Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Al die tekste spreek van God se reddende krag en ingrype te midde van lyding/angs/strawwe tye.

Psalm 9 is in die eerste plek ‘n psalm vir die hulpeloses, diegene wat ly en/of lyding deurstaan het. Dit is ‘n bevestiging dat God (as Koning en Regter) hulle sien en hoor en reageer.

1 Samuel 17 is die verhaal van Dawid en Goliat.

In 2 Korintiërs 6:1-13 getuig Paulus oor die uitdagings wat hy (en sy medewerkers) in die bediening deurstaan het. Hy doen ‘n beroep op die gemeente om hul “harte oop te maak”.

Markus 4:35-41 handel oor Jesus wat die storm stil maak.

Ander tekste

1 Samuel 17:(1a, 4-11, 19-23), 32-49
Goliat verkleineer Saul se leër
17 Die Filistyne het hulle krygsmag opgeroep.
Hulle het bymekaargekom in Soko wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan in Efes-Dammim tussen Soko en Aseka. 2Saul en die manskappe van Israel het bymekaargekom en kamp opgeslaan in die laagte by die groot boom en teenoor die Filistyne stelling ingeneem om te veg. 3Die Filistyne het teen die een rant gestaan, en die Israeliete teen die ander, met ’n smal vallei tussen hulle.

4Toe kom daar ’n baasvegter uit die laer van die Filistyne uit. Sy naam was Goliat en hy was afkomstig uit Gat. Hy was drie meter lank. 5Daar was ’n bronshelm op sy kop, en hy het ’n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was sewe en vyftig kilogram. 6Daar was bronsskerms voor sy bene en tussen sy wapens was daar ’n bronsswaard. 7Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel, en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Sy skilddraer het voor hom uit geloop.

8Goliat het gaan staan en na die linies van Israel geroep. Hy het vir hulle gesê: “Waarom het julle uitgekom om gevegslinies op te stel? Is ek nie ’n Filistyn en julle almal Saul se slawe nie? Kies vir julle iemand om na my toe uit te kom. 9As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees en vir ons werk.”

10Verder het die Filistyn nog gesê: “Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer! Gee my tog iemand dat ons teen mekaar kan veg.”

11Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle geskrik en baie bang geword.

12Dawid was die seun van ’n Efratiet, iemand uit Betlehem in Juda met die naam Isai. Hy het ag seuns gehad. In die tyd van Saul was hierdie man al oud en afgeleef. 13Die drie oudste seuns van Isai het Saul na die oorlog toe gevolg. Die name van die drie seuns wat gaan veg het, was Eliab die oudste, Abinadab die tweede, en Samma die derde. 14Dawid was die jongste. Die drie oudstes het pal met Saul saamgegaan, 15maar Dawid het om die beurt na Saul toe gegaan en dan weer sy pa se kleinvee in Betlehem gaan oppas.

16Die Filistyn het veertig dae lank vroeg in die môre en teen die aand nader gekom en regoor die Israeliete gaan staan.

17Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Vat tog vir jou broers sestien kilogram gebraaide koring en tien brode en bring dit gou vir hulle in die kamp. 18Die tien kase moet jy na die aanvoerder van die afdeling toe vat. Dan moet jy sommer kyk of dit nog goed gaan met jou broers, en ’n bewys daarvan saambring.

19Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne.”

20Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef. 21Israel en die Filistyne het naamlik in linies teenoor mekaar stelling ingeneem. 22Dawid het die pak wat hy gedra het, onder die sorg gelaat van die man wat die goed oppas, en na die linies toe gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan, 23en terwyl hy nog met hulle praat, kom die baasvegter Goliat die Filistyn uit Gat juis uit die linies van die Filistyne vorentoe en hy praat weer so. Dawid het dit gehoor.

24Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en hulle was baie bang.

25’n Israeliet sê toe: “Julle sien hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom net om Israel te verkleineer. Die man wat hom verslaan—die koning sal daardie man baie ryk maak en sy dogter aan hom gee, en die man se familie sal in Israel van alle verpligtinge vrygestel wees.”

26Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: “Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?”

27Die manskappe het dieselfde vir hom gesê: “So sal gedoen word aan die man deur wie die Filistyn verslaan word.”

28Dawid se oudste broer Eliab het gehoor wat hy met die manskappe praat en Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk?”

29Toe sê Dawid: “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie ’n belangrike saak nie?”

30Dawid het van hom af weggedraai na ’n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste.

Dawid verslaan die Filistyn
31Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword. Die manskappe het dit vir Saul vertel, en hy het hom laat haal.

32“’n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul. “Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.”

33Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk en hy ’n vegter van kindsbeen af.”

34Toe sê Dawid vir Saul: “As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom ’n leeu of ’n beer en dra ’n lam weg uit die kudde, 35gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. 36Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.” 37Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.”

Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here by jou wees.”
38Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het ’n bronshelm op sy kop gesit en hom ’n harnas laat aantrek, 39en Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie.

Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie.”
En Dawid het dit uitgetrek. 40Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop.

41Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer voor hom was. 42Toe hy vir Dawid sien, het die Filistyn hom met minagting aangekyk omdat hy jonk was, met ’n rooi gelaatskleur en ’n mooi voorkoms.

43Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Is ek ’n hond dat jy met kieries na my toe kom?”

Hy het Dawid toe in die naam van die Filistynse gode vervloek. 44Verder het die Filistyn vir Dawid gesê: “Kom ’n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee.”

45Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. 46Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel ’n God het. 47Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.”

48Toe die Filistyn regmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid die Filistyn vinnig op die vegterrein tegemoet gehardloop. 49Toe steek Dawid sy hand in die sak, vat ’n klip daaruit, gooi met die slingervel, en tref die Filistyn teen die voorkop. Die klip het in sy voorkop ingedring, en hy het vooroor geval op die grond.

2 Korintiërs 6:1-13
6 As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. 2Hy sê:
“Op die regte tyd
het Ek jou gebede verhoor,
en op die dag van redding
het Ek jou gehelp.” d
Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.
3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.

8Ons ontvang eer en oneer,
ons word beledig en geprys.
Ons word behandel as verleiers,
en tog is ons betroubaar;
9as onbekendes,
en tog is ons goed bekend;
as sterwendes
en, soos julle sien, ons lewe;
as gestraf,
maar ons is nie doodgemaak nie;
10as bedroefdes,
en tog is ons altyd opgeruimd;
as armes,
maar ons maak baie ander ryk;
as mense wat niks het nie,
en tog besit ons alles.
11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!

Markus 4:35-41
Jesus maak die storm stil
(Matt 8:23–27; Luk 8:22–25)
35Laat daardie middag sê Jesus vir sy dissipels: “Kom ons vaar oorkant toe.”

36Hulle het toe die mense wat daar was, daar laat bly en Hom saamgeneem in die skuit waarin Hy gesit het. Daar was ook nog ander skuite by. 37Skielik het daar ’n groot storm losgebars, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat die skuit al begin vol word het. 38Jesus het op die bank in die agterstewe gelê en slaap. Hulle maak Hom toe wakker en sê vir Hom: “Meneer, gee U dan nie om dat ons vergaan nie?”

39Toe staan Hy op, bestraf die wind en sê vir die see: “Hou op! Bedaar!”

Die wind het gaan lê en daar het ’n groot stilte gekom. 40Toe sê Hy vir hulle: “Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?”

41Hulle is met groot ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam

Fokusteks

Psalm 9:9-20
Die Here red die hulpelose
9 Vir die koorleier: op die wysie van
“By die dood van die seun”.
‘n Psalm van Dawid.
2Met my hele hart wil ek U prys, Here,
wil ek van u magtige reddingsdade
vertel.
3Oor U wil ek my verbly
en vrolik wees,
u Naam wil ek besing,
o Allerhoogste.
4Toe U verskyn het,
het my vyande gevlug,
hulle het gestruikel en omgekom.
5Toe U op die troon gaan sit het
as betroubare regter,
het U aan my reg laat geskied.
6U het die nasies
met vernietiging gedreig,
die skuldiges laat omkom,
hulle naam vir altyd uitgewis.
7Dit is klaar met die vyand,
daar bly net puinhope oor.
U het hulle stede verwoes,
niemand dink eers meer
aan hulle nie.
8Die Here is altyd op sy troon;
op sy regterstoel is Hy steeds
gereed vir die regspraak.
9Hy lewer ‘n regverdige uitspraak
oor alle mense,
Hy vel ‘n billike vonnis oor die nasies.
10Vir die mens wat in gevaar verkeer,
is die Here ‘n toevlug,
‘n skuilplek in tye van nood.
11Daarom vertrou almal
wat u Naam bely, op U,
want U, Here,
laat dié wat vra na u wil,
nie in die steek nie.
12Sing tot eer van die Here
wat op Sion woon,
vertel die volke van sy dade!
13Hy dink aan die onskuldiges
en wreek hulle dood,
Hy verontagsaam nie die geroep
van dié wat in nood verkeer nie.
14Wees my genadig, Here,
aanskou die ellende wat my haters
my aangedoen het,
U wat my terugruk
uit die poorte van die dood.
15Dan kan ek van al u roemryke dade
vertel,
in die poorte van Sion kan ek juig
oor die uitkoms wat U gegee het.
16Die nasies het in die gat geval
wat hulle gegrawe het,
hulle voete is vasgevang in die net
wat hulle gespan het.
17So het die Here Hom bekend gemaak,
Hy het reg laat geskied,
en die skuldige is deur sy eie handewerk
gevang. Higgajon
18Die doderyk is die bestemming
van die skuldiges,
van al die nasies wat aan God
nie dink nie.
19Waarlik, die behoeftiges
word nie vir altyd vergeet nie,
nie vir ewig sal die verwagting
van dié wat in nood is,
vrugteloos wees nie.
20Gryp tog in, Here,
sodat die mens hom nie verhef nie.
Laat die nasies voor U teregstaan.
21Vervul hulle so met vrees, Here,
dat hulle erken dat hulle net mense is.

Ekstra stof

God verlos sy mense van allerlei verdrukkende omstandighede
Psalm 9-13 is ‘n tweede siklus in die eerste Psalmboek van vier ofvyfklaagliedere (Psalm 9-10 was waarskynlik aanvanklik een Psalm) waarin verlossing vir alle mense wat nood het, gevra word:

  • behoeftiges (of armes – in Engels: afflicted – dws mense wat hulleself nie kan help nie) – die Hebreeuse woord is ‘ânâw en kan ook nederiges of pretensieloses beteken en word gebruik in Ps 9:13,19; 10:9,12,17; 12:6; 14:6 [in Ps 9:13 word dieselfde woord met onskuldiges vertaal; In Ps 10:9,12,17; 14:6 word dieselfde woord met hulpeloses vertaal; ditto die vertaling swakkes in Ps 12:6)
  • ongelukkiges – Ps 10:14;
  • weeskinders – Ps 10:14,18;
  • mense in nood (of verdruktes)– Ps 10:18;

Dit doen die Psalmis: “sodat niemand op aarde langer in vrees hoef te lewe nie” (Ps 9:9; 10:18), want “vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ‘n toevlug, ‘n skuilplek in tye van nood” (Ps 9:10).

Maar hy fokus ook op die “regverdige” behoeftiges wat op ‘n besondere manier hierdie belofte van God vir hulle kan toeëien, dit is die: opregtes van hart – Ps 11:2; regverdiges – Ps 11:3,7; 14:5; opregtes – Ps 11:7; onskuldiges – Ps 10:8.

Die verlossing is uit verskillende situasies: van vyandige nasies (Psalm 9), van goddelose rykes (Psalm 10), van magtige maar gemene mense (Psalm 12) en van verdrukkers (Psalm 13).  Tussen-in is ‘n Psalm geplaas wat geloof in ‘n regverdige God bely (Psalm 11), al lyk dit nie altyd so nie, en al daag die goddeloses die regverdiges daaroor uit (Psalm 14).

Psalm 14 (vergelyk Psalm 53) sluit hierdie tweede siklus klaagliedere af – wat sowel persoonlike betekenis het vir individue asook vir die groter publieke gemeenskap van behoeftiges – met ‘n fokus op die dwaasheid van mense watsonder God probeer lewe, want God is by die regverdiges (14:5) en sal hulle beskerm teen dwase!

Psalm 9-10 – God gee nuwe moed en laat reg geskied

Psalm 9 en 10 was waarskynlik aanvanklik een Psalm omdat elke versreël van die gekombineerde twee Psalms min of meer met ‘n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin.  Psalm 10 het ook nie ‘n opskrif nie, wat ongewoon in die eerste Psalmboek is. ‘n Mens noem só ‘n Psalm akrosties, soos dit bv in Psalm 119 die geval is.    Elke Psalm dek ongeveer 10 letters van die Hebreeuse alfabet, waarvan elke eenheid  vier versreëls het, hoewel daar uitsonderings is.

Die opskrif is moeilik vertaalbaar, maar dit is waarskynlik ‘n verwysing na ‘n wysie of musiekstyl. Die Hebreeuse frase  “met die dood van die seun” (dws volgens ‘n bekende wysie van daardie tyd – waarskynlik word Absalom bedoel) kan ook verstaan word as “met jong vroue-stemme ” (soprane) soos dit die geval is in Psalm 46:1 en 1Kron 15:20 (NAV vertaal daar met “hoë toon”).

Hier is ‘n opsomming van die inhoud volgens die voorgestelde akrostiese struktuur, en opgedeel in 4 gedagte-eenhede:

 1. God is regverdig en wreek die dood van onskuldiges

  • 9:2-3 – Met my hele hart wil ek U prys.
  • 9:4-5 – U laat reg aan my geskied.
  • 9:6-7 – Niemand dink eers meer aan die vyand nie.
  • 9:8-9 – God lewer regverdige uitsprake oor die nasies.
  • 9:10-11 – Die Here is ‘n toevlug in gevaar vir dié wat Hom vertrou.
  • 9:12-13 – God wreek die dood van die onskuldiges.

2. Wees my weer genadig en gryp tog in

  • 9:14-15 – Wees my genadig en red my weer van die dood
  • 9:16-17 – God laat reg geskied deur die skuldiges met hulle eie handewerk te vang.
  • 9:18 – Die dood is jou voorland as jy aan God nie dink nie.
  • 9:19-21 – Gryp tog in, Here, dat mense U kan erken.

3. Kom tog, Here! Toon u mag, o God!

  • 10:1-3b – Waarom staan U so ver weg, Here?  Die goddelose verlustig hulle in hulle planne.
  • 10:3c-5a – Die goddelose verag U Here en dink U sal nie rekenskap eis nie.
  • 10:5b-6 – Die goddelose dink: ek sal nie wankel nie.
  • 10:7-8b – Die goddelose bedink onheil en onreg.
  • 10:8c-9 – Die goddelose loer watter hulpelose hy kan vang.
  • 10:10-11 – Die goddelose slaan die armes, want hy dink U sien dit nie raak nie.
  • 10:12-13 – Kom tog, Here! Toon u mag, o God!

4. U gee nuwe moed, wat U laat reg geskied en verhoor gebede

  • 10:14 – U het die hele tyd alles gesien en maak daar ‘n einde van.
  • 10:15-16 – Verbreek die magsgreep van die goddelose en die misdadiger.
  • 10:17-18 – U gee nuwe moed, want U verhoor gebed, en laat reg geskied.

Die goddelose word in hierdie Psalm as praktiese ateïste geteken, mense wat nie noodwendig regtig glo dat daar nie ‘n God is nie, maar Hom nie in die praktyk van die lewe raaksien of wil raaksien nie.  Neus in die lug sê die goddelose: “God vra tog geen rekenskap nie!” (10:4).  “Hy kyk weg, Hy sal dit (sy wandade)  nooit raaksien nie.” (10:11).

Daarmee vat hy nie die geloof in God noodwendig aan nie, maar die praktiese nut van geloof in die alledaagse lewe.  Daarmee word ook die konsepte van moraliteit en geregtigheid weggegooi – “survival of the fittest”!  Swakkes en hulpeloses is daar om uitgebuit te word.

Dit bring die geloof van die Psalmis onder erge druk, omdat hy ly onder die aanslag van die goddeloses, nie net in terme van sy geloof in God nie, maar in sy geloof dat dié God optree in die nood, en ‘n toevlug is vir dié wat in die nood is.

Weereens, soos in vele ander Psalms, kom die verandering in die Psalmis se gemoed nie in die eerste plek uit omstandighede wat verander het nie, maar uit die geloofsbelydenis dat die Here altyd koning bly, en dat Hy sal optree, soos Hy in die verlede telkemale al bewys het.

Liturgie

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 9

Seëngroet: Uit Romeine 1 

Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet: Miga 6:6-9

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”  

Vryspraak: Uit Psalm 9

Toewyding: (Uit 1 Samuel 2)

Spaanse Geloofsbelydenis

Loflied
Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5” en/of
Lied 220 “Met ons harte sing ons Here  1,2,3”

Epiklese: Uit Psalm 119

Skriflesing: Psalm 9:9-20

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën 

Antwoord Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 163 “Soos ‘n wildsbok vs 1”

Aanvangswoord: Psalm 9
2Met my hele hart wil ek U prys, Here,
wil ek van u magtige reddingsdade
vertel.
3Oor U wil ek my verbly
en vrolik wees,
u Naam wil ek besing,
o Allerhoogste.

Seëngroet: Uit Romeine 1
Aan almal in ……………………… vir wie God liefhet en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Wet: Miga 6:6-9
6Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe
gaan,
as ek voor die hoë God gaan kniel?
Moet ek met offers na Hom toe gaan,
met jaaroud kalwers?
7Sal die Here duisende ramme aanvaar
saam met tien duisende offers van olie?
Moet ek my eersgeborene offer
vir my sonde,
hom wat uit my liggaam kom,
vir my oortreding?
8Mens, die Here het jou bekend gemaak
wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg
sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
9Om die Here te dien, dit is wysheid.

Skuldbelydenis: Lied 232 “Diep o God diep neergeboë vs 1”

Vryspraak: Uit Psalm 9
11Daarom vertrou almal
wat u Naam bely, op U,
want U, Here,
laat dié wat vra na u wil,
nie in die steek nie.

Toewyding: (Uit 1 Samuel 2)
“Ek jubel in die Here,
ek is sterk in die Here,
ek is bly oor die uitkoms
wat U gegee het.
Daar is geen heilige
soos die Here nie,
buiten U is daar nie een nie,
daar is geen rots soos
ons God nie.

Die Here is ’n God
van diepe kennis,
dade word deur Hom getoets.

Die Here maak arm en Hy maak ryk,
Hy verneder,
ook gee Hy aansien.
Hy laat die geringes
uit die stof opstaan,
Hy hef die armes op
van die ashoop af
om hulle by vername mense
te laat sit;
Hy skenk hulle ’n ereplek.

Aan die Here behoort die pilare
van die aarde;
Hy het die aarde daarop
gegrondves.

Die Here spreek reg tot by
die eindes van die aarde…

Spaanse Geloofsbelydenis
Ons glo in God die Almagtige,
Skepper van die hemel en die aarde;
Skepper van alle nasies en kerke;
Skepper van alle tale en rasse.

Ons glo in Jesus Christus, sy Seun, ons Here,
God wat mens geword het as ’n mens vir die mensdom,
God wat mens geword het in tyd vir alle tye,
God wat mens geword het in een kultuur vir alle
kulture,
God wat mens geword het in liefde en genade vir die
hele skepping.

Ons glo in die Heilige Gees
deur Wie God in Jesus Christus sy teenwoordigheid
bekend maak in ons mense en in ons kulture,
deur Wie God, die Skepper van alles wat bestaan, aan
ons die krag gee om nuwe skepsels te word,
Wie se oneindige gawes ons een liggaam maak: die
liggaam van Christus.

Ons glo aan die kerk wat universeel is, omdat dit die
teken van God se heerskappy is,
Wie se getrouheid in al sy skakerings getoon word
waar al die kleure saam net een landskap teken, en
alle tonge dieselfde lof besing.

Ons glo aan die (finale) heerskappy van God –
die dag van die groot Fiesta
wanneer al die kleure van die skepping ’n harmoniese
reënboog sal vorm,
wanneer alle mense sal deelneem aan ’n vreugdevolle
feesmaal,
wanneer alle tonge in die heelal dieselfde lied sal
sing.

En omdat ons glo, verbind ons ons:
om te glo vir hulle wat nie glo nie,
om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie,
om te droom vir hulle wat nie droom nie,
tot die dag wanneer hoop ’n werklikheid word.

Loflied
Lied 203 “Loof die Here al wat lewe 1,2,3,4,5” en/of
Lied 220 “Met ons harte sing ons Here  1,2,3”

Liedere

F159. “Leef In My” 
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Toewyding)..
Oorspronklike titel: Live In Me
Teks en Musiek: Stass van Veuren
Afrikaanse vertaling: Anita Erasmus
© 2006  MAR Gospel Music Publisher

Ek is honger en ek dors na U, o Heer
U maak als,  buig af
en roep my op my naam
Kom vloei deur my en
stap nou met my saam
Ek gee my hart, kom leef U droom deur my

Leef in my,  leef in my
Ek nooi U uit,  kom leef in my, in my
Ek nooi U uit,  kom leef in my, in my
Ek nooi U uit,  kom leef in my, in my

F172. “Meer En Meer” 
(RUBRIEK: FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Teks en Musiek: Elsche van Wyk
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

Refrein:
Meer en meer, Vader, meer soos U
Meer en meer soos U, Heer
Meer en meer, Jesus, meer soos U
Meer en meer buig ek voor U neer

Meer en meer, Vader, meer soos U
Ek vra myself elke dag:  Laat my lewe U glimlag?
Meer en meer, Christus, meer soos U
Heer, ek gee myself aan U meer en meer

Refrein:
Meer en meer, Vader, gee my meer van U
Meer en meer smag ek na U
Meer en meer, Here, meer van u Beeld
Deur u Gees word ek meer en meer soos U

Brug:
U’s die pottebakker, ek die klei
Vorm my net soos U wil

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Uit Psalm 119
As ek tog maar net
op ’n vaste koers kan bly
en my aan u voorskrifte kan hou!
6As ek al u gebooie in ag neem,
sal ek nooit raad-op wees nie.
7U bepalings is regverdig;
as ek hulle ter harte neem,
sal ek U loof met ’n opregte hart.
8Ek sal my aan u voorskrifte hou:
10Ek wil aan U gehoorsaam wees
met my hele hart,
laat my nie afwyk van u gebooie nie.
11Aan u beloftes hou ek vas,
dit weerhou my van sonde teen U.
14Om volgens u verordeninge te lewe,
gee my meer vreugde as al die rykdom
van die wêreld.
15U bevele bly my altyd by. Amen

Skriflesing: Psalm 9:9-20

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die volgende sleutelwoorde uit die fokusteks is weggesteek in die diagram. Woorde kan op/af/dwars/diagonaal gelees word.
9Hy lewer ’n regverdige uitspraak
oor alle mense,
Hy vel ’n billike vonnis oor die nasies.
10Vir die mens wat in gevaar verkeer,
is die Here ’n toevlug,
’n skuilplek in tye van nood.
11Daarom vertrou almal
wat u Naam bely, op U,
want U, Here,
laat dié wat vra na u wil,
nie in die steek nie.
12Sing tot eer van die Here
wat op Sion woon,
vertel die volke van sy dade!
13Hy dink aan die onskuldiges
en wreek hulle dood,
Hy verontagsaam nie die geroep
van dié wat in nood verkeer nie.
14Wees my genadig, Here,
aanskou die ellende wat my haters
my aangedoen het,
U wat my terugruk
uit die poorte van die dood.
15Dan kan ek van al u roemryke dade
vertel,
in die poorte van Sion kan ek juig
oor die uitkoms wat U gegee het.
16Die nasies het in die gat geval
wat hulle gegrawe het,
hulle voete is vasgevang in die net
wat hulle gespan het.
17So het die Here Hom bekend gemaak,
Hy het reg laat geskied,
en die skuldige is deur sy eie handewerk
gevang. Higgajon
18Die doderyk is die bestemming
van die skuldiges,
van al die nasies wat aan God
nie dink nie.
19Waarlik, die behoeftiges
word nie vir altyd vergeet nie,
nie vir ewig sal die verwagting
van dié wat in nood is,
vrugteloos wees nie.
20Gryp tog in, Here,
sodat die mens hom nie verhef nie.
Laat die nasies voor U teregstaan.

Oplossing

Preekriglyn

[Nota: Hierdie preek fokus op die hele Psalm 9, en nie net die afgebakende gedeelte volgens die Revised Common Lectionary nie.]

In Psalm 9 is ‘n klomp verskillende emosies betrokke. Dank, lof, blydskap en vreugde. Daar is ook leed, klag en selfs woede. Dit is duidelik dat die digter ‘n intieme en persoonlike verhouding met God het wat hom vreugde gee. Maar daar is mense (vyande, magte) wat sy vrede en vreugde steel.

Daarom is daar voortdurend beweging en polariteit in die psalm. Die een oomblik loof hy die Here vir sy goedheid, die volgende oomblik vloek hy sy vyande. Aan die een kant is daar lof en dankbaarheid teenoor die Here vir sy goedheid en guns. Aan die ander kant kla hy oor die leed en ellende wat mense hom aandoen.

Hierdie besondere dinamiek in Psalm 9 open diep perspektiewe op geloof. Hier is nie ‘n eenvoudige, romantiese teologie van sekerheid en “alles-sal-ok” wees nie. Dit is eerder ‘n teks wat die donker kant van die lewe met God en ander, asook die veelkantigheid van geloof, verwoord.

God en sy dade

Dis baie moeilik om Psalm 9 by slegs een soort psalm in te deel. Dit lyk nogal of die psalmdigter hier verskillende buie het. Daar is elemente van dank, lof, klag en selfs wraak in die psalm. Maar te midde van dit alles, kom daar tog een tema baie sterk in die teks na vore: God en sy dade. Psalm 9 maak vir ons ‘n venster op God oop. Die digter wil ‘n helder, duidelike visie gee van wie God is en wat Hy doen.

Dis belangrik in ons tyd. Al die slegte goed wat om ons gebeur, is geneig om ons uitsig op God te versper. Dit verdof ons visie op God en verdoof ons hoop. Daarom bekyk ons Psalm 9 nou van nader.

Wie is God volgens Psalm 9? Die digter gebruik veral twee beelde om die wese en karakter van die Here te beskryf: koning en regter. Ons kan sê hy gee vir ons twee prentjies van God, terwyl daar uiteindelik ook ‘n opdrag in Psalm 9 is.

God is koning

Psalm 9 begin met ‘n danklied waarin die digter die Here prys vir sy reddingsdade (1–3). Maar in vers 4 is daar ‘n wending. Dis asof ‘n skaduwee oor die psalm skuif. Daar is mense, vyande, haters, magte wat hom vervolg en sy lewe bedreig. Moontlik is die psalm oorspronklik geskryf deur ‘n arm persoon (‘n groep armes?) wat deur mense met mag en invloed uitgebuit is en nou in die tempel is waar sy haar dank maar ook nood uitstort voor die Here. Maar dan kom die eerste prentjie van God na vore: God is koning. Hy sit op sy troon. Dis Hy wat in beheer is, nie die vyande of die magte nie (4-8).

Dalk maak ons te min van die Here se koningskap en heerskappy. Ons leef in ‘n dreigende wêreld waarin verskillende magte kompeteer om beheer. Daarom moet ons hierdie eerste prentjie van die Here in die psalm helder sien. God is op sy troon! Voor Hom is die magte en nasies soos muise met slippers aan: tjoepstil.

In die taal van die Nuwe Testament: Jesus is die Heer. Karl Barth praat hieroor na die Tweede Wêreldoorlog in die verwoeste stad Bonn. Hy sê dit was ‘n droewige, verskriklike tyd van lyding en skok. Alles was in puin. Dit was ‘n tyd – sê Barth – waarin mense weer moes leer lag, na al die pyn en smart van die oorlog. In sy lesing sê hy dan:

Die eerste en laaste ding wat mens kan en moet sê oor ons lewe en oor die wêreld . . . is dat Jesus sit aan die regterhand van God en dat Hy regeer. Dis ons diepste troos in tye van lyding en smart. Daaraan kan ons vasklou. Daarop kan ons hoop. God is koning. Jesus is die Here.

Dit is die eerste prentjie van God wat Psalm 9 ons wil laat sien: God se koningskap.

God is regter

Ons het reeds gesê dat die digter verskillende emosies beleef en uitspreek voor die Here; dank, lof, vreugde. Hier is egter ook iets donker in Psalm 9 teenwoordig; woede en wraak. Die digter huiwer nie om die skadukant van sy gemoed te wys nie. Trouens, hy bid om die ondergang van sy vyande. In vers 6-7 gebruik hy sterk taal om die vernietiging van die vyande te beskryf. Die woord vir “puinhope” kom byvoorbeeld in die res van die psalms alleen in ‘n letterlike sin voor (vgl. Psalm 102). Hy bid dat die vyande vergruis sal word. Dat niks van hulle oorbly nie.

Vloekpsalms

Op hierdie punt herinner Psalm 9 sterk aan die vloekpsalms waarin wraak en vergelding op die vyand afgebid word. Daar is baie woede by die digter.

Teologiese studies oor die vloekpsalms kom tot die gevolgtrekking dat ons nie dié woede of aggressie moet probeer wegvertaal of wegpraat nie. Dit is deel van geloof. Dit moet geartikuleer word voor die Here se aangesig, wat nie beteken dat dit ons gedrag mag beïnvloed nie. God is die regter, nie ons nie.

Die gerekende teoloog Walter Brueggemann formuleer dit so:

. . . there may be some who are not keen on vengeance because life is lived in suppressed discipline. For others life has gone so well that this psalm may not be for them. But for the rest, this psalm deals in realism. It knows about the unfairness and exploitation that evoke rage. It knows that such rage is tenacious and will be expressed and not denied. It knows that the rage is rightly carried even to the presence of Jahwe, whose rule is marked by majesty, faithfulness and compassion.

Brueggemann se standpunt geld ook vir Psalm 9. God wat geregtigheid liefhet (Psalm 99:4) verstaan woede oor onreg en onskuldige lyding. Daarom kan en mag ons al dié emosies met vrymoedigheid voor Hom uitspreek in die vertroue dat Hy reg sal laat geskied. Hy is op ‘n besondere manier die God van die arme en die hulpelose.

Dis duidelik dat die digter se woede oor onreg en verdrukking van die armes gaan. En dit is hier waar die tweede prentjie van God in die psalm sigbaar is. God is nie alleen koning nie, maar ook regter. Hy is nie hierdie sagte, romantiese God wat net altyd liefdevol, sag en genadig is nie. Wanneer daar onmenslik en onregverdig teenoor mense opgetree word, gryp God in om reg te laat geskied.

Deur oë van slagoffers

Die beeld van God as regter wat oordeel is nie gewild nie. Ons is mondige mense en niemand moet my oordeel nie. Wie en wat ek is, is my saak. Ons moet onsself aanvaar, ander moet my aanvaar en God moet ook. Binne hierdie soort siening is min ruimte vir God wat oordeel.

Maar wat as ek hierdie psalm begin lees deur die oë van slagoffers? Wat as iemand die slagoffer van verkragting is? Wat as iemand oor jare in ‘n huwelik mishandel word? Dis maklik om oor liefde en vergiffenis te praat – totdat jy begin kyk deur die oë van lydendes. Dan mag jy dalk iets verstaan van die digter se roep om geregtigheid. Die magtiges wat ander vertrap, mag miskien name en gesigte begin kry. Mense wat verneder en uitgesluit is, mag Psalm 9 dalk anders lees as hulle wat ‘n goeie en lekker lewe lei.

Vir hulle en ander wat onreg ly, bied Psalm 9 troos: God het die reg lief. Hy sal reg laat geskied aan hulle wat geen regte het nie. Hy sien die ellende wat mense mekaar aandoen (14). Hy verontagsaam nie die geroep van die wat in nood verkeer nie (13).

God se wil vir sy skepping is heelheid vir alles en almal. Dat almal sal floreer, gedy, tot hulle reg sal kom. Daarom kan Hy nie onreg verdra nie. Daarom laat Hy reg geskied aan hulle wat ly. En word hulle wat die onreg pleeg, opgeroep tot bekering.

‘n Opdrag

Die beelde van God as koning en regter wil gelowiges wat swaarkry bemoedig en versterk. God is die koning wat heers en regeer. En Hy is ook die regter wat reg sal laat geskied. Hy sal die onreg herstel in reg. Ons taak is om hierdie boodskap te gaan verkondig en te gaan leef (2, 15).

Dit is die kerk se taak. Dit is haar opdrag om die magtige dade van die Here in die wêreld te verkondig:

  • Te verkondig dat Hy die krete van hulle wat ly, hoor en hulle nooit sal vergeet nie
  • Te vertel dat geen konflik of verskille anderkant die versoening in Christus lê nie
  • Te vertel dat geen verlatenheid ons kan skei van die liefde van God in Christus nie
  • Te verkondig dat Hy die koning en regter is wat heers en regeer vir altyd.
Verandering

Dalk is die belangrikste boodskap: die verandering in die Psalmdigter se gemoed kom nie in die eerste plek uit omstandighede wat verander het nie, maar uit die geloofsbelydenis dat die Here altyd koning bly, en dat Hy sal optree, soos Hy in die verlede telkemale al bewys het.

God stuur ons om te leef

Gebed
Heil’ge God, herskep ons lewe,
en laat groei die goeie saad;
maak ons heilig in ons strewe,
in gedagte, woord en daad;
Ons wil U ons danklied bring,
en u lof, o Jesus, sing.
Laat u Gees ons lei, o Here,
om te lewe, U ter ere. Amen
(Lied 231:3)

Offergawes

Wegsending: Lied 309 “My lewe bly aan U gewy 1,2,3”

Seën
Die Here verlig jou verstand en jou interpretasie.
Die Here verlig jou oë en die manier waarop jy kyk.
Die Here verlig jou mond en jou woorde.
Die Here verlig jou hart en dit wat jy dink.
Die Here sal met jou wees waar jy nou hiervandaan vertrek.
(15de eeuse gebed, aangepas uit 2001 Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Lux Verbi.BM)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.