Vyfde Sondag in Lydenstyd

Sections

Oorsig

Jesus se opwekking van Lasarus uit die dood (Joh. 11) is ‘n vooruitwysing na sy eie opstanding uit die dood en van ons opwekking tot ‘n nuwe lewe deur die Gees wat in ons woon (Rom. 8).

Dit sluit aan by die belofte aan Israel dat hulle uit die doodsbestaan van die ballingskap tot nuwe lewe gewek sal word (Eseg. 37).

Dit maak dit vir ons moontlik om vanuit die diepste dieptes van die lewe steeds op die troue liefde van God te vertrou (Ps. 130).

Ander tekste

Esegiël 37:1-14
Ek sal julle terugbring
37 Die mag van die Here het my in besit geneem en my deur die Gees van die Here uitgebring en neergesit binne-in ’n laagte. Die laagte was vol bene. 2Die Here het my om die bene laat loop, en ek het gesien daar is baie bene in die laagte en hulle is baie droog.

3Toe vra Hy vir my: “Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom?”

Ek het geantwoord: “Nee, dit weet net U, Here my God.”

4Hy sê toe vir my: “Tree op as profeet vir hierdie bene en sê vir hulle: Hoor die woord van die Here, droë bene! 5So sê die Here my God vir hierdie bene: Ek gaan gees in julle laat kom sodat julle kan lewe: 6Ek sal vir julle senings en vleis aansit en julle oortrek met vel en dan sal Ek gees in julle gee sodat julle kan lewe. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.”

7Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is, en terwyl ek dit doen, hoor ek ’n gedreun: die bene het na mekaar toe beweeg, elkeen na die been toe wat by hom pas. 8Terwyl ek kyk, kom daar senings en vleis aan hulle en word daar vel bo-oor getrek. Maar daar was nog nie gees in hulle nie. 9Toe sê die Here vir my: “Praat nou as profeet met die gees, tree op as profeet, mens, sê vir die gees: So sê die Here my God: Kom uit die vier windstreke, gees, blaas in hierdie dooies in dat hulle kan lewe.”

10Ek het as profeet opgetree soos die Here my beveel het, en toe kom die gees in hulle, en hulle lewe en gaan staan regop. Dit was ’n baie groot menigte. 11Die Here het vir my gesê: “Mens, al hierdie bene stel die hele Israel voor. Hulle sê: ‘Ons bene is uitgedroog, ons het geen hoop meer nie, dit is klaar met ons.’12Tree op as profeet, sê vir hulle: So sê die Here my God: Ek sal julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, en Ek sal julle terugbring na die land Israel toe. 13Wanneer Ek julle grafte oopmaak en julle laat uitkom, my volk, sal julle besef dat Ek die Here is. 14Ek sal my Gees in julle laat kom sodat julle kan lewe en Ek sal julle in julle land laat woon. Dan sal julle besef dat Ek die Here is. Ek het dit gesê en Ek sal dit doen,” sê die Here.

Psalm 130
Ek wag op die Here
130 ’n Pelgrimslied.
Uit die dieptes roep ek na U, Here,
2luister tog na my, Here,
hoor tog my hulpgeroep.
3As U ons sondes
in aanmerking sou neem, Here,
wie sou dan nog bestaan?
4Maar by U ís daar vergifnis:
daarom word U steeds gedien.
5Ek stel my vertroue in die Here,
ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
8Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.

Romeine 8:6-11
Lewe deur die Gees
8 Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie. t2Die wet van die Gees wat aan jou in Christus Jesus die lewe gee, het jou vrygemaak van die wet van sonde en dood. 3Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel. 4Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees. 5Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die sondige natuur, maar dié wat hulle deur die Gees laat beheers, hou hulle besig met die dinge van die Gees. 

6Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede. 7Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, is immers vyandskap teen God. Die sondige natuur onderwerp hom nie aan die wet van God nie, dit kan trouens ook nie. 8Dié wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie.

9Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle. As iemand die Gees van Christus nie het nie, behoort hy nie aan Christus nie. 10Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak, hoewel die liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde. 11Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

12Daarom dan, broers, staan ons onder ’n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God. 15Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. 16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. 17En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename. Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus. Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid.

Fokusteks

Johannes 11:1-45
Die dood van Lasarus
11 ‘n Man met die naam Lasarus was siek. Hy was van Betanië, die dorp waar Maria en haar suster Marta gewoon het. 2Maria was die vrou wat met reukolie die Here gesalf en sy voete met haar hare afgedroog het. Dit was haar broer Lasarus wat siek was. 3Die susters het iemand na Jesus toe gestuur om te sê: “Here, hy vir wie U lief is, is siek.”

4Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

5Jesus het vir Marta en haar suster en Lasarus liefgehad. 6Nadat Hy gehoor het dat Lasarus siek is, het Hy egter nog twee dae op die plek gebly waar Hy was. 7Eers daarna het Hy vir sy dissipels gesê: “Kom ons gaan terug na Judea toe.”

8Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, nou die dag nog wou die Jode U stenig, en gaan U weer daarheen?”

9Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in ‘n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. 10Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat hy nie die lig het nie.”

11Hierna het Hy vir hulle gesê: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.”

12Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.”

13Jesus het van Lasarus se dood gepraat, maar hulle het gedink Hy praat van die gewone slaap. 14Toe sê Jesus vir hulle reguit: “Lasarus is dood, 15en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”

16Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”

Jesus by Marta en Maria
17Toe Jesus daar kom, het Hy gevind dat Lasarus al vier dae in die graf was.

18Betanië was naby Jerusalem, omtrent drie kilometer; 19en baie van die Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle oor hulle broer te troos.

20Toe Marta hoor dat Jesus kom, het sy Hom tegemoet gegaan; maar Maria het in die huis bly sit. 21Marta sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat God U alles sal gee wat U van Hom vra.”

23Jesus sê toe vir haar: “Jou broer sal uit die dood opstaan.”

24Maar Marta sê vir Hom: “Ek weet hy sal met die opstanding op die laaste dag uit die dood opstaan.”

25Toe sê Jesus vir haar: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit?”

27“Ja, Here,” sê sy vir Hom, “Ek glo vas dat U die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

28Nadat sy dit gesê het, het sy haar suster Maria gaan roep en saggies vir haar gesê: “Ons Leermeester is hier, en Hy roep jou.”

29Toe sy dit hoor, het sy gou opgestaan en na Hom toe gegaan. 30Jesus het nog nie in die dorp aangekom nie, maar was nog op die plek waar Marta Hom ontmoet het. 31Toe die Jode wat by Maria in die huis was en haar vertroos het, sien dat sy vinnig opstaan en uitgaan, het hulle agter haar aangegaan omdat hulle gedink het sy gaan na die graf toe om daar te huil. 32Toe Maria daar aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete gekniel en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterwe het nie.”

Jesus laat Lasarus uit die dood opstaan
33Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed vol geskiet en was Hy aangedaan. 34Hy vra toe: “Waar het julle hom begrawe?”

Hulle het vir Hom gesê: “Here, kom kyk.”

35Jesus het gehuil. 36Die Jode sê toe: “Kyk hoe lief het hy hom gehad!”

37Party van hulle het ook gesê: “Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?”

38Jesus se gemoed het weer vol geskiet toe Hy by die graf kom. Dit was ‘n rotsgraf, en daar was ‘n klip voor die ingang gerol. 39Jesus sê toe: “Rol die klip weg.”

Maar Marta, die suster van die oorledene, sê vir Hom: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.”

40Jesus sê toe vir haar: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sien nie?”

41Hulle het toe die klip weggerol. Jesus het opgekyk boontoe en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek sê dit ter wille van die mense wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het.”

43Nadat Hy dit gesê het, roep Hy met ‘n harde stem: “Lasarus, kom uit!”

44Die oorledene het uitgekom. Sy hande en sy voete was nog toegedraai met grafdoeke en sy gesig toegebind met ‘n kopdoek. Jesus sê toe vir die mense: “Maak hom los dat hy kan huis toe gaan.”

Die Joodse Raad besluit om Jesus dood te maak
(Matt 26:1–5; Mark 14:1–2; Luk 22:1–2)
45Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het tot geloof in Hom gekom.

46Maar party van hulle het na die Fariseërs toe gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. 47Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe die Joodse Raad bymekaargeroep en gesê: “Wat gaan ons doen? Hierdie man doen baie wondertekens. 48As ons hom so laat aangaan, sal al die mense in hom glo, en dan kom verwoes die Romeine hierdie heilige plek en maak ons nasie tot niet.”

49Een van hulle, ‘n sekere Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het egter vir hulle gesê: “Julle verstaan niks, 50en julle besef ook nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.”

51Dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die nasie sou sterwe. 52En Hy sou nie net vir die nasie sterwe nie, maar ook om die kinders van God wat oor die hele aarde versprei is, tot een volk bymekaar te bring.

53Van daardie dag af was hulle vasbeslote om Jesus dood te maak. 54Daarom het Jesus nie meer in die openbaar onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan weggegaan na die streek naby die woestyn, na ‘n dorp met die naam Efraim. Daar het Hy met sy dissipels ‘n rukkie gebly.

55Die Paasfees van die Jode was naby. Baie mense het voor die Paasfees van die platteland af na Jerusalem toe gegaan om hulle te reinig. 56Hulle het daar na Jesus gesoek en waar hulle in die tempel gestaan het, vir mekaar gesê: “Hoe dink julle? Hy sal seker nie fees toe kom nie, of hoe?”

57Die priesterhoofde en die Fariseërs het toe al klaar opdrag gegee dat as iemand weet waar Hy is, hy dit moet aangee sodat hulle Hom gevange kan neem.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lauren Daigle se “Come Alive (Dry Bones)” of F461 of Psalm 130

Votum en Seëngroet: Psalm 130:5-8

Lofsang: F457 of Lied 390

Wet en Genadeverkondiging: Romeine 8:6-11

Verootmoediging: Lied

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Johannes 11:1-45

Familie-oomblik
Preek 

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 491 “‘k Het Jesus lief, Hy is my lig en krag”

Seën: Romeine 8:11

Respons: Lied 491 v 5 se laaste reël of Flam 461 refrein

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Wys (of sing) Lauren Daigle se “Come Alive (Dry Bones)” [nav Esegiël 37 – dit kan ook goed werk na die verootmodiging] of
F461. Uit Die Dieptes (Psalm 130 / Ek Wag Op U) of
Psalm 130

Votum en Seëngroet
Psalm 130:5-8 (Sien Bybelmedia se Woord en Fees vir ‘n responsorie votum op grond van Psalm 130)

Lofsang
F457. Ek Wil U Lof Verkondig (Psalm 30) of
Lied 390 “Ons kniel hier aan u voete neer”

Wet en Genadeverkondiging: Romeine 8:6-11

Verootmoediging
Lied 393 “Middelpunt van ons verlange”

Geloofsbelydenis

Liedere

F461. “Uit Die Dieptes (Psalm 130 / Ek Wag Op U)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof)
Teks en musiek: Louis Brittz
Kopiereg: © Urial Publishing

Uit die dieptes roep ek na U,
hoor my hulpgeroep, o God.
Sou U my sonde my toereken
wat sou van my oorbly, Heer?
Maar by U is daar vergifnis
daarom sal ek U bly dien.

Refrein:
Ek stel vertroue in die Here
op die vervulling van u Woord.
Meer as wat die wagters op die môre wag
wag ek op U,
wag ek op U

F457. “Ek Wil U Lof Verkondig (Psalm 30)”
(RUBRIEK: FLAM – Lof)
Teks en musiek: Louis Brittz
Kopiereg: © Urial Publishing

1. Ek wil U lof verkondig, Heer
want U het my gered en meer.
U het my hulp geroep gehoor
en my genees.
U het my uit die dood gered
toe dit te laat gelyk het.
En U het in goedheid my laat heers
oor elke vrees.

Refrein:
U het my rouklere uitgetrek,
my feesklere aangetrek.
Daarom sal ek sing vir U
sal ek nie stilbly nie.
My rouklere uitgetrek,
my feesklere aangetrek
daarom sal ek hulde bring
daarom sal ek aanhou sing.

2. Gister was weer ’n donker dag
maar ek weet môre sal ek lag.
U plaas my op ’n hoë berg
en hou my veilig.
Ek het benoud U hulp gevra,
U het my deur die nag gedra.
En U’t genade my betoon
O Here, heilig.

Refrein:

Kan stof U loof,
U trou verkondig?
Here genadig,
ek sal U loof,
U lof verkondig.
Ek was in rou
U’t my van vreugde laat dans.

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Johannes 11:1-45

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Onthou, jy hoef nie altyd ‘n morele “lessie” uit die teks te haal nie.  Veral met die verhalende tekste is dit dikwels goed om eenvoudig die verhaal te vertel.  So kan vanoggend se skriflesing bv deur verskillende lesers gedoen word:  verteller, Jesus, dissipels, Marta, ens.  Jy kan dit ook lees met mooi prente uit ‘n kinderbybel.  Hier is ‘n weergawe met prente.
Of gebruik een van die verskeie pragtige videos van hierdie skrifgedeelte:   – ‘n mooi geanimeerde video; – ‘n video met pensketse – jy sou ‘n screenshot van een van die tonele kon neem en vir die kinders gee om in te kleur;
Woelige kinders sal daarvan hou om mekaar in toiletpapier toe te draai soos mummies.

Preekriglyn

Oor minder as twee weke is dit Paasfees. Goeie Vrydag gaan ons Jesus se kruisiging herdenk, maar ons gaan nie by die kruisiging bly nie. Sondag herdenk ons sy opstanding uit die dood. Dis daarom gepas dat ons nou, terwyl ons nog in Lydenstyd is, sal nadink oor Johannes 11:1-45. Hier wek Jesus vir Lasarus uit die dood op, voordat Hy sy reis na sy eie dood begin, ‘n reis wat uiteindelik ook in opstanding gaan eindig.

Sewe wonderwerke

Johannes 11:1-45, die verhaal van Jesus se opwekking van Lasarus, is deel van ‘n groter onderafdeling in die Johannesevangelie. Hoofstuk 2 tot 11 van die Johannesevangelie vorm ‘n eenheid wat opbou van die water wat Jesus by die huwelik te Kana in wyn verander (hoofstuk 2) tot die opwekking van Lasarus (hoofstuk 11).

In Johannes 2 tot 11 word sewe van Jesus se wonderwerke vertel. Johannes het twee doelstellings hiermee:

  • Eerstens wil hy sy lesers oortuig dat Jesus werklik die Messias en die Seun van God is. Hierdie deel van die Johannesevangelie word die Boek van Wonderwerke genoem.
  • Tweedens wil hy wys hoe Jesus vir mense sorg.
Hoogtepunt én inleiding

Die verhaal van Jesus, die Messias en die Versorger, vind sy hoogtepunt in hoofstuk 11 van die Boek van Wonderwerke wanneer Jesus Lasarus uit die dood opwek.

Die tweede deel van Johannes (hfs. 13-20), word die “Boek van Heerlikheid” genoem. Dit vertel die verhaal van Jesus se lyding en opstanding. Soos reeds gesê, bereik Jesus se wonderwerke ‘n hoogtepunt in die Boek van Wonderwerke wanneer Hy Lasarus uit die dood opwek. Dit dien as inleiding tot die Boek van Heerlikheid, waar Hy eers sy eie dood tegemoetgaan en dan self opgewek word uit die dode.

Die sewe wonderwerke wat in die Boek van Wonderwerke – dit is, Johannes 2 tot 11– voorkom, is die volgende:
Johannes 2: Jesus verander water in wyn by die huwelik in Kana;
Johannes 4: Jesus genees die seun van ‘n regeringsamptenaar;
Johannes 5: Jesus genees die lam man by Betesda;
Johannes 6: Jesus voed die skare met twee visse en vyf brode;
Johannes 6: Jesus loop op die water;
Johannes 9: Jesus genees ‘n man wat blind gebore is;
Johannes 11: Jesus wek Lasarus uit die dood uit op.
Hieruit is dit duidelik dat die sewende wonderwerk die hoogtepunt, oorgang en inleiding vir die res van die Johannesevangelie is.

Diep menslike drama

Johannes vertel vir ons hier in ons teks ‘n diep menslike drama, ‘n paar tonele gelaai met intense emosies. Kom ons stap deur verskillende episodes in die teks:

Op reis na Betanië (11:1-16)
Jesus ontvang berig dat Lasarus, broer van sy goeie vriende, Maria (die een wat Jesus se voete in Joh. 12 salf) en Marta, siek is. Dit is vriende vir wie Hy liefgehad het. Let op dat sy heel eerste reaksie eintlik die uitkoms van die verhaal vooraf uitspel: hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar God se wonderbaarlike mag openbaar (vers 4).

Daarom vertoef Jesus nog twee dae voordat Hy en sy dissipels na Betanië, die dorpie net langs Jerusalem, vertrek. Nie omdat Hy traag was nie, maar omdat Hy oortuig was van God se mag, en dit tot versterking van die dissipels se geloof wou ten toon stel (vers 15).

Maar as Hy uiteindelik tog die pad vat na Betanië toe, dan kom ‘n mens agter dat die dissipels glad nie lus is vir die reis nie. Hulle is intens bewus van die feit dat die spanning tussen Jesus en die Joodse leiers van Jerusalem teen hierdie tyd al breekpunt bereik het. ‘n Paar dae terug wou die Jode Jesus in Jerusalem stenig (Joh. 9 vers 8). En dié dat hulle oorkant die Jordaan gaan vertoef het, die plek waar Johannes die Doper gedoop het.

Tomas veral is baie moedeloos met dié terugreis – en is nie lus om weer deel van die konflik situasie te raak nie. Betanië was net te naby aan Jerusalem vir sy gevoel.

Jesus by Marta en Maria (11:17-32)
Let op dat Marta hier die voortou neem in die gesprek met Jesus en dat sy haar onverskrokke geloof in Jesus bely. Selfs al is Lasarus dood, sal God vir Jesus alles gee wat Hy vra. Jesus lei haar dieper in haar eie belydenis van die opstanding in, en help haar (en ons) verstaan dat die opstanding nie net iets vir die einde van die tyd is nie. Om Jesus te ken, is alreeds om ‘n geestelike herlewing, ‘n geestelike opstanding te beleef, want Hy is die opstanding en die lewe.

Dit is ‘n ongelooflike belangrike belydenis, want dit beteken dat die dood geen mag oor ons het nie, al sterf ons ook. Dit is ‘n geweldige groot troos, soos enigiemand wat al ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, weet.

Let op hoe sy nou haar suster Maria gaan haal, en Jesus die Leermeester noem – sy het so pas haar eie aan-die-voete-van-Jesus sessie belewe (soos Maria in Luk 10:39). Maria tree nie regtig in gesprek met Jesus soos Marta nie, maar spreek net haar gedwarsboomde verwagting uit – as Jesus daar was, sou Lasarus nie gesterf het nie.

Jesus wek Lasarus op (11:33-44)
Jesus het ongelooflike deernis met haar en die hele situasie – om God se wonderbaarlike mag te sien, het hier ingesluit dat die familie die pyn van die dood moes deurworstel, voordat Lasarus uit die dood opgewek is. Daarom huil Hy en begin die proses om by die graf te kom, en die klip weggerol te kry, al waarsku Marta Hom dat die lyk al ruik.

Hy herinner haar aan die lering wat Hy so pas vir haar gegee het – wat ook aanpas by wat Hy reg aan die begin van die verhaal al gesê het – God se mag gaan geopenbaar word. En roep dan vir Lasarus uit die graf uit en wek hom op. Hiermee skep Hy natuurlik ook die verwagting van Sy eie opwekking uit die dood wat later in die verhaal aan die beurt kom.

Hy huil dus ook nie net omdat Hy met hulle meegevoel het nie. Prof Jan du Rand sê Jesus se hartseer strek verder as net ‘n meelewing met Lasarus se dood. Jesus staan voor die dood as manifestasie van die mag van die Bose en weldra moet Hy met sy eie lewe die hoogste offer betaal om juis die mag van die lig te laat seëvier oor die Bose.

Jesus huil dus ook oor sy eie naderende dood. Hy weet Hy kan en gaan Lasarus opwek. Hy weet Hy self gaan opgewek word uit die dood. Maar Hy sal eers self die pyn van die dood moet ervaar. Hy kan dit nie systap nie.

En daar is waarskynlik nog ‘n rede. Hy weet ook dat Hy Lasarus kan en gaan opwek, maar dat dit nie vir ewig kon wees nie, ten minste nie toe nie. Die dood sou eers volledig oorwin word met sy eie dood en opstanding en finaal met die wederkoms wanneer dit ook vir alle gelowiges ‘n werklikheid sal word.

Lasarus sou dus weer sterf, en eers aan die einde van die tyd die finale opwekking beleef. Trouens, ons lees na sy opwekking, dat die Jode besluit om hom dood te maak (12:10), omdat daar so baie oor sy opwekking gesels is, en dit so baie mense in Jesus laat glo het. Jesus weet dit, en Hy huil oor die verydeling en die verganklikheid, en weet dat Sy wonderwerk dit nie kan uitwis nie … nie toe nie.

Sy opwekking sou dus net ‘n teken wees van God se mag, ‘n teken wat wel wonderlik goed sou wees, maar Lasarus nie van alle smart en pyn kon bewaar nie, ook nie dié wat die Jode vir hom hierna beplan nie.

Joodse Raad se teenstand verskerp (11:45-54)
Die wonderteken, die laaste in die reeks van sewe, bring nog eens baie Jode tot geloof in Hom. Maar soos die patroon in Johannes se evangelie is, sommige kan dit net nie meer hou nie, en die teenstand teen Hom begin ‘n amptelike karakter kry, met die Joodse Raad wat bymekaar kom om Sy gewildheid te bespreek en planne daarteen te beraam.

Dit lei tot ‘n onwetende profesie deur die hoëpriester: dit is voordelig dat een man sterwe, eerder as ‘n hele volk.  Daar was ‘n groot bekommernis dat Jesus se groeiende bekendheid die Jode in onguns by die Romeine sou bring, en daarom die besluit om Hom stil te maak, deur Hom dood te maak.

Jesus onttrek Hom dan aan die konflik na Efraim in die woestyn, totdat Hy gereed was om die pad na Jerusalem te neem vir laaste Paasfees en sy lydenspad aan die kruis.

Troos

Hoofstuk 11 is ‘n besondere kykie in die openbaring van die wese van God. Johannes kyk hier nie vanuit die hoogtepunte van die lewe na God nie, maar vanuit die laagtepunte, vanuit die hartseer van ‘n Marta en Maria oor hulle broer Lasarus se dood.  En sê, God gee om. Dit is ‘n geweldige troos, veral ook omdat Jesus sê dat ‘n verhouding met Hom is die opstanding en is die lewe.

Wat kan ons van God verwag na aanleiding van dié gedeelte? Kom ons lig ‘n paar aspekte uit:

Een: Jesus bevestig en versterk ons geloof
Daar is ‘n tipe geloof wat nodig is vir ons waar ‘n mens vashou sonder dat jy sien. Hebreërs 11 praat van mense wat gekry het waarop hulle hul geloof gerig het – en dit is fantasties. EN hy praat van mense wat nie gekry het waarop hulle hul geloof gerig het nie – en dit is ook fantasties. Albei dié groepe gelowiges word geprys en as helde van die geloof vereer. Hoekom? Nogtans sal ek jubel … sê Habakuk. Dit is hoe God lief het, nogtans sal Ek jubel oor jou, al is jy van klei aan mekaar gesit. Dit is hoe ons God lief het, al is ons wie ons is, en al gebeur wat ook al. Dit is ‘n keuse wat gemaak word, al gaan alles verkeerd. Dit is die tipe geloof van ‘n Daniël in die oond van vuur. ‘n Geloof wat sê: “My God kan my uit hierdie oond red. Selfs al sou Hy nie, sal ek steeds aan Hom bly vasklou.” Hoekom? “Want Hy is die moeite werd om te vertrou.”

Twee: Jesus laat ons nooit alleen nie
Jesus laat ons nooit alleen nie – selfs nie in die graf nie. Jesus se sorg gaan oor ons lewe hier op aarde. Dis duidelik uit sy wonderwerke. Maar sy sorg is so omvattend dat Hy ons selfs nie in die graf alleen laat nie. Selfs wanneer ons sterwe, sal ons saam met Hom opstaan. Hierdie is ‘n wonderlike boodskap vir mense wat aan ongeneeslike siektes of infeksies ly. Jesus sal jou selfs in die graf nie alleen laat nie.

Jesus is die Messias, maar Hy is nie nou ver van ons af nie. Hy is altyd teenwoordig as ons Versorger. Die Messias hang nie meer aan die kruis nie. Hy het opgestaan sodat ons hier menswaardig en eervol kan lewe – en ook die ewige lewe kan hê.

Drie: Jesus huil saam met ons
Ek weet nie hoe dit jou raak nie, maar dit is vir my miskien die grootste troos, dat Jesus nie onaangeraak is deur die dinge wat my seermaak of my hartseer maak nie. Wanneer ek op my tande wil kners oor dinge wat verkeerd is, as ek uiters gefrustreerd raak met dinge wat nie reg uitwerk nie, as ek moedeloos raak oor my beste bedoelings en pogings nie goed genoeg is nie, as ek my hare uit my kop wil trek, as ek self nie regkry wat ek so hard probeer doen nie, wanneer ek wil veg met ander of wanneer ek wil vlug van myself – dan is Hy daar en wéét Hy wat ek voel en wat ek dink en hóé dit voel en hóé dit ‘n mens raak. En dit is eintlik al genoeg – dit is asof my binneste tot rus kom as ek weet dat Hy weet.

Vier: Jesus kan vir ons wonders doen
God dank! Hy doen vandag nog wonders! Maar onthou, dit is nie voor die voet nie. Dit is sodat sy mag en sy heerlikheid in hierdie wêreld onderstreep kan word. Daarom dat ons nie kan voorskryf nie, en nie kan verwyt nie. Maar kan vra … en kan weet sy vrede sal ons harte en sinne bewaar in Christus Jesus soos Filippense 4 vir ons sê. Dit moet ons nie angstig maak nie – ons mag vra … maar ook nie arrogant maak nie – God antwoord soos Hy wil.

Vyf: Jesus gee vir ons lewe

Dit is die hele idee van ‘n Goeie Herder, Een wat weet wat sy skape nodig het EN daarin voorsien. Ek het gekom dat julle die lewe sal hê en dit in oorvloed (10:10). En dit is so wonderlik, as ek Filippense 4 weer kan intrek hier: dink aan alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – bring dit voor die Here en vra vir die oorvloed van lewe wat Hy belowe. En Hy sal dit gee op maniere wat jou verstand te bowe sal gaan.

Ses: Elke dag
Jesus bemoei Hom met ons elke-dagse opstanding hier op aarde. Maar Lasarus se opwekking dui ook daarop dat Jesus nie net ons ewige lewe in gedagte het nie. Hy dra ons elke-dagse welsyn op die hart. Hierdie is vir my die mooiste en kragtigste tema wat uit Lasarus se opwekking na vore kom: om elke dag hier op aarde op te staan. Wanneer jy moet opstaan teen te min geld hê, teen mense wat jou seermaak, teen jou moeilike werksomstandighede, teen jou gesoek na werk wat net nie vrugte afwerp nie en teen die depressie wat dit veroorsaak . . . daar is Jesus. Jy hoef nie alleen op te staan nie. Al die geestelike vaardighede wat Jesus ons gee, maak ons sterk om te kan opstaan.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 491 “‘k Het Jesus lief, Hy is my lig en krag”

Seën: Romeine 8:11

Respons: Lied 491 v 5 se laaste reël:  “Wie, wie verdien ons loflied meer as Hy?” of
Flam 461 refrein

 

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.