘n deurgang deur die magtige waters,
17Hy wat strydwaens en perde
laat optrek het,
‘n leër op volle sterkte
na sy ondergang toe.
Hulle kon nie weer opstaan nie,
dit was klaar met hulle,
hulle is soos ‘n lamppit uitgedoof.
18Maar moenie net
aan die vroeëre dinge dink
en by die verlede stilstaan nie.
19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,
dit staan op die punt om te gebeur,
julle kan dit al sien kom;
Ek maak in die woestyn ‘n pad,
Ek laat in die droë wêreld
riviere ontspring.
20Die wilde diere sal My vereer,
die jakkalse en die volstruise,
omdat Ek water gee in die woestyn,
riviere in die droë wêreld
om my volk, my uitverkore volk,
se dors te les.
21Dit is die volk wat Ek
vir My geskep het,
en wat my lof sal verkondig.
Ek het jou nie belas met offers nie
22Maar jy het My nie aangeroep nie,
Jakob,
jy het nie moeite gedoen
om My te dien nie, Israel.
23Jy het nie vir My kleinvee
as brandoffers gebring,
My nie met offers vereer nie;
Ek het jou nie belas
met graanoffers nie,
jou nie die moeite aangedoen
om vir My wierookoffers te bring nie.
24Jy het nie geld uitgegee
om vir My wierookoffers te koop nie,
en jy het My nie met die vet van offers
verkwik nie.
Inteendeel, jý het Mý belas
met jou sondes,
jy het My moeite aangedoen
met jou oortredinge.
25En tog is dit Ek
wat jou opstandigheid vergewe.
Ek is getrou aan Myself,
Ek dink nie meer aan jou sondes nie.
26Kla My aan,
laat ons die saak tussen ons uitmaak,
praat jy en bewys jou onskuld.
27Jou eerste voorouer het gesondig
en jou woordvoerders het teen My
oortree.
28Daarom het Ek dié
in beheer van die tempeldiens
ongeskik vir tempeldiens laat word.
Ek het Jakob iets gemaak
wat uitgeroei moet word,
Israel iets wat bespot moet word.

Ekstra stof

Jesaja 42-43 – Die dienaar van die Here leer mense om God te ken
Dit help om die onderskeie perikope van hoofstuk 42 se boodskap van mekaar te onderskei.  In 42:1-9 word oor die dienaar van die Here as individu gepraat wat God se verbond met die nasies is.  In 42:10-17 word oor die verandering wat God bring gehandel.  In 42:18-25 word oor die mislukte vervulling van Israel se taak as dienaar van die Here gehandel.

42:1-9: Hier word die dienaar van die Here as ‘n individu aangekondig wat deur God se Gees bemagtig word om sy wil aan die nasies bekend te maak.  Sy karakter en bediening getuig van deernis – ‘n geknakte riet sal hy nie afbreek nie.  Sy invloed sal strek tot aan die einde van die bekende wêreld (eilande).

Hierdie dienaar is God se verbond met sy volk.  Deur sy bediening sal blindes sien en gevangenes uit die tronk bevry word.  En onthou dat dit juis die praktiese genesingsbediening van Jesus in die Nuwe Testament is wat Matteus as bewys aangee dat Jesaja se voorspelling in Jesus vervul is (Matt 12:17-21).

42:10-17: Daarom kan almal ‘n nuwe lied sing (Kedar is in Arabië en Sela in Edom, albei streke oos van die Dooie See).  God tree op soos ‘n soldaat en oorwin sy vyande.  Hy bars los en verander donkerte in lig en maak die ongelyk plekke gelyk, tot teleurstelling van dié wat op afgode vertrou.

42:18-25: Die konteks maak dit duidelik dat hier oor die mislukking van Israel as die dienaar van die Here gepraat word, mense wat blind en doof is, al het die Here hemel en aarde beweeg om hulle in gehoorsaamheid te laat reageer.  Ten spyte van hulle ongehoorsaamheid en die gevolglike ballingskap, bly die Here getrou, want Hy vind vreugde daarin.

Hoofstuk 43
Hoofstuk 43 verseker egter die volk van God se verkiesende liefde (43:1-13) wat Hom beweeg tot ‘n nuwe bedeling (43:14-21) omdat Hy getrou is aan Homself (43:22-28).
43:1-13: Dit is vir baie van ons seker een van die mooiste gedeeltes in die Bybel.  Maar luister daarna ook uit die hoek van ‘n volk wat in ballingskap sit en dié bemoedigende woorde van God hoor.  God kies hulle uit om aan hulle liefde te bewys en bymekaar te maak in ‘n Tweede Eksodus waar hulle van alle windstreke weer terug na die Beloofde Land sal keer.  En alle nasies sal getuies wees van hierdie proses.  Let op hoe die roeping van die gehoorsame dienaar van die Here uitgespel word: “sodat julle My kan ken en in My kan glo en kan besef dat Ek die Here is.” (43:10).  Terloops: Seba was die seun van Kus (Gen 10:7) en was dus ‘n ander naam vir Ethiopië.

43:14-21: God bewerk hierdie Tweede Eksodus deur ‘n nuwe ding te doen, dit is om die Galdeërs te verslaan (deur die Persiërs) en sy volk in ere weer te herstel.
43:22-28: Die redding gebeur al verdien Juda dit nie, en het hulle selfs nie daarvoor gevra nie.  God vergewe hulle omdat Hy getrou bly aan Homself.  In woorde wat reeds in die eerste hoofstuk gebruik is van Jesaja, nooi God hulle uit om die saak met Hom uit te maak, ‘n tema wat in die volgende hoofstuk verder gevoer sal word.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3”

Aanvangswoord en Seëngroet

Die volgende Kersritueel word as opsie aangebied by die Preekstudie oor Jesaja 43 soos in Bybelmedia se Woord en Fees 2016.
Tyd vir stilte
Kers word gedoof
Gebed

Lied 492 “In U is vreugde vs 1,2”

Wet: Gebruik die Here se verwyt aan sy volk (Jesaja 43) as Wet waaraan ons ons eie gesindhede kan ondersoek:

Skuldbelydenis: Lied 389 “Is dit is dit my Koning 1,2,3”

Vryspraak 

Toewyding: Filippense 3

Loflied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3”

Epiklese: (Ahv Psalm 138)

Skriflesing: Jesaja 43:14-21

Familie-oomblik
Predikin
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3”

Aanvangswoord en Seëngroet
Voorganger: Mag God die Vader,
wat ʼn gebroke gees nie verag nie,
jou ʼn verslae hart gee.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Mag Christus
wat ons sonde aan die kruis gedra het
vir jou genesing bring deur sy wonde.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Mag die Heilige Gees
wat ons in die volle waarheid lei woorde van vergifnis en vrede tot jou spreek.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Die Here ontvang jou met deernis
in sy teenwoordigheid.
Gemeente: U alleen wil ek aanbid en eer.
(Uit Basisliturgie vir lydenstyd 2016 in Bybelmedia se Woord en Fees)

Die volgende Kersritueel word as opsie aangebied by die Preekstudie oor Jesaja 43 soos in Bybelmedia se Woord en Fees 2016.
Ons het vanoggend hier aangekom met die normale gewoel en gewerskaf van ʼn Sondagoggend: vriende groet mekaar, die tegnici is besig om alles gereed te kry, die klank word getoets. Noudat ons in die banke sit, nooi ek julle om julle oë te sluit en die woord “heiligdom” te oordink. Die kerk is ʼn plek wat in besonder afgesonder word vir ’n ontmoeting met God. Dit is ʼn veilige plek, waar jy beskerm word en rus kan vind. Hierdie vertrek is ʼn heiligdom. Lydenstyd is ʼn soort heiligdom, verleng oor tyd. Een van die dinge wat Lydenstyd ons leer is dat ons ook ʼn heiligdom is. Daar binne in jou is ʼn heilige plek, ʼn plek waar die Here woon. Raak stil en ontmoet die Here daar.

Tyd vir stilte
Terwyl ons die lig verdoof, erken ons die duisternis wat die pyn wat oorloë en verdrukking in die wêreld veroorsaak. Gee ons die krag om die veranderinge in ons lewe te maak wat nodig is in ons lewe.
Kers word gedoof.

Gebed
Liefdevolle God en Hemelse Vader, ons open ons harte voor U. Ons nooi U in ons diepste binneste in, net om te ontdek dat U reeds daar is. Versterk ons in ons binneste en lei ons dan om te werk vir geregtigheid en vrede.  Amen.

Lied 492 “In U is vreugde vs 1,2”

Wet 
Gebruik die Here se verwyt aan sy volk (Jesaja 43) as Wet waaraan ons ons eie gesindhede kan ondersoek:
22Maar jy het My nie aangeroep nie,
Jakob,
jy het nie moeite gedoen
om My te dien nie, Israel.
23Jy het nie vir My kleinvee
as brandoffers gebring,
My nie met offers vereer nie;
Ek het jou nie belas
met graanoffers nie,
jou nie die moeite aangedoen
om vir My wierookoffers te bring nie.
24Jy het nie geld uitgegee
om vir My wierookoffers te koop nie,
en jy het My nie met die vet van offers
verkwik nie.
Inteendeel, jý het Mý belas
met jou sondes,
jy het My moeite aangedoen
met jou oortredinge.

Skuldbelydenis: Lied 389 “Is dit is dit my Koning 1,2,3”

Vryspraak 
Miga 7:18-19
18Wie is ’n God soos U?
U vergewe sonde,
U straf nie die sonde van dié
wat uit u volk oorgebly het nie.
U bly nie vir altyd kwaad nie,
U betoon liefde.
19Hy sal ons weer genade betoon,
Hy sal ons sonde tot niet maak,
U sal al hulle sondes in die diepsee gooi.

Toewyding: Filippense 3
7Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, 8ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry 9en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo. 10Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, 11in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Loflied 188 “Kom dank nou almal God 1,2,3”

Liedere

F112.(a) “My Hande Hef Ek Op Na U”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Lof)
Oorspronklike titel: I Lift My Hands
Teks en Musiek: André Kempen
Afrikaanse vertaling: Vers 1 Jan de Wet & vers 2 Atlanta van Vuuren
© 1989 Kempen Music

1. My hande hef ek op na U
Ek loof U naam en buig voor U
want U is Heer,
die Koning van my hart.
En ek dien geen afgod nie
en niks is meer belangrik nie
as dat U in my hart regeer
daar is geen plek vir ander nie.
Voor U o Heer,
lê ek nou, my lewe neer.

2. O Koning Heer, ek wil U eer
U naam besing, U hulde bring
want U o Heer, bly altyd, in beheer.
U wil ek my lewe wy
gehoorsaam my in U verbly
Laat my lied ‘n loflied wees
aan U o Vader, Seun en Gees.
Ek wil U roem, Vader noem
My God en Heer.

F133. “As Ek Stil Word”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding,  Verwondering,  toetrede)
Teks en Musiek: Janie de Bruin
© MAR Gospel Music Publishers

As ek stil word
Om by U te wees
Bedaar my hart
Se donker vrees
As ek u hartklop
Teen my wang kan voel
Verstaan ek wat u Woord bedoel

U is wonderbare Raadsman
U is magtige God
U is ewige Vader
U is Vredevors

God praat met ons en ons luister

Epiklese: (Ahv Psalm 138)
Here, ek wil U met my hele hart loof-
dit is tot u eer dat ek sing.
Ek wil na u heilige tempel toe buig
en u Naam roem om u liefde en trou,
want U het u Naam en u woord
bo alles gestel.
Ek wil sing
oor wat die Here gedoen het,
want die mag van die Here
is groot.
Aan u liefde, Here,
is daar geen einde nie.
Moet tog nie die werk van u hande
laat vaar nie.
Amen

Skriflesing: Jesaja 43:14-21

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

“God is so groot dat Hy net so klein kan wees as wat Hy wil wees.  Dis hoe Hy dit regkry om binne-in jou hart te kan inpas.”
Julia Dray, die dogter van ’n Presbiteriaanse predikant, was 8 jaar oud toe sy begin verstaan het dat die heelal regtig baie, baie groot is.

Sy vertel self:  Ek het een aand op ons voorstoep gesit, ek het gestaar na die sterrehemel bo my, en ek was 8 jaar oud.  Asof van nêrens nie het ’n gedagte skielik by my opgekom dat ek baie, baie klein was en dat die heelal onbegryplik groot was.  Ek het aan die sementtrappie onder my vasgeklou, omdat dit byna gevoel het asof ek van die aardbol af kon val en dat ek in die oneindigheid bo my kon wegraak.  Gaandeweg het die vrees verdwyn en het ek die huis ingegaan.

Ek onthou dat ek my pa, ’n Presbiteriaanse predikant, gevra het hoe God my kon raaksien, wat nog te sê daarvan dat hy enigsins omgee vir iemand so klein.  Toe het hy sy hand op my skouer gesit en my gerusgestel: “God is so groot dat Hy net so klein kan wees as wat Hy wil wees.  Dis hoe Hy dit regkry om binne-in jou hart te kan inpas.”  ’n God so groot, wat net so klein kan wees as wat Hy nodig het om te wees.  Miskien het God iets soortgelyks in Jes. 43:19 bedoel.
en/of
Roep ’n paar kinders vorentoe.  Laat hulle hulle vingers aflek, dit in ’n bakkie met sout druk en dan weer aflek (of gee vir hulle ’n pakkie sout-en-asyn aartappelskyfies om dadelik te eet).  Nou kan hulle voel hoe dit moet voel om dors in die woestyn te wees.  Plaas vooraf ‘Jannie-verjaar koeldrank’ (sommer gewone groen of rooi koeldrank) iewers waar niemand dit kan bereik nie en ’n koelboks waar dit sigbaar is, maar onopvallend.  Sê vir die kinders “Is julle dors?  Kry dan vir julle van die koeldrank”.

Nadat die kinders dit probeer bereik het, sê vir hulle dat hulle op die verkeerde plek soek, want in die koelboks (iewers bereikbaar) is daar vir elkeen ’n yskoue blikkie koeldrank (nog lekkerder en beter as die Jannie-verjaar koeldrank).
Ek maak in die woestyn ’n pad,
Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.
20Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise,
omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld
om my volk, my uitverkore volk, se dors te les.
21Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.(Jesaja 43)
Uit Preekstudie van 25 Maart 2007 by seisoenvanluister.co.za

Preekriglyn

[Nota: Gebruik verkieslik die teks vanaf vers 14 tot en met vers 21.]
Neurobioloog James McGaugh is een van die voorste kundiges op die gebied van menslike geheue. Hy sê ‘n vrou, wat net as AJ bekendstaan, het ‘n unieke gawe om te kan onthou.

AJ se vermoë om die fynste detail te onthou, is ongelooflik. Sy kan dekades uit haar lewe in haar kop laat afspeel asof dit ‘n fliek is waarna sy kyk. Gee haar enige datum, en sy kan onthou watter dag van die week dit was, gewoonlik hoe die weer daardie dag was, persoonlike detail uit haar lewe, en ook watter nuusgebeure afgespeel het.

McGaugh sê dis onmoontlik om te verklaar hoe AJ so goed kan onthou. Sy gebruik nie bekende maniere om bv. assosiasies te skep nie. Die onthou kom net vanself.

AJ, die vrou wat nie kan vergeet nie, sê sy beleef elke dag van haar lewe baie intens en sy onthou onbenullige detail asof dit groot gebeurtenisse was. In ‘n koerantonderhoud is sy gevra wat op 13 April 1987 gebeur het. Dadelik kon sy sê dit was ‘n Maandag, dat sy “pink eyes” gehad het, en dat sy tuis was vir die Paasfees.

Gevra of so ‘n wonderlike geheue ‘n groot gawe is, was AJ nie so seker nie. Sy onthou ook die slegte dinge, soos die einde van ‘n verhouding, in die grootste detail. Dit bly haar by. Dis nie lekker nie.

Miskien moet die vermoë om te kan vergeet ook ‘n gawe genoem word.

Ons teks

Ons teksgedeelte vir vandag handel oor die verlossing wat die Here vir die Jode in ballingskap in Babilonië gaan bring. Hulle sit daar vasgekeer. Jerusalem is verwoes, en hulle leef en werk in diens van die heidense Babilonië. Nou kom daar hoop. Die Here kondig uitkoms aan. Hy gaan die mag van Babilonië breek deur die opkoms van die Persiese Ryk. Daarna sal die volk kan terugkeer. Die volk word opgeroep om hierdie belofte te glo.

Ons teks is deel van ‘n groter gesprek wat reeds in Jesaja 42:13 begin. Verskillende sprekers neem deel, waaronder ook die Here self. Dit laat mens dink aan ‘n groot stadsplein waar verskillende sprekers aan die woord kom en oor die toekoms praat. Dikwels word die Here se optrede met kragtige beelde beskryf, voordat Hy aan die woord gestel word.

Soos die verskillende sprekers aan die woord kom, afgewissel met God se spreke, kom bepaalde temas herhaaldelik na vore. Die sentrale tema is die belofte van verlossing. Hierdie Skrifgedeelte is ‘n profesie van bevryding.

In ons teks hoor ons telkens ‘n sprekers praat wat die Here aan die woord stel. Daarna praat God self.
Eers sê die spreker in vers 14:
So sê die Here, julle Verlosser, die Heilige van Israel:

Waarna die Here aan die woord kom (14-15):
Om julle ontwil stuur Ek iemand teen Babel en laat Ek al sy inwoners, die Galdeërs, vlug met dieselfde skepe waarop hulle hulle vroeër beroem het. Ek is die Here, julle heilige God, die Skepper van Israel, julle Koning.

Dan weer ‘n aankondiger in vers 16 tot 17:
So sê die Here, Hy wat ‘n pad gemaak het deur die see, ‘n deurgang deur die magtige waters, Hy wat strydwaens en perde laat optrek het, ‘n leër op volle sterkte na sy ondergang toe. Hulle kon nie weer opstaan nie, dit was klaar met hulle, hulle is soos ‘n lamppit uitgedoof.

En dan die Here in verse 18 tot 21:
Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.
Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les.
Dit is die volk wat Ek vir My geskep het, en wat my lof sal verkondig.

Drie temas

Drie temas kom uit ons teks na vore waarin ons verder aandag gaan gee:

  • Hoop word gekweek by die volk deur hulle te herinner aan wie God is
  • Die volk moet ‘n balans tussen vergeet en onthou vind. Reg onthou, wat vergeet insluit, maak hulle vry van die mag van die verlede en maak hulle oop vir God se toekoms
  • Hulle moet leer om God se aksie raak te sien
Wie is God?

Uit die aankondigings voordat God praat kry ons ‘n duidelike prentjie wie die God is wat vir die volk verlossing gaan bring:

  • In vers 14 word die die Verlosser, die Heilige van Israel genoem. Soos op baie plekke word heiligheid en verlossing verbind. Dit is ‘n oproep aan die volk om ook heilig te wees, soos die Here, wat aan hulle verlossing skenk
  • In vers 16 en 17 word God ook as Verlosser voorgestel. Die volk word herinner aan die uittog uit Egipte toe die Egiptenare hulle in die woestyn agtervolg het. Die Here het die Rietsee oopgekloof sodat die volk veilig kon deurtrek. Die Here het die Egiptiese leer egter met die water verswelg. Hy het hulle soos ‘n lamppit uitgedoof.

Uit God se eie woorde kry ons ook ‘n helder prentjie oor wie God is:

  • Hy gaan Babel se mag verbreek, sodat daar vir die volk bevryding kan kom 14);
  • Hy is die Skepper en Koning van Israel, die heilige God (15)
  • Hy gaan iets nuuts doen deur water in die dorre woestyn te gee (18-20)
  • Hy sal Israel weer gebruik om sy lof te verkondig (21).

In dié gesprek word dit al duideliker dat die Verlosser van Israel ook die Skepper van die ganse werklikheid is; ook van die ander volke en die natuur. God se droom strek wyer as wat Israel se verbeelding op daardie stadium toegelaat het. Die profeet help die volk om hierdie nuwe realiteit te begin visualiseer. In hierdie visie tree die Here uit vrye guns namens Israel op, vergewe God die volk vir hulle hardkoppigheid en ongehoorsaamheid, maar herinner die Here hulle ook nuut aan hulle vergete roeping: om die Here se lof te verkondig en ‘n lig vir die nasies te wees.

God se aksie

Ons word uitgenooi om God aktief aan die werk in die geskiedenis te sien. Hier is geen sprake van ‘n afsydige of ‘n ver God nie. God is nie afwesig nie. Dis nie ons, sy volk en kerk, wat maar op ons eie aanploeter nie. God is aktief teenwoordig.

God bring verlossing. Hiervoor roep God mense en sonder hulle af. Hy leer hulle hoe om heilig te lewe. En dan gebruik Hy hulle sodat sy verlossing die uithoeke van die aarde kan bereik.

Hierdie God handel ook in die politiek. Die lotgevalle van nasies en volk interesseer Hom. Hy bestuur die geskiedenis so dat die verlossing wat deur sy kerk uitgedra word die wêreld omskep in God se koninkryk en genesing bring vir die nasies.

Op hierdie God kan ons ons hoop plaas.

Vergeet

Iets merkwaardig gebeur in ons teks. In verse 16 tot 17 word Israel herinner hoe God hulle deur die Rietsee bevry het van die mag van Egipte. Net in die volgende verse word Israel opgeroep om te vergeet (18-19):
Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie.
Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom
Wat moet die volk vergeet?

Een moontlikheid is om nie net aan God se groot dade in die verlede vas te hou, asof God nooit weer iets groots gaan doen nie. God kan altyd weer, en God kan meer. God wat hulle uit Egipte gered het, kan hulle nou weer uit Babilonië red. God kan hulle op groter en meer wonderbaarlike manier red!

‘n Tweede moontlikheid is dat hulle nie voordurend moet dink aan hulle sonde wat hulle in Babilon laat beland het nie. Terwyl Israel vroeër uit blote hardkoppigheid en ongehoorsaamheid nie wou sien en hoor nie, is dit nou hulle skuldige gewete, selfbejammering en apatiese houding, wat hulle blind maak vir die nuwe ding wat God doen. Daarom word Israel aangemoedig om die verlede te vergeet en nie ag te slaan op dit wat verby is nie. In Jesaja 43:25 stel die Here juis die volk gerus dat Hy hulle oortredinge uit sy geheue sal verwyder en nie meer aan hulle sondes sal dink nie.

In hierdie sin is vergeet waardevol. Skuld wat ‘n mens lamslaan; voortdurende ellende wat alle lewenslus en hoop laat opdroog; ‘n duistere verlede wat ‘n strik word waarin ‘n mens daagliks weer verstrengel raak, slegte dinge wat jou sinies maak – hierdie ervarings is vir meeste mense nie lewensvreemd nie. “Kyk! Ek doen ‘n nuwe ding.” Jy is nie heeltemal aan jou verlede oorgelewer nie. Die Skepper-god, wat jou gevorm het, kan jou ook herskep. Die Here, aan wie jy behoort, kan die nuwe uit die oue laat spruit en nuwe weë bekend maak waar eers geen uitkoms sigbaar was nie. So word ‘n slagoffermentaliteit versigtig afgebreek om plek te maak vir nuwe moontlikhede wat die Here uit genade aan sy volk wil bekend maak.

Iets nuuts

Die nuwe ding wat die Here doen is verrassend en onvoorspelbaar. Dit spruit nie maar uit onvrugbare grond wat nie uit sy eie verwagting skep nie. ‘n Weg word geskep, maar deur die onherbergsame wildernis. Riviere ontspring, maar in die dorre woestyn.

Die jakkalse en volstruise wat in Jesaja 34 en 35 die verval en chaos van die verlate land uitgebeeld het, raak nou deel van ‘n nuwe omgewing wat die uitverkore volk se diepste dors les. Ook húlle, die jakkalse en volstruise, neem deel aan die lof wat die Here toekom vir die nuwe ding wat die skepper God tot stand bring. Die Israeliete word deur die geskape natuur daaraan herinner dat hulle skepsels is; dat hulle aan God behoort wat die skepping in stand hou; dat die Here hulle as sy uitverkore volk kan herskep.

Vergeet én onthou

Daar moet ‘n gesonder spanning tussen onthou en vergeet wees. Ons moet ons verlede onthou, sodat ons dankbaar kan bly vir die verlossing wat die Here vir ons gebring het. Maar ons moet ons verlede op so ‘n manier vergeet dat die skuld en sonde van die verlede sy greep op ons verloor.

Daarom kan ons bly wees ons het nie AJ se fotografiese geheue nie.

Selfs wanneer ons God se groot dade in die verlede onthou, moet ons versigtig wees dat dit nie ons verwagtinge van die Here inperk nie. Ons kan naderhand dink ons verstaan God, ons weet wat God kan en nie kan, of sal en nie sal doen nie.

Wanneer mens net met onthou werk, kan jy maklik verstok raak, of vreeslik dogmaties. Wanneer mens net met vergeet werk, verloor jy die troos van God se verlossingswerk uit die verlede. Die teoloog John de Gruchy sê ons moet reg onthou. Reg onthou sluit ook vergeet in.

Ons moet onsself afvra: Wát word onthou en wát word vergeet? Onthou ons net die sondes van ons vyande, terwyl ons gerieflik ons eie foute vergeet? Word verhale uit die verlede net onthou sodat ons huidige optrede regverdig kan word? Al is ons optrede eintlik onregverdigbaar? Of het ons dalk op ander maniere gevangenes geraak van ons eie verlede? Laat dit ons apaties staan teenoor enige nuwe inisiatiewe?

In hierdie lig sou ‘n mens dus die Here se stelling in Jesaja 43 as ‘n waarskuwing teen ‘n verkeerde gebruik van die verlede kon sien. Dalk is dit juis Israel se gebruik van die verlede wat hulle blind maak vir die nuwe ding wat die Here aan die doen is. Daarom moet die ou dinge plek maak vir die nuwe.

Om God raak te sien

God doen nuwe dinge, soos hier in Israel se geskiedenis. Daar kom verlossing. Die woestyn word vol water. Die verdorde aarde gaan lewe kry.

Waarom is dit dikwels so moeilik vir mense om hoop op God te behou? Waarom doen God dikwels nuwe dinge onder ons, en kan ons dit nie raaksien nie? Hoekom is dit vir mense so moeilik om die nuwe wat God moontlik maak te onderskei?

Jesaja 43:1-16 suggereer dat hierdie blindheid deur ‘n verkeerde tipe herinnering of gemeenskaplike geheue veroorsaak en vererger kan word. Wat is dan die geneesmiddel? Profete soos Jesaja weet nuwe oë is nodig om hierdie situasie te herstel. Ons het ‘n nuwe manier van kyk nodig. Daarmee word natuurlik ‘n nuwe verbeelding en ‘n nuwe houding veronderstel.

Hierdie nuwe houding word moontlik gemaak deur ‘n nuwe raaksien van God en ‘n nuwe sensitiwiteit vir wat God doen. Daarom doen ons teks so baie moeite om te praat oor wie God is. Daarom nooi die profeet die volk uit om deur hulle verbeeldingskrag anders na die wêreld te kyk. Want hoe anders sal hulle strome water in die woestyn of hoofweë in die wildernis kan onderskei?

Jesus Christus

Jesus Christus is ‘n nuwe Woord van God. Niemand kon verwag dat God in die Persoon van sy Seun as mens op aarde sou aankom nie. Daarom het die Joodse godsdienstige leiers so geworstel om God in Jesus te herken. Tot die einde toe. Uiteindelik het hulle die Woord van God doodgemaak omdat hulle God nie kon toelaat om hulle te verras nie.

Selfs diegene wat Jesus as die Messias van God kon herken, het nie ruimte gehad dat die Messias moes ly en sterf nie. Daarom kon hulle ook nie die belofte dat Hy uit die dood sou opstaan toeëien nie.

Jesus is selfs nog meer. In die opgestane Jesus herken ons die groot herskeppingsdaad van God. Jesus is die eerste begin van God se groot herskepping waar gelowiges en God se aarde nuut gemaak word. Ons sien vooruit na die hemelse verrassing van die nuwe aarde.

Niks is daarom op aarde so dood, so vergane, so hopeloos, dat nuwe lewe nie moontlik is nie. God wat ‘n gebroke liggaam in ‘n graf weer aanmekaar kon weef en in ‘n nuwe lewe laat opstaan, kan alles lewend maak. Ook ons dooie huwelike, verhoudinge met familielede, verloopte kinders, vasgevalde verhoudinge by die werk.

Die lydende Jesus is ons hoop op God se nuwe dade.

Om God werklik te sien – die Verlosser en Heilige van Israel – beteken om oop te raak vir God se herskeppende krag. Hy laat woestyne blom. Hy tel dooies op. Hy blaas nuwe lewe in doodsbeendere.

Ons moet die Gees van God toelaat om ons oë oop te maak vir God se nuwe werklikhede. Die Gees moet ons help vergeet, sodat sinisme en pyn uit die verlede ons nie langer verblind vir God nie. God se belofte is: “Kyk, ek doen ‘n nuwe ding.” God se uitnodiging is: “Sien dit raak!”

God stuur ons om te leef

Gebed

Geloofsbelydenis: ahv Jesaja 53
Die Here was soos ’n loot,
soos ’n plant wat wortel skiet
in droë grond.
Hy het nie skoonheid of prag gehad
dat ons na hom sou kyk nie,
nie die voorkoms dat ons
van hom sou hou nie.
Hy was verag en deur die mense
verstoot,
’n man van lyding wat pyn geken
het,
iemand vir wie die mense
die gesig wegdraai.
Hy was verag,
ons het hom nie gereken nie.
Tog het hy óns lyding op hom
geneem,
óns siektes het hy gedra.
Oor ons oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom.
Ons het almal gedwaal soos skape,
ons het elkeen sy eie pad geloop,
maar die Here het ons almal se sonde
op hom laat afkom.
Hy is mishandel,
maar hy het geduldig gebly,
hy het nie gekla nie.
Soos ’n lam wat na die slagplek toe
gelei word
en soos ’n skaap wat stil is
as hy geskeer word,
het hy nie gekla nie.
Dit was die wil van die Here
om hom te verbrysel.
om hom die pyn te laat ly.
Ek glo in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Offergawes

Wegsending: Lied 190 “Grote God aan U die eer 1,2,3

Seën
Die Here het jou lyding op Hom geneem.
Hy was siek
sodat ons gesond kan wees,
Hy het swaargekry
sodat ons nie swaar sal kry nie.
Hy het die straf gedra
sodat dit goed kan gaan met ons.
Hy is met jou en sal jou seën.
Amen.
(Uit Basisliturgie vir lydenstyd 2016 in Bybelmedia se Woord en Fees)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.