Vyfde Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In hierdie week se sleutelteks nooi Jesus almal wat uitgeput en oorlaai is om na Hom te kom en by Hom rus te vind. Hý is die lewende water; die Een wat ons dors les en ons siele verkwik. In Koninkrykstyd leer ons om in Jesus se voetspore te loop en sy wil in die wêreld te doen. Daarom is dit van kardinale belang om voortdurend daaraan herinner te word dat ons nêrens in hierdie lewe ware rus sal vind behalwe by Jesus nie.

Ander tekste

Genesis 24:34-38, 42-49, 58-67
Rebekka word Isak se vrou
24Abraham was al baie oud, en die Here het hom in alles geseën. 2Abraham het vir sy slaaf gesê, vir die vernaamste in sy huis, die een wat in beheer was van sy besittings: “Sit jou hand onder my heup 3dat jy vir my met ’n eed in die Naam van die Here die God van die hemel en die aarde kan beloof dat jy nie my seun sal laat trou met ’n dogter van die Kanaäniete by wie ek nou woon nie; 4jy moet na my land toe gaan, die land waar ek gebore is, en daar ’n vrou gaan haal vir my seun Isak.”

5Die slaaf het vir Abraham gevra: “En as die vrou nie saam met my hierheen wil kom nie? Moet ek dan u seun laat teruggaan na die land toe waar u vandaan kom?”

6Toe sê Abraham vir hom: “Sorg dat jy nie my seun daarnatoe laat teruggaan nie. 7Die Here die God van die hemel het my weggevat uit my familie, uit die wêreld waar ek gebore is, en my met ’n eed beloof: ‘Ek gee hierdie land waar jy nou is, aan jou nageslag.’ Die Here sal sy engel voor jou uit stuur sodat jy vir my seun ’n vrou van my land af sal kan bring. 8As die vrou nie saam met jou hierheen wil kom nie, is jy vrygestel van hierdie verpligting. Maar jy mag nie my seun laat teruggaan nie.”

9Toe het die slaaf sy hand onder die heup van Abraham, sy eienaar, gesit en vir hom met ’n eed beloof om dit alles te doen.

10Die slaaf het tien van sy eienaar se kamele gevat en ook allerlei mooi geskenke en vertrek na Mesopotamië toe, na die stad toe waar Nahor gewoon het. 11Daar het hy die kamele by ’n fontein buite die stad laat kniel. Dit was laat middag, teen die tyd dat die vrouens uitkom om water te skep. 12Hy het gebid: “Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat daar vandag iets met my gebeur; betoon tog u trou aan my eienaar Abraham. 13Hier staan ek by die fontein waar die jongmeisies van die stad sal kom water skep. 14As ek vir ’n meisie vra: ‘Hou tog jou waterkruik dat ek kan drink,’ en sy antwoord: ‘Drink gerus, en ek sal jou kamele ook water gee,’ dan is dit sy wat deur U gekies is vir u dienaar, vir Isak, en dan sal ek weet dat U trou betoon aan my eienaar.”

15Voor hy nog klaar gebid het, kom Rebekka met die waterkruik op haar skouer daar aan. Sy was die dogter van Betuel, seun van Milka die vrou van Nahor, Abraham se broer. 16Die meisie was baie mooi, ’n jongmeisie met wie ’n man nog nie gemeenskap gehad het nie. Sy het afgegaan tot by die fontein en haar kruik vol gemaak en teruggeklim. 17Toe hardloop die slaaf haar tegemoet en sê vir haar: “Laat my tog ’n bietjie water uit jou kruik drink.”

18En sy sê: “Drink gerus, Meneer!”
Sy laat toe gou haar kruik rus op haar hand, en laat hom water drink. 19Toe hy klaar gedrink het, sê sy: “Ek sal vir die kamele ook gaan water skep dat hulle genoeg kan drink.”

20Sy het gou haar kruik in die krip leeg gemaak en toe fontein toe gehardloop om nog water te skep. Sy het vir al die kamele geskep.

21Die man het haar in stilte aangekyk om vas te stel of die Here hom in sy onderneming laat slaag het of nie. 22Toe die kamele klaar gedrink het, sit hy ’n goue ring van ses gram aan haar neus en twee goue armbande van honderd en vyftien gram aan haar arms, 23en hy vra: “Wie se dogter is jy? Sê my tog, is daar in jou pa se huis plek vir ons om te oornag?”

24Sy het hom geantwoord: “Ek is die dogter van Betuel, die seun wat deur Milka vir Nahor in die wêreld gebring is.”

25Verder het sy gesê: “Ons het baie strooi en kameelvoer, en daar is plek om te oornag.”

26Toe het die man gekniel en tot die Here gebid: 27“Aan die Here die God van Abraham wie se slaaf ek is, kom die lof toe! Die Here het nie sy troue liefde van my eienaar weerhou nie en vir my het die Here reguit gelei na die huis van my eienaar se broer toe.”

28Die meisie het na haar ma se huis toe gehardloop en alles gaan vertel.

29–30Rebekka het ’n broer gehad met die naam Laban. Toe hy die neusring sien en die armbande aan sy suster se arms en haar hoor vertel wat die man alles vir haar gesê het, het hy na die man toe gehardloop by die fontein buite die stad. Toe hy by hom kom, het die man nog by die kamele gestaan, langs die fontein. 31Laban het vir hom gesê: “Kom saam! Jy is ’n man wat deur die Here geseën is. Waarom bly jy hier buite staan? Ek het vir jou plek reggemaak in my huis, en daar is ook plek vir die kamele.”

32Die man is toe saam huis toe, en Laban het die kamele laat afsaal en vir hulle voer gegee en strooi om op te lê. Vir die man het hy water gegee om sy voete te was en ook vir die mense by hom.

33Toe hulle vir die man kos bring om te eet, sê hy: “Ek sal nie eet voor ek my opdrag uitgevoer het nie.”
Laban het gesê: “Praat gerus!”

34Toe sê die man: “Ek is ’n slaaf van Abraham. 35Die Here het my eienaar baie geseën en hy is ryk. Die Here het hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. 36Sara, die vrou van my eienaar, het op gevorderde leeftyd vir hom ’n seun in die wêreld gebring, en hy is die erfgenaam. 37My eienaar het my ’n eed laat aflê toe hy vir my gesê het: ‘Jy mag nie my seun laat trou met ’n dogter van die Kanaäniete in wie se land ek woon nie. 38Nee, jy moet na my pa se huis toe gaan, na my familie toe, en vir my seun ’n vrou gaan haal.’

39Ek het vir my eienaar gesê: ‘Dalk sal die vrou nie saam met my wil kom nie,’40en toe sê hy vir my: ‘Ek leef naby die Here. Hy sal sy engel saam met jou stuur en jou in die onderneming laat slaag sodat jy ’n vrou vir my seun sal kan gaan haal by my familie, by my pa se huis. 41Jy sal slegs van jou eed vrygestel wees as jy na my familie toe gaan en hulle nie instem nie. Dan is jy vry.’

42“Toe ek vandag by die fontein kom, het ek gebid: Here, God van Abraham wie se slaaf ek is, laat my tog slaag in my onderneming. 43Hier staan ek by die fontein waar ’n jongmeisie van die stad sal kom water skep. Ek sal vir haar vra om my ’n bietjie water uit haar kruik te laat drink, 44en as sy vir my sê: ‘Drink gerus maar, en ek sal vir jou kamele ook water skep,’ is sy die vrou wat deur U gekies is vir die seun van my eienaar.

45“Voor ek nog klaar was om saggies te bid, kom Rebekka daar aan met ’n waterkruik op haar skouer en sy gaan af tot by die fontein en skep, en toe vra ek vir haar: ‘Gee my tog ’n bietjie water!’46Sy laat toe gou haar kruik van haar skouer af sak en sê: ‘Drink gerus! Ek sal u kamele ook water gee.’ Ek het toe gedrink en sy het die kamele ook water gegee. 47Ek het haar gevra: ‘Wie se dogter is jy?’ en sy het geantwoord: ‘Die dogter van Betuel seun van Nahor en Milka.’ Toe het ek die ring aan haar neus gesit en die armbande aan haar arms. 48Ek het gekniel en tot die Here gebid. Ek het Hom, die God van Abraham wie se slaaf ek is, geloof omdat Hy my reg gelei het om die dogter van die broer van my eienaar te kry as vrou vir sy seun.

49“As u nou u verantwoordelikheid as familie teenoor my eienaar wil nakom, sê my dan. As u weier, sê my dit sodat ek kan omdraai, waarheen ook al.”
50Toe antwoord Laban en Betuel: “Wat gebeur het, is van die Here. Ons het vir jou daaroor niks te sê nie. 51Rebekka is hier by jou. Vat haar saam en gaan terug. Sy moet die vrou word van die seun van jou eienaar. Dit is wat die Here gesê het.”

52Toe Abraham se slaaf hoor wat hulle sê, het hy diep voor die Here gebuig. 53Daarna het die slaaf silwer- en goue goed en klere vir Rebekka gegee, en ook duur geskenke vir haar broer en haar ma. 54Toe het die slaaf en die mense wat by hom was, geëet en daar oornag. Die volgende môre het hulle opgestaan en toe sê hy: “Laat my vertrek na my eienaar toe.”

55Rebekka se broer en haar ma het egter gesê: “Laat die dogter nog ’n dag of tien by ons bly en dan kan sy gaan.”
56Maar die slaaf het hulle geantwoord: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my in my doel laat slaag. Laat my gaan sodat ek na my eienaar toe kan gaan.”
57Hulle het geantwoord: “Kom ons roep die dogter en vra haar wat sy verkies.”

58Hulle het vir Rebekka geroep en vir haar gevra: “Wil jy saam met hierdie man gaan?”
Sy het geantwoord: “Ja!”

59Hulle het hulle suster Rebekka en die vrou wat haar grootgemaak het, saam met die slaaf van Abraham en sy mense laat gaan. 60Hulle het vir Rebekka met seënwense gegroet en vir haar gesê:
“Ons suster, mag jou nageslag
tienduisende word,
mag hulle die stede
van hulle vyande verower!”
61Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en agter die man aan gegaan. Hy het haar saamgevat en hy is terug huis toe.

62Isak het van Lagai-Roï-fontein af gekom. Hy het destyds in die Suidland gewoon. 63Hy het teen die aand se kant in die veld gaan stap en toe sien hy meteens kamele aankom. 64Rebekka het vir Isak gesien en van die kameel afgespring 65en vir Abraham se slaaf gevra: “Wie is die man wat daar oorkant in die veld na ons toe aankom?”
Die slaaf het geantwoord: “Dis my eienaar.” Toe vat sy haar sluier en trek dit oor haar gesig.

66Die slaaf het vir Isak alles vertel wat gebeur het, en 67Isak het vir Rebekka in die tent van Sara, sy ma, laat woon en met Rebekka getrou. Sy was sy vrou en hy het haar liefgehad. So is Isak vertroos ná sy ma se dood.

Psalm 45:10-17
10Voor u staan prinsesse,
getooi met u juwele,
en aan u regterhand die koningin,
versier met goud van Ofir.
11Luister, dogter, luister goed:
neem afskeid van u volk
en u familie,
12want u skoonheid bekoor die koning.
U behoort aan hom,
u moet hom eer.
13Dogter van Tirus,
die rykes van die volk
sal u guns soek met geskenke.
14In louter prag staan die koningin daar
in haar kleed van goudbrokaat;
15in haar veelkleurige rok
word sy na die koning toe gelei;
sy en haar gevolg van jong meisies,
haar vriendinne,
word na u toe gebring.
16Onder uitbundige vreugde
word hulle ingelei,
betree hulle die paleis
van die koning!
17Mag u seuns hê
om u geslag voort te sit
dat u hulle kan aanstel as regeerders
in die hele land!
18Mag deur my lied
die roem van u naam
oor geslagte strek,
sodat volke u vir altyd sal prys.

Romeine 7:15-25a
14Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos ’n slaaf aan die sonde verkoop. 15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.

Fokusteks

Matteus 11:16-19, 25-30
16“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:
17‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,
en julle het nie gedans nie!
Ons het ‘n treurlied gesing,
en julle het nie gehuil nie!’
18Johannes het gekom en nie geëet of gedrink nie, en hulle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’19Die Seun van die mens het gekom en geëet en gedrink, en hulle sê: ‘Kyk daar, ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.”

Die onboetvaardige dorpe
(Luk 10:13–15)
20Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie:

21“Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het. 22Maar Ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. 23En jy, Kapernaum, dink jy
‘jy sal tot die hemel toe verhoog word?
Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal.’
As in Sodom die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy tot vandag toe nog bly staan het. 24Maar Ek sê vir julle: Vir die land van Sodom sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir jou.”

Die uitnodiging van Jesus
(Luk 10:21–22)
25Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.

27“My Vader het alles aan My toevertrou, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; en ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekend maak.

28“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Liturgie

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”

Aanvangswoord
Seëngroet  

Sang 177 “Jesus groót bo almal vs 1”

Wet: Romeine 7:15-25a

Skuldbelydenis

Vryspraak: Romeine 5:1-2 ()

Apostoliese Geloofsbelydenis

Loflied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 11:16-30

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 209 “Heer met my hele hart 1”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of

Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan
of

VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 167 “Jesus bron van al my vreugde vs 1,2”
1. Jesus, bron van al my vreugde;
Jesus, lig van my geloof,
U is vol genade, waarheid
U, my Heiland, Heer en Hoof.
Ja, ek is u eiendom;
U, die Seun, U het gekom.
As gestuurde van die Vader
is U self die weg na Hom.

2. Jesus, bron van alle lewe,
Jesus, U wat lof verdien;
U, die bron van alle waarheid,
U laat my die Vader sien.
Ek is by die Vader tuis
waar my hart vol vreugde ruis.
U wat één is met die Vader
het die weg na Hom kom wys.

Aanvangswoord  
Voorganger: In die skare, in die kerk, in die stiltes, in die gesprek, sê die Here:
Gemeente: Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is.

Voorganger: In ons vreugde, in ons pyn, in ons lag, in ons huil, sê die Here:
Gemeente: Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is.

Voorganger: In die vreemde, in die bekende, in tye van voorspoed en tye van ellende, sê die Here:
Gemeente: Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is.

Voorganger: Gekruisig, verneder, opgestane, verheerlik:
Gemeente: Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is.

Seëngroet  
Voorganger: Jesus leef! En ons met Hom! Genade vir julle en vrede van God die Vader …
Gemeente: Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Voorganger: …  en van die Seun …
Gemeente: Hy het waarlik opgestaan!

Voorganger: … en van die Heilige Gees …
Gemeente: Die Gees wat in ons leef!

Sang: Lied 177 “Jesus groót bo almal vs1”
Jesus, gróót bo almal: sterke Verlosser,
magtige Heer en Heiland,
Immanuel – God is met ons –
reddende Here, lewende Woord.

Wet: Romeine 7:15-25a
14Ons weet tog die wet is geestelik, maar ek is aards en soos ’n slaaf aan die sonde verkoop. 15Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. 16Dat ek nie wil doen wat ek doen nie, beteken dat ek toegee dat die wet goed is.

17Maar nou is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon. 18Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. 19Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek. 20En as ek nou doen wat ek nie wil doen nie, dan is dit nie meer ek wat dit doen nie, maar die sonde wat in my woon.

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

Skuldbelydenis: Romeine 7
24Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? 25Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.

Vryspraak: Romeine 5:1-2 ()
Die vrug van die vryspraak
5 God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.

Apostoliese Geloofsbelydenis
Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,
gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel
dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe.

Loflied 245 “Ek wat vergifnis Heer ontvang het 1,2,3”
1. Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het,
sing dankbaar my verlossingslied.
U weet hoe ek na U verlang het
U het u guns my aangebied.

Ek loof en prys U deurentyd,
ek loof en prys U deurentyd
en roem u groot barmhartigheid,
en roem u groot barmhartigheid.

2. Ek was verlore in my sonde
en van die goeie weg vervreem.
Tog doen die Heer aan my die wonder
om my as kind terug te neem.

Ek loof en prys U deurentyd,
ek loof en prys U deurentyd
en roem u groot barmhartigheid,
en roem u groot barmhartigheid.

3. O God wat ryk is aan ontferming,
weerhou genade nooit van my,
maar hou my steeds in u beskerming
by U sal ek vir altyd bly!

Ek loof en prys U deurentyd,
ek loof en prys U deurentyd
en roem u groot barmhartigheid,
en roem u groot barmhartigheid.

Liedere

F5. “Daar Is Geen Grens “
(RUBRIEK: Flam – Verwondering) Oorspronklike titel: The Steadfast Love  Teks en musiek: Edith McNeil
Afrikaanse vertaling: 2005 Faani Engelbrecht © 1974, 1975 Celebration  (Opgeneem op FLAM, vol 1) (Klaagl 3:22,23)

Daar is geen grens aan u guns en genade.
U groot ontferming hou nooit op.
Dit is nuut elke môre, nuut elke môre,
groot is u trou, o Heer, my God;
groot is u trou, o Heer.

VONKK 14 “Hy Het Self Ons Sondes ‘
1 Petrus 2:24 Teks: Jannie Hougaard 2003 © Melodie: JOANIE — Francé Ludik 2003 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) RUBRIEK:  Meditatief – Skuldbelydenis / Nagmaal / Lydenstyd

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra.
Deur sy wonde is ons genees.

VONKK 43 “My Hart Roep Uit”
Teks: Tell out my soul (Luke 1) – Timothy Dudley-Smith 1961; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2008 ©
Musiek: WOODLANDS – Walter Greatorex 1916 (1877-1949) Kantoryverwerking: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
© Teks: 1962 Oxford University Press. All rights reserved. Used with permission (Afrikaans text).
© Musiek: Openbare besit. © Kantoryverwerking: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Klassiek — Lofprysing

1. My hart roep uit: Die Heer is groot en goed!
Sy oorvloed seën laat my juig en sing;
sy troue sorg bring rus in my gemoed.
Aan Hom, my Redder, wil ek hulde bring!

2. My hart roep uit: Maak groot die Heer se Naam!
Verkondig wyd en syd sy heerlikheid:
Hy is die Heer, kom sing nou almal saam;
kniel voor Hom neer, buig voor sy heiligheid.

3. My hart roep uit: Hoe groot is God se krag!
Voor Hom moet heersers van die aarde buig
en wêreldnasies stil word voor sy mag.
Oor al sy wonderdade wil ek juig!

4. My hart roep uit, in vreugde oor sy Woord!
Dit gee my vastigheid en sekerheid:
dat uit genade, ek aan Hom behoort.
Aan Hom my lof en dank in ewigheid!

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.

Skriflesing: Matteus 11:16-19, 25-30

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Sermons4kids gebruik die beeld van ’n gewigopteller en ’n “spotter”.  Wanneer iemand gewigte optel, is daar altyd iemand by die gewigopteller se kop wat help om die gewig vas te hou en te lig.  Dit is hoe Jesus met ons maak.

As jy ’n juk in die hande kan kry, kan jy die simboliek daarvan verduidelik.

Preekriglyn

Ons teksgedeelte handel oor die reaksie van die mense van Jesus se tyd op Jesus se leer en werke. Tot nou het die Evangelie volgens Matteus vertel hoe Jesus die mense geleer het en hoe Jesus wonderwerke verrig het. Jesus het die mense op die berg geleer. Pas in die vorige hoofstukke lees ons die groot preek waarin Jesus sy dissipels uitstuur. Daarby het Jesus groot hoeveelhede wonderwerke in verskeie dorpe en plekke gedoen.

In die hoofstukke wat op ons teks volg, blyk die weerstand en teenstand van die mense in Jesus se tyd teen sy bediening al hoe groter. Van nou af sal twyfel, kritiek en openlike kritiek teen Jesus en sy dissipels sterker groei.

Ons word meegedeel dat wyse en verstandige mense, slim en geleerd (11:25) aanstoot neem aan Jesus en sy dissipels, hulle nie bekeer nie en daarmee toon dat hulle nie ore het om te hoor nie.
Teen hierdie agtergrond maak die mini-gelykenis wat Jesus in verse 16 en 17 vertel heel goed sin:
Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? Hulle is net soos kinders wat op die markpleine vir mekaar sit en roep:
‘Ons het vir julle op die fluit gespeel,
en julle het nie gedans nie!
Ons het ‘n treurlied gesing,
en julle het nie gehuil nie!’

Hierdie mini-gelykenis volg op hoofstuk waarin Jesus die dissipels uitstuur en waarin Hy uitvoerig verduidelik van die weerstand, verwerping en selfs vervolging wat hulle op die lyf sal loop. Dit vertolk die reaksie van die hoorders op die boodskappers van God, spesifiek Johannes die Doper, Jesus self en Jesus se dissipels.

Spelende kinders

In die mini-gelykenis speel kindertjies op die markplein. Die een klompie speel op die fluit en nooi die ander kinders om saam te dans. Hulle wil nie. Dan word ‘n treurliedjie gesing, maar die ander kinders wil nie huil nie.

Wat presies in die spel gebeur word aan ons verbeelding oorgelaat. Dalk gaan dit oor twee groepe kinders. Die een groep wil speel, die ander glad nie. Of dalk is daar twee groepe kinders wat mekaar oor en weer uitnooi. Wie ook al nooi, die ander wil nie speel nie.

Hierdie gelykenis verduidelik die reaksie van mense op die werke van God se boodskappers. Johannes die Doper het God se werk kom doen, maar mense verwerp hom. Hy het nie geëet en gedrink nie, en mense sê hy is van die duiwel besete.

Dan kom Jesus as gestuurde van God. Hy eet en drink, veral saam met tollenaars en sondaars, siekes wat die Here se genade nodig het. Van Hom sê mense Hy is ‘n vraat en wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars.

Hoe God ook al mense uitnooi om deel te raak van God se werke, die mense is soos kinders op die markplein wat nie wil saamspeel nie. Hy bly eenkant sit, en voer allerhande redes aan waarom hulle nie kan deelneem nie.

Hierdie gelykenis gaan dus oor die onboetvaardige reaksie op die boodskappers van God, Johannes, Jesus, en Jesus se dissipels.

Spreekwoord

Jesus sluit die paragraaf af met ‘n spreekwoord:
Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit. (19b)
Wat mense ook al van God se boodskappers sê of dink, hoe onboetvaardig hulle reaksie ook al is, die werke van God se boodskappers bewys dat hulle bediening eg is.

“Werke” is ‘n belangrike term en tema in die Evangelie volgens Matteus. Dit verwys na alles wat Jesus gedoen het. Veral vanaf hoofstuk 8 volg Jesus se wonderwerke mekaar op. Ook die dissipels ontvang by Jesus die bevoegdheid om magtige werke te doen.

Die wonderwerke bevestig dat God aan die werk is in God se boodskappers. Tog kan die wonderwerke ook anders interpreteer word. Wonderwerke oortuig nie outomaties nie. Dit kan verkeerd verstaan en verwerp word. Nietemin bevestig die werke dat God se boodskappers eg is.

Vanaf vers 20 verwyt Jesus juis die onboetvaardige dorpe “waarin Hy die meeste van sy wonderwerke gedoen het” omdat hulle hul nie bekeer nie.

Die werke bewys dat God gelyk het. En tog is mense soos kindertjies op die markplein wat God nie in sy boodskappers aan die werk sien nie, en daarom nie die boodskappers en hul boodskap aanvaar nie.

Waarom nie?

Toeskouersmentaliteit

In die eerste plek kan ons sê die volk van Jesus se tyd wou nie Jesus en sy dissipels se uitnodiging  aanvaar nie omdat hulle ‘n toeskouersmentaliteit gehad het. Hulle wil “kommandeer en kritiseer,” skryf iemand, maar hulle wil nie self inval en deelneem aan Jesus se sending nie.

Ten spyte van uitnodigings en aanmoediging bly sit die kinders as toeskouers. Hulle doen nie mee nie.

Hoewel hierdie mentaliteit ‘n element van waarheid het, delf dit nog nie diep genoeg nie. Blote onbetrokkenheid alleen verklaar nie die gebrek aan positiewe reaksie op God se boodskappers voldoende nie.

Onvermoë om erns te peil

Agter die toeskouersmentaliteit moet ‘n dieper oorsaak gesoek word. Verskeie teoloë meen die mense van Israel kon in Johannes en Jesus se bediening nie die erns van die oomblik peil nie. Die verhaaltjie van die kinders wat nie wil saamspeel nie funksioneer dan as ‘n krisisgelykenis. Jesus wil die beslissende erns van die oomblik – die koms van God na die volk in Jesus en Johannes se bediening – onderstreep.

Mense hou hul as’t ware met kinderspeletjies besig terwyl Rome brand. Johannes en Jesus bedien, en mense noem die een duiwelbesetene en die ander een ‘n vraat en ‘n wynsuiper. Hulle is ligsinnig, blind. Hulle mis die erns van die oomblik en hou hulle op met beuselagtige kritiek.

Hierdie is ‘n belangrike punt, maar ons teks wil nog dieper sny.

Wil nie, sal nie God erken nie

Dit gaan  nie maar net om ‘n  algemene traak-my-nieagtigheid  of gebrek aan  lewenserns nie,  maar baie spesifiek  om die onvermoë of onwil om God  se aansprake in hierdie spesifieke gestaltes van Johannes en Jesus te herken én te erken. Die punt van vergelyking is nie soseer die onvanpaste ligsinnigheid van kinderspel nie,  maar die weiering om aan God se werk deel te neem.

Dirkie Smit skryf hieroor:
Tussen Johannes en Jesus bestaan wel belangrike verskille, maar in albei gestaltes gryp God na die hart van sy volk . . . maar hulle-wil-nie. Die oproep tot boete, bekering en lewensvernuwing, in verskillende vorme aanwesig in albei figure se verkondiging, word geweier. In die onderskeie heilshistoriese gestaltes van Johannes en Jesus is “die wysheid van God’ aan die werk, maar die volk herken dit nie en, indien hulle dit herken, erken hulle dit nie. Die kragtige dade wat onder hulle plaasvind, roer hulle nie. Hulle regverdig God nie. Hulle gee Hom nie gelyk nie.

Hulle het hulle eie idees en godsbeelde. Hulle weet – beter as Hy! – hoe Hy eintlik behoort te wees en hoe sy boodskappers behoort te lyk en op te tree! In terme van die idees is Johannes en Jesus vals, dwaalleraars, erger nog: duiwels! en: ‘n vriend van tollenaars en sondaars (wat natuurlik sleg is)! Daardeur ontmasker hulle uiteraard hulleself. Hulle is nie kinders van die wysheid, familie van God nie.

Hulle verstaan nie sy hartklop nie, dink nie oor mense soos Hy nie. Maar dit stel hulle skuldig:
Ten diepste weier hulle om hulle te bekeer, hulle klee hul nie in sak en as nie. Daardeur word die oordeelsdag vir hulle ‘n bedreiging. Waarin wortel die skuld? Volgens die meeste uitleggers in hulle onwil. Hulle argumente is slegs voorwendsels. Hulle skuil agter kinderagtige logika. Hulle onboetvaardigheid is ‘n wil- en nie ‘n intellektuele saak nie. Hulle toeskouershouding is slegs die uiterlike gedaante van die dieperliggende onwil-tot-berou, die onwil om Gods weg hulle te laat welgeval, hulle aanstoot aan Jesus (vgl. 6 in teenstelling met 14-15). Sy wysheid is na hulle oordeel dwaasheid, maar deur die dwaasheid van hulle eie wysheid word hulle ryp vir die oordeel (25-30).

Ook ons?

Mens moet versigtig wees om die mense van Jesus se tyd te oordeel asof iets van hulle houding nie ook in ons leef nie.

Het ons nie dikwels ook die onwilligheid en onvermoë om God toe te laat om te definieer wie God is en wat God van ons verwag nie? Is ons nie ook lief om God in ons boksies te sit, om te weet hoe God se genade en geregtigheid werk, en namens God besluit hoe genade en geregtigheid aanmekaar steek nie?

Kan God meer en groter wees as die raamwerke waarmee ons God in boksies sit en waartoe ons God beperk?

Volgens Matteus 25 verskyn Jesus dikwels aan ons in die gestaltes van mense. Sonder dat ons besef dit is Jesus wat by ons opdaag en ons nooi om Hom deur ander te dien.

Die Jode uit die tyd van ons teks het goeie, morele, logiese, skynbaar waterdigte en oortuigende argumente gehad om Johannes en Jesus te verwerp en te kritiseer. “Die een was ‘n onaanvaarbare, lewensvreemde askeet en die ander ‘n vriend van tollenaars en sondaars,” skryf Dirkie Smit.

Aangesien ons nie van God se boodskappers hou nie, takel ons hulle met smeerveldtogte en maak ons hulle belaglik.
In plaas van om ons te bekeer.

Uitnodiging van Jesus

Teen hierdie agtergrond moet ons die uitnodiging van Jesus (25-30) hoor en aanvaar.

Die waarheid van God se boodskap ontglip mense wat alte slim en te wys wil wees. Dit word juis aan die eenvoudiges bekendgemaak. Die wat Jesus omhels en die waarheid van Jesus aanvaar, hulle deel in die ware insig wat God bring.

Ware wysheid is om Jesus te omhels en as Boodskapper, Werker, Gestuurde van God te erken. Hy is die Seun van God wat ons lewens op die regte koers plaas.

Ware wysheid en ware deelname aan God se werk in Jesus is dus om ons onder die juk van Jesus te plaas:

Neem My juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. (29)

In die Nuwe Testament dui ‘n juk altyd om lojaliteit en verbintenis aan ‘n gesagsfiguur. Jesus nooi almal wat hulle nie aan Hom wil verbind nie, om dit wel te doen. Ons het elkeen ‘n bron van sekuriteit waaraan ons ons diepste sekerhede vasmaak. Jesus nooi ons om dit af te lê, en met Hom saam te werk, om ons onder sy juk te plaas en van Hom te leer.

Dit is die teenoorgestelde van ‘n toeskouersmentaliteit, en van ‘n onvermoë om die beslissende erns van God se werk in Jesus raak te sien.

Wie saam met Jesus speel, wie deelneem, sal vind dat Jesus vry maak en lewe gee.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 209 “Heer met my hele hart 1”
Heer, met my hele hart
kom sing ek ‘n lofsang,
kom ek van u magtige wonders vertel
en van al u reddingsdade.
Heer, met my hele hart
kom sing ek ‘n lofsang.
Ek wil oor U altyd bly en vrolik wees,
ek wil u Naam besing.
Ek wil oor U altyd bly en vrolik wees.
Halleluja!

Seën
Die Here sal verskyn, so seker as die son opkom. Die Here sal na ons toe kom soos stortreën, Hy sal ons verkwik soos lentereëns die dorre grond verkwik. Mag jy hierdie week by Christus rus en by Hom nuwe krag vind. Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2.  Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.
3.  U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.