Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Hierdie is die vierde Sondag in ons reeks oor God se besoek aan Abraham en Sara en uiteindelik die geboorte van Isak; Abraham stuur vir Hagar weg; Abraham moet vir Isak offer en; Rebekka gekies as vrou vir Isak.

Die belofte is nou in Isak se geboorte vervul, maar om die belofte gestand te doen, moet daar ‘n nageslag kom. Die teks in Genesis vertel hoe daar op ‘n besondere wyse vir Isak ‘n vrou gekry is. Met ‘n huwelik op hande kry ons in Psalm 45 die lied van ‘n jong vrou op haar huweliksdag.

In Matteus vandag; Jesus se danklied vir God se openbaring aan kinders terwyl die openbaring vir slim en geleerde mense verborge bly.

Ander tekste

Psalm 45:10-17
10Voor u staan prinsesse,
getooi met u juwele,
en aan u regterhand die koningin,
versier met goud van Ofir.
11Luister, dogter, luister goed:
neem afskeid van u volk
en u familie,
12want u skoonheid bekoor die koning.
U behoort aan hom,
u moet hom eer.
13Dogter van Tirus,
die rykes van die volk
sal u guns soek met geskenke.
14In louter prag staan die koningin daar
in haar kleed van goudbrokaat;
15in haar veelkleurige rok
word sy na die koning toe gelei;
sy en haar gevolg van jong meisies,
haar vriendinne,
word na u toe gebring.
16Onder uitbundige vreugde
word hulle ingelei,
betree hulle die paleis
van die koning!
17Mag u seuns hê
om u geslag voort te sit
dat u hulle kan aanstel as regeerders
in die hele land!
18Mag deur my lied
die roem van u naam
oor geslagte strek,
sodat volke u vir altyd sal prys.

Hooglied 2:8-13
8“Luister, daar kom die man
wat ek liefhet!
Hy spring oor die berge,
hy wip oor die rante.
9Die man wat ek liefhet,
maak soos ’n ribbok,
soos ’n takboklam.
Kyk, daar staan hy
agter ons huis se muur,
hy kyk by die venster in,
hy loer deur die latwerk!
10Die man wat ek liefhet, praat,
hy sê vir my:
‘Staan op, my liefling, my mooiste,
kom na my toe!
11Kyk, die reëntyd is verby,
die reën is oor, dis weg.
12Daar is bloeisels in die veld,
dit het tyd geword om te sing;
die tortelduif se stem klink
oor ons land.
13Die voorvye kom al uit,
die wingerde bot en versprei hulle geur.
Staan op, my liefling, my mooiste,
kom na my toe!

Romeine 7:15-25a
15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.
Matteus 11:16-19, 25-30
16“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:
17‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,
en julle het nie gedans nie!
Ons het ’n treurlied gesing,
en julle het nie gehuil nie!’
18Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’19Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Die onboetvaardige dorpe
(Luk 10:13–15)
20Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie:
21“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het. 22Maar Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. 23En jy, Kapernaum, dink jy
‘jy sal tot die hemel toe verhoog word?
Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal.’ y 
As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het. 24Maar Ek sê vir julle: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.”

Die uitnodiging van Jesus
(Luk 10:21–22)
25Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Fokusteks

Genesis 24: 34-38, 42-49, 58-67
Rebekka word Isak se vrou
24 Abraham was al baie oud, en die Here het hom in alles geseën. 2Abraham het vir sy slaaf gesê, vir die vernaamste in sy huis, die een wat in beheer was van sy besittings: “Sit jou hand onder my heup 3dat jy vir my met ‘n eed in die Naam van die Here die God van die hemel en die aarde kan beloof dat jy nie my seun sal laat trou met ‘n dogter van die Kanaäniete by wie ek nou woon nie; 4jy moet na my land toe gaan, die land waar ek gebore is, en daar ‘n vrou gaan haal vir my seun Isak.”

5Die slaaf het vir Abraham gevra: “En as die vrou nie saam met my hierheen wil kom nie? Moet ek dan u seun laat teruggaan na die land toe waar u vandaan kom?”

6Toe sê Abraham vir hom: “Sorg dat jy nie my seun daarnatoe laat teruggaan nie. 7Die Here die God van die hemel het my weggevat uit my familie, uit die wêreld waar ek gebore is, en my met ‘n eed beloof: ‘Ek gee hierdie land waar jy nou is, aan jou nageslag.’ Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun ‘n vrou van my land af sal kan bring. 8As die vrou nie saam met jou hierheen wil kom nie, is jy vrygestel van hierdie verpligting. Maar jy mag nie my seun laat teruggaan nie.”

9Toe het die slaaf sy hand onder die heup van Abraham, sy eienaar, gesit en vir hom met ‘n eed beloof om dit alles te doen.

10Die slaaf het tien van sy eienaar se kamele gevat en ook allerlei mooi geskenke en vertrek na Mesopotamië toe, na die stad toe waar Nahor gewoon het. 11Daar het hy die kamele by ‘n fontein buite die stad laat kniel. Dit was laat middag, teen die tyd dat die vrouens uitkom om water te skep. 12Hy het gebid: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur; betoon tog u trou aan my eienaar Abraham. 13Hier staan ek by die fontein waar die jongmeisies van die stad sal kom water skep. 14As ek vir ‘n meisie vra: ‘Hou tog jou waterkruik dat ek kan drink,’ en sy antwoord: ‘Drink gerus, en ek sal jou kamele ook water gee,’ dan is dit sy wat deur U gekies is vir u dienaar, vir Isak, en dan sal ek weet dat U trou betoon aan my eienaar.”

15Voor hy nog klaar gebid het, kom Rebekka met die waterkruik op haar skouer daar aan. Sy was die dogter van Betuel, seun van Milka die vrou van Nahor, Abraham se broer. 16Die meisie was baie mooi, ‘n jongmeisie met wie ‘n man nog nie gemeenskap gehad het nie. Sy het afgegaan tot by die fontein en haar kruik vol gemaak en teruggeklim. 17Toe hardloop die slaaf haar tegemoet en sê vir haar: “Laat my tog ‘n bietjie water uit jou kruik drink.”

18En sy sê: “Drink gerus, Meneer!”

Sy laat toe gou haar kruik rus op haar hand, en laat hom water drink. 19Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek sal vir die kamele ook gaan water skep dat hulle genoeg kan drink.”

20Sy het gou haar kruik in die krip leeg gemaak en toe fontein toe gehardloop om nog water te skep. Sy het vir al die kamele geskep.

21Die man het haar in stilte aangekyk om vas te stel of die Here hom in sy onderneming laat slaag het of nie. 22Toe die kamele klaar gedrink het, sit hy ‘n goue ring van ses gram aan haar neus en twee goue armbande van honderd en vyftien gram aan haar arms, 23en hy vra: “Wie se dogter is jy? Sê my tog, is daar in jou pa se huis plek vir ons om te oornag?”

24Sy het hom geantwoord: “Ek is die dogter van Betuel, die seun wat deur Milka vir Nahor in die wêreld gebring is.”

25Verder het sy gesê: “Ons het baie strooi en kameelvoer, en daar is plek om te oornag.”

26Toe het die man gekniel en tot die Here gebid: 27“Aan die Here die God van Abraham wie se slaaf ek is, kom die lof toe! Die Here het nie sy troue liefde van my eienaar weerhou nie en vir my het die Here reguit gelei na die huis van my eienaar se broer toe.”

28Die meisie het na haar ma se huis toe gehardloop en alles gaan vertel.

29–30Rebekka het ‘n broer gehad met die naam Laban. Toe hy die neusring sien en die armbande aan sy suster se arms en haar hoor vertel wat die man alles vir haar gesê het, het hy na die man toe gehardloop by die fontein buite die stad. Toe hy by hom kom, het die man nog by die kamele gestaan, langs die fontein. 31Laban het vir hom gesê: “Kom saam! Jy is ‘n man wat deur die Here geseën is. Waarom bly jy hier buite staan? Ek het vir jou plek reggemaak in my huis, en daar is ook plek vir die kamele.”

32Die man is toe saam huis toe, en Laban het die kamele laat afsaal en vir hulle voer gegee en strooi om op te lê. Vir die man het hy water gegee om sy voete te was en ook vir die mense by hom.

33Toe hulle vir die man kos bring om te eet, sê hy: “Ek sal nie eet voor ek my opdrag uitgevoer het nie.”

Laban het gesê: “Praat gerus!”

34Toe sê die man: “Ek is ‘n slaaf van Abraham. 35Die Here het my eienaar baie geseën en hy is ryk. Die Here het hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. 36Sara, die vrou van my eienaar, het op gevorderde leeftyd vir hom ‘n seun in die wêreld gebring, en hy is die erfgenaam. 37My eienaar het my ‘n eed laat aflê toe hy vir my gesê het: ‘Jy mag nie my seun laat trou met ‘n dogter van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie. 38Nee, jy moet na my pa se huis toe gaan, na my familie toe, en vir my seun ‘n vrou gaan haal.

39Ek het vir my eienaar gesê: ‘Dalk sal die vrou nie saam met my wil kom nie,’40en toe sê hy vir my: ‘Ek leef naby die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en jou in die onderneming laat slaag sodat jy ‘n vrou vir my seun sal kan gaan haal by my familie, by my pa se huis. 41Jy sal slegs van jou eed vrygestel wees as jy na my familie toe gaan en hulle nie instem nie. Dan is jy vry.’

42“Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gebid: Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat my tog slaag in my onderneming. 43Hier staan ek by die fontein waar ‘n jongmeisie van die stad sal kom water skep. Ek sal vir haar vra om my ‘n bietjie water uit haar kruik te laat drink, 44en as sy vir my sê: ‘Drink gerus maar, en ek sal vir jou kamele ook water skep,’ is sy die vrou wat deur U gekies is vir die seun van my eienaar.

45“Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met ‘n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog ‘n bietjie water!’46Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee. 47Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. 48Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun.

49“As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.”

50Toe antwoord Laban en Betuel: “Wat gebeur het, is van die Here. Ons het vir jou daaroor niks te sê nie. 51Rebekka is hier by jou. Vat haar saam en gaan terug. Sy moet die vrou word van die seun van jou eienaar. Dit is wat die Here gesê het.”

52Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy diep voor die Here gebuig. 53Daarna het die slaaf silwer- en goue goed en klere vir Rebekka gegee, en ook duur geskenke vir haar broer en haar ma. 54Toe het die slaaf en die mense wat by hom was, geëet en daar oornag. Die volgende môre het hulle opgestaan en toe sê hy: “Laat my vertrek na my eienaar toe.”

55Rebekka se broer en haar ma het egter gesê: “Laat die dogter nog ‘n dag of tien by ons bly en dan kan sy gaan.”

56Maar die slaaf het hulle geantwoord: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my in my doel laat slaag. Laat my gaan sodat ek na my eienaar toe kan gaan.”

57Hulle het geantwoord: “Kom ons roep die dogter en vra haar wat sy verkies.”

58Hulle het vir Rebekka geroep en vir haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?”

Sy het geantwoord: “Ja!”

59Hulle het hulle suster Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, saam met die slaaf van Abraham en sy mense laat gaan. 60Hulle het vir Rebekka met seënwense gegroet en vir haar gesê:

“Ons suster, mag jou nageslag
tienduisende word,
mag hulle die stede
van hulle vyande verower!”
61Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en agter die man aan gegaan. Hy het haar saamgevat en hy is terug huis toe.

62Isak het van Lagai-Roï-fontein af gekom. Hy het destyds in die Suidland gewoon. 63Hy het teen die aand se kant in die veld gaan stap en toe sien hy meteens kamele aankom. 64Rebekka het vir Isak gesien en van die kameel afgespring 65en vir Abraham se slaaf gevra: “Wie is die man wat daar oorkant in die veld na ons toe aankom?”

Die slaaf het geantwoord: “Dis my eienaar.” Toe vat sy haar sluier en trek dit oor haar gesig.

66Die slaaf het vir Isak alles vertel wat gebeur het, en 67Isak het vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma, laat woon en met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad. So is Isak vertroos ná sy ma se dood.

Liturgie

RUS

Toetrede: F509 of L 214

Votum: Matteus 11:28-30

Seëngroet

Lofsang: F527 of V199 of Psalm 111

Wet: Romeine 7:15-23

Skuldbelydenis: F324 of V152 of L247

Genadeverkondiging Romeine 7:24-25a

Geloofsbelydenis: F206 of L471

HOOR

Gebed

Skrifslesing: Genesis 24:36-67

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Lied 505 of  Lied 522

Seën

Respons: Lied 505 eerste twee reëls

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
F509. “Wie Op Hom Wag Kom Nader (Kom Nader)”
Lied 214 “Here, ons sal U loof”

Votum: Matteus 11:28-30
28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Seëngroet

Lofsang
F527. “Die Here is my vesting (Prys die Heer)of
VONKK 199 Engelstemme Sing Vir Ewig of
Psalm 111

Wet: Romeine 7:15-23
15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

Skuldbelydenis
F324. Vader Van Lig of
VONKK 152 Heer, ontferm / Kyrie of
Lied 247 “Heer, wees ons genadig”

Genadeverkondiging
Romeine 7:24-25a
24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

Geloofsbelydenis
F206. Ons glo (Jesus Is Die Heer) of
Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God”

Liedere

F509. “Wie Op Hom Wag Kom Nader (Kom Nader)”
(RUBRIEK: FLAM – Geloof en vertroue) Teks en musiek: ? Kopiereg: © (Opgeneem op Kom Nader)

Wie op Hom wag, kom nader
Wie op Hom hoop, kom nader

Vehef nou jou stem
Verheerlik Hom
Lig op jou stem
Gee nou oor
Buig in aanbidding
En roep sy Naam

Elkeen wat dors is, kom nader
Elkeen wat honger, kom nader

Elkeen wat moeg is, kom nader
Elkeen wat seer het, kom nader

Jesus, Seun van God
Jesus, Seun van God

VONKK 199 “Engelstemme Sing Vir Ewig”
Teks: Angel voices, ever singing – Francis Pott (1832-1909); Afrikaanse teks: Gideon Brits 2009
Melodie: ANGEL VOICES – Edwin George Monk (1819-1900)
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2012 (Pro Deo)
Kantoryverwerking: Edwin George Monk (1819-1900)
© Teks en orrelbegeleiding: 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie en kantoryverwerking: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Lofprysing

1. Engelstemme sing vir ewig, prys u Naam, o Heer.
Mensestemme sing ’n loflied, bring aan U die eer.
Al wat lewe bring U ere, ons buig voor u grootheid neer.

2. U is heerser oor die heelal, Skepper wat voorsien.
U versorg ons daagliks, Here, ons wil U bly dien.
U vergewe, ons kan lewe – U het ons ook raakgesien.

3. Al die lof, die dank en ere wil ons vir U bring.
Vader, Seun en Heil’ge Gees, ons sing met jubeling.
U, die Sterke, sonder perke, laat ons saam u Naam besing.

F527. “Die Here is my vesting (Prys die Heer”) T285
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Geloof en Vertroue)  Musiek en teks: Oase Kreatiewe Span Kopiereg: ©  2014 Oase Gemeente

1. Die Here is my vesting
Die Here is my krag
Hy’s my bron en Hy’s my redding
Die Een op wie ek wag

2. Die Here is my voorspoed
Hy sal vir my voorsien
Soos ‘n Pa sorg vir sy kinders
Gee Hy meer as wat ek ooit sou kon verdien

Refrein:
Prys die Here, o my siel
Prys die Heer, want Hy is goed
Prys die Here, als wat lewe
Prys die Heer

Brug:
Die hele skepping sing nou saam
Alles wat lewe roem sy Naam

F324. “Vader Van Lig”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Skuldbelydenis) Teks en musiek: Carli Lessing © 2009 WINS Music

Vader van lig, skyn in my lewe in
en maak my bewus van waar dit nog donker is. (x2)

Refrein:
Ek lê dit alles voor U neer
kom vra vir u genade, Heer.
Wil U vergewe, nog ’n keer
laat u volmaakte geskenk
in Christus my deurdrenk en lewe gee.

Brug:
Daar waar ek myself mislei het
en die waarheid smoor.

VONKK 152 “Heer, ontferm / Kyrie”
Teks: Kyrie eleison 1 – Taizé; Afrikaanse weergawe: VONKK werkgroep 2010
Musiek: Jacques Berthier 1923-1994
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk. Met toestemming gebruik
© 2010 VONKK Uitgewers (Admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Skuldbelydenis en Genadeverkondiging

Heer, ontferm, Heer, ontferm U tog oor my.
Heer, ontferm, Heer, ontferm U tog oor my.

Kyrie, kyrie eleison.
Kyrie, kyrie eleison.

F206. “Ons glo (Jesus Is Die Heer)”
(RUBRIEK: Flam – Geloofsbelydenis) Teks: Nico Simpson Musiek: Riaan Steyn, Jandré Viljoen, Neil Büchner
© 2011 Flam Musiek-Uitgewers (Geskep tydens die NG Kerk Sinode Wes- en Suid-Kaap, Mei 2011)

1. Ons glo … in U alleen.
Saamgebring deur u Woord,
versamel deur u Gees,
beskerm en versorg.

Refrein:
Jesus is die Heer.
Aan U kom toe die eer
heerlikheid in ewigheid,
Jesus Christus, U’s die Heer.

2. Ons glo … versoen deur U –
tot een beker en brood –
deur een doop gedoop
en ons bely een Naam.

Refrein:

3. Ons glo … gedring deur U
tussen haat en dood
breek U skeidings af
laat ons vredemakers word.

Refrein:

4. Ons glo… bevry deur U,
in ’n wêreld vol nood
is U by dié wat ly
en ons sal U daarin volg.

Refrein:

5. Ons glo … geroep deur U
selfs in weerstand en straf
om U alleen as Hoof
te leef en te bely.

Refrein: (x2)

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skrifslesing: Genesis 24:36-67
Laat ‘n ouer man die teks lees terwyl mense met wie jy vooraf gereël het, die teks “opvoer”.  Die kidners sal bv geniet om dit op te voer.

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Vertel gewoon die storie!  Lees dit uit ‘n lekker kinderbybel.  Hier is ‘n powerpoint met lekker prente van die hele verhaal, wat jy net so kan gebruik.

As jy graag vir kinders aktiwiteite wil gee om hulle besig te hou tydens die diens, kan julle met ‘n bruilof-tema werk.  Laat hulle versierings maak.  Hier is ‘n template om kamele te maak.  Hier is ‘n inkleurprent (bl 2).

Preekriglyn

Vandag se teks is ‘n heerlike vrou-soek verhaal, want Abraham besluit ná Sara se dood dat die tyd gekom het om vir Isak ‘n maat, ‘n metgesel, te soek. Die skrywer herinner ons aan die seën wat hy ervaar het in sy verhouding met die Here. Hy wou nou van dié seën vir sy seun aangee.

Maar dit is ook duidelik ‘n verhaal van God wat in dit alles die leiding neem en ‘n vrou vir Isak gee wat by hom kan pas sodat hy die rol kan speel wat God in die heilsgeskiedenis vir hom beplan het. Soos Abraham die gasvrye een gewees het in die vorige geslag sou Rebekka dit nou wees in die volgende geslag.  Haar gasvryheid sou verseker ook haar skoonpa se goedkeuring weggedra het!  Haar naam rym ook met die Hebreeuse woord vir seën, bē·rǎ, wat in die eerste vers van Abraham gebruik word.

Ons word ingetrek

Hierdie verhaal vertel hoe die verskillende karakters saamleef en mekaar ontmoet het, en vertel ook van ontmoetings tussen die karakters en God. Daar is verskillende spanningsmomente wat die lesers laat wonder wat volgende gaan gebeur, en uiteindelik mond die verhaal in ‘n verrassende toneel uit.

Ons leer die karakters se identiteit ken, en ook hulle diepe spiritualiteit wat tot uitdrukking kom in gebed, toewyding, meditasie, vrese, moed, hoop, gerigtheid op die toekoms asook onwrikbare vertroue in God se voorsienigheid.

Die verhaal vertel vir ons ‘n klomp detail. Daar is vele idees, konsepte, plekname, karakter name, belydenisuitinge, waardes, beloftes, kultiese gewoontes, en kosbare geskenke. Die verhaal wil nie net die lewe van die karakters en hulle optrede illustreer of toelig nie. Die verhaal wil ook iets doen. Ons sê dit het ‘n “performatiewe” funksie. Dit doen iets aan en met ons.

Die skrywer wil met die illustrasies die lesers as deelnemers by die verhaal betrek met die doel om onsself in die wel en wee van die verskillende karakters te ontdek; onsself daarin terugvind, ons met verstand en hart daarin betrokke voel; tot selfherkenning kom. Die verhaal gaan nie net oor Rebekka en die ander akteurs nie, dit gaan ook oor ons. Die performatiewe dimensie van die verhaal en veral die belydenisse daarin lok ons uit om dit na te doen, soms met trauma en soms met verwondering oor die goedheid en liefde van God.

Soos die verhaal ontvou, kan ons onsself, ons foute en tekortkominge, maar ook ons eie passie, soeke, hoogtepunte en sterkpunte ontdek. Ons kan opnuut weer leer wat dit beteken om God te vertrou, God se wil te soek, en saam met familie en lewensmaats te leef.

Abraham gee ‘n opdrag

Abraham is al baie oud, waarskynlik 139. Isak was reeds ouer as ses en dertig jaar (sy ouderdom toe sy ma dood is), en het nog getreur oor sy ma se dood, soos ons aan die einde van die hoofstuk lees. Dit moes dus min of meer in sy nege en dertigste jaar gebeur het, want op veertig was hy met Rebekka getroud (Gen. 25:20).

Die slaaf se naam word nie genoem nie, anders as wat die geval was met Eliëser, die slaaf wie se naam in hoofstuk 15 genoem word. Hierdie slaaf het ‘n belangrike posisie in Abram se huishouding beklee en was in beheer van al sy besittings.

Die slaaf word aangesê om sy hand onder Abraham se heup te sit. Dit is ‘n eufemisme is vir die opdrag dat die slaaf ‘n eed moet neem by die vrugbaarheid van Abraham. God se belofte van ‘n nageslag word ernstig geneem. Die Here se seën sal verder gaan as net die een seun Isak in die koms van die volgende geslag.

Ons sien hier die eerste getuienis van ‘n “gereëlde huwelik“, waar die pa vir sy seun ‘n vrou soek, soos wat Hagar natuurlik dieselfde gedoen het vir Ismael. Binne die sterk patriargale, en in Hagar se geval matriargale konteks, waarin ouers ‘n outoritêre rol in hulle kinders se lewens gespeel het, was dit een van die verantwoordelikhede van ouers. Soms het kinders self inisiatief geneem, soos ons in die verhaal van Jakob sien.

‘n Geloofsgenoot

Abraham is ook baie duidelik daaroor dat hierdie vrou van sy eie mense af moet kom, en nie van die mense van Kanaän nie. Die enigste vrou wat sou deug vir die seun van die belofte is iemand wat nie gekontamineer is met die kultuur en gebruike van Kanaän nie, om die versoekings te vermy wat die blootstelling daarin in die huishouding sou bring.

Die wet sou later uitvoerig uitbrei oor die verkeerde seksuele praktyke wat sou voorkom as: “Julle … julle seuns met hulle (Kanaänitiese) dogters laat trou, en wanneer hulle dogters onsedelikheid bedryf in die verering van hulle gode, sal hulle julle seuns tot dieselfde soort onsedelikheid verlei.” (Eks. 34:16). Daarom is dit ten sterkste verbied (Deut. 7:3).

Let op dat hierdie gereelde huwelik steeds die vrou se instemming benodig. Indien Rebekka sou weier om saam terug te kom sou die huwelik van die baan wees. Sy het die finale sê gehad.

Abraham se instruksies is egter ook spesifiek dat Isak die seun van die beloofde land moet bly en onder geen omstandighede toegelaat moet word om Kanaän te verlaat nie. Die slaaf van Abraham het dus meer magte gehad as wat ‘n mens sou verwag van ‘n slaaf. Hy kon waarskynlik Isak verbied om die land te verlaat in uitvoering van die opdrag van Abraham.

God se voorsiening

Let op dat Abraham nie maar net bid dat God se engel met die slaaf sal gaan nie, maar inderdaad verklaar dat dit sal gebeur, iets waarop die slaaf dan staatmaak in sy eie gebed dat die Here hom sal lei deur die gebeure by die waterput waar hy Rebekka aantref. Abraham het ‘n baie noue verhouding met God regdeur sy lewe geniet, soos die slaaf later aan die familie getuig: hy “leef naby die Here“.

Let op dat die slaaf staat maak op God se voorsienigheid in terme van sy betrokkenheid by die normale verloop van sake. Hy vra dat die Here in die normale verloop van die waterdrink proses by die put die vrou wat God uitkies, sal aanwys. Dit is hoe bo-natuurlike ingrype baie keer werk, in die normale gang van die lewe! Iets waarop ons ook daagliks kan staatmaak.

Gasvryheid

Dit is verder insiggewend dat die slaaf ‘n baie spesifieke versoek rig dat die Here hom na ‘n vrou sal lei wat nie bang is om gasvry te wees teenoor vreemdelinge nie. Hy het dus ‘n idee van watter tipe vrou geskik sal wees vir Isak. Dit is inderdaad dan hierdie tipe vrou, ‘n uitgaande gasvry persoon, wat die Here uitwys as die gepaste gesellin vir Isak, wat ‘n mens in die verloop van sy eie verhaal in die volgende paar hoofstukke sal agterkom ‘n diep introvert en maklik beïnvloedbare mens was. Rebekka was nommerpas vir hom.

Die skrywer is helder daaroor dat Rebekka ‘n maagd was, sodat daar geen suspisie oor haar morele karakter sou wees wat die nageslag wat uit haar gebore sou word in enige diskrediet sou kon bring nie. Dit is dus duidelik hoe hoog die skrywer die heiligheid van die huwelik waardeer, selfs voordat die wet in meer eksplisiete detail riglyne daarvoor neergelê het.

Die weë van die Here is voorwaar wonderbaar, soos die slaaf in sy gebed verklaar. Die slaaf oorlaai Rebekka met geskenke en dank die Here op roerende wyse dat Hy die regte een gekies het vir Abraham se seun Isak, toe Rebekka presies optree soos die slaaf gebid het.

Laban deur gierigheid gedryf

Laban verskyn op die toneel wat nog ‘n paar keer in die verdere verloop van die verhaal van Isak en Jakob ‘n rol sal speel en word die brugbouer na die uiteindelike ooreenkoms wat tussen die twee families gesluit word.

Dit is egter duidelik dat hy deur gierigheid gedryf word, anders as sy suster se gasvryheid. “Toe hy die neusring sien en die armbande aan sy suster se arms … het hy na die man gehardloop …” Die verwysing na wat die man alles vir haar gesê het, word tweede genoem in die beskrywing wat dié indruk by ‘n mens laat. En soos ‘n mens in die verhaal van Jakob later sal sien, is dit presies hoe Laban uiteindelik geteken word.

Goddelike huweliksaanbod

Let ook op hoe die slaaf die voorsienigheid van God in sy versoek in gebed en die uitkoms in die gebeure by die waterput gebruik om die familie van die Goddelike oorsprong van die huweliksaanbod te oortuig. Hy brei ook duidelik uit oor sy eienaar se oorvloed, wat veral vir Laban van waarde sou wees. Hulle aanvaar egter die slaaf se woorde as die woord van die Here en ook Rebekka laat haar die aanbod van ‘n huwelik met Isak geval.

Die slaaf is slim om die aanbod om langer te vertoef van die hand te wys en vat die pad met ‘n paar vroue om haar by te staan, haar grootmaak-“ma“, Debora (Gen. 35:8), en ‘n paar slavinne. Dit sou haar ‘n stukkie bekendheid gee in ‘n vreemde omgewing.

‘n Seënwens vergesel haar wat iets van die toekomstige hoop vir ‘n nageslag en ‘n tuiste in die land Kanaän uitspreek: “Ons suster, mag jou nageslag tienduisende word, mag hulle die stede van hulle vyande verower!” Onthou dat dié familie saam met hulle pa Tera op pad was Kanaän toe, maar vasgehaak het in Haran in Mesopotamië. Hulle het dus steeds iets van die oorspronklike droom verstaan, hoewel hulle nie dit enduit gevolg het nie.

Isak ontmoet Rebekka

Dit is duidelik dat Isak al selfstandig gewoon het, interessant genoeg by Lagai-Roï, die plek waar Hagar aanvanklik die ontmoeting gehad het met God in die woestyn toe Sarai haar die eerste keer met haar ongebore kind weggejaag het.

Dat daar kontak was tussen Isak en Ismael is duidelik, nie net uit dié mededeling nie, maar ook uit hulle gesamentlike afskeidneem van hulle pa, Abraham, soos ‘n mens in die volgende hoofstuk lees.

Die ontmoeting met Rebekka word met ‘n stukkie ingetoënheid vertel dat Isak in sy verlies van sy ma Sara getroos word deur die vreugde van Rebekka, soos blyk daaruit dat hy haar laat woon in die tent wat aan sy ma behoort het. Daarmee het sy Sara se posisie in die uitgebreide familie ingeneem.

Die slaaf noem Isak ook sy eienaar waaruit dit wil voorkom dat Abraham se gesag na Isak oorgegaan het, hoewel daar ook geleerdes is wat dink dat dit dui op die feit dat Abraham moontlik al dood was. Genesis 25 vermeld egter sy ouderdom as 175 met sy dood, wat dit onwaarskynlik maak.

Die skrywer sluit af deur te sê: “Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad.” Die eerste huwelik waarvan ons in die Bybel lees waarin dit pertinent genoem word.

‘n Geloofsreis by die oorgange van die lewe

Vir beide die slaaf en vir Rebekka was dit ‘n nuwe reis. Vir Rebekka se broer, moeder en familie is dit ook ‘n nuwe reis: ‘n reis sonder haar nou in die huis.

Hierdie is ‘n egte verhaal wat ons herinner aan die moeilike, uitdagende oorgange van die lewe wat nie sonder die Here aangepak moet word nie.

Ons is almal ook soms op ‘n nuwe geloofsreis te midde van nuwe realiteite. Sukkel ons almal nie maar om onsself in ‘n oorgangstyd te herontdek nie? Abraham se geloof word hier deur nuwe realiteite getoets. Die seuntjie wat op die berg Moria bevry is en die nageslag sal waarborg, is nou ongeveer veertig jaar oud en nog nie getroud nie. Sal God sy beloftes nakom? Kan Abraham nog bly hoop op die trou en die krag van God? Sal hy die vrou vir sy seun nog sien voor hy na die spelonk van Magpela gedra word? Sal die vrou glo God wil haar in sy heilsplan betrek?

Ons geloofsreis met God vorm die manier hoe ons God sien en ‘n belydenis oor God vorm. Die belydenisse wat die karakters in ons verhaal uitspreek, is bewys van hoe hulle God sien: ‘n God wat gebede verhoor, wat sy kinders laat slaag in wat hulle aanpak, die Skepper wat nuwe paaie in die vreemde skep, die Almagtige wat altyd in beheer is van die geloofsreis, die Heer wat sy engele stuur om ons te beskerm, die Heer wat ons seën met rykdom.

Christus

Die Nuwe Testament vertel die verhaal van Abraham, Sara en Isak oor en bring dit in verband met Christus (Heb. 11:8-12 en 17-20). Paulus dink ook hieroor na in Galasiërs 3:16–18. God en Christus was teenwoordig ook in hierdie gebeure. Die lewe is ‘n reis waarin ons Christus navolg.

Op hierdie reis word ons genooi:

  • Om innerlik te groei in ons verhouding met die Here, en sy beloftes te omhels. Abraham het gehoor: “Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak en jy moet (vir ander) tot ‘n seën wees” (Gen 12:2), en hy sê vir die slaaf: “Ek leef naby die Here” (Gen 24:40).
  • Om ingebed te word in ons verhouding met ander gelowiges (koinonia) – ons is saam met ander op reis, ons vorm ‘n gemeenskap waarin liefde en ondersteuning deurslaggewend is. Ons verhaal is deurspek hiervan.
  • Ons word ook geroep om so te reis dat ons na buite dien en die mense rondom ons ondersteun.

Ons reis met Christus is ‘n avontuur wanneer in die gewone kante van die lewe, soos die soek na ‘n lewensmaat, die liefde in ons verskillende verhoudinge, die ondersteun van ons kinders en die eer van ons ouers ‘n geleentheid word om ‘n avontuurlike pad met die Here te loop.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Lied 505 “Jesus, U gaan voor” of
Lied 522 “U liefde en u trou”

Seën

Respons
Lied 505 eerste twee reëls:  Jesus U gaan voor, ons volg in u spoor

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.